Monday, August 24, 2020

Resensie | Francois Smuts – Slagoffer | Queillerie, 2020

Francois Smuts – Slagoffer. Queillerie, 2020. ISBN: 9780795802201 

Resensent: Joan Hambidge

 

Op die voorblad van hierdie pakkende speur-cum-misdaadroman word die leser gewaarsku: Die liefde is blind. Ėn die reg.  Dit word 'n dekonstruksie van die krimi in die toepaslike aanhaling van Leonardo Sciascia. Die leidrade wat 'n misdaad oplewer is totaal ontoereikend, meen hy (79).

 

Hierdie roman plaas ál die moontlikhede van dié sub-genre voor die leser se oë. Dit word gelaai met verwysings na die kwessie van skuld en boetedoening, die soeke na oplossings (of closure so bekend aan die speurverhaal) én belangrike rituele soos stiergevegte en godsdiens. Boonop word die ritualistiese aard van 'n hofverskyning geanaliseer. Die posisie van die regter, die assessore, die skuldige se plek in die hof word bekyk. In 'n stadium word die aangeklaagde gewaarsku: ons is nie nou besig met 'n James Bond-verhaal nie.

 

Dawid Neethling is 'n psigiater op Stellenbosch. Hy beklee 'n deeltydse pos as dosent aan die universiteit en 'n beeldskone musiekstudent, ene Eva Rodriquez land in sy skoot. Hulle verhouding verander van 'n professionele een na 'n liefdesverhouding.


Sy word vermoor en alle vingers wys na Dawid wat boonop 'n onsimpatieke wederhelf het. En hy het 'n leuen vertel toe hy die eerste keer ondervra is. Sy vriend Barnabas, 'n priester in die Grieks-Ortodokse kerk, gee raad en ondersteuning. 

 

Tot hier dan die verhaal wat 'n fyn netwerk van bedrog


ontmasker: van bendes wat vanuit die tronk dreig en afpers tot 'n swart verlede met 'n moordenaar in die ou-Suid-Afrika wat lid was van MI, tot 'n ambassadeur wie se hande vuil is. Verder word die polisie-ondersoek en swak forensika eweneens uitgelig. En die media se pogings om altyd 'n moordenaar (dikwels eensydig) onder die soeklig te plaas, onafhanklik van die regsprosesse, kom ook onder die soeklig.

 

Die media word in hierdie roman die jurie. En ons weet welke dwaashede is al verkondig tot die chagrin van regsgeleerdes. Tydens die lees van hierdie roman kyk hierdie leser weer na die BBC-reeks Trial and Retribution (1997) en soveel van die kwessies hier aangesny, kom in speurreekse na vore. In die Franse reeks Spiral (Engrenages) in 2005waar die hoof duisel van al die sameswerings en leuens, word ongehoorde verhoudings ondersoek tussen die magistraat en 'n polisievrou; 'n skurk en sy regsverteenwoordiger.

 

Ons betree in die eerste gedeelte Sorteo wat afspeel in Kaïro en die "geheim" van moord word weggegee. Met Abba Johannes wat met wysheid reageer: 'n moordenaar kan 'n priester word. Daar is verwysings na die Bybel: die paradys, Job, die teodisee, o.a. 


Verder raam Ernst Hemingway se sieninge oor stiergevegte (wat hy as 'n tragedie beskou het) die vertelling met Dostojefski en Franz Kafka wat alles verder laai. Daar is toespelings op Dante, Lorca, Rilke, Leda en die swaan, Russiese roulet en die donker ondergrond van die menslike bestaan. Verder word die leser etlike verwysings gegee na duende, na sorteo (die Spaanse woord vir loting) én stiergevegte. Onbewustelik sien ons "By die dood van Roy Campbell" van D.J. Opperman en Almodóvar se pakkende rolprent Matador van 1986.

 

Die dood van die bul word gesien as 'n offer aan die gode en opspraakwekkende moordsake staan ook hier: Oscar Pistorius, Dewani, die De Zalze-bylmoord, e.d.m. Ons lees wat die vermoorde dink (in kursief) en daar is 'n dagboek en 'n getuie van die moord. Hoe dikwels is 'n dagboek nie in hierdie soort storie dít wat alles tot 'n punt bring nie.

 

Daar is spelers en teenspelers: Dawid en sy vroulike advokaat; Bella Croeser en Diedericks, Grootboom. 'n Kwaai regter. 'n Snuffelende joernalis. Ras, klas en gender-kwessies kom hier aan bod.

 

Die supsension of disbelief word soms beproef: sou 'n akademikus "vergeet" het wat hy in 'n artikel geskryf het? Is die kwessie van oorlewingskuld by Ingrid nie oordadig nie? Die beskrywing van die DG is dalk te swaar gelaai met onderduimshede? Verduidelikings werk in hierdie roman, omdat die sub-genre gedekonstrueer word.

 

Die roman sny geweldig baie kwessies aan - soos die Russiese kind wat gesteel word van ouers vlugtend uit 'n Bolsjevistise bestel en wat dan jare later 'n bedelkind op straat sien in Parys (134). Onder die vertelling is dit duidelik dat die skrywer 'n duidelike spirituele boodskap wou oordra oor menswees (en karma). Die spirituele impak van leuens (via Stephen Freeman) word 'n belangrike leidraad en motief: hoe leuens mense kan verwoes.

 

In die erkennings verneem ons dat die skrywer 'n regsagtergrond het, en hy sonder 'n terapeut in Kaapstad uit as die beste kliniese een. 'n Ander een is die beste psigiater in Kaapstad. (Dalk subjektief en oordrewe?) Dit is die soort advertisements for myself wat deur 'n redakteur geskrap moes word. Laat die boek vir homself praat.

 

Iewers tussen 'n analise van die krimi én spiritualiteit lewer dit 'n beduidende bydrae. Hierdie leser voorspel nog 'n roman met sterk maatskaplike analises.

 

 

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Beeld)