Gewoonlik wanneer films te veel applous en akkolades ontvang, staan ek tru. Wag totdat die geraas verby is, maar Parasite van Bong Joon-ho, 'n Suid-Koreaanse film van verlede jaar, verdien al die erkenning. Dit is sopas bekroon by die Golden Globes as die beste buitelandse film.
Die verhaal gegewe is oorbekend reeds: 'n down-and-out gesin betree 'n rykmanshuis met identiteite wat aangeneem word as tutor, kuns-juffrou, sjef en chauffeur.
In 'n uiters realistiese toneel sien ons hoe hulle ondergronds leef. Daar is geen wifi nie en hulle "steel" van die inwoners bó hulle vir 'n verbintenis.
Vir 'n lewe vou hulle pizza-bokse. Maar dit werk nie uit nie, want hulle verbrou die fyn aanwysings. Voor hulle beskeie tuiste urineer 'n man gereeld.
En dan. Die boetie neem sy vriend se posisie in as tutor en skep (via die internet) vals grade. Die sussie is nog slimmer. Sy besef die jong kind wat sy moet leer het 'n kunsprobleem en via die internet leer sy van kunsterapie. Die ma word die sjef wanneer hulle leuens oor die huidige sjef vertel en haar verdag maak by Meneer en Mevrou Parks: dat sy tuberkulose het en die pa gaan selfs na die Mercedes garage om alles uit te vind van moderne motors.
Hierdie swendelaars plaas 'n broekie in die ryk man se motor sodat die chauffeur gefire word en alles loop flink. Hulle trek almal wol oor die oë.
Die kenner van plotlyne vermoed dat die jong kind (hy heet Da-song) wat buite alle grense leef, die leuens sal ontmasker. Hy word deur sy ouers op die hande gedra, slaap selfs op die gras in sy Rooihuid-tentjie en manipuleer die ouers vandaar met 'n walkie talkie. Sy sussie speel tweede viool.
Hy het selfs eenkeer 'n spook gesien ... (Die kyker weet egter wié hierdie spook is ...)
Die dénouement is onverwags - selfs vir hierdie ou filmkyker.
Die baas en sy gesin het gaan uitkamp.
Die huis is in chaos. Die parasiete lê weg aan die whiskeys en die tutor (Ki-woo) lees selfs sy student se dagboek.
Die voormalige sjef daag onverwags een nag op, lui die voordeurklokkie en die vier swendelaars moet die deur oopmaak.
Sy het iets vergeet in die huis.
En dan?
Daar is 'n bunker in die huis. Heeltemal geloofwaardige binne daardie wêreld waar mense moes wegkruip tydens oorloë.
As jy die film wil gaan kyk, moenie verder lees nie. Dit gaan 'n spoiler wees.
Die vier verneukers ontdek 'n man (die voormalige sjef se man) ondergronds wat via morsekodes met die buite-wêreld kommunikeer. (Hy skuil hier om van loan sharks weg te kom.)
'n Bloedige twis ontstaan.
En dan keer die gesin onverwags terug want die kind het nie die kamp geniet nie ...
Die huis word blitsig opgeruim en die sjef moet ook 'n eksotiese dis maak vir die kind.
Soos in Hitchcock se Psycho is daar dan verskillende vlakke in die huis.
Gelukkig kan hulle wegvlug van die huis, maar helaas is hul tuiste deur vloedwaters verswelg.
Die nag slaap hulle - saam met ander huisloses - in 'n gimnasium.
Die volgende dag word hulle deur hul werkgewers, die Parks, vir 'n verjaarsdagparty van die jong kind genooi.
Hulle gaan.
En 'n orgie van geweld breek los. Ki-woo betree die bunker met 'n rots, maar Geun-sae uitoorlê hom. Waneer die kind Geun-sae weer sien, is hy getraumatiseer deur die besoek van die spook. Meneer Parks en sy dogter word vermoor in 'n pornografie van geweld.
Ki-woo word wakker nadat hy in 'n koma was en word skuldig bevind aan bedrog. Hy lag ook onvanpas - waarskynlik weens die breinbesering.
Die vader (Ki-taek) oorleef nou in die bunker - en met die besoek van sy seun, sien hy die morsekodes.
Die slot aktiveer verskillende lesings. Is die tutor nog in die tronk? Fantaseer hy dat hy eendag so 'n huis gaan besit? Gaan hy eendag wel sy vader uit die bunker kan red?
Die film lewer kommentaar op die verskillende klasse in hierdie land en hoe die rykes uitermate ryk is en die armes sukkel om kop bo water te hou. Dalk hierom dat water en oorstromings so 'n belangrike kode is?
Daar is baie humor. Swart humor soos Meneer Parks wat kommentaar lewer op hoe die werkers in sy huis stink. En tydens die geweldorgie gril hy weer vir hoe hulle ruik. En dit lei dan tot die aanval op hom en sy dood.
En tydens die oorstroming in die beskeie tuiste spuit vuil water uit die toilet.
II
Psycho (1960) van Hitchcock het ook verskillende vlakke en die bloedige aanval op die speurder, Milton Arbogast en Marion, word ook deur hierdie film geaktiveer.
En die moeder wat in die kelder weggesteek word, maar ontdek word as 'n mummie, is ook 'n verdere interteks.
Die Bates-motel met Norman wat vir Marion vertel sy ma is psigies siek, teenoor die ryk huis van die Parks. Ons weet egter hy is die siek een wat Marion vermoor en die gesteelde geld (met haar lyk) in die nabye moeras instoot. Die soektog na Marion vind plaas en die speurder word deur 'n donker figuur doodgemaak. (Žižek in The pervert's guide to the cinema wys op hoe skokkend hierdie toneel is weens die onverwagsheid daarvan.) Wanneer daar ook na die speurder gesoek word, plaas Norman sy moeder se lyk in die kelder.
Lila en Sam se soektog na Marion en die speurder lewer niks op nie en Lila is geskok wanneer sy Mevrou Bates se lyk in die kelder vind. Norman - met 'n pruik en in vroueklere - probeer Lila doodmaak met 'n sjefmes, maar Sam keer hom gelukkig.
In die gedaante van sy moeder, maak hy mense dood. Hy het indertyd uit jaloesie sy moeder en haar minnaar vermoor. En die psigiater wat Norman moet verdedig verduidelik in die hof hoe sy gesplete persoonlikheid funksioneer. Uiteindelik word die motor - met Marion se lyk daarin - uit die moeras gehaal.
'n Duideliker simbool van die donker onbewuste kon sekerlik nie gevind word nie.
III
J. Hillis Miller verwys in sy bekende artikel oor die parasiet en die gasheer hoe tekste op mekaar teer in Deconstruction & Criticism (1980). Staan dit in hierdie teks of is die kritikus ook 'n soort parasiet wat op ander tekste teer?
Die regisseur van Parasite sou bepaald kennis geneem het Anthony Perkins en Janet Leigh se vertolkings. Hier is eweneens 'n Lacaniaanse "Chinese whisper" aanwesig en die verwringing van die oorspronklike boodskap, soos dit oorvertel word.
Parasite is 'n uitsonderlike film wat kommentaar lewer op die konstruksie en nabootsing van die self, soos Lacan dit beskryf in sy Ėcrits (1966).
Alfred Hitchcock as Norman Bates se ma
Joan Hambidge