Thursday, February 21, 2019

Resensie | Dolf van Niekerk – Berigte uit die skemerland (2019)

Karoosange (1975), Dubbelster (1996), Nag op 'n kaal plein (2006), Lang reis na Ithaka (2009), Bleek planeet (2013), en Portrette in my gang (2015) is van die bundels uit Dolf van Niekerk se pen.

Sopas, op sy 90ste, verskyn Berigte uit die skemerland by Impramatur! 

Die meeste lesers ken hom waarskynlik vir sy roman Die son struikel uit 1960 wat menige kind op skool moes lees (dalk eerder deurworstel) as voorgekrewe werk. Vir my is hy die digter van die eenvoudige reëls wat jou bybly:


snags boor ek
na die oergesteente
van die Groot Karoo
en elke dagbreek
bid ek droë woorde op  

(Bleek planeet, 2013)

Of hy dig oor die panta rei, of die Karoo, of nadink oor wáár hy vandaan kom, bly Dolf van Niekerk 'n beleë (en onderskatte) digter in ons digkuns. Daar is 'n misterie en soeke na die “God wat Is” en 'n wete dat lewe (soos die dood) 'n sirkelgang is.

alles keer in siklusse terug,
alle syn herhaal sigself
deur die tyd, wat was word nou
en nou is môre soos dit was. 

(Portrette in my gang, 2015)

Hy vermeng filosofie en natuur-waarneming op unieke wyse.  Soms stel hy groot filosowe aan die woord soos Nietzsche of word die massamens via Ortega y Gasset gekritiseer. Die digter is 'n opgeleide filosoof, maar dit oorwoeker nooit sy verse nie.

Wanneer daar ongerymdhede in ons letterkunde plaasvind, is hy immer die stem van rede.

Luister na hierdie video-greep van ’n voorlesing uit Nag op ‘n kaal pleindeur Dolf van Niekerk (Protea Boekhuis, 2006). Dié opname is gemaak tydens Versindaba 2007.

In Berigte uit die skemerland vind die leser 'n terugblik op sy lewe. Daar is verwysings na die Karoo, die verhouding met die vader, natuurverse én besinnings oor die lewe en dood.

Bykans 'n digterlike testament, sou 'n mens kon sê. Van Niekerk is 'n filosoof; hy het 'n doktorsgraad in die filosofie behaal. Verwysings na die filosofie, onder andere na Huizinga, figureer. Daar word nagedink oor die geskiedenis van taal: van "hebban olla vogala" tot Marais – tot waar ons nou met Afrikaans staan ... (29). Van skryf- tot digtaal.

Van die enkeling tot die eise van 'n kollektiewe bestaan, word in hierdie bundel ondersoek. Die tiptol word bekyk, so ook die herfskleure.

Buite die kring
wat van gees nie weet 
– brabbelklanke van die skare
in die roes van skyn
en dors na welvaart en mag – 
sal hy eenkant
van die meer-as-baie staan.

'n Mens kan uiteindelik die bundel benader as een lang gedig met verskillende rusposes in 'n digterlike bestekopname. Bekende Van Niekerk-temas, maar nou die wete dat dit in die lig van die laastelike val ... (Die aarde waarop ek loop wat in 2003 verskyn het, is immers die titel van een van sy outobiografiese vertellings.)

Hierom die stil aanslag; asof die gedigte na binne keer.

Hier is 'n paar verse:

Skemer se geheim ontwyk my steeds –
sal ek dit in die misterie van
my eie doofheid vind?

*

Skelet van ’n gedig:
By die middelpunt van nag
word nag gesplyt
ver van skemer, naby dag – 
bipolêre nag.
Waak ek by boeke
oor syn en wording,
wese en gestalte,
bring middernag ’n vraag:
Is twyfel die vader van glo,
onsekerheid die moeder van dink?
Waak ek op die mure
tussen lig en duisternis,
terwyl ek wag
op iets wat seker is.

*

Seisoene treur oor die aflê van die self,
verlies aan kleur en vrug,
gebind in die vloei van tyd, 
in die kosmos se gang 
waar begin geen einde het,
dag en nag in skemers versoen.
Seisoene daag in die spel van son
en aarde, buite die raamwerk
van kalendermens se kille waan 
om die absolute te definieer,
die onkenbare te ken en tyd 
aan kettings te slaan.

Hy het 'n besondere ryk oeuvre: prosa, poësie, jeugvertellings, outobiografiese sketse en dramas. Oor die intieme aard van die digkuns het Dolf van Niekerk vir jare al 'n beduidende bydrae gelewer.

Skrik kom huis toe (1968) is 'n jeugboek wat my altyd sal bybly.

Om op 90 so 'n bundel te lewer, wil gedoen wees!

Ten slotte, uit Portrette in my gang (2015):

Laaste woord

Bo-aardse wind uit oersee
waai deur my lyf
dat ek deursigtig voor my spieël
vel en pees van jare moet verduur.
Ek soek agter ou oë en ribbekas
nog jeug; wil met albatrosse vlieg
na stormwaters van die gees
en duik in gevaarlike getye
van denke en dade, nou dat
die liggaam so maklik meegee.
Opstand, weerstand tevergeefs,
maar tot die laaste bietjie weet
en asem die lyf verlaat
om na sy oorsprong terug te keer,
sal die gedig nog van onsterflikheid leer.



© Joan Hambidge