Thursday, September 1, 2016

'n Nota by Dan Sleigh se roman: 1795



My taal is kuns én gereedskap: my tjello, my palet, al my fyn beiteltjies, ek word bang wanneer dom mense daarmee speel …
Geskiedenis bewaar die herinneringe van hoë dade, is getuie van die verlede, ‘n voorbeeld vir die hede en ‘n waarskuwing oor die toekoms...

I

Tydens die lees van Dan Sleigh se lywige en uitgebreide roman 1795, wat verlede jaar die groot romanprys verower het, dink ‘n mens ook terug aan die roman Eilande (wat in 2002) verskyn het. Afstande het in 2010 die lig gesien. Hierna was daar Wals met Matilda in 2011. 1795 is eers genoem: Die laaste goeie man.

Sleigh is ‘n historiese romanskrywer. Sy tekste lewer o.a. kommentaar op krygskunde, seevaart, die Kompanjie-jare, en selfs verder terug in die tyd, die gebeure vier eeue VC.

Sleigh is ook digter en ‘n vinnige goegeloer het egter niks hiervan verklap nie. Duif oor water het in 1971 verskyn.

Daar is twee kwessies wat hierdie leser wil opper by die lees van Sleigh se jongste roman. Waarom vergeet ons dat hy ook digter is (was)? Is dit omdat die Afrikaanse letterkunde genre-beperkend lees?

En: by die lees van hierdie roman, kom ek af op Jay Corwin se fassinerende studie oor die Colombiaanse romanskrywer Gabriel García Márques (MacMillan Education/Palgrave, 2016).

Corwin wys op die hantering van die historiese gegewe in die roman The General and His labyrinth en die toespeling op Simón Bolivar. Ook in Of Love and other Demons is daar ‘n portret van Cartagena de Indias (Cartagena, Colombia - Wikipedia, the free encyclopedia. Besoek 31 Augustus 2016).

Soos Dan Sleigh is daar by Gabriel García Márques ‘n besondere kennis van die geskiedenis wat tot fiksie verwerk word. Laasgenoemde skrywer ken die Renaissance Spaanse letterkunde en die Yoruba godsdiens (Yoruba religion - Wikipedia, the free encyclopedia. Besoek 31 Augustus 2016).


II
Dan Sleigh © Michael Hammond

Sleigh se roman word bemark as ‘n roman waarin William van de Reede van Oudtshoorn, ‘n goewerneur se seun met ‘n belangrike plek in die Kaapse regering. Hy is woonagtig op Saasveld. Sy lewe is ordelik. Die see bring vir hom ‘n vrou en in die winter van 1795 vind daar ‘n politieke omwenteling plaas.

Rondom die twee asse, die liefde en die politiek, word hierdie roman gekonstrueer.

Maar daar is ook die sensuur van die kerk en ‘n verbod op trou in enige Kaapse kerk. Sleigh verwys ook na iets wat verdere speurwerk vir hierdie leser gekos het: die roubord wat nooit teen die muur gehang sal word nie (444).

Op die internet vind ons die volgende: Sy roubord en wapen hang nog vandag in die kerk van Oudtshoorn, Nederland (Willem Ferdinand van Reede van Oudtshoorn (1755-1822) | WikiTree/ The FREE Family Tree. Besoek 31 Augustus 2016).

In hierdie verwysing is daar ‘n naam van die dosent wat destyds hierdie geskiedenis aan my gedoseer het aan die Universiteit van Stellenbosch, toe meneer Bergh, en ons vind ook die testament:
Testator(s): William Ferdinand van Reede van Oudtshoorn 4 Maij 1822 Inventaris van alle zodanige goederen en effecten, als er op Zondag den agt en twintigsten dag der maand April, s avonds de klokke omtrend tien uuren, in den jaare onzes Heeren een duyzend acht honderd twee en twintig, metter dood zyn ontruymd ende nagelaten, door den hoog welgeboorene heer William Ferdinand van Reede van Oudtshoorn.Hebbende de heer overledene, by beslootene testamentaire dispositie in dato 10 September 1819 opgerigt, en waarvan de superscriptie ten zelfden dage voor den notaris publicq m:r Jacobus Petrus de Wet en getuigen is gepasseerd, na alvoorens, zoo wel by dat testament, als by onderscheidene actens denzelven testamente g’annexeerd differente dispositien te hebben gemaakt, voorts tot zyne eenige en universele erfgenaamen genomineerd ende g’institueeerd de kinderen by zyne overledene echtgenoten in echt werwekt, als ….
Daar is al dikwels verwys na Sleigh se skryfvermoë. Die toneel waar William voor die kerkraad gedaag word, is so helder geskryf dat ‘n mens die hele Sanhedrin se reaksie kan sien. Dit is ook gelaai met sub-teks.

Elke goeie herder word beskou as ‘n koopman (of opperkoopman).


III

Die sogenaamde historiografiese roman is ‘n uiters belangrike deel van enige letterkunde. Die kluif boeke oor die Anglo-Boereoorlog o.a., of Dan Sleigh se falanks belangrike tekse, maak vir belangrike en stewige leeservarings.

In die hande van ‘n mindere skrywer sou die gaapkurwe hoog gewees het, maar Sleigh laai die gegewe met drama. Die romanwedstryd se eerste prys in 2015 was welverdiend.

Dieselfde geld die Nobelpryswenner, García Márques. Gerald Martin se biografie van die skrywer is ‘n belangrike teks, maar dit is veral Jay Corwin wat my met sy gesaghebbende studie weer laat nadink oor die belangrikheid van historiografiese fiksie: die waarheid gelieg / die leuen in die waarheid.

In Chronicle of a Death Foretold word ‘n historiese wending gefiksionaliseer, ‘n insident wat in Colombië afspeel in 1951. ‘n Insident wat afspeel rondom die lot van ‘n sondebok. Hoe ver hierdie skrywer sy tyd vooruit was, word beklemtoon deur Corwin. Die skrywer ontgin Latyns-Amerikaanse Oriëntalisme wat later in ons postkoloniale tyd – post-Said – ‘n gonswoord geword het (100).

Miskien is dit die hoogste tyd vir ‘n jong student om ‘n studie te onderneem oor hierdie twee belangrike skrywers!

En nou inspireer dit my so dat ek weer Borges lees in Sheila Cussons se verruklike vertaling: Die vorm van die swaard en ander verhale, wat in 1981 by Tafelberg verskyn het. Van al hierdie verhale is “Die evangelie volgens Markus” ‘n kragtige her-skrywing van die kruisigingsverhaal geplaas in Suid-Amerika.

Borges had nie ooghare vir Neruda nie en onse Gabriel het op ‘n keer vir Llosa gebliksem oor ‘n vrou. Maar wat maak dit alles saak? Elkeen is briljante skrywers in eie reg.


Die vorm van die swaard bepaal immers die litteken!

© Joan Hambidge

Sunday, August 28, 2016

Isobel Dixon – Bearings (2016)


Isobel Dixon – Bearings. Modjaji Books, 2016. ISBN 978 1 928215 29 5
Resensent: Joan Hambidge

Met Weather Eye, A Fold in the Map en The Tempest Prognosticator het Isobel Dixon haar gevestig as ‘n gerekende digter waaroor hierdie leser al uiters positiewe resensies geskryf het. Haar vierde solo-bundel Bearings is eweneens uitstekend. Dit is ‘n bundel waarin veral die blik van buite en die blik van binne op ‘n uiters oorrompelende wyse saamgedig word. Die digter is woonagtig in Engeland, reis dikwels na verre streke, maar keer ook terug na Suid-Afrika.

Alles in die bundel werk op twee vlakke: die hier versus die nou; onthou teenoor vergeet; lewe en dood – met die digter as dubbelganger, soos beskryf in die sentrale gedig “Doppelgänger” (70) met die motto: “I have doomed to such a dreadful shipwreck: that man is not truly one, but truly two”. Die digter as Jekyll en as Hyde dus. In hierdie besonderse gedig is daar ‘n verwysing na Werner Herzog, die magistrale filmmaker, wat op sy beurt hierdie proses uitstekend verwoord het in sy verbintenis met Klaus Kinski: My Best Fiend.

Die bundel sny vele temas aan soos jeugherinneringe, die dood van ‘n geliefde vader, die reis na Japan of Egipte, en sterk politieke verse soos "Trade Matters" (34) en  "Late Knowledge" waarin die geskiedenis wat ons op skool geleer het, ontluister word (27). "Pickings" (32) verduidelik die titel; ten spyte van al ons grense en drade is die voëls vry ...

"Nouns" (54) skop jou in die maag met sy woordekonomie oor die waansin van oorlog. 'n Stad se brûe sien sy as "twisted synapses"!

Gedigte het sterk mitologiese ladings ("Finsong", 11) en in "Dream Song for John" (13) word hierdie ikoniese digter besing. "A part of Me is Gone" (14) is 'n lykdig, waarin die geliefde vader 'n teenspeler word vir die dogter. 'n Ring wat verloor word in die see in "Treasure" (18) speel in op die Faraos wat dit mag vind! "Pinball Electra" (15) neem standpunt in teen die manlike orde wat vrouens hul stem misgun. Ons vind dan ook skerp beelde in gedigte oor stilte ("don't give me your Easter Island stare", 17). Cleopatra word 'n simbool en teenvoeter vir mans se siening van vroue as onderdanig. In die kort reeks wys die digter op die argetipes van ons lewens waar dominansie so 'n gegewe word dat mense in patrone bly dink en optree. Hierom die toespeling op Gilbert & Gubar se The Madwoman in the Attic (24). Die digter probeer om die gesigslose vrou te word; die gedigte maak egter deure oop vir haar.

In hierdie ryk geskakeerde bundel gee sy kodes waarmee ons die bundel kan ontsluit. Een so 'n leeskode is die trompe l'oeil om die "wondrous and absurd" van die lewe te ontsluit (22).

Die reisgedigte is iets besonders: Egipte, Dubai, Seville, Japan, Jerusalem, Gaza ...

Die bundel bevat ook endnote wat verse met nuwe en sterker implikasies laai soos die gedig “Beyond the fragile geometry” (61) wat verwys na Nicholas Roeg se film Don’t look now (gebaseer op Daphne du Maurier se verhaal). Teks wat skuilhou agter ander tekste. Dixon het ook al meegedoen aan ‘n projek waarin Hitchcock se Psycho saam met mede-digters digterlik verwoord word. Hierdie multi-media-projek heet Psycho Poetica.

In 2013 het sy saamgewerk met die Italiaanse komponis Roberto Rusconi aan Doppelgänger, wat deur  Schubert se Der Doppelgänger geïnspireer is en aan Dark Matters vir De Materia Nigra et Obscura. In 2014 het sy met die komponis Stephen Montague The Brewdog Howls geskep. Dit is tersaaklik vir die lees van hierdie bundel waar gedigte met teenstemme geplaas word in kursief.

J. M. Coetzee en Kylie Thomas (van Open Stellenbosch-faam) prys die bundel aan. Dit is twee verdere asse waarop ons die bundel kan benader: enersyds digterlike beheer; andersyds as sosiale en politieke kommentaar.

'n Digbundel wat in my geheue 'n soort opera word met stemme en teenstemme.

'n Mens ontdek met elke herlees 'n ander dimensie!

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Rapport)

Saturday, August 27, 2016

Bemarking of bevarking?



Gestel ek skryf ’n jagroman Jou doppie is geklink en skuur skouers met die Groot Vyf in hierdie sub-genre. Dit is my debuut. Ek huur die Kruger Wildtuin vir ’n langnaweek. Teen ’n aansienlike bedraggie. Nooi al my vrinne en die media. (In my geval is die een die ander).

Sjampanje en krokodil-soesji vir ontbyt.

Vuurwerke in die nag. Olifanttemmers.

In nag ’n boottrip; ek vreesloos afgeneem op ’n krokodil se rug.

Helikopters vlieg in met twintig kaste Black Label toe die slordige gaste die hele voorraad opslurp die eerste aand.

Braaivleis in die lapa. Perderuiters wat polo speel met ’n sokkerbal.

Ek voer ’n onderhoud met Karlien van Jaarsveld wat ’n nuwe lied spesiaal net vir my en die gaste gekomponeer het.

Ek teken my boekie (bemark deur twee gesiene skrywers met shouts wat gil “Hier het ons 'n nuwe dawerende stem: iets soos ’n kanonskoot om twaalf in Kaapstad”; “Net eenkeer in jou lewe kom die jagboek so weergaloos” ...). ’n Tweede druk na die eerste oplaag van ’n 100 binne ’n ommesientjie.

Ek verskyn op die voorblad van Weg afgeneem met my mak tier. Op Kwela lag ek skalks vir die kamera. My safari-pak en kam in die kous ’n berekende kenteken.

Boek van die maand jubel Sarie. Rooi Rose bemark my roman in tien aflewerings. Visi neem my af op my plasie. My huis se ruwe bakstene word ’n nuwe modegier.

“Styl is alles,” koer ek. “Ek was al immers ’n karakter in Die vark in die pad en ek glo die lewe skuld jou geen verskoning nie; jý is die vertoning in jou lewe waar kuns altyd die lewe moet naboots.”

Ek is op die voorblad van Perspektief & Profiel waarin ’n jong literator my beskou as “larger than life”. My eerste boekie Die slangvanger het net-net nie die skoolvoorskryfmark gehaal nie en die tweede Soos ’n paal bo water is deur Huisgenoot opgeraap.

Die resensies van Jou doppie is geklink begin die dagbladpers haal. Wie het daardie vuige resensie geskryf? Og, het ons vergeet om hom te nooi na die paartie? Gmf, natuurlik jaloers op my Crocodile Dundee-styl waar elke-woord-tel. Sub-teks is alles, man.

Kom ons stop die satire vir eers.

Umberto Eco in sy Faith in Fakes (essays), gepubliseer in 1986, (dit het al twee herdrukke beleef) skryf oor die moderne gemeenskap se "Travels in Hyperreality". Die afdruk word so belangrik dat dit die oorspronklike verdring en die kyker het nie meer ’n behoefte daaraan nie.

Wat hy skryf oor die sogenaamde Fortress of Solitude van Lyndon B. Johnson opgerig (deur homself) in Austin, Texas is op oor-reklame van toepassing. Soeweniers, die reproduksie van my sy kantoor, die swaard wat hy as geskenk ontvang het van die Koning van Tailand, doilies met die Amerikaanse vlag as embleem.

In Eco se woorde: “The ‘completely real’ becomes identified with the ‘completely fake’. Absolute unreality is offered as real presence” (7).

En dit is van toepassing op boekbemarking. As ’n oordrewe reklamering van ’n boek nie deur die boek se intrinsieke gehalte ondersteun of bevestig word nie, skep dit eerder weerstand.

Dan neem dit ons terug na die ou spreekwoord: “Skoonheid vergaan, maar deug bly staan.” En boeke bly op rakke lank nadat die media-lawaai verby is.


© Joan Hambidge