Tuesday, February 7, 2023

Onderhoud | Joan Hambidge - ‘Ek dig nie meer uit die vuis nie’ | 2023

Skryfproses word vir haar soeke na tegniek

 

Die digter Joan Hambidge se jongste bundel Sanctum is midde-in die ontwrigting van die pandemie geskryf. Sy dig oor verliese en verlorenheid en onder meer die verwoestende brand by die Universiteit van Kaapstad waar sy gedoseer het. Sy het per e-pos met Laetitia Pople gesels.

 

Op die voorplat van die digter Joan Hambidge se jongste digbundel, Sanctum, is ’n tekening van haar oop hand met die woorde “’n gedig word voltrek in stille toeval” in haar hand geskryf.


Die kunstenaar Henk Serfontein het die kunswerk geskep in houtskool en gemengde media vir sy Handskrif-reeks waar hy portrette van vrouedigters saam met hul hande, waarop ’n versreël aangebring is, uitgestal het. Dit en die meegaande reël ontleen aan haar gedig “Die intieme aard van digkuns” uit die bundel Lot se vrou trek die leser in dié digter se jongste bundel in.

 

Die bundel, Hambidge se 26ste, is geskep midde-in die inperkingstyd in Suid-Afrika, ’n tydperk van die grootste ontwrigting en verliese in die moderne tyd tot nog toe.

 

Die resensent Nini Bennett beskryf die bundel in haar resensie in Rapport “as die oopskryf van verlies en die heiligmaking van die gebroke menslike toestand”.

 

In die openingsgedig “Sanctum” dig Hambidge:

 

“My moeder, die tuinier-met-groen-vingers

en my vader, die man-van-versekering, leer my

jou huis is tydelik, temporeel, behalwe vir daardie

Huis van die Vader, buite tyd of verdriet.”

 

Hambidge neem in Sanctum afskeid van vriende – ou bekendes soos die uitgewer Danie van Niekerk, die digters Johan van Wyk en Thomas Deacon asook emeritus aartsbiskop Desmond Tutu. Tog sit sy ook die gesprek met tydgenote soos haar mededigters Johann Lodewyk Marais en Johann de Lange voort.

 

“My lykgedigte is ’n portretvers vir my. Jy kan dikwels iemand eers volledig raaksien ná sy of haar vertrek. Dis ’n soort afskeid, maar ook ’n poging om iets van die digter te probeer bewaar.


“Danie van Niekerk was ’n vriend en uitgewer. Belese, briljant en met ’n taalkennis wat by my bewondering afgedwing het. Sy eggenote, Anneke, en hy is egte, regte boereadel. En ons liefde vir reis het die vriendskap gesmee.

 

“My durende gesprek met tydgenote – soos De Lange en Johann Lodewyk – is tersaaklik. Ons het presies op dieselfde tyd begin dig en my waardering vir hul werk is oorbekend.”

 

Sanctum is die slot van ’n drieluik-digbundels en volg op Hambidge se Konfessies, kaarte en konterfeitsels en Nomadiese sterre. Die drie bundels is in gesprek met mekaar, sê sy. “Rondom die dood van my moeder, die semantikus en letterkundige Henning Snyman se dood en ’n soort herkanonisering van die Afrikaanse digkuns. Daarom die gesprekke met ander digters. Soos my erkenning aan Van Wyk Louw.” Sy woorde uit Tristia “Die groot Tempel, die aktiewe woord” is die openingsmotto van Sanctum.

 

As ’n verkennende mens wat graag reis, reeds wyd gereis het en graag ander horisonne vind, is haar beplande sabbatsverlof en verblyftyd in Rusland deur die virus in die wiele gery.

 

“Wel, ek was op pad Rusland toe tydens my sabbatsverlof met die eerste ‘opsluiting’. Ek wou onder meer die digter Anna Akhmatova se huis gaan besoek en beleef hoe Rusland sedert my eerste besoek in 1991 verander het.

 

“Ek het toe maar al die reisboeke en -joernale weer besoek. En in die kelders van onthou afgegaan. Van die reise na buite (die laaste een was na Tunisië en voor dit Suid-Amerika) het ek nou via die digkuns herbesoek.”

 

Die digkuns werk met die spanning tussen die intieme en die openbare, sê Hambidge. Sy het juis op die onlangse Slow Intimacy-kongres by Stias in Stellenbosch oor “The Intimate Art of Writing Poetry”, met die digter Ottone M. Riccio se gelyknamige handleiding vir jong digters as wegwyser, gepraat.

 

Haar bundel, sê sy, werk met hande – spookbeelde van die uitbeelding van haar hand op die voorplat eggo tussen die afdelings van die bundel.

 

“Diego Maradona en die hand van God; die lewenslyne op ’n hand. Ek het op Harvard Square tydens ’n navorsingsbesoek so ’n handleiding gekoop – oor palms en betekenisse van hande. In die Bybel staan ook opgeteken: ‘Die hand wat gee; die hand wat slaan.’”

 

“Nou is die skryfproses al hoe meer die soeke na tegniek. Ek dig nie meer uit die vuis nie.”

Sy haal aan uit die gedig “Huitain” (die huitain is ’n vers bestaande uit agt reëls).

 

Huitain

 

Ek ruik vanoggend weer harpuis –

jou goedgemikte uitklophou

toe ek papier tref ná jou vuis;

met twee dekades se onthou.

 

Jy’t my in die hoek neergesit;

Liefdesmart word toe skryfgevit:

lees jý by nabaat met berou?

Digters dig nie meer uit die vuis.


Haar werk sluit sterk aan by die Amerikaanse digkuns en in die besonder vind sy aanklank by Wallace Stevens. Sy verduidelik die trekpleister tot die Amerikaners so: “My eerste digbundel Hartskrif het ontstaan in ’n ysige koue in New Haven, Connecticut, toe ek navorsing gedoen het. Ek het seminare bygewoon van Geoffrey H. Hartman, Harold Bloom en Barbara Johnson, en so ’n ander blik op die digkuns gekry. Bloom se werk oor Freud is eweneens boeiend. Wallace Stevens het ek danksy D.J. Opperman ontdek. Hartman was uiters toeganklik en besonder boeiend oor die digter Emily Dickinson. Stevens het my getref met die woorde: ‘Poetry is a violence from within that protects us from a violence from without. It is the imagination pressing back against the pressure of reality.’


“My teoretiese navorsing voed my digterlike werk, en andersom. En klasgee soos die begeleiding van jong digters is eweneens ’n voedende praktyk.”

 

Sy lees daagliks die digkuns van Van Wyk Louw, Opperman wat sy hier noem Dirk-der-Duisende en Elisabeth Eybers. Sy beskryf hulle almal as uitsonderlike digters. “Ek lees hulle vir stylbeheersing en stylveranderinge.”

 

Haar Afrikaanse vertaling van die Amerikaanse digter Sylvia Plath se gedig “Oggendlied” is in die bundel opgeneem.

 

“Plath het my as jong kind bekoor. Haar tegniek, haar taalgebruik – en soos Eybers beweeg sy in ’n soort tussenruimte en ’n ruimte van isolasie.

 

“Die digkuns is soos sang: Daar is baie meer tegniek en beheer as wat die oog of oor besef. Hoe makliker dit lyk of klink, hoe meer werk is ingesit. En die genoemde groot digters het daar-

in presteer.”

 

In Sanctum dig sy oor die 17de eeuse Spaanse skilder Diego Velázquez se skilderye van onder meer “Las Meninas” en ook oor die Nederlandse kunstenaar M.C. Escher se “Waterpoel”.

 

“Ek versamel graag kuns. My vader het aan my ’n skildery van Maggie Laubser gegee. Sy moeder was Laubser se suster, en ek het wonderlike sketse van my vader as jong mens deur Laubser. My oudste suster se seun het dié kunstalent geërf. Ek besoek altyd kunsgalerye; hoe die beeldende kuns aansluit by die digkuns, is vir my belangrik.”

 

Dit is ook bespeur in die keurige uitgawes van haar bundels.

 

Daarby is sy nou betrokke in die analise van rolprente en skryf graag resensies.

 

Sy het ’n uitstekende filmoteek met die werke van die meesters Ingmar Bergman, Federico Fellini, Andrei Tarkofski, en sy geniet ook Agatha Christie en James Bond.

 

“ ’n Goeie rolprent soos Triangle of Sadness dwing by my bewondering af. Ek sou graag ’n rolprent wou maak.”

 

Sy werk reeds aan haar volgende bundel, Asindeton, waarin etlike oggend-meditasies opgeneem is, asook ekfrastiese verse en ’n handvol palinodes en parodieë, sê sy.

 

Asindeton handel oor die opruim van my akademiese lewe, ’n nuwe baken in my lewe. Afskeid en vertrek. Asindeton is ’n stylfiguur waar onder meer voegwoorde weggelaat word (ter wille van bondigheid of die rymskema); ook hoe digterlike taal uitspeel en grammatikareëls ontspoor . . .”

 

Oggendmeditasie 7

 

Die meditasies van die hart

‘n spel met prosodie, posodinie

plus ‘n stel notaboeke en verseboeke.

 

Nagteliks besoek jy my in drome

verwonder soggens oor tathata

se onverwoordbaarheid: die skewe hoeke

 

van onthou word voor middernag

‘n kreeftevers: uitgespel en uitgespeel

in ‘n soort retrograde belewenis

 

dat die dag sal breek in voorwete:

onthou duur langer as vergeet,

verdring staan immer tru voor berou. 

 

■  Sanctum het by Protea Boekhuis verskyn.