Bladsye / Pages

Tuesday, June 20, 2023

Resensie | Eben Venter – Decima | Penguin, 2023


Eben Venter – Decima.  Penguin, 2023. 
ISBN 9781415210017

Resensent: Joan Hambidge



I


Hierdie roman uit die pen van die veelbekroonde skrywer Eben Venter se pen is gewoon meesleurend. Outofiksie, fabel, ‘n speurverhaal, jeugherinneringe, reisverslag én wetenskap word saamgesnoer om te skryf oor bewaring. Die megaherbivoor, die renoster, word in hierdie boek beskryf vanuit verskillende invalshoeke met talle stemme en fokalisasies.

 

Veral op ‘n taalvlak is dit ‘n boeiende roman, omdat die outeur se Afrikaans ook ‘n soort bewaringsaksie word soos die benaming van bossies: bababoudjies en lammerlat, boesmankers en vêrpis, kwaaiman en ghaap en dawidjiewortel, skryf hy op bladsy 85.

 

Name in die Groot-Karoo en die taal van sy moeder kan nooit uitgeban word nie, net soos die benaming van daardie bossies nie vernietig kan word nie. Want die name is verewig in hulle wortels, hulle lattakke en saaddoppe. ‘n Besonder belangrike kwessie, juis in hierdie dae waar Standaard-Afrikaans opnuut gekritiseer word en variëteite beskou word as tale met ‘n gelyke status as die standaard. Politieke kwessies, inderdaad.

 

Tale transformeer en is gebed in die konteks van die tyd: un gros légume of petit poisson in Frans word vandag nie meer gebruik nie, omdat die indertydse boeremilieu van Frans verander het.


Maar daardie begrippe bestaan steeds.

 

 

II

 

Decima gaan oor renosterstroping op die eerste storievlak. Maar dit gaan uiteindelik oor meer as dit: stroping, tradisionele medisyne, bewaarders, veldwagters, kansvatters teenoor mense met integriteit.

 

Selfs die renoster word aan die woord gestel. So begin die teks:

Vandag moet ek die sangoma gaan spreek. Die lug is yl met vlokke bleikgoud – vroeglente in die Oos-Kaap. ’n Polohemp met helder, dik strepe en swart jeans voel reg. Gedurende die skraal oggenduur hierdie brokke in my droom: ’n “teken hier”-vorm wat aanhoudend vervaag, ’n hand winterwit en leweloos, en die kleur blou. Niks hiervan beteken iets totdat ek by die sangoma gaan sit nie.

My ma wag op my by die eetkamertafel. Sy het gedek met ’n outydse, gehekelde tafeldoek en ’n Noritake-bord. Daar is twee goudbruin beskuite op die bord, en bitterige Nescafé in een van haar blommetjieskoppies – in dié deel van die storie is ek in Paradys-aftreeoord. Nou glip my ma se hand om die bekertjie warm melk en vou myne toe vir die ontbytgebed. Dan sê sy: Jy kan my kar vat. Ek bedank haar, ook vir die gebed wat ek beskou as ’n seëning omdat ek nie meer bevoeg is om vir myself te bid nie.

Ek maak als bymekaar vir die konsultasie, my Leica-kamera, gelaaide iPhone, notaboek, potlood en water, toe my ma my vasgryp met haar benerige, skone hand: My kind, sê sy, ek wil nie hê jy moet doodgaan voor my nie, dis al wat ek vra.

*

 

Daar is verskillende stemme of sprekers aanwesig. 

 

Saamgesnoer deur ‘n slim gefiksonaliseerde outeur met besoeke aan museums (in België) en ‘n sangoma in die Oos-Kaap. Hongkong en ander buitelandse ruimtes. Jeugherinneringe op ‘n skaapplaas ruk aan die hart. Besoeke aan die moeder in die aftree-oord is pynlik en helder beskryf. Daar is Athule Bomvane en Frankie van der Merwe, en die lewensmaat. Ross en vele ander stemme wat help vertel in ‘n soort Faulkner-agtige aanbod. Dr Heinz Mödler, onder andere rubriekskrywer, is ook hier. Hy is veral bekend vir sy insigryke rubrieke oor historiese en mediese kwessies.

 

Skrywers soos Proust, Flaubert, George Orwell, J.M. Coetzee saam met Claude Lévi-Strauss begrond die verhaal verder. En uiteraard: Eugėne N. Marais se Dwaalstories.

 

En Lucretius se siening dat geslagte tot niet gaan. En so gaan dit altyd wees (114).

 

Die voorblad van Albrecht Dürer se ikoniese renoster is treffend en aktiveer ook die vele kunsgesprekke en beskouings van die diorama. Besoeke aan België en ontmoetings met kenners analiseer die impak van die Belgiese Kongo en Koning Leopold II se kolonisering van swart mense.

 

Die sieninge en beskrywings van Roosevelt se brutale jagekspedisies en sy verminderende uitsprake oor renosters is eweneens tersaaklik nes J.M. Coetzee se belangrike studie The lives of animals (1999).

 

 

III

 

Verskillende perspektiewe: Die stropers Athule, Frankie van der Merwe, die Chinese diplomaat en die Big Boss wat alles orkestreer teenoor die wildbewaarder, Ziyanda wat weet hoe hierdie stropers werk, maak van hierdie gegewe ‘n soort speurverhaal. Klinies beskryf hoe die stropers wil geldmaak anders as die simpatieke Ziyanda.

 

Teenoor die siening van die medisinale effek van renosterpoeier word die verteller gekonfronteer met sifilis en ‘n besoek aan ‘n Westerse dokter. Die navorsers Roslyn en Leigh-Ann wat in Hongkong moet meer te wete kom oor wat ágter die skerms alles gebeur met renosterhorings en al die mites daaromheen ontmasker.

 

Die taal van die dier (vertolk deur die verteller) in Afrikaans teenoor Kantonnees en Xhosa.

 

Die hele kwessie van navorsing en etiese kwessies word subtiel aangespreek. Wat mag die navorser in ‘n studie weergee?  Wat mag uit ander dagboeke of vertellings “oorgeneem” word in ‘n roman? Hierom dan die lang lys van erkennings deesdae so opvallend in die romankuns.

 

Uiteindelik word die moeder en dier teenspelers van mekaar. Dit word ten slotte ‘n portret van die moeder wat sterf. Hoe sy vertrek en van haar waardigheid gestroop word, is eweneens tersaaklik: die dood maak ons niks, on-waardig. Die dood dan as die groot stroper.

 

Ligte wat skyn in huisies in die Oos-Kaap om die dooies te gedenk.

 

Die boek word opgedra aan die werklike moeder, Maureen Venter en die roman is voortdurend besig om die grense tussen fiksie en werklikheid uit te daag.

 

Op ‘n eerste vlak is dit die storie van Decima, getraumatiseer deur haar moeder se dood in die Groot Visrivier-park en dat diere waarskynlik meer weet as wat ons besef.

 

Elegie en ekologiese studie. Fiksie en faksie. Die waarheid gelieg met die verteller wat telkemale die perspektief verander amper soos in ‘n dokumentêre rolprent.

 

Dis ‘n asemsnakkende mooi roman. Dit betower, sleur jou mee in bykans 200 bladsye. Daar is eweneens ‘n tersaaklike bibliografie en selfs een wat versin is.

 

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van FineMusicRadio)

Tuesday, June 6, 2023

Resensie | Jaco Jacobs - Die spaghettiboom | Protea Boekehuis, 2023

Jaco Jacobs - Die spaghettiboom (Illustrasies Pippa Pereira). Protea Boekehuis, 2023. ISBN: 978 4853 1325 0 | R180

Resensent: Joan Hambidge

 

 

I

Lydia Snyman, die uitstekende teoretikus van kinderboeke, het dikwels gesorg vir omstredenheid. Sy het wel sterk idees gehad oor die feit dat ‘n mens die kinderleser nie moet onderskat nie. En meer nog: dat ‘n kinderboek nie sommer ‘n storie is wat jy kan skryf omdat jy kinders het nie. Van haar bekendste werk is:

1968 

Die kind en sy literatuur 

1969 

Basiese kinderboeke: ’n lys vir ’n Suid-Afrikaanse biblioteek 

1975 

Die kinderverhaal as literatuur 

 

Sy was ook vertaler van klassieke kinderboeke soos Die pratende pot: ’n Deense volksverhaal deur Virginia Haviland en Die swaap en die vis: ’n Russiese volksverhaal deur Gennadij Spirin.

 

Die afgelope paar jaar het hierdie leser verskeie kinderboeke begin lees. Die buurkind, Nina se biblioteek is deur my aangevul en selwers is hierdie boeke met groot vreugde deur my gelees.

 

En tekenrolprente soos Toy Story (1995) of Japannese animasierolprente is nie net vir kinders nie.

 

A town called Panic, die 2009 mal film van Stéphane Aubier en Vincent Patar, is uiters bekoorlik. Die Cowboy, Rooihuid en die Perd (die hoofkarakters) en die fout rondom ‘n bestelling met stene is heerlik vermaaklik.

 

Hierteenoor die ernstige werk van Hayao Miyazaki se Spirited Away van 2020. Dit beskryf die fantasie van ‘n dogtertjie wat aan die slaap raak en dan in haar droom iets magistraals en ontstellends beleef. Die tienjaar oue Chihiro Ogino en haar ouers, reis na hul nuwe huis. Haar pa neem ‘n kortpad en beland voor ‘n pretpark wat leeg staan. Die kind wil nie meedoen nie en dan word dit ‘n ervaring in ‘n restaurant waar haar ouers verander in varke. Sy kan nie vlug nie. Sy ontmoet Haku wat haar teen die gevare waarsku …

 

Sy beleef verskeie vreesaanjaende dinge, maar wanneer sy wakker word, kan sy gelukkig niks onthou nie. Sy het wel die wêreld van geeste besoek, oftewel Kami in die Japannese Shinto-kultuur.

 

 

II

 

Ons dra almal ‘n kinderboek of meer in ons. Enid Blyton. Trompie en Saartjie. En later Keurboslaan en Maasdorp. Niks kom waarskynlik by Stories van Rivierplaas uit nie.

 

Die kind se fantasie of verbeeldingswêreld is dikwels ‘n plek van ontvlugting. Veral as die kind afknouery of vermindering beleef.

 

Die spaghettiboom van Jaco Jacobs (met illustrasies deur Pippa Pereira) is ‘n kleuterboek. So lui die blakerteks:

In Mika-hulle se tuin is daar 'n boom. Dit het 'n dik stam vol knoetse en knoppe en dit is die perfekte boom vir boomklim. Maar dit is eintlik nie 'n doodgewone boom nie. Party dae word die boom 'n seerowerskip. Ander dae word dit 'n besige restaurant. Sommige dae dra die boom die vreemdste vrugte, soos verfkwaste, ou sokkies of stringe spaghetti. Die boom is Mika se beste maat, tot daar op 'n dag nuwe bure intrek ... Hierdie is 'n verhaal vol verbeelding met klem op die waarde van vriendskap.

Maar dis meer as dit. Dis ‘n verstommende verhaal van transformasie en verbeelding. Kyk wat gebeur alles in die boom …

 

Margaret Atwood in haar essay “Not so Grimm: The Staying Power of Fairytales” opgeneem in Curious Pursuits (Virago, 2005) wys op die argetipes in feëverhale na aanleiding van Marina Warner se studie From the Beast to the Blonde. Plesier, lag, trane …

 

Mika en Niel. ‘n Boombiblioteek.

 

Soms ‘n seerowerskip, ander keer ‘n verhoog waar die beste sangers optree (voëltjies). Dan weer ‘n woeste, wilde pretpark. Selfs ‘n besige restaurant. Die boom dra ook vreemde vrugte soos ou sokkies, verfkwaste en natuurlik stringe spaghetti.

 

En dis dan die buurseun wat die fantasie breek wanneer hy meen in ‘n boom kan daar nie spaghetti wees nie. Dan die wending: hy word deel van haar fantasie met boeke oor monsters, meerminne, ridders en ruimtevaarders. En uiteindelik verander die boom in ‘n oertydboom …

 

En dan word haar boom ons boom met ‘n pterodaktiel met eiers wat uitbroei. 

 

Die boom is simbolies van die lewe. Dit representeer die hiernamaals. Bome is is ook ‘n konneksie tussen die aarde en die hemel. In die Keltiese kultuur word bome as voorouers gesien en hierom is dit heilig.

 

Hierdie is ‘n boek vir alle kinders en groot kinders. Jaco Jacobs is ‘n besondere talent.

 

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van FineMusicRadio)