Showing posts sorted by date for query roland barthes a lover's discourse. Sort by relevance Show all posts
Showing posts sorted by date for query roland barthes a lover's discourse. Sort by relevance Show all posts

Saturday, December 14, 2019

Resensie | Charl-Pierre Naudé (samest.) – Rooiborsduif: Gedigte oor die liefde (2019)


Charl-Pierre Naudé (samest.) – Rooiborsduif: Gedigte oor die liefde. Human & Rousseau, 2019. ISBN: 978-0-7981-7876-1.

Resensent: Joan Hambidge

I

Van die aangrypendste liefdesgedigte staan opgeteken in Breyten Breytenbach se oeuvre. Vra maar vir Jan en Alleman en hulle ken ‘n vers van Breyten.

In Fanie Olivier se antologie Die mooiste Afrikaans liefdesgedigte haal Breytenbach  loshande die meeste verse naas Krog, Gilbert Gibson, onder andere.

Breytenbach skryf sowel politieke as intieme verse. Verse oor sy jeug, die Zen-Boeddhisme, ekfrastiese (of beeldverse), reisverse, kunsteoretiese besinnings is bekend aan sy verse. Jonger digters reageer ook op sy verse in teenstemme of palinodes. Trouens, wanneer ‘n mens “Allerliefste ek stuur vir jou ‘n rooiborsduif” op google insleutel, volg tallose skakels na BB se gedig onmiddellik:

Allerliefste, ek stuur vir jou ‘n rooiborsduif
want niemand sal ‘n boodskap wat rooi is skiet nie.
Ek gooi my rooiborsduif hoog in die lug 
en ek weet al die jagters sal dink dis die son.
Kyk, my duif kom op en my duif gaan onder
en waar hy vlieg daar skitter oseane
en bome word groen
en hy kleur my boodskap so rooi oor jou vel

Want my liefde reis met jou mee,
my liefde moet soos ‘n engel by jou bly,
soos vlerke, wit soos ‘n engel.
Jy moet van my liefde bly weet
soos van vlerke waarmee jy nie kan vlieg nie. 

II

Die samesteller Charl-Pierre Naudé gebruik dan ook tereg ‘n beeld uit hierdie klassieke gedig vir die titel van sy bloemlesing. Op die buiteflap gee hy ‘n kort verduideliking oor hoe hy die digter se liefdesverse sien.

Die bundel word opgedra “aan haar vir wie ek opdragte skryf soos paringsdanse”.

Hy sien Breytenbach as ‘n skakelende deurpos en die gedigte is ‘n intieme voëlvlug.
Hy wys daarop dat voëls ‘n wederkerende beeld in sy poësie is wat vanselfsprekend dan die reismotief aktiveer. As politieke dissident is die gedigte vir die samesteller gestempel met “‘n wondbare dringendheid en ‘n gelate wysheid waarin die geliefde soos ‘n persoonlike redder benader word.”

Naudé wys daarop dat die verhouding met hierdie Viëtnamese vrou tot sy politieke ellende gelei het én dat hy aan die verkeerde kant van die Koue Oorlog geland het.
Die Viëtnam-oorlog was immers ‘n berugte slagveld …

“Die verterende vuur van oorlog word die vertederende alchemie van sy liefdesgedigte”, voer Naudé aan. Hierdie bundel huldig hom as “passaatvoël van die woord.”Die liefdesverse word ‘n openbare liefdesverklaring aan die mensdom – geteken as ‘n vrou.

Hierdie insigryke flapteks moes dalk ook as ‘n voorwoord opgeneem gewees het. Die samesteller orden die verse chronologies.

III

‘n Tematiese keuse gee altyd ‘n nuwe blik op ‘n digter se werk.

Dit is ‘n proses van herkanonisering wat die leser met nuwe oë na bekende gedigte laat kyk en binne ‘n tematiese samestelling kry die verse so ‘n nuwe betekenis. Gedigte lê nou bymekaar.

By Breytenbach word die leser ‘n blik gegee op die gedig as liefdesverklaring en as reddingsboei, terwyl hy in die tronk was.

Die buiteblad som alles netjies op – die geliefde, ‘n slapende Yolande, rus op die digter se skouer in ‘n trein. Die gedigte – omdat dit gepubliseer is – word ook die leser se gedigte en só beskou, word elke liefdesvers in hierdie bundel ‘n liefdesverklaring in en vir  Afrikaans.

Om die mooistes hier uit te sonder is onmoontlik. Met elke lees, kom die leser onder die indruk van die digter se verbluffende beelde en woordspelings.

Wanneer hy direk dig (peester / kont) word dit nie steurend nie, omdat dit netjies begrond word in die gedig met beelde at dit verduidelik (“die eed”, 165).

Vir hierdie leser word die gedigte inderdaad “inlênagte tussen slaap en plesier” (“joernaal”, 164).

Die verskillende afdelings karteer die liefdesreis: die hongerblou gety; wyn in die bloeisels; hart uit die doek; die koue van dousterre; donker beminde; onbegonne tuiskoms ...

“die oenegedig” (uit Katalekte) met sy woordspel is ‘n treffer. Seisoene en soene ...

Maan, perskes, huis, blomme, drome ...

Die mooiste liefdesgedigte is vir Yolande - daardie een wat klein en getrein is.

‘n Gedig heet “nomadismes” – Alles staan in die teken van beweging, en interpretasies is immers ook ‘n nomadiese proses. En ‘n gedig – in navolging van Borges – is die vanselfsprekende antwoord op ‘n vraag wat nie gestel is nie. Gedigte is “kleinodekissies” (180). Die liefling wat wegkruip in die arm word uitgestal (vir die leser) in ‘n “laken piepend van drome” (32). “ein Fichtenbaum steht einsam” (126) is ‘n eenvoudige, dog komplekse juweel van ‘n vers.

‘n pynboom staan eensaam
in die noorde op ‘n kaal hoogte,
slaperig, slap met ‘n wit kombers
omhul van ys en sneeu

hy droom van ‘n palmboom
wat vér in die land van die môre
eensaam en swyend treur
op ‘n brandende rotsmuur

wat ‘n eenvoudige gedig!

IV

Carol Ann Duffy se Rapture (2006) karteer die begin, middel en slot van ‘n verhouding. By Breytenbach word ’n komplekse lewe in die ontwikeling van die liefdesverse afgelees.

Roland Barthes se bekende A lover’s dicourse dra ‘n sub-titel, te wete “fragmente”. Miskien omdat ‘n mens nooit die geliefde in volledigheid kan beskryf of besit nie.

Die “discours amoureux” is in Afrikaans só veelsydig. Barthes beskryf hoé die geliefde jou volledige universum word en dat jy later alles as tekens van die geliefde interpreteer. 

Barthes skryf oor die “angoisse” of agonie wat die geliefde ervaar: die wag op ‘n wederwoord of ‘n verwerking van die afsegging, van die verby-wees oftewel, die “cri de coeur”.

Alles hier te lese in ‘n prag-bloemlesing.

Breytenbach is tereg met sy verjaarsdag op Litnet vereer met analises van sy gedigte.

Bronne:

Barthes, Roland. 1979. A lover’s discourse: Fragments. New York: Hill and Wang.
Barthes, Roland. 1973/1975.  The pleasure of the text. New York: Hill and Wang.

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Fine Music Radio)

Wednesday, November 23, 2016

T.T. Cloete Die groot misterie van twee vroue


T. T. Cloete - Briewe aan Anna. Pooka uitgewers, 2016. ISBN 978 0 620 661 45 4

Resensent. Joan Hambidge

I

Op die voorblad van hierdie pragboek is daar ‘n haarlok van die digter T.T. Cloete se vrou, Anna. In ‘n brief, gedateer 17 Desember 2007, bely die digter dat hy hierdie gerfie hare afgesny het toe die geliefde in matriek was. Dit is al wat hy van haar liggaam oorhet na haar dood. Dit is vandag nog net so intakt as toe: mooi, goudkleurig en vars.


Oor die impak van die afsterwe van hierdie geliefde vrou (wat hy in sy bundels op verskeie maniere aanspreek, ook in ‘n pynlike lyksdig oor die verskillende rokke wat sy in haar lewe gedra het) kan afgelees word in die verskillende briewe – geskryf tydens haar siekte en na haar vertrek.

Jy is steeds die digter in my, na jou dood. Jy is nog.

Of, vra hy, is ek die digter in jou.

Hiermee aktiveer Cloete ‘n eeuoue-gesprek tussen digter en sy objek-van-inspirasie. Cloete het Dante deurgrondelik geken en die hele gesprek met vroue is van kardinale belang in sy digkuns. Hieroor het Heilna du Plooy uitstekend geskryf. En Cloete noem dit tereg briljant op bladsy 335. (Versindaba » Blog Archive » Heilna du Plooy. Die deurskynende kelk – Oor vorm en inhoud in die poësie van T.T. Cloete. Besoek 22 November 2016).

II

Die skryf van die brief of die hou van ‘n joernaal of dagboek hoort tot die tradisie van intieme literatuur. Daar is uiters boeiende voorbeelde in die wêreldletterkunde, soos onder andere Franz Kafka se Briewe aan Felize (uitgegee deur Penguin as The Letters to Felice); die ongelooflike briewe van Saul Bellow (uitgegee deur Penguin) waarin hy met bekende intellektuele en vriende in gesprek tree.

Die brief (dagboek/joernaal) maak van die leser ‘n voyeur. Jy lees iets wat in die eerste instansie bedoel was vir ‘n ander persoon, maar die oomblik wanneer sulke briewe of dagboeke gepubliseer word, word die intieme, aangesprokene se posisie as enigste leser ópgehef. Die leser wat die boek koop of uitneem in ‘n biblioteek identifiseer dan met die aangesprokene. Hieroor het Roland Barthes uitvoerig geskryf in Fragments d’un discours amoureux (1977) wat deur Richard Howard vertaal is as A Lover’s Discourse.

Ek verwys opsetlik na Kafka, Bellow en Barthes om iets te illustreer van die Cloete-briewe. Kafka en Bellow se briewe verklap iets van hul sieninge oor kuns, oor watter rol die kreatiewe in hul lewens gespeel het. Barthes, die bekende teoretikus, neem ‘n bekende tema in die letterkunde en musiek wat hy verteoretiseer.

Cloete se lewensmaat was sy muse. Sy het eweneens opofferings gemaak tydens sy Nederlandse studieverblyf en teruggekeer Suid-Afrika toe om geld te verdien sodat haar geliefde man verder kon studeer. Hulle was lewenslank verbonde.

Sy was die eerste leser van sy gedigte. Daar is ook vele gedigte oor haar. O.a. die prag-verse Uit die wit lig van my land gesny. Vir Anna (2010).

Ofskoon die digter hierdie briewe as lekebriewe beskou het, is dit egter meer as dit. Dit werp lig op sy kreatiewe denke, sy menswees en dit kan ook gelees word binne die kader van trauma-letterkunde. Persone wat dus ‘n geliefde aan die dood afgestaan het, sal baat vind by hierdie proses van verwerking.

Die “afwesige-aanwesigheid”. Die dood van nabye persoon het soms tot gevolg dat die agtergeblewene daardie verlies so internaliseer dat die persoon deel word sy of haar psigiese Umwelt. 

Die aktrise Jana Cilliers het dit só verwoord in ‘n onderhoud met Willemien Brümmer.

Ná Flynn se skielike dood in sy slaap in 2007 het sy ervaar dat die liefde voortgaan, ongeag. “Ek onthou ek was altyd so skrikkerig ná Bill se dood, want dan dink ek ek kan nie grappe vertel nie en ek kan nie mense gemaklik laat voel nie – inteendeel, ek laat hulle ongemaklik voel – en wat gaan ek doen as hy nie meer daar is nie? Dit was eers later dat ek besef het die omvang van ons verhouding was so dat hy eintlik net voortleef. Ek’s nie hy nie, maar hy’t homself nou so half ver-my.” (Ete met Jana Cilliers/ Die sinvolheid van diealledaagse | Netwerk24. Besoek 23 November 2016)

III

Wie is die twee vroue?  En wat behels hierdie misterie?

In die inleiding verduidelik Cloete hoe hy met Anna praat in ‘n bonatuurlike infra- of ultrakommunikasie (16).

Hierdie brieweboek is ‘n besinning oor die dood en hoe mense bly leef na hul dood in ander vorme, in die herinnering, in afbeeldings …

En ja, die dood word hier, soos in klassieke tekste, as ‘n vrou voorgestel.

Kort voor Cloete se dood, ervaar ek ‘n pynlike afskeid van hom, ‘n digtersvriend deur soveel jare. Dié vers is in Indeks (2016) opgeneem:

Ikarus

About suffering they were never wrong,
The old Masters: how well they understood
Its human position:
W. H. Auden

Vroegdag in ‘n gastehuis langs die see,
Auberge Burgundy te Hermanus,
luister ek na Vers & Klank
met verse vir die digter
van die jukstaposisie
en eiesoortige idiolek.
Teen die muur ‘n skildery
so reg uit Miró, na links ‘n skynsel
uit ‘n modieuse lamp. Jy vra my leser
of ek die see kan hoor?
Bo die oseaan, magtig en onmeetlik
bo die gedruis by die hawemuur
net buite sig klink die kreet op
van ‘n jong seun wat gly en
val. Het enigeen gehoor?
Sy naam word dalk verewig op ‘n plaket.
Die voordragstem verduidelik wat ‘n troop
behels in die donker nag. Gedigte stap
vir hierdie digter jambies deur die vertrek,
vir hom van die baie ryk ure en allotroop,
enkele weke voor sy dood.
‘n Ongeleefde lewe, onvervuld
laat onvermydelik ‘n merk.
Hierdie gedig ‘n letsel, yk
van diegene wat ongevraag,
te vroeg vertrek en net deur slapeloses
aan die vergetelheid ontruk kan word.
Ook vir hulle wat daardie dag
die “forsaken cry” moes aanhoor.
Onvertaalbaar hierdie ellende.
Ek beroep my in onmag op Auden.

Die briewe begin by die Universitas-hospitaal (2002) met die besef dat sy geliefde vrou gaan sterf. Daar word deurgaans verwys na die siekte en die impak van die lyding op die digter se gemoed. Op 8 Maart 2010 is daar ‘n inskrywing oor haar hartaanval (190). Besonderhede oor liggaamlikhede word vermeld (83). Die terloopse verwysing na Riëtte se dood (waaroor Lina Spies ‘n lieflike vers, “Op die dood van Riëtte”,  geskryf het, ) ruk aan die hart. Die moeder het gevra hy moes ‘n lokkie van haar hare afsny, wat sy nooit opgeëis het nie. Na Angeline se dood het hy dit begrawe in die agterplaas. Dit was ‘n motorongeluk en Cloete moes die kind se lyk gaan uitken.

IV

M.E.R.

Daar is baie belangrike kodes in hierdie teks. Soos Elizabeth Kübler-Ross se klassieke teks oor die verskillende stappe van doodsaanvaarding. J.C. Steyn se deeglike biografie oor MER word ook vermeld en die “nugtere aanvaarding van die weggaan” (149).

Viktor Frankl is ‘n ander kode; hy en sy vrou wat opgesluit was in verskillende Nazi-konsentrasiekampe, maar het met mekaar gekommunikeer en sodoende aan hul lydende liggaamlikheid ontsnap.

Pleroma versus soma word eweneens ‘n tersaaklike kode vir die begryp van hierdie teks. Die geestelike, spirituele dimensie help ons om die ligaamlike pyn of lyding te kan oorwin.

Erich Fromm se The Art of Loving word vermeld – want hierdie brieweboek is ‘n liefdesboek.

V


Anna (met die bynaam Bessie; ook Anna Parenna; liewe ou siel; Anna Patat) word intiem aangespreek. Die literator-skrywer Heilna du Plooy, ‘n vriendin, is ook hier en sy het deur die jare insette gelewer. Cloete se erkentlikheid jeens ander kom na vore (hy verwys na Nic de Jager se musiekprogram en sy fabelagtige kennis). Hy is bewus van kleinlikhede en naywer – en hoe mense “nagaande” is wanneer jy bekroon word (354). Hy gee erkenning aan jonger digters en bedank hulle vir hul belangstelling of toesendings van boeke.

Dit is ‘n boek wat iets verklap van die binnewerkinge van ‘n groot gees en hoe hy in hierdie tyd van wanorde, soos hy dit noem, afskeid neem; en bestendig. Sonder sy geliefde is hy ‘n halwe mens (190).

Die invloed van sy digterskap as ‘n “poet’s poet” is nog nie volledig bepaal nie.

VI

Steun van sowel die ATKV as die Hiemstra trust het die publikasie van hierdie teks moontlik gemaak.

Hierdie boek met briewe, is postuum uitgegee deur Annekie Botha Du Plessis en kan bestel word by Posbus 48445, Kommetjie, 7976 e-pos: unicorn@icon.co.za.

Tuesday, August 23, 2016

Onderhoud: Joan Hambidge, Johann de Lange oor skrywerskap

Joan Hambidge aan Johann de Lange

Joan Hambidge

Jy verwys na Roland Barthes se werk A lover’s discourse in jou bundel soos volg: “Language is a skin: I rub my language against that of the other. It is as if I had words instead of fingers, or fingers at the tip of my words. My language trembles with desire . . .” Die titel roep weer The grain of the voice (Le grain de la voix) op. Hoe moet die leser die idee van ’n hunkering se “grein” verstaan?
Vir my het die poësie net een onderwerp en dis taal sélf. Die “herinneringe” van die titel gaan nie net oor ’n terugblik op die verlede nie, maar ook ’n terugreis deur jou eie skryfwerk. Taal sélf het ’n tekstuur. Wanneer jy ander skrywers lees, is dit daar, onverwoordbaar, maar voelbaar. En wanneer jy skryf, werk jy met verskillende registers, verskillende teksture, en as jy suksesvol is, voel jou leser die grein van jou taal, van jou unieke stem. En vir my, ná ’n leeftyd van eroties skryf (eerder as erotiek skryf), is ek bewus daarvan dat taal léwend is, dat praat ’n lyflike ervaring is, en dat woorde en klanke by my ’n lyflike dimensie by skryf bring.

Watter invloed het Van Wyk Louw op jou digkuns gehad en meer in die besonder by die skryf van hierdie bundel?

Tristia met dagbreek

Deur die blindings val skag op skag
lig wat my Tristia ophelder, & die lyf
se warm terracotta; & die nag
se triestige wintergedagtes verdryf.

Soos ’n mens begin lees, gaan skrywers vir jou in verskillende stadiums van jou ontwikkeling oop. Louw was nie een van die digters wat vroeg reeds met my gepraat het nie. En hy het mý gekies, nie ek vir hom nie. Hy het my só vasgevat, en ’n gesprek begin wat nou al meer as 30 jaar duur. By hom het ek akkuraat leer skryf. Hy het my veral geleer wat die uitdrukkingsmoontlikhede van Afrikaans is. Hy is die Poolster, hy rig my, en hy bly immer onbereikbaar.

Die gesprek met Hennie Aucamp verdien vermelding. Lykdigte, besinnings, en die volgende mooi in memoriam. Watter invloed had hy op jou lewe en digkuns?

In memoriam: Slampamperman

Vir vriende & vreemdes was jy ’n gewer,
van raad, geskenke, ’n toespraak met jenewer.
Die jare bly van gewers vat, tot einde-
lik die gewer niks meer het om te gee
as ’n handvol gruis & gedroogde blare,
waboom-blare, ghnarrabos-blare, reg
om te strooi na jou Hantam onderweg.

Ek het Hennie Aucamp ontmoet vóór my debuut, en ek het geen idee gehad hoe ’n belangrike rol hy in my lewe sou speel, hoe hy dit sou verryk, of dat ons vriendskap tot en met sy dood sou duur nie. Hy was ’n mentorsfiguur, ’n vriend, ’n geesgenoot, ’n besadigde balans by my meer heethoofdige natuur. Hy het my aan sóveel nuwe dinge bekend gestel. Hy het ’n groot verwysingsraamwerk gehad, wat dit heerlik gemaak het om met hom te gesels. Die ganse taalregister is bestryk, en níks was taboe nie. Hy het by my ’n liefde vir ou woorde en uitdrukkings gestig.

Hennie het my, nes Louw, geleer dat helder denke in die eerste plek jou styl moet rig. As jy helder dink, sal wat jy skryf helder wees. As daar ’n fout is met ’n gedig moet jy dit gaan soek in die dinkwerk daaragter, en/of in die taal.

Dit was ’n vreugde om in die laaste 15 jaar van sy lewe sy ontwikkeling as digter te kon meemaak. Dit het ’n verdieping in ons vriendskap gebring. Vir ’n Hunkering se grein het ek gehoop om minstens één gedig te kon skryf om hulde te bring. Wat gevolg het, was ’n stortvloed van gedigte oor hom en vir hom. Uiteindelik kon ek ’n hele afdeling in die bundel aan hom wy, en só weer die gesprek met hom hervat.


*


Johann de Lange aan Joan Hambidge

Johann de Lange (Foto: Edrea Cloete)

Ons is almal bekend met die gedagte dat jy ’n leeftyd eintlik aan een boek of een vers bestee, dat jy jou met een tema bemoei. Maar daar is ook laat in ’n mens se lewe ’n terugkeer in die tyd, ’n bestekopname. Jou laaste twee bundels (Meditasies en Matriks) nooi trouens so ’n lesing uit. Hoe beskou jy jou nuwe bundel, Indeks?
In die sin dat ek ’n oorgang beleef: sestig is waarskynlik ’n tydvak van bestekopname. ’n Mens kyk terug na die mens wat jy was en jy ervaar (sowel as mens as digter) ’n gevoel van verspeelde kanse en dalk dat jy tyd verspil het op temas (soos die liefde). Terselfdertyd is hierdie ondergrond ook dit wat die proses paradoksaal bly voortstu.

Jy gee kreatiewe skryfwerk. Hoe verhoed jy dat jy jou skryfstyl op jou studente afdruk? Wat kan geleer word en wat nie? En met wat tans op kampusse gebeur, wat is die toekoms van kreatieweskryfskole op kampusse?
Ek leer my studente tegnieke van dig, die tradisie van skryf en ek leer hulle om ’n eie stem te ontdek. Die studente wat deur my begelei is, het elk ’n beduidende “eie stem”. Jy kan net iemand leer om beter te skryf, nader aan die eie identiteit te kom. Ek laat nie pastiches van my toe nie en wanneer ek dit optel, wys ek dit uit. Die proses werk soos psigoanalise: daar is ’n kontrak tussen mentor en mentee. Alles is vertroulik in hierdie slypskole en ek skep ’n veilige ruimte vir selfontdekking. Die toekoms van skryfskole is deel van die geesteswetenskappe se toekoms. Niemand weet hoe dinge vorentoe sal lyk nie.

Benewens lees, is reis die ander groot stukrag in jou lewe. Albei voed jou skryfwerk. Kyk maar na die voedende krag daarvan by D. J. Opperman en N. P. van Wyk Louw. Maar dan is daar ’n figuur soos Emily Dickinson wat binne die klein bestek van haar leefruimte ’n heelal oopgeskryf het. Is reis onontbeerlik? Of moet ’n mens eerder leer om in die oomblik te leef en fyn waar te neem en te dink?
Reis is lewensbloed. Ek gaan haal my gedigte ver, soos TT Cloete eenkeer opgemerk het. Ek is altyd in die oomblik, maar reis maak jou nog meer bewus van wie jy is, waar jy vandaan kom, omdat jy niks het om aan vas te hou nie. My gedigte is “visums by verstek”. Ek het baie gelees oor Neruda en die besoeke aan sy huise het bevestig wat ek waarskynlik reeds geweet het. Maar ek kon my gedigte fyner instel, beter kalibreer.

Human & Rousseau gee Indeks en ’n Hunkering se grein uit.


(Hierdie onderhoude word geplaas met vriendelike vergunning van Die Burger)

Friday, June 3, 2016

Joan Hambidge - Argief




Op soek na ‘n misgeplaaste objek in my biblioteek-cum-argief waar ek tuisgaan, kom ek af op Roland Barthes se Writing degree zero wat onder my dubbelbed geland het. Die bed het vier kaste onderin. Hier berg ek ‘n kamera, ekstra brille, pille en ‘n ekstra sleutel vir my motor. Aan die ander kant van die bed is daar twee laaie met lakens en ‘n ou kombers uit my jeug.

Vanoggend soek ek na die objek. Haal die matras van die bed af om te kyk of dit nie dalk iewers ingegly het. Of moontlik geberg in een van die laaie?

Maar die soektog-na-die-verlore-objek konfronteer my met ‘n legger wat ek gehou het tydens ‘n navorsingstydperk aan Harvard en briewe van my moeder. In haar netjiese handskrif. Briewe waarvan ek al vergeet het.

In dieselfde legger is daar e-posse van Johann de Lange as ‘n “bevestigende vlam” van ‘n lang digtersvennootskap en vriendskap.

Langs die legger is daar ‘n netjiese houer met ou pille, botteltjies, medisyne – artefakte uit die ooskus van Amerika. Objekte wat ek nie kan weggooi nie, omdat dit iets representeer van ‘n tydperk, ver terug in die tyd (1999) toe Barbara Johnson nog geleef het.

Ek stof af …

Ontdek ook ‘n e-pos van ‘n voormalige vriendin.

Die dood van ‘n vriendskap. Ek stap na my raak en kyk na Barthes se A lover’s discourse. Dikwels is vriendskappe al lankal verby, maar ‘n mens kan dit nie aanvaar nie.

“To know that one does not write for the other, to know that these things I am going to write will never cause me to be loved by the one I love (the other), to know that writing compensates for nothing, sublimates nothing, that it is precisely there where you are not — this is the beginning of writing”, aldus Barthes in sy liefdesboek.

Maar ek moet nou ophou soek na die verlore objek. Ek het ‘n visumafspraak om 1nm vir ‘n reis na Wenen. Freud, Wittgenstein en Klimt se stad. Die stad van The third man en Bad timing.

Ek is vroeg by die konsulaat en ‘n jong Xhosa-vrou gaan my dokumente deur. Ek verwag altyd die ergste met sulke besoeke. Iewers vind die beampte fout. Jou foto is verkeerd – jou lippe is effens oop. Of jou bankbesonderhede is verkeerd. Of jy moes eers hierdie visum kry voordat jy daardie een kan kry, unsw.

Die mag van die burokraat.

Hierdie vrou is iets heel besonders. Ons is albei gebore op Aliwal-Noord roep sy met vreugde uit. En ja, sy kom van Johannesburg en kan Zoeloe, Xhosa, Afrikaans (’n bietjie) en Engels praat.

Ek vertel haar van die taalstryd op Stellenbosch.

Sy kyk my in ongeloof aan.

“Ons swartmense en Afrikaanse mense se taal is van hier,” sê sy sonder skroom. Langs ons sit ‘n Russiese vrou en haar kind. Hulle luister na ons gesprek. Sy praat Russies met haar kind wat hier gebore is en Afrikaans kan praat. Bly Russies praat met hom, beveel ek. Dit raak ‘n wonderlike gesprek oor moedertaalonderrig.

Sy is van Vladivastok. Die seun gaan na Bishops. Nou word my vingerafdrukke gekiek.

Ek is op die sisteem.

Betaal ‘n boel geld vir my reis na Freud se stad.

Dieselfde aand ontdek ek die verlore objek:

Orfeus en Euridike *

As jy soos Euridike
in ‘n algebra van nood
voortydig die onderwêreld betree,
sal ek soos Orfeus
daagliks my lot betreur.

Miskien sal jy die grein
van my stem herken in dié dood
wanneer my woorde
jou in dié tussenplek bereik:
ek sal nie terugkyk, ek beloof.


Bibliografie:

Writing Degree Zero (1968).
Roland Barthes by Roland Barthes (1977).
A Barthes Reader (1982).
A Lover's Discourse : Fragments (1990).

The Grain of the Voice: interviews 1962-1980 (1985.

© Joan Hambidge