Saturday, May 27, 2023

Rubriek | Privaat en Openbaar | 2023

Toe die befaamde digter Sheila Cussons na haar verblyf in Spanje na Kaapstad terug gekeer het, was haar onvergeetlike woorde aan my: “Kaapstad is nes ‘n klein Spaanse kusdorpie. Vól skinder en geklets.”

En ons weet hoe vissersdorpies werk rondom snoek en visvang.

 

Patricia Meyer Spacks het ‘n hele studie geskryf oor die fenomeen van skinder. Dit heet Gossip (Knopf Doubleday, 1986). Sy wys daarop dat karakters in ‘n roman praat oor ander en sodoende word medespelers gewaarsku of gehelp om iets te verstaan. En so word die vis se skubbe vinnig afgekrap.

 

Maar dit raak problematies wanneer mense nie kan onderskei tussen karakters in ‘n roman en werklike mense nie.

 

Iemand wat sommer in die verbygaan opmerk dat jy en ‘n vriendin saam uiteet, en dink julle is ‘n paartjie. Dink dit dalk, maar dit segge? Betredend. Veral as dit nie so is nie en ‘n private werksete word beduimel.

 

By geleentheid sit ek en ‘n bekende aktrise in ‘n Oosterse restaurant in Kaapstad. Ons ander eetgesellin is eweneens ‘n befaamde persoon.

 

‘n Man by die tafel neffens ons skuifel nader. Hy en ‘n vriend sit in die hoek.

 

“Wel”, merk hy ewe familiêr op, “pas gehoor waaroor julle praat en ek wonder of jy (dis nou die uwe) nie dalk spookskrywer sal wees vir my outobiografie nie?”

 

Sonder slag of stoot, rangeer ek hom terug na sy tafel.

 

Alle bekendes kan bepaald hieroor iets te segge hê.

 

Die feit dat jy bekend is, beteken nie dat iemand jou kan vra om te sing of jou ghitaar uit te pluk in ‘n restaurant nie. Of mag afluister en kommentaar lewer op ‘n gesprek nie.

 

So vra ‘n vrou my jare gelede in ‘n hysbak die allemintige vraag: Jy lyk so bekend … Wie is jy?”

“Ek is Sandra Prinsloo,” was my guitige kwinkslag. Hieroor het véral Sandra Prinsloo lank en luid gelag.

 

Of mense wat jou graag wil “ontmoet” en dan hoor by ander waar jy uithang en sommer terloops die tafel langs jou beset. Of ‘n vrou met uitpeul-ogies wat wil weet hoekom het jou verhouding met so-en-so op die rotse geland. Soethart, dis my saak. Op ‘n keer vertel ‘n Britse vriendin my (hier op besoek) ‘n sielkundige het haar gewaarsku teen my. Lank en luid lag ons twee oor sy gay-fobie en ‘n paar weke later loop ek hom raak by ‘n partytjie. Toe hy ewe vroom my nooi om langs hom en sy vriendin te sit, was my antwoord reg uit ‘n Nathaniel Hawthorne-roman: “Jammer, maar ek het ‘n reputasie. Ek bedoel Leputasie.”

 

Skryf, soos toneelspeel of enige ander kreatiewe optrede, is ‘n werk. ‘n Beroep. ‘n Gedig of roman is nie ‘n getuigskrif nie.

 

Ek is al verwar met Jeanne Goosen. Aangesien vir Dalene Matthee. (“Call me Oupoot!”) Tog al gewens ek was aangekyk vir Carol Ann Duffy. Beledig deur ‘n dronk vrou by die kroegtoonbank wat my as ‘n dyke aangespreek het.

 

Moes al bontstaan oor skryfwerk wat gelees is as die waarheid en niks anders as die waarheid nie.

 

Daar is ‘n lang wedstrydplan tussen die werklikheid en die uitvoering daarvan in ‘n kunsvorm.

 

Natuurlik is meeste mense nuuskierig oor ander. Maar dis hoe jy die vraag vra sodat die persoon wat ingevra word dit nie as grensoorskrydend ervaar nie. 

 

Deesdae as mense my privaatheid betree, vra ek iets uiters persoonliks en speels terug soos: 

1 hoe groot is jou apteekrekening?

2 menstrueer jy nog?

3 is jou broer alweer in die tronk?

4 snuif jy steeds rottegif?

5 is die balju op jou spoor?

6 het jy nog ‘n verhouding met Julius Malema?

 

Vir al die kere wat die uwe sélf betredend was, vra ek om verskoning.

 

Oh the boundaries of confidential gossip het nou ‘n plaag geword danksy sosiale media. Ons weet hopeloos te veel van mekaar deserdae.

 

As jy ‘n vlieg teen die muur is, hou ten minste net jou smoel. Anders mag jy in die vissop beland.

 

© Joan Hambidge

 


(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van BY