Bladsye / Pages

Monday, September 7, 2020

Resensie | Hugo Claus – Die verdriet van België (Vertaal deur Daniel Hugo) | Protea, 2020

Hugo Claus – Die verdriet van België (Vertaal deur Daniel Hugo). Protea, 2020. ISBN 978-1-4853-0766-2 (gedrukte boek) | ISBN 978-1-4853-1194-2 (e-boek)

Resensent: Joan Hambidge

 

Vertalings is glo verraaiers. Die vertaler moet afwesig of onsigbaar wees. Moet die vertaling die teks huis toe bring of eerder tuis bly en getrou bly aan die oorspronklike weergawe?

 

Dit is drie van die bekendste mantras oor die vertaalproses. En vertalings – soos Uys Krige ons geleer het via sy Spaanse dans – is om 'n ander man se bruid deur 'n sluier te soen. Dit het hy by 'n Italiaanse vertaler "geleen". 

 

Lawrence Venuti, die gedugte vertaalteoretikus, onderskryf laasgenoemde twee uitsprake. Ons sou nie kon bestaan sonder vertalings nie, en groot vertalers is bekend om hul  monnikewerk: 'n onbaatsugtige diens aan die letterkunde. Agterna sal cognoscenti altyd meen hierdie vertaling is beter as daardie een. D.M. Thomas is bv. telkemale gelooi oor sy Russiese vertalings. Hier te lande vertaal Daniel Hugo sowel poësie as prosa.

 

En ons weet wel dat die geslaagde vertaling dans in die nuwe taal. Die Vlaamse skrywer Hugo Claus se klassieke Die verdriet van België beslaan oor die 700 bladsye en is deur Daniel Hugo vir ons gedomestikeer. Hierdie teks is áldaar allemansgoed soos J van Melle se Bart Nel of Etienne Leroux se Sewe dae by die Silbersteins by ons is.

 

In die Lae Lande ken almal daardie roman van Claus, 'n veelsydige, prolifieke én briljante skrywer, gebore in 1929 oorlede in 2008. Digter, skrywer, filmmaker en in sy dae ook getroud met Sylvia Kristel van Emmanuelle-faam. In 1922 benoem vir die Nobelprys en in die Lae Lande talle kere bekroon, o.a. met die Belgiese Staatsprys.

 

Sommige lesers kan nog Nederlands en Vlaams lees, maar 'n hele geslag jong lesers het ongelukkig nie meer daardie voorreg gehad om die taal en haar grammatika baas te raak nie. Nog minder die konsep van "valse vrienden" te begryp, met ander woorde, begrippe wat dieselfde klink, maar verskillende betekenisse het in die twee tale. Ons dink nou maar aan die woord neuk. Of eventueel. Op Litnet is daar 'n rubriek wat dit onderhoudend verduidelik.

 

Louis Paul Boon, Hugo Claus, Jan Wolkers en Reve is my gunstelinge uit die Lae Lande. Claus se roman is 'n grootse stuk komposisie soos 'n Bolano-roman. Hier word die impak van die oorlog op die gesin Seynaeve ondersoek. Meelopers of kollaboriste wat met die Nazi's meegewerk het in die hoop dat Vlaandere onafhanklik sou word van Wallonië. Die Duitsers verloor egter die oorlog en die geskiedenis draai teen die verraaiers. Die noorde teen die suide; Vlaams teenoor Frans, met Brussel die middelpunt as 'n tweetalige stad. België se taalverdelings is eweneens relevant vir ons land waar daar ook divisies en spanninge róndom taal heers.

 

Die roman lewer eweneens kommentaar op taal en die baasskap van die heerser:

"Mamma sê ook af en toe in die middel van ’n Vlaamse sin woorde soos zweifelloswunderbar of die vreemde ähnlich." Is dit dalk waarom Afrikaans ook Engelse woorde oorneem?

Die roman is soos die Engelse skryf  gewoon"unputdownable". Dit is eweneens tersaaklik om Roman Polanski se film The pianist, 'n meesterstuk van 2002, saam met hierdie roman te lees.

'n Roman wat duidelike outobiografiese elemente in sig dra (Claus se vader, 'n drukker en uitgewer, moes boet vir sy gekonkel), maar uiteraard verwerk én verhef tot roman. 

Daar is kinders se reaksies op verbode boeke wat dan die hele kwessie van waarheid en leuen inlei. Daar is beskrywings van karakters wat inzoem op hebbelikhede. Daar is vinjette wat my altyd sal bybly. Die Reglementeboek van die Kerk word bespot en die straf wat uitgedeel word vir belaglike oortredings. 'n Jong kind se fantasie oor hoe 'n baba ontstaan, is wonderlik.

En grappe wat vertel word, bewys opnuut dat humor regstellende aksie is.

Die komma word beskryf as 'n asemhaling. 'n Baardskeersessie is dawerend snaaks en die vertellende instansie weet dus ook dat hy per implikasie hiperbolies skryf: "Veels te kwistig. En te vergesog" (721).

 

So word daar die spot gedryf met 'n digter-van-die-tyd:

Hy skrik nie, bloos nie, skyt nie in sy broek soos iemand wat ek ken nie. Hy draai na alle kante en buig. Hy haal ’n folioblad uit wat baie onlangs opgevou is en lees met ’n onverbloemde Kortrijkse aksent, ek skryf dit hier neer: 

 

   Geseënd is die wurger van die nagtegaal, geseënd is alle vroulike soogdiere, die holtediere en die syriviere, 

   die nete en Zwevegem. 

   Geseënd is die onmisbare behoeftes en die getye

   en die gasgevulde vliese en die ambervlieë.

   Geseënd is dié wat van die slyk gespeen is 

   en hulle wat nie die dinge ken soos wat hulle is nie 

   maar soos wat hulle voorkom. 

   Geseënd is die plant en Tarzan wat hang aan die plant. 

   Geseënd is ek. 

 

Hy knik vir die yl applous. (723)

Satire, humor, ironie meesterlik saamgebind soos daardie 'n groot epiese filmmaker, David Lean 'n stuk geskiedenis weergee en vertolk soos in Doctor Zhivago (1965). 

Die vertaling lees vlot en lekker. 'n Mooie vonds is konkeldoor. In die geheel gesien is hierdie roman soos 'n simfonie of epiese film met baie karakters en ekstras met die verteller wat 'n grimmige blik op godsdiens werp met die "besmetting van sonde" (91).

Dit is 'n roman-in-vertaling wat hierdie leser met bewondering én plesier gelees het. Wanneer resensente hier te lande die woorde meesterlik, uitstaande en 'n hoogtepunt kwistig rondslinger, kan 'n mens dit wel hier opplak. 

Hierdie publikasie is moontlik gemaak deur die finansiële steun van die Vlaams Fonds voor de Letteren en gepubliseer deur Protea. En dat 'n vertaler die stamina gehad het om so 'n dikke boek te vertaal, dwing bewondering af.