Bladsye / Pages

Wednesday, April 17, 2013

Loftus Marais - Staan in die algemeen nader aan vensters (2009)



Loftus Marais. Staan in die algemeen nader aan vensters. Tafelberg Uitgewers, 2009. ISBN 978 624 04725 4.

Resensent: Joan Hambidge

Met hierdie debuut voel die leser dat jy bekend gestel word aan ’n jong digter wat sowel tegnies vaardig as tematies dwingend is. Dit is ’n seker stem. Dit is ’n jong persoon wat sonder skroom sy standpunt maak: teen die werklike vader, die familie, die genealogie van digters soos Harold Bloom dit beskryf in The anxiety of influence. Seksualiteit, “sonde” en veral ontluistering kom aan bod.

Die spreker reken af met ’n tradisie, maar hy bestendig dit terselfdertyd. Staan in die algemeen nader aan vensters stel jou voor aan iemand wat teen Van Wyk Louw se beiteltjie indig:” ek het ’n fokken lugdrukboor” (Die digter as rockstar, 40) en Opperman se “bottelskippie” word verwoes in ’n "Pleidooi vir vinniger kuns" (41).

Marais is dus een van die nuwe stemme wat werklik nuut is, wat die gevormde kuns ontvorm en uitmekaar ruk.

Agter die woedende opstand is daar weerloosheid. In die hartgrypende gedig oor die vader, val die kind, maar die vader beveel dat hy nie mag huil nie. ’n Sentrale gedig, wat die machismo van manwees aan die kaak stel en uitwaaier na ander gedigte. Hy ervaar die vuil hande van ’n vader as oorlogsverf op sy gesig. Hierdie bewapening of voorskrif gebruik hy teen die vader. Hy loer voyeuristies na ooms, ontmasker manlikheid en in ’n gedig oor die wederkoms is daar ’n catsuit wat fire-resistant is langs die vanity case!

Die sterk-manlike verse van Johann de Lange speel in die agtergrond, maar hier het ons die stem van die sagter man.

Hy weet ook dat poësie ’n perversie is (Op soek, 42) en heel dikwels word die leser holderstebolder aangespreek of sommer aan die keel gegryp.

Hy tipeer homself as die Ander: as draadtrekker, dief, voyeur, loerhoer, ontluisteraar, koppesneller. (Hy was immers die man wat Melanie Grobler van plagiaat aangekla het en die hele kanon dwarsklappe gegee het in die destydse Insig. In ’n latere onderhoud wel erken hy was dalk te gung ho.)

Die leser se gemoedstoestand by die lees van hierdie verse is een van bewondering vir die onopgesmuktheid, die indig tot die essensie, die afskil van (voor)oordele. Deurgaans bly jy tog bewus van weerloosheid onder die voorgee soos verwoord in Op soek (42). Die digter stap oor ’n mangat en onder draai die duiwels rond . . . Dit is ’n belangrike metafoor vir die werksaamhede in die bundel. (Die begrippe metafisika en onbewuste word in gedagte gebruik.)

Die filosofiese titel dui al op ’n skerp bewussyn met die “dinge”, soos dit in die fenomenologie heet. Die tuindwerg gee sy waarneming of blik op mense. Die meeste gedigte gee ’n vreemde blik op die gewone dinge: Sklovsky se ostranenie of die vervreemding van die digterlike aanslag kom ter sprake. Alles staan in die teken van die aweregse, die nuwe aanslag.

Die digter weet wat agter verse skuilhou in ’n gesprek met die broer: Die onsigbare word hier dikwels vir ons sigbaar gemaak.

Daar is stryd met die kanon, met stellingname, met wegskryf van die mooie en die “skone”. Daar word gekyk na uitskot en graffiti. En die liefde word gedekonstrueer in ’n aangrypende aubade.

In “Platteland-fantasie” (26) word die digkuns weggeklap en eerder na die sterre soos Braille gekyk. Die plattelandse landskap word ontluister en boertig beskryf. In ’n kroeg word ’n ou gay se sinisme sekuur beskryf.

’n Klein kragtoer is die gedig Siel (39):

hoekom dink almal die siel is inwendig?
verborge soos jou beendere, maar kleiner
soos ’n klier of juweel
of ’n teug helder lug vir ewig ingehou…
vir my’s dit eerder ’n soort peignoir
vloeibaar, satyn en stralend
gedra wanneer ek hare kam
my fopdos-kleed, my gewyde kamerjas
waarin ek vroom rondstap
soos ’n jong gloria swanson….

’n Bloekomboom staan in ’n gelyknamige gedig soos Scarlett O’Hara!

’n Windpomp is ready-made Duchamp!

Dit is ’n leeservaring van opwinding. Terselfdertyd is dit goed wanneer ’n mens ’n nuwe digter ontdek wat werklik iets om die digterlike lyf het. Wees gewaarsku: Die gedigte in die bundel is gevaarlik. Dis soos pakkies dinamiet en al is sy gedigte nie polities-betrokke nie, is dit verse met ’n “edge”.

Inderdaad breek hy sy gedigte oor ons koppe soos ’n “rockstar” dit doen (Die digter as rockstar, 40).

’n Uitstekende balans tussen tegniese vaardigheid en iets om te sê, word hier aangetref.

Ons word gewaarsku dat feite verdraai en opgemaak is. ’n Gedig is immers nie ’n getuigskrif nie; ’n goeie gedig praat vir sigself. En in die spel met gevaar, die gedrewe soektog na inspirasie (soos beskryf in “Lightning safety tips – what you should know”, 63) word gekoppel aan pyn, verlatenheid, straf . . .

Hierdie bundel het my teruggeneem na Bloom se The breaking of the vessels en die slot van Freud se Interpretasie van drome waar die droom werklikheid word.

In die droom wat Freud beskryf, ervaar die vader verlies aan die kind; hier word die gegewe omgedraai en ervaar die kind angs oor die dood van die vader. In die onbewuste ervaar hy waarskynlik ook skuld / aandadigheid en hierom dat hy bestraffing soek.

Dis ’n besonder goed afgeronde bundel.

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Volksblad geplaas.]