Monday, June 8, 2020

Reisrubriek | Onthou om te onthou | 2020


Donderdag,  4 Junie 2020 tot Sondag, 7 Junie 2020

Vanoggend luister ek na die kommentaar van twee filmkritici (Peter Brunette en Frank Burke) oor Amarcord.

Tussendeur gaan ek deur stapels manuskripte. Reisverslae, universiteitsdokumente, briewe, keurverslae van boeke – pak dit weg in kombuiskaste. 'n Groot klomp papiere land uiteraard in 'n swart sak. 'n Hele lewe word in ''n fast forward na vore gebring. 'n Handgeskrewe "Daar is 'n koggelmander in my kakhuis", 'n brief van Johann de Lange aan my in 2013, 'n in memoriam in Die Burger waar 'n liefdesgedig by die herdenking van 'n kind se dood ander betekenisse ontsluit.

Die gedig is sonder my toestemming gebruik. Dit is goed so. Gedigte moet reis om mense te help. Dit kry immers onmiddellik na publikasie 'n nuwe betekenis.

Amarcord is wonderbaarlik reg vir hierdie tyd.

Fellini het opgemerk op 'n keer dat hy musiek te oorweldigend vind om daarna te luister. Tog is Nina Rota se musiek as refrein belangrik vir sy films.

Karakters praat direk met die kamera asof hulle óns, die kyker, wil betrek. Die vrou Gradisca voer 'n ontkleedans uit – nie vir die minnaar nie, maar vir die kyker. 'n Soort Brechtiaanse Vervremdung.

Fellini is inderdaad 'n visuele storieverteller. En jy kan die storie volg sonder onderskrifte of dialoog. 

In Roma (1972) bring hy hulde aan sy geliefde stad. Die stad van illusies, soos Gore Vidal, die Amerikaanse skrywer dit tipeer, wat lank woonagtig was in Rome.

Peter Gonzales vertolk die rol van die jong Fellini in hierdie film met verskillende episodes: besoeke aan 'n hoerhuis; ondergrondse frescoes verdwyn, omdat daar lig op hulle skyn; gesprekke oor die sub-way wat nie voltooi is nie, weens die brose struktuur van die stad; 'n modevertoning waar priesters op rolskaatse rondbeweeg en verskillende kledingstukke vertoon en dus kommentaar lewer op die kerk se materialisme; 'n boksgeveg; die diefstal van 'n kamera.

Die film begin met die geskiedenis van Rome en Fellini en sy assistente beweeg deur die stad. 'n Mens bly deurgaans bewus van hulle. Anna Magnani weier om Fellini te woord te staan. Sy klap as groot aktrise die deur in sy gesig toe. (Sy is kort na die voltooiing van die film oorlede.)

Oorlogtyd word teenoor die sewentigerjare geplaas. 'n Bomskuiling teenoor hippies wat sing met die kokende restaurantlewe in Rome. Fellini speel 'n jong man in die dertigerjare wat bordele besoek en in die sewentigerjare is hy die filmmaker. Twee verhale word teenoor mekaar geplaas in 'n selfrefleksiewe, metatekstuele film wat hy later in Otto e mezzo verder ontgin.

*

Jeanne Goosen se dood wek tereg wye reaksie in die pers. Daar is vele huldeblyke vir die uitstaande, enigmatiese en briljante skrywer wat op soveel fronte werksaam was. Ek probeer haar karteer in 'n gedig:

Jeanne Goosen

Op 'n herfsdag word jy ontslaan
met boegoe en jenewer en Maria Callas
om finaal te vertrek na daardie aftreeoord
waar ander digters nou met jou hof

sal hou in 'n gewalste woord of koue oorlog
in 'n ruimte met vele sirkels oneindig glo
hoe klink dit daar met musiek op die engeleharp?
sal jy jou steeds onverbiddelik verweer verset

teen vooroordeel leuens of voorstellings 
van dié firmament nooit omsingel of omskryf?

Nou is jy elders aan diens met Bibberende Piet
en jou bossies Mamma se agterstevooromkind

sing Ia sona molto felice vol geluk en saligheid
soos klank en woord en beeld se drie-enigheid

omstedelik sal jy aankom in hierdie omstreke 
vol stories fabrikasies en dié plek ook omkeer

*

In City of women (La città delle donne) van 1980 vertolk Marcello Mastroianni die rol van Snàporaz. Hy ontmoet 'n vrou op 'n trein en het kortstondige seks met haar in die toilet. Die trein stop onverwags en hy agtervolg haar dan deur 'n woud na die Grand Hotel waar daar 'n kongres vir vroue plaasvind. Hy is onwelkom hier as man en word gekonfronteer – saam met die kyker – met uitspattige en uitbundige gesprekke oor vroulike seksualiteit.

Daar word beswaar gemaak oor terme waarmee die vagina beskryf word: box, snatch, bunny, beaver... 'n Vrou bely dat sy as jong kind so meegevoer was deur Sneeuwitjie en die sewe dwergies dat sy nou sommer sewe mans het.

'n Liedjie op die maat van "A woman without a man is like a fish withou a bicycle" wys op vroue se rol as tweedeseks. Met guitige woorde en vreemde assosiasies.

Heerlik parodies is 'n toneel met 'n vrou wat in 'n toneel kinders versorg, stryk, kook en dan kom die man boonop met 'n Frankenstein-masker en eis seks van haar. Die masker word afgehaal en dit is 'n vrou wat die rol vertolk van die betredende man.

Die kongres handel oor poliandrie en Snàporaz word deur ene Donatello begelei na 'n gimnasium waar vroue op rolskaatse hom konfronteer. 

Is dit dood wat sy sens ophou? Of is dit gewoon 'n vrou wat alweer op hom afstorm?

Hy word deur 'n vet, aaklige vrou oorrompel en sy verkrag hom bykans in 'n kweekhuis. Haar moeder kom dan tot sy redding.

Hierna beland hy in 'n motor met harde musiek waar die vroue hoog in die takke is.

Uiteindelik word hy "gered" deur ene Dr. Xavier Katzone waar hy omring word deur belaglike seksobjekte en selfs 'n tong uit 'n masker word in sy oor gedruk. Die performance van sy vrou wat deur telekenesis pêrels en geld opsuig, is 'n kommentaar op vroue wat met mans trou ter wille van geld. Zen-seks, word dit genoem.

In hierdie film word Snàporaz ook met sy eksvrou gekonfronteer. Met al die voorspelbare verwyte en aantygings.

Vroue – vermom as Nazi's – betree die huis en Snàporaz word ter take geneem in 'n hof vir sy manlikheid. Daar is 'n bokskryt en hy verlaat dit in lugballon in die gedaante van Donatello. Sy skiet die ballon aan stukke.

Skielik word hy wakker op dieselfde trein as aan die begin van die film.

Dit was alles dan net 'n droom en die vroue wat hy in die nagmerrie beleef het, staan om hom in die trein.

*

Die Van Wyk Louw-insette gaan voort op Versindaba.

*

City of Women is 'n uiters komplekse en selfs waansinnige film. By die Cannes-filmfees was een van die kritici se opmerking: Zero for Fellini. 'n Ander een het gemeen: A Mountain of Tedious Pretension.

In sy dagboek het Tarkofski – toe besig met Nostalghia – soos volg geskryf oor hierdie film:
At the Cannes Festival the papers said that Fellini's last film was a total disaster, and that he himself had ceased to exist. It's terrible, but it's true, his film is worthless.
Met 'n herbesoek nou (en ek gaan hierdie week weer die film kyk) is die uwe van mening dat dit uiteraard die tyd vér vooruit was. Dit analiseer genderpolitiek vanuit verskillende hoeke.

Ons sou graag wou weet wat Almodóvar of Tarantino hiervan sou maak. 'n Kopknik uiteraard na die komplekse genderpolitiek en die spel met verskillende style: 'n Fred Astaire-dans, vroue as Nazi's, grappe oor seksualiteit, vrees vir vroulike oorheersing, ensomeer.

Soms is 'n film – nes 'n boek – sy tyd ver vooruit.


© Joan Hambidge