Bladsye / Pages

Monday, January 28, 2019

Filmrubriek | Roma (2018)

I

Alfonso Cuarón verstaan filmtaal. Hy is soos Andrei Tarkofsky, die Russiese filmmaker wat elke vinjet met 'n simbool laai. Roma, verfilm in 2018 speel tydens 1970-1971 af. Die film begin met die huiswerker Cleo (Yalitza Apariciowat die stoep met water afwas in Colonia Roma in Mexiko Stad. Dit is die begin van die sewentigerjare. Dit eindig met 'n vertrekkende vliegtuig.

Daar is 'n hond wat drolle los. 'n Deurmekaar huis met jillende kinders. Antonio, die dokter, wat kwansuis na Kanada gaan vir 'n kongres maar wat klaar is met sy huishouding. Hy het 'n minnares. En die moeder, Sofia (Marina de Tavira) wat sy verwyte oor 'n oorvol yskas vol ou kartonne moet aanhoor, probeer die kinders beskerm teen sy verlating.

Dit is die verhaal van 'n vrou en haar bediende; van ’n vrou deur haar man gelos, in jukstaposisie met dié van ’n huiswerker eweneens versaak. Die bediende raak swanger by 'n minnaar Fermín (Jorge Antonio Guerrero) wat op sy beurt gevegskuns beoefen en deel is van  die Los Halcones (The Hawks), 'n groep opstandelinge.

Die twee minnaars gaan kyk na die rolprent La Grande Vadrouille, en sy bely dat sy dink sy is swanger. Fermín staan op en keer nie terug nie.

La Grande Vadrouille, verfilm in 1966, is een van die mees suksesvolle Franse komedies. Dit handel oor twee Fransmanne wat die Engelse wie se vliegtuig afgeskiet word, help om te ontsnap tydens die WOII in Parys.

Dus die groter politiek teenoor die kleiner menslike drama.

In die hospitaal tydens 'n aardbewing val sement op 'n sterwende baba in 'n broeikas.  (Dit waarsku jou as kyker dat Cleo se baba gaan sterf.) Tydens 'n vuur by 'n nuwejaarsfees word die kyker bewus van 'n vurk wat nie verwoes word nie. Hierdie vuur onstaan toe werkers in opstand kom teen die landhere. Wanneer Cleo weer haar minnaar tydens 'n opstand sien, breek haar water.

In 'n pynlike toneel skenk sy geboorte aan 'n stilgebore babadogtertjie en die regisseur laai hierdie toneel met geboortegille van ander vroue wat jou as kyker (en toehoorder) skok. Regdeur die film word klank ingespan om 'n emosionele boodskap op die skerm te laai met verwysings na ander films. Waar die vader sy groot motor telkens perfek kon parkeer langs die huis is die moeder nie in staat om dit te doen nie. 

Een nag wanneer sy dronk is, skraap sy die groot motor. Die vader daarenteen kom wel deur die nou gangetjie – soms met agteruit ry, maar dan tog in.

Sy koop 'n smaller Renault. Vir oulaas ry hulle wel met die vader se Galaxie see toe. Die motor funksioneer as 'n simbool van die welvaart (en beheer) wat hulle eens beleef het.

Tydens 'n vakansie by Tuxpan, wanneer die moeder die vertrek aan die kinders moet bely, red Cleo in 'n pakkende toneel die twee kinders uit die see. Tydens hierdie besoek, sal hy sy boeke en boekkaste neem.

By hulle terugkeer is al die boeke op die vloer gelos. Die vader het inderdaad die boekrakke geneem en die huis word anders beleef, deur sowel die moeder as die kinders.

Die ouma, ’n matriarg, neem Cleo om 'n bababedjie te gaan uitsoek. Op hierdie oomblik word ons bewus van 'n rumoer buite die winkel en Cleo besef met skok dat haar minnaar deel is van die opstande. Die toneel waar hy vir Cleo sy gevegskuns naak ten toon stel, word nou met verdere ironie gelaai; nes haar besoek aan die militêre parade waar hy en ander jongelinge onder 'n meester opgelei word.

Die kinders in die film se spel is uitstekend. 'n Kind luister sy ma se foongesprek af. 'n Boetie gooi 'n klip na sy broer wat die venster breek. Die jongste een is 'n skattige ou sieletjie wat wyshede kwytraak.

In my gemoed word die romans van Carlos Fuentes, soos Todas las familias felices (Happy Families) wat in 2006 verskyn het, deur Roma geaktiveer.


II

Hierdie film kry ongelooflike goeie reaksies en word gekortlys vir bekronings. Sommige meen dit is 'n outobiografiese verslag; ander beoordeel dit net as film.

Dit is as artefak aanskoulik vol slim verwysings en filmiese simbooltaal.

Gérard Oury se film La Grande Vadrouille is 'n belangrike kode: jy word tog altyd onverwags gehelp deur iemand ...

Sofia en die kinders gaan kyk na Marooned (John Sturges, 1969) – ’n film oor drie ruimtereisigers wat vasgevang is in die ruimte en uiteindelik versmoor – wanneer sy haar man en sy minnares gewaar.

Hierdie kyker vind die feministiese boodskap eweneens belangrik.

"Vroue is altyd alleen," bely Sofia.

Sy kry egter na haar man se versaking 'n nuwe werk: sy word 'n uitgewer van boeke ofskoon sy opgelei is as biochemikus.

Dat 'n manlike regisseur met soveel deernis na die lot van 'n gegoede middelklas vrou en iemand uit die werkerstand kon kyk, is besonders.

Daar is geen androsentriese blik hier nie. Dit is die sensitiewe blik van 'n manlike regisseur wat wys hoe vroue se lot deur mans bepaal word.

Wanneer Cleo geboorte skenk, hoor ons die gille van ander vroue in die hospitaal.
Om geboorte te skenk, is pynlik en selfs ontstellend. 

Die groter manlike gevegte en die natuur word geplaas teenoor die menslike dramas van geboorte skenk en versaking.

© Joan Hambidge

Wednesday, January 23, 2019

Resensie | Achmat Davids - Die Afrikaans van die Kaapse Moslems (2018)

Achmat Davids - Die Afrikaans van die Kaapse Moslems. Verwerk deur Hein Willemse. Vertaal deur Danie C. Botha. SBA, 2018.

Resensent: Joan Hambidge


Daar het die afgelope tyd geweldig baie studies oor die geskiedenis van Afrikaans verskyn: van Wannie Carstens en Edith Raidt tot wyle Christo van Rensburg se boeke oor die verband tussen die Khoekhoegowab-tale en Afrikaans in So kry ons Afrikaans. Terselfdertyd word bloemlesings gepubliseer met die vertaling van Afrikaanse gedigte in Engels.

Die posisie van Afrikaans word deur verskillende taalgroepe onder die loep geneem soos in Carstens en Michael le Cordeur (samestellers) se werk Ons kom van vêr. Dit is gesprekke oor bruinwees en Afrikaans. Daar is eweneens die insigryke Afrikaans ná Apartheid (red. VN Webb) wat in 1992 verskyn het. Die baanbrekerswerk van wyle Fritz Ponelis en al die woordeboekmakers is bekend.

Afrikaans, 'n taal gesalpeter in hierdie land (soos Breytenbach dit noem) en behorend aan vele sprekers, word op 'n opwindende wyse ook beskou in Achmat Davids se studie Die Afrikaans van Kaapse Moslems wat verwerk is deur Hein Willemse en Suleman Dangor. Arabies lok studente aan die Universiteit van Kaapstad.

Toenemend word die Afrika-invloed op Afrikaans ondersoek. Dit word uitgewys dat Asiatiese uitgewekenes en selfs die slawe in die Kaap hul eie tale kon praat en nie net die taal van die kolonis nie.

Die baanbrekerswerk van Adrianus van Selms wat in 1951 ontdek het Afrikaans is oorspronklik in Arabiese skrif geskryf (sogenaamde "Arabies-Afrikaans"). Hierdie stelling behoef egter verdere navorsing, soos Willemse aantoon (9). 

Hierdie boek kyk egter na die bydrae van Moslem-Afrikaans. Humor in die idiome is opvallend ("'n Boer maak 'n plan, maar 'n Slams hét 'n plan").  Aspris, brêggat, kastai (terg), kwai-lappie (mooi so), ougat, poenang-kies (oulik), laa-die-daa (vernaam). "Iemand is 'n poep op 'n lappie" en "Jy kan nie sy slamblie eet nie" (Jy kan hom nie vertrou nie) is enkele juwele! …0(40).

 Een van die belangrike kwessies wat aangespreek word, is of die Moslemsprekers aan die einde van die 19e en begin 20e eeu geskryf soos hulle gepraat het? Ook die kwessie van taalgeleerdes en skrywers om dit te transkribeer in die Romeinse geskrif wat ons gebruik. Achmat Davids se bevinding is dat mense geskryf het soos hulle gepraat het. Met wanopvattings helaas omdat die Arabiese skrif verkeerd gelees is (41).

Die invloed van skole waar die idees van Islam oorgedra is, kom aan bod, soos die gebruik van Mengelhollands.

Oor die ontstaansgeskiedenis van Afrikaans is daar vele debatte en dispute. Die gesprek was nog nooit so lewendig as nou nie. Aan die een kant sprekers wat voel die taal se hoër funksies word bedreig aan universiteite wat verengels; ander sprekers wat voel Afrikaans word juis vryer buite die magsbasis van beskutting en bevoorregting.

Hierdie uiters toeganklike én leersame boek is 'n moet vir elke liefhebber van Afrikaans. 'n Mens leer van tajwḯd (die klankwetenskap van die Arabiese alfabet), die skep van nuwe simbole om die gesproke Afrikaans via die Arabiese alfabet weer te gee. Die publikasie van die eerste Arabies-Afrikaanse boek: Hidayutool Islaam, oftewel Die Heilige Begeleiding deur Islaam.

Dis 'n leesplesier wat hierdie leser terugneem na I.D. du Plessis en Gabeba Baderoon se gedigte.

Hopelik verkoep hierdie resensie ghasegh!

Thursday, January 17, 2019

Resensie | Hans Pienaar - Die Generaal (2018)

Hans Pienaar - Die Generaal. Tafelberg, 2018. ISBN: 978 0624 085812

Resensent: Joan Hambidge

I

Hans Pienaar is 'n bekende joernalis en onderskatte digter. Die taal van voëls het in 2002 verskyn. In 1992 was hy die ontvanger van die Rapportprys vir Nie-Fiksie vir Die derde oorlog teen Mapoch, oor die staat se geheime veldtogte teen die Ndebele-stam. Die Trojaanse Perd: Onderhoude oor die noodtoestand in die Kaap 1985, saam met Hein Willemse, bly 'n belangwekkende teks. Dit het indertyd by Taurus verskyn.

Sy pas verskene roman Die Generaal is werklik 'n besondere toevoeging tot die grensliteratuur in Afrikaans waar skrywers soos Alexander Strachan ('n Wêreld sonder grense), Koos Prinsloo, Etienne van Heerden, o.a. beduidende werk gelewer het.

Die roman het einde verlede jaar op my tafel beland en dit was aanvanklik nie die soort leesstof waarvoor hierdie leser met 'n reeds donker jaareinde en etlike slopende gebeure in Suid-Afrika wou of kon aandag gee nie.

Wat 'n verrassing was hierdie roman nie toe ek dit begin lees!

Dit is geskryf met 'n vaardige hand: gedistansieerd, in beheer, emosioneel sonder om sentimenteel te wees én boeiend.

Die Grensoorlog is ons Viëtnam-oorlog. Dit is so dat daar etlike briljante films gemaak is,  deur onder meer Francis Ford Coppola en Stanley Kubrick, wat vanuit verskillende perspektiewe probeer om die impak van die oorlog op die psiges van jong Amerikaners te begryp. 

Hieroor het ek uitgebreid geskryf in 'n digterlike verslag na 'n reis in hierdie landskap (Woorde Wat Weeg/ Viëtnam – ‘n digterlike reisverslag. Besoek 17 Januarie 2019).

II

Die Oorlog het jong mense se lewens verwoes. Die sinneloosheid en futiliteit daarvan is al by herhaling uitgewys. Nou onlangs het Alexander Strachan ’n verslag oor die lewe van ’n  recce gepubliseer. Dit heet 1 Recce, die nag behoort aan ons en het ook by Tafelberg verskyn (1 Recce, die nag behoort aan ons/ ’n LitNet Akademies-resensie-essay | LitNetBesoek 17 Januarie 2019).

Dit sou inderdaad relevant wees om die verskillende kante van dieselfde munt te beskou: fiksie teenoor harde werklikheid met tekste wat albei by Tafelberg uitgewers verskyn het.

Pienaar bely dat aspekte van prosedures, regulasies en fasiliteite en operasies aangepas is ter wille van die verhaal. Maar terselfdertyd skryf hy dat dit op ware gebeure gegrond is. 

Daar is nog kodes dat die leser dit as fiksie moet benader. Die sub-titel lees: 'n roman.

Skrywers van romans bemark iets as 'n roman  en dis hoe ons dan hierdie teks moet benader. Dit vertel die verhaal van Johan, bloedjonk, kwalik negentien, wat gestuur word na die Zambesivallei om onreëlmatige praktyke rondom ontgroening te ondersoek. (Suspension of disbelief, natuurlik! Sou daardie butch mans hulle gesteur het aan enigiets grensoorskrydends?) Die konvensionele, godsdienstige Johan teenoor sy neef wat grense oorskry, lewer ook 'n belangrike opposisie; net soos hede teenoor verlede; reg teenoor verkeerd – met die skrywer wat as beleë mens met afstand na die gegewe kan kyk. Johan weet ook dis "ons storie" – sy verhaal is verweef met Ben s'n, omdat hy hom bewonder het. Sy neef was 'n klein god daar in die Militêre Akademie op Saldanha. Later Pretoria; die ou Rhodesië ...

Angola.

Predikant staan op die arme Johan se voorkop geskryf, pruil 'n tante...

Dit is die buitelyn van die verhaal. Maar onder draai die duiwels rond, want die leser word ingeslinger in die verteller se binnespraak. Ben, sy neef, wat 'n soort alter ego word, die seun van Die Generaal, rebels en gay. Deel I handel oor Ben en die ellendes van sy dood, terwyl Deel II sy ervarings met Annie weergee.

Dit is ’n boek oor inisiasie. Eers in die Weermag-wêreld en dan op 'n werklik liggaamlike ervaring.

Die verhaal wil ek nie verklap nie, want 'n mens lees dit met wydoopgesperde oë.

Dus 'n paar belangrike punte. Pienaar ontmasker maskuliniteite en hy wys op die weerloosheid van manne ágter uniforms.  

Trouens, in hierdie binnespraak word die leser bewus van rolle wat aan mans toegeken word en waaraan hulle nie kan ontkom nie.

Daar is slim intertekste: musiek van die tyd ("Pretty Belinda", die Moody Blues, die Beatles, Bob Dylan, o.a.), Sad Sack, Sartre, Wittgenstein se taalfilosofie (ons leef in borrels, 245), André P. Brink se Miskien nooit, om enkeles uit te wys.

Die verteller hoor verkeerdelik "Knights in white satin" in plaas van "Nights in white satin", want hy is immers 'n inconnu en die taalspel wys op die spanning in sy gemoed: die harde weermag teenoor die soeke na liefde en koestering.

Daar is oomblikke in hierdie roman wat 'n mens nooit sal vergeet nie. Die verwildering in die oë van 'n vrou in die oerwoud in Chirundu.

Annie wat lyfstraf moes verduur van haar vader.

Dit is 'n tydsdokument. 'n Herinneringsroman. Miskien ook 'n afrekeningsroman?

Op 'n plek praat hy van 'n selfdebat – kenmerkend van die belydenisroman.

III

Philippe Lejeune se bekende artikel "The autobiographical contract" (opgeneem in Tzvetan Todorov se French Literary Theory Today - A Reader (Cambridge University Press, 1982) wys op die kompleksiteite róndom 'n roman wat speel met die kodes van die outobiografie.

Lejeune verwys tereg na die "ambiguous intermediate region" van 'n teks waar die skrywer nie dieselfde naam as die verteller het nie, maar waar die leser dink (vermoed en die kwytskelding dit suggereer) die teks is op 'n werklike ervaring gebaseer. Die littérature intime kan eweneens gebaseer wees op verskillende vorme: briewe, dagboeke, memoirs (204 - 206).

Hier kan 'n mens byvoeg: die werklike belewenisse word gefiksionaliseer. Dit word bemark as 'n roman en dis hoe ons dit moet benader.

En waarom hoor die verteller "Knights in white satin"? En waarom is die rol van Wittgenstein so belangrik? En verraad? En wat is die rol van die generaal se vrou?

En die slot sluit weer aan by die begin.  Dis 'n boek oor grense, letterlik en figuurlik.

Hans Pienaar se ervaring as joernalis het hom waarskynlik geweldig gehelp met die skryf van hierdie roman.

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Fine Music Radio

Sunday, January 13, 2019

Filmrubriek | The Square (2017)

I

Ruben Östlund se film The Square(2017)is ‘n film wat die kyker tref: in die maag en tussen die oë. Dit is ‘n hooggestemde film wat oënskynlik oor die kunswêreld handel. Hierdie kyker was onder die indruk sy is skokbestand. Toe nie. Dit begin met Christian (Claes Bang) kurator en bestuurder van die museum wat beroof word deur sakkerollers. 

Dit lyk na ‘n vrou wat hulp behoef met iemand wat haar gaan aanrand, maar uiteindelik word Christian mislei. En sakkerollers, emosioneel en intellektueel, is waaroor hierdie film handel – met Dominic Westin pakke wat lyk soos pyjamas?

Sleuteloomblikke belig Christian se uitgelewerdheid:

·       Christian plaas briewe in woonstelle se posbusse om die vermeende dief vas te trek en ons sien hoe hy trappe op en af klim;
·       ‘n pakkie keer terug met die gesteelde goedere nadat ‘n google-soektog die adres oplewer;
·       ‘n jong ontstoke kind konfronteer Christian in sy woonstel omdat hy van diefstal beskuldig word en Christian soek in die reën tussen vullissakke na sy selfoonnommer;
·       hierdie kind in ‘n vrugtelose soektog, verdwyn egter adresloos;
·       daar is ‘n YouTube-video van ‘n jong kind wat opgeblaas word as sosiale kommentaar op haweloses;
·       ‘n man met Tourette-sindroom maak ontoepaslike opmerkings, terwyl ‘n gehoorlid sy regte beskerm as iemand wat “abnormaal” is, maar mag aanspraak maak op regte;
·       ‘n one night stand met ‘n joernalis (Elizabeth Moss) wat sy semen probeer kaap in ‘n kondoom omdat sy waarskynlik haarself wil bevrug en later aandring op ‘n regte verhouding;
·       ‘n kunsaand met ’n kunstenaar as ‘n aanvallende aap (Terry Notary in ‘n angswekkende vertolking) wat werklik mense aanval, is nog ‘n tema. Dit word voorafgegaan met die joernalis wat aap as huisdier het.

Dit is ‘n satiriese rolprent wat ‘n mens deur al die ellendes van ons tyd neem. Die kunswêreld as ‘n plek (hierom die titel!) waar enige snert as “kuns” verkoop kan word, en die moderne mens se weerloosheid in die aangesig van intellektuele terreur en #metoo-bewegings waar nuanses verlore gaan.

Christian stuur ‘n YouTube-apologie aan die kind wat hy te na gekom het (en wat verdwyn het) en selfs die bedelaars in hierdie film het regte. In ‘n skokkende oomblik in ‘n winkelsentrum verloor Christian sy kinders en ’n biddende Moeslem-man pas sy pakkies op...

II

En die titel?

The Squareis ‘n “kunswerk” van  Lola Arias wat soos volg tipeer word:  “The Square is a sanctuary of trust and caring. Within it we all share equal rights and obligations.” En daardie YouTube-video rondom die bemarking van die kunswerk lei weer tot die media wat vrae stel – en niks wat Christian doen, kan red wat daar te redde is nie. Uiteindelik word hy beskuldig van self-sensuur wanneer hy bedank. (Hier wil die resensent nie te veel verklap nie.)

Dalk ook ‘n toespeling op ‘n “square peg in a round hole” (vir iemand wat nie inpas nie).

Die markplein is immers die sentrum van ‘n stad waar mense ontmoet. En YouTube is die moderne markplein wat in ‘n ommesientjie tot 300 000 kykers kan bereik.

Humor is daar – soos dit in satire betaam. Grond-installasiekuns word per ongeluk deur skoonmakers opgevee. En Christian wat moet opmop – gelukkig is daar foto’s om alles na die “oorspronklike” vorm te herstel.

Dit is verfilm in Gothenburg, Stockholm en Berlyn. 157 minute van intellektuele en emosionele houe wat die regisseur uitdeel, verpak met puik spel van briljante akteurs.

Dit is ‘n film waarop Ingmar Bergman sou trots wees.

Dit is bekroon met die Goue Palm in 2017.

Absurd, snaaks, ontstellend en ‘n analise van die onrustige tyd waarin ons leef.

© Joan Hambidge 


Thursday, January 10, 2019

Filmrubriek | Obiter dictum

I

– met ‘n omweg kan bysake die aandag trek
op hoofsake –

T.T. Cloete

Gentlemen Prefer Blondes is die 1953 musical van Howard Hawks met Marilyn Monroe en Jane Russell. In die onvergeetlike Diamonds are a girl’s best friend is die beeldskone Lorelei (MM) aan die dans en sing. Sy verduidelik waarom ‘n vrou eerder ‘n man met geld moet najaag as ‘n arm man.

Maar dit is met die herbesoek van All about Eve die film uit die vyftigerjare wat ‘n duidelike interteks is in Almodóvar se All About my Mother wat iets verrassends gebeur.

Daar is ‘n klein kamee-vertolking van die einste Monroe met die ongelooflike Bette Davis (as Margo Channing) en Anne Baxter (as Eve Harrington, die understudy). Daar is al geweldig baie geskryf oor hoe die een vrou die ander se lewe oorneem met vleitaal en probeer ontglip aan ‘n lewe van leuens. Dit bly ‘n boeiende film van Joseph L. Mankiewiczen ek ken min films waarin die spel tussen fiksie en werklikheid van die teaterlewe so uitstekend weergegee word. Dit is gebaseer op The Wisdom of Eve deur Mary Orr (All About Eve - Wikipedia. Besoek 8 Januarie 2019).

In sy beroemde gedig oor Monroe (“Marilyn Monroe foto in blou”) skryf T.T. Cloete:

 vir die nakende detail in die bygesprek
– met ‘n omweg kan bysake die aandag trek
op hoofsake –

En dis juis hierdie bysaak, hierdie obiter dictum of tersyde wat ‘n mens boei. Marilyn Monroe is in hierdie film ‘n bysaak.

Die tegniek is gewoon oorredend en nie bindend nie.

Vanuit ‘n agterna-perspektief kyk ons wel anders na hierdie klein rol (Marilyn Monroe scenes in All about Eve (1950) HD - YouTube. Besoek 8 Januarie 2018).

II

Gentlemen prefer blondes kan ‘n mens uiteraard nie onskuldig benader nie. Wanneer Lorelei opmerk dat die ergste vorm van eensaamheid daardie gevoel is wat ‘n mens tussen ‘n skare ervaar, is die tersyde ‘n opmerking oor Monroe se lewenslot wat later beklink sou word.

Of as sy en die ryk magnaat, sir Francis “Piggy” Beekman (Charles Coburn) gesels oor Suid-Afrika as ‘n gevaarlike plek, is dit in 2019 inderdaad so.

Op die skip is daar vele intriges en ‘n Olimpiese swemspan wat veral Dorothy se aandag trek. Hier is ook ‘n privaatspeurder, aangestel deur Lolerei se verloofde se pa wat die verhouding met Lolerei in die wiele wil ry.

Na die skeepsreis land Lolerei en Dorothy in Parys. Helaas is die kredietbrief gekanselleer deur die verloofde se vader en die twee is sonder heenkome. Na ‘n dag se inkopies, is hulle ook sonder geld. (Die verhaal is nogal kompleks: dubbelspel, dubbel-troues, diefstal van ‘n tiara, ‘n hofsaak waar Dorothy speel asof sy Lolerei, is van die binariteite wat aangestip kan word.)

En terwyl hulle net geld vir een koppie koffie het, is daar twee Marokkaanse kinders met fezze wat saamsing “When love goes wrong nothing goes right”.

Marilyn Monroe

When love goes wrong
Nothing goes right
This one thing I know
When love goes wrong
A man takes flight
And women get uppity-oh

The sun don't beam
The moon don't shine
The tide don't ebb and flow
A clock won't strike
A match won't light
When love goes wrong
Nothing goes right

The blues all gather round you
And day is dark as night
A man ain't fit to live with
And a woman's sorry sight

When love goes wrong
Nothing goes right
When love goes wrong
Nothing goes right
When love goes wrong
Nothing goes, nothing goes rjght
A woman's a fright, a terrible sight
A man goes out, gets high as a kite
Love is something you just can't fight
You can't fight it, honey
You can't fight it
When love goes wrong, nothin'
No bows, honey, just cigat bars and off
Nothing goes right
Crazy, Crazy oui, oui

Lt's like we said
You're better off dead
When love has lost its glow
So take this down in black and white
When love goes wrong nothing goes right
When love goes wrong nothing goes right
Nothing goes right

Take this town in black and white. Die een kind het ‘n rooi fez, die ander een ‘n swarte - ‘n verdere opposisie wat uitgespeel word.

Hier ervaar die kyker van vandag ‘n tersyde kommentaar op Parys waar vreemdelinge uit veral die ou Franse kolonies woon.

Ironies genoeg vind ‘n mens niks oor hierdie jong akteurs nie. Net oor die jong wit akteurtjie George Karl Wentzlaff, wat Lolerei bewonder.

Hy komplimenteer haar “animal magnetism”.

© Joan Hambidge

Friday, January 4, 2019

Resensie | Peet van Aardt – Vier en Veertig, Agtien (2018)

Peet van Aardt – Vier en Veertig, Agtien. Naledi, 2018. ISBN 978 1 9284 263 9 4

Resensent: Joan Hambidge

Hierdie roman draai die titel van Etienne Leroux se 18-44 op sy kop. So kort op die hakke van Ingrid Winterbach se uitstekende In die troebel tyd (Human & Rousseau) volg hierdie debuutroman, aangeprys deur Jaap Steyn, Thys Human en Willie Burger, gerekende literatore. Uit navrae blyk dit hierdie kommentare uit eksamenverslae kom.

Daar is ‘n verwysing in die roman na wyle Sue Robinson, ‘n vriendin van hierdie leser, wat op haar beurt in persoonlike gesprekke ‘n ander siening gegee het op die verhoudingslewe van Leroux. Robinson was inderdaad betrokke by Leroux.

Wat noem ‘n mens hierdie roman? Post-postmodernisme? Metamodernisme? Kladboek-kis-me?

Leroux en Winterbach se briefwisseling (reeds bespreek in Kannemeyer se biografie) word nou gekaap deur Van Aardt. 

‘n Joernalis, Philip Snyman probeer sy loopbaan red na die dood van sy vriendin. Stres en ‘n emosionele ineenstorting word beskryf.

Die raam van “werklikheid” versus fiksie binne Vier en veertig, Agtien. En fiksie gebaseer op fiksie: die parasiet-gasheer-verhouding soos J. Hillis Miller dit noem.

Saul Bellow het in sy grootse roman, Humboldt’s Gift (1975), die lewe van die digter Delmore Schwartz ontgin. Von Humboldt Fleisher en Charlie Citrine wat losweg Schwartz en Bellow is (Humboldt's Gift – Wikipedia. Besoek 22 Oktober 2018).

Wanneer ‘n mens hierdie roman begin lees wat ‘n soort spieëlteks wil wees van Leroux/Winterbach, is die studentikose en soms platvloerse aanslag só oorweldigend dat dit die leesproses steur. Met die toon van hierdie roman het hierdie leser bepaald probleme. 

Die kritiek is dus nie op die proses nie; dis eerder die aanslag van die roman: so ‘n haai en daai-allure. Uitsprake soos “U, meneer kom kak hoor” (92), verwysings na ‘n seun se liggaamlike reaksie wanneer hy porno kyk (83). Ook die ontoepaslike opmerkings oor vroue se rolle, laat ‘n mens sidder (95).

Die spel met die numerologie en die wetenswaardighede oor die ontstaan van die belangrike roman van Leroux (inderdaad een van my gunstelinge) word bederf hier met Van Aardt wat kennelik nie die komplekse implikasies van Jungiaanse projeksies begryp nie. Die spel met verskuilde of geheimsinnige boodskappe is weliswaar interessant, maar die voosgetrapte ou storietjies en skinderlistige kantlyn-kommentaar is nóg ‘n rede waarom die roman nie groot kan wees nie. Hier is ons terug by Bellow wat uit die komplekse geskiedenis (en verhale) oor Delmore Schwartz ‘n roman kon komponeer wat die asem wegslaan.

‘n Mens kan nie help om te wonder wát Leroux hiervan sou maak nie. Volgens ‘n onderhoud met Van Aardt het Winterbach wyslik nie kommentaar gelewer op die manuskrip nie.

Daar is kennelik baie navorsing gedoen, maar om so te “misdoen in die skoene van die grotes” laat ‘n onbehaaglike gevoel. Die voorblad vertel dit alles. ‘n Lens wat uit ‘n bril gebreek het...

Boonop word spieël heel simbolies op bladsy 59 verkeerd gespel.

Van knolskrywer tot prulskrywer, kort en kragtig. Dis nie lekker om ‘n werk wat soveel navorsing geverg het, te sien misluk nie. 

Louise Viljoen wys ook in haar resensie dat die roman enigsins platval (‘44-18’ kort ‘18-44’ se vonk | Netwerk24. Besoek 4 Januarie 2019).

Ek het weer vir die soveelste keer 18-44 gelees. Wat ‘n verbluffende roman bly dit nie. ‘n Kultusroman en ‘n psigoanalitiese verslag van die liefde en skrywerskap.