Bladsye / Pages

Wednesday, January 25, 2023

Resensie | Julia May Jonas – Vladímír | Picador, 2022

Julia May Jonas – Vladímír
Picador, 2022

ISBN 978 1529 080 469


Resensent: Joan Hambidge

 

Binne die lang tradisie van die kampusroman, van Mary McCarthy se The Groves of Academe (1952) tot by Pnin (1957) Nabokof of David Lodge se satires, verskyn hierdie roman: Vladímír is Julia May Jones se debuut wat sterk inspeel op J.M. Coetzee se roman Disgrace (1999).

 

Twee eggenotes in ‘n Engelse departement in die VSA. Die vrou, ‘n skrywer getroud met John in ‘n sogenaamde “oop huwelik”. Hy word aangekla van seksuele misdrywe. Sy, op haar beurt, het haar oog op ‘n nuwe aankomeling, ‘n skrywer in die departement, ene Vladímír, getroud met ‘n vrou, ook ‘n skrywer. David, ‘n voormalige lover en kollega, is nou 50 pond oorgewig.

 

Die anonieme verteller (58 jaar oud) se lesbiese dogter Sidney en haar swart lewensmaat. Beide regsgeleerdes wat Papa bystaan in sy agonie. ‘n Seksuele interlude met ‘n man lei tot ‘n swangerskap wat nuwe intrige skep. 

 

Ons beleef die hele woke-kultuur en die grense van seksuele grense (en keuses) wat voortdurend skuif. Binariteite wat bevraagteken word en nuwe seksuele identiteite geskep. Boetes op kampus as jy rook in rookvrye sones. Orals polisie; véral intellektuele polisie.

 

Begeerte dryf hierdie verhaal. Daardie psigoanalitiese konsep wat die formasie van die ego bepaal en manipuleer.  Die verteller draai die sogenaamde male gaze op sy kop en ons sien hier ‘n vrou wat ‘n man tot objek verklaar (en selfs vasbind).

 

Is die vroue-professor se man werklik ‘n grensoorskrydende figuur? Of was die jong vroue medespelers?  Is die selfmoordpoging van Vladímír se vrou werklik relevant vir die departement?

 

Ons beleef die bedompige rugstekery van die akademie, die onverbloemde jaloesie en natuurlik: kompetisie.

 

Die roman staan iewers tussen ‘n akademiese krimie (die slot is gevaarlik onthutsend gedagtig aan Rebecca) en ‘n psigoanalitiese analise. Nabokof se beroemde Cornell-lesings word vermeld en daar is kopknikke na Jane Gallop se Feminist Accused of Sexual Harassment (Duke, 1997) met vele films oor begeerte: Godard, Truffaut en Misery met Kathy Bates (1990) en natuurlik die golden oldie: Rebecca van Hitchcock (1940). The Apartment (1960) – met Shirley Maclaine en Jack Lemmon – intimeer dat liefdesverhoudings onskuldig kan wees. Billy Wilder se Some Like Hot  (1959) word so ingedra …

 

Harold Bloom gooi ‘n draai (onthou hy is eweneens aangekla (diep sug) van ontoepaslike gedrag deur daardie humorlose feminis, Naomi Wolf) in hierdie roman.

 

Erich Segal (1937 –  2010) se Love Story is glo geskryf na die skrywer, ‘n dosent aan Yale Universiteit in klassieke tale, uitgedaag is om ‘n moderne tragedie te skryf wanneer ‘n mens aan ‘n gewilde kampusstorie dink. 

 

Dis ‘n genoeglike debuut en vir hierdie leser was die roman waar die begeertes tussen al die rolspelers (en die konflik) nog nie uitgespeel is nie, beter as die laaste gedeelte van die roman.

 

Spanninge tussen karakters wat werklike vuurwerke word, is dalk ‘n poging om closure te kry in die roman. Desnieteenstaande ‘n debuut vol belofte, ofskoon die slot te maklik afloop. Veral gedagtig aan die klassieke intertekste en slim toespelings.

 

Wel slim is die kommentaar op die jong kollega se roman wat van toepassing is op die roman wat ons lees (164). En Vladímír wat weer op sy beurt die gebeure kaap en in sy roman sit en wat die kritiek as “bleak” ervaar, terwyl vroulief, Cynthia die pryse inoes met ‘n meer toeganklike boek.

Die uwe sal weer Kate Chopin (1850 -1904) moet lees om die studente se kommentaar en kritiek te kan begryp oor die wese van ‘n sensitiewe, dog feministiese vrou.

 

Sou Vladímír se vrou werklik ‘n skryfklub begin het die met die anonieme verteller wat haar eie identiteit meedoënloos onder die loep neem, wonder hierdie leser. Ons vind hier van selfplesier tot -skending; van rook en drink; van ‘n analise van die post hoc-prudery wat vroue binne die akademie van agentskap ontneem (10).

 

Wat ‘n karakter dink van D.H. Lawrence se 1928 klassiek Lady Chatterley’s Lover is hier toepaslik: wanneer daar oorgegee word aan die hartstog, is dit alles verby. Sowel vir die karakters as vir die leser.

 

Lees en onhou gerus: Love means never having to say you’re sorry!

 

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Beeld)

 

Tuesday, January 17, 2023

Resensie | Adriaan Potgieter - In die klipknoets van haar vuis || Sheila Cussons – Gestaltes 1947 | Hemel & See Uitgewers, 2023

Adriaan Potgieter – In die klipknoets van haar vuis. Hemel & See Uitgewers, 2023. ISBN: 978-1-998958-90-0 || Sheila Cussons – Gestaltes 1947. ISBN: 978-1-998 958894

 

Resensent: Joan Hambidge

 

 

“Én die digter wat speel met vuur, want

dig is speel met vuur – “

 

Dit val nie te betwyfel nie dat Sheila Cussons een van die belangrikste digters in Afrikaans is. Haar religieuse en mistiese verse is van die grootste in ons taal. Haar ekfrastiese verse (beelddigte) is eweneens rigtinggewend. 

 

Verskeie studies is al onderneem oor hierdie digter wie se lewe deur die meeste mense onthou word. Ons dink hier aan die verbintenis met N.P. van Wyk Louw en die brandongeluk wat haar geskend het.

 

Digter, skilder én verkenner van die numineuse.

 

Sopas het In die klipknoets van haar vuis verskyn deur Adriaan Potgieter wat haar werk en lewe Jungiaans benader. Die navorser beskou die verbande veral vanuit ‘n Jungiaanse perspektief. Musiek word betrek. Hy is medikus met ‘n belangstelling in die sielkunde en letterkunde.

 

In die klipknoets van haar vuis verskyn saam met Gestaltes 1947 in een mooi band. Die leser kry ‘n ryk geskakeerde teks met pragsketse en dagboekintekeninge. Boonop gedigte. So beweeg ons van die private na die publieke; van inspirasie tot uiteindelike gedig.

 

Kritici sal waarskynlik beswaar maak en die benadering tot hierdie komplekse digter (en skilder) as reduksionisties afmaak. Hoe kan lewe, digkuns, skilderkuns uiteindelik finaal ‘n optelsom word?

 

Vir hierdie leser is die Jungiaanse benadering van Adriaan Potgieter relevant, juis omdat in die oop spasies, die in- en uitbeweeg van verskillende “gestaltes”, die leser ‘n blik kry op ‘n veelkantige kunstenaar. Later word sy Katoliek en as kind beleef sy ‘n nomadiese bestaan.

 

Hier word ‘n ander invalshoek op die verhouding met Van Wyk Louw gegee, te wete een van versaking deur die man. My gevoel – gebaseer op mense wat haar geken het in Amsterdam – is anders gekleur. Hierdie skrywer het Cussons eweneens meegemaak en het ‘n besondere blik op haar. Uit haar mond ander sieninge gekry oor die Amsterdamse tyd.

 

Maar maak dit werklik saak? Uit hierdie verbintenis het van die allergrooste gedigte ontspruit tussen ‘n Afrikaanse Héloise en Abelard. Dieselfde ambivalensies vind ons terug in die verhouding tussen Sylvia Plath en Ted Hughes waar rolspelers steeds meen dit was hoe-dit-was. En selfs Janet Malcolm kon nie in The silent woman (Alfred A. Knopf, 1994) die finale punt sit nie.

 

Met enige kreatiewe persoon bly daar altyd vraagtekens of ‘n ellips. 

 

En so sal dit altyd wees, juis omdat die kreatiewe proses nie finaal begrond kan word nie.


En as dit só was, sou almal met ‘n ongelukkige jeug kunstenaars geword het. En dit is wat Carl Gustav Jung volledig begryp het.  Jung, ‘n kenner van die onbewuste, wat nie aan tyd of plek gekoppel is nie, vorm die teoretiese basis.

 

Ons sien dit in die Gestaltes 1947 waar ervarings reeds in drome beleef word. Jung se argetipes, die animus/anima, skadu, individuasie en véral die enantiodromia (die terugbeweeg in en teen die chronologiese tyd en die aanvaarding van sikliese of irreële tyd) is te vinde in haar digkuns.

 

En natuurlik: die kollektiewe onbewuste, soos die titel In die klipknoets van haar vuis reeds aandui.


Die moord op haar broer het haar diep getref; nes die ongeluk in 1974 in die vakansiehuis in L’Estartit op twee-en-vyftigjarige ouderdom toe ‘n gasstoof ontplof het in die kombuis en haar vir ewig geskend het, fisies sowel as psigies.

 

Oor hierdie ongeluk is daar verskillende interpretasies. Feit bly staan: sy is daarna ‘n geskonde mens en skryf oorrompelende verse, veral geboekstaaf in Die swart kombuis (1978).

 

Sy had twee mentors: Opperman en Louw. Opperman het haar van raad bedien soos om die gedigte terug te hou en die buiteland te gaan verken. En goeie raad was dit bepaald, want haar debuut, Plektrum (1970), bly steeds een van die suiwerste, mees afgeronde debute in Afrikaans.

 

Haar vertaling van Borges se verhale Die vorm van die swaard en ander verhale (1981) bevestig haar vertaalvermoë.

 

In Gestaltes 1947, geskryf deur ‘n jong Cussons, verneem ons dat begeerte kosbaarder is as vervulling (33) en hoe slaap jou by die siel uitbring (34). Die tuin is pure sintuig (37).

 

Hier sien ons alles wat later uitspeel in verstommende kreatiwiteit. Die impak van die onstabiele byna sigeunerbestaan het dalk ‘n invloed gehad op haar vriendskappe met vroue (Klipknoets, 81) en hierom was mans dalk meer bestendige vriende?  Die skrywer analiseer die animus en skaduwee in haar lewe. Belangrik die analise hier van die mantelman en hoe haar seuns klein Andrétjies word.


Die inhoudsopgawe gee ‘n bepalende blik: o.a. die wilde korf, muo, mites, phoenix …

 

Dié twee-in-een verpakking is een wat hierdie leser graag aanbeveel vir alle liefhebbers van die digkuns, omdat die meeste studies aan universiteite oor Sheila Cussons in biblioteke bly.

 

Die omtoorvuur en die verwikkelde lyn van haar digkuns en bestaan, word onder die loep geneem met die honderdjarige herdenking van haar geboorte.

 

‘n Klipknoets is ‘n kluit wat uit meer klip as net grond bestaan …

 

 

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Beeld)

 

Tuesday, January 10, 2023

Resensie | Piet van Rooyen - Antraks – ‘n Roman | Protea Boekehuis, 2023

Piet van Rooyen - Antraks – ‘n Roman | Protea Boekehuis, 2022 |ISBN 978 1 4853 13, Sagteband 304 pp

 

Resensent : Joan Hambidge

 

Piet van Rooyen se roman Antraks word bemark as ‘n omgewingsvriendelike skop, skiet en donder.

 

Hierdie lokteks op die agterblad het hierdie leser se vermoede bevestig: Piet van Rooyen is besig om die draak te steek met die krimi-kultuur in Afrikaans. Is daar ‘n sub-genre wat meer aandag kry op boekeblaaie tans? Boonop meen ‘n gedugte kollega en teoretikus word hierdie tekste gelees en geresenseer asof dit ernstige literatuur is. 

 

Van Rooyen het etlike romans gepubliseer en pryse verower. Hy is ook ‘n digter. Lesers van sý romans soos Die spoorsnyer (1994), bekroon met ‘n handvol pryse, weet hy is ‘n gedugte navorser oor spoorsnyers en die San. Dieselfde geld die roman Die olifantjagters (1998) met die wêreld van jag op die magtige olifantbul Maxamesi. Ook in Gif (2001) word die komplekse verhouding tussen San en wit mense uitgewerk. In al hierdie romans is daar uitstekende antropologiese navorsing aanwesig in romans met tekstuur.

 

Die strippe-voorblad neem die leser terug na die wêreld van RP-publikasies waar die karakters in clichés praat. Ons dink hier aan Die Ruiter in Swart waar die held altyd oorwin en die boef sterf in dramatiese-geykte taal: soos hy geleef het, sterf hy (sonder genade). Verder verwys die titel Antraks na die sogenaamde Bacillus anthracis …

 

Ons het ‘n vliegtuig met ‘n besending dodelike gif wat neerstort in ‘n oerwoud. Die begin van die roman is ‘n mokerhou:

 

Oral is losgerukte takke en blare gestuif oor wrakstukke en liggame. Confetti by ‘n makabere huweliksvoltrekking voor die poort van die doderyk. 

 

En die slot: Die trop ape wat destyds hier ingetrek het, beskou die plek nou as ‘n permanente tuiste (304).

 

‘n Teks wat tussen twee ellendes vasgeklam word met baie aksie. “Die reis is meer as die eindpunt”, lui een van die hoofstuktitels en “’’n Rooi lig flits skreiend in sy kop” ‘n ander. En “Tarzan tussen die krokodille” wat ‘n jeugherinnering terugbring na ‘n Sondagkoerant se strippe met hierdie held.

 

En die name! 

 

Soekie en Lafras. Markus Jones. Luister mooi na die name. Hoofstuk-afdelings wat die verhaal raam soos “’n Onhoorbare lied van sugte” met verwysings na Tarzan en James Bond. Met pigmees en avonture in die oerwoud geskryf in oordrywing om die satiriese aanslag te beklemtoon. Daar is ‘n duidelike verwysing na die film Live and let die (1973) met Roger Moore as James Bond en Jane Seymour as Solitaire.

 

Voedoe, die okkulte, tarot word die onderbou van hierdie film.

 

En die storie?

 

Daar is slim verwysings in Antraks is wat op die bo-vlak ‘n verhaal vertel van ‘n Boeing 727 wat neerstort in Angola met ‘n gevaarlike besending aan boord. In Lubango (in Angola) oorleef net drie van die 52 passasiers. En ons sien hier ‘n politieke kode en ‘n implisiete verwysing na die Helderberg-ramp.

 

‘n Aktrise, ‘n kleuter en ‘n Angolese vlieënier is die drie oorlewendes.

 

Soekie Verster en Lafras Uys moet die “probleem” oplos. Hoe gaan hulle die gevaarlike antraks “neutraliseer”? So reg uit ‘n James Bond-verhaal waar die held (en hier heldin) die wêreld moet red van ‘n gewisse ondergang.

 

Kannibale – die hoof heet Hihatele – en ene Markus Jones, die hoof van XYZ- sakegroep is ander spelers saam met Prima, leier van die Praeter-groep. Daar is Witko, Veikko Palander, ‘n politiek-korrekte Fin (met sy deurskynende ore), JimBrown en Mongoli (gebore met Down-sindroom) sit jou reg binne ‘n James Bond-film met afwykendes as die teenspelers. Vera en De Freitas.  Normaal en abnormaal. Wit Afrikaners versus albino’s met ‘n uitermate goeie reuksintuig. ‘n Rammelende bussie teenoor ‘n luukse Pajero.

 

Die afwykendes vind ons dikwels in thrillers. Ons dink aan Nick Nak in The man with the golden gun (1974), Scaramanga (self ‘n ‘afwykende’) se handlanger in daardie klassieke Bond-film. Of die reus, Jaws te siene in die films The spy who loved me (1977) en Moonraker (1979).

 

Die vermenging van ‘n vliegongeluk – ‘n ramp – met ‘n soektog in die oerwoud. Google map is vooraf beskou.

 

Daar is verwysings na Die Bybel, Hansie en Grietjie, Kafka, Interpol, populistiese tekste, Heart of darkness, ensomeer. Die disjunksie tussen aanbod en uitwerking, só bekend aan die satire, vind ons hier.

 

“Die satire wil bespot, en deur die spot die versteurde werklikheid belig. In hierdie spot is die groteske (humor) en die absurde belangrike hulpmiddels.” Aldus Henning Snyman in Mirakel en muse (Perskor, 1983).

 

Bykans asof hy dit oor Antraks geskryf het vol ironiese wendinge en ‘n korrektief op ‘n wêreld wat heeltemal absurd geraak het.

 

Hierdie distopiese roman is inderdaad polities inkorrek met verwysing na woorde soos pramme en menige woke-leser sal stik in die kamille-tee.

 

Antraks is letterlik ‘n bakterie wat vergiftig. ‘n Hoogs leesbare satire wat my weer laat kyk het na Frank Kermode se belangrike baken uit 1967: The sense of an ending: Studies in the theory of Fiction.

 

‘n Einde voorspel op vele vlakke. 

 

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Rapport)