Tuesday, August 23, 2016

Onderhoud: Joan Hambidge, Johann de Lange oor skrywerskap

Joan Hambidge aan Johann de Lange

Joan Hambidge

Jy verwys na Roland Barthes se werk A lover’s discourse in jou bundel soos volg: “Language is a skin: I rub my language against that of the other. It is as if I had words instead of fingers, or fingers at the tip of my words. My language trembles with desire . . .” Die titel roep weer The grain of the voice (Le grain de la voix) op. Hoe moet die leser die idee van ’n hunkering se “grein” verstaan?
Vir my het die poësie net een onderwerp en dis taal sélf. Die “herinneringe” van die titel gaan nie net oor ’n terugblik op die verlede nie, maar ook ’n terugreis deur jou eie skryfwerk. Taal sélf het ’n tekstuur. Wanneer jy ander skrywers lees, is dit daar, onverwoordbaar, maar voelbaar. En wanneer jy skryf, werk jy met verskillende registers, verskillende teksture, en as jy suksesvol is, voel jou leser die grein van jou taal, van jou unieke stem. En vir my, ná ’n leeftyd van eroties skryf (eerder as erotiek skryf), is ek bewus daarvan dat taal léwend is, dat praat ’n lyflike ervaring is, en dat woorde en klanke by my ’n lyflike dimensie by skryf bring.

Watter invloed het Van Wyk Louw op jou digkuns gehad en meer in die besonder by die skryf van hierdie bundel?

Tristia met dagbreek

Deur die blindings val skag op skag
lig wat my Tristia ophelder, & die lyf
se warm terracotta; & die nag
se triestige wintergedagtes verdryf.

Soos ’n mens begin lees, gaan skrywers vir jou in verskillende stadiums van jou ontwikkeling oop. Louw was nie een van die digters wat vroeg reeds met my gepraat het nie. En hy het mý gekies, nie ek vir hom nie. Hy het my só vasgevat, en ’n gesprek begin wat nou al meer as 30 jaar duur. By hom het ek akkuraat leer skryf. Hy het my veral geleer wat die uitdrukkingsmoontlikhede van Afrikaans is. Hy is die Poolster, hy rig my, en hy bly immer onbereikbaar.

Die gesprek met Hennie Aucamp verdien vermelding. Lykdigte, besinnings, en die volgende mooi in memoriam. Watter invloed had hy op jou lewe en digkuns?

In memoriam: Slampamperman

Vir vriende & vreemdes was jy ’n gewer,
van raad, geskenke, ’n toespraak met jenewer.
Die jare bly van gewers vat, tot einde-
lik die gewer niks meer het om te gee
as ’n handvol gruis & gedroogde blare,
waboom-blare, ghnarrabos-blare, reg
om te strooi na jou Hantam onderweg.

Ek het Hennie Aucamp ontmoet vóór my debuut, en ek het geen idee gehad hoe ’n belangrike rol hy in my lewe sou speel, hoe hy dit sou verryk, of dat ons vriendskap tot en met sy dood sou duur nie. Hy was ’n mentorsfiguur, ’n vriend, ’n geesgenoot, ’n besadigde balans by my meer heethoofdige natuur. Hy het my aan sóveel nuwe dinge bekend gestel. Hy het ’n groot verwysingsraamwerk gehad, wat dit heerlik gemaak het om met hom te gesels. Die ganse taalregister is bestryk, en níks was taboe nie. Hy het by my ’n liefde vir ou woorde en uitdrukkings gestig.

Hennie het my, nes Louw, geleer dat helder denke in die eerste plek jou styl moet rig. As jy helder dink, sal wat jy skryf helder wees. As daar ’n fout is met ’n gedig moet jy dit gaan soek in die dinkwerk daaragter, en/of in die taal.

Dit was ’n vreugde om in die laaste 15 jaar van sy lewe sy ontwikkeling as digter te kon meemaak. Dit het ’n verdieping in ons vriendskap gebring. Vir ’n Hunkering se grein het ek gehoop om minstens één gedig te kon skryf om hulde te bring. Wat gevolg het, was ’n stortvloed van gedigte oor hom en vir hom. Uiteindelik kon ek ’n hele afdeling in die bundel aan hom wy, en só weer die gesprek met hom hervat.


*


Johann de Lange aan Joan Hambidge

Johann de Lange (Foto: Edrea Cloete)

Ons is almal bekend met die gedagte dat jy ’n leeftyd eintlik aan een boek of een vers bestee, dat jy jou met een tema bemoei. Maar daar is ook laat in ’n mens se lewe ’n terugkeer in die tyd, ’n bestekopname. Jou laaste twee bundels (Meditasies en Matriks) nooi trouens so ’n lesing uit. Hoe beskou jy jou nuwe bundel, Indeks?
In die sin dat ek ’n oorgang beleef: sestig is waarskynlik ’n tydvak van bestekopname. ’n Mens kyk terug na die mens wat jy was en jy ervaar (sowel as mens as digter) ’n gevoel van verspeelde kanse en dalk dat jy tyd verspil het op temas (soos die liefde). Terselfdertyd is hierdie ondergrond ook dit wat die proses paradoksaal bly voortstu.

Jy gee kreatiewe skryfwerk. Hoe verhoed jy dat jy jou skryfstyl op jou studente afdruk? Wat kan geleer word en wat nie? En met wat tans op kampusse gebeur, wat is die toekoms van kreatieweskryfskole op kampusse?
Ek leer my studente tegnieke van dig, die tradisie van skryf en ek leer hulle om ’n eie stem te ontdek. Die studente wat deur my begelei is, het elk ’n beduidende “eie stem”. Jy kan net iemand leer om beter te skryf, nader aan die eie identiteit te kom. Ek laat nie pastiches van my toe nie en wanneer ek dit optel, wys ek dit uit. Die proses werk soos psigoanalise: daar is ’n kontrak tussen mentor en mentee. Alles is vertroulik in hierdie slypskole en ek skep ’n veilige ruimte vir selfontdekking. Die toekoms van skryfskole is deel van die geesteswetenskappe se toekoms. Niemand weet hoe dinge vorentoe sal lyk nie.

Benewens lees, is reis die ander groot stukrag in jou lewe. Albei voed jou skryfwerk. Kyk maar na die voedende krag daarvan by D. J. Opperman en N. P. van Wyk Louw. Maar dan is daar ’n figuur soos Emily Dickinson wat binne die klein bestek van haar leefruimte ’n heelal oopgeskryf het. Is reis onontbeerlik? Of moet ’n mens eerder leer om in die oomblik te leef en fyn waar te neem en te dink?
Reis is lewensbloed. Ek gaan haal my gedigte ver, soos TT Cloete eenkeer opgemerk het. Ek is altyd in die oomblik, maar reis maak jou nog meer bewus van wie jy is, waar jy vandaan kom, omdat jy niks het om aan vas te hou nie. My gedigte is “visums by verstek”. Ek het baie gelees oor Neruda en die besoeke aan sy huise het bevestig wat ek waarskynlik reeds geweet het. Maar ek kon my gedigte fyner instel, beter kalibreer.

Human & Rousseau gee Indeks en ’n Hunkering se grein uit.


(Hierdie onderhoude word geplaas met vriendelike vergunning van Die Burger)

Monday, August 22, 2016

Johann de Lange - ’n Hunkering se grein (2016)


Johann de Lange - ’n Hunkering se grein. Human & Rousseau, 2016. ISBN 978 0 7981 72 99 8

Resensent : Joan Hambidge

I

Johann de Lange se jongste bundel heet ‘n Hunkering se grein, ‘n titel ontleen aan Sheila Cussons, een van die sterkste digterlike stemme aantoonbaar in sy digkuns, naas Van Wyk Louw.

In hierdie bundel wat inspeel op Roland Barthes se “le grain de la voix”, oftewel die grein van die stem, die wonderbaarlike versameling essays van die Franse teoretikus, klink die stem van De Lange helder en duidelik op. Hy skuil nie agter die maskers van ander nie en selfs wanneer hy met ander se beelde werk, soos in die eerste afdeling wat inspeel op Boerneef, is dit De Lange wat aan die woord is.

Uiteraard het enige digter sekere temas of sekere obsessies.

‘n Mens tref die bekende temas aan in hierdie bundel: die gesprek met ander digters, die vaderfiguur (nou sterk gefokus op Hennie Aucamp, lykdigte, beeldverse, natuurgedigte, die bemoeienis met seksualiteit, en meer spesifiek, gay-seksualiteit, eensaamheid, die dood …

By De Lange is die gay-tematiek steeds aanwesig, maar nou met ironiese distansie soos in “Twee vryverse vir Joan op 60” met die eerste een wat heet: “Die lywe van woorde” met die veelseggende motto van Stanley Kunitz: “Words are so erotic, they never tire of their coupling”. Dit neem ons uiteraard na Barthes se ander beroemde teks, Le plaisir du texte (1973/1975) waarin hy die leesaksie met lyflike plesier vergelyk. Die teks wat plesier gee teenoor die teks van jouissance wat buite woorde beweeg. De Lange se tekste is woordgerig; hy dwing die leser om elke woord semanties te ontleed en hierom is sy gedigte eerder ‘n teks van plesier.

Die bundel word opgedra aan die gesiene semantikus Henning Snyman, ‘n teoretikus wat met sy nougesette lesings van tekste die verskillende aspekte van die gedig oopmaak, soos implikasie-verskynsels. In sy studie Mirakel en muse (Perskor, 1983) verwys hy na die “geknoopte toue”, oftewel die vlegwerk van implikasie. Die hele kwessie van implikasie word besonder goed deur Snyman behandel waar hy die verskil tussen primêre implikasie (d.w.s. dubbelsinnigheid, vormspel, nie-sigbare betekenisoorgange) en sekondêre implikasie (d.w.s. ironie, metafoor en hul meelopers) vir die leser verduidelik.

Uiteraard beklemtoon Snyman die magiese attribuut van die gedig (33).

Die goeie digter is immers die een wat met fyn toespelings en “vlegwerk” steeds die gedig se spanninge en paradokse uitlig (pp. 32, 33).


II
“At the still point, there the dance is” van T.S. Eliot aktiveer nie alleen die semantiese kwessies van die stilte tussen woorde nie, maar die bundel Stil punt van die aarde uit 2004. Die digter vra dus met so ‘n verwysing ‘n teruggryp na vorige tekste, wat uiteraard ‘n gegewe is by die ouer digter wat temas “hersien” en “verfyn”. Daar is trouens ‘n herbesoek onder andere aan Van Gogh.

Die eerste afdeling bevat natuurgedigte wat werk met klankontginning soos by Ina Rousseau. Die gedig word op sigself “’n energie wat dink & weef” (“’n Murmurasie van spreeus”, 9).

Die eerste afdeling heet “Die berggans het ‘n veer laat val”.

In die tweede afdeling “Pallisander” – en hoor ons Boerneef verder saampraat – word die liefde in al sy wisselvorme beskryf.

In hierdie afdeling vind ons die sterk “Die mafia-wywe” (26) waarin die digter die “growwe trekke van ‘n tawwe lewe” karteer. Plig word teenoor die soeke na liefde en toegeneentheid uitgewerk. In kort sekwense – ‘n andersoortige weerlig van die (on)geloof) – word liggaamlikheid en vervlietende plesier uitgewerk. Dis nou seks met al die ligte af, want die ouer man ervaar ‘n liggaamlike buitestaanderskap in die wêreld van die gay-bestaan. In latere afdelings word dit verder uitgewerk (“Die digter as ronkedoor”, o.a.). “Blomme van die kwaad” (31) aktiveer Baudelaire binne ‘n bestaan van verlies en ontrouheid. “Tristia met dagbreek” (34) dra die hele Van Wyk Louw-sisteem na hierdie bundel. In hierdie klein gedig skuil soveel groot gedigte uit Louw se bundel, werp dit lig op die mineurtoon in hierdie bundel.

Tristia met dagbreek

Deur die blindings val skag op skag
lig wat my Tristia ophelder, & die lyf
se warm terracotta; & die nag
se triestige wintergedagtes verdryf.

Teenoor die vroeër verse waar die spreker sonder skroom homself ontkllee voor die leser, is dit nou agter blindings en verskuild:

Blindings

’n Nuwe dagbreek val deur die hortjies in dun repe.
Op die bedkassie jou nota: Ek het uitgetrek.
Oplaas is die waansin oor & ons, als inbegrepe,
beter af. Twee keer is ek deur drie woorde gewek.

(37)

Die “vlesige samekoms van ‘n driftong” (41) is nou in die herinnering van die spreker wat in “I. Die lywe van woorde” (39) ‘n bestekopname maak van sy voormalige seksuele bestaan wat nou in die testament van die gedig staan. In hierdie gedig se pendant (II. Men of a certain age) word Barthes letterlik betrek:

Wat om te sê? Dat dit my plesier gee
om te weet dat my woorde plesier gee

Hierdie siniese dog vermaaklike vers word ‘n analise van die digter-as-trofee. Die besoek aan ‘n party word ‘n opsomming van gesprekke wat die digter altyd te wagte is en hoe partygangers nie die digterlike persona los van die werklike mens kan lees nie. Hierom moet hy aanhoor hoeveel die gedigte vir ‘n persoon beteken het en verwag die partygangers ten minste grensoorskrydende gedrag van die digter. Die uitroep – in navolging van Reve – beklemtoon dat die spreker geen erg het meer aan openbare blootstelling nie en terselfdertyd bewus is van die prys wat elke digter betaal wat openlike gedigte skryf.  Die verse uit Nagsweet (1991) veral word so in die gemoed van die spreker herbesoek en die leser beweeg saam met die spreker van “kollig” tot “kollig”.

Hierom is die mise-en-abyme (III. Vals bodems) ‘n noodwendigheid waarop die gedigte afstuur.

Woorde word die vertroosting en oplossing uit die pynlike bestaan. Roland Barthes se siening dat taal ‘n vel is wat jy teen ‘n ander vryf,  word betrek. “My taal sidder van begeerte”, skryf Barthes verder en in sy outobiografiese-biografie Roland Barthes (1975), bely Barthes dat hy in hierdie teks homself tot taalobjek verklaar. Ook  by De Lange vind hierdie genadelose disseksie plaas. Die geliefde is nou net ‘n woord, ‘n portmanteau (“Lippediens”, 56) en”Om mani padme hum” (62) word die grieselskilderye van Goya en Cussons saamgesnoer …

Immers ‘n hunkering se grein …

Die grein van begeerte, die grein van skryf; beswerend teen ondergang, die dood.

Die reeds genoemde “Die digter as ronkedoor” (63) praat met Eybers se “Digteres as huisvrou” – en al die parodieë en antwoorde wat hierdie gedig al aangestig het. Dit is ‘n pynlike analise van eensaamheid: ‘n slaaf van sy aptyte …

“Vincent van Gogh, twee stoele” (65) tree in gesprek met ‘n vorige Van Gogh-vers (“Die aartappeleters” uit Waterwoestyn, 1984). Die ekfrastiese vers word nou ‘n analise van sy eensame bestaan waar die twee stoele dui op afwagting dat die toestand verlig sal word …

Die gedig vir TT Cloete “Plaasmiddag, Vredesfort-distrik” (67) aktiveer ‘n gesprek met hierdie digter – onlangs oorlede – en die afdeling sluit af met ‘n gedig “Boerneef Redux’ (68) waarin die digter treur oor die digter Boerneef wat eers na sy dood na waarde geskat is. (In die vierde afdeling word die kwatryne vir TT ‘n gesprek met die digter nadoods.)

In die afdeling “IV. Aansterflik” word die titel uit Cussons direk betrek, nes die motto uit Opperman  se “Vigiti Magna”:

… wie klippe in Sy mure pas
ken die rustelose borrel in die waterpas

Dit aktiveer eweneens Boerneef se beroemde gedig oor die twee Tafelberge wat hy ken; die jeug se Tafelberg was waterpasreg, terwyl ou man se ervaring daar anders uitsien …

Van al my land se Tafelberge
is daar vir my maar twee
dis die Tafelberg by Boplaas
en sy Ouboet by die see
by Boplaas se berg was ek ‘n kind
met ‘n kind se huil en lag
by sy Ouboet word ek rebelserig oud
met ‘n ou man se dink en wag
die begin op die Plaas was waterpasreg
maar hoe rym jy die ouderdom weg
met ‘n ou man se pieker en wag

 (Palissandryne, 1964)

Omdat die digter hier in die ruimte van die liminale beweeg en die pleroma ondersoek, is die ontginning van die droom eweneens tersaaklik, soos in die gedig “Allen Ginsberg se boeke” (77).

Die droom as ‘n modus van vrees, word hier via Ginsberg vergestalt dat die digter vrees dat ook sy boeke in vreemde hande sal beland en waarskynlik verkeerd vertolk mag word.

Die moderne mens is egter uigelewer aan die kuberruimte en virtuele geskenke (“Kuberkrismis”, 79) wat die eensaamheid net verder bevestig. Inderdaad maak TV van die wêreld ‘n kleiner plek (“Telstar”, 81).

De Lange se besondere hantering van die beelddig word in die afdeling “V. Die swaartekrag van as” beklemtoon. Lady Di se “dubbelbestaan” neem ons terug na die afdeling wat waarsku: vals bodems. En dit is dan Snyman se idee van vlegwerk wat hier tersaaklik raak. Gedigte wys heen na gedigte in ander afdelings en die leser word gedwing en om heen-en-terug te lees. By MM is dit die minnaars wat “vals  / ontboesemings verkwansel” (86). Die aangrypende vers oor Michael Jackson is meer as ‘n beelddig; dit word ‘n ars poetica waarin die digter hierdie figuur as metafoor gebruik vir die digkuns as sodanig:

metaforiseer / reduseer / towenaar

Alles kodes vir die digterlike proses. Die Mandela-vers bewys die behendigheid van die digter-as-vormvas, as een wat soos Opperman die engel uit die klip kan verlos. Om oor so ‘n ikoon ‘n geslaagde gedig te skryf, wil gedoen wees.

In “VI. Rust-mijn-ziel: ‘n hartseerwals” (alreeds voorberei deur die ouderwetse kwatryn op bladsy 76 en in ‘n vorige afdeling dus) word die impak van die figuur Aucamp op De Lange se psige verdiskonteer.

In Vreemder as fiksie (1996) is die gesprek begin; hier is dit nou vermetaforiseer waar die leser bewus gemaak word van Aucamp se impak op die digter se lewe. Meer nog, hy gebruik Boerneef ook hier (mits dese wil ek vir jou sê …) om hierdie gesprek te voltooi. Maar ook Leipoldt praat hier saam, die Slampamperman.

En die slampamperliedjie impliseer tog die aanspreek van die ander, die Boetie – met die wete dat ons harte vol is van pyn en gemors.

Ook die afskeid van Adam Small tref. Die digkuns bly net sprokkelwoorde.


III

Die vlegwerk van hierdie bundel bevestig hoe deurgekomponeer dit is. Van Wyk Louw en Cussons is steeds aanwesig, maar dit is veral Boerneef en Aucamp waarop die lig val.

Die stem van die digter, die grein van die stem, klink hier helder op in ‘n bundel waarin die digter met soberheid sy lewe en sy posisie binne die digkuns in oënskou neem.

Hy plaas homself telkens teen ander digters, maar sonder dat sy unieke stem vals opklink.

En ‘n lywige een is dit. ‘n Mens wil waak teen die gebruik van die woord “laatwerk”, maar dit is ‘n bundel geskryf teen latenstyd, maar nog met soveel drif en lewe. En wat hierdie digter se statuur bevestig. 

Wednesday, August 17, 2016

Elsabé Brits - Emily Hobhouse. Geliefde verraaier (2016)



Elsabé Brits - Emily Hobhouse. Geliefde verraaier. Tafelberg, 2016. ISBN 978 0 624 07574 5

Resensent: Joan Hambidge


Enkele kanttekeninge

I

Elke jaar doseer ek ‘n kursus oor die representasie van die ABO in die gedigte van ons ouer digters: Marais, Totius en Leipoldt. Marais se ambivalensie oor die oorlog, versus Totius se intense betrokkenheid (“Vergewe en vergeet”) teenoor die ironiese distansie van Leipoldt wat vanuit die buiteland na die oorlog kyk. Hieroor skryf H. J. Snyman insigryk in Merwe Scholtz se huldigingsbundel vir hierdie digter: Leipoldt 100 wat in 1980 by Tafelberg verskyn het. Snyman se essay heet: “Leipoldt se deuntjie: ironie of nostalgie?”

Die ironiese sintese, soos hierdie teoretikus dit noem, betrek Leipoldt se kragtige “’n Nuwe liedjie op ‘n ou deuntjie”. As mediese student was hy veral in die lyding van jong kinders geïnteresseerd en die stryd van die Transvaalse en Vrystaatse republieke was uiteraard buite sy ervaringsgebied. ( “In die konsentrasiekamp” maak hy terloops ‘n toespeling, myns insiens, op Totius se “Vergewe en vergeet”.)

Snyman wys op die disjunksie tussen betekenis en bedoeling, die kenmerk van ironie (127). Irony and the Ironic (Methuen, 1970) van D.C. Muecke laat die leser ook verskillende moontlikhede van ironie en toepassings daarvan.

Elsabé Brits @ Liza van Deventer

Sopas verskyn daar ‘n boek oor Emily Hobhouse met nuwe bronne wat Elsabé Brits in ‘n trommel ontdek het in Kanada.

Brits se eerste ontdekking was natuurlik via Rykie van Reenen se Heldin uit die vreemde en danksy die korrespondensie met Jennifer Hobhouse Balme, kon sy nuwe lig werp op hierdie fassinerende geskiedenis. Van Vancouver-eiland terug in die lewe van hierdie uitsonderlike vrou: held of skurk of verraaier?


II
Hierdie leser het ‘n paar jaar gelede twee verse oor Hobhouse geskryf – by die aftrede van Hans du Plessis het dit in ‘n Festschrift verskyn. Hierdie figuur het my nog altyd gefassineer.

Emily Hobhouse in ‘n ongeposte brief aan Tibbie Steyn:

Ek dank jou
vir jou warm brief
uit die Verre Vrystaat

met biltong,
ingelegde vrugte,
flertsies groen kweper,
‘n klein karmenaadjie
my toegesend.

Ek proe my
aangenome land
in ‘n toegetrekte keel:
sien vroue
wat weef en spin
in ‘n verre Phillipolis…

O Tibbie,
hier is ek ‘n rebel,
‘n leuenaar,
‘n vyand van my mense…

Maar ek weet:
eendag sal my gees
weer sweef
oor die wye velde
van my Troue Land.

Hoe graag sou ek nie
by die monument 
wou klaag?
My dank vir die voordrag,
die lees van my brief:
vir die wonde wat jy, Tibbie,
só selfloos,
ón-stoets,
namens my dra.


Emily Hobhouse, ‘n selfgesprek:

Heer Kitchener, Heer Milner,
weet u hoe die oorlog ruik?
Mag ek u vertel, meedeel
van die ellendes daagliks uitgedeel
soos stinkende kospakkies? Hoe ‘n vader sonder
steun sy kind se uitvaart moet aanskou?

Heer Kitchener, Heer Milner,
weet u hoe die oorlog klink?
Hoe ‘n moeder vir dae sonder trane
‘n lyk op haar skoot hou,
‘n woordelose wiegelied?
Op Springfontein word ‘n jong vrou
in ‘n grys sak ter aarde beklink.

Heer Kitchener, Heer Milner,
weet u hoe die oorlog proe?
Die rens melk, die vleis vrot,
skifsels meel langs vlieë en luise,
luise en vlieë, en vlieë, en nogmaals vlieë,
digby grafte soos gapende wonde.

Heer Kitchener, Heer Milner,
vandag het ‘n baba van drie maande gesterf.
En op hierdie dag, die hereweet,
nog twee ander…
Vir die vaders, vegtend tot die bitterend,
‘n swart-en-wit-kiekie
die enigste nalatenskap…

Heer Kitchener, Heer Milner,
ek sien die wit blom
in die hand
van ‘n kind, stóm.

Heer Kitchener, Heer Milner,
hoor my, hoor my aan.


III
Emily Hobhouse

Brits se boek lewer belangrike addenda tot die reeds vertelde verhaal. Die uitleg van die boek is vir hierdie leser ongelukkig te “besig”. Ek sou ‘n soberder boek verkies het. Daar is te veel spatsels en vlekke vir my smaak.

Dit is 'n relevante teks vir alle lesers wat belangstel in hierdie figuur, indertyd voortreflik weergegee deur Wilna Snyman in 'n eenvrouvertoning in Dear Mrs Steyn.

“Al ons ellende spruit uit ons onvermoë om alleen te wees” (190) – een van daardie sub-tekste wat die leser by die lees van hierdie boek bybly.

Daar is vir die belangstellende leser – soos die uwe – geweldig baie tersaaklike inligting. Die plattegrond op bladsy 150 gee ‘n konkrete voorstelling van Emily se reis deur die verskroeide aarde ná die Anglo-Boereoorlog, 1903.

Ook haar belangrike brief aan Jannie Smuts ontruk die ellende aan die vergetelheid:

“You think it is bad to be an Afrikander at this moment – believe me it is far worse to be an English person. Your defeat is material, ours is moral” (152).

Die foto van Petronella van Heerden (afgeneem in 1915 in Londen nadat Emily haar in Amesterdam besoek het, 237) is lieflik.

Lizzie van Zyl, uitgeteer en siek met ingewandskoors
Die Britse siening versus die Suid-Afrikaanse siening van die skending van menseregte (uitstekend weergegee in Herman Binge se Verskroeide aarde) is iets wat ‘n mens se lesing bepaal. Hierdie leser het dit nog altyd as ‘n skreiende onreg ervaar en historici wat vandag probeer beweer dat die boerevroue onhigiënies was en daarom in die kampe gesterf het, begryp nie hoé haglik die omstandighede in die kampe was nie. En hoe aansteeklike siektes werk neffens vuil water ensomeer nie.

Die ikoniese foto van Hobhouse – geneem toe sy reeds in haar sestigs was op bladsy 289 – vra om ‘n gedig. Nes die foto van Rachel Isabella (Tibbie) op bladsy 291.


IV

Hobhouse se stryd vir vroueregte en stemreg en haar teenkanting teen onreg, is alombekend. Die plakkaat op bladsy 84 vertel alles: as sy nie die onreg aan die groot klok gehang het nie en ‘n sogenaamde “distress fund” help stig het nie, wat sou gebeur het?

Ongeveer tien jaar gelede het ek deur Verenigde Koninkryk gereis en haar huis besoek in St Ives in Cornwall.

Ons onthou immers haar woorde:
"Truth for ever on the scaffold. Wrong for ever on the throne!"

Wednesday, August 10, 2016

Sixty Love: Op reis met Joan Hambidge

Joan Hambidge

’n Produksie wat aan die lewe en werk van die Afrikaanse digter Joan Hambidge gewy word, gaan op die Tuin van Digters op Wellington en die Aardklop-kunstefees op Potchefstroom te sien wees.

Babette Viljoen en Olga Leonard (BO-produksies), wat bekend is om hul verhoogverwerkings en toonsettings van Afrikaanse digters soos T. T. Cloete, Elisabeth Eybers en Totius, behartig ook hierdie produksie.

Leonard sê hulle het vir Hambidge ontmoet op die Vrystaat-kunstefees verlede jaar met die opvoering van hul produksie Eeu van Eybers.

“Ons het in ’n koue sweet uitgeslaan toe ons haar in die gehoor sien, maar sy het ons produksie gekomplimenteer en selfs ’n CD gekoop. Daarna het ons weer gesels toe ons ’n gesamentlike huldeblyk aan T. T. Cloete gedoen het op die Tuin van Digters op Wellington in September 2015.

“Hy sou self opgetree het by die ­geleentheid, maar ná sy dood in Julie 2015 het ons met toonsettings en ­voor­lesings deur Hambidge aan hom hulde gebring.”

Leonard sê hulle het dit goedgedink om Hambidge se 60ste verjaardag te vier met ’n produksie. “Tydens ’n koffie-afspraak het ons gesels oor die woord ‘60’ en gespeel met ‘six-love’, soos in tennis en sy het baie ­gehou van die idee om dit ‘sixty-love’ te noem. Die titel Sixty Love: Op reis met Joan Hambidge verwys na ’n oorwinning en terugblik oor ’n lewe en reis deur 60 jaar.”

Om ’n beeld van meer as 20 bundels weer te gee het bepaalde uit­dagings aan hulle gestel, het Viljoen gesê. “Sy het al meer as 600 gedigte gepubliseer. Joan het sekere gedigte uitgelig, en die reis-tema staan baie sterk in haar werk. Ons het besluit om hierop te fokus, en sodoende ’n ­tipe reis deur haar lewe te onderneem, aan die hand van reisgedigte, asook liefdesgedigte, gedigte oor ­familieskap, ouers, eensaamheid en die dood.

“Daar is uittreksels uit haar blog wat deurlopend deur die produksie gevleg word en die reis-tema met ­ander werke bind.”

“Die teks is in oorleg met haar ­geskryf,” het Leonard gesê.

Viljoen en Leonard hanteer die konseptualisering en produksie­bestuur en doen die toonsettings.

Lize Beekman is die musiekregisseur, Pierre Andre Viviers die regisseur en verhoogontwerper en Alanka Craffert gaan die voorlesing en vertellings doen. Viljoen, Leonard en Craffert gaan die verhoog deel.

- Willem de Vries


*Sixty Love: Op reis met Joan Hambidge sal op 18 September op die Tuin van Digters op Wellington op die verhoog wees en van 4 tot 7 Oktober op Aardklopkunstefees op Potchefstroom.

(Hierdie artikel word geplaas met vriendelike vergunning van Die Burger)