Damon Galgut - Arctic summer. Umuzi, 2014. ISBN: 9781415206898
Resensent: Joan Hambidge
E.M. Forster
I Vooraf
In 2003 word E.M. Forster se onvoltooide roman Arctic Summer
gepubliseer. Hierdie teks is tussen 1912 en 1913 geskryf. Forster se bekendste
romans is Where Angels Fear to Tread (1905), The Longest Journey (1907), A Room
with a View (1908), Howard's End (1910), A Passage to India (1924) en Maurice
(1971, postuum). As teoretikus het hy bekendheid verwerf met Aspects of the
novel, wat in 1927 verskyn het. Sy romans is ook al verfilm. David Lean het A
Passage to India epogmakend in 1984 verfilm. James Ivory het op sy beurt A room
with a view in 1985, Maurice in 1987 en Howard's End in 1992 verfilm. Daar is
ook ander filmmakers.
II Gesprekke, nabootsing, palinodes
Damon Galgut
So pas verskyn 'n roman van die gerekende romanskrywer Damon
Galgut en dit heet Arctic Summer, wat die subtitel “a novel” dra. Die titel van die onvoltooide fragment deur E.M. Forster word nogmaals as titel gebruik. So 'n paar jaar gelede het verskeie
romanskrywers Henry James tot onderwerp verklaar, en die inskryf teen of
"voltooiing" van 'n skrywer se werk is algemeen bekend.[1] Julian
Barnes se Flaubert's parrot (1984) werk immers met die kodes van Flaubert se
teoretiese sieninge van die roman en hoe dit in sy romankuns uitgebeeld word.
Ons dink ook aan JM Coetzee se The Master of Petersburg
(1994) en die gesprek met Dostojefski. Galgut tree behendig in gesprek met
Forster, 'n skrywer wat bekend was om sy uitbeelding van klasverskille,
onbeantwoorde liefde en onderdrukte homoseksualiteit. Sy romans werk ook met
simbole wat die onderliggende boodskap konkreet voorstel. Hierdie roman is 'n
soort faux-biografie.
Julian Barnes
Om so 'n roman te voltooi of 'n ander skrywer te kan
naboots, moet die skrywer uiteraard iets van die tydsgees, styl en lewensuitkyk
van die skrywer opvang. Ingrid Winterbach tree onder andere in gesprek met
Etienne Leroux in Die boek van toeval en toeverlaat (2006). Galgut laat die
dooie terugkeer en gee 'n interpretasie van sy lewe en werk (dit waarna Harold
Bloom verwys as die apofrades in A map of misreading, sy studie wat in 1975
gepubliseer is).
Etienne van Heerden
Voltooiing kan ook selfvoltooiing wees. In die jongste roman
van Etienne van Heerden, Klimtol, word ’n karakter, Snaartjie Windvogel, gekaap
uit Van Heerden se roman In stede van die liefde (2005). Daar is eweneens
toespelings op sy debuutroman, Toorberg (1986), met die gedagte van kollektiewe
skuld. Hiermee aktiveer Van Heerden nie alleen ’n gesprek met Etienne Leroux
nie, maar ook ’n ander lees-modus, te wete, dat hy besig is met die voltooiing
van 'n oeuvre en een roman skryf. By Van Heerden is dit spel en hy verwys in sy
nawoord na Johan Huizinga se studie Homo ludens (1983) om die spelelement te
aktiveer. Die gebruik van die klimtol as metafoor, met elke hoofstuk wat
voorafgegaan word deur ’n klimtolspeletjie (“Walking the dog”, “Looping the
loop”, en dies meer) dui ook daarop dat ons hier ’n afwesige-aanwesige,
ouktoriale vertelinstansie het wat die gegewe orden en manipuleer. Dit sluit
weer aan by Barnes se verhouding tot Flaubert. Barnes “orden” en gebruik
Flaubertiaanse beginsels – soos die relikwieë van Flaubert – en aktiveer die
uitspraak dat die verteller orals aanwesig is, maar nêrens sigbaar is nie, soos
God in sy skepping …
Die verwysing na die vlieënde piering in Klimtol aktiveer
eweneens 'n vertelinstansie wat manipuleer en die leser bewus maak van 'n
konstruksie deur 'n afwesige-aanwesige verteller.
III Ruimte
Syed Ross Masood en E.M. Forster
Die roman speel in eksotiese ruimtes af: Indië en
Alexandrië. E.M. Forster se onbeantwoorde liefde vir Syed Ross Masood en sy
verhouding met die getroude tremkondukteur, Mohammed el Adl, vorm die basis van
hierdie roman. Die besoek aan Indië in 1921, waar hy etlike cruising-ervarings
het, word ook openbaar. Hier is hy dan die private sekretaris van die Maharaja
van Dewas. Hierdie roman speel in op die roman In a strange room (2010),
waarin ene “Damon” in vreemde ruimtes soos Lesotho, Swaziland, Switserland en
uiteindelik Indië (met problematiese verhoudings, eintlik nonverhoudings), op
’n hartgrypende wyse beskryf word.
Op ’n manier is hierdie teks ’n voorstudie vir Arctic Summer
in sy beskrywing en ontginning van ras, klas, homofobie, vreemde landskappe,
reis en innerlike ontwikkeling.[2] Hoe vreemde ruimtes die Engelse verander en
aantas, word onder andere op bladsy 102 beskryf. Ook die teleurstelling wat die
besoek aan vreemde ruimtes inhou, word weergegee (92). Galgut klim in Forster
se kop in en verduidelik hoe 'n roman tot stand kom (146). 'n Skrywer gebruik
verskillende skerwe van mense en indrukke om iets weer te gee.
IV Navorsing en verwerking
There was a refuge in writing. On a surface level, he was
quite sociable, seeing a great many people and acquitting himself well in
company, but an essential part of him had become deeply withdrawn, hardly
noticing the outside world. This part, when it wasn't contemplating death, was
happy now to retreat to the attic and to work. Alone for hours at a stretch,
not even really in the attic any more, sunk into some crevice in his head.
(340)
In hierdie gedeelte word die navorsing rondom A passage to
India beskryf en Galgut gee 'n briljante weergawe van hoe Forster die grotte
besoek het, en ook die belang van die "field glasses" wat in die hofsaak
as getuienis gebruik word. (Die skrywer erken ook in sy eindnotas dat hy die
grotte besigtig het.) Forster se ervaring van die misterie van Indië en hoe hy
dit in sy roman wou verpak, word eweneens beskryf, soos sy verhouding met
Leonard Woolf. Forster se harde werk word ook weergegee: "There was only
the unruly heap of pages covered with his writing" (354). Eweneens
aangrypend is die beskrywing van hoe die resepsie van die roman hom gesteur
het. Hoewel die foute in die teks "small and forgivable" was,
beklemtoon hierdie gedeelte hoe gevoelig skrywers is vir die kritiese ontvangs
van 'n boek (359).
Die skrywer gee vir die leser nuttige bronverwysings:
onderhoude met Forster, biografiese studies oor hom, en natuurlik Hermione Lee
se kluif oor Virginia Woolf, studies oor Cavafy, Carpenter, Lytton Strachey,
Leonard Woolf, die dagboek van Virginia Woolf, studies oor Egipte en die Raj;
werke oor Islam, briewe tussen Cavafy en Forster, die vroue van die Raj
(Margaret MacMillan word genoteer), en vele ander studies wat die komplekse
gang van die roman karteer.
'n Resensent van hierdie roman het opgemerk dat sy nie weet
wat aan Galgut behoort en wat aan Forster nie. Wel, doen navorsing. Vir die
doeleindes van hierdie resensie het ek weer romans gelees en om iets van die
"vertaling" of "transponering" te begryp en na David Lean
se A passage to India en die Merchant/Ivory-produksie van Howard's End, Maurice
en A room with a view gekyk.
David Lean
Lean se rolprent is tipies Lean: die gebruik van enkele
hoofkarakters om die spanning tussen Britse meerderwaardigheid en die
sogenaamde onderdaniges binne die Indiese leefruimte te verduidelik. Ons sien
en proe die stof; ons voel die hitte en ons hoor die eggo's in die grotte. Die
drama wat gaan afspeel, word voorspel. Wanneer die verkyker deur die dokter
opgetel word, weet jy dat dit die bewysstuk sal wees waarom alles gaan wentel.
Forster verwys immers na "flat characters" en "round
characters" in sy studie oor die roman en 'n mens kan sien hoe Lean dit
interpreteer. Adele Quested (vertolk deur Judy Davis) is 'n histeriese figuur
en onseker oor haar toekoms geplaas teenoor dokter Aziz Ahmed (Victor
Banerjee), die arm wewenaar, wat haar uit die goedheid van sy hart na die
grotte neem. Hy betaal duur vir hierdie uitstappie. (En wanneer hy eweneens
goedgunstiglik sy dasspeld vir Fielding leen, word hy later gekritiseer omdat
sy das skeef sit.)
Die gawe mevrou Moore (Peggy Ashcroft), wat die regte Indië
wil sien, is 'n goedhartige persoon, terwyl haar seun, die neerbuigende
magistraat, Ronnie Heaslop (Nigel Havers), Adele se verloofde is. In Forster se
terme is hy 'n "flat character". Daar is ook twee ander goeie
karakters: die skoolsuperintendent, Richard Fielding (James Fox), en professor
Godbole (Alec Guinness), beide "ronde" karakters. Tydens die
grotbesoek ervaar Adele iets vreemds en sy beskuldig Aziz van verkragting.
Mevrou Moore het die grotte egter weens kloustrofobie nie binnegegaan nie en
weier ook om in die opsienbare hofsaak teen Aziz te getuig. Sy verlaat Indië en
sterf op die skip aan 'n hartaanval. Lean speel hierdie opposisies dramaties
uit, met Adele wat in die hofsaak skielik haar storie verander, en Aziz word
vrygespreek. Aziz is 'n held en die skare dra hom op hul skouers. Fielding moet
na Adele omsien, omdat sy deur die Britte verwerp word en Aziz ervaar dit as
verraad. Adele verlaat Indië, Fielding trou met mevrou Moore se dogter, Stella,
en uiteindelik versoen Fielding en Aziz.
Lean sou juis hierdie verhaal verfilm, wat by sy epiese
aanslag pas en die opposisies goed uitwerk: klas- en kultuurverskille, verraad,
inkeer, versoening in die 1920's.
A passage to India
Om 'n roman te verfilm beteken dat die filmmaker hom sekere
vryhede mag veroorloof, en die term adaptation word hiervoor gebruik. Elke
filmmaker se interpretasie sal daar anders uitsien, net soos wat elke
romanskrywer op 'n ander wyse 'n figuur soos E.M. Forster sal beskryf. Ons weet
dit dan uit die verskillende interpretasies van die figuur Henry James: Michiel
Heyns, Colm Tóibín, David Lodge, onder andere.
Howard's end
In Howard's end van James Ivory is die gedugte Ruth Prawer
Jhabvala die draaiboekskrywer, met puik akteurs soos Anthony Hopkins, Vanessa
Redgrave, Emma Thompson en Helena Bonham Carter as die vertolkers van die
draaiboek.
Hier handel dit oor liefde en klasverskille. Die minnaar
(Paul Wilcox) kan nie met sy geliefde (Helen Schlegel) trou nie, want hy het
nie geld nie. Hy moet nog geldmaak in Nigerië, wat nie 'n plek vir 'n wit vrou
is nie. So begin die film dan met die rasmeerderwaardigheid en Forster se
kritiek op die Britse hoë klas. Die film ondersoek dan Britse snobisme en hoe
mense met mag oor inligting beskik wat die werkersklas uitsluit. Hopkins (as
Wilcox) waarsku die susters dat Bast – wat toevallig in hul lewe beland het –
sy werk by die assuransiemaatskappy mag verloor. Wilcox ontmoet hom toevallig
aan hul huis en verwys neerhalend na hom as 'n tipe. Op hul aandrang verlaat
Bast dan sy werk.
Ten spyte van mevrou Wilcox se brief in potlood dat Howard's
End aan Margaret Schlegel bemaak moet word, ignoreer Wilcox hierdie versoek en
verbrand die brief in die vuur. Dit is egter Helen wat die klaskodes
deurmekaarkrap wanneer sy Bast en sy vrou na die Wilcox-troue bring, omdat sy
voel dat dit Wilcox se skuld is dat Bast sy posisie by sy nuwe werk verloor
het. By die troue drink mevrou Bast te veel en ontmasker Henry Wilcox (Hopkins)
se verlede, 'n duidelike toespeling op die gay persoon wat ge-out kan word. In
hierdie tyd verlei Bast dan ook vir Helen.
Briewe met pynlike inligting word telkens verbrand, net soos
ook die briewe tussen Forster en sy moeder verbrand is.
Die wending van die verhaal kom wanneer Helen verdwyn en
haar suster dink sy het mal geword. Sy laat haar terugkeer na Howard's End om
haar boeke te kom afhaal en hier ontdek sy dat Helen swanger is. Die film
ontmasker ook gendervooroordele: Wilcox kan nie Helen se swangerskap hanteer
nie, ofskoon sy vrou hom vergeef het vir sy grensoorskrydende gedrag met Bast
se vrou. Wanneer Bast wel terugkeer na Howard's End om Helen te sien, word hy
deur Charles Wilcox aangeval. Dit lei tot sy dood en 'n hofsaak wat tot
tronkstraf lei vir Charles.
Maurice
Filantropie en 'n gebrek aan deernis met die menslike lot is
die tema van hierdie verhaal. En Howard's End as die ruimte waarin al die
klasverskille en die implikasies daarvan uitgespeel word. Uiteindelik erf
Margaret hierdie ruimte soos wat mevrou Wilcox wou gehad het. In Maurice –
gebaseer op 'n latere teks – word die homoërotiese tema ontgin. In hierdie
verruklike rolprent word die problematiek van die leefwyse in 'n verdrukkende
samelewing beskryf en die hofsaak wanneer 'n vriend vir 'n seksuele misstap
tronk toe gestuur word, aktiveer die Oscar Wilde-saak. (Galgut verwys ook na
Wilde in sy roman.) Die twee minnaars, Maurice (James Wolby) en Clive (Hugh
Grant), se lewensgang word beskryf. Clive trou omdat hy nie sy seksuele
identiteit kan uitleef nie, terwyl Maurice wel geluk vind by 'n man. A room
with a view is tersaaklik vir hierdie bespreking, omdat dit die eksotiese
landskap – hier Italië – karteer.
V Vertelinstansie
Galgut begin sy roman vanuit die derdepersoonperspektief en
die seksuele ambivalensie van die skrywer word onmiddellik aan die orde gestel.
Ook die reis na verre, eksotiese ruimtes word opgestel met Morgan se reaksie
hierop. Die klas- en kultuurverskille kom aan bod en daar is 'n verwysing na
Henry James en 'n ontmoeting met D.H. Lawrence. Lawrence se afwysende opmerkings
oor Forster se werk word knap verwoord. Die verbintenis met Cafavy is boeiend
en op die man af. (Dit is vir my bykans die sterkste gedeelte van die roman.)
Ook die effek van sy eerste suksesse en die reaksie van sy familie op sy boeke
word weergegee. Helen Bast se verleiding van Helen Schlegel ontstig sy moeder,
wat daarna verwys as onaanvaarbare gedrag van die lae klasse (55). Daar is
eweneens 'n "chilliness" by kennisse wat die proewe lees, maar sy eie
onsekerhede is eerder esteties as moreel (54). Die ervaring van homoërotiese verhoudings
van die tyd is nie gebaseer op "secret codes" nie, maar mans wat nie
trou nie, is bloot "bachelors" (47). "Of what earthly use were
novels?" (120) is bykans 'n refrein van die spanning tussen lewe en kuns
wat die subteks van hierdie roman is. Binne die Indiese ruimte word hy eroties
gesteur deur die skoonheid van die mans (99). Pynlike afwysing verhoog ook die
eensaamheid van die hoofkarakter: "So in the end one had to make the
journey back to one's own bed more alone even than before, the step down between
the two rooms like the threshold between two worlds" (84).
Hierom word daar uiting gevind in die skryfproses en
erotiese verhale word daarna vernietig.
VI Ten slotte
"This crack, this deep divide, would run through his
book" (137).
Uiteraard moet die leser van Galgut se roman haar afvra wát
behoort aan Forster en wáár kom Galgut aan die woord. Is dit 'n huldeblyk of
debunking van die gegewe? En ja, hoe sou Edward Morgan, oorlede in 1970, gevoel
het oor die feit dat 'n twee keer genomineerde vir die Booker-prys uit 'n
indertydse kolonie so 'n "passage to canonization" aanbied. Gaan die
skrywer uiteindelik – soos die verteller in Barnes se roman – ontdek daar was
meer as een papegaai? Ek was nog altyd 'n aanhanger van Damon Galgut, 'n
skrywer wat stiltes tussen mense kan verwoord en tonele van eensaamheid beskryf
wat jou ewiglik bybly en steur. Wees gerus: dit is nie 'n "where angels
fear to tread" hierdie nie. Dit is uit eie reg 'n roman wat 'n mens
oorrompel, onthuts, weer laat lees en tot nadenke stem. Die skrywer gee 'n
interpretasie van 'n lewe en sy werk. Vir hom lê die voltooiing in die
interpretasie van 'n lewe wat in tekste tot uiting gekom het. Lees gerus Hennie
Aucamp se bydrae oor die onvoltooide roman, of "abandoned novel", op
LitNet.
Hennie Aucamp © Pieter Strauss
Oor die film Maurice skryf hy:
"Die filmweergawe van Maurice kan as 'n aanvulling en
'n strukturele versterking van die oorspronklike roman gesien word."
Ons het Maurice weer eens aan die Merchant Ivory-vennootskap
te danke. Anders as met Room with a view (1986) en Howard's End (1992), is die
draaiboek nie van die meesterlike draaiboekskrywer Ruth Prawer Jhabvala nie. Sy
het nie baie geloof gehad in die literêre gehalte van Maurice nie, maar het
gesuggereer dat 'n toneel bygeskryf word waarin Clive se holderstebolder vlug
Griekeland toe, weg van sy romantiese gesel Maurice af, gemotiveer word. 'n
Universiteitsmaat van Clive en Maurice, ook met politieke aspirasies, soos
Clive, word in 'n sekslokval gelei deur 'n soldaat in medewerking met die
polisie, en word geboei weggelei van die verleidingstoneel af. Einde van 'n
politieke loopbaan; einde, waarskynlik, van enige 'gentleman's vocation'. En
dié lot wil die ambisieuse Clive tot elke prys vermy.
Vandag is dit byna onmoontlik om Maurice te lees sonder om
Jhabvala se voorgestelde en uiteindelik gerealiseerde toneel in Maurice in te
lees."
Veral A passage to India vra om 'n herlees. 'n Biografie het
so pas verskyn.[5] Van 'n skrywer wat eers op 37 liggaamlike liefde beleef tot 'n
beroemde skrywer wat soveel reaksies en interpretasies op sy werk beleef en in
Arctic Summer meesterlik beskryf word. Vir Damon Galgut se enorme navorsing
moet 'n mens ook die hoed lig.
Uit die gevormde kuns is daar wél kuns te make.
Eindnotas
1. Henry James en reaksies op sy romans het ek in 'n reeks
artikels behandel wat indertyd in BY verskyn het.
Deel I
Deel II
Deel III
Deel IV
2. Ek het indertyd soos volg oor hierdie teks geskryf op my
blog Woorde wat weeg:
Geagte Leser
Is u moeg vir boeke wat binne die Suid-Afrikaanse landskap
bemark word as goed, uitstaande, die beste en dan lees u dit met ’n gevoel van
matelose teleurstelling? Wees gerus: Damon Galgut se In a strange room sal u
nie teleurstel nie. Dit word deur Penguin bemark as ’n roman, maar ’n mens sou
dit ook as ’n losse versameling tekste kan lees gekonstrueer rondom ’n
outobiografiese “ek”, ene Damon/Noel.
Die “naked I” wat ons hier aantref is ’n reisende,
verkennende ek wat getransporteer word van een landskap na ’n vreemde een:
Griekeland, Afrika, Indië oa. In hierdie beskrywings word die versplintering
van die ek aan die leser voorgestel. Die reisende ek is ’n soekende persoon in
die eerste vertelling, “The follower”, word die delikate relasie tussen twee
mans beskryf. Wat met jou gebeur terwyl jy reis, is die uitgangspunt van
hierdie vertellinge: jy is verveeld, jy is bang, jy kan besteel word en by
doeanes in Afrika jou vasloop teen offisiere wat rang trek.
Die punt van hierdie vertellinge is nie travelogue nie, maar
eerder ’n ragfyne ondersoek van die binnelandskap van die reisende karakter. Hy
registreer met ongelooflike waarneming die landskap óm hom en sluit
vriendskappe en verbintenisse. Wat dikwels plots tot stilstand kom. Ek ken min
boeke waarin die isolasie en vervreemding van ’n reisiger met soveel helderheid
vertel word. Die eensaamheid en onvervulling is die goue draad wat deur die
teks loop. Jy kyk as’t ware deur sy oë na ’n Afrika-landskap of beleef die
absurditeite van reisigers wat nie ’n visum in Afrika kan gebruik nie en
telkens by banke voor dooiemansdeur staan.
My eksemplaar is omkring met belangrike uitsprake en
oomblikke: die dood van ’n vriendin waarvan die volle impak hom eers veel, veel
later tref (179). ’n Sentrale fokuspunt is die volgende stelling: “I am writing
about myself alone, it’s all I know, and for this reason I have always failed
in every love, which is to say at the very heart of my life” (106).
Natuurlik word die landskap korrek weergegee en hierdie
leser het soms binnepret gehad oor die anekdotes, veral in Afrika, wat wáár is.
Die teks gaan waarskynlik al die literêre pryse verower. En
dit sal welverdiend wees, want Damon Galgut kan skryf. Hy het gedebuteer op 17
met A sinless season en hierna telkens met groter helderheid én sekerheid goeie
romans gepubliseer soos Small circle of being, The beautiful screaming of pigs,
The quarry, The impostor en The Good doctor. Hy het al gesogte kortlyste
gehaal, soos die Man Booker-prys – en ek voorspel goeie dinge vir hierdie
roman. (Een punt van kritiek: die verwysing na William Faulkner is onvolledig.)
Die titel aktiveer die idee van “ostranenie” oftewel
vervreemding: dat ’n goeie teks die klip as’t ware klipperiger moet maak (aldus
die Russiese Formaliste) of die bekende “strangely familiar”. Deurentyd bly ’n
mens bewus van reisiger-as-optekenaar of skrywer. Op die agterplat word die
reisiger tipeer as Volger, Geliefde en Beskermheer en daar is subtiele
aanwysings in die teks dat ’n mens hierdie lewensreis via die tarot kan volg.
Daar gebeur ook wonderwerke: die verlore pille word gevind in Indië en nog ánder
oomblikke soos ’n klip wat deur ’n venster trek, wat nie … wag, wag. Lees self.
Die slotgedeelte is ’n kragtoer en ’n mens ervaar hoe uitgelewer ’n vreemdeling
is aan die Indiese burokrasie en veral oor hoe wette verskil van land tot land.
Jy het nie ’n visum vir ’n land in Afrika nie, maar as jy pleit kan jy
deurgaan. Moenie net nie omdraai en verwyt as iets verkeerd gaan nie.
As u nie van hierdie boek hou nie, kan u voortaan weet u
hoef nie my resensies te lees nie. Wees gewaarsku: wanneer jy begin lees, word
jy meegesleur deur ’n teks wat so subtiel saamgestel is. Jy gaan dit dikwels
neersit en nadink oor die tekstuur van vertelling en die verhulde pyn in die
teks.
Na ’n hele paar mindere romans is Penguin weer tops!
Dit is 180 bladsye van jouissance en ’n verkenning van
melankolie en vervreemding. Die beskrywing van die vriendin se diarree en die
worsteling met die ellendes rondom haar maniese aanvalle, is grotesk. Die
abjekte aldus Kristeva roer hier. Lees dit.
3. Toe ek hierdie teks die eerste keer op my rekenaar bewaar
het, noem ek dit "arctic circle", inderdaad 'n sirkelgang, hierdie
voltooiing. Op bladsy 352 staan daar: "It occurred to him that writing, in
his ease, had never taken on this smooth, spherical quality; the perfect circle
eluded him."
... it is impossible to communicate emotion: the soul is
obliged to keep her secrets whether she wishes to or not.
You try to touch his depths without using your depths,
and it can't be done. One subconsciousness must call to another. Which is a
clumsy way of saying that there must be affection."
... an Englishman is assumed to be capable of understanding
himself.
Al drie aanhalings kom uit Arctic Summer; die tweede is die
regstreekse woorde van Martin Whitby, na aanleiding van Clesant March.
[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Litnet geplaas.]