Bladsye / Pages

Saturday, April 27, 2013

Met ’n mond vol films: Pedro Almodóvar

Pedro & Agustin Almodovar, Cannes


’n Mens praat nie met ’n mond vol kos nie. En jy praat ook nie met vreemdelinge in ’n restaurant by die tafel neffens jou nie. Hoe kan ek my nie vererg wanneer ’n mens iets bespreek en ongevraagde kommentaar word langs jou opgeskep nie.

Jy praat net in ’n noodgeval.

So sit ek en drie vriende in die Oseaniese Cornucopia en twee gaste, met ’n gids, stap in. Dis ’n Saterdagmiddag. Hulle praat Spaans met mekaar. My vriend, ’n sjef, leun oor na hulle en waarsku: “Moenie die vis van die dag eet nie. Dit is smaakloos.”

Ek hou hulle dop uit die hoek van my oog. Twee elegante Spanjaarde met ’n private gids. Ons kwetter voort aan ons tafel. Eet kalamari en tjips en drink lekker rooiwyn. Kwinkeleer en gesels oor die jongste films.

Ek hoor die Spanjaarde is op pad Wildtuin toe – hopelik met regte wildsvleis.

Die twee vreemdelinge staan op van hul tafel. Die man het ’n safari-baadjie aan met ’n pen in sy linkerste bo-sak. Hy bedank ons vir ons raad.

“En vanwaar is u?” vra ek, die nuuskierige agie.

“Barcelona.” En voor ek myself kan keer, begin ek hom vertel hoeveel ek hou van die films van Pedro Almodóvar. En hoe ek die eerste keer Tie me up! Tie me down! doer uit 1990 in New York gesien het in ’n matinee-vertoning voordat die filmmaker beroemd was en hoe ek en ’n ryk New Yorkse vrou agterna gillend oor die waansinnige humor gelag het in die gangetjie na buite.

Talk to her, Pedro Almodóvar

Hy seg ja. Hy ken dit. En hoe hierdie filmmaker in Talk to her van 2002 verkragting
problematiseer en dat ’n mens eenvoudig waardering moet hê vir sy vernuftige aanslag: Is dit wérklik verkragting?  Of het hierdie geobsedeerde man in liefde haar tot lewe gewek? Jy kry eweneens ’n blik in die psige van ’n geobsedeerde en die gebruik van ’n swart-enwit-filmpie maak alles meer kompleks.

Met Women on the verge of a nervous breakdown uit 1988 het hy sy internasionale deurbraak gemaak.

Toe hy ’n X-rating ontvang in die VSA vir hierdie film was Almodóvar woedend oor die feit dat mense kon dink sy films is pornografies. En ek dink ook dit was ’n dom uitspraak.

Kika, Pedro Almodóvar

In Kika van 1993 lewer hy felle sosiale kommentaar en op die mag van die massa-medium, veral TV. Trouens, in een van sy rolprente is al sy vrouekarakters aanwesig, verduidelik ek. En dit is verfilm by sy huis met Victoria Abril, sy gunsteling, ook daar. En Carmen Maura, die eerste groot ster in sy rolprente wat hy later verruil het vir Abril.

All about my mother, Pedro Almodóvar

Nee wag, dalk is die hoogtepunt All about my mother, daardie aangrypende rolprent oor ’n vrou wie se seun sterf in ’n ongeluk op die aand van sy verjaarsdag. Sy geskenk is ’n toneelopvoering van A streetcar named desire in Madrid. Etseban, die seun, wil ’n skrywer word en sterf wanneer ’n motor hom tref wanneer hy die beroemde aktrise se handtekening wil hê. Sy moeder, ’n verpleegster, werk in ’n hospitaal vir orgaanoorplanting. Ná die kind se dood, soek sy na Lola, die seun se vader, vertel ek vir my vriende . . .

Almodóvar het immers Banderas en Penelope Cruz ontdek! En kan melodrama en klug vermeng op ’n besonderse wyse. Net soos Tennessee Williams, verstáán hy eensaamheid en mense wat buite die “normale orde” leef ten volle. En beide kan briljante dialoog skep.

Dwelms, transseksuele, orgaanoorplanting, geloof – die hele boksemdaais vind ons hier.

Hierom sy swart humor in die Patty Diphusa-send ups.

Die Spanjaard se vrou glimlag. Sy is ’n statige vrou met ’n bril.

“Dink u ook Rossy de Palma is ’n gil?” Dis sy wat tog opmerk mans het nie kopiereg op snorre nie.

En vertelle hom hoe hierdie Spanjaard sy familie inspan om as karakters in sy rolprente op te tree en hoe hy ’’n werklike toneel gebruik het by sy huis – waar hy al sy vrouekarakters versamel het – en dit in ’n film plaas.

Ek sien die man lag skelm.

“Hy is my broer. En ek is sy vervaardiger.”

Hy teken sy naam in my dagboekie – “Many kisses, Agustin Almodóvar”.

En agterna het ek die voorreg om hom te herken in The skin I live in.

En hoe bly is ek dat ek nie met ’n mond vol kos nie, maar met ’n mond vol films gepraat het.

Todo sobre mi madre . . .

Wens ek kon in een van Pedro se films speel.

Skakel:
Pedro Almodóvar/ 'It's my gayest film ever' | Film | The Observer


[Hierdie rubriek word met vriendelike vergunning van BY, Die Burger geplaas.]

Sunday, April 21, 2013

Camera Lucida

  


Camera Lucida © 2013 LUCID-Art

Yet because the whole truth can never be known—at least, this is what psychoanalysis along with other disciplines has taught us—inserting a bit of autobiography into a narrative guarantees a grounding in reality.

Julia Kristeva


Scenes from our forthcoming attractions

In hierdie studie word die invloed van films op ons lewe ondersoek. Dit is bekend dat vele groot filmmakers (soos Fassbinder) in filmhuise hulle jeug verslyt het ten einde ‘n moeilike bestaan te oorbrug. Filmkritici (soos Barry Ronge) bely dieselfde. Hierdie kyker wil in hierdie studie fokus op etlike persoonlike gunstelinge en die verhaal van die filmkuns en die teorie daaromheen vertel. Vir ‘n jaar lank het ek ‘n filmrubriek in BY behartig en my belangstelling in films gaan ook terug tot in my jeug. Nie alleen bekyk ek films meer as een keer nie, maar die teorie róndom films is fassinerend. Die werk van Slajov Žižek (veral The perverts guide to the cinema, 2006) gee ‘n belangrike blik op die vorming van die persoonlikheid weens die bestaan van films. Ons leer om lief te hê of te haat op ‘n bepaalde wyse, ómdat ons films gesien het wat dit vir ons vertolk. Die studie fokus op filmmakers, persoonlike gunstelinge en dan die teoretiese besinning in die vorm van ‘n verhaal oor films.

−  ∞  −

In reeks word sekere tegnieke aangewend om die verhaal te dryf. Die sogenaamde “cliff hanger” is die belangrikste. In The killing (eerste reeks) word die moordenaar vasgetrek en die speurder is op ‘n vliegtuig wanneer sy ‘n sms ontvang dat die verkeerde verdagte in hegtenis geneem is. In die Wallander-reeks word die element van vraisemblance sterk uitgebou. Dit speel in op die werklikheidsdimensie van die Sweedse leefwêreld en die kyker se vooropgstelde idees van hoe die gemeenskap funksioneer. Die liberale, vrydenkende gemeenskap word egter telkens gedekonstrueer deur onder andere plaasmoorde, xenophobia en roekelose optredes van opportuniste. Die speurder, vertolk deur Kenneth Branagh, se emosionaliteit word ook beklemtoon. In hierdie aangrypende reeks word daar sterk gebruik gemaak van liminalteit soos Van Gennep dit definieer in The rites of passage (1960): die oorgang van lewe na dood, orde tot chaos is die dryfvere vir hierdie reeks.

Suspension of disbelief
Montage
Vraisemblance
Liminaliteit
Cliff-hanger
Subteks


Teoretiese besinning:

Tania Modleski. The women who knew too much – Hitchcock and feminist theory. Methuen, 1988.

Matchpoint, 2005

Woody Allen se film Matchpoint ondersoek die verhouding tussen ‘n jong tennisafrigter se binnetrede tot die Britse adelstand. Chris, die arm Ier, word gepromoveer van tennisafrigter tot werknemer van sy ryk skoonvader se besigheid. Hy trou met die rykmansdogter en word deel van die gesin ná sy vriendskap met Tom. Hý op sy beurt is weer verloof aan Nola (Scarlett Johanson) en sy betrokkenheid by haar bedreig sy posisie binne hierdie familie. Wanneer hy verneem dat sy swanger is, vermoor hy haar koelbloedig.

Die film ondersoek die rol van toeval in ‘n mens se lewe en begin met die “voice over” (wat ‘n agterna-perspektief impliseer).

Geluk bely, die verteller speel ‘n sterker rol in ‘n mens se lewe as wat die meeste van ons besef. Die metafoor van ‘n bal wat op die net geslaan word kan na enige kant toe oorbeweeg. Die ring van die vermoorde ou vrou – wat hy uit die weg moet ruim sodat dit na diefstal moet lyk – gooi hy weg nadat hy sy minnares vermoor het. Dit bons egter terug, word opgetel deur ‘n dief wat in dieselfde omgewing inbreek sodat die moordenaar, Chris ‘n alibi het. Die speurder het egter ‘n sterk vermoede dat Chris die moordenaar is wat alles haarfyn beplan het, omdat Nola se dagboeke (waarvan hy onbewus is) hulle verhouding in fynste besonderhede weergee. Die twee speurders vra hom uit na sy verhouding met Nola en eers nadat Chris nie die volle waarheid vertel het nie, word hy ingelig dat Nola ‘n inkriminerende dagboek gehou het.

Wanneer die twee vermoordes een nag aan Chris verskyn en hom konfronteer oor hul toestand, aktiveer Allen die Griekse tragedie en die deus ex machina-beginsel. Chris betrek Sofokles se bekende stelling dat dit beter is om nooit gebore te gewees het nie en dat die onskuldiges doodgemaak moet word (“slain”) om die groter plan te laat voltrek.

Chris word afgeneem voor ‘n skildery van ‘n man in sy vrou, Chloe se galery: die een man is ingekleur, die een langs hom leeg. Dit is die oomblik wanneer die oorgang gemaak word om die dubbelbestaan te beeïndig. ‘n Vakansie na Griekeland (eintlik Sardinië) word beplan, maar afgestel. Hy vertel egter vir Nola dat dit Griekeland is wat die dimensie van die Griekse tragedie, naamlik hubris (selfoorskatting) en hamartia (karakterfout) sterker belig met die deurlopende refrein in die film dat soveel in die lewe gebaseer is op geluk. Wanneer hy Nola vermoor het, gaan hy saam met sy vrou na ‘n “musical”, ‘n verdere oorgang in die film: daar is telkens besoeke aan opera met Enrico Caruso se vertolkings. Chris lees aan die begin van die film Dostojefswki se Skuld en Boetedoening wat die film verder laai met die idee geregtigheid. Nola bely aan hom dat sy niemand het met wie sy kan praat oor die verhouding nie; dit is wel so dat sy met die vrou wat saam met haar in ‘n boetiek werk vertel het van Chris en ‘n dagboek hou waarin sy die verhouding opteken. Dit inkrimineer Chris by die polisie, hoewel die ring wat gevind word, sy alibi word vir sy onskuld.

‘n Verdere ironie is dat wanneer Chris sy tennissak in die kombuis neersit, val daar ‘n koeël uit. Hy vertel vir sy vrou dat sy pille is en net voor hy Nola se buurvrou vermoor, drink sy pille. Die film eindig met die ironiese woorde:”Your husband looks shell shock” wanneer die geboorte van die baba gevier word.

Een van die belangrikste stylmiddele wat Allen aanwend in hierdie film, is die gebruik van opera-tekste om die verhaal-gegewe te vertel en te laai.
Chris se bekentenis dat hy van opera hou, lei tot sy binnetrede in die ryk familie. Hy en Tom, sy tennismaat, deel ‘n liefde vir opera en die eerste geskenk aan Chloe, sy Tom se suster, is ‘n CD met operas. “Una furtiva lagrima” uit L’elisir d’amore word deur Caruso vertolk tydens die opening van die film, terwyl Rossini se “Guglielmo Tell” uit die Arresta en Verdi se Otello, en meer spesifiek die moordtoneel. Al sou die kyker nie hierdie operas ken nie, is die dramatiese musiek so sterk dat dit onbewustelik die onderliggende tragedie vir die kyker versterk. Daar is verder uittreksels uit Verdi (Macbeth, La Traviata, Il Trovatore, Rigoletto) en uit Donizetti se L’elisir d’amore. Bizet se Les pêcheurs de perles en Antônio Carlos Gomes se Salvatore Rose.

Die film lewer skerp kommentaar op die klasseverskille binne die Britse gemeenskap. Die ryk adelstand se verhouding met die werkersklas word in hierdie film uitgebeeld. Tom se moeder sien neer op Nola, ‘n Amerikaanse meisie en sukkelende aktrise. Die moeder het ‘n ander vrou vir haar seun in gedagte en na ‘n woordewisseling tussen die moeder en Nola, vlug sy uit en Chris volg haar waar hulle buite seksuele omgang het. Beide Chris en Nola is buitestaanders wie se lewens dramaties verander word deur hul kontak met die Hewett’s. Chris, ‘n arm Ier, trou met Chloe en word ‘n posisie aangebied binne sy vader se maatskappy. Die film insinueer dus dat beide Nola en Chris as nie-adelstand buite die reëls wat alles in stand hou, mekaar klandestien ontmoet. As hulle dus nie die reëls oortree het nie, was daar geen tragedie nie. Beide Chris en Nola is aspirerende en ambisieuse figure. Hulle eerste ontmoeting vind plaas wanneer Nola Chris uitdaag tydens ‘n tafeltenniswedstryd en hy haar oorwin. Sy is onmiddellik bewus van sy aggressiewe styl. Hy verklaar dit dat hy van nature kompeterend is.

Die film is ‘n moderne speurverhaal. Die kyker egter is van meet af aan bewus van wie die moord gepleeg het, terwyl die karakters onbewus is van Chris se aandadigheid. Die kyker is egter subliminaal bewus daarvan dat Chris nie gevang is nie, omdat die “voice over” – die geluk van tema – daarop dui dat hy “gelukkig” was. Die einde van die film – met die familie wat sy pasgebore seun ontmoet – is ironies gelaai met die woorde van Tom, sy oom, wat die kind geluk, eerder as goeie gesondheid toewens. Die kyker wonder egter in haar gemoed hoe Chris verder in sy lewe hierdie insident sal verwerk.


Flikkertyd

Daar word vertel dat die bekende kritikus Susan Sontag elke dag gaan fliek het. Daar is min essayiste wat deur die jare so insigryk geskryf het oor die funksie van films.
Trouens, naas Pauline Kael en Richard Corliss, is daar min film-lesers wat so oorrompelend skryf oor films as Sontag. Sy het die dikwels eerder die langer essay geskryf, as die korter, joernalistieke teks.

Die kyk van films is vir my ‘n passie. Veral die herbesoek van klassieke rolprente en die bekoring wat ‘n Fellini of Visconti inhou, mag nie onderskat word. Dit gaan uiteraard om my persoonlike smaak geskryf word. Ek hou van die films van Ingmar Bergman, Roman Polanski, Alfred Hitchcock, Francis Ford Coppola, Woody Allen, en vele ander outeur-filmmakers.

Dit gaan nie ‘n chronologiese bespreking van films wees nie, maar eerder soos “herinnering se wei” my vat.

Wat maak dan van ‘n film ‘n klassiek?, sou ‘n mens kon vra.

En waarom word sekere mindere, selfs middelmatige films deesdae opgehemel asof dit die firmamente verskuif, terwyl die filmkenner of afficionado nie deel vorm van die juigkommando nie.

‘n Klassieke rolprent moet uiteraard altyd binne sy tydvak beoordeel en getoets word. Ingmar Bergman – en hier deel ek die standpunt van die Wolfs – het die magiese aspek van die filmkuns verstaan. As jong kind het hy glo verskillende teksture van lig met sy kamera onderskou.

Ek kyk ‘n goeie film twee, selfs drie keer. Polanski se Bitter moon (1992), waaroor ek ‘n  uitgebreide Lacaniaanse analise geskryf het, het ek al vier keer gesien.

Hitchcock se Psycho (1960) ses keer.

Bergman se Persona (1966) ongeveer agt keer.

Groot filmmakers gebruik filmtaal op ‘n behendige en oorspronklike wyse sodat ‘n mens hul styl kan herken. In Amarcord (1973) van Fellini sit vier jong manne en masturbeer in ‘n motor. Hierdie vinjet is al in soveel Hollywood-films gebruik. Maar die toneel – meen ek – behoort oorspronklik aan Fellini.

In Nicolas Roeg se briljante film Bad timing (1980) word die montage-tegniek aangewend. Deur middel van terugflitse word daar bepaal wat het tussen die psigoanalis (Art Garfunkel) en sy minnares (Theresa Russell) gebeur?

Het hy haar seksueel misbruik, terwyl sy in ‘n koma was na ‘n handvol pille?
Of is die speurder, Harvey Keitel op ‘n verkeerde pad?

Deur ‘n terugflits word ons op ‘n reis na Tunisië geneem. En die kyker maak onmiddellik ‘n ander filmassosiasie, naamlik na Bernardo Bertolucci se The sheltering sky (1990)  waarin ‘n troebel verhouding eweneens uitgespeel word. Die hoofkarakters hier is natuurlik Debra Winger en John Malkovich. Met Campbell Scott as die minnaar van die vrou. (En die film is gebaseer op die verhaal van Paul Bowles...)

Bad Timing speel in Wenen af. Die stad van psigoanalise. Freud se stad en die hele film wentel rondom die lesing wat die psigoanalis gee oor afkyk / loer / voyeurisme.

En dit is wat ons doen wanneer ons films kyk.

Ons word voyeurs.

En terloops, die seminale essays van Pauline Kael wat Kiss Kiss Bang Bang heet, het weer ‘n film geïnspireer van Shane Black met Robert Downey, jr wat in 2005 verskyn het.

Nou daar ‘s ‘n interteks vir jou as ‘n film begin “leen” by ‘n kritikus.

Here’s looking at you kid!


Bronne:

Pauline Kael: Kiss Kiss Bang Bang. Mario Boyers, NY. 1965.

John Russell Taylor: Hitch. Abacus, Londen.1978.

William Wolf & Lillian Kramer Wolf: Landmark Films – The cinema of our century. Paddinon Press Ltd, New York. 1979.

2 Fellini


Deel I

Federico Fellini se films kan beskou word as tekste van klassieke status. In sy epogmakende Otto e mezzo (8 ½) maak hy ‘n outobiografiese analise van sy filmkuns.

Die belanrikste kode vir die begryp van hierdie Italiaanse meester se films is die woord fantasie. Eintlik: fantasmagoriese fantasie. Fantasie waarin die mag van die verbeelding ondersoek en beproef word. Ons vind dan dikwels in sy films soos in Amarcord ’n herinneringsreis. Hy gebruik ‘n jong kind wat opvallend op hom lyk sodat die kyker bewus bly van (outo)biografiese elemente in die film. In latere films gebruik hy Anthony Quinn of Marcello Mastroianni as sy ewebeelde.

In sy films word die verhouding tussen lewe en dood, kuns en werklikheid op ’n opwindende manier ondersoek. ‘n Mens kry in Amarcord ‘n uitbeelding van ‘n begrafnis, ‘n troue, die verhouding met ‘n mal oom wat weier om uit die boom te klim en almal met klippe bestook wat hom probeer red. Uiteindelik kom die dokter van die malhuis daar aan. ‘n Kwaai verpleegster haal hom uit en die dokter merk op:
“Party dae is hy gesond; ander dae is hy maar soos ons almal.”

Fellini sien nie neer op sy verlede nie. Hy beeld karakters dus nie met ‘n meewarige aanslag uit nie, maar erken hul menslikheid volledig.

‘n Klein seuntjie – sonder ‘n broekie – probeer sy bababoetie met ‘n baksteen doodgooi en die ma keer hom met die woeste Italiaanse dialoog kenmerkend van die streek.

Die storie word met ‘n goedige, dog priemende analise van sy Italiaanse jeug. Dat hy volledig verlos is daarvan, blyk uit die humoristiese aanslag. Daar is geen gewroeg nie, maar ‘n speelse analise van die drama(s).

Waarskynlik omdat hy in sy jeug in ‘n sirkus gewerk het, is daar ‘n aanvoeling vir die verandering van gemoedstemminge.

Die film is in 1973 gemaak en lewer kommentaar op die Fascisme en die invloed daarvan op sy tuisdorp. In ‘n outobiografiese verslag bely Fellini dat hy sy fascistiese skoolopvoeding gehaat het. Hulle is deur priesters oor die kneukels geslaan en moes op koring kniel op kaal knieë.

Hy het groot geword in Rimini en soos by Bergman en Almodóvar, is sy jeugherinneringe ‘n belangrike impetus vir sy kuns. Nou onlangs het Hennie Aucamp opgemerk in ‘n bespreking dat ‘n ongelukige of gelukkige jeug jou nooit loslaat nie – en dit kan absoluut van toepassing gemaak word op hierdie filmmakers wat bykans op ‘n surrealistiese wyse die mag van ‘n kind se ónbeperkte verbeelding ontgin. Of dalk eerder: hoe ‘n grootmens sy jeugherinneringe her-skryf / her-verbeel deur dit in ‘n kunsvorm te verpak.

As kind was hy lid van die Avanguardista, ‘n verpligte organisasie, hoewel sy familie anti-Fascisties was. Hy maak dan in sy films dikwels ‘n bespotting van die Fascisme en in 1939 vertrek hy na Rome waar hy satiriese artikels vir ‘n tydskrif skryf. Satire is uiteraard eweneens deel van Fellini se aanslag as kunstenaar.
In Rome ontmoet hy Guiletta Masini wat dan ook in sy films optree. (Hulle het twee kinders verloor: een met ‘n miskraam en ‘n ander jong baba het nege maande ná sy geboorte gesterf.) As ‘n jong man ontmoet hy Roberto Rossellini, die befaamde filmmaker van Rome, Open City en die skoonvader van Martin Scorsese wat in sy outobiografiese filmreeks uitgebreid verslag doen van die hoogtepunte in die Italiaanse filmkuns. As ‘n jong man bestudeer Fellini die werk van C.G. Jung en die opposisie tussen die animus en anima is duidelik af te lei uit sy film Otto e mezzo (81/2).

Die film La dolce vita –  die lekker lewe as ons dit letterlik sou vertaal – word dikwels in advertensie-veldtogte gebruik (die paparazzi wat die skoonheid inwag by ‘n lughawe of die bekende fonteintoneel met die beeldskone Anita Ekberg) het natuurlik die woord paparazzi geskep! Marcello Rubini, ‘n jong en aantreklike Marcello Mastroianni, is Fellini se ewebeeld. In hierdie film moet die jong joernalis skandale in nagklubs ondersoek. Sy minnares is jaloers en hy begin ‘n dubbel-lewe lei. Hy ontmoet ‘n superster by die lughawe, word deur die paparazzi agtervolg en begin die “dolce vita” geniet.

Hy word ook bewus van ‘n storie oor kinders wat ‘n mirakel beleef het en hiermee lewer Fellini skrynende kommentaar op die godsdiens en mense se behoeftes om wonderwerke te ervaar. Hy ontmoet ‘n intellektueel op een van sy vele rondtes – wat sonder waarskuwing selfmoord pleeg. Hy beleef vele orgies, drink buitensporig baie in sy vele reise deur die naglewe (ondergronds).

En dan is daar ‘n keerpunt na een waansinnige nag van drank: die volgende oggend vang vissermanne ‘n groot vis.

Hierdie vis – wat natuurlik gelaai is met simboliese betekenis van die onbewuste  – is aaklig en Marcello ervaar meteens vervreemding van alles en almal óm hom.
Fellini is tereg bekroon met ‘n Oscar in 1993 vir sy uitgebreide filmwerk.
 

Bronne:

Tom Milne (red.): Time Out – Film Guide. Penguin, Londen. 1989.

Gilbert Salachas: Federico Fellini: An investigation into his films and philosophy. Crown Publishers, Inc., New York. 1969.

William Wolf & Lillian Kramer Wolf: Landmark Films – The cinema of our century. Paddinon Press Ltd, New York. 1979.

Wikipedia: Federico Fellini

3 Fellini


Deel II

Federico Fellini

Born: 20 January 1920, Rimini, Italy
Died: 31 October 1993 (aged 73), Rome, Italy

La Strada (Die pad) is een van my gunsteling-Fellini’s.

Anthony Quinn en Guiletta Masina is twee verskoppelinge wat in ‘n karretjie trek van dorp na dorp en hul klein sirkussie opvoer.

Sy speel die drom en hy doen sy toertjie, naamlik om te “ontsnap” uit ‘n dik ysterketting. So maak hulle geld. In ‘n lewe wat neerkom op onbestendigheid. Op ‘n keer slaap hul by genade van ‘n nonnetjie in ‘n skuur, help hout kap en vertrek verder.

Hul verhouding werk streng volgens sý beginsels. Hy bepaal wat volgende sal gebeur en sy is afhanklik van hom. Sy kan nie sonder hom bestaan nie.
Dan kom die wending in hul verhaal.

Zampano (Quinn) en Gelsomina ontmoet regte sirkusartieste en hier ontmasker ‘n nar (ene Il Matto, die gekke) hom as ‘n grootprater en wys hom daarop dat sy toertjie simpel is.

Hy is ‘n blote terggees, maar vir Zampano is dit uiteraard nie maklik om hierdie aanval te sluk nie. ‘n Bakleiery ontstaan. Hy word in die tronk gegooi. En die kindvrou, Gelsomina, bly op hom wag.

Hulle trek weg.

Hulle loop die nar raak waar hy gestrand staan langs die pad. ‘n Rusie ontstaan opnuut en Zampano slaan hom per ongeluk dood en gooi sy kar by ‘n brug af.
Hulle slaan op vlug. En dan begin sý hallusineer en roep na die nar. Uiteindelik laat hy haar agter en jare later hoor hy die liedjie wat sy altyd op haar trompetjie  gespeel het.

Dit blyk dat die singende vrou dit by Gelsomina gehoor het, vertel hom dat sy dood is. In waansin.

En dan word Zampano getref met die volle implikasies van sy dade, word dronk, stap na die see. Met ‘n oop slot wat daarop dui dat hy waarskynlik deur die see ingetrek sal word.

Die titel beteken letterlik “Die Pad”. Om onder weg te wees. Vry.

Weg van konvensies. Sirkusartieste is by uitstek figure wat buite die gemeenskap se norme optree en funksioneer.

In sy jeug het Fellini gevlug uit die beklemmende konvensies en by ‘n sirkus gaan werk.

Die film wentel rondom etlike ironieë: Zampano koop Gelsomina by haar ma asof sy ‘n huisdier is. Sy is volledig afhanklik van hom. Haar lot word deur sy buie bepaal.

Sy vrees hom; sy bewonder hom.

In moderne feministiese terme het sy geen agentskap nie.

Sy is uitgelewer aan die man.

En selfs wanneer Il Matto hom terg, vertel hy vir haar dat sy by haar maat moet bly.

En wanneer hierdie maat haar faal, is die enigste uitweg: waansin. Dis die enigste vryheid wat oorbly vir haar. Die film lewer dan verdere kommentaar op die noodlot wat alles verander…

Die film is in 1954 gemaak en daar is uiteraard ook ‘n insigryke analise tussen die kunstenaar wat sy vrou gebruik as hoofkarakter.

En dit lewer implisiete kommentaar op die kunstenaar wat sy mag “misbruik” om iets te trek uit ‘n private verhouding.


Bronne:

Gilbert Salachas: Federico Fellini: An investigation into his films and philosophy. Crown Publishers, Inc., New York. 1969.


4. Ingmar Bergman 1918 – 2007

Sonder skroom beskou ek Ingmar Berman as een an die grootste filmmakers nog wat filmtaal ontgin soos die latere Andreij Tarkovskij.

Dit is dan ook gepas dat Richard Corliss met Woody Allen, ‘n Bergman-liefhebber, in gesprek tree oor Bergman in Time 13.8.07 (“Woman, Man, Death, God”).

In sy outobiografie Laterna Magica skryf Bergman betreklik somber oor sy lewe as ‘n predikantseun wat in ‘n mate tot uiting kom in die film Fanny and Alexander (1982). Vir my is die primordiale Bergman-tekste Persona (1966) en Cries and Whispers (1973).  In eersgenoemde film word die verbintenis tussen verpleegster (Bibi Andersson) en ‘n aktrise wat ‘n ineenstorting beleef (vertolk deur Liv Ullman) briljant ontleed in die oorname van identiteite. In laasgenoemde film word die komplekse interaksie tussen susters ontleed. Twee susters ervaar die dood van hul suster in ‘n film met donkerrooi in die agtergrond. Hier is Liv Ullman weer ‘n sentrale karakter. Intieme ruimtes van die psige, onuitspreekbare pyn wat mense aan bande lê, was die métier van Ingmar Bergman.

Vir my is die film Scenes from a marriage (1973) ‘n uiters gewelddadige film in die ondersoek na die pynlike afloop van ‘n huwelik en die daarmee gepaardgaande emosionele ondersoek en ellende. Ullman en Erland Josephson vertolk hierdie rolle van ‘n egpaar wat skei, maar terselfdertyd weens ‘n diepe emosionele band mekaar nie kan afsweer nie.

Op die ouderdom van 84 maak hy ‘n opvolg, Sarabande.

Hy het glo op ouderdom 8 sy geloof verloor, was in sy jeug ‘n aanhanger van Hitler en het reg deur sy lewe ‘n komplekse verhouding met sy vader gehad. Hy was ‘n uiters produktiewe filmmaker – ongeveer 62 films word gelys – en het vyf keer getrou. Hy het ‘n kind by Ullman gehad en is in 1976 in hegtenis geneem vir belastingontduiking. Dit het ‘n uiters traumatiese uitwerking op sy psige gehad sodat hy opgeneem is in ‘n senu-kliniek. Daar word vertel dat die jonge Alfred Hitchcock as jong kind deur sy pa met ‘n briefie na die polisiekantoor gestuur is. In die briefie het daar gestaan dat hy opgesluit moes word vir ‘n paar uur weens ‘n oortreding. Dit is o.a. ‘n rede vir die paranoïa rondom die gereg in Hitchcock se films.

Bergman ondersoek voortdurend die donker skadukant van die psige en die aanklag van belastingontduiking was sonder enige gronde, maar terselfdertyd sowel kreatief as deprimerend. Hy het sy land verlaat en dit het ‘n negatiewe impak op die Sweedse filmbedryf as sodanig gehad.

Hy keer in die tagtigerjare terug na Swede, enigsins verbitterd.

Waarskynlik omdat hy die letterkunde bestudeer het, kon hy die meeste van sy eie draaiboeke skryf.  Sy eie gunstelinge was Winter light, Persona en Cries and whispers, ofskoon hy dit ongemaklik gevind het om na sy eie werk te kyk.

(Vermoedelik omdat sy films kommentaar lewer op sy eie psigiese prosesse en sy verhoudings met lewensmaats / affaires wat karakters vertolk in sy films.)

Hy het ook verskeie produksies van teaterstukke behartig en hy is drie keer bekroon met die gesogte Academy prys. Hy het Bafta- en Cesar-toekennings ontvang en by die Cannes-filmfees het hy sewe keer met die lourierkrans weggeloop, o.a. in 1998 vir sy hele oeuvre!

‘n Mens sou verder kon skryf oor Max von Sydow se optrede in sy films en Woody Allen se opmerking in die genoemde onderhoud dat hy glo tydens die verfilming van ernstige tonele, grappe sou maak.

Is daar nog ‘n manlike filmmaker wat só skerpsinnig oor vroue kon wees? Vele van sy films dra verwysings na vroue se name of analiseer die vroulike psige.

‘n Mens dink aan Autumn sonate (1978) met Liv Ullman (Eva)  en die nooit volprese Ingrid Bergman as Charlotte. Wanneer die dogter van die beroemde pianiste vir haar moeder klavier speel, kan ‘n mens die moeder se afwysende houding aflees net deur haar gesigspel.

Subteks, onderspeling, psigoanalitiese analises, die geding met God en die dood. Hierin het hy uitgemunt.

In die Wolfs se  i word daar ‘n hoofstuk gewy aan Bergman: ”The Seventh Seal, 1957: The Genius of Bergman”. Hier word hy uitgesonder as die grootste filmmaker van alle tye wat juis die misterie van filmtaal begryp. In hierdie essay word gewys op die rigiede opvoeding en dat straf dikwels met vernedering gepaard gegaan het. Op ‘n keer is hy in ‘n donker kas toegesluit wat waarskynlik verklaar waarom daar aandag gegee word aan beknopte ruimtes en die vrees vir alleenheid.

Soos by Hitchcock is die ambivalente verhouding met die ouers en jeug opvallend. As jong kind ruil hy sy stelletjie soldate vir sy broer se filmprojektor. As kind het hy ook belang gestel in poppespel- hierdie aspek word ontgin in Fanny and Alexander.
Hy is ‘n imposante filmmaker – daar was niemand soos hy voor hom nie en en in vele huldeblyke, pastiches en erkennings in ander filmmakers se werk – soos Woody Allen – word sy grootheid erken.

Soos Philip Mosley opmerk: vir Bergman was die filmkuns die grootse minnares.

Ingmar Bergman

Bronne:

Vir inligting oor Bergman se lewensloop het ek die Wikipedia geraadpleeg. Ek het onlangs weer van sy belangrikste films bekyk en soos Woody Allen, David Lynch, Robert Altman, Andreij Tarkofski, dink ek dat hy een van die belangrikste filmmakers van ons tyd was. Allen se Interiors (1978) is trouens ‘n parodie van Bergman se werkswyse.

Ironies genoeg is hy die filmmaker Antonioni tweede dae uit mekaar oorlede.

Philip Mosley: The Cinema as Mistress. Marion Boyars, Londen. 1981.

John Russell Taylor: Hitch. Abacus, Londen.1978.

William Wolf & Lillian Kramer Wolf: Landmark Films – The cinema of our century. Paddinon Press Ltd, New York. 1979.


5. Bergman (vervolg)

Een van die belangrikste aspekte van Bergman se filmkuns is sy besondere obsessie met die met die menslike gesig. Philip Mosley wys op hierdie aspek in The Cinema as Mistress: hoe Bergman telkens die vroulike gesig in fynste besonderhede vir die kyker weergee.

Wanneer ‘n kritikus ‘n filmkyker op ‘n bepaalde tegniek attent maak, dan kyk jy daarna met besondere aandag vanuit daardie perspektief of insig na die films. Bergman, word daar vertel, het na enige film gekyk om idees en tegnieke oor te neem.

Jy kan nooit weer sonder hierdie wete na films kyk nie en jy onthou Liv Ullman se gesig in Persona of die twee ontnugterde huweliksmaats se gepynigde uitdrukkings in Scenes from a marriage.

Hierom is daar soveel stiltonele in Mosley se studie, onder andere, die beroemde een uit Autumn sonate met Ingrid Bergman en haar dogter in die filmword vertolk deur Liv Ullman.

In Persona word die besondere verbintenis tussen ‘n stomgeworde aktrise, Ulman en haar verpleegster, Bibi Andersson, verbeeld. Dit is in 1966 gemaak en kan gesien word as vintage-Bergman.

Talmende skote, sub-teks, subtiele interaksie tussen karakters asof op ‘n verhoog met die regisseur wat (liefdevol-priemend) kyk na twee vroue met wie hy intense relasies beleef en gehad het. (Die invloed van Strindberg en Ibsen op Bergman se werk is daar: as verhoogregisseur het hy homself die kunsies van filmmaak geleer.)

Persona vertel die verhaal van twee vroue wie se identiteite oormekaar loop en die een se verhaal die ander een s’n word.

Ewebeelde van mekaar.

Twee minnaresse van Bergman is hier aanwesig: die voormalige een en die nuwe, naamlik Ullman, wat ná die film vervaardig is sy geliefde geword het. Hoe kuns en werklikheid inspeel op mekaar, kan die kyker nie miskyk nie. Nes die lesbiese interaksie tussen die twee vroue.

Die film breek in ‘n stadium, dit word donker: die film word springerig. Hier is dus ‘n oomblik van metarefleksie, oftewel kommentaar op die kuns: ons is besig om te kyk na ‘n film oor ‘n aktrise: ‘n aktrise wat stom geword het en tydens ‘n produksie van Elektra en nie verder kan of wil toneelspeel nie. Die verpleegster wat haar versorg, is egter self ‘n gekompliseerde persoon met jeugherinneringe van verkragting en ‘n aborsie wat gesinkopeer word met die aktrise se pynlike ervaring van moederskap. Alma (die verpleegster) verteenwoordig die siel; die aktrise (Elisabet Vogler) staan vir die persona in Jungiaanse terme. Of dalk nie?

Persona is immers ‘n Jungiaanse term vir die masker wat ons aansit in die openbaar.
Die film illustreer ook dat die verhouding tussen analis en analysand in Lacaniaanse terme wat nie stabiel is nie. Die rolle word voortdurend verwissel. Ullman, die aktrise, moes verskillende personas aanneem in haar lewe. Die verpleegster neem egter haar persona oor. Sy word dit wat sy dink Elisabet is.

Is Ullman psigies siek? Of speel sy siek?

Of het sy gewoon besluit om stom te word om aandag te kry?

Die verpleegster ontdek dat sy wél kan praat en dat sy haar manipuleer met haar toestand ten einde die storie van die verpleegster aan te hoor...

Met die verpleegster wat haar konfronteer oor haar onvervulde rol as moeder: dat sy haar baba doodgewens het en gehoop het die kind is stom by geboorte.

Deur hul interaksie met mekaar, ontsluit die twee vroue pynlike herinneringe en kan hul tot dieper insig kom.

Vir die kyker bly dit ‘n groots-opgesette rolprent wat met elke her-kyk nuwe betekenisse ontsluit.

Ons weet dat Orestes sy moeder, Klytemnestra, vermoor het met die hulp van sy suster, Elektra…

En dan is daar nog Eugene O’Neill se Mourning becomes Electra en die ingewikkelde en steurende drome in hierdie film.

In Sofokles se klassieke drama is daar die opstand teen die moeder en Elektra se pynlike nadenke oor haar vadcer, Agamemnon se dood.

Bergman aktiveer die ‘kommos’ of lament / treurlied van die Griekse tyd.


Bronne:

Philip Mosley: The Cinema as Mistress. Marion Boyars, Londen. 1981.

William Wolf & Lillian Kramer Wolf: Landmark Films – The cinema of our century. Paddinon Press Ltd, New York. 1979.

Oor Persona, Ingmar Bergman. Die Jungiaanse insig word hier vermeld.



6. Stanley Kubrick (1928 – 1999)

Nog ‘n meester van die filmkuns, is Stanley Kubrick, ‘n persoon wat ‘n obsessie met skaak gehad het. Hy het elke optrede van ‘n karakter soos ‘n skaakskuif uitgewerk en hom buite die bedryf se politiek gehou.

Hy het geglo die filmmaker se lewe behoort nie op sy kuns in te speel nie. Hierom sy matematiese presisie, sy bykans gedistansieerde redigeerdershand.

Anders as Bergman en Woody Allen wie se lewens dikwels op ‘n komplekse manier in hul kuns tot uiting kom en dan weer op ‘n subtiele manier inspeel op hul lewens, is Kubrick afwesig, buite sy kunswerk. Soos Flaubert opgemerk het dat die kunstenaar soos God moet wees in die heelal: óral aanwesig, maar nêrens sigbaar.

Hierom is dit dan so ironies dat hy die Cruise-egpaar, Tom en Nicole Kidman, bekoekeloer in Eyes wide shut (1999).

Die kritiek was indertyd verdeeld (en verveeld) met die film.

Die verhouding tussen ‘n man en vrou – ons sien selfs vir Ms. Kidman op die toilet – het nie goed afgegaan nie. Op ‘n implisiete wyse lewer dit kommentaar op die skaakspel-simboliek in sy filmkuns. (Gebaseer op Arthur Schnitzler se Droomverhaal, word getrouheid in die huwelik ondersoek met die man se afdaal in die onderwêreld soos in Sewe dae by die Silbersteins. En die Leroux-afficionado kan nie help om te wonder wat Leroux van die film sou maak nie.)

En wanneer een skaakspeler by ‘n ander een uitkom, kry ‘n mens ‘n film soos die onoortroffe Lolita (1962) met James Mason as Humbert Humbert, Shelley Winters as die ma en natuurlik: Peter Sellers as Quilty. Nabokof, die skrywer van Lolita, was eweneens ‘n ywerige skaakspeler en die vlakke waarop die roman funksioneer, is besonder ingewikkeld.

Die latere ploerterige her-uitgawe (1997) met Jeremy Irons het die film laat vassteek in blote pedofilia en banaliteit. Die film mis die fyn skakerings en ironie van die roman en oorspronklike film.

Kubrick neem ons na die fyn struktuur. Sy film is swart-en-wit – soos ‘n skaakstel - en die ongelooflike toneel waar Peter Sellers – ons gaan nog uitgebreid kyk na hierdie komediant – tafeltennis speel, is briljant. Hy gebruik Sellers later in Dr Strangelove: How I learned to stop Worrying about the bomb (1964), ‘n aweregse komedie oor die atoombom. Die film is nie oorspronklik as ‘n komedie beoog nie, maar het met Sellers se deelname ontaard in swart komedie. Op die koop toe vertolk Sellers drie gek, maniese rolle.

Kubrick se Lolita lewer kommentaar op die skrywer se obsessie met die jong meisie en word ‘n kommentaar op paranoia – soos Psycho van Hitchcock.


Sellers tree ook op in sy mal-SFI-rolprent en een van die sterktste komentare op die ellendes van die Viëtnam-oorlog is uiteraard Full Metal Jacket (1987), ofskoon ek dink dat die seminale rolprent oor die onderwerp gemaak is deur Francis Ford Coppola: Apocalypse now (1979) en die doumentêr deur Mevrou Coppola rondom die probleme met die vervaardiging, werp tersaaklike lig op die film as sodanig.

Kubrick debuteer met Fear and desire (1953) en soos alle perfeksioniste was hy later ontevrede met hierdie jeugsonde. Hy het alle afdrukke teruggekoop vernietig, maar een eksemplaar het wel die rondte bly doen en dit word as ‘n ernstige kopiereg-oortreding beskou om die film te vertoon.

Vir my bly een van sy grootste prestasies 2001: A space odyssey (1968), ‘n unieke Sci-Fi-film, gebaseer op ‘n Arthur C. Clarke-kortverhaal.

Klassieke musiek (Strauss se Also sprach Zarathustra en Johann Strauss se Blou Donou-wals) word gebruik om die storie te vertel waarin daar min dialoog is. Hier vind ‘n mens Kubrick se handtekening: stadige beweging gelaai met simboliek en die gebruik van musiek, lang skote om die storie van 150 minute te vertel. Die film is die beste illustrasie van hoe subteks werk.

Dit is ‘n kultusfilm waarin kommentaar gelewer word op ewolusie en die mens se prestasies op aarde en in die ruimte.

‘n Mens sou eweneens A clockwork orange (1971) moet vermeld as ‘n hoogtepunt. Gebaseer op Anthony Burgess se befaamde novella en met Malcolm McDowell in die hoofrol, bly dit waarskynlik steeds een van die belangrikste kritieke op geweld en die invloed daarvan op ‘n kyker.

Die verhaal van die wrede Alex wat “genees” word van sy gewelddadige afwyking, lewer kommentaar op die samestelling van die psigopatiese gemoed. En die effek wat dit het op die kyker wat so ‘n film moet beleef.

Die film het egter ‘n onaangename uitwerking op Kubrick se lewe gehad: doodsdreigemente. Hy het die film uit Britse sirkulasie verwyder en eers ná sy dood mog dit weer in Engeland vertoon word.

In 1980 het ek die ongesensureerde weergawe van The Shining (gebaseer op Stephen King se gelyknamige roman) in New York gesien en die absolute angsaanvalle daarna, sal ek nooit vergeet nie. Jack Nicholson vertolk hier die rol van ‘n skrywer wat uithaak in die Overlook Hotel in die Colorado-berge. Dit is ‘n parapsigologiese film waarin die jong heldersiende kind ‘n tweeling wat deur hul vader vermoor is, kanaliseer. Shelly Duval is sy vrou wat gered word deur ‘n swart opsigter wanneer haar man totaal oorrompel word deur die onsienlikes.

(Sy dogter het ‘n dokumentêr van die film gemaak.)

Kubrick het sy lewe lank geworstel met sensuur: Lolita, A Clockwork Orange en Eyes wide shut is vóór vertonings deur sensuurrade bekyk. (Hy het Eyes wide shut as sy beste film beskou.)

Sy loopbaan is eweneens gekenmerk deur films wat hy onttrek het: soos die beoogde film oor Napoleon en ‘n film oor die holokaust (Ayrian Papers) wat hy nie wou vervaardig nie uit vrees dat dit verdwerg sou word deur Schindler’s list.

Artificial Intelligence – ‘n modernisering van die Pinocchio-verhaal – is ná sy dood deur Spielberg voltooi. Hy het eenkeer in sy lewe by ‘n James Bond-produksie die kameramanne van raad bedien.

Hy was ‘n kil persoonlikheid wat sy akteurs soos skaakstukke behandel het. Hy was in sy lewe net geïmponeer met die werk van James Mason, Peter Sellers en Malcolm McDowell. Hy en Duval kon mekaar nie veel nie en sy moes glo tonele by herhaling oordoen vir hom.

Hy is Joods-Amerikaans gebore, maar het hom in sy lewe volledig van godsdiens losgemaak.

‘n Soort kluisenaar was hy wat hom glo met diere omring het. Hy het selde sy huis verlaat en net na Londen gereis wanneer hy moes.

Stanley Kubrick
Bronne:

Walker, Alexander, Taylor, Sybil, Ruchti, Ulrich: Stanley Kubrick: a Visual Analysis. Weidenfeld & Nicolson, Londen. 1999.

Oor sy lewe, het ek Stanley Kubrick - Wikipedia, the free encyclopedia geraadpleeg.


7. Woody Allen (1935 -)

Woody Allen

Daar is sekere momente in Woody Allen se skreeusnaakse rolprente wat ‘n mens nooit sal vergeet nie. In Manhattan (1979) stap hy en sy minnares (Diane Keaton) die straat af. Hy bely dat sy vrou (Meryl Streep) sopas ‘n gemene boek oor hul huwelik geskryf het en sy ploerterige loopbaan as sitkom-maker. Dan staan hy stil en hy merk op dat sy vrou hom verlaat het vir ‘n ander vrou. Die punt is, bely hy, dat hy nie omgee vir so ‘n stap nie, maar dat hy wel besorg is oor die feit dat sy seun deur twee ma’s groot gemaak sal word. En dit is die verskrikking, want die meeste mense herstel nooit van een ma nie; wat nog te sê van twéé.

Jiddisje humor, die obsessie met familie en die Bergman-verheerliking is waarskynlik van die belangrikste temas wat regdeur sy ryk geskakeerde oeuvre loop. In sy private lewe bespeel hy die klarinet in ‘n jazz-band.

Die naam Woody Allen roep ook omstredenheid op. Tydens sy verbintenis met Mia Farrow begin hy ‘n verhouding met haar aangenome dogter, Soon-Yin, by Andre Previn. ‘n Uiters onverkwiklike hofsaak volg in 1992 met Farrow wat hom eweneens aankla van bloedskande met een van sy aangenome kinders, Malone (toe sewe). Die regsuitspraak het die aantyging verwerp dat hy die jong kinders gemolesteer het, maar die regter het bepaal dat die verhouding met die aangenome dogter as simboliese bloedskande gesien moes word, omdat sy die suster bly vir die ander kinders. ‘n Mens kan hierdie insident as ‘n waterskeidende oomblik in sy werk beskou.  Vóór dit was die werk anders; daarna het ‘n somberheid ingekruip, selfs films van mindere allooi het verskyn. Polanski het wel sy openbare skandaal kreatief oorleef en van krag tot krag gegaan, terwyl die belangrikste Allen-films bly Annie Hall (1977), Interiors (1978), Manhattan (1979). En natuurlik die onvergeetlike Zelig (1983) wat soos ‘n verkleurmannetjie verskillende identiteite kan aanneem. Die film is ‘n mockumentary met Susan Sontag en Saul Bellow, onder andere, wat “kommentaar” lewer op hierdie verskynsel van ‘n mens.

In sy jeug was Allen ‘n komediant en hy het nooit sy graad in media-studies voltooi nie.

In sy mees waansinnige rolprent, Love and Death (1975) – ‘n parodie van Tolstoi se Oorlog en Vrede en Dostojeksi se romans  – is daar een toneel waar die kamera fokus op ‘n netjies-geordende boudoir, terwyl hy en die Comtessa in die kooi lê. Die kamera wys die tyd. Dan sien ons weer die horlosie – dis vyf minute later en die hele kamer is verwoes. “Jy is ‘n goeie minnaar, die beste,”sug die Comtessa.

“Ja,” merk hy op. “Ek oefen baie wanneer ek alleen is.”

Manhattan is al ‘n liefdesverhouding met die stad New York genoem en die Gershwin opening, Rhapsody in blue, vang die melancholiese aard van die film vas. Dis enersyds grappig; andersyds ‘n meta-analise van kuns sowel as die invloed van verhoudings op die lewe (en andersom). Die relasie met Muriel Hemingway in die film is ‘n verdoemende aanduiding van die ellende wat sou kom in sy lewe wanneer hy met ‘n jonger vrou ‘n verhouding begin.

Die dubbelloop-navrante aard van sy films is sy kenteken. Grap en erns. Sy doodsobsessie loop eweneens soos ‘n swart draad deur sy films en sy analise van verhoudings tussen susters, Hannah and her sisters (1986) – met Michael Caine – is ‘n soort moderne Bergman. Net soos Stardust memories (1980) ‘n huldeblyk aan Fellini is. In The purple rose of Cairo (1985) word die spel tussen lewe en kuns vérder ontleed. Ons word hier herinner dat ons besig is om na ‘n film te kyk. Husbands and wives (1992) met Judy Davis lees soos ‘n bloudruk van ‘n ongelukkige werklike verhouding met Farrow.

Sy kennis van die Griekse drama span hy in met Mighty Aphrodite (1995), terwyl Deconstructing Harry (1997) op ‘n pynlike wyse die invloed van die Farrow-aanslag analiseer: die belydende karakter ervaar homself as “uit fokus”…Mia Farrow gee haar weergawe in haar outobiografie What falls away (1997) en hoe die een kind weier om hom te sien; die ander mag hy slegs onder toesig besoek.

En Allen?

Toe sy die naakfoto’s van haar aangenome dogter ontdek het, was sy opmerking:
“Een van die geluksmomente in my lewe…’n draaipunt vir die beste.” Ironiese woorde, natuurlik.

En hy het ook by geleentheid opgemerk dat hy dalk die verhouding met Farrow vroeër moes verlaat het.

Toe hy met Previn trou, beeïndig hy psigoanalise, ‘n deurlopende tema in sy filmkuns.

In Antz is hy die stem van Z.

Van Ingmar Bergman is daar by geleentheid geskryf dat sy films stilte-in-aksie is. Woody Allen is die meester van tegniese vernuf en filmiese in-grappe: Annie Hall met die verdeling van die skerm waar twee karakters tegelykertyd hul weergawes aan ‘n terapeut bely. In Love and Death is daar oogknippe na groot films: die leeus verwys na Eisenstein se monumente in Battleship Potemkin en vele ander vinjette uit Bergman gooi hier ‘n draai.

Daar is dus ‘n intellektuele gesprek met bekende films aanwesig en elke film is as’t ware ‘n huldeblyk aan die filmkuns.


Bronne:

Vir biografiese inligting is Woody Allen - Wikipedia, the free encyclopedia geraadpleeg.

Camille Paglia: Vamps & tramps. Vintage Books, New York. 1994.


8. Fassbinder (1945 – 1982)

I.

Die naam Rainer Werner Fassbinder roep by my ongelooflike nostalgie op na die ou Johannesburg-middestad se filmhuis waar uitmuntende kunsfilms vertoon is Hier het ek Fitzcarraldo van Werner Herzog gesien en die hele oeuvre van Fassbinder leer ken.

Die groot ‘enfant terrible’ van die Duitse filmgeskiedenis wat verstewig is deur name soos Herzog, Volker Schlöndorf, Von Trotte, e.a.

Fassbinder in sy ondersoek na die donker kant van die lewe soos dwelms, drank, seksuele uitspattighede, sou uiteraard nie lank kon leef nie. Dis’n soort senu-energie wat roep om uitbranding. Hy sterf in 1982 op ouderdom 37, maar hy laat ‘n versameling films na wat getuig van ‘n kennis van die filmkuns en in eie reg as klassiek getipeer kan word: Die bitter trane van Petra von Kant (1972), Effie Briest (1974), In die jaar van dertien mane (1978), Berlyn Alexanderplatz (1980), Querelle (1982). Fassbinder is gebore tydens die Tweede Wêreldoorlog en hierom moes sy moeder hom laat grootword by ‘n tante, weens die armoedige toestand van hul woonstel. Hierdie woede en bitterheid oor versaking, is iets wat regdeur sy werk loop en verklaar waarskynlik sy misogonistiese blik op vroue. (Hy het wel op eenjarige ouderdom weer die moeder gesien, maar haar nooit vergeef vir hierdie verwerping nie.) Hy is dikwels deur sy moeder fliek toe gestuur, omdat sy moes vertalings doen en met haar eie lewe wou aangaan na haar egskeiding.

Hy het dikwels tot drie films per dag gesien.

Hy is kosskool toe gestuur en het later by sy pa gaan bly in Keulen. En hier doen hy dan navorsing wat in sy eie films ondersoek word: besoeke aan hoerebuurte, gay-kroeë en ‘n kennismaking met immigrante, omdat sy pa woonstelle aan hul verhuur het in ‘n swak buurt. Soos vele groot filmmakers, ontmoet hy dan ‘n vrou, Hanna Schygulla, wat sy muse word en met wie hy eweneens ‘n persoonlike verbintenis aangaan. (Bergman met Ullman; Woody Allen met o.a. Diane Keaton…) Soos ander groot filmmakers begin hy eers in die teater werk saam met bekende akteurs van die tyd. Sy lewe word gekenmerk deur brutale optredes teenoor akteurs en ‘n biseksuele leefstyl. Verhoudings met sowel vroue en mans, ‘n ondersoek na die donker kant van die lewe en dwelms, eis uiteindelik sy lewe wat geinterpreteer kan word as selfmoord. Hy was volledig avant-garde en het álle faksies aanstoot gegee en het nie – soos sekere teaterlui – geëis dat daar anders na sy werk gekyk moes word nie. Hy was waarskynlik juis aangevuur deur polemiek, weerstand, onbegrip. Hy het wel bedank uit die teater toe hy aangekla was van anti-semitisme en hy was woedend oor hierdie onregverdige kritiese mening juis omdat hy vir die underdog lewenslank geveg het.

Veronika Voss is in 1982 bekroon met die Goue Beer by die Berlynse filmfees, maar by Hollywood het hy nie die erkenning gekry wat hy verdien het nie.

Die bitter trane van Petra von Kant bly vir my die mees aangrypende Fassbinder-rolprent. Dit ondersoek die verhouding tussen twee vroue, met die stilswyende bediende wat toekyk en interpreteer.

‘n Mode-ontwerper raak verlief op ‘n werkersklas-vrou wat ‘n loopbaan in die mode-wêreld wil begin.

Die einde is voorspelbaar, dog die kyker bly vasgevang in die vibrerende net tussen die vroue, die verwerping en pynlik slot.

Fassbinder is gekritiseer vir sy siening in hierdie film as homofobies en misogonisties. Hy was egter sy tyd ver vooruit: hy analiseer woman-identified-woman-verhoudings voordat dit polities-korrek was om búite die bane van óf gay óf straight te beweeg.

Die troebel jeug en onbewuste van Fassbinder kom tot besondere uiting in sy filmkuns. Hier is dit onmoontlik om lewe en kuns te skei.

Rainer Werner Fassbinder

II. 

Die bitter trane van Petra von Kant (1972) is waarskynlik een van Fassbinder se belangrikste stellings oor die politiek van verhoudings. ‘n Mode-ontwerper, Petra, raak verlief op ‘n jonger vrou – vertolk deur Hanna Schygulla, een van Fassbinder se gunsteling aktrises. In die film is daar net vroue: Petra, haar bediende, ‘n vriendin, haar moeder en dogter wat besoek aflê en die jonger vrou, Karin.

Die bediende praat nie ‘n enkele woord nie. Sy ontvang bevele en is die kille waarnemer van die magspel tussen die vroue. Die jonger vrou verlaat Petra en keer terug na ene Freddy, ‘n swart man.

Die jonger vrou wou klaarblyklik net Petra gebruik om ‘n model te word. Dalk nie.
Die film is soos ‘n teaterstuk. Die karakters bly in ‘n kloustrofobiese ruimte waarin Petra vasgevang is. Sy drink voortdurend; word selfs dronk. In die agtergrond is daar winkelpoppe; per geleentheid tref ons twee in ‘n bed aan - op die agtergrond.

Petra is ‘n by implikasie ‘n winkelpop. Sy dra pruike en tooi haarself op. Ons sien hoe sy vals wimpers op haar oë plak.

Die winkelpoppe verbeeld haar leegheid en psigiese dood.

Die film begin met “Smoke gets in your eyes” en dui op die verblinding wat Petra sal beleef wanneer sy betrokke raak by die jonger vrou.

“Jy gedy op ellende,” verwyt haar besoekende vriendin haar en die rolprent is inderdaad ‘n analise van selfhaat en/of masochisme.

Fassbinder – soos Hitchcock – maak ‘n klein draai in die film. Op ‘n swart-en-wit-foto wat gewys word.

Is dit dalk ‘n film oor Fassbinder self? Hy was bekend om sy uiters destruktiewe verhoudings en Petra lyk selfs by tye soos ‘n fopdosser.

‘n Alter ego?

‘n Kille, genadelose analise van hoe die kunstenaar sy akteurs/aktrises gebruik soos winkelpoppe wat van seisoen tot seisoen van modes verander?

Die film analiseer eweneens hoe liefde oorgaan in haat. Hoe die patetiese Petra op die mat sit en haar wysmaak sy verag die jonger vrou. Maar steeds wag op ‘n telefoonoproep.

Hoekom eindig hul verbintenis? Dalk omdat Petra behoort tot die aristokrasie en die jonger vrou tot die werkersklas? Kan ons dit lees as ‘n sosio-politieke stelling? Fassbinder het sy lewe lank geworstel met sy ongelukkige jeug en die feit dat sy moeder hom tydens die oorlog vir familie gegee het om groot te maak.

En, hierna het hy haar weer gesien, by sy vader groot geword, maar as kind ontsettende eensaamheid beleef. Dit is opvallend dat al die filmmakers wat ons sover bestudeer het in hul jeug ‘n toevlug tot films geneem het.

Fellini, Bergman, Kubrick, Allen…

Nou onlangs kyk ek na die verbluffende Werkmeister Harmonies van Bela Tarr met Madame Hanna in ‘n rol en die weemoed na Fassbinder word in ‘n klein dansende vinjet opgevang. In hierdie klein toneel is daar soveel verwysings opgesluit: Fassbinder en ja, selfs Leni Riefenstahl se Triumph of the will, ‘n film waaroor Susan Sontag uitgebreid geskryf het.


9. Roman Polanski (1933 -)

I.

Polanski het op ‘n keer opgemerk dat films hom teen depressie beskerm. Sy lewe as Pools-gebore Jood in Parys wat later met sy ouers na Krakow verhuis het, was een van ellende. Sy moeder is na Auschwitz gestuur en hy het haar nooit weer gesien nie.
Daar is vele hoogtepunte in sy oeuvre. Die pakkende Rosemary’s baby (1968) – met Mia Farrow -  waarin hy met satanisme flirteer en Repulsion – met ‘n bloedjong Catherine Deneuve.

In 1969 word sy lewe dramaties verander met die moord op sy swanger vrou, Sharon Tate deur Manson en sy antwoord hierop was die grieselige Macbeth in 1971 waarin die kyker sien hoe Macbeth se kop van die trappe afrol.

Waarskynlik beskou die meeste kritici Chinatown (1974) – met Jack Nicholson en Faye Dunawaye – as ‘n allerberlangrike film (hyself vertolk hier ‘n kamee-rol) en daarna was The tenant (1975) ‘n nuwe baken. Polanski self is Trelkowski, ‘n transvestiet, wat in waansin afgly en uiteindelik selfmoord pleeg met ‘n koor van jillende toeskouers. (Dit blyk dat sy siel deur ‘n jong meisie s’n beset is wat in die woonstelblok gebly het en selfmoord gepleeg het.) Net hierna is hy weer in ‘n krisis gedompel toe hy ‘n jong meisie by Jack Nicholson se huis ontmoet en seksueel molesteer. (Dit was in die laat sewentigerjare en hy het skuldig gepleit.) Sy was minderjarig en Polanski moes op vlug slaan, terug Parys toe, waar hy dan Tess (1979) maak, ‘n verhouding begin met Nastassja Kinski, eweneens jonk, maar die kritici oorrompel met sy film van Hardy se bekende roman.

Hierna volg o.a. Frantic (1988) – met Harrison Ford en Emannuele Seigner – en dan my gunsteling: Bitter moon (1992). Seigner speel ook hierin – in hierdie film word die troebel, sadomasochistiese verhaal van twee gedoemde geliefdes vertel aan ‘n toehoorder (Hugh Grant) wat met sy vrou (Kristin Scott Thomas) op hul honeymoon (die teendeel van die “bitter moon”) is op ‘n skip na Indië. Peter Coyote is die skrywer, weliswaar ‘n mislukte een, wat wraak neem op sy vrou deur hulle lewe saam uit te lap en haar en homself uiteindelik voor die toehoorder, Hugh Grant en die kyker, dood te skiet. Die film ondersoek die wisseling van mag in ‘n verhouding met ‘n tipiese Polanski-aanslag wanneer die twee vroue kortstondig betrokke raak en die skrywer sy vrou vermoor. Waarskynlik om die ewige wisseling van mag tussen hulle op te hef.

Death and the maiden (1994) was weer ‘n treffer en The pianist (2002) gee ‘n komplekse blik op die troebel Tweede Wêreldoorlog-gebeure. (Polanski was glo gevra om Schindler’s list te regisseer, maar het dit van die hand gewys.) The pianist het drie Oscars verower as die beste buitelandse rolprent. The ninth gate (1999) en Oliver Twist (2005) is eweneens onthoubaar. In 2009 word Polanksi in Switserland in hegtenis geneem en hy is tans in huisarres vir die molestering van ‘n minderjarige
in die VSA. Oor die saak is ‘n belangrike dokumentêr, Roman Polanski: Wanted and Desired gemaak waarin die ambivalensie van die regter na vore kom en dit vir die kyker duidelik is dat Polanski geen ander keuse had as om op vlug te slaan nie. Die film is in 2008 gemaak deur Marina Zenovich.

II.

Repulsion is ‘n filmiese hoogtepunt. ‘n Jong meisie, vertolk deur Catherine Deneuve, se psigotiese afbraak word in hierdie film ondersoek. Sy woon saam met haar seksueel-aktiewe suster wat snags met haar vriend uiting gee aan hul plesiere. Bedags werk sy by ‘n skoonheidsalon en ‘n jong man stel in haar belang. Stadig maar seker sien ons die psigiese ineenstorting. Die kamera fokus op haar oog en haar patologie word algaande duideliker. Polanski fokus op ‘n ongekookte haas wat later verrot om haar psigiese verloedering voor te stel. In een stadium neem sy selfs die haaskop werk toe waar sy ‘n vrou beseer tydens ‘n manikuursessie. Wanneer haar suster weggaan met vakansie, stort sy in duie, vermoor die man en daarna die woonsteleienaar, wanneer hy hom seksueel opdring aan haar.  Hy is op soek na hul huurgeld wat spanning by die kyker veroorsaak: gaan hulle uitgesmyt word? 
Haar hallusinasies word vir die kyker voorgestel; ons is binne-in haar psige en alles word – tydelik – waargeneem vanuit háár perspektief.

Musiek van ‘n orkessie word binne-in haar as teisterend ervaar. In die woonstelgebou oefen ‘n kind toonlere en soos in The tenant is die bure koekeloerders. Die wapen word gesinkopeer met die Toring van Pisa, waar haar suster vakansie hou. (Sy is Belgies en die film speel in Londen af.)

Hoekom doen sy dit? Die kamera fokus ten slotte op die familie-portret: sy kyk na die vader en ons vul die res in.

Voyeurisme en die vermoë om spanning by die kyker te skep, is sy handtekening. In so ‘n mate skep hy psigiese spanning by die kyker dat wanneer dit selfs nie daar is nie, bly ons gespanne, afwagtend kyk asof iets boos gaan plaasvind. Ons dink hier aan Knife in the water (1962). In Cul de sac (1966) wys hy weer hoe ‘n mens se lewe dramaties kan verander deur ongevraagde besoekers wat jou insleep by hul waansin: ‘n refrein in sy filmkuns. (Jackie Bisset vertolk ‘n klein rolletjie saam met Catherine Deneuve ouer suster, Francoise Dorleac.)

III.

Polanski het Tess verfilm, omdat dit die boek is wat Sharon Tate gelees het voor haar dood en volgens haar sou dit ‘n goeie film kon maak. In die opsienbare klag teen hom, was hy die eerste persoon wat via video kon getuig uit vrees dat hy in hegtenis geneem sou word indien hy in die VSA sou getuienis lewer. Daar was baie hiate in die meisie se klag en Polanski het dit as ‘n vendetta van die moeder beskou.
Ironies genoeg, het Mia Farrow vir hom opgekom in hierdie verhoor.

Daar is ‘n roman, Schervengericht geskryf deur die Nederlandse skrywer A. F. Th. Van der Heijden geskryf oor Polanski se lewe: in 1977 word ‘n Poolse filmmaker, ene Raymond in die tronk geplaas nadat hy aangekla is van ‘n seksuele misdryf teen ‘n dertienjarige. In die tronk ontmoet hy ene Scott Maddox wat glo sy vrou vermoor het.

Die titel verwys na die antieke Griekse praktyk om deur middel van ou potte te stem, ook genoem ostrasisme.

Jare gelede het ek ‘n studie oor hom gelees, Repulsion, waarin hy bely het hoe hy as jong kind in skoolondersoek-sessies beangs was dat sy Joodse identiteit sou uitkom. Hierom het hy die aand vantevore van kerswas vir hom ‘n skaggie gemaak sodat niemand kon sien hy is besny nie. En dis hoe ‘n mens sy films moet vertolk: as iemand wat altyd met sy muur teen die rug staan, maar ‘n kunswerk lewer waarin sy psigiese pyn bely word.


9. Pedro Almodóvar (1949- ) 

I.

My eerste kennismaking met Pedro Almodóvar se aweregse filmkuns was in die laat-tagtigerjare in New York.

Ek sal dit nooit vergeet nie. Alleen in die ou filmhuis was net ek en ‘n ou dame; maar ons het die filmhuis uit sy skarniere gelag.

Melodrama, oordrywing, waansin – ‘n lelike vroulike karakter met ‘n snor word gevra hoekom sy nie haar snor laat verwyder nie.

“Mans het nie ‘n kopiereg op snorre nie,” merk sy sonder skroom op.

In Talk to her (2002) red ‘n verkragting ‘n jong meisie uit ‘n komatose staat en Almodóvar laat jou nadink oor reg en verkeerd. As sy nie verkrag was nie, sou sy nie herstel het nie …

In hierdie aangrypende rolprent – wat handel oor ‘n jong, effens-vertraagde man se obsessie met ‘n pragtige meisie – gebruik hy ‘n wit-en-swart-film om die vrees vir penetrasie te openbaar. Die jong man gaan ‘n donker grot binne…

Min Europese filmmakers het al soveel aansien geniet as hierdie Spanjaard wat waarskynlik sy beste werk gelewer het voordat Hollywood op hom toegeslaan het.
Hy word uiters eenvoudig groot in die die distrik Calzada de Calatrava, in Ciudad Real, ‘n provinsie van Castile-La Mancha, die arena van Don Kiesjot en die meulens maal later simbolies in sy films.

As kind stuur sy familie hom na Cáceres, waar hy daagliks films bekyk om sy eensaamheid te besweer.

Hy vertrek na Madrid in 1967, teen die gevoel van sy eenvoudige ouers. Sy pa het onder andere op muile groot wynbalies vervoer en toe hy bekend raak, het sy ‘n petrolstasie gekoop en sy ma het ‘n klein wyn-boetiek bestuur. (Sy vertolk later ‘n klein rolletjie in een van sy films as sy werklike ma met die sardoniese opmerking dat dit al is hoe sy ooit haar seun te siene gaan kry.)

Wyle Stephan Bouwer het my voorgestel aan sy Patty Diphusa-send-ups. Gek-verhale uit die boonste rakke.

In 1974 maak hy sy eerste film op ‘n Super 8-kamera en vertoon dit in kroeë. Die musiek speel hy op ‘n kasset en die jonge Pedro vertolk sommer al die karakters se stemme.

Hy het ook vele komiek-strippe geskryf en dikwels is daar in sy films ‘n komiek-strip-kwaliteit aanwesig wat verder dui op sy volledige ondermyning van serieuse kuns. Kamp. Dis sy aanslag.

Hy is ‘n prolifieke filmmaker wat dikwels politiek-korrektes erger met sy sosiale kommentaar en debunking van waardes. Feministe in Spanje haat hom sedert Tie me up! Tie me down! (1990) en met Women on the verge of a nervous breakdown (1988) maak hy sy internasionale deurbraak. (Toe hy ‘n X-rating ontvang in die VSA vir hierdie film was hy woedend oor die feit dat mense kon dink sy films is pornografies.

Hierna is gewaagde films gekodeer as NC17.) In Kika (1993) lewer hy felle sosiale kommentaar en op die mag van die massa-medium, veral TV. Sy erbarming met die lot van vroue en die siening dat hulle krag in ondersteuning opgesluit lê, loop reg deur sy oeuvre. Trouens, in een van sy films, is al sy vrouekarakters aanwesig. En dit is verfilm by sy huis met Victoria Abril, sy gunsteling ook daar. En Carmen Maura, die eerste groot ster in sy films wat hy later verruil vir Abril.


II.


All About My Mother. Directed by Pedro Almodóvar, Produced by Agustín Almodóvar, Michel Ruben.
Written by Pedro Almodóvar
Starring: Cecilia Roth, Marisa Paredes, Candela Peña, Antonia San Juan, Penélope Cruz.
Cinematography: Alfonso Beato
Editing by José Salcedo
Distributed by Sony Pictures Classics (USA)
Release date(s):  16 April 1999,  24 November 1999
Running time: 101 min.
Country: Spain/France
Language: Spanish
All Movie Guide profile
All About My Mother (Spanish: Todo sobre mi madre)


All about my mother (Todo sobre mi madre, 1999), is ‘n aangrypende film, oor ‘n vrou wie se seun sterf in ‘n ongeluk op die aand van sy verjaarsdag. Sy geskenk is ‘n toneelopvoering van A streetcar named desire in Madrid. Sy ontdek in sy dagboek sy wens om sy vader te ontmoet en die vrou begin ‘n reis na Barcelona om die vader, ‘n transvestiet en cruiser, in kennis te stel van die kind se dood.  Hier ontmoet sy ‘n swanger non, ‘n lesbiese aktrise en teen die agtergrond van Tennessee Williams se A streetcar named desire, ontdek sy “the kindness of strangers”. Lorca is eweneens ‘n sub-teks in hierdie ryk-geskakeerde film wat ‘n mens aan die hart gryp.

Almodóvar gebruik die metafoor van orgaanoorplanting om kommentaar te lewer op sy artefak. Sowel All about Eve as Truman Capote se Music for Chameleons en natuurlik, Tennessee Williams, gee ‘n groter implikasie aan die karakters se optrede. (Rosa se ma vervals die werke van Chagall.) Esteban, die seun, wou ‘n skrywer word, maar hy sterf in die toneel waar hy Huma se handtekening soek. Sy organe word vir ander gegee en sy moeder, wat sy vader jare gelede ontmoet het in ‘n amateur-produksie van A streetcar named desire, vertolk weer ‘n rol as Stella, Blanche Dubois se suster. Die vrou wat met haar kind die aggressiewe man verlaat. In die oorspronklike film vertolk Marlon Brando die rol van die emosioneel wrede Stanley Kowalski.

En hoe aanskoulik speel Almodóvar nie in op sy oerteks nie.  Elia Kazan se film – met Marlon Brando en Vivien Leigh – bly  ‘n meesterstuk in sowel spel as produksie. In All about my mother word die teks sober in aanbod getransporteer, dog agter die skerms woel dit:

Stella, verslaaf aan heroïen, en Blanche is betrokke by mekaar. Kowalski is gay in die werklike lewe en Blanche lyk soos ‘n drag queen

En natuurlik die gek humor. ‘n Transeksueel wat bely ek was eers ‘n trokdrywer, nou’s ek ‘n hoer – sonder om te blik of te bloos. Blanche word natuurlik deur Stanley ontmasker oor haar verlede.

In ‘n verdere draai in die verhaal blyk dit dat Esteban se vader, Lola, ook die vader is van Rosa se kind.

Penelope Cruz is die swanger non wat HIV-positief is, is aanvanklik onbewus van die feit dat Manuela ‘n kind had by Lola. Manuela neem die kind aan ná Rosa se dood en noem hom Esteban.

Na ‘n produksie van A streetcar named desire, vertolk Huma die rol van die moeder in Lorca se Blood wedding

Cecilia Roth is Manuela en Marisa Paredes vertolk Huma.

En hoe kan hierdie filmmaker nie altyd ‘n positiewe interpretasie aan die lewe gee nie, ten spyte van dikwels bykans onoorkomelike posisies in die samelewing.


III.

Bad education (2004) en Volver (2002) vind ek egter mindere films. Die obsessiewe skoonmaak van die grafte aan die begin, raak ‘n tam kommentaar op die aanwesigheid van die dood.

Sy gefladder met Penelope Cruz deug nie. Sy films raak voorspelbare melodramas wat aan die siel vreet (om Fassbinder se “fear eats the soul” aan te pas). Hy het inderdaad Penelope Cruz en die aanskoulike Antonio Banderas ontdek, wie se eerste onderhoude in gebroke Engels, fantasties-vermaaklik bly.

Pedro Almodóvar en Penelope Cruz

10 Werner Herzog (1942 -)  
(Werner Stipetic)

I

Die Kroaties-gebore Herzog word ten nouste geassosieer met die nuwe Duitse beweging. Daar is twee aspekte van sy filmkuns wat van besondere belang is, naamlik die blik van buite en sy vriendskap met die akteur Klaus Kinski met wie hy ‘n woonstel in sy jeug deel.

In 1999 verfilm hy hul verbintenis in ‘n dokumentêr, My fiend, Klaus Kinski, wat wys op die kreatiewe verbintenis tussen hulle. Een vinjet wat my altyd sal bybly, is Kinski se waansinnige gedrag tydens die verfilming van Aguirre, the wrath of God.

‘n Ou stamhoof, ‘n ekstra in die film, bied vir Herzog sy dienste aan om Kinski dood te maak, omdat hy kan sien die akteur is volledig buite orde.

By ‘n ander geleentheid wys Herzog vir jou op Kinski se gewelddadige gedrag, maar terselfdertyd bely hy dat sy films niks sou wees sonder Kinski se krag nie. Trouens, hy is van mening dat Hollywood net belang stel in akteurs wat hulle kan tem en beheer. Hy self het glo tydens ‘n verfilming vir Kinski met ‘n geweer rondgejaag toe die akteur nie na bevele wou luister nie.

Dit is egter so dat Herzog geen kortpaaie vat nie. Fitzcarraldo gee ‘n outentieke waarneming van die oerwoud en hier is geen digitale foefies nie. Trouens, hy het aanvanklik vir Mick Jagger in ‘n rol gehad en moes bykans ‘n jaar se footage weggooi, omdat Jagger ’n Rolling Stone-konsertreis moes meemaak. Jason Robards het siek geword en ‘n oorlog het uitgebreek tussen Peru en Ecuador. Daar was eweneens ‘n felle droogte en toe hy uiteindelik kon begin werk het aan die tweede projek, was daar gietende reën wat alles bemoeilik het.

Verder het ‘n giftige slang ‘n man gepik; ‘n ander een het verdrink.   

Een van sy tegniese assistente het sy hand beseer toe die boot teen ‘n rots geslaan het en moes ‘n twee-en-‘n-half-uur-lange operasie ondergaan sonder verdowing.

Hy is al die verwyt gemaak dat hy akteurs dryf. Hy het homself verdedig deur te sê dat akteurs nie na waarskuwings luister nie en dat die een wat verdrink het, nie kon swem nie.

Dit is egter so dat ‘n volledige geselskap gehipnotiseer is tydens die verfilming van Heart of Glass wat gedrewenheid van Herzog beklemtoon.  

Les Blank het ‘n dokumentêr gemaak oor Fitzcarraldo met die titel Burden of dreams.

II.

Werner Herzog steel op veertienjarige ouderdom ‘n kamera, studeer aan die München-filmskool en word saam met Wim Wenders, Volker Schlöndorf, Fassbinder en Margarethe von Trotte, een van die belangrikste komponente van die moderne Duitse filmkuns.

Nosferatu, Woyzeck, Die enigma van Kaspar Hauser bly ‘n mens altyd by.
Dan is daar Cobra Verde.

Soos sy fobie vir hoenders en hierom sy verfilming van hoenders (weliswaar aweregs) in sy films.

As jong man doen hy nutstake om sy obsessie met films finansieel te kon ondersteun.Vir sy groots-opgesette Fitzcarraldo ontvang hy die gesogte Cannes-prys. 

III.

Herzog se films is aweregs. Dit is nie maklike kykwerk nie en veral sy vroeëre films stel besondere eise aan die kyker. Op een dag kyk ek na drie vreemde films: The enigma of Kaspar Hauser, Even dwarfs started small en Heart of glass.

Die verhaal van Kaspar Hauser, wat afspeel in die negentiende eeu, is ‘n kragtoer in die ondersoek na die psige van ‘n buitestaander, Kaspar wat deur sy ouers weggegee is, omdat hy die tiende kind was.

Afgesluit in ‘n toring met net ‘n skrefie na buite, bestaan Kaspar, totdat hy ontdek word en deur mense versorg en opgevoed word. Hy word ook ‘n soort sirkusdier wat later met sy beperkte insig kommentaar lewer op die dwaashede rondom hom. Hy kan aanvanklik net sy naam op papier teken. Later plant hy sade in die grond sodat sy naam opkom.

Even dwarfs started small is waarskynlik een van die vreemdste films wat ek nog bekyk het. ‘n Klompie dwerge in ‘n institusie neem hul hoof gevange om wraak te neem teen sy rigiede orde. Hy self is ‘n dwerg en uiteindelik verwoes hulle die hele omgewing, sny sy telefoonlyn af, maak ‘n ou sog vrek en begin al gaande mekaar ook verinneweer.

‘n Motor draai doelloos en waansinnig in die rondte.

Die film is duidelik ‘n allegorie wat kommentaar wil lewer op grypsugtigheid, tirannie en waansin. Hoe eties was dit, wonder ‘n mens, om hierdie mense so uit te stal in ‘n film?

IV.

Die twee uitstaande Herzog-films bly Aguirre, the wrath of God (1972) en Fitzcarraldo (1981).
Eersgenoemde film is net ‘n uur en half-lank; die tweede ‘n lang film an twee en ‘n half-uur, maar beide kompromislose films wat die kyker se uithouvermoë beproef.

 In Aguirre, the wrath of God, word ‘n ekspedisie in 1560 ondersoek na aanleiding van die dagboek van Gaspar de Carvajal. Die soektog na die El Dorado word ‘n waansinnige reis ondermyn deur muitery, waansin en aanvalle deur Indiane op die vlot. Die koning wat gekroon word, ondermyn Kinski se bevel dat ‘n oortreder gehang moet word. Hy systap hierdie opdrag deur ‘n spesiale dag in Spanje hier van toepassing te maak.

Klaus Kinski is Aguirre, die Toorn van God. Monomanies dryf hy almal voort ten spyte van siekte, hongersnood en uitendelik is dit net hy en springende apies wat oor is terwyl hy fantaseer oor sy posisie as ‘n soort god wat in bloedskande ‘n volmaakte nageslag sal skep.

Hier kan die kyker nie anders as om met volledige bewondering na Herzog te kyk nie, wat te midde van ‘n onbeheerbare Kinski ‘n film gemaak het wat na soveel jare steeds ‘n kragtoer bly. Ook die geskiedenis van Pizzarro word goed ingebed met die verteller wat in ‘n stadium bely dat een van die soldate sy inkpot vir medisyne aangesien het.  

Fitzcarraldo. Is daar nog so ‘n film? Die verhaal van ene Fitzgerald (Fitzcarraldo) wat sy liefde vir opera in die Amasone wil bestendig. Die film werk met die opera-obsessie van die hoofkarakter wat na Enrico Caruso luister en sy droom najaag.
Twee kulture kom in botsing: die boot moes telkens stroomop vaar om die ravunes te vermy. Maar die Indiane glo dat die boot as ‘n offer gestuur moet word om die onstuimige waters stil te maak en een aand sny iemand die oeweranker los…
Die slot wanneer daar opera op die boot geluister word, is aanskoulik, net soos die meedoënlose óptrek van die boot uit die water oor die glibberige bergoppervlak.
Hierdie film lewer metakommentaar op Herzog se werskwyse: soos wat Fitzcarraldo daardie boot met eindelose geduld en harde werk oor die berg trek, so maak Werner Herzog films ten spyte van teenslae.

Hy is ‘n gedrewe, obsessiewe man wat in sy jeug van München tot Parys gestap het in ‘n pelgrimstog om Lotte Eisner se lewe te ‘red’’.

‘n Bekende film van hom heet dan ook Fata Morgana.

Werner Herzog

11. Alfred Hitchcock 

As Ingmar Bergman die taal van die filmkuns volledig begryp het met beelde wat psigiese toestande van karakters “vertaal”, dan het Alfred Hitchcock by uitnemendheid geweet hoe om ‘n verhaal te vertel gelaai met suspensie. Angs en onsekerheid.

‘n Onregverdige moordklag. ‘n Persoon wat toevallig vanuit ‘n agterste vertrek sien hoe ‘n moord gebeur. ‘n Moord in ‘n stort, terwyl die kyker magteloos toekyk hoe die vrou vermoor word. (Met die wete dat sy ‘n voortvlugtende is wat geld gesteel het.)

Voyeurisme en ekshibisionisme in ‘n absolute kontrak gesluit. Hitchcock, so is dit algemeen bekend, is as jong kind vir ‘n klein oortreding na die plaaslike polisiekantoor gestuur met ‘n briefie van sy vader. Hy is vir slegs tien minute opgesluit, maar regdeur sy oeuvre loop die bloudruk van hierdie insident: onnoembare angs vir ‘n klein ruimte.

Straf en boetedoening.

Hy is verder bekend vir sy kortstondige binnetrede in films. Soms ‘toevallig’: selfs ‘n gestremde wat op ‘n rolstoel sit en skielik opstaan en wegstap by ‘n trein…

Dis ‘n lekker speletjie: wanneer sien ons vir Hitchcock?

Hy het ‘n ryk geskakeerde oeuvre met vele hoogtepunte.

Van die belangrikste hogtepunte is The 39 Steps (1935), The lady vanishes (1938), Rebecca (1940), Spellbound (1945), Notorious (1946), Dial ‘M’ for murder (1954), Rear window (1954), The man who knew too much (1956), Vertigo (1958), North to Northwest (1959), Psycho (1960) en The birds (1963).

Sy invloed op alle misdaad-, speurverhale en thrillers kan aangestip word. ‘n Filmmaker soos Roman Polanski se Chinatown leun swaar op Hitchcock-tegnieke.
Wat maak Alfred Hitchcock, daardie groot balie van ‘n man, so ‘n verstommende filmmaker? Jare gelede het Camille Paglia in die New York Times geskryf dat daar ‘n soort liefdesverhouding tussen hom en sy aktrises via die kamera gebeur. Hierom die liefdevolle wyse waarop  hy Grace Kelly verfilm en toe hy, volgens Paglia, in sy latere jare buite die film óm met aktrises – dit was Debora Kerr en Tippie Hedren – begin flirteer het, was die erotiese spanning afwesig in die film. (Hierdie essay het ek gelees op ‘n trein in New York, en helaas, die bron kan ek nie meer opspoor nie.) Spellbound heet die titel van een van sy films tereg: hy hou die kyker se aandag en selfs by herkyke verloor hy nooit jou aandag nie.

In filmkursusse is psigoanalitiese interpretasies van sy films aan die orde van die dag. Die oog wat kyk na jou en jy die kyker, wat terugkyk (Psycho); die klein besonderheid wat ‘n sleutel word vir die groter geheel; die ontginning van die patologie van die alledaagse lewe; die kyker wat weet die man gaan vermoor word en tog geskok is wanneer Norman Bates die speurder vermoor.

Norman Bates in Psycho is deur Hollywood in reekse tot lewe geroep en in die her-make kan ‘n mens juis sien wat Hitchcock só goed maak: hy flap nie uit nie. Hy laai alles met suggestie en innuendo en laat die kyker sélf tot ‘n slotsom kom.

Die montage-tegniek in die storttoneel in Psycho is al deur vele filmkenners geanaliseer en uitmekaar geskroef. Die gil, die kap-beweging en die uiteindelike stilte. En soos met alle groot films gesteld, is dit al geparodieer deur Mel Brooks in High Anxiety (1978) en Brian de Palma het dit probeer kopieer, onder andere in Dressed to kill (1980). Trouens, Hitchcock is waarskynlik die mees geparodieerde filmmaker nog.

Nou onlangs kyk ek weer na twee bekende Hitchcock-films: The lady vanishes en The man who knew too much. 1938 en 1956 onderskeidelik.

Hoewel die tyd beide films ingehaal het, is die volgende aspekte wel belangrik vir die kyker: die ongelooflike vermoë om die aandag te hou al is die gegewe vir die moderne kyker ‘n bietjie dik vir ‘n riksdaalder of gewoon nou met moderne tegnologie, belaglik.

In The man who knew too much gebruik Hitch ‘n tandartstoneel om die kyker se angsvlakke te lig. Die kyker sien hoe die tandarts naderkom met ‘n tang en die lig skep paniek en angs vir sowel karakter as kyker. Wat Hitchcock hier regkry, is om te wys dat mense nie maklik sterf nie.

Camille Paglia het ‘n uitgebreide studie oor The Birds gepubliseer in 1998.

Alfred Hitchcock

Bronne:

John Russell Taylor: Hitch. Abacus, Londen.1978.

William Wolf & Lillian Kramer Wolf: Landmark Films – The cinema of our century. Paddinon Press Ltd, New York. 1979.


12. Orson Welles (1915 – 1985)

Orson Welles in 1937 © Carl Van Vechten.

I.

Rosebud.

Die kodewoord in Orson Welles se bekroonde en omstrede rolprent Citizen Kane.
Dit is ‘n film wat ‘n impak had op sowel die filmkuns as die lewe van Welles. In hierdie film word die grense tussen fiksie en werklikheid ondersoek met die gevolg dat die persoon op wie dit gebaseer sou wees, hom vervolg het.

Die familie van Hearst, die persmagnaat, het ook insinuasies rondgeslinger dat hy ‘n kommunis was en dit het tot die FBI en Edgar J. Hoover se ondersoeke gelei.
In 1947 verlaat hy Hollywood, onder andere weens die omstredenhed van die film en die meeste biogafiese besonderhede verwys na ‘n pre/ post-Citizen Kane-tydperk. Maar soos alle goeie kunswerke het die film ná die dispute verdwyn het, ‘n blywende invloed op die filmwese gehad. Ons dink hier aan die films van Jean-Luc Godard, Francois Truffaut en die nouvelle vague-beweging, die films van Hitchcock en al die speurfilms daarna.

Citizen Kane is immers ‘n soort speurverhaal met die soektog na die betekenis van die woorde van Kane se sterfbedwoorde:”Rosebud”. Die film ondersoek die verhoudings met twee vroue in sy lewe: die eerste huwelik wat bedreig word deur die affaire met die “sangeres” wat aan die groot klok gehang word, omdat Kane aspirasies het om ‘n politikus te word. (Die naam Rosebud was ook die troetelnaam vir Hearst se minnares en hierom was hy woedend omdat Welles intieme inligting oor haar en haar intieme dele wat Hearst so genoem het, bespot het.)

Hy word ironies genoeg opgehang deur sy eie beginsels, naamlik om die waarheid aan jou leserspubliek te vertel. Wanneer daar omkoopgeld ter sprake is om die sangeres se swak loopbaan te lanseer in sy koerant, verander alles dramaties.  
Die verteller, ‘n soort speurder, ondervra mense wat hom geken het en die film gee dus vanuit ‘n agterna-perspektief ‘n blik op ‘n rags to riches-bestaan. 

Die gedrewenheid van Welles wat as outeur-filmmaker gewerk het, kan vermeld word as ‘n belangrike invloed wat van hom uitgegaan het.

Die film is in 1941 gemaak en is oorspronklik American genoem en die filmteks is deur J. Mankiewicz geskryf wat met William Randolph Hearst ‘n byltjie te slype had.
Welles het egter verstandig opgetree en die magnaat verder uitgebrei sodat dit ‘n komplekser figuur sou wees en hiervoor het hy aspekte van Hearst, Howard Hughes en Joseph Pulitzer vermeng. Die Hearst-familie het egter hulself herken. Mankiewicz, ‘n alkoholis, het die teks geskryf saam met Houseman, sy toesighouer.

Waarom het die Hearst-familie opgetree? Waarskynlik weens die onvleiende portret van die minnares in die film.

En danksy die skinderrubriekskrywer, Louella Parsons, is al die skinderstories opgejaag sodat die Hearst-familie moes optree.

Die gevolg?

Filmhuise was bang om dit te vertoon en dit is eers in die vyftigerjare sonder vrees in bioskope gedraai.

Hollywood het in hierdie tyd skandale vermy – hierom moes akteurs ook hul private lewens verswyg (ons dink aan Rock Hudson, o.a.).

Ten spyte van al die omstredenheid, het die film 9 Academy toekennings ontvang. In 1996 is daar ‘n dokumentêr gemaak – The battle over Citizen Kane – en in 1999 is daar ‘n mockumentary vervaardig.

Hy was terloops met Rita Hayworth kortstondig getroud en een kind, Rebecca, is uit hierdie verbintenis gebore.

In 1949 vertolk hy ‘n rol in die onvergeetlike, The third man, gebaseer op Graham Greene se roman. Die regisseur was Carol Reed en wie sal ooit die Anton Karas-liedjie, “The Harry Lime theme” kan vergeet?

En die omstredenheid rondom die radio-opname van H.G. Wells se The war of the worlds toe mense gedink het Amerika word binnegeval deur marsmanne?
Luisteraars het gedink die nuusflitse in die radiodrama was ‘waar’: Marsmanne het New Jersey ingeval!

II.

Die film begin met ‘n verwysing na Coleridge se “stately dome” van Xanadu en die Kubla Kahn-gegewe. Kane is dan ‘n Amerikaanse Kubla Kahn. Die film maak van opskrifte gebruik sodat dit bykans soos ‘n koerantstorie verloop.

Orson Welles het dikwels in sy eie films opgetree en alle filmhandleidings verwys na sy magnetiese persoonlikheid. Hy kon nooit weer die sukses en omstredenheid van Citizen Kane ewenaar nie en sy loopbaan is gekenmerk deur uiterse hoogtepunte en geweldige laagtepunte.

En die Rosebud in die film?

Dit verwys na die magnaat se slee met die naam Rosebud daarop.

Wanneer sy Xanadu opgepak word, gooi iemand hierdie slee in die vuur en die sterwende man prewel “Rosebud”.

Die liefde wat hom sy hele lewe lank ontwyk het ten spyte van sy geweldige rykdom. (Sommige karakters in die film meen die Rosebud verwys na die begin waar ‘n sneeuhouertjie laat val word.)

Orson Welles se charismatiese persoonlikheid kom sterk na vore in die vertolking van Harry Lime in The third man, ‘n psigopatiese persoonlikheid, wat afgewaterde penisillien smokkel en tot mense se verminking lei.

Die Graham Greene-draaiboek fokus sterk op Wenen as die ruimte van die onbewuste met Harry wat telkens ondergrond gaan in bunkers en soos ‘n rot in die stad rondswerf. (Die opmerking uit Lime se mond dat die vredevolle Switserland net koekoekklokke opgelewer het, is glo deur Welles ge-ad lib.)

En die slot?  Waar Martins wag op Lime se vriendin is al deur soveel filmmakers gesteel: die man wat wag met die vrou wat net verbystap sonder om om te kyk.
Ons herken dit later in Truffaut se Story of Adèle H., ‘n filmmaker wat ‘n aangrypende huldeblyk oor Welles geskryf het.

III.

Welles was 25 toe die film gemaak is en daar is talle boeke oor hierdie film geskryf soos Pauline Kael se The Citizen Kane-boek. Dit is ‘n film wat die Hearst-familie wou verbied en geen publisiteit mog in die persmagnaat se koerant daaraan gegee word nie. In ‘n onderhoud vertel Welles ook dat ‘n polisieman hom eenkeer gewaarsku het om nie terug te keer na sy hotel nie. Daar was ‘n lokval: ‘n jong kaal meisie wag in sy kamer en as hy sou terugkeer, sou die pers gereed wees om hieraan berig te gee.
Daar was eweneens ‘n stryd oor die krediet vir die draaiboek. Met die jare word dit duideliker, veral uit Barry Norman se onderhoud op DVD oor die produksie van die film, dat Welles, ‘n gedugte teaterman etlike dele van die teks geskryf het.

Orson Welles vertel dat hy vir Hearst twee kaartjies aangebied het vir die openingsaand. Hy het dit nie aanvaar nie en Welles meen as hy Kane was, sou hy wel opgedaag het.

En die Rosebud was, as ons die mitologie glo, Hearst se bynaam vir sy geliefde se skaamdeel; en die gebruik van die naam in die film het by hom woede ontlok.


Bronne:

William Wolf & Lillian Kramer Wolf: Landmark Films – The cinema of our century. Paddinon Press Ltd, New York. 1979.

“Citizen Kane: The fragile giant” in Truffaut se The films in my life (Penguin, 1975/1978).


13. Alain Resnais (1922 - )

I.
                                                                                     
Private fears in public places, oftwel Liedere wat my lewe verander het, is die jongste film van Alain Resnais. Dit verskyn in 2006 as Coeurs. ‘n Jong verloofde egpaar soek na ‘n nuwe woonplek: hy is tussen werke en sy gefrustreerd met sy toestand. Dit veroorsaak spanning tussen hulle en die film ondersoek hierdie verbintenis en hul interaksie met die eiendomsagent en op sy beurt sý verhouding met sy vroulike kollega, wat op haar beurt weer in interaksie tree met die kroegman (by wie Daniel, die werklose drink) wie se seniele vader sy na-uurs oppas. Daniel, weer, raak onwetend betrokke by die agent se suster in ‘n koue, sneeuende Parys.

‘n Soort Franse Altman (Short Cuts) as u wil: hoe mense se aanrakings met mekaar ‘n hele konstellaat van uitwerkings op ander het…

Alle verhoudings hier is gedoem: die seniele vader sterf, die agent bly onvervuld kyk na die porno-tapes wat sy kollega vir hom aanbied; die suster se relasie met Daniel loop op niks uit nie…

Die film is uiters gestileerd: asof ons na ‘n drama kyk met die sneeu wat lyk asof dit deur ‘n masjien vervaardig is. Die skote word van bó geneem wanneer die paartjie die woonstel binnegaan; asof die filmmaker wil beklemtoon dat jy na ‘n film kyk. Dit is nie die lewe nie: dit is fiksie. ‘n Mens dink eweneens aan die voortreflike Last year at Marienbad (1961), waarin die man X die vrou A ontmoet by ‘n spa en haar oortuig dat hulle vantevore ‘n verhouding gehad het.

Die film is ‘n strukturalis se droom met al die patrone wat die film skep soos met ‘n skaakspel. Die kyker moet self besluit wat leuen en wat waarheid is.

Hitchcock was glo uiters gesjarmeer oor die silhouet van hom in hierdie film (wat ek nie kon vind nie). Die film is gebaseer op Alain Robbe-Grillet, ‘n eksponent van die nouveau roman, se bekende teks.

Resnais was saam met Truffaut en Godard kortstondig deel van die sogenaamde nouvelle vague-beweging.

II.

Hiroshima Mon Amour, die novelle van Marguerite Duras het in 1959 verskyn en is deur Resnais vervaardig in ‘n aangrypende rolprent.

‘n Franse aktrise besoek Japan om ‘n film oor vrede te maak en hier ontmoet sy ‘n Japannese argitek met wie sy ‘n liefdesverhouding aanknoop. Die film analiseer die effek van oorlog op die Japannese en Franse kultuur. Die swart-en-wit-aanbod maak dit gestileerd.

Emmanuelle Riva en Eiji Okada vertolk die hoofrolle. In my novelle is daar Duras se sinopsis en aantekeninge vir die verfilming, die filmteks en foto’s uit die rolprent wat belangrik is om die wisselwerking te sien tussen roman- en filmteks. Wat word uiteindelik uitgelaat? Hierdie film/ roman is al ‘n studie oor liefde en oorlog genoem.

‘n Onbekende Franse aktrise, in die somer van 1957, vertolk ‘n rol in die rolprent, Peace. Die verhaal begin op die dag vóór haar vertrek na Frankryk.

Daar is egter een toneel wat nog geskiet moet word, naamlik haar ontmoeting met ‘n argitek. Dit word nooit aan die kyker onthul nie en volgens Duras is dit belangriker om te fokus op die effek wat die verhouding het.

Ons sien aan die begin van die film verwronge liggame en die lywe van die liefdemakende karakters. Hulle praat oor Hirosjima en hy korrigeer haar waarnemings. Volgens Duras illustreer hierdie toneel die onvermoë om oor Hirosjima te praat. Die Hirosjima-monument word ‘n monument van leegheid en word selde gewys in die film.

Teenoor die verwoestende atoomoorlog, staan die liefdesverhouding van twee getroudes.

Vir Duras is die betekenis van hierdie uitsiglose verhouding in Hirosjima die volgende: ”…but make this horror rise again from its ashes by incorporating it in a love that will necessarily be special and ‘wonderful’, one that will be more credible than if it had occurred anywhere else in the world, a place that death had not preserved” (9)

Tipies van so ‘n kortstondige affaire besluit die vrou om die man nooit weer te sien nie. Tog sien die geliefdes mekaar weer – omdat die slottoneel nog geskiet moet word. Hy kyk met begeerte na haar en die film eindig met ‘n parade waaraan almal deelneem.

Hy neem haar na sy huis. Hulle besef dat hulle albei gelukkig in hul onderskeie lewens is. Sy praat oor haar jeug in Nevers. Hulle wag in ‘n kafee. Sy moet uiteindelik vertrek. (Daar is ook slim woordspelings met die begrip Nevers…)
Dan onthul sy aan hom dat sy in 1944 ‘n liefdesverhouding met ‘n Duitser gehad het toe sy twintig was en hiervoor is sy gestraf. Haar hare is afgeskeer en sy is in ‘n kelder gegooi. Alleenlik toe die bom op Hirosjima gegooi is, kon sy weer haar gesig in die strate wys en bevryd wees. (Die Duitser egter, is later doodgeskiet.)

Weer vlug sy van die Japannees en sy dink aan haar ongelukkige verhouding met die Duitser en die verbintenis tussen liefde en oorlog.

Die Japannees vra haar om te bly. Sy weier.

Duras skryf dat dit ‘n hopelose, uitsiglose liefde wat soos die Nevers-liefde in die kiem gesmoor is. Daarom is dit vergete en juis hierom durend. Hulle het niks meer om vir mekaar te sê nie. Maar vroegoggend keer hy terug na haar hotelkamer. Niks gebeur nie.

Geen beloftes meer nie. Geen verdere gebare nie. Niks meer nie. Woordeloos.

Volgens Duras word hulle die plekke, Nevers en Hirosjima, onderskeidelik. Die film eindig met haar wat sê:”Hirosjima, dit is jou naam.” Die werklikheid is alreeds opgebou deur dit wat ons gelees, gesien of ervaar het in oorlog of liefde.

Vir die kyker wat Japan al besoek het, word die film ‘n besondere blik op Hirosjima.
Of ‘n skrywer vir die private emosie so ‘n ramp of land as metafoor of simbool mag gebruik, word deur die twee tekste genuanseer: ons leef in die skadu van die atoomoorlog wat ons almal geraak het.

     
Bronne:

Marguerite Duras: Hiroshima Mon Amour. Grove Press, New York. 1959/1961.

Belangrikste films:

L'aventure de Guy (1936)
Schéma d'une identification (1946)
Ouvert pour cause d'inventaire (1946)
Visite à Oscar Dominguez (1947)
Visite à Lucien Coutaud (1947)
Visite à Hans Hartnung (1947)
Visite à Félix Labisse (1947)
Visite à César Doméla (1947)
Van Gogh (1947)
Portrait d'Henri Goetz (1947)
Le lait Nestlé (1947)
Journée naturelle (1947)
La bague (1947)
L'alcool tue (1947) (as Alzin Rezarail)
Van Gogh (1948)
Malfray (1948)
Les jardins de Paris (1948)
Châteaux de France (1948)
Guernica (1950/I)
Gauguin (1950)
Pictura (1952)
Les statues meurent aussi (1953)
Night and Fog (1955)
Toute la mémoire du monde (1956)
Le mystère de l'atelier quinze (1957)
Le chant du Styrène (1958)
Hiroshima mon amour (1959)
L'année dernière à Marienbad (1961)
Muriel ou Le temps d'un retour (1963)
La Guerre est finie (1966)
Loin du Vietnam (1967)
Je t'aime, je t'aime (1968)
Cinétracts (1968)
L'an 01 (1973) (New York scenes)
Stavisky (1974)
Providence (1977)
Mon oncle d'Amérique (1980)
La vie est un roman (1983)
L'amour à mort (1984)
Mélo (1986)
I Want to Go Home (1989)
Contre l'oubli (1991)
Gershwin (1992)
Smoking/No Smoking (1993)
On connaît la chanson (1997)
Pas sur la bouche (2003)
Cœurs (2006)


14 Jean-Luc Godard (1930 - )

I.                                                                                          
Jean-Luc Godard, Claude Chabrol en Francois Truffaut, o.a. verteenwoordig die nouvelle vague (new wave) in die filmkuns.

Godard, wat aan die Sorbonne gestudeer het, se films word deur ‘n sterk politieke boodskap gekenmerk. Hy lewer kritiese kommentaar op die grypsugtige gemeenskap. Daar is dikwels twee vlakke in sy films: ‘n storielyn wat onderbreek word deur ‘n implisiete outeur wat kommentaar lewer op sy karakters se nihilisme, die politiek van die dag en ‘n verbruikerskultuur wat mense tot kommoditeite reduseer. Die films werk met ‘n sterk marxistiese aanslag en gebruik beginsels van die strukturalisme om die verhaal te ‘orden’.

Godard se films spreek van ‘n intellektuele aanslag, soos die vroeër films van Bernardo Bertolucci, soos Last tango in Paris.

Dit is eweneens bekend dat Godard ‘n bewondering vir Brecht gehad het en die beginsel van die ‘vervreemdingseffek’: jy skep ‘n situasie en dan staan karakters buite dit en lewer kommentaar op die ervarings/ideologie.


II
                                                                                            
In sy film Masculin Féminin (1966) gebruik Godard die tegniek van binariteit wat tydens die sestigerjare hoogmode was. Die film lewer felle kommentaar op die Viëtnam-oorlog (die kinders van Marx en Coca Cola) en is ‘n film oor ‘n film. Ons bly bewus van die filmmaker se blik en die film word episodies vertel met groot swart en wit syfers, onderskrifte en boonop kyk die karakters in ‘n stadium na ‘n film – wat hulle nie behaag nie. Ons dra almal ‘n film in ons, mymer die hoofkarakter wat per ongeluk sterf, maar net sowel kon dit selfmoord wees. Die hele film het verwysings na selfmoord, nihilisme, uitwissing: as jy een mens dood maak, is dit moord; as jy ‘n duisend dood maak, is dit oorlog.

Brigitte Bardot maak hier ‘n draai en Francoise Hardy sing in die agtergrond…
Alles werk deur middel van nabootsing: karakters neem foto’s van hulself in hokkies en as die lewe ‘n film is, het jy geen demokratiese beheer oor jou besluite nie.
Die seksuele rewolusie kom ter sprake en tog word die vroulike hoofkarakter, ‘n sangeres van sopperige liedjies, swanger. Paul, daarenteen, spuit slagspreuke op mure en sterf in ‘n ongeluk.

Waarskynlik is Breathless, 1960 – wat ‘n fletserige Amerikaanse weergawe beleef het – Godard se bekendste film met Jean-Paul Belmondo en Jean Seberg in die hoofrolle.
A bout du souffle – hier speel toeval ‘n rol in die film waarvan Truffaut mede-skrywer was. Ons sien onder andere ‘n plakkaat van Humphrey Bogart waarop die hoofkarakter homself modelleer.

‘n Moord word aan die begin gepleeg in Marseilles deur Belmondo, ‘n egte dief en swendelaar.

In een toneel beroof hy ‘n man in ‘n toilet en maak hom vermoedelik dood. Daar is geen berou of skuldgevoel nie.

Die polisie soek na Michel Poiccard (Belmondo), maar hy is ‘n verkleurmannetjie, volledig psigopaties en steel nuwe motors – gewoonlik ’n oopdakkie – sonder om te blik of te bloos. Hy raak betrokke by Patricia Francini (Seberg), ‘n Amerikaanse student wat in Parys studeer.

Sy doen werk vir ‘n uitgewershuis, verkoop ‘n Amerikaanse koerant op straat en Godard gebruik haar as ‘n voertuig om kommentaar te lewer op die verhouding tussen Parys en Amerikaanse letterkunde.

Belmondo word uiteindelik gevang en verraai deur sy meisie. Hy sterf met die volgende woorde op sy lippe:
“Jy is ‘n teef” (“Degeulasse”).

Word geweld/die dief deur Godard geromantiseer?

Of meen hy dit is wat gebeur wanneer ‘n gemeenskap ekstreem-materialisties raak?
Waarom raak sy vroulike hoofkarakters swanger?

In Weekend (1967) bly een toneel altyd onthoubaar: ‘n opgedamde hoofweg vol motors, wrakke, dooie mense in ‘n film wat erotiek, die verbruikersgemeenskap, die rol van die hoofweg en kannibalisme analiseer.

Marxistiese slagspreuke word regdeur die film gehoor (‘n filmteks wat volgens die verteller op ‘n komposhoop gevind is!) en wanneer daar ‘n botsing is, roep die kapitalistiese vrou geskok uit dat sy onsteld is oor haar Hermes-sak wat brand. Op ‘n ander keer word ‘n lyk se duur klere bewonder.

Die faux raccord of die slegte verband tussen mens en natuur word tot die spits gedryf wanneer daar aangehaal word uit Lewis Carroll, ‘n vark geslag word en mense smul aan lyke. Boonop word lesing afgesteek oor die potsierlikheid van die seekoei.

Ook Freud se Totem and Taboo word hier gebruik om die ritueel van moord en kannibalisme te verduidelik. Regdeur is daar aanwysings van ‘n implisiete outeur wat ironiese kommentaar lewer op ‘n gemeenskap wat meer omgee vir hul motors as hul medemens.

Godard is ‘n outeur-filmmaker wat glo aan die lae budget-film en die outentieke aanslag. (Chabrol was sy tegniese assistent met Breathless.)

Sy films bly steeds opwindende, intellektuele analises van die politieke en morele diskoerse sonder om die storie-lyn te negeer en hierdie kyker steeds opwindende kykmateriaal.     

Godard se invloed was wyd: The Graduate, Bonnie and Clyde, Easy Rider, die films van Nicolas Roeg, en al die films in die sestigerjare waarin die woede teen die sisteem verwoord word, beklemtoon die Wolfs.

Aweregs en avant-garde.                                                  
                                                                                      


Bronne:

Pauline Kael: Kiss Kiss Bang Bang. Mario Boyers, NY. 1965.
William Wolf & Lillian Kramer Wolf: Landmark Films – The cinema of our century. Paddinon Press Ltd, New York. 1979.


15. Deep throat 1972

I.

Kan pornografie kuns wees?

En wat is pornografie presies? Is daardie moment wat Marlon Brando anale seks het met sy vroulike hoofkarakter, vertolk deur Maria Schneider, in Last tango in Paris, pornografie?                                               

Tog bestaan daar konsensus dat Deap throat, wat nes Last tango in Paris in 1972 verskyn het, pornografie is.

My eerste besoek aan New York. 42nd Street. Die Groot Appel waar alles mag en kan gebeur. Ek kyk na die tweeluik Deap throat en The devil in Miss Jones. Nogal bemark deur Andy Warhol op die plakkaat wat dit sterk aanbeveel.

Beide hierdie films is porn, maar parodieer die aard van die genre. Daar is eerstens ‘n verhaallyn, ten minste toneelspel en implisiete sosiale kommentaar.                                                                                        

Anders as die res van die sleazy-snert waar manne met reënjasse uitdrukkingloos sit en staar na vroue op hoë hakke. (En waarom is daar altyd stilettos in hierdie films? Is dit om die bene beter te vertoon?)

The devil in Miss Jones se verhaal is soos volg: Ms. Jones se lewe as oujongnooi is doelloos, grys en sy pleeg selfmoord in die bad. Dan kom sy aan die Oorkant aan en ‘n Petrus-figuur gee haar nog ‘n kans voordat sy verdoem word tot die hel.

Wat begeer sy?

‘n Lewe van wellus.

En dan word die kyker vermaak met al haar vergrype en uitsonderlike aptyt.
Gaan sy uiteindelik hel toe?

Die hel is hier ‘n ruimte waar geen orgasme bestaan nie en die rol word vertolk deur Georgina Spelvin in ‘n film wat ‘n opvolg beleef het. Met slim opmerkings van Marie-Antoinette: ”The last time I gave head was in 1793”. (Filmhandleidings soos TimeOut verwys na haar spelvermoë.)

Die verhaal van Deep throat handel oor ‘n vrou (vertolk deur Linda Lovelace) wat net deur fellatio ‘n orgasme kan bereik, omdat haar klitoris in haar keel sit.
Die filmmaker was haar eggenoot en Lovelace het jare daarna bely dat sy gedwing was om die film te maak.

Kyk ons nóú daarna, kan ‘n mens die blou merke op haar vel sien…
Sy was ‘n tragiese figuur, wat aanvanklik die roem rondom die film geniet het, en later religieus geword het, waarskynlik in ‘n soort boetedoening.


II

Dit bly ‘n baken in die filmkuns waaroor daar uitgebreid geskryf word in Landmark films (1979). (My TimeOut vermeld die film nié.)

Die woord seksploitasie word mode in hierdie tyd. Dit is Watergate. Morele en seksuele norme tuimel, aldus William en Lillian Wolf.

Sensuur word opgehef en almal mag na hierdie film gaan kyk.

Wat vir die een pornografie is, mag vir die ander kuns wees, is die uitgangspunt van hierdie essay.

Pornografie word ge-X. En hieraan kleef ‘n stigma.

Hierdie film, aldus die Wolfs, is op sy dag as porno chic beskryf in die New York Times.

Tog het die film die wind van voor gekry en is dit selfs in NY verban deur Regter Tyler. Ten spyte hiervan het Linda Lovelace by Cannes opgedaag in ‘n Viktoriaanse uitrusting en is sy op vele TV-talk shows in- en uitgevra. En opgestuur.

Haar outobiografie heet: Inside Linda Lovelace.

Nou is daar geen buite-teks nie, het Derrida gewaarsku en vandag wanneer ‘n mens na hierdie film kyk, sien ‘n mens die blou kolle raak en dink jy aan die prys wat Me. Lovelace betaal het vir hierdie rol.

Haar lewe is aan die groot klok gehang, terwyl karakters in The Story of O verdwyn het. Soos vele ander porno-sterre.

En dit is glo waar dat die hoofster in Emmanuelle, Sylvia Kristel, getroud was met die Vlaamse skrywer Hugo Claus.

Wat is soft porn? Wat is hard core? Hoekom beskou ons Deep throat as sodanig, terwyl ons toekyk hoe Donald Sutherland en Julie Christie in Don’t look now wél intiem raak?

Hoekom aanvaar ons eweneens ontoelaatbare momente in Kubrick se Eyes wide shut tussen Nicole Kidman en haar toenmalige eggenoot, Tom Cruise?

Dalk het Landmark films gelyk: dit is wanneer die liggaam meganisties en tot blote objek verklaar word, dat ons aanstoot neem.

Hierom was Shortbus van John Cameron Mitchell vir my gewoon vervelig en pretensieus. Al is daar snaakse oomblikke soos ‘n man wat met ‘n afstandbeheer vir sy vrou ‘n orgasme gee.

Dalk verskaf Caligula (van Tinto Brass in 1979) met Malcolm McDowell, Peter O’Toole, Helen Mirren en John Gielgud) die redes waarom Gore Vidal niks met die film te make wou hê nie.

Dit laat niks aan die verbeelding oor nie.

Bronne:

William Wolf & Lillian Kramer Wolf: Landmark Films – The cinema of our century. Paddinon Press Ltd, New York. 1979.


16. Shortbus

Regisseur: John Cameron Mitchell (2006)

Hierdie film van die bekende regisseur John Cameron Mitchell wat bekendheid verwerf het met Hedwig and the Angry Inch, is ‘n ondersoek na die seksuele en die uitbeelding daarvan. Die werktitel was The Sex Film Project. Die teks is geskryf deur die akteurs na aanleiding van hul skermutselinge in dit wat as die Lusty Loft Parties tipeer kon word.

Seks kan baie vinnig gewoon banaal word vir die toeskouer. Of snaaks. Of niks. Maar seks soos geld, laat die wêreld draai.En hierom sal ‘n begeesterde, aweregse filmmaker waarskynlik wil kyk hoe die vurk in die hef steek.

Ek het Deep throat gesien en gelag. The devil in Miss Jones ervaar en gegrinnik.

Alles is steeds geldig wat  Susan Sontag en Camille Paglia oor pornografie geskryf het. Sontag verwys na die pornographic imagination en Paglia bedryf ‘n seksmuseum in New York en apploudiseer die aweregse seksuele fantasie.

Die verhaal handel oor die soeke na die groot O. Twee man, Jamie en James, wil hul verhouding oopmaak, besoek ‘n seksterapeut wat egter nie ‘n orgasme kan kry nie. Saam beland hulle by die put van genot in New York waar al posisies van seksbelewenisse ontgin word.

James is ‘n regte narcisis, en voormalige rent boy: hy neem elke oomblik van homself af om vir sy vriend te verduidelik waarom hy nie meer wil leef nie. (Dat hy ‘n pruik dra, help ook nie juis vir die suspension of disbelief nie). Boonop word hy deur ‘n voyeur afgeneem uit die oorkantste gebou. Hitchcock se Rear window is dalk die interteks hier?

Dit is NY na 9.11 en ‘n mens kan hoor uit die gesprekke van die impak van hierdie dag op die gemoed van mense. ‘n Dominatrix klits ‘n man, die seksterapeut kry ‘n elektroniese eier wat haar sal help om genot te kry – behalwe dat haar eggenoot die afstandbeheer in die shortbus verloor en sy verby haar kragte gestimuleer word. J&J kry ‘n nuwe jongeling, wat die James se depressie verlig, ofskoon ons later moet sien hoe hy probeer selfmoord pleeg.

Die film probeer snaaks wees: is die rede vir die sadis se depressie werklik omdat sy nie haar naam kan uiter nie? Dat dit Jennifer A is?

Ed Koch, die voormalige burgemeester, is die kolporteur van die waaansin wat jy beleef. Jy kom na NY om vergifnis te kry, meen hy. En: as hy dalk destyds uit die kas geklim het, sou hy iets meer daadwerkliks aan Vigs kon doen, het sy kritici gemeen.
Dit is waarskynlik Koch se coming out party, maar ‘n mens bloos vir sy part. Net soos vir die akteurs wat nie skroom om werklik mekaar te bevoel, besuig of te betas nie.

Wil jy egter kyk hoe ‘n man homself afsuig soos ‘n hond?

Of eksplisiete seks sonder ‘n werklike storielyn sien? Van ‘n kragonderbreking in Manhattan wat skielik deur die mag van die seksuele drif aangeskakel word?
Natuurlik probeer die film antwoord op Deep throat en die soeke na die orgasme wat alleen oraal gevind kan kry en wanneer die seksterapeut wel vreugde vind, dan gaan al die ligte aan in New York. Daar is parodiese verwysings na televisie-sitkoms se uitbeelding van gay-mense, maar dit word nie skerp genoeg op sy kop gedraai nie.
Soms word ‘n kondoom uitgehaal as ‘n voorsorgmaatreël. Was almal op dwelms om sulke gekke van hulself te maak, wonder ‘n mens, terwyl ‘n paar acid-koppe buite staan en rook.

Die film kry ‘n minus 1 van my.

Roland Barthes het in Die plesier van die teks (1973) tereg verwys na die erotiese oomblik daar waar die kledingstuk gaap en iets aan die verbeelding oorlaat.

My grootste aanklag is dat die film oer-vervelig is. Kyk liewers weer na Caligula.
Waarskynlik het die film gesneuwel omdat die regisseur toegelaat het dat almal teksskrywers word. En te lag vir hul eie ou grappies.


17. Bernardo Bertolucci (1941 -)

Die seun van ‘n digter, vriend van die vreeslose Pasolini en ‘n uitgesproke Marxis. Dit is hoe ‘n mens Bertolucci sou kon opsom met sy voortreflike aanvoeling vir die filmkuns. Sy intellektuele aanslag is oorbekend. In The dreamers lê daar ‘n eksemplaar van ‘n Susan Sontag-teks langs ‘n karakter se bed.

I

The sheltering sky (1990) vertel die verhaal van drie mense: ‘n egpaar en die vrou se minnaar en hul besoek aan Noord-Afrika. (Gedeeltes is in Marokko verfim.)
Die verteller in die film is die skrywer van die verhaal, Paul Bowles, wat kommentaar lewer op die ekspedisie wat sentreer rondom die verskille tussen ‘n toeris (wat veilig reis) en ‘n reisiger (wat die veilige bakens van die bekende verlaat).
“Is jy verlore?”, vra die verteller ten slotte aan die vrou na haar terugkeer.
En merk die verteller op, ons dink ons lewe vir altyd, tog is daar sekere ervarings wat net sovéél keer kan gebeur: soos die sien van die volmaan…

Die film is ‘n kragtoer, want sowel die vrou as die man word getransformeer: sy reis saam met Arabiere na sy dood en raak betrokke by ‘n Arabiese man. Dit is haar minnaar wat dieselfde bly en onaangeraak is.

Dit is die verhaal van Kit en Port Moresby wat deur Afrika reis met hul vriend Tunner. Vertolk deur Debra Winger en John Malkovich met Campbell Scott as die minnaar. Die paar probeer hul verhouding red deur te reis. Hulle is twee kunstenaars uit New York en Tunner lei ‘n lewe van ryk, uitspattige partye. Daar is naaktonele in die film: die kyker sien vir sowel Winger as Malkovich in hul weerloosheid. Bertolucci moet ‘n bepaalde vertroue met vele van sy akteurs kan skep om hul só blootgestel te kan weergee: ‘n mens dink hier aan die intieme tonele in Last tango in Paris waar Marlon Brando en Maria Schneider in daardie beroemde sekstoneel.

Tydens haar inisiasie as Arabiese vrou leer die man vir Winger met tekens hoe sy moet optree.

Die film wentel rondom opposisies:

New York teenoor Noord-Afrika;
‘n affaire teenoor prostitusie;
Westers teenoor Arabies.

Die landskaptonele in hierdie film is asembenemend.

Die film dekonstrueer die reisigers se vooropgestelde idees oor Afrika. Hul poging om hul verhouding te red, misluk. Hulle slaap in aparte kamers en die verskille word op die spits gedryf met hom wat wegvlug en in ‘n nag met ‘n prostituut verkeer. Tydens sy siekte versorg sy hom in ‘n buitepos waarvan die vensters uitgewaai is en sy plaas later klere (sy hemp) oor die venster om hulle te beskut. (Die man se klere terloops word al hoe vuiler en slordiger; die minnaar, die toeris, se klere bly netjies.)

Tydens haar tweede reis, sny sy met ‘n skêr ontwerpe uit haar dagboek wat sy ophang as versiering.

Die sheltering sky is ‘n ironiese titel, ‘n opmerking wat die man maak ná ‘n intieme toneel tussen hom en sy vrou.


II

Bertolucci het veral bekendheid verwerf met sy toenmalige “skokkende” Last tango in Paris (1973). My persoonlike gunsteling bly The little Buddha (1993) en The dreamers (2003). 1900 (1976) is ‘n sterk politieke film, ‘n onderwerp waarvan Bertolucci nie wegdeins nie.

Die politieke en die spirituele is twee belangrike dimensies in sy werk. Trouens, ‘n mens kan hom as ‘n groot filmmaker beskou júis om die uiteenlopende temas en aanslae in sy filmkuns.

Last tango in Paris verskil in aanslag van The little Buddha.

Eersgenoemde is ‘n film oor die tango, die dans van hartstog. ‘n Man ontmoet ‘n meisie net ná die selfmoord van sy vrou, Rosa.

Hulle woon in ‘n sleazy hotel, haar hotel, kennelik ‘n hotel vir hoere. Hy wil nie die meisie se naam weet nie en in die doellose, seksuele ontdekking sien die kyker die wreedheid en koestering wat hy vir haar voel. In ‘n ontstellende toneel het hy anale seks met haar en benader haar soos ‘n dier. By ‘n ander geleentheid dwing hy haar om hom anaal te betas, terwyl hy haar vuige taal toevoeg. Terselfdertyd is sy besig met ‘n film, ‘n soort realiteitspel, met ‘n vriend waarin hulle speel dat hy haar die hof maak. Die twee stories staan in jukstaposisie tot mekaar. Sy keer terug na haar ryk verlede en speel met ‘n vuurwapen van haar pa.

Haar vader het haar leer skiet en die kyker besef wat die einde gaan inhou…
Humor afgewissel met banale tonele en deernis en in die hande van ‘n mindere fillmmaker sou dit kon ontaard in batos.

In waarskynlik een van die mees pynlike tonele in die filmkuns neem die man afskeid van sy vrou in haar kis. Uitgestal tussen blomme, vloek én besing hy haar. Hy het geweier dat sy Katolieke mis moet hê, omdat sy ongelowig was. Was hy dalk die oorsaak van haar selfmoord?

In ‘n hilariese danstoneel teen die einde raak Marlon Brando en Maria Schneider dansend deel van ‘n tango-kompetisie.

Hy abba haar en gooi haar oor die vloer tot die woede van die beoordelaar wat hulle wegjaag.

Dit is hul laaste tango. Hierna, in ‘n dramatiese oomblik is hul verhouding verby. Weer eens is daar ‘n klein Bertolucci-aanslag: die man, ‘n Amerikaner, plaas sy kougom onder die reling. 

Sy weet nie wie hy was, bely sy ten slotte aan haarself.

Dieselfde Bertolucci skep die verruklike The little Buddha. Die soeke na die reïnkarnasie van die afgestorwe Lama Dorje, die meester van Lama Norbu wat na hom soek. Om die soektog vir die Westerse kyker te vergemaklik, kry Jesse, die kind uit Seattle, ‘n prentjie- boek oor die lewe van Siddharta, vertolk deur Keanu Reeves as ‘n beeldskone heilige wat tot insig kom. Die ryk prins sien ellende en armoede en besef sy vader het hom beskut hiervan.

En hy leer dat ons van die lewe moet wees om tot helderheid (enligtenment) te kom.
Jesse is ‘n seuntjie van Seattle. Sy ma (Bridget Fonda) glo die Boeddhistiese soekers dat haar kind die opvolger van die lama kan wees – humoristies lama Thunderbolt -, maar die pa (Chris Isaac, die sanger) is ingenieur, skepties en word eers oortuig na die dood van sy vriend. Hy gaan saam na Bhutan, waar dit blyk dat daar twee ander kindertjies is wat eweneens inkarnasies is.

Dit word vir die Westerse kyker so verduidelik: wanneer ‘n koppie breek, is dit een houer wat tee hou.

Die liggaam is die koppie; die tee die gees wat onbeperk en vry is…

Daar is eweneens humoristiese tonele hier: die spanning tussen die kleintjies oor wie die opvolger is en Jesse wie se petjie gedra word deur die seuntjie, Raju, uit Katmandu.

Skote uit Seattle word geplaas teenoor tonele in Bhutan en Katmandu.

Dit is ‘n film dat jy erbarming leer deur een te word met iemand anders se lyding.

La commare secca (1962)
Before the Revolution (Prima della rivoluzione, 1962)
La via del petrolio (1965)
Il Canale (1966)
Partner (1968)
Amore e rabbia (1969, episode "il Fico Infruttuoso")
Inchiesta, L' (1971) (TV))
La strategia del ragno (Spider's Stratagem, 1970)
Il conformista (The Conformist, 1970)
Ultimo tango a Parigi (Last Tango in Paris, 1973)
1900 (Novecento, 1976)
La Luna (Luna, 1979)
La tragedia di un uomo ridicolo (1981)
L'ultimo imperatore (The Last Emperor, 1987)
The Sheltering Sky (1990)
Little Buddha (1993)
Stealing Beauty (Io ballo da sola, 1996)
Besieged (1998)
Ten Minutes Older: The Cello (2002)
The Dreamers (2003)


18. Francois Truffaut                                                       

I

The films in my life (1975 / 1980) bewys onomwonde dat ‘n filmmaker aan sy films van vriende geken sal word. In hierdie boek bely Truffaut watter films ‘n invloed op sy lewe en werk gehad het.

Uitstaande Truffaut-films is The four hundred blows. Jules and Jim. Stolen kisses. The story of Adèle H. Onthoubare films met ‘n eg-menslike aanslag.

Boonop kan hy ‘n storie vertel.

Truffaut is ook akteur en in Close encounters of the third kind vertolk hy ‘n belangrike rol.


II

Les films de ma vie is ‘n moet vir die filmliefhebber, omdat jy hierin die hand sien van ‘n kenner wat as’t ware uit die redigeerkamer praat oor ander se werk en lewens, sy ervarings met hulle. Oor sy ontmoeting met Hitchcock skryf hy hoe hy aanvanklik spottend was en eers later meer gemoedelik geraak het teenoor hom.

Hierdie boek bestaan uit resensies en mini-essays oor mede-filmmakers se films en dit sit vol wyshede. ‘n Afkeur aan die Oscar-masjinerie, die Groot Gebaar, die traps for fools, soos hy dit stel (87).

Hy het begin deur vir Cahiers du Cinéma te skryf en die leser is hier in die hande van ‘n ónbetwiste kenner.


III.

Daar is vele uitstaande essays in hierdie bundel. Vir my persoonlik is die bydrae oor Luis Bunuel, die Spaanse filmmaker, ‘n besondere een waarin hy ‘n essay van Catherine Deneuve, wat gereeld met Bunuel saamgewerk het, as uitgangspunt gebruik. Deneuve beklemtoon sy donker humor en die eise wat hy aan sy akteurs gestel het. In die Waterfront word daar by die Louis Vuitton-winkel ‘n foto van Madame Deneuve gebruik waar sy by ‘n trein op ‘n sak sit en wag. Deneuve is ‘n komplekse aktrise: yskoningin én vertolker van uitdagende, slopende rolle – soos in Polanski se Repulsion. ‘n Paar jaar gelede sien ek haar in ‘n film – ek het die titel vergeet – waarin sy die rol vertolk van ‘n alkoholis. Die kamera neem haar onvleiend van agter af, terwyl sy op die bed lê en haar roes afslaap. Die rok is opgetrek en die kamera fokus op ‘n vet, middeljarige been en die kyker weet watter ongelooflike selfvertroue dit moes kos. In The hunger vertolk sy ‘n lesbiese toneel teenoor Susan Sarandon. Agterna bely Sarandon in ‘n onderhoud wanneer die onderhoudvoerder persoonlik raak: ”Wel, wie kan in iedere geval omgee om iemand so beeldskoon as Deneuve te soen?”

Toe ‘n lesbiese klub in Parys bekend staan as Catherine Deneuve, eis sy dat die naam verander word.

Die tonele tussen haar en Sarandon is gedurf, seksueel-prikkelend.

Truffaut beskou haar as ‘n belangrike aktrise. Inderdaad, ‘n vrou wat deur vele transformasies gegaan het.


IV.

In Stolen kisses sien ons ‘n romantiese verbintenis afspeel. Nooit weer bereik Truffaut die hoogtes van Jules and Jim nie – met die onvergeetlike Jeanne Moreau as die geliefde vrou wat die twee mans teen mekaar afspeel.

Behorend tot twee kulture – met oorlog teen die agtergrond – word die verhouding tussen die twee mans ondersoek. Hulle deel die vrou wat nie tot ‘n besluit kan kom oor watter man sy verkies nie.

Jim (Henri Serre) is die Fransman en Jules (Oskar Werner) ‘n Oostenryker. Catherine is die vrou wat nie kan besluit by welke man sy wil wees nie: die liberale, bevryde man of die ernstiger Oostenryker? Die oorlog is natuurlik die tweede Wêreld Oorlog tydens die besetting van Frankryk.

Kan mense totale vrye keuses in verhoudings uitoefen en soos die hoofkarakter haar mans soos hoede verander?

Daar is eweneens ‘n verteller wat kommentaar lewer en ‘n belangrike sleutel tot die film is die teks Les Affinités Eléctives. Op ‘n keer word Catherine se gedrag verduidelik deur ‘n passasie uit ‘n boek wat sy onderstreep het.

Die einde is tragies.

Die kyker is onder die indruk van Truffaut se behendige hantering van besonderhede.

En aktiveer die belangrikste aspek van hierdie filmmaker se benadering tot kuns: Romantiek.

Hy mis die nihilistiese lewensuitkyk van ‘n Bertolucci of Godard. Sy films is dikwels hoopvol, al ry die twee karakters met ’n motor by ‘n brug af.

In Bed and board (Domicile conjugal, 1970) ondersoek hy die verhouding tussen ‘n jong getroude paartjie: hy is ‘n floris wat blomme artifisieel bespuit om die regte kleur te kry. Sy gee vioollesse en hulle woon in ‘n afgeleefde woonstelblok waar die bure kommentaar lewer op die geboorte van hul kind en die verbrokkeling van hul huwelik wanneer hy verlief raak op ‘n Japannese vrou by sy nuwe werk.

Die film is net na die studente-opstande in Parys gemaak en kenners meen dit is Truffaut se opstand teen die eis dat films net politieke kommentaar behoort te lewer.
‘n Oomblik om te onthou: die Japannese vrou versend boodskappies in ‘n ruiker blomme vir hom.

Hy gooi die blomme weg.

‘n Buurkind tel dit op en sy vrou sit dit op die tafel.

En, voilà, wanneer die blomme oopgaan, weet sy hoe sake staan want die stukkies papier met haar liefdesverklarings val op die tafel.

Truffaut laat hulle versoen en daar is ‘n humoristiese kyk-op-sake met Jean-Pierre Léaud wat dikwels in Truffaut-films optree en Last tango in Paris van Bertolucci. In The woman next door (La femme d’à côté, 1981) – met die twee ikone uit die Franse filmtradisie, Gérard Depardieu en Fanny Ardant – ondersoek Truffaut obsessionele liefde. ‘n Egpaar woon in Grenoble, hulle kry nuwe bure en die man ontdek dis sy minnares van agt jaar terug.

Ons het hier ‘n raamvertelling: ‘n vrou geskend deur die liefde (sy wou selfmoord pleeg, maar het te lande gekom op ‘n glaspaneel) is die waarnemer van die verbintenis wat op ‘n ramp afstuur. Klein kodes – soos die vrou wat ‘n tekenprent maak van ‘n vrou in ‘n bloedplas – berei die kyker voor op die einde met sy loeiende sirenes.

Dis dan asof Truffaut dalk hier sy eie siening oor die dood van romantiek uitwerk en die navrante slot speel weer terug op Jules and Jim.  


19. Francis Ford Coppola (1939 -)

I.

Francis Ford Coppola is opgelei aan die UCLA-filmskool sy bekende mafia-trilogie The Godfather (1972, 1974, 1992) sal beslis my lys haal as een van die grootste films nóg gemaak. As jong kind doen hy polio op, speel met marionette (soos Ingmar Bergman) en ontmoet in sy studiejare vir Jim Morrison van The Doors. Deesdae is hy selfs wynmaker in die Napa-vallei en besit ‘n restaurant saam met Robert de Niro en Robin Williams.

Alles wat ons oor die lewe moet weet, staan in hierdie films: die Kerk, die familie, hebsug, bedrog, ‘n oog-vir-‘n-oog, ontheemding, die lewe van die immigrant…
Die mafia se misbruik van die Rooms-Katolieke kerk, skuld en boetedoening, die aanskoulike gebruik van die veranderende New York as die back drop vir sy films, word uiters oortuigend hanteer. ‘n Mens word deel van die verhaallyn wat die sekure Coppola gedistansieerd dog aangrypend weergee. Wanneer Al Pacino, as die opvolger van Marlon Brando, by die Monsignor bieg oor sy broer se dood, bieg hy: ”Vader, ek het my moeder se seun vermoor…ek het my vader se seun vermoor…”. Dan weet die kyker dat daar in hierdie staalharde mafioso nog ‘n gewete skuil.

Hiermee bewys Pacino, soos Robert de Niro, hoe geskakeerd hy ‘n booswig kan vertolk. Terwyl Pacino in die kerk staan, is daar ‘n menseslagting buite die kerk.

In die slotfilm van die trilogie word daar ‘n bekende opera as interteks gebruik. Don Corleone (Pacino) se seun wil nie in sy voetspore volg nie. Hy weier om sy studies in die regte te voltooi, omdat hy loopbaan as sanger wil volg.

In die tweede film is daar ‘n emosionele toneel tussen Pacino en sy vrou – vertolk deur Diane Keaton – wat hom wil verlaat weens sy troebel bestaan. Sy waarsku hom dat sy gewelddadige bestaan hom sal inhaal en dat hy ‘n kind gaan verloor.

Sy bely dat sy pas ‘n aborsie ondergaan het, omdat sy nie nog ‘n Corleone-kind die wêreld wil inbring nie.

Sy steun haar seun se keuse en hulle gaan na Sicilië om die seun se debuut mee te maak in die Cavalleria Rusticana.

Die verhaal van liefdestragedie in hierdie opera sinkopeer met die liefdestragedie wat hom in die hier-en-nou afspeel: die dogter (Coppola se dogter Sofia in die werklike lewe) van Michael Corleone (Pacino) word doodgeskiet. Haar minnaar (vertolk deur Andy Garcia) mag nie langer ‘n verhouding met haar bedryf nie, indien hy ‘n posisie in die mafia wil beklee. Sy is dus nou by haar vader wat haar moet beskerm, maar dit nie langer kan doen nie, omdat die vyande toeslaan.

Al Pacino se geluidlose gil wanneer hy die ónomkeerbaarheid van alles besef, is ‘n pynlik-onthullende moment. Die geluidlose gil kan geen kyker ooit vergeet nie.

Hy sterf dan ook ‘n eensame ou man op ‘n stoel in Sisilië met ‘n kefferhond wat om hom draal. Volledig alleen. Mistroostig. Sonder sy oorblywende kind of vrou. 

Die verhaal word egter komplekser hanteer binne die domein van die mafia-rolprent. Dit kry die element van ‘goeie’ en ‘slegte’ verraad by en noop die kyker om na te dink oor die implikasies van goed en sleg. Selfs in die booswig Corleone is daar die wete van die implikasies van verraad en boosheid. Hy bly immers ‘n patriarg. Die openingsaria word eweneens gelaai met innuendo vir die kyker en die pragtige intermezzo sal nou net méér melancholies opklink.

Francis Ford Coppola se Godfather-reeks beklemtoon hoé vernuftig ‘n slim filmmaker met intertekste werk.

Santuzza, Alfio en Turrida in die Cavalleria Rusticana van Mascagni word op sy kop gekeer en met nuwe inhoude gelaai. Dis Pase, daar is ‘n tweegeveg, die dood…
Die films is gebaseer op Mario Puzo se blitsverkoperroman.


II.

Coppola is die neef van Nicolas Cage en sy suster, Talia Shire vertol die rol van Connie Corleone in die Godfathers. Toe hy sy dogter, Sofia gebruik het in die slotfilm, was die kritiek daarop uit hom haar te kritiseer. Sy het inmiddels ‘n goeie regisseur geword van Lost in translation, die eerste vrou wat ‘n nominasie ontvang het vir beste regisseur by die Academy. Twee van sy seuns vertolk klein rolletjies in die eerste Godfather.


III.

Apocalypse now speel in op Joseph Conrad se Heart of darkness. So sterk is hierdie film dat Eben Venter in Horrelpoot nie alleen die roman betrek nie, maar Koert lyf gee deur Marlo Brando.

Die film is al ‘n laaste woord oor oorlog, en meer spesifiek, die Viëtnam-oorlog, genoem.

Geweld, waansin in en rondom vervaardiging van die film waaroor Mevrou Coppola ‘n belangrike dokumentêr, Hearts of Darkness: A filmmaker’s Apocalypse (1991) gemaak het. Die produksie is vertraag deur tifone, onderlinge geskille, rebelle wat dros om te gaan oorlog maak, Martin Sheen se hartaanval, Harvey Keitel wat in die pad gesteek is, ‘n onbeheerbare Brando, vet en moerig…

Die film is in die bedryf selfs Apocalypse Whenever genoem, maar toe dit in 1979 verskyn, was vele kritici se monde gesnoer.

In 2001 verskyn die ongeredigeerde weergawe, Apocalypse Now Redux, van hierdie film met ‘n wonderlike redigeringsfout: die kyker sien hoe Coppola ‘n akteur aanhits om vorentoe te beweeg, sodat die kamera hom per ongeluk afneem. (Redux is die Latyn vir terugbring.)

Wie sal ooit die openingstoneel kan vergeet? Wagner se Rit van die Walkuries wat saam met ‘n helikoptertoneel saamklink! ‘n Maniese dans op pop-musiek.

Branderplankry met sonbrille en bandannas.

Die slagting van ‘n waterbuffel wat glo spontaan deur die inwoners begin is. (Die invloed van Aquirre, the wrath of God is daar.)

“I can get no satisfaction.”

Van Wagner tot die Rolling Stones is op die klankbaan.

Maar ons hoor die Doors in ons harte.

Die geur van napalm in die oggend wat oorwinning aandui. Alreeds ‘n klassieke reël soos “Shoot! Make my day” uit Dirty Harry.

TimeOut meen die verwysings na T.S. Eliot is pretensieus, maar dat die film briljant is. Maar uiteindelik word hierdie film dan ‘n “vast trip, into the War of the Imagination”.

Dit is die verhaal van die soektog na Kolonel Walter E. Kurtz (Marlon Brando) wat glo mal geword het. Kaptein Benjamin L. Willard (Martin Sheen), gebaseer op Marlow in die roman, moet hom vind waar hy skuilhou in die oerwoud van Kambodja met sy eie troepe en boonop radio-boodskappe uitstuur.

Robert Duvall is die mal Lt. Kolonel Bill Killgore.

Wanneer Willard vir Kurtz doodmaak, speel The End van the Doors met Kurtz wat “the horror…the horror” fluister.

Ander films wat ‘n kyk werd is, heet Rumblefish, Peggy Sue got married, The Cotton Club…


Francis Ford Coppola


20 Béla Tarr

I

Trapsoetjie-stadig. Dis hoe ‘n mens die openingskoot van Béla Tarr se drie-DVD’s wat meer as seweuur in beslag neem, Sátántangó (1994) kan beskryf.

‘n Fokus op beeste wat voortbeweeg vir meer as tien minute. Op ‘n ander keer staar ‘n man by venster uit vir so ‘n lang periode dat ‘n mens vermoed jou DVD-speler het dalk vasgehaak. Dit is omdat die kyker alles waarneem en nie net die geredigeerde kort skote van die meeste films sien nie. Jy sien hoe iemand by ‘n venster uitkyk of ‘n brief lees met al die stadige bewegings wat dit inhou. Ons sien hoe daar ‘n dagboek gehou word deur die dokter wat alles waarneem asof jy in ‘n belydenisroman is met verskillende ekke of subjektiewe waarnemers.

Papiere en vullis wat deur die wind weggewaai word…

Maklike oplossings is hier nie. Die film is swart-en-wit en gelaai vol stiltes en sub-tekste. Die kyker moet self die wit plekke invul en die dralerige storie volg.

Hier is geen kits-oplossings of maklike eindes nie en Susan Sontag het lank en uitgebreid oor die werk van hierdie Hongaarse filmmaker geskryf wat sy vir die Westerse kyker ontdek het.

Dit is ónmoontlik om die storie van hierdie film op te som, omdat dit ons konvensionele siening van wat ‘n storie is ondermyn en selfs óphef. Dit is bykans soos William Faulkner se As I lay dying waar dieselfde gegewe vanuit verskillende perspektiewe beskryf word. Dit gaan eerder oor die emosie wat die kyker ervaar tydens die verskillende weergawes op ‘n besluit om deel te word van ‘n kommunale boerdery in ‘n post-kommunistiese Hongarye.

Om die triestigheid van die bestaan te beklemtoon is die film in swart-en-wit.
Mense se drome en versugtinge word vir ons die kykers uitgelap. Ons sien ‘n ongehoorde verhouding gebeur tussen Futaki en Mevrou Schmid en ons, die kykers, weet van die bedrog wat gepleeg word. En van ‘n plaas wat nie bestaan nie en spaargeldjies wat met slim stories weggeneem word.

Irimias is ‘n bedrieër en ‘n luigat wat deur die plaaslike kolonel as ‘n niks-vir-goed-gemors uitgeskel word.

Verder het Irimias as’t ware terug uit die dode gekeer om almal te kom belieg.
Die film fokus op twee horlosies wat verkeerde tyd uitbeeld: ‘n belangrike kode wat die subjektiwiteit van ervaring wil beklemtoon.

En die titel? Dit verwys waarskynlik na die danstoneel op ‘n akkordion in ‘n kroeg waar mense hulself te pletter drink.

Daar is glo net 150 skote in hierdie film wat vir ewig aanhou en elke stukkie besonderheid vir die kyker weergee.

Tonele word herhaal: waarskynlik, omdat die dokter die optekenaar en waarnemer is van Futaki se ongehoorde verhouding met Mevrou Schmidt.

Die kamera fokus op ‘n vertrek spaars gemeubileer. Armoede. Eenvoud. Swaarkry.
Soos in ‘n Van Bruggen-roman.

Daar is dan die kattoneel: ‘n kat wat seergemaak word en ‘n selfmoordtoneel van ‘n jong kind. Skokkend en onthutsend, nie in ‘n Hollywood-styl nie.

En hierdie kind hou die dansende mense dop deur ‘n venster. Ons die kyker weet dat sy reeds dood is en dalk is dit wat sy sien, die rede vir haar ongelukkigheid?

‘n Moontlike terugflits of ‘n gevoel van die regisseur dat sy by die engele is?

Maar haar dood word deur die swendelaar misbruik om almal verder te mislei.
Talmende skote, die kattoneel en dan die dans. Ongeredigeer. Weergegee, net-soos-dit-is.


II.

Sy Werckmeister Harmonies (2000), eweneens ‘n swart-en-wit-film, vertoon Hanna Schygulla (wat Fassbinder se gunsteling-aktrise was) in ‘n onvergeetlike danstoneel. Hierdie film spel eweneens op die Hongaarse platteland af en mense besoek ‘n sirkus om ‘n walvis te sien…

Dit is winter, minus twintig grade.

Uitsigloosheid. ‘n Opgestopte karkas van ‘n walvis is die enigste vermaak vir mense wat van heinde en verre kom.

Hierdie filmmaker het glo ‘n invloed gehad op Gus van Sant se Elephant waar die kyker lang, stadige tonele waarneem.

(Van Sant gee immers uitgebreid erkenning, soos dit hoort, aan hierdie filmmaker.)
Jy vind min gegewens oor hierdie filmmaker op die internet. Dis goed so. ‘n Mens hoop net hy word nie deur Hollywood verlei nie, want dit sal die einde van sy eiesoortige, kreatiewe aanslag wees.

Dit is ‘n besonderse filmmaker. Daar is geen foefies nie. Daar is geen digitale manipulasie nie.

Dit wil die lewe weergee.

Dit is nie nodig om iets van die filmmaker te weet nie.

Dis so goed, so aangrypend dat die films jou meesleur.


Bron:

www.IMDb user/Sátántangó


21. James Bond

Die naam is Bond. James Bond.

So begin die verruklike films van Harry Saltzman en Albert R. Broccoli wat die die man wat het lisensie het om dood te maak (007).

Gebaseer op Ian Fleming se bekende aksieverhale is die James Bond-rolprente al vir etlike jare by ons met sowat 20 films.

Elke Bond-film is ‘n opera in die kleine.

Dit begin met die voorspel. ‘n Soort kort opsomming wat die kyker te wagte kan wees, dan die temamusiek met Bond wat adret sy Beretta op die kyker rig ‘n rooi bloed wat oor die skerm afloop.

Elke film speel ‘n ‘n eksotiese ruimte of vier af – die back drop van die opera van geweld – met humor soos Bond wat die nooi se bikini afruk en vra dat sy moet bely waar die skurk is met die volgende woorde:

“I want something to get of your chest”; of  “very moving” merk ‘n skurk op wanneer ‘n kis oor wieletjies beweeg in die verassingskapel.

“I am Plenty”, stel ‘n rondborstige vrou haarself voor aan Bond.

Natuurlik is sy, meen James wat met M, Money Penny en Q, sy spesiale raadgewer en foefieskepper, die dood fnuik en kykers vermaak.

“You are a cunning linguist”, meen Money Penny aan Bond in Tomorrow never dies.

En hoe wonderlik ironies wanneer Ursala Andress (‘undress’) soos ‘n Venus van ouds uit die water aangestap kom in Dr No….


II.

Op die DVD-weergawe van From Russia with love is daar ‘n onderhoud met Ian Fleming wat gesels oor sy beroemde karakter James Bond. Fleming het ‘n ligte tick en ‘n mens wonder of hy hierdie karakter geskep het om sy eie spanninge te verwerk?
In die onderhoud vertel hy dat James Bond nooit doodgemaak sal word nie. Sy boeke is in meer as 20 tale vertaal, waaronder Tai en Japannees. Hy het al meer as 32 miljoen eksemplare verkoop ten tyde van hierdie onderhoud…

Die groot romanskrywer, Anthony Burgess het Dr No op sy trefferlys gehad van 100 beste boeke. En Jerry Palmer het ‘n insigryke studie geskryf oor wat alles gebeur in James Bond-verhale, Thrillers – Genesis and structure of a popular genre.


III.

En James Bond sal nooit sterf nie?

In You only live twice word Bond sommer aan die begin van die film afgemaai, maar dit blyk bittergou ‘n spel te wees in ‘n film wat kommentaar lewer op die idee van die dubbelganger.

Boonop is die draaiboek van hierdie film geskryf deur niemand minder as Roald Dahl nie en Nancy Sinatra sing die temalied, en aan die einde, wanneer 007 in ‘n opblaasboot bo-op ’n duikboot land en hom en sy vrou van die oomblik van ondergang red.

Hy het sopas ‘n wêreldoorlog afgeweer en mag dus nou ‘n bietjie uitspan. Hy het immers met sy Cambridge-skoling in Oosterse tale die kodes van Japan begryp.
En sy drankies neem hy altyd “shaken not stirred”.

Vir die kyker is hy ewig, onblusbaar, onvernietigbaar. Soms parodies as Roger Moore.

En vir die meeste van ons is die figuur Sean Connery die ware Bond.  (George Lazenby het nie die paal gehaal nie.)

Ander meen weer Pierce Brosnan en kom Daniel Craig werklik die mas op of moet hy maar staat maak op sy bultende spiere?

En wat van Timothy Dalton? Dalk te veel van ‘n Shakespeare akteur? Sean is die man met die aknee-merkies op die wange en bultende spiere.


IV.

My gunsteling Bond-films is From Russia with love en Diamonds are forever (met tonele in Suid-Afrika, omdat dit oor die diamantbedryf handel). Eersgenoemde in boekvorm was een van John F. Kennedy se gunsteling-romans. Oor die film het Brezhnev hoog opgegee: hy het dit drie keer gesien.

Dit is 1963. From Russia with love moet gesien word teen die agtergrond van die Koue Oorlog en Brittanje se hantering van ‘n skandaal: die Sekretaris in Oorlogbeplanning had ‘n verhouding met ‘n jong meisie wat terselfdertyd ‘n affaire bedryf het met ‘n Sowjet hooggeplaaste…

Boonop het ons vir Lotte Lenya hier as die giftige Rosa Klebb wat in die werklike lewe verbind was met Kurt Weill.

SPECTRE is die naam van die organisasie wat almal rondruk en Bond, as die Britse agent moet almal troef.

Die kyker besef natuurlik dat Brittanje in hierdie film as ‘n groter mag beskou word as die VSA.

James Bond van Her Majesty’s Secret Service kan meer uitrig as die CIA.

En natuurlik glo ons dit vir die duur van die film wanneer James Bond met sy lisensie om dood te maak, op soek is na die dekodeerder met geheime inligting saam met die pragtige Tatiana Romanova, ‘n Russiese uitgewekene.


V.

Bond-films is al deur die jare verguis deur sekere feministe as uiters misogonisties. Dit is egter net ten dele waar, omdat sy vroulike teenspelers hom ook misbruik.
Is die kritiek dalk die rede vir die verandering van M as ‘n gryse ou patriarg tot ‘n vrou?

M is deesdae Dame Judy Denche wat vir Bond oor die vingers tik en waarsku dat sy hom vir seksuele teistering sal aanskryf.

Harry Saltzman en Albert R.  (“Cubby”) Broccoli se wenresep kan deur niemand geëwenaar word nie. 

Hoe het ons nie almal getreur toe Q oorlede is nie. Kortstondig is hy vervang deur Faulty Towers se John Cleese.

Die motor het eweneens deur die jare verander: ‘n Bentley, toe ‘n Aston Martin en later selfs ‘n BMW wat namens Bond die vyand verslaan het deur middel van afstandbeheer. Selfs ‘n Jeep CJ-7 tot ‘n Jeep Wagoneer gebruik.

In die klassieke films is die Aston Martin altyd die voertuig.

Dieselfde geld die wapens wat Meneer Bond gebruik, ofskoon ons ouer garde hom met ‘n Beretta assosieer. Aanvanklik is die Beretta 418 gebruik, maar een van Fleming se aanhangers het hom gekritiseer dat dit te veel van ‘n vrouewapen is.
In ou klassieke rolprente is die Baretta steeds daar en in latere films word die soort wapen wat hy gebruik nie meer vermeld nie.

‘n Mens verraai jou ouderdom wanneer jy bely watter James Bond jou die meeste geval.

En as jy Mike Myers se send-ups geniet, pleeg jy myns insiens verraad teen Meneer Bond.


Bron:

Jerry Palmer. 1978. Thrillers - Genesis and structure of a popular genre. Londen: Edward Arnold.


22. Luis Buňuel (1900 – 1983)

I.

Buňuel is ‘n Spaanse filmmaker wat hoofsaaklik in Mexiko en in Frankryk werksaam was. In latere jare maak hy selfs films in die VSA.

Sy verbintenis met Salvador Dali en die opwindende inkorporering van die surrealisme is die belangrikste bydrae wat hierdie filmmaker gelewer het.
Regdeur sy films lewer hy striemende kommentaar op die kerk waarskynlik weens sy streng Jesuite opvoeding in Aragón. Hy is uit die skool geskop en studeer in Madrid.

Hier studeer hy eers in die natuurwetenskappe en later stel hy belang in ingenieurswese alvorens hy oorslaan na die filosofie. Sy vriendskappe met sowel Lorca as Dali het ‘n vormende invloed op sy denke gehad. Soos dikwels gebeur met kreatiewe verbintenisse het die pad tussen hom en Dali doodgeloop. Dali het o.a. probleme gehad met Buňuel se ateïsme en kommunistiese oortuigings, terwyl Buňuel weer krities was oor Dali se verhouding met sy vrou.

Alle pogings van Dali om die vriendskap te herstel, het egter misluk.

Dit is bekend dat Buňuel soms swaar vermom as ‘n non in die strate geloop het tot die woede van die Katolieke.

Hy maak in 1929 ‘n film saam met Dali wat steeds uitgewys word as ‘n hoogtepunt in sy filmkuns, te wete Le chien Andalou. Hierdie film, wat ongeveer ‘n kwartier lank duur, wys hoe ‘n vrou se oogbal deurgesny word en die kyker beleef ‘n soort droomwerklikheid. Dit is asof hy vir die kyker wys hoe ‘n droom werk: dis jou droom, jy weet jy droom iets ónmoontliks; tog interpreteer jy aan die verregaande simbole wat jou waarsku of iets ontsluit.

L’Age D’Or/Die Goue Era (1930) is glo op die 120 Dae van Sodom gebaseer. Die kyker moet dikwels die logiese begin-middel-einde van ‘n verhaal óphef en jou oorgee aan die assosiasies waarmee gewerk word.

Hierdie film is vir 50 jaar lank verbied weens die aanvalle op die kerk wat vir die moderne kyker beslis nie grensoorskrydend is nie.

Die meeste van sy ouer films het bloot historiese waarde. Ná die Spaanse Burgeroorlog is hy ‘n vlugteling en vertrek na die VSA waar hy met Hollywood werk en in NY aan die Museum of Modern Art as ‘n kurator werksaam is. Hy het o.a. Riefenstahl se beroemde Hitler-dokkie verkort en geredigeer.

Hy verlaat MOMA weens spanninge en keer terug na Hollywood. Hierna vertrek hy na Mexiko – waar hy uiteindelik oorlede is – en maak sy eerste film hier: Gran Casino (1946).


II.

Persoonlike gunstelinge is In die diskrete sjarme van die kleinburgerlikes (Le Charme Discret de la Bourgeoisie) (1972), Belle de Jour (Mooi vrou van die dag) (1967) en Daardie vreemde objek van begeerte (Cet Obscur Objet du Desir) (1977). (Belle de Jour is sleng vir ‘n morning glory, terloops.)

Sy films is metafories van aard. Hy vermy die logiese metonimiese opvolg van punt A tot Z en laat die kyker eerder vry assosieer en simbole ontsluit. Indien ‘n film van hom van agter na voor gekyk word, word die werkswyse duideliker. Danksy moderne tegnologie kan die kyker met stop en terugbeweeg en die verskillende vinjette analiseer.

Buñuel is hartstogtelik in opstand teen die klein-burgerlike waardes. In Belle de Jour raak ‘n vrou – vertolk deur Catherine Deneuve – ‘n prostituut.

Wat is waar? Wat is fantasie? Die kyker beleef haar seksuele fantasieë en onvermoë om seksuele genot in haar huwelik te ervaar.

Séverine, ‘n verveelde doktersvrou, raak dan in die hoerhuis verlief op ‘n gangster met goue tande.

Of dalk nie? Hy oortree egter die reëls van die spel deur haar buite die hoerhuis te ontmoet.

Die titel is ironies: sy is nie ‘n vrou van die nag nie.

The TimeOut Film Guide (1989)  noem dit ‘n comedy of manners wat ‘n belangrike sleutel bied vir die ontsluiting van die film waarin almal ‘n rol vertolk en werklike gevoelens verhul word.

In Die diskrete sjarme van die kleinburgerlikes is ses karakters op soek na ‘n maaltyd. Wat is eweneens waar? Wat is fantasie? 

In Daardie vreemde objek van begeerte vertolk Carole Bouquet (wat later ‘n Bond-meisie word en ‘n bekende parfuum adverteer) die rol van die jong meisie wat die ouer man, Fernando Rey, aan sy neus rondlei.

Om die spel tussen fantasie en begeerte te beklemtoon, gebruik Buňuel twee aktrises om die rol van die verleidster uit te beeld.

Niks hier is staties nie. Teen die einde ontplof ‘n bom en die kyker bly onseker oor die lot van die karakters.

Al waaroor die kyker seker bly, is dat Luis Buňuel ‘n diepe veragting vir die valshede van die gemeenskap ervaar. 


Films:

L'Âge d'Or (1930) / The Golden Age
España 1936 (1936) / Spain
Gran Casino (1946) / Magnificent Casino
El Gran Calavera (1949) / The Great Madcap
Los olvidados (1950) / The Forgotten
Susana (1951)
La hija del engaño (1951) / The Daughter of Deceit
Subida al cielo (1952) / Ascent to Heaven
Una mujer sin amor (1952) / A Woman Without Love
El bruto (1953) / The Brute
El (1953) / This Strange Passion
La ilusión viaja en tranvía (1954) / Illusion Travels by Streetcar
Wuthering Heights (1954)
Abismos de pasión or Cumbres Borrascosas Robinson Crusoe (1954) / Las aventuras de Robinson Crusoe
Ensayo de un crimen (1955) / Rehearsal for a Crime or The Criminal Life of Archibaldo de la Cruz
El río y la muerte (1955) / The River and the Death
Cela s'appelle l'aurore (1955)
La mort en ce jardin (1956)
Nazarín (1959)
La fièvre monte à El Pao (1959)
The Young One (1960) / La Joven
Viridiana (1961)
El ángel exterminador (1962) / The Exterminating Angel
Le journal d'une femme de chambre (1964) / The Diary of a Chambermaid
Belle de jour (1967)
La Voie Lactée (1969) / The Milky Way
Tristana (1970)
Le charme discret de la bourgeoisie (1972) / The Discreet Charm of the Bourgeoisie
Le fantôme de la liberté (1974) / The Phantom of Liberty
Cet obscur objet du désir (1977) / That Obscure Object of Desire


23. Robert Altman (1925 – 2006)

I.

Nou onlangs kyk ek na ‘n onderhoud met Robert Altman, die voortreflike Amerikaanse filmmaker, in die reeks The Directors.

Die slanke hande val ‘n mens onmiddellik op met die lang, goedversorgde naels. Altman het niemand anders as die aktrise Shelley Duval ontdek, wat glo geen teateropleiding gehad het nie. Later vertolk sy die rol van Olive Oyl in sy briljante film van die strokiesprent Popeye (1980) met Robin Williams.

Sy werk as industriële filmmaker in sy jeug het hom geleer om ekonomies met tyd te werk en al die aspekte van die bedryf te leer ken. Rod Steiger vertel dan hoe Altman opgewonde vir sy akteurs sal verduidelik hoe ‘n skoot hom imponeer en hoe die zoom presies werk…

Sy eerste film heet The Delinquents (1956) en ofskoon dit nie opslae maak nie, sien Hitchcock dit en nooi die jonge Altman uit hom as regisseur op te tree vir sy reeks Alfred Hitchcock presents.

Altman het naam gemaak met MASH, McCabe & Mrs Miller (1971), The Long Goodbye (1974), Nashville (1975),  3 Women (1977), A wedding (1978), Quintet (1979) Short Cuts

Hoe sal ‘n mens die onthulling aan die einde van Come back to the Five and Dime, Jimmy Dean, Jimmy Dean (1982) ooit kan vergeet? Die re-unie waar die waarheid onthul word ‘n verandering van geslag en die verdoeseling van jeugpyn….


II

In ‘n onderhoud met Glen Close op die genoemde The Directors verwys sy na die Altman-styl. Dit is ‘n vry vloeiende aanslag waar hy vir die karakters die storielyn verskaf en hulle dan toelaat om hulle eie ding te doen, dialoog te fabriseer, aanwysings te gee ensomeer. ‘n Mens dink hier aan die voortreflike Prêt-à-porter/Easy to wear (1994) waar Sophia Loren, Julia Roberts, Marcello Mastroianni, e.a. die modebedryf betree. Of Nashville waarin country & western-musiek behandel word. Altman het bely dat dit iets is waarvan hy nie veel weet nie en hierom gee hy ‘n carte blanche aan die akteurs.

Altman is ‘n akteur-regisseur. Hy kies ‘n bekende persoon met sy hebbelikhede en laat die intrige róndom hierdie Akteur ontwikkel.

III

Short cuts (1993) en The Player (1992) is waarskynlik die films wat almal die beste ken en onthou.

Short cuts speel af in Los Angeles en dit vertel nege, losgeweefde verhale wat gebaseer is op ‘n Raymond Carver-gedig en verhale.

Hoe mense se lewens mekaar, toevallig en minder toevallig aanraak, word in die film met sy 22 karakters ondersoek.

Tom Waits is die eggenoot van die kelnerin, Doreen (Lily Tomlin) wat per ongeluk ‘n kind, Casey, raakry.

Sy dink die kind het nie seergekry nie en hy sterf sonder haar medewete. Sy op haar beurt bely aan haar man en dogter dat sy ‘n kind raakgery het, maar dat sy dankbaar is dat alles wel is.

Sy bly onbewus van die drama rondom die kind.

Sy ouers word aanhoudend gebel deur die bakker (Lyle Lovett) om sy verjaarsdagkoek te kom haal, maar hulle is in die hospitaal. Hier bely sy oupa, Jack Lemmon in ‘n voortreflike rol, hoe verloop sy lewe geraak het.

Maar dis nie waarmee die film begin nie.

Dit begin met twee egpare wat met mekaar kuier en later hul ongelukkigheid met mekaar verraai.

Die een man gaan op ‘n visvangekspedisie met die manne en terwyl hy in die water urineer, word ‘n lyk in die water ontdek.

Hulle verkies egter om die naweek te geniet en los die lyk in die water…
En nog is het einde niet.

Lois (vertolk Jennifer Jason Leigh) maak geld uit foonseks, terwyl Gene Shepard (Tim Robbins, oftewel meneer Susan Sarandon) ‘n spietkop is wat sy vrou verneuk.
Dan is daar ‘n verwoede man wat wraak neem op sy vrou en haar besittings verwoes…

Karakters ontmoet mekaar toevallig en soms per afspraak.

En daar is ‘n skokkende einde wat alles tot stilstand ruk.

En daardie lyk – weet die kyker – is verbind aan die een wat in die water ontdek word.


IV.

Nou is dit so dat sosioloë al studies gedoen het oor die groeperinge tussen mense. Mense op treine wat dieselfde roetes volg en roosters begin later saamgroepeer, met mekaar gesels…

En dit is waarskynlik wat Altman ondersoek in hierdie fassinerende film wat soos ‘n losse sirkel beweeg en deur uiters behendige en briljante akteurs aanmekaar gehou word. Dit is ‘n film oor paranoïa en dit begin met helikopters wat oor die stad vlieg en ‘n waarskuwing oor die medfly en dat alles onder kwarantyn geplaas word.

Iemand speel in ‘n swembad dood en ‘n ruk later urineer iemand op ‘n lyk…
‘n Kind sterf en iemand word vermoor.

Die kyker sien al die verbande tussen die klein oomblikke. Die kind se stem bly draal op die antwoordmasjien en Altman vertel ons in ‘n produksie-onderhoud dat hierdie kindjie so goed speel want sy pa is ‘n stunt man. Jack Lemmon stap weg wanneer hy besef die kind is dood; in die agtergrond mop iemand die hospitaalvloer…

Julianne Moore staan kaal voor die kamera en Altman verduidelik ons in die produksie-DVD die verskil tussen nude en naked

Sy akteurs vertrou hom en hy vertel die close line in hierdie film word rondom die dood van die kind opgebou. En hoe alles om ketchup in die film wentel.

Na elke toneel bedank hy sy akteurs en omhels hulle om sy skatpligtigheid te bely.
Dit is eweneens ‘n film wat die montage-tegniek illustreer. Die film van drie-uur lank is soos ‘n kortverhaalbundel waarin die verskillende tekste op mekaar inspeel: saam én apart.

In ‘n onderhoud met Tim Robbins besef ons dat hierdie film dalk die roman word wat Raymond Carver, die skrywer van dirty realism wou skryf.

Robert Altman vat kanse en in ‘n toneel speel sy karakters Jeopardy.


24.  Martin Scorcese (1942 - )

I.

Met die onlangse bekroning van Martin Scorsese, die uitmuntende filmmaker, sou ‘n mens die vraag kon vra: is dit vir die regte film of is dit ‘n geval van ‘n prys wat té laat aan hom toegeken is?

‘n Voortydige prys is so sleg as ‘n prys wat te laat kom. Eersgenoemde verlam die bekroonde; laasgenoemde is dikwels mosterd na die maal.

Gebore 17 November 1942, in Queens NY en veral bekend vir Taxi driver 1976 – met Robert de Niro en Jodie Foster – , Mean Streets (1973) en nou onlangs, The Departed. Vir my gevoel is die essensiële Scorsese film steeds Taxi driver met die waansinnig-paranoïese De Niro as Travis Bickle.

Die man met die donker wenkbroue is ‘n deeglike filmmaker wat sy opleiding ontvang het onder Roger Corman en was verbind aan die beeldskone Isabella Rossellini. Ander onthoubare films is Gangs of New York (2002), Goodfellas (1990), Casino (1995), The last temptation of Christ (1988) en die film wat ek altyd bo-aan my lys van immer gewilde, aangrypende films noteer: Raging Bull met Robert de Niro wat gewig opgetel het vir die rol van Jack La Motta.

‘n Mens is dus verruk dat hy wel bekroon is in die jaar 2006 – maar dit is beslis nie sy beste of grootste rolprent nie.

Sopas had ek ook die voorreg om sy vieruur-lange outobiografie in film, Voyage to Italy, te bekyk. Twee CD’s – die filmmaker se unieke vorm van ‘n outobiografiese mymering oor sy liefde vir die filmkuns en meer spesifiek: die Italiaanse filmkuns: onder andere Federico Fellini, De Sica, Visconti en natuurlik: Rossellini. Hier word die kyker op ‘n mentorsreis geneem waarin die plek van die Italiaanse filmmaker bespreek word. Nie alleen word die invloed op sy eie werk gekarteer nie, maar Scorsese wys op die skuldgevoelens van Italianers wat o.a. WO II ontglip het. Hy verduidelik die rol van die vader in ‘n Italiaanse huishouding (wat ‘n kind sommer nog op ouderdom 20-plus ‘n oorveeg gee, omdat hy skande oor die huis bring – soos in I Vitelloni  van Fellini in 1953) en op ‘n liefdevolle wyse kontekstualiseer hy die liefdesverhouding tussen Ingrid Bergman en Rossellini – en die sogenaamde skande van die liefdeskind in ‘n benoude tyd.

Hy wys “klips” uit films en begelei dit met relevante kommentaar en toespelings. In plaas van ‘n boek, praat hy via die kamera en word fabrieksgeheime verklap. Italiaanse Neo-Realisme is ‘n stylfiguur gebore uit nood, verduidelik hy: daar was nie geld om duur akteurs te huur nie; hierom moes gewone mense optree voor die kamera.

Hy is waarskynlik weens sy verbintenis met Isabella Rossellini uiters simpatiek teenoor die filmmaker Rossellini. Wat hy egter oor die filmmaker opmerk, is relevant vir die kyker – veral omdat Ingrid Bergman dikwels ter sprake kom. Hy wys ook op die gesofistikeerde “oop eindes” van Italiaanse films versus die Hollywood geslote (dikwels, gelukkige) eindes. Hy moes egter bekroon gewees het vir Taxi driver, die verhaal Travis Bickle wat fantaseer hoe hy ‘n presidensiële kandidaat gaan skiet sodat ‘n jong prostituur, Jodie Foster, gered mag word. Die draaiboek van Paul Schrader is al voos geanaliseer oor die lot van die ontheemde taxi-bestudeer wat gewikkel is in ‘n stryd tussen die goeie en die bose. ‘n Mens sou ‘n parodie kon sien op die Ou-Testamentiese offergawe.

Hierdie figuur is geskend deur die Viëtnam-oorlog, neem ‘n meisie uit na ‘n porno-fliek, maar red terselfdertyd ‘n kind uit die kloue van ‘n pimp wat hy skiet. Dis De Niro teen Keitel; dis ‘n briljant-belowende Jody Foster.

Die slaaplose De Niro as die besoeker aan porno-flieks, is ‘n hartgrypende uitbeelding van ‘n verslaande mens wat ‘n aweregse held word, omdat hy die kind uit die kloue van prostitusie red. Is hy ‘n held? Hy probeer immers ‘n Senator skiet voordat hy die bordeelmanne takel.

Die film is bekroon met die Palme d’Or in 1976 in Cannes. Dit had natuurlik ‘n nare nadraai in die werklikheid toe John Hinckley probeer het om Ronald Reagan te skiet weens ‘n obsessie met sowel die film as Jodie Foster. Veral Jodie Foster se lewe is ernstig aangetas deur die impak wat hierdie film op háár lewe gehad het. In vele onderhoude het sy o.a. vertel hoe sy nie meer kon waag om in die openbaar te verskyn nie. Die impak van ‘n gevaarlike film op jou lewe dus.

II

In 1997 had ek die voorreg om Kundun by die Labia te sien, ‘n aangrypende en insiggewende rolprent oor die vormingsjare van die Dalai Lama en die implikasies van Boeddhisme op die Westerse mens wat al hoe meer aangetrokke voel tot hierdie denkwyse. Veral diegene wat die Protestantisme wou oorleef, vind hier aanklank. Kundun beteken aanwesigheid en dit is ‘n aanspreekvorm vir die Dalai Lama.

Op ‘n aangrypende wyse moet ‘n jong kind objekte identifiseer as besittings. Die lamas word as huisbediendes vermom in hul soektog na die ware een. Die jong kind slaag die toets en word dan na Lhasa geneem, waar hy die veertiende inkarnasie word van die Boeddha van Erbarming.

Die jong kind se aanvanklike verlange na sy ouerhuis word baie goed verbeeld, maar later word hy ‘n waardige opvolger.

Die Tibetane se stryd met die Sjinese is ‘n pynlike een, onder andere omdat hulle deur laasgenoemde as mindere mense beskou word.

Die Dalai Lama moes uiteindelik sy land verlaat weens die volgehoue aanvalle van die Sjinese.


III.

In 1997 is Scorcese bekroon met die Amerikaanse Filminstituut se “Lifetime Achievement Award”.

Maar wat die Oscar betref: liewers laat, as nooit!


Bronne:

Jason Ankeny: All Movie Guide.


Martin Scorsese: Mi Viaggo di Italia. 1995



25. David Lean (1908 – 1991)

I.

Dit is die sewentigerjare in Pretoria. Ons sit in die drive-in en kyk na Lawrence of Arabia, terwyl my moeder na aanleiding van die toneel tussen Peter O’ Toole en die offisier vir ons homoseksualiteit verduidelik.

In die tagtigerjare gaan kyk ek en my jongste suster weer na Lawrence of Arabia.
‘Genugtig, roep sy uit,’ kyk hoe kamp is hy!’ En dit het ons nie as klein kinders raakgesien nie. Vir ons was hy die held wat deur die woestyn reis, van trok tot trok spring op ‘n trein. En my moeder se uitwys van die ironie het my vir altyd bygebly: hy oorleef die oorlog, maar  sterf in ‘n frats-motorfietsongeluk ná al sy brawe omswerwinge.


II.

Die epiese films van David Lean verdien die ereplek wat dit binne die filmkuns geniet. The Bridge on the River Kwai (1957), Doctor Zhivago (1965), A Passage to India (1984). In die jaar 2002 haal David Lean die lys van die een van die gewildste filmmakers nog.


III.

Lean het die bedryf van onder leer ken as ‘n sogenaamde klapbord-assistent. Hy doen ‘n klomp produksies, onder andere met Noel Coward en Terence Rattigan en kort voor sy dood het bepla om Joseph Conrad se Nostromo te verfilm met Christopher Lambert, Isabella Rossellini. Marlon Brando, Paul Scofield, Dennis Quaid, e.a.


IV,

My gunstelingfilm van Lean is Doctor Zhivago.

Daardie tydlose film vervaardig deur Carlo Ponti met Omar Sharif en Julie Christie in die hoofrolle met Alec Guinness as die verteller. Die film is gebaseer op Boris Pasternak se gelyknamige roman en speel tydens die Russiese rewolusie af. Daar bestaan ‘n dokumentêr oor die vervaardiging van die film, maar juis omdat ek soveel van die film hou, wou ek nooit hierdie deromantisering beleef nie.

Trouens, Klaus Kinski maak ‘n kort draai in hierdie epiese film van 3 ure en 10 minute. Die film begin met Lara en Yuri se kind wat deur haar oom (Yevgraf) uitgevra word. Die film word geknyptang met haar belydenis oor die man, Komorovsky, wat haar hand laat los het tydens ‘n opstand en wat sy meen haar vader was…

Maar hy was nooit haar vader nie.
Háár vader was die digter en haar moeder, Lara, soek vergeefs na haar ná die rewolusie.

Daarna is dit die begrafnis van die jonge Yuri se moeder en die hele film lewer subtiele kommentaar op die posisie van die verlore kind.

Lean werk met sterk simboliese kodes: ‘n trem maak ‘n elektriese kortsluiting wanneer Lara en Yuri op dieselfde trein sit; daar is ‘n bloedkol in die sneeu wat die kyker waarsku van die ellendes van opstand; ons sien ‘n bril op die grond lê tydens ‘n oorlogstoneel…

Daar is ‘n skokkende toneel waneer Lara verkrag word deur Komorovsky (Rod Steiger) en dit is hy wat haar leer dat daar mans is wat net ongelukkigheid in vroue skep.

Aanvanklik trou sy met Pascha en Yuri met Tonya. Hul verwek onderskeidelik kinders wat die binariteit van die film verder uitwerk. Daar is die ewigdurende opposisie tussen liefde en rewolusie, die private en die politieke temas.

Die Russiese rewolusie bedui die einde van die Tsaars. Maar dit begin ‘n nuwe ellende. Lenin bring nie die hoop waarop hulle gewag het nie.

Daar is striemende kommentaar op die bestel: ‘n trein reis op ‘n spoor wat tot ‘n einde kom en vir ‘n ruk is die kyker, saam met die Russe, in ‘n donker tonnel waarin ons niks sien nie. Lara se man staan vir die politieke dimensie. Die private is dood, verklaar hy.

Terwyl Juri se vrou swanger is tydens hul vlugtog uit die onrus en verblyf in ‘n dacha, gaan hy daagliks na Lara te perd. Lara inspireer sy gedigte; tog herken sy haarself nie in die verse nie…

Hulle het ontmoet op ‘n trem en ten slotte is hy terug in Moskou, reis per trem en sien sy geliefde Lara wat ondertussen na haar dogtertjie soek.

Maar Yuri bereik haar nie. Hy sterf aan ‘n hartaanval en sy daag wel by sy begrafnis op wat deur vele bygewoon word, ofskoon hy dig oor dit wat nie vir die tyd belangrik is nie, naamlik liefde en verlange…

Dit is ‘n film uit 1965.

Die film speel af tussen 1905 – 1921 toe die Tsaar omvergewerp is en die Sowjet-Unie ontstaan het.

Die balalaika waarop Lara se tema (“Somewhere my love”) gespeel word, is ook die sleutel: dit is wanneer Lara en Yuri se dogter herken word deur die verteller.


V.

Die film is in Spanje, Finland en Kanada geskiet en Sophia Loren was te lank vir die rol van Lara. Verder was daar rusies tussen Guinness en Lean en verskeie akteurs is die rol van Zhivago aangebied, o.a. Peter O’Toole en James Mason.

Die rede vir die verfilming buite Rusland, was omdat die boek daar verbied was.
Hierna maak Lean Ryan’s Daughter (1970) en ‘n toneel terloops is in Kommetjie geskiet weens die slegte weer in Ierland.

Ryan’s daughter is ‘n moderne Madame Bovary en die liefde van Rosy (Sarah Miles) vir die Britse offisier is ‘n klassiek, ofskoon dit destyds deur die kritiek gestriem is.
Spanninge tussen die Iere en die Engelse word hier verbeeld en ironies genoeg was daar spanninge tussen Sarah Miles en haar medespeler, Christopher Jones wat die liefdestonele bemoeilik het.

Wie sou Robert Mitchum se spel ooit kan vergeet?

Waarskynlik het mense hierdie film met Lean se epiese films vergelyk en dit verkeerd beoordeel.

Alle verslae dui daarop dat David Lean ‘n moeilike regisseur was om mee saam te werk met Mitchum se onvergeetlike woorde dat Lean van ‘n mens verwag om die Taj Mahal met vuurhoutjies te bou.

Iets van Lean se gedrewenheid kom ‘n mens agter in die skouspelagtige opblaas van die brug in Bridge on the River Kwai wat werklik plaasgevind het. Alec Guinness was nie daar om dit mee te maak nie; hy is reeds huis toe gestuur na sy optrede as die kolonel wat glo hulle moet die brug bou om te wys hulle is nie onderdanig aan die vyand nie. Die toneel is tweemaal geskiet. ‘n Kameraman het vergeet om die teken te stuur dat hy reg is en met onverdrote ywer is alles herhaal in die wérklikheid.

Dus nie digitale manipulasie nie. Maar ‘n werklike brug gebou in Ceylon.


26. Lars von Trier (1956 -)

I.

Lars von Trier (oorspronklik Lars Trier) is ‘n Deense filmmaker wat bekendheid verwerf het met die sogenaamde Dogme95-beginsels. Nie al sy films voldoen aan hierdie eise nie – waaronder die natuurlike, onbelemmerde hantering van die kamera, die bekendste beginsel is.

Gebore in Kopenhagen in 1956 uit ‘n nudisties-kommunistiese gesin waar geen geloof beoefen is nie, het ‘n geweldige impak op sy lewe gehad. Von Trier is sonder enige reëls groot gemaak en soos ander groot filmmakers wat ‘n moeilike jeug moes verduur, was sy Super-8-kamera ‘n uitkoms. In 1995 ontdek hy dat die man wat hy dag sy vader is, ‘n stiefvader is. Sy moeder bely dit op haar sterfbed en hierdie insident het ‘n geweldige impak op sy kunstenaarskap gehad. Hy word bekeer tot die Katolisisme en begin met onverdrote ywer volledige eerlikheid in sy kuns najaag.

Dit lei dan Dogme95-konsep en films soos the Breaking the waves (1996) met Emily Watson en The Idiots (1998) is die bekendste voorbeelde van hierdie kunsvorm.

Hy het in 2000 ‘n film met die Yslandiese sangeres Björk gemaak: Dancer in the Dark. In Dogville (2003) sien ons dan vir Nicole Kidman optree.

Dit is bekend dat die filmmaker aan ‘n vliegfobie ly.


II.

My eerste ervaring van die Dogme-filmmakers se werk was met Festen, ‘n tragies-komiese analise van familie-reünie waarin ‘n seun onthul die vader hom en sy suster gemolesteer het.

Die gehoor het gelag vir die meeste van die onthullings; dalk uit senuwee-agtigheid? Ek het egter die film met ‘n groeiende gevoel van verontwaardiging beskou en die keerpunt in die film, wanneer die moeder (wat kennelik bewus was van die molestering), die vader vra om die huis te verlaat, bring ‘n soort orde terug.

The Idiots is ‘n vreemde kykervaring. Mense speel asof hulle intellektueel-gestremd is, onder andere in ‘n restaurant, by ‘n besoek aan ‘n fabriek, ensomeer. Dit is ‘n film wat huiwer tussen realiteitstelevisie en candid camera-humor. Met ‘n wreder angel by.
Dit wil glo die idioot in jouself ontgin na aanleiding van die populistiese sielkundige teorie van “die verwonde kind in jou”.

Galgehumor beslis. Met ‘n onskuldige toeskouer, ‘n vrou, wat op sleeptou geneem word om die manewales waar te neem en die grensoorskrydende gedrag al spelende (?), koekeloerende mee te maak.  


III.

Vir my bly die lang Breaking the waves ‘n ongelooflike film met Emily Watson se spel as eenvoudig aangrypend.

‘n Vrou trou met ‘n outsider in ‘n klein gemeenskappie waar die Kerk die orde bepaal. Sy is kinderlik-eenvoudig in haar liefde vir die man. Hy werk op ‘n olieboor en in ‘n ongeluk word hy verlam. Sy bly hom versorg, maar hy versoek haar om haar liggaamlik te eksploreer en vir hom hiervan te vertel sodat hy kan onthou hoe dit was toe sy nog met hom geslaap het.

Dan is daar die dokter wat vir haar gevoelens koester en die gemeenskap wat bewus raak van haar grensoorskrydende gedrag.

Sy word verwerp deur die gemeenskap, ook deur haar moeder wat haar laat klop aan die deur en weier om haar binne te laat.

Wanneer sy sterf ná ‘n aanval op een van haar ontdekkingstogte, weier die Kerk om haar te begrawe. Sy word by die begrafnis tot die hel verdoem.

Maar die verlamde man stap weer met krukke, nadat daar gebid is vir hom dat hy weer sal kan stap. Sy word in die see begrawe, weg van die verdoemende Oordeel van die Kerk en die gemeenskap.

Hierdie film vra om ‘n toepassing van Jacques Lacan se siening van die Wet en hoe die persoon wat búite die Orde (hier die Kerk) beweeg, deur die gemeenskap bestraf word.

Daar is onthoubare tonele, soos die man wat vir sy vrou in die hospitaal ‘n nota skryf dat hy weet sy lieg; daar is die toneel waar die dokter deur die geregtelike kommissie in ‘n hofsaak vasgepen word oor sy implisiete samespel wat tot die tragedie gelei het; daar is die toneel waar Bess haar klere uittrek en die dokter probeer verlei om haar man te behaag…

Bess bid dat Jan moet terugkeer na haar wanneer hy weggaan van haar. Hy keer wél terug, maar as ‘n verlamde. Haar gebed word dus verhoor, maar met skrynende gevolge. Hier kan ‘n mens Von Trier se kritiek op die kerk aanvoel.

Die film speel af in die Noorde van Skotland.  Die film se boodskap herinner aan David Lean se Ryan’s daughter (1970). Die gemeenskap verteenwoordig ‘n bepaalde orde en enige oortreding gaan met bestraffing gepaard. Die kyker verwag in Breaking the waves dat Jan, die buitestaander, sal sterf, maar dit is Bess wat sterf.

Daar is eweneens inspelings op die Ou-Testamentiese offer. Bess is die judasbok. Ná haar dood is die orde weer herstel.

Bron:

Die volgende onderhoud is geraadpleeg: http://www.timeout.com/film/news/553/


27. Wanneer ‘n boek verfilm word

I.

Daar is ‘n gesegde dat ‘n swak boek ‘n goeie film maak. Ten dele waar ja, omdat die goeie regisseur dan ‘n draaiboek het wat verander kan word in filmiese beelde. Daar is egter uitsonderings, dáár waar ‘n briljante roman deur ‘n knap filmmaker ‘vertaal’ kan word sonder dat die kyker voel dat dit afbreek doen aan die outensiteit van die eerste teks. (Perfume van Patrick Süsskind het myns insiens nie die waansin van die roman goed vasgevang nie.)

‘n Geslaagde film is Lolita van Stanley Kubrick, gebaseer op die roman van Vladimir Nabokof se gelyknamige roman gepubliseer in 1955/1956.

Die roman is ‘n komplekse belydenisroman met die verhaal wat deur ‘n voorwoord van ene John Ray, Jr., Ph.D. begelei word en as ‘n klassieke verhaal in psigiatriese kringe beskou sal word. In hierdie voorwoord word die verhaal weggegee: die leser weet reeds dat Humbert Humbert oorlede is aan ‘n trombose in die tronk.

Hy het Quilty vermoor en Ray is deur Humbert Humbert se regsgeleerde gevra om die manuskrip, wat ons gaan lees, te redigeer.

Dit handel oor ‘n professor in letterkunde wat ‘n obsessie ontwikkel het met die jong meisie, Lolita. Hy het met die moeder getrou om naby aan die kind te wees.

Die openingswoorde ken ons almal: “Lolita, light of my life, fire of my loins. My sin, my soul.”


II.

Nou hoe verfilm ‘n mens ‘n roman wat so kompleks is en ‘n satiriese blik gee op die Amerikaanse samelewing? ‘n Roman wat aanspraak maak op die werklikheid en verder skerp kommentaar lewer?

Die antwoord is Stanley Kubrick.

En James Mason, Shelley Winters, en die koning van humor/satire/parodie: Peter Sellers.

Tussen hierdie drie verbluffende akteurs – met die jonge Lolita waarom die hele film draai – word die balle in die lug gehou.

Die film is ongeveer twee en half uur lank, in swart-en-wit verfilm, met Quilty wat in verskeie gedaantes intree.

Humbert Humbert, die besoekende professor in Franse letterkunde, loseer by die moeder met ‘n belangstelling in die nimfet. Wat hy nie wis nie, is dat sy as klein nimf reeds met Quilty ‘n verhouding het, terwyl hy ná die fratsongeluk van die moeder, haar voog word.

Die moeder ontdek sy dagboek waarin hy sy liefde vir Lo’ bely en na haar verwys word as ‘n vet koei. Sy hardloop in ontsteltenis die trappe af en beland voor ‘n motor.

Lolita is ondertussen op ‘n somerkamp en Humbert weerhou die inligting van die moeder se dood van haar, belieg haar dat die moeder siek lê in die hospitaal waarheen hulle nou op pad is.  Hy slaap in dieselfde hotelkamer met haar; iets wat hy mag doen, omdat hy haar “vader” is.

Hier duik Quilty op – as ‘n polisieman wat ‘n konvensie bywoon. Later sien Humbert deur die venster van ‘n garage-toilet hoe Lolita met ‘n vreemde man in ‘n motor gesels en uiteindelik: hy word bewus van ‘n motor wat hulle agtervolg. Quilty verteenwoordig op ‘n manier Humbert se gewete in sy verskillende gedaantes en ten slotte word die motor wat hul volg, ‘n teken van paranoïa.

Kubrick ontgin die erotiese spanning, maar hy laat alles aan die kyker se verbeelding oor. Lolita neem ontbyt vir Humbert na sy kamer en voer hom. Uit hierdie vinjet word die intieme verhouding tussen hulle gesuggereer.

En: hy verf haar toonnaels met sorg, terwyl hy haar uitvra oor haar vriendskappe met jong seuns…

Later bely sy dat Quilty die liefde van haar lewe was en sy verlaat haar vader/minnaar en raak swanger by ene Dick, ‘n trailer trash-figuur, wie se droom dit is om in Alaska te gaan werk.

Hier lê hy besoek af nadat Lolita vra om geld (en hy betaal dit soos alle goeie vaders) en smeek haar om met hom weg te gaan. As sy nie saam met hom wil gaan nie, jaag hy weg en die kyker is reeds bewus van die tragedie wat hom gaan afspeel.

Die film begin met die konfrontasie tussen Sellers en Mason. ‘n Bykans maniese Sellers speel tafeltennis en klavier en probeer Mason op hierdie wyse kalmeer.

Hy word egter doodgeskiet. 


III.

Waarom wou Kubrick ‘n film maak van Lolita? Volgens Alexander Walker was dit omdat Kubrick hierdie roman beskou het as ‘n moderne liefdesverhaal, ‘n verhaal waarin die geliefdes geskei word deur die dood of ‘n situasie wat dit ónmoontlik sou maak om weer bymekaar uit te kom.

Volgens Kubrick is dit ook noodsaaklik dat hierdie verhouding die gemeenskap of die karakters se families moet skok.

En hoe vertolk ‘n mens die verwysings en satiriese kommentaar op die Amerikaanse gemeenskap?

Sue Lyon vertolk die rol van Lolita.

Volgens sekere kritici was sy te oud vir die rol, maar vir Nabokof, wat die openingsaand bygewoon het, was die film in die kol.

Lesers van die boek sal weet die openingstoneel staan nie in die roman nie en dat die toneel waar Humbert Humbert in die bad lê, eweneens deur Kubrick uitgedink is.

Dieselfde geld die vertolking van Sellers wat aan elke Quilty-optrede ‘n interessante dimensie verleen (Walker, 24 – 25). Die ander weergawe hierna, met Jeremy Irons, bewys hoekom Kubrick so ‘n groot filmmaker is.

Sy Lolita is ‘n aparte, outonome kunswerk wat die kyker kan verstaan. Die kyker wat wel die roman ken, waardeer sy vertolkings en interpretasies én sy fel sosiale kommentaar. Sotlike opmerkings, nuuskierige bure.
Die film is in Brittanje vervaardig.     

Bron:

Alexander Walker: Stanley Kubrick, Director. A Visual Analysis. Weidenfeld & Nicholson, Londen. 1999.


28. Peter Sellers (1925 – 1980)

I.

By die DVD Nouveau in Breestraat staan daar sulke boksies met rolprente van groot akteurs. Die een oor Catherine Deneuve word dikwels uitgeneem en daar is onder andere een van Peter Sellers en al sy hoogtepunte.

Wat behels Sellers se prestasies presies?

Dr Strangelove (waarin hy drie rolle vertolk), Lolita (beide Kubrick -films), die latere Being there gebaseer op Jerzy Kosinski se roman.

Vir my is die essensiële Sellers uiteraard The Party, ‘n film deur Blake Edwards, waarin die komiese kragte van Sellers se verkleurmannetjie-persoonlikheid ingespan word. En sy nabootsing van aksente, was ook ‘n deug. As Quilty vertolk hy verskillende karakters en kan hy van gedaante verander.

As die onnosele speurder Clousseau in die Pink Panther-reeks (ook van Edwards) skeer hy die gek met die Franse.

“I vant a ream you minkey’, bly ‘n gunsteling-frase.

“Oh you want a room?”

“I said ream.”

Hy het selfs in die Muppets ‘n draai gegooi en in ‘n gesprek met Kermit bely dat hy nie weet wie hy is nie…


II.

Sellers was nie ‘n maklike man nie. Trouens, in die biografie oor sy vader, P.S. I love you (1981), ontmasker sy seun, Michael, hom as ‘n egosentriese, afwesige ouer. (Die drie kinders het elk 800 pond geërf!)

Hulle moes dikwels van ‘n hartaanval of nuwe vrou via die radio verneem.

Daar was baie vroue, ‘n obsessie met Sophia Loren, ‘n huwelik met die beeldskone Britt Ekland wat dikwels onder hom deurgeloop het.

Sy punteneurigheid is oorbekend. Wanneer hy in ‘n hotel ingeboek het, moes alles binne sy smaak val. Die water moes louwarm in die bad wees, anders was die hel los.

Op ‘n dag het hy in woedebui sy Bentley in ‘n parkeerterrein teen motors gestamp, omdat Ekland laat was.

Geoffrey Rush gee ‘n verbysterende vertolking van die akteur in ‘n biografiese verkenning, The life and death of Peter Sellers (2004). Van sy werkersklas-lewe tot die Goon Shows. Dan later as beroemde akteur en uitmuntende komediant. There’s a girl in my soup met Goldie Hawn uit 1970 bevestig dit.

In Afrikaans is hy vereer met ‘n gedig deur T.T. Cloete in die bundel Jukstaposisie wat heet “Alle grappies op ‘n stokkie”.

Die donker kant van hierdie komediant is iets waarvan ‘n mens bewus word by die lees van biografiese studies oor sy werk.  Depressies en alkohol het dikwels sy lewe verdonker. En dwelmmisbruik was daar ook met ‘n hartprobleem. En ‘n enorme ego. Toe hy nie ‘n Oscar gewen het vir Being there nie, is die nominasie asblik toe.


III.

The Party (Ook genoem The Hollywood party), Blake Edwards se film uit 1968 is 98 minute van plesier. (As ‘n mens die biografie lees, dan besef jy hoe slim die film inspeel op Sellers se verbintenis met Ravi Shankar en sy flirtasie met die Boeddhisme. Sellers kon glo selfs op sy kop staan en sy vriendskap met George Harrison het hom aan ‘n ander lewenswyse bekend gestel.)

Maak nie saak hoeveel keer jy die film sien nie, dit bly skreeusnaaks.

Hy vertolk die rol van ‘n Indiese akteur wat per abuis by die studiobaas se huis opdaag vir ‘n party.

Hy word aan die begin van die film in die pad gesteek, omdat hy in sy lompheid die stel opblaas. En ‘n horlosie dra.

In hierdie eerste paar minute sien ‘n mens hoe Sellers binnepret ervaar en dit is algemeen bekend dat sekere tonele vir die regisseur se plesier herhaal is.

Aangekom by die party loop alles skeef weens die toedoen van Sellers. ‘n Skoen word in die water verloor die toilet word getrek en bly spoel, die elektriese toiletrol bly papier afgooi…(Hierdie toneel kan ‘n mens terloops op die internet aflaai!)

Met Sellers se nabootsing van die Indiese aksent as ‘n verdere pluspunt. Die gesprek met die voël (“feed the birdie num nums”) bly ‘n mens by.

Dan die etenstafel-toneel met Sellers wat op ‘n lae stoeltjie sit en sy hoender probeer baas raak. Dié skiet hy per abuis deur die vals haarsstuk van die gasvrou. Sy bly hiervan onbewus. Haar tiara is weg. Vér weg.

In die kombuis is daar pandemonium.

Elke keer wanneer die deur oopswaai, sien ons hoe die dronk kelner gepak word. Hy, terloops, word al hoe dronker en dronker, maar spring al hoe behendiger oor die klippe in die binnehuise-riviertjie.

Inmiddels het die spoelende toilet ‘n stortvloed veroorsaak en die besoekende kinders met hulle olifantjie – met Sellers wat verduidelik dat geen slagspreuke geduld kan word op ‘n heilige dier uit Indië nie – maak alles net erger. Die olifantjie word met seepskuim skoongewas en die watervlak styg.

Nou moet die duur skilderye gered word en die huisbaas merk sardonies op dat die skilderye belangriker as sy vrou is.

Dan vir die mooiste oomblik in die humorfilmkuns. Die gasvrou val nie een keer in die skuim nie, maar tweekeer! Hier sien ‘n mens die behendige aanslag van Edwards wat glo self gerol het van die lag en in die heerlike histerie is daar ge-ad lib.

En Sellers?

Hy ry weg in sy vreemde driewiel-karretjie nadat hy die katalis was vir die pandemonium.

TimeOut skryf dat ‘n mens nie soveel lag as wat jy die ongelooflike briljansie bewonder nie en dat Sellers, die dronk kelner en baba-olifantjie die hele party tot apocalyptic shambles reduseer.

Ek verskil.

Hierdie film is inderdaad soos ‘n Jacques Tati-meesterstuk en met elke herkyk lag ‘n mens weer.

Hulde aan Hrundi V. Bakshi, die Hollywood-ekstra wat die hele party op sy kop draai.

Ook hier is Henry Mancini verantwoordelik vir die tema-musiek.

Die film tree in gesprek met Tati se Meneer Hulot se vakansie (Les vacances de Monsieur Hulot, 1952).

Elvis Presley het The party as sy gunstelingfilm gelys.

Dit is waar dat Glen Miller se In the mood by Sellers begrafnis gespeel is. Dit was Sellers se laaste gek keuse; hy het glo die liedjie verpes.



The Pink Panther (1963) - A Shot in the Dark (1964) - Return of the Pink Panther (1975) - The Pink Panther Strikes Again (1976) - Revenge of the Pink Panther (1978) - Trail of the Pink Panther (1982) - Curse of the Pink Panther (1983) - Son of the Pink Panther (1993)

Michael Sellers. 1981. P.S. I love you. Londen: Fontana / Collins.


29. Vittorio de Sica (1902 – 1974)

I.

Hierdie Italiaanse filmmaker word eervol vermeld vir sy briljante films soos The bicycle thieves (Ladri di biciclette) en Shoeshine (Sciùsciá). Hy kry erkenning vir A Miracle in Milan (Miracolo a Milano) (die Palm D’Or). Hy word getipeer as ‘n Italiaanse Neo-Realistiese filmmaker wat o.a. die Goue Beer inoes, vereer word vir Yesterday, Today and Tomorrow in 1963 as die beste buitelandse film.

Die Garden of Finzi-Continis is in 1970 vereer as die beste buitelandse rolprent.

Duidelik dus ‘n filmmaker wat deur die buiteland as ‘n ernstige eksponent van die moderne Italiaanse filmkuns beskou word.

Saam met Fellini en Visconti is hy ‘n belangrike uitvoerproduk. Hy is eweneens in Berlyn vereer vir sy bydrae tot die filmkuns.


II.

Miracolo a Milano van De Sica is ‘n film waarin sosiale kommentaar op ‘n besondere wyse hanteer word. ‘n Jong kind, Totò, word deur ‘n ou vrou tussen koolblare gevind, sy maak hom groot met liefde en op ‘n jong ouderdom word hy na ‘n weeshuis geneem. Dan sien ons hoe hy op agtien die weeshuis verlaat en eenvoudig moet sien kom klaar. Sy tas word op die eerste aand gesteel en hy sit die skobbejak agterna. Dit is ‘n arm man wat bely hy hou van die tas. Die jongeling gee dit aan hom en die ou man bied vir hom huisvesting aan by sy ‘huis’.

Dis winter en koud. Mense hardloop rond om ‘n ligstraal te vang en die mense woon in pondokke. Die kyker ervaar die realiteite van ons sosiale situasie op die Kaapse vlakte.

Tog die jongeling bly goed doen. Hy help almal. As iemand kort is, dan loop hy krom om die mens beter te laat voel. As iemand ‘n skewebek-gesig het, trek hy sy gesig skeef.

Toe word die plakkers die slagoffers van landhere se twis.

En dan tree die bo-natuurlike in, magies-realisme, as u wil, wanneer die oorlede moeder vir hom ‘n duif stuur en hy oor magiese kragte beskik om die aanslagte af te weer.

Uiteindelik vlieg almal hemel toe.

Die implisiete boodskap is dat hulle doodgemaak is, maar dat hul geloof hul dra. Of: jy moet jou oorgee aan fantasie, want die politieke werklikheid is so droefgeestig en drome van hernuwing is ‘n mite.


III.

De Sica se ander meesterstuk is The bicycle thieves, ‘n felle kommentaar op werkloosheid in Italië. Ten einde te kan werk, moet ‘n man ‘n fiets besit. Dit word gesteel en hoe nou gemaak?

Die man se kind word eweneens blootgestel aan die ellendes en onsekerhede van hul soektog.

Dis nie maklike films om te kyk nie.

Die toneelspel is oordrewe, by tye selfs histeries, bykans slap-stick met die Gebaar as uitgangspunt.

Dit is net na die Tweede Wêreldoorlog en die werklose Antonio Ricci plak advertensiebiljette op ten einde geld te maak.

Sy vrou verpand hul huwelikslakens sodat hy ‘n fiets kan bekostig om sy werk te kan doen in Rome.

Die fiets, helaas word gesteel en met sy seuntjie, Bruno word daar na die fiets gesoek.
Hulle vind die dief, maar die polisie kan niks doen nie, omdat die fiets reeds verkoop is en die bure die dief beskerm.

Hierdie kyker het die magteloosheid van ‘n moderne Suid-Afrikaner ervaar: die polisie trek skouers op en die dief word deur die sisteem beskerm.

Hierom begryp ‘n mens die man se lot. Hy het geen ander opsie as om ‘n fiets te steel nie.

Die kyker se keel trek toe wanneer  die man gejaag word deur ‘n groep mens en gevang word.

Die eienaar is hom gelukkig goed gesind en hy kom los, maar hy is verneder voor sy kind.

Wie is die eintlike dief?

Daar is vele dispute dat die titel net in die enkelvoud moet wees: maar die kyker besef al hoe meer die meervoud is die korrekte titel, want daar is twee diewe.

Die deler is net so goed as die steler. Een dief is nie meer moreel as ‘n ander een nie…

Hier het ons Neo-Realisme op ‘n hoogtepunt. Die hoofakteur, ene Lamberto Maggiorani, was ‘n gewone fabriekswerker wat De Sica ingespan het as ‘n akteur!

Vittorio de Sica

IV.

Een van sy mees onthoubare films is Two Women wat bekend staan as La Ciociara met Sophia Loren wat ‘n Oscar ontvang het vir haar toneelspel.

En alle groot filmmakers beskou De Sica se films as ‘n inspirasie en daar is ‘n kopknik na hom in Robert Altman se The Players.  Scorcese verwys eweneens na hom in sy outobiografie as ‘n belangrike eksponent van die moderne filmkuns.

Hy lewer kommentaar op sosiale kwessies en hoe die mens deur die sisteem geknel kan word.

In ‘n onderhoud bely hierdie filmmaker dat hy jong kinders vir ‘n hele jaar lank gevolg en dopgehou het om Shoeshine te kon maak. Die regering het nie altyd van sy felle kommentaar gehou nie. Hierop was sy antwoord dat hy films maak om die mens se onbetrokkenheid en ongevoeligheid by ander se ellende uit te beeld. 

Umberto D. is ‘n klassieke laaste weergawe van die Neo-Realisme.


Bronne:

William Wolf: Landmark films. Paddington Press Ltd. , New York. 1997.

The bicycle thieves

30. Jack Nicholson (1937 - )

I.

In 1994 word Jack Nicholson bekroon met ‘n Lifetime Award en in die tagtigerjare word hy saam met Meryl Streep as dié ikone van tagtig beskou.

Nicholson het waarskynlik al die meeste pryse ingeoes vir sy idiosinkratiese vertolkings wat altyd op homself (of dan sy persona) gebaseer is.

Niemand kan ‘n eksentrieke figuur of ‘n effens-versteurde so goed as hy vertolk nie.
Dink maar aan daardie ongelooflike toneel wanneer Shelley Duval ontdek dat haar skrywersman besig is om gek te raak in Kubrick se The shining (1980). Of sy aanwesigheid in Roman Polanski se Chinatown (1974).

Jack Torrance en J.J. ‘Jake’ Gittes.

Of die Joker in Batman (1989). Of die kêrel wat die malhuis omkeer in One flew over the Cuckoo’s nest (1975). En verder terug Easy Rider (1969), daardie besondere kultusfilm.

Die maniese laggie; die wenkbroue wat lig; die stem wat verdonker wanneer hy ‘n opponent aan die keel gryp.

Hy is een van die mees genomineerde Hollywood-sterre tot op datum, ‘n prestasie wat sy besondere talent punktueer.

Hy verwerf boonop die Stanislawski-toekenning in Moskou vir sy waarheidsgetroue vertolkings.


II.

Dit is algemeen bekend dat hy op ‘n laterige ouderdom ontdek dat sy suster eintlik sy moeder is. Hierdie nuus is aan hom oorgedra deur ‘n joernalis wat ‘n onderhoud met hom moes voer. In hierdie stadium was sowel sy grootmoeder as moeder oorlede wat die nuus deste skokkender gemaak het.

Hy is skatryk. Uit Batman alleen het hy etlike miljoene verdien en verder is daar vele kinders by vele vroue.

Sy verbintenis met Anjelica Huston is deur openbare ontrouheid beeïndig. Billy “Bad Ass” Buddusky is nie verniet ‘n naam van een van sy karakters nie.

Die vriendskap met Polanski het voorblaaie gehaal: o.a. na die dood van Sharon Tate en tydens die aanklag van verkragting teen sy vriend. Hieroor word allerlei mites versprei oor dwelms en ander donker dinge aan’t huise van Nicholson te Mulholland Drive. 


III.

Michelangelo Antonioni se The Passenger – met Carlo Ponti as die vervaardiger – het ek kort na die verskyning vir die eerste keer gesien. As ‘n mens die film op DVD bekyk en daarna die oudio-kommentaar van Jack Nicholson beluister, word dubbele plesier beleef.

Met Jack Nicholson se wrange, ironiese stem verklap hy etlike produksie-geheime vir die kyker soos dat Antonio meer in die landskap as akteurs geïnteresseerd was. Dus ‘n landskap-regisseur. Hierom fokus hy op die woestyn en stilte.

Nicholson beklemtoon sy enorme talent vir observasie en detachment. Die film begin in Noord-Afrika met Nicholson as verslaggewer en onderhoudvoerder. Daar woed ‘n geheime oorlog en wapensmokkelary vind plaas.

Die film begin met Nicholson wat as David Locke met die gids eers Engels dan Frans praat. Later lewer hy kommentaar op die sigaret wat aangebied word as ‘n internasionale taal van kontak.

Met sy terugkeer na die hotel wanneer die Landrover in die sand vasgeval het en sy gids hom versaak het, ontdek hy dat man met wie hy ‘n gesprek gehad het (op die bandopnemer vasgelê), is dood. Hy luister weer na die bandopname, kom iets te wete oor sy planne en ruil die paspoortfoto’s om. Hy trek ook die man se klere aan en die hotelbestuurder kom niks agter nie, omdat hy die twee mans vantevore met mekaar verwar het.

Daar is onthoubare vinjette in hierdie verbluffende film:
*  die toneel waar die Landrover in die sand vasval en Nicholson wat
   dit aanval met ‘n graaf;
*  die oopdak-motor waarin Maria Schneider, sy werklike gids, staan;
*  Jack Nicholson wat ekstaties uit ‘n kabelkarretjie staan;
*  die Gaudi-argitektuur in Barcelona;
*  die teregstelling van die swart man op footage wat ‘n prospeksie word
    van David Locke se einde;
*  die anekdote oor die blinde man wat Jack Nicholson/David Locke
    aan Schneider vertel. Nadat die man se blindheid opgehef is, pleeg
    hy selfmoord, omdat hy nie die onaf-heid van die wêreld kan hanteer nie;
*  die vrou wat wegstap van die lyk en bely sy het nooit die man geken nie…

Die film wentel voortdurend tussen vasgevang-wees en vryheid.

Jack Nicholson bely teenoor die meisie dat hy iemand anders was. Dis ‘n film waarin daar voortdurend beweeg word: Noord-Afrika tot München; dan Barcelona en terug in Afrika.

Sou hy ‘n kelner in Gibraltar wees, sou dit te ooglopend wees; ‘n romanskrywer in Kaïro is volgens haar te romanties…

Hy word/is uiteindelik ‘n gunner in die oorname van ‘n ander se identiteit.

Nicholson lewer ook kommentaar op die naaktoneel wat gedistansieerd en via ‘n spieël hanteer is, omdat Schneider nie haar omstrede seksuele persona ná Bertolucci se Last tango in Paris wou vereng nie.

Hy wys ons daarop in die metakommentaar dat sy pille geneem het vir rugpyn en in een toneel moet hy haar vashou, omdat die uitwerking van die pille haar lighoofdig begin maak het.

Hier teen die einde moes hulle lemoene aan bome geel verf en die twee polisiekarre het in die jaagtog gebots.

Die hotel – waar die einde voltrek word – is spesiaal gebou vir die slottoneel waar die kyker deur die diefwering kyk na ‘n ou man op ‘n stoel (wat weer inspeel op die slot van Godfather III van Francis Ford Coppola), ‘n hond en ‘n kind wat klippe gooi.

Ons sien ‘n Citroën naderkom en dan ‘n polisiemotor.

In jou eie gemoed moet jy die teregstelling voltrek. Dit word nie gewys nie; egter geinsinueer sodat die impak sterker inwerk op jou psige.

Dit word uiteindelik ‘n film oor paranoïa, omdat die nuwe identiteit wat hy aanneem hom konfronteer met sy eie angste en donkertes.

Die titel van die film is skynbaar gebaseer op ‘n fout!

Omdat Maria Schneider nie kon bestuur nie en Nicholson dus oorspronklik die passasier moes wees, maak van die titel nou iets vreemds.

Nicholson se karakter, argumenteer ‘n skrywer sinvol op die Wikipedia, is ‘n passasier van sy eie lewe, ‘n waarnemer en nie die oorspronklike dryfkrag van sy eie lewe nie.


IV.

“Herken jy hierdie man? vra die polisieman.

Die vrou herken hom nie.

Is dit nie uiteindelik op Nicholson se akteursloopbaan van toepassing nie? Dat ons die kyker nooit werklik weet wie hy is nie?


V.

Hoe sou ‘n mens Nicholson ten beste kon opsom?

Dalk as ‘n karakter-akteur?

In The Departed (2006) is hy Francis ‘Frank’ Costello, maar by hierdie akteur skyn daar dikwels iets deur van sy eie persoonlikheid, of dit wat ons dink ons ken van hom.

Nie om dowe neute nie heet een van sy films The Two Jakes (1990).

Daar is waarskynlik agter die ‘hard ass’ vrouejagter, harde drinker en lieplapper ‘n
man met ‘n hart.

Want om so te kan toneelspeel, dui op ‘n geweldige innerlike krag.


Bronne:

Die internet is vir die lewensloop geraadpleeg en TimeOut vir die filmdatums.


31. Richard Attenborough (1923 -)

I.

Attenborough verwerf bekendheid as akteur en regisseur. Hy vertolk ‘n rol in die filmweergawe van Graham Greene se Brighton Rock. In sy jeug vertolk hy ‘n rol in die beroemde Mouse Trap van Agatha Christie.

As prolifieke filmmaker maak hy uiters boeiende films – onder andere Gandhi (1982) – en as ‘n mens kyk na sy bydrae as akteur, vervaardiger en regisseur, is dit geen geringe prestasie nie. Boonop maak hy uiteenlopende films soos A chorus lne (1985) en Chaplin (1992). Young Winston dateer uit 1972, terwyl ons almal Oh! What a lovely war (1969) nie mag vergeet nie.

Cry freedom (1987) handel oor die lewe van Steve Biko.

II

Daar is baie bekronings: ‘n BAFTA, Golden Globe, die gesogte Academy Award as beste regisseur vir Gandhi

Boonop is hy bekroon as akteur en regisseur en dit wil gedoen wees. Hy is o.a. kanselier van die Universiteit van Sussex en vele instansies het hom al vereer vir sy ongelooflike filmkuns, onder andere die UK. Hy is President van die Gandhi Trust.


III.

Sy broer is Sir David Attenborough, die natuurkundige en in 2004 sterf sy dogter en haar kind en skoonmoeder in die tsoenami.


IV.

Die film Gandhi, met Ben Kinsgsley in die hoofrol, is vir my die belangrikste film in sy ryk geskakeerde oeuvre.

Met ‘n besoek aan Indië is daar op die laaste been van die reis ‘n besoek aan Gandhi se huis. Daar was egter ‘n vertraging en ons moet op eie stoom die huis besoek.  In Ahmedabad. Dit staan in die volksmond ook bekend as die stad van stof.

Ek spring in ‘n klein Ricci-taxi en na ‘n uur, deur spitsverkeer, besoek ek die museum. Dit sal altyd een van die belangrikste oomblikke in my lewe bly. Met die herwaardering van die film kyk ek anders na die film. Sekere bakens is herkenbaar.
Die film begin met die regisseur se verklaring dat hy so goed as moontlik wil laat reg geskied aan die lewe van hierdie man. Ons eie Marius Weyers vertolk die rol van die treinkondukteur in die gedeelte waar Gandhi van die trein afgegooi word met ‘n besoek aan Suid-Afrika. Hierdie insident verander dan sy lewe en sy sin vir geregtigheid.


V.

Hierdie pakkende film van meer as drie ure gee nie alleen ‘n historiese verslag van Gandhi se lewe en opstand teen geweld nie. Attenborough, ‘n Brit gee ‘n meedoënlose blik op die Britse koloniste en Gandhi se minagting van hul rassime.

Die hoftoneel waar die regter bely dat hy nog nooit so ‘n figuur as Gandhi teëgekom het nie, is ‘n hoogtepunt in die film.

Die regter word verslaan deur Gandhi se charisma.

Hier het ons die beste voorbeeld van lydelike verset: sit my gerus in die tronk, as u wil.

Trouens, in ‘n stadium raas hy met sy volgelinge oor hul aggressie en die vlae wat hulle swaai.


VI.

In ‘n onderhoud met Ben Kingsley – wie sal ooit sy briljante vertolking in Betrayal, ‘n film van David Jones, teenoor Jeremy Irons kan vergeet? – vertel die akteur dat Attenborough se seun hom in ‘n produksie van Hamlet geeïen het as die egte vertolker van Gandhi.

En word hy nie Gandhi nie. Elke gebaar is Gandhi.

Tydens die toneel waar hy moet speel asof hy dood is, staan daar 300 miljoen mense en ‘n paar terggeeste gooi selfs roosblare in sy gesig om te kyk of hy nie sal lag nie.
Kingsley vertel hoe hy onderhoude met Gandhi bestudeer het ten einde die karakter beter te kan verstaan.

Sal u bereid wees om te sterf vir Vryheid en Onafhanlikheid, vra die een Vraesteller. Die werklike Gandhi maak dit af as ‘n slegte vraag.

Die kyker is nie altyd seker wie is wie nie; so oortuigend is Kingsley se vertolking. En raai wie vertolk die rol van Oom Jannie Smuts…

Mohandas Karamchand Gandhi (1869 – 1948), ‘n Hindoe, het die wêreld aangegryp met sy politieke sieninge.

Satyagraha heet die non-aggressiewe opstand teen boosheid wat gepaard gaan met ‘n eetstaking. In die Sanskrit beteken hierdie woord letterlik die eis om waarheid.
Mahatma beteken Groot Gees, ‘n naam wat Tagore aan hom gegee het.

Gandhi was dikwels in die tronk, in sowel Suid-Afrika as in Indië, om sy misnoeë te kenne te gee.

Hy was in Natal op kontrak van 1893 – 1915 en die trein-insident Pietermaritzburg, waar hy afgegooi is van die trein omdat hy nie van eerste- na derdeklas wou gaan nie, word beskou as die moment waar hy besluit om vir die regte van die onderdrukte en vertrapte op te kom.

In Durban het hy geweier om sy turban af te haal, tot misnoeë van die Britse meelopers.

Die mars teen die sout-belasting was een van die keerpunte in die opstand teen die Britse regime.

Hy was altyd geklee in ‘n dhoti en het sy klere self gemaak op ‘n charka.

In Londen word hy opgelei as prokureur.

In ‘n toneel word ‘n generaal gekapittel oor sy aanval op ‘n skare wat sowel vroue as kinders insluit.

Hier het my ou boerehart begin opstandig raak gedagtig wat hierdie mense aan ons vroue en kinders in die konsentrasiekampe gedoen het.

Die gladgekamde hare, die venynige snorretjie: ‘n stereotiep van iemand wat alles moet vernietig wat nie soos hy is nie.

Die simbool van Oorheersing.


VII.

Richard Attenborough se Gandhi is ‘n meesterstuk. Die lang epiese tonele versus die klein momente maak van hierdie film ‘n meesterstuk.


32. Paris, je t’aime (2006)

I.

‘n Stad het ‘n persoonlikheid.

En stede het name. Die stad van stof. Die blou stad. Die geel stad. Alles byname vir stede in Indië.

Ons almal assosieer Parys as die stad van die liefde. Dit word ook die stad van lig genoem.

Nou het verskillende filmmakers probeer om vinjette weer te gee, amper soos wanneer iemand ‘n storie vertel of ‘n gedig skryf en iemand anders moet dit voltooi.
18 filmpies gemaak deur 21 filmmakers waaronder groot name soos Gus van Sant,
die Coen-broers, Walter Salles…

Twee filmmakers het uitgeval, omdat hulle verhale nie ingeweef kon word nie by die groter geheel van die film wat die 20 arrondissements van Parys moes weergee.
Uiteindelik is dit vervaardig deur Emmanuel Benbihy en Claudie Ossard.

Verskillende interpretasies van die liefde en ervarings van Parys.


II.

Watter verhaaltjies het my bygebly?

Die een van die Spaanse vrou, wat douvoordag moet opstaan, haar baba in ‘n sorgsentrum laat. Wanneer sy wegstap, begin die baba te huil en sy sing vir hom ‘n wiegeliedjie. Dan stap sy weg. Ons sien hoe sy lank reis na haar werkplek, selfs aan die slaap raak, wakkerskrik, by ‘n ryk huis aankom, waar die vrou – wie se gesig ons nooit sien nie – in die verbygaan beveel: “Ek sal ‘n uur laat wees vanaand; ek hoop dis reg met jou.”

En dieselfde wiegelied word vir die ryk baba in sy wiegie gesing.

Felle sosiale kommentaar dus en wat die kyker daaraan herinner hoeveel Mamas in ons land nie ook ‘n baba moet tuislaat in ander se sorg om die ryk Madam se kind te versorg nie. Die vinjet speel af in die Loin de 16e.

Dit is gemaak deur Walter Salles en Daniela Thomas.

Hoe kan ‘n mens Miranda Richardson se spel vergeet? Daardie onvergeetlike oomblik in Damage (1992, Louis Malle) wanneer sy besef haar man het haar verraai, bly ‘n kinematografiese hoogtepunt. (Later verskyn ‘n ander mede-speler uit Damage: Juliette Binoche…)

Haar man wil haar skei en begin dink oor hul huwelik en hoeveel dinge hy doen om haar ter wille te wees. Die kos wat hy bestel en hoe dit hom irriteer dat sy elke jaar die rooi jas wat sy al vir solank dra, nie uitgooi nie.

Dit speel af in ‘n restaurant, met die ander mense as ‘n soort Griekse Koor wat kommentaar lewer.

Dan openbaar sy aan hom dat sy leukemie het en sterwend is.

Hy besef dat hy haar nie kan verlaat nie en versorg haar tot die einde. Hy sê sy minnares, ‘n lugwaardin, per sms af, en sy val dramaties flou neer.

Boonop gebeur daar iets merkwaardigs: hy raak opnuut lief vir haar en wanneer sy sterf, is hy dolend en elke keer wanneer hy ‘n rooi jas sien, dan…

Hierdie vinjet speel af in die XIIe arrondissement (Bastille) en dit is gemaak deur die Spaanse filmmaker, Isabel Coixet.

Omdat die filmmakers ‘n paar minute het om die storie te vertel, is die pas snel, die tegnieke dramaties, die wendinge bruusk.


III.

In die Place des Victoires ervaar ‘n vrou psigiese pyn na die dood van haar seuntjie. (Gemaak deur Suwa van Japan). Sy kry die geleentheid om hom te sien, in die ander bestaan, en Daniel Dafoe is ‘n cowboy, ‘n moderne Charon. Juliette Binoche is hier die moeder wat treur en later is Geena Rowlands – hier het die film ‘n Altman Short Cuts-aanslag – wat ‘n glasie klink op haar.

Joel en Etan Coen maak ‘n grap.

‘n Man wag in die metro, lees ‘n gids oor Parys en al die geykthede soos die Mona Lisa doem voor ons op. Hy begaan die fout van die inconnu in die groot stad: hy staar. Boonop word hy met ‘n peashootertjie geskiet deur ‘n jong seuntjie wat langs hom sit.

En aanskou ‘n betreklik aggressiewe verhouding en word daarby betrek. Dit speel af in die Tuileries.


IV.

Maar hierdie film gee nie net ‘n blik op bourgeois-verhoudings en egskeidings nie. Dit lewer ook skérp kommentaar op die aanwesigheid van swart mense uit Afrika in Parys en die Moeslim-mense se ervaring van hierdie stad.

‘n Jongeling raak verlief op ‘n Moeslim-meisie en haar oupa begryp dit.

‘n Swart man, haweloos, word besteel deur wit jongelinge.

Hy is passievol oor ‘n swart meisie.

Maar sy het ‘n werk, ‘n posisie. Sy is die paramedikus wat hom versorg na ‘n meswond deur xenofobe, maar hy sterf.

Hy was ‘n ondergrondse garage-skoonmaker.

In hierdie vinjet word die hele komplekse verband tussen ras en klas ondersoek.
Dit speel af in die Place des fêtes en Oliver Schmitz hanteer sake hier.

Daar is die verhale van die blinde jong man – teen ‘n frenetiese pas word sy ervarings weergee -, daar is die storie van die Engelse paartjie op hul wittebrood wat danksy Oscar Wilde herenig. Die gees van Oscar Wilde waarsku hom dat indien hy haar verloor, sal sy hart doodgaan…

Daar is ‘n Gotiese liefdesverhaal met vampiere….


V.

In die Veertiende Arrondissement, deur Alexander Payne,  hoor ons die binnespraak van ‘n Amerikaanse vrou: ‘n briewebesteller uit Denver, Colorado wat haar waarnemings oor Parys gee in ‘n aaklige Franse aksent. Haar eensaamheid en haar patetiese uitsprake oor Parys, is hartverskeurend. Dit word mooi gesinkopeer met die jongeling wat vir ‘n ander een sê hulle is sielsgenote, maar hy kan nie ‘n kriesel Frans verstaan nie…(Dit is in die afdeling Le Marais, gemaak deur Gus van Sant).
En dan som sy dit alles op vir ons: haar ervaring van nostalgie.

Om sowel hartseer as gelukkig te wees, te begryp en nie te verstaan nie…


VI.

O ja. Marianne Faithfull gooi ook ‘n draai hier.

Hoe dan anders?

Haar Lucy Jordon besef dat sy nog nooit deur die strate van Parys in ‘n oopdakmotor gery het nie…

The morning sun touched lightly on the eyes of lucy jordan
In a white suburban bedroom in a white suburban town
As she lay there neath the covers dreaming of a thousand lovers
Till the world turned to orange and the room went spinning round.

At the age of thirty-seven she realised shed never
Ride through paris in a sports car with the warm wind in her hair.
So she let the phone keep ringing and she sat there softly singing
Little nursery rhymes shed memorised in her daddys easy chair.


33. Miss Piggy

I.

Langs Die Tibetaanse Boek van lewe en dood en Harold Bloom se The Western Canon lê ‘n gids tot selfverheldering, self-insig, ‘n ware gids tot beter begrip. Die boek heet: Miss Piggy’s Guide to Life, met ‘n onderskrif: from moi to you.

Hierdie nooit volprese, erg onderskatte aktrise, Miss Piggy, moet vandag lof toegeswaai, nee vereer word.

Sy neem ‘n plek in langs Greta Garbo en Audrey Hepburn.

En Nicole Kidman en Marilyn Monroe.

Miss Piggy van die Muppets. The One and Only met haar lispelende Frans.


II.

Hierdie semi-biografie word opgedra aan Kermit, “My Love, My Love, My Frog” en ja, ons hoor Baudelaire hier saamfluister.

Die leser word verruk deur al die geheime van hierdie grootse ster. Wat sy dink van die lewe en liefde. Sy gee selfs raad oor die liefde, verklap haar diëte. Ons verneem alles van etiket en wat ‘n mens te doen staan in moeilike omstandighede.

Ook oor die coiffure laat sy haar uit: hier het sy ‘n pruik soos Barbra Streisand; daar troef sy vir Bo Derek met ‘n 11!

Haar honger-impuls dieet is ‘n wenner. So klink dit op Woensdag:
4.14 pm Twee koekies
4.34 pm nog ‘n koekie
4.51 ‘n handvol grondboontjies

en so gaan dit voort!

Dis duidelik dat Miss Piggy haar nie steur aan kalorie-tellings nie. Inteendeel.


III.

Wat het van die Muppets geword?

En daardie wonderlike films waar bekende akteurs dit as ‘n kompliment beskou het om deur Kermit of Miss Piggy ‘n onderhoud te voer?

Ek onthou ‘n Kersfees by my ouers in die tagtigerjare toe John Denver opgetree het en’n mens was nie seker wie was die muppet en wie was die mens nie! By geleentheid het Peter Sellers, ‘n groot komediant, alles verklap oor komediant-wees: jy het geen kern nie, want jy word telkens ‘n nuwe persoon om ander te laat lag…


IV.

Dis nodig om weer te kyk na die muppets. Het die humor vir jou dateer of bring dit heerlike herinneringe terug?

Is dit retro?

‘n Muppet is volgens Jim Henson, die skepper van hierdie vermaak, ‘n woord waarin ons marionet en puppet moet hoor.

Tog tree die muppets op sonder dat ons die poppemeesters kan sien. Die sagte, antropomorfiese diertjies loop in vertrekke, speel kitaar of dans hul hartjies uit. Miss Piggy is altyd stywe been en Kermit sit in sy groenigheid.

Daar is selfs afstandbeheer. Hierom kan ons hulle sien fietsry of op ‘n bootjie sien roei!

Die muppets het al ‘n Oscar-aand bygewoon of in ernstige films ‘n kamee-optrede gehad: Rocky III en An American Werewolf in London. Larry King het selfs met Kermit ‘n diepgaande onderhoud gevoer. Natuurlik was ‘n mens onseker wie was wie. Kermit het immers gravitas.

In 2005 was daar ‘n reeks posseëls ter ere van die muppets en daar is sewe films en verskeie TV-produksies, onder andere, The Muppets take Manhattan (1984) as ‘n onthoubare film.

V.

Die belangrikste bydrae van hierdie biografie oor die Faux-Grande Dame is die dwarsklappe na Hollywood en die paddastoelverskynsel van selfhelpboeke.

Hollywood wat Glans promoveer wat nie bestaan nie. Gaan koekeloer maar in die hangkaste van akteurs en ons praat weer.

En dan: selfhelpboeke.

Is daar al ‘n sefhelpboek geskryf om jou te leer hoe om ‘n selfhelpboek te lees/waardeer?

Die Miss Piggy-boek is in high camp geskryf.

OTT.

Over the top.

Maar lekker, hoor.

Gaan kyk weer na haar en Kermie.

En hulde aan Miss Piggy wat in ‘n film in opstand kom teen Sjinese kos:
“’n Mens doen nie naaiwerk met ‘n vurk nie, hoekom moet jy met breinaalde eet?”

En RSVP verstaan sy as: Runnez out and Shop for Votre Presents.


VI.

Kenners van die mitologie sal waarskynlik veel kon skryf oor die keuse van ‘n vark en ‘n padda as hoofkarakters wat heerlike sosiale kommentaar lewer.

Op die “Deck ‘Em or Decorum”.

En die humor moet vermeld word.

Ons ken almal Miss Piggy se wonderlike raad aan Dear Rattled:
My hinges squeak, and the sound is driving me bananas. Is there anything I can do?

Haar antwoord:
Try hammering a prune into them. If the problem persists, add honey.


Bron:

Henry Beard: Miss Piggy’s Guide to Life.  Michael Joseph Ltd., Londen. 1981.


34. Wim Wenders (1945 -)

Wim Wenders
I.

As Werner Herzog nou met Klaus Kinski saam gewerk het, dan ons dieselfde opmerk oor die verbintenis tussen Wim Wenders en Bruno Ganz.

Wenders word as ‘n belangrike eksponent beskou van die sogenaamde nuwe Duitse film.

Die meeste Suid-Afrikaanse filmkykers sal sy Paris, Texas (1984) onthou en die grensverskuiwende Wings of desire (1987) en knap The Buena Vista Social Club (1999).

En dalk ook The American Friend (1977).

Hy is ‘n bekroonde filmmaker (Cannes en die Lorcarno filmfees is op sy kerfstok) en hy het ere-doktorsgrade van die Sorbonne en Leuven universiteite ontvang. Die UK het ‘n paar jaar gelede sir Richard Attenborough, die filmmaker van Gandhi, só vereer.

Dokumentêre films, musiekvideos (U2), advertensies vorm alles deel van sy ongewone portefeulje.

Hy studeer aanvanklik in die medisyne vir drie jaar, verander van koers (en diskoers) deur te beweeg na die filosofie en die skilderkuns.

In Montparnasse het hy glo tot vyf films per dag gesien in sy jong dae, iets wat hy gemeen het met die meeste ander groot filmmakers, wat bekend is vir ‘n volledig obsessionele belangstelling in die filmkuns.


II.

Waarom fassineer Wings of desire soveel kykers? Nou onlangs kyk ek na Woody Allen se film Scoop en ek besef dat ons ook hier ‘n ondersoek na die verbintenis tussen lewe en dood vind. Die ewige obsessie met die nadood of ‘n hunkering na ‘n ewige lewe. By Allen bring die dooie ‘n boodskap oor wie ‘n moordenaar is en dit is dus ‘n waarskuwing uit die ander oord.

Wings of desire is geïnspireer deur die digkuns van Rainier Maria Rilke en die draaiboek is deur Peter Handke behartig.

Die film speel in Berlyn af. ‘n Stad van simboliek. ‘n Stad wat tydens die maak van hierdie film steeds in twee dele verskeur was, te wete die Weste en die Oos-Blok.
In 1998 word daar ‘n Amerikaanse weergawe gemaak van hierdie film: City of Angels met Meg Ryan en Nicholas Cage in die hoofrolle.

Slegs die idee word nageboots, maar die film as sodanig kan nie naastenby die subtiele en komplekse tekstuur van die oorspronklike handhaaf nie. Los Angeles is immers nie Berlyn nie.


III.  

Waarom is ek hier en nie daar nie?

Waarom is ek ek? Die vrou wat in die sirkus werk, bely dat sy ‘n foto van iemand anders kry wanneer sy by die fotomasjien staan.

Dit is die vrae waarmee die film begin.

In hierdie film word die engele gekonfronteer met hul onvermoë om menslike emosies te ervaar.

Of om die swart merke van ‘n koerant op jou hande te sien.

Daar is twee engele. In ‘n stadium sit die een by ‘n groot logo van ‘n Mercedes, terwyl hy oor die stad uitkyk.

Wenders gebruik die spel tussen wit/swart versus kleur om die verskillende dimensies van die sienlike en onsienlike te verbeeld.

Wanneer ‘n karakter ‘n emosionele deurbraak maak, is daar kleur in die film.
Daar word ‘n sentrale metafoor aangewend om die film se betekenis te verduidelik, naamlik die sirkus (‘n plek van spel, voorgee, gevaar) waar die vrou as ‘n sweefarties optree. Sy het dus vlerke en word ‘n soort halwe engel.

Die twee werklike engele kan mense se gedagtes lees en voel wat hulle beperk of onseker maak. Tog kan die engel nie keer dat ‘n man van ‘n gebou spring en selfmoord pleeg nie…

Dan is daar Peter Falk, vir ons bekend as speurder Colombo.

Peter Falk vertolk die rol van Peter Falk, die Hollywood-akteur, wat besig is om ‘n film te maak oor Berlyn se Nazi-verlede. En hoewel hy nie die engel kan sien nie, laat hy weet dat hy hom kan aanvoel…

Dit is ‘n besondere slim skuif om Falk hier as homself in te span wat ‘n derde dimensie in die film bring, naamlik ‘n problematisering van die werklikheid. Dit is iets waaraan postmodernistiese tekste aandag gee.

Wings of desire is in 1987 vervaardig en dit is ‘n film wat sy tyd vér vooruit was.
Die oorspronklike Duitse titel is Der Himmel über Berlin, letterlik: Die hemel oor Berlyn.

Die film is al ‘n meditasie oor Berlyn genoem.

Damiel (Bruno Ganz) en Cassiel (Otto Sander) is die twee engele wat kan hoor wat die mense in Berlyn dink en voel.

Damiel raak verlief op die sirkusmeisie.

Hierom moet hy ophou om ‘n engel te wees en hy word menslik: hy sien kleure, ruik
geure, drink koffie en bloei…

Falk was skynbaar ook ‘n engel op sy dag.

Maar die engele in hierdie film raak moeg van waarneem. Hulle wil voel, sien, meedoen.


IV.

Dit is ‘n film waaraan jy jouself moet oorgee.

Daar is herhalende dialoog, gedigte, musiek en Solveig Dommartin het al die sirkustoertjies glo self uitgevoer.


Bron:

Vir die lewensloop en agtergrond oor die film, is die wikipedia geraadpleeg.


35. Battleship Potemkin

I.

Sergei Eisenstein se klassieke rolprent, Battleship Potemkin, is in die twintigerjare vervaardig en beland altyd op ‘n lys van klassieke films. In Woody Allen se Love and death (1975) word ‘n huldeblyk aan hierdie filmmaker gegee, weliswaar grappig, maar ten minste met erkenning aan sy belangrike bydrae tot die sogenaamde montage-tegniek.

Die film handel oor die Russiese rewolusie van 1905 en die kyker word deur pakkende tonele geneem.

Rondom vrot vleis ontstaan daar ‘n muitery aan boord en ene Vakulinchuk word doodgemaak.

Dit word vertoon in Januarie 1926.


II.

‘n Film het nie ‘n grammar nie. Tog is daar onderliggende reëls soos dat ‘n film wel sintaksis het. En veral die herhaling van beelde kan as sodanig beskou word. Montage is letterlik cutting of editing.

Hierdie proses vind ons by Eisenstein waar die leser bewus bly van die konstruksie van die film. Kort skote word saamgevoeg om ‘n geweldige klomp inligting binne ‘n kort periode vir die kyker te vertel. In die letterkunde vind is dit by die sogenaamde ouktoriale roman waardaar opsommings gegee word vooraf van wat in ‘n hoofstuk gaan gebeur sodat die leser dan bewus bly van ‘n soort ordende entiteit. James Monaco skryf verhelderend oor die verskillende tipes montage.


III.

Die film begin met Matyshenko en Vakulinchuk se verklaring dat hulle as seemanne in die eerste linie staan vir hul broers, die verdrukte werkers. Dit is 1905. Die kommandeur vra wie is ongelukkig met die kos. Dié wat durf kla, sal geskiet word.

Daar is opstandelinge, maar hulle word uiteindelik tog nie geskiet nie.

Vakulinchuk word dood gemaak en in Odessa word sy liggaam in staatsie geplaas.
Hier word die mense dan opgesweep.

Ons sien hoe die mense deur die Tsaar se troepe afgemaai word. Die Wolfs noem dit tereg ‘n sekwensie wat as één van die grootste tonele in filmkuns beskou kan word.

In hierdie geharwar onthou ‘n mens die toneel van die stootwaentjie met die baba wat oor die trappe duisel. (Hierdie toneel en die een met die leeus, is al tot vervelens toe gekaap deur ander filmmakers.)

‘n Vrou word in haar gesig geskiet.

‘n Seuntjie word vermoor.


IV.

In die finale toneel is die skip daar.

Daar is dan ‘n soort broederskap tussen die seemanne en die muiters. Die Wolfs wys daarop dat in werklikheid het iets anders gebeur. Weens kosgebrek en ‘n olietekort is die Potemkin in die Roemeense hawe Constanza vasgemeer.

Sommige het ontsnap, sommige is gefusilleer of in die tronk gesmyt.


V.

Die onderliggende boodskap van hierdie film is, en was, om vir onderdruktes te wys dat opstand ‘n uitweg is teen onderdrukking. (‘n Mens dink weer hier aan Doctor Zhivago wat weer ‘n ánder blik gee op die impak van ‘n latere rewolusie.)

Eisenstein was nie net ‘n filmmaker nie, maar ook teoretikus. Hy het geglo in die mag van die sinekdogee en ander digterlike stylmiddele. So gesien, het hy geglo dat elke beeld ‘n belangrike boodskap moet oordra. Geen skoot word vermors nie.

Behalwe vir sy unieke gebruik van die montage, wend hy ook die sogenaamde typage aan, naamlik die gebruik van gewone mense as akteurs. Dit, terloops, is iets wat later weer in die Italiaanse filmkuns, veral in die Neo-Realisme gedoen word, wanneer gewone mense eweneens as akteurs ingespan word.

Dieselfde geld De Sica en Fellini: Otto e mezzo bevat ‘n skare van onbekendes.
Soos Bergman, begin Eisenstein sy werk in die teaterbedryf.


VI.

Die politieke dimensie van hierdie film is van kardinale belang en Eisenstein, soos Lenin, beklemtoon die Wolfs, het geglo aan die mag van die filmkuns as ‘n politieke medium.

Die film is in drie maande vervaardig en soos met alle unieke filmmakers, het die VSA belangstelling getoon, maar Eisenstein se projek van Dreiser se An American Tragedy het nooit die lig gesien nie. Sy komplekse manier van films vervaardig, het nie daar oortuig nie.

By sy uiteindelike terugkeer in Rusland, was daar kritiek op sy werk. Na die aanvanklike jubeling, het die aanvalle hom sleg getref en sowel dit as die politieke strominge het waarskynlik sy kreatiwiteit gedemp.

Tog het hy bly klasgee aan die Instituut vir Kinematografie.

Daar was wel ‘n hoogtepunt: Alexander Nevsky, ‘n film wat handel oor ‘n inval in die dertiende eeu.

En Ivan The Terrible, Part I & II.

October (1927) is eweneens ‘n onthoubare film, maar geen film het die tegniese impak op die filmkuns gehad as die skitterende Battleship Potemkin nie.  


Bronne:

Francois Truffaut: The films in my life. Penguin, Londen.1975.

James Monaco: How to read a film. The Art, Technology, Language, Hstory and Theory of Film and Media. Oxford University Press, Oxford. 1981.

William Wolf & Lillian Kramer Wolf: Landmark Films – The cinema of our century. Paddinon Press Ltd, New York. 1979.


36. Sophia Loren

Sophia Loren
(La Donna Del Fiume)

Sofia Villani Sccicolone
hoerkind uit Pozzuoli
steeds sizzling en sexy
met ‘n Dior-bril
op 60 bekroon
as die mooiste vrou op aarde!
Gered deur Carlo Ponti
- bigamis - uit die slamse
is sy siedaar, vandaar
op die voorblad
en op almal se lippe
en soel drome.
“Alles wat jy sien,
te danke aan spaghetti!”, bely sy.
Die lewe bly ‘n prêt-à-porter
vir Sophia Loren.
“Kloning is sonde,” meen die Aartsbiskop
van Genoa,”...behalwe, behalwe
in die geval Loren!”
‘n Kortstondige tronkbesoek
word ‘n skoonheidsparade,
vergete die belastingontduiking.
Ons sing steeds saam
met Peter Sarstedt
“So where do you go to my lovely
when you’re alone in your bed?”


37. Meryl Streep

The devil wears Prada

Hierdie film waarin Streep die rol vertolk van Miranda Priestley handel oor ‘n militaristiese empire-bouer in die klerebedryf. Dit is Streep op haar stukke: oënskynlik hardvogtig, maar dit bly dat daar ‘n sensitiewe persoon skuilhou wat die media vrees wanneer haar huwelik skipbreuk lei.

Haar teenspeler is ‘n Cinderella-figuur wat verkeerd aantrek en ontpop in ‘n pragtige meisie. Sy die plek in wat ‘n reis na Parys beloof.

Sy kan haar egter nie die nuus meedeel nie en die selfoon (die moderne Deus ex machina) red alles: daar is ‘n ongeluk en die nuweling moet haar plek inneem. (Sy gee wel later die klere aan haar teenspeler).

Die film werk rondom transformasie en wanneer ‘n mens Vladimir Propp se Morphology of the folktale trek is al die elemente van die feëverhaal hier: die weldoener, die bose feeks, die onskuldige, ensomeer.

Andy, die inconnue, word egter deel van die nuwe bestel en verloor haar vriende en mansvriend. Wanneer sy egetr ontdek dat die nuwe man deel uitmaak van die komplot teen haar baas, verlaat sy hom na ‘n nag saam in Parys.

Sy lig Miranda in van die komplot teen haar; maar Miranda is reeds ingelig.

Ironies genoeg skryf sy ‘n aweregse getuigskrif vir Andy wat dan ‘n pos aanvaar by ‘n nuwe werk, naamlik in die regte joernalistiek waar sy tuishoort. En wanneer Miranda haar teen die einde van die film bel, gooi sy die selfoon weg, verlos van die klatergoudwêreld waaraan sy eens (tydelik) behoort het. Alles kom tot rus. Die orde is herstel.

Die Draak Vrou en Sneeukoningin is eweneens belangrike kodes.


Erkenning:

Hiermee word erkenning gegee aan BY (Die Burger) waarin die meeste van die filmrubrieke in 2007/2008 verskyn het onder die titel Flikkertyd.


Beard, Henry. 1981 Miss Piggy’s Guide to Life. Londen: Michael Joseph.

Duras, Marguerite, 1959/1961. Hiroshima Mon Amour. New York: Grove Press,

Kael, Pauline. 1965. Kiss Kiss Bang Bang. New York: Mario Boyers.

Modleski, Tania. 1988. The women who knew too much – Hitchcock and feminist theory. Londen: Methuen.

Monaco, James. 1981. How to read a film. The Art, Technology, Language, Hstory and Theory of Film and Media. Oxford: Oxford University Press.

Mosley, Philip.1981. The Cinema as Mistress. Londen: Marion Boyars.

Paglia, Camille. 1994. Vamps & tramps. New York: Vintage Books.

Palmer, Jerry. 1978. Thrillers - Genesis and structure of a popular genre. Londen: Edward Arnold.

Salachas, Gilbert. 1969.  Federico Fellini: An investigation into his films and philosophy. New York: Crown Publishers.

Sellers, Michael. 1981. P.S. I love you. Londen: Fontana / Collins.

Taylor, John Russell. 1978Hitch. Londen: Abacus.

Truffaut, Francois. 1975. The films in my life. Londen: Penguin.

Walker, Alexander, Taylor, Sybil, Ruchti, Ulrich. 1999. Stanley Kubrick: A Visual Analysis. Londen:  Weidenfeld & Nicolson.

William Wolf & Lillian Kramer Wolf. 1979. Landmark Films – The cinema of our century. New York: Paddinon Press.

Tom Milne (red.). 1989.  Time Out – Film Guide. Londen: Penguin.


Internet:

Ankeny, Jason. All Movie Guide.


Martin Scorsese: Mi Viaggo di Italia. 1995



[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Die Burger geplaas.]