Friday, August 5, 2016

Irna van Zyl – Moordvis (2016)


Irna van Zyl – Moordvis. Penguin, 2016. ISBN 978 1 41520 720 9

Resensent: Joan Hambidge

I
Irna van Zyl se debuutroman Moordvis aktiveer die uitvis na ‘n oplossing. Die verhaal van Storm van der Merwe lees vlot. Dit handel oor die grieselige (in die boek lees dit grieselrige) ontdekking van die lyk van ‘n jong vroulike joernalis, sonder haar arm.

Dit speel af in die fiktiewe dorpie Grootbaai, ‘n kusdorpie, met ‘n haaiduikbedryf wat geknou kan word deur so ‘n moord. Die dorpie is iewers naby Hermanus, as 'n mens die kodes getrou volg.

Die roman word op die buiteblad aangeprys deur Marita van der Vyver (“Die spanningslyn gaan jou inkatrol, die storie gaan jou meesleur”) en Karin Brynard wat met groot stelligheid beweer:”’n dawerende nuwe stem in die Suid-Afrikaanse misdaadfiksie”.

Ek het die roman met genoegdoening begin lees op ‘n lang vlug na Wenen. Dis vlot en leesbaar geskryf. Al die bestanddele van ‘n goeie misdaadverhaal is hier: die gekniehalterde Storm (wat ingeperk is tot kantoorwerk); sy ry ‘n Volla en ‘n man met sy insleepwa ry in haar vas. Haar ondersoek word gesinkopeer met dié van haar oudkollega, Andreas Moerdyk, wat die dood van ‘n springbokstut ondersoek wat op die N1 ook deur ‘n trok getref is.

Local is hier bepaald nie lekker nie.

‘n Haai, lyke, perlemoenstropery, botsings …

Met hierdie roman plaas Van Zyl haarself binne-in die genre van vroue-misdaadfiksie: Ruth Rendell, Patricia Cornwall en klassieke speurskrywers soos Agatha Christie en P.D. James. Vele skrywers in Afrikaans is tans aangetrokke tot hierdie sub-genre – waarskynlik weens Deon Meyer se enorme sukses.  Selfs ernstige skrywers soos Etienne van Heerden (Klimtol) en Ingrid Winterbach (Vlakwater) gebruik elemente van die who-dunnit in hul romans.

Die roman geniet wye aandag in die media en een van die onderhoudvoerders, Karen Zoid, word in die roman via ‘n liedjie aangetref. Vraisemblance? Die werklikheid wat inbeweeg en uitbeweeg na die bekendstelling van die roman wat afspeel in ‘n akwarium.

Daar is geweldig baie navorsing gedoen oor die withaai as ‘n mens die erkennings lees en die boek verskyn in sowel Afrikaans as Engels terselfdertyd. Dead in the water, heet die Engels.

II

Die doodsteek van die speurverhaal (verskoon die pun) is natuurlik die wending. Van Zyl se roman behoort tot die orde van die lisible teks (Roland Barthes) eerder as die scriptible of meer komplekse teks. Min speurverhaalskrywers kry dit reg om die leser onkant te betrap of ‘n haas uit die hoed te ruk. Agatha Christie kon wel; Deon Meyer soms.

Die Belgiese speurskrywer, Georges Simenon skryf ‘n soort speurverhaal waar die “geheim” nie die speurverhaal voortstu nie; dit handel eerder oor die verbintenisse tussen  mense wat fokus op die fiksionele speurder Jules Maigret se verhouding met sy vrou en sy uitsprake oor die lewe.
Hier is dit die verhouding met die moeder en 'n geheim wat openbaar moet word.

By die meer populistiese roman is die ontknoping of geheim (in navolging van Edgar Allen Poe se The purloined letter) dít wat die leser najaag. Van Zyl se roman wil neig na ‘n meer komplekse verhaal weens die subtiele sosiale kommentaar. Ook die ekologie word aangespreek (die lot van die grootwithaai, natuurbewaring en perlemoenstroping).

Storm het  deelgeneem aan 'n optog teen die doodmaak van gestrande walvisse. En sy lei honde op.

Daar word ook erkenning gegee aan Maria Phalime se Postmortem: The Doctor Who Walked Away (Tafelberg, 2014). Webblaaie is besoek vir verdere inligting. Die ywerige joernalis of letterkundige speurder sal al hierdie ingebedde kodes kon natrek en die storie ágter die storie kon volg. Teenoor die see wat die bewysstukke verwoes (234).

Met haaibote as ‘n front vir perlemoenstopery (ek wil nie storiebederwer speel nie); maar iets skuil agter iets anders …

Kitskoffie is 'n vals bodem.


III

Ramot, Sigarette, drank. Plastieksakke om mense se koppe wat verniel word. Uniforms vir die polisie. Dit alles dui op ‘n werklikheidsgetroue weergawe van hierdie sub-genre. Selfone speel ook ‘n rol. Die identiteit van Storm (hier ook 'n spoiler) aktiveer 'n ander dimensie.

Die naamgewing is interessant: Storm, Spyker, Moerdyk ... en Purdey. Gaan kyk maar net na naamgewing by James Bond en hoe 'n naam 'n karakter opsom: Jaws, Pussy Galore ...

Witvoet het struggle credentials (20).

Musiek help vertel aan die storie: Aretha Franklin, o.a.

Mans met borselkoppe, die spesifieke taal van gewone mense, Gmf, ensomeer maak dit populisties. Ook die opposisie tussen goeie en bose karakters (en goeies wat agterna booswigte blyk te wees). Gaan kyk maar Jerry Palmer oor thrillers (Thrillers - Genesis and structure of a popular genre. Edward Arnold, Londen. 1978.)

Fassinerende inligting oor haaie is daar ook.

Daar is 'n taaipou op bladsy 20: luisterrke.

Deborah Steinmair som dit korrek op as 'n populistiese roman wat 'n mens nie lank sal onthou nie (Lesers behoort dié hoek te byt | Netwerk24. Besoek 3 Augustus 2016).

Van 'n withaai-speurverhaal is hier helaas nie sprake nie. Miskien wou die skrywer te veel stellings oor die ekologie maak en te veel inpak wat die storie se dénouement in die wiele ry. Boonop is daar deesdae, veral via die BBC, pakkende speur- en misdaadverhale wat kompeteer.

(Die volgende James Bond mag dalk 'n vrou wees.)

Dat dit wel eietydse kwessies aanspreek, is 'n pluspunt.

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Fine Music Radio)


Monday, August 1, 2016

Martjie Bosman - Vloeibare middelpunt (2016)


Martjie Bosman - Vloeibare middelpunt. Protea Boekhuis, 2016. ISBN 978-1-4853-0584-2

Resensent: Joan Hambidge

In 2003 debuteer Martjie Bosman met die bundel Landelik (2003) waarvoor sy die Ingrid Jonker-prys ontvang het. Die tweede was Toevallige tekens (2010). Haar derde bundel, Vloeibare middelpunt, het sopas verskyn.

Die tweede bundel is altyd ‘n gevreesde hekkie binne enige digterlike bestaan. Hieroor het die digter moeiteloos geseil en met ‘n derde komplekse bundel, wat handel oor musiek, die liefde, dood, reis en landskappe, bevestig sy haar besondere posisie. Dit is ‘n bundel wat gelees moet word as ‘n argief-van-die-bestaan en die “vloeibare middelpunt”:

Barðarbunga

Bo en onder is sonder betekenis
vir riviere van magma vliedend
uit die bal se vloeibare middelpunt,
soekend na ’n bres in die brose kors,
wat gloeiend sal verskyn voor verskrikte oë:
Ontsaglik magtig is die Skeppingswoord.

(uit die gedig “Wordende landskap”, 73).

"Things fall apart; the centre cannot hold", hoor ons dus. Die digter as argivaris, maar ook as ekoloog in navolging van Yeats.

Die titel het ook ‘n mitologiese lading, soos ons opmerk in die volgende gedig:

Þingvellir
Mitologiekongres, Háskóli Íslands

Þat mon verða satt, es vér slítum í sundr lögin, at vér monum slíta ok friðinn
(Dit sal bewys word dat as ons die wet verdeel, ons ook die vrede sal verbreek.)

Die breukvlak van die plate waarop twee vastelande rus
dryf jaarliks met elke skudding verder uit mekaar
asof Þor, die ou geweldenaar, net ’n aks te hard getik het
met sy wonderlike hamer, en verbaas moes toesien
hoe die planeet begin te skeur
en wou-wou wegsink
in ’n vlak groen meer…
(70)

Ons vind dan hier ‘n digter wat op ‘n intelligente wyse besig is met ‘n bestekopname en in vreemde landskappe haar eie digterlike woorde plaas teen ‘n groter "backdrop". Ook die liggaam word blootgestel wanneer indrukke of ervarings deur haar "metafore bars". Maar die maak van kuns en gedigte word ook gesatiriseer in “Openbare kuns” (72). Dis is alles nie loodsware erns nie, want die tantes wat in ‘n winkel sit in brei lyk na die langwol-Yslandskaap.

‘n Hoogtepunt is dan die vers “Reykjavik” met die speelse sub-titel: Ash happens (Yslandse T-hemp).

In Reykjavik praat die goedige mense
’n isolerende taal grinterig soos lawaklip (69)

en dis hierdie oor wat oop is vir vreemde tale en ‘n oog wat baie stip kyk na ‘n vreemde landskap, wat die verse so gelade maak. Alles in hierdie bundel het dan met ‘n mitologiese proses van transformasie te make; van metamorfose en vervreemding.

Ook die Britse en Skotse landskap word onder die loep geneem: Edinburgh, Oxford, Cambridge.

Boerneef

En Peter Blum skuil in ‘n lieflike verse (“brewwe ligmoment”) in ‘n gedig oor King’s College. Is dit nie opvallend hoe daardie twee kragte, Peter Blum en Boerneef, nou skielik weer terugkeer in ons digkuns nie? Selfs met Duitse vertalings van laasgenoemde.

Die buitelandse ervarings word ook met die bekende Suid-Afrikaanse landskap vergelyk: Turner teenoor Oerder. Daar is uitstekende beeldverse (o.a. oor Maria Stuart, Onegin, Schubert) en ‘n hartverskeurende liefdesgedig (“ Die verbode vraag”, 43).

Moderne ervarings (stadsverkeer, ‘n stadservaring) se ondergrond word geplaas teenoor die mitologie en argetipes van die menslike bestaan. Hierom is die programgedig een oor Oedipus en ook Achilles maak hier ‘n draai. Die “knooppunt van die paaie”, die oorgange tussen sekerhede, die prosesse van liminaliteit, word in hierdie bundel ondersoek. Freud het immers die verhaal van Oedipus her-interpreteer en vir die psigoanalitiese leser is hier baie sleutels na die onbewuste op sowel persoonlike as historiese vlak. ‘n Gedig soos “Vlermuis” (21) vra vir baie her-lees en nadink oor die skemertye van die jeug.

Die politiek van die dag (straatname wat verander), ongelykhede en die sensitiewe spreker wat hierop reageer, kom aan bod. Digterlik woon die mens inderdaad op hierdie aarde, soos die motto van Friedrich Hölderlin aantoon.

Soos die digter self skryf: die sublieme is subliminaal en mites (mitologie), die metafisika hou dikwels skuil ondergronds, maar die sensitiewe en intelligente persoon kan dit aanvoel en verwoord.

Sole survivor
Ets 15/15, Jahni Wasserfall

’n Skrikslag – ’n ruit, die deur, die dak?
Maar langs die klavier lê die ets
langs swart merke op die vloer
onder twee gate in die muur.
Iets prik my duim waar ek skerwe
van die swart raam saamskraap:
Sal ek nou soos in ’n sprokie
’n honderd jaar moet slaap;
millennia lank versteen bly swyg
tot ’n etser uit klip weer lewe wek?
Maar kyk, die glas is steeds intak,
die rooi montering ongedeerd
en in die gapende hoeke glim
vlymskerp spykers soos tande
in ’n swart muishondbek.
Onversaag oorleef die mammoetboom. (58)

Die ekologiese dimensie is ‘n ander belangrike kode in hierdie bundel wat die leser weer neem na die bloemlesing Ons klein en silwerige planeet van Johann Lodewyk Marais en A.D. Zuiderent wat in 1997 verskyn het. Hierdie bundel bevat egter nie ekologies-politiek gedrewe of “groen” verse nie; dit is eerder gedigte wat die mens se weerloosheid openbaar teenoor die groter drif van die natuur se “skadupatrone” wat soos “grys brokke in ‘n kaleidoskoop” voorkom.

‘n Goeie gedig word uiteindelik méér as die boodskap; vra vir verskillende maniere van lees en taksering, soos Vloeibare middelpunt bewys.

Dis ‘n ryk bundel – vir herlees, nadink en weer besoek. Veral die reis- en landskapverse maak ‘n unieke bydrae tot hierdie sub-genres.

Die voorblad van Ryan Loubser, "Spookhuis in die reën", is werklik besonders.

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Die Burger)