André Pretorius. Iets ver en nuut: Reissketse. Protea Boekehuis, 2010. ISBN 978 1
86919 355 3.
Resensent: Joan
Hambidge
‘Soms lê die grootste
ontdekking van ‘n verre bestemming nie in die plek nie, maar in jouself, soms
sien jy op reis niks duideliker nie as jou eie plek, die mense wat jy
agtergelaat het. Want reis gaan net soveel oor menswees as oor
besienswaardighede.’ Aldus die agterplat. Met hierdie oorbekende siening, tel
‘n mens die boek op. Die skrywer het veral die afgelope paar jaar in BY gereeld
oor reis geskryf en bekendheid verwerf met sy rubrieke oor wyn, musiek en
internasionale aangeleenthede. Daar is deesdae ‘n vloed van reisbeskrywings in
die media, neffens kosrubrieke.
Beide temas transporteer
jou. Beide bring jou ook weer terug na jou self. Want om te reis, is dikwels ‘n
onthutsende oefening met ongevraagde selfinsig, terwyl eet / uiteet / kook jou
kan laat uitsit. Dieet of nuwe klere is dan jou voorland (Grappie).
Pico Iyer en Paul Theroux
bly my gunsteling reisskrywers. Beide maak ‘n wêreld in woorde oop sodat jy
nooit weer kan dink oor daardie landskap sonder om aan hul skryfwerk te dink
nie.
In Afrikaans is die
reisbeskrwyings van André P. Brink goue gunstelinge.
Pretorius se bundel versamel
reisindrukke en “Die estetika van die dood” (Parys, Oktober 2005) werk skerp
assosiatief rondom die begrip van dood, begraafplase en herinnering.
Uiteindelik is ‘n mens vergete wanneer niemand jou meer onthou nie: “Wanneer
daar niemand meer is wat my naam gebeitel in klip kan lees en weet wie ek was
nie, is ek dan slegs maar ‘n voetnoot op die granietbladsye van ‘n
begraafplaas? Stof was ek…” (97).
Die verskillende
onderafdelings snoer die bydraes saam en die opening-rubriek “’n Olimpiese
droom” word daar verwys na Ryszard Kapuscinski se Travels with Herodotus. Die
oorgang van grense en liminaliteite is op die oomblik ‘n buzz-woord in die
literatuurteorie. Soos dikwels in reisverslae gebeur, vind ons ‘n terugkeer na
plekke. Die tweede besoek word dan in die gemoed afgespeel. Hoe het dinge
verander en ook dieselfde gebly. In die eerste stuk word die fantasie-lewe van
die jong kind beskryf oor die verlange om oorsee te gaan en dit met ‘n
meevaller regkry.
Reis is onderrig, skryf hy,
maar jy leer nie altyd wat jy gedink
het nie (18).
Hy beskryf die gryse weer in
Amsterdam tereg as piouter (211) en wanneer daar oor kos geskryf word, is dit
ook hier ‘n snelskrif om iets van die kultuur van ‘n land te begryp. Besonder
mooi is die foto’s in die boek waarvan die foto van die Boeddhistiese monnik met
sy bidsnoer puik is.
‘n Mens kom natuurlik veel
te wete van die reisende ek in hierdie versameling en soms word die leser ook
aangespreek as ‘n “Geagte leser” (102) sodat jy as’t ware hierdie
ooggetuie-verslag meemaak.
Dis ‘n lekker boek.
Inderdaad vir die leunstoel-reisiger bedoel. Stede het persoonlikhede en elke
reisiger gaan uiteraard anders kyk na ‘n bepaalde stad. Die melancholie (hüzün)
van Istanboel is byvoorbeeld oorbekend.
Musiek en letterkunde word
gebruik om ‘n ervaring te belig. Hoe skryf ‘n mens tog oor St. Petersburg
sonder Dostojefski? Of oor Istanboel sonder om Pamuk te betrek? En Istanboel
swig inderdaad onder die gewig van sy geskiedenis.
Net ‘n kritiese
kanttekening: soms word die beeldspraak verwarrend aangewend: “Vir my was dit
die eerste soet smaak van daardie verruklike vrug wat altyd tergend buite
bereik gewink het” (10). En is dit
bedoeld: de laaste (13) of is spreektaal hier ingespan? Waarom word Dostojefski
in Afrikaans weergegee, maar Pamuk in Engels? Hoekom Pamuk dan nie maar ook
vertaal na Afrikaans nie?
Istanboel is eerder ‘n
melancholiese as ‘n nostalgiese stad.
Maar dis tersydes.
Die titel verwys na ‘n Koos
du Plessis-liedjie.
Want tyd is wind, en wind is
nes ‘n kind,
op soek na iets, iets ver en
nuut (“Die somer is verby”)
‘n Boek vir die
reisbesetenes. En daar is baie van ons.
[Hierdie resensie word met
vriendelike vergunning van Die Burger geplaas.]