Bladsye / Pages

Thursday, February 26, 2015

Eybers 100

Eybers 100

Puntdigte:

Elisabeth Eybers

Altyd in balans, in ewewig:
afgeweeg simmetries 'n gedig.

 (uit Matriks, 2015)

So dig ek in 'n reeks puntdigte oor Eybers, ‘n digter wat ek op vele maniere aanspreek in my digkuns. Ek sonder haar uit as een van my drie mentors in ‘n gedig in Meditasies (2014). Sy was (is) meer as ‘n vroulike aanvulling; sy is die grootste beoefenaar van die sonnet en die distigon in Afrikaans en haar vermoë om helder en suggestieryk te dig, verdien vermelding.

As jong kind het ek die gedigte van Eybers gelees en dit het ‘n blywende indruk op my gemoed gelaat. Haar gebruik van die mitologie in haar gedigte is eweneens indrukwekkend.

My gunsteling Eybers-gedig is "Navrae:

Die aard van angs is dat dit tydelik kwel.
Verdriet, volgens 'n ou ballade, duur
twaalf maande en 'n dag, tot op die uur.
Die ritueel van rou is vasgestel.

Vreemd, van berou word nie so veel vertel.
Waar vind 'n mens 'n betroubare gedig
om jou oor die vervaldatum in te lig
van daardie individueler hel?

(Balans, 1962).

Die fyn beheer van ironie en altyd met 'n skeutjie wrangheid, dit is Eybers. Met haar gedig "Digteres as huisvrou" het ek al telkemale in gesprek getree. En ‘n digter se grootheid word immers gemeet aan die palinodes, teensange en parodieë wat dit ontlok.

Digteres as huisvrou

vir Elisabeth Eybers

Altyd ‘n Mr Delivery-boks teen die muur,
nooit ‘n optelslet op die onvanpaste uur.

Agenda/memoranda-dae waardeer sy gatvol,
moerig van vergadering na vergadering tol.

Wasgoed wat deur haar Bosch-masjien swaai,
sewe stelle klere plus gymbroeke aan die draai.

Eksamenskrifte, e-posse, verslae op haar lessenaar
(‘n Toring van Babel), neffens kritieke wat stof vergaar.

Tussendeur skryf sy gedigte stiekem wyl sy verwoed werk,
haastig beweeg van spertyd tot dit wat haar binneste versterk.

O muses, wees haar genadig:
laat haar maar parodies dig! 


Langs my bed staan die versamelde gedigte van Opperman en Eybers. En Louw se Tristia.

© Joan Hambidge

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunnning van Die Burger)


Wednesday, February 25, 2015

Joan Hambidge - Gebed

Gebed

O Heer in hierdie nag van storms
roep ek na u vanuit
die Panoramiese Hotel
te Iguasso, wyl flitse van weerlig
u Aanwesigheid aandui.
O Heer in hierdie nag van storms
kletter hael teen ruite,
'n populierboom breek in twee.
Teen daglig staan ek buite
en tel die skerwe van 'n vers op:
vanuit, aandui, ruite én buite.

© Joan Hambidge

Die familieskap van tekste

 Die familieskap van tekste

Op ‘n oggend berei sy haarself voor vir ‘n nagraadse lesing. Die jaar begin momentum kry met studente se lesings. Elke jaar ontdek sy nuwe aspekte of nuwe invalshoeke. Ou wyn in nuwe sakke, dink sy by haarself…

Sy tel twee swart boekies op in haar biblioteek wat sy orden en afstof. Muecke se Irony and the ironic en Heather Dubrow se Genre.

Sy moet vir haar jong student iets nuuts leer oor genre-voorskrifte en verwagtinge. Waar en hoe ‘n mens weet ‘n teks is ‘n gedig of ‘n prosa-teks … en hoe sekere skrywers hierdie voorskrifte “meng” of met opset ignoreer.

Dit is al geruime tyd dat sy weet hoe die dood van haar vader haar bybly. Of sy nou vir die eerste keer presies weet watter invloed hy op haar lewe gehad het. Hoe sy soms wonder oor hoé hy sy teleurstellings en ellendes oor sy familie verwerk het. Sy onthou op ‘n dag het haar vader vir haar gesê dat hy Sondae alleen is met sy God. Dat dit die een ruimte is waar niemand kan binnebring of steur nie.

Hoekom maak dit haar vandag so onnoembaar hartseer?

Haar vader se ontsettende isolasie, maar terselfdertyd sy geloof in sy God, het sy toe nie verstaan nie. Sy is amper laat vir ‘n tweedejaarlesing oor die digter Johann de Lange, aangebied as die “Die teks Johann de Lange”.

Sy is al vir ‘n hele paar lesings besig met Lacan en De Lange se beskrywing van sy vaderfiguur wat hom verlaat het na sy selfdood. En hoe hierdie skimmige figuur die teken in De Lange se onbewuste is wat alles bepaal en struktureer. Sy verduidelik hoe die drie vlakke van betekenis, te wete die verbeelde, simboliese en Reële terselfdertyd een word.

Bykans soos die Vader, die Seun en die Heilige Gees. 

Sy sou meer wou vertel. Hoe sy die genre-boek opgetel het en op bladsy 117 van hierdie boek lees: They may, too, maintain a tense and ambivalent relationship with those progenitors long after the parent genres cease to be in vogue, much as our emotional relationships with our relatives do not necessarily cease at their deaths.”

Dit slaan haar asem weg, hierdie waarheid dat genres soos menslike persoonlikhede, ook komplekse verhoudings aangaan met dié om hulle. Rebellie, opstand, of wat ook al …

Épater la bourgeoisie 
vir Johann

In ‘n studie oor genre van ene Heather Dubrow,
konkludeer hierdie teoretikus, so waar as vet,
dat die verhouding met ons ouers nadoods voortduur.
In ‘n lesing oor jou verbintenis met jou vader
sien ek hoe jy elke genre-voorskrif oor ‘n gedig
se sluiting ondermyn, afbreek en uitstel.
Waarom, wonder ek, word ons onthou om die on-
bedoelde, die jeugvergrype, die San Andreas-fout
van die lyf, die onvergeeflike vloek-in-die-vers
eerder as die onverwoordbare pyn wat voortslinger
in gebreekte sonnet na gebreekte sonnet?


© Joan Hambidge

Thursday, February 12, 2015

Nuwe publikasie: Matriks (Joan Hambidge)


Die digter se poging tot lewe-deur-poësie, tot skrywende sinmaak uit wat tans gebeur en gebeur het en die ewige wordingsproses van ’n skrywerslewe kom in hierdie ryk bundel aan bod, met al die elemente wat aanhangers van ’n Hambidge-bundel verwag: Die verhouding met die ouers en familie, gesprekvoering met ander skrywers, liefdesverhoudings en hul eindes, reise na verre plekke en gedigte met beelde en bekende sterftes as vertrekpunt. En altyd ’n flink digterlike reaksie op gebeure wat die tydvak ontwrig of ontstem, veral waar dit afskeid en aflegging behels.

Joan Hambidge is een van die bekendste literêre figure in Suid-Afrika. As kritikus en resensent skroom sy nie om in die letterkundige bokskryt te klim om haar oortuiginge te verdedig nie. Sy het al ’n twintigstuks digbundels op haar kerfstok en verskeie romans. Sy is professor in Afrikaanse letterkunde en kreatiewe skryfwerk aan die Universiteit van Kaapstad. In 2012 is haar bundel Visums by verstek met die ATKV-Woordveertjie vir Poësie bekroon.  (Human & Rousseau, R175)

Analepsis

Verslaaf aan die parentese, dit is ek,
wagtend op die finale punt, ook dit is ek.
Niks word ooit ópgehef, niks word vergeet,
aan herinneringe vasgebind soos jy weet.
Ons skeiding (’n soeke na rus) word ’n kommapunt.
Eer ek opnuut begin, tel ek sillabes, dalk ’n amfibrag?
Anadiplosis? Herhaling, liewe leser, my knelpunt.
Geen Pindarus, geen anti-strofe, net ek wag.
Ek is net dit: aan die parentese verslaaf.

(Uit: Matriks. Joan Hambidge)

Saturday, February 7, 2015

Louise Viljoen - Die mond vol vuur: Beskouings oor die werk van Breyten Breytenbach (2015)



Louise Viljoen - Die mond vol vuur: Beskouings oor die werk van Breyten Breytenbach. Sun Press, 2015. ISBN 978 1 920338 83 1.

Resensent: Joan Hambidge

Louise Viljoen het ‘n belangrike studie oor die werk van Antjie Krog geskryf en sopas het daar by Sun Press ‘n uitgebreide studie verskyn oor die werk van Breyten Breytenbach, ‘n voorste digter. Breytenbach is ‘n verwikkelde figuur om aan te pak: hy is sowel openbare figuur as uiters private digter wat oor die dood en liefde dig; hy is skilder en woordkunstenaar; hy is dramaturg, romanskrywer, optekenaar, ‘n verkleurmannetjie …
Ook skryf hy onder verskillende name of konstruksies, onder andere Buiteblaf (die hond en voël is bekende  gestaltes in sy werk). Die titel van Viljoen se studie is ontleen aan die versamelbundel Die handvol vere (1995) en “die mond vol vuur” soos die vertalings van Afrikaanse digters na Engels wat verskyn onder die titel In a burning sea (Protea) aktiveer die enorme kreatiwiteit van hierdie digter. En dit verwys na die paradoks immer wat aanwesig is in sy digkuns.

As Zen-digter en beoefenaar van die Surrealisme tot die digter van die semiotiese ontginning van taaltekens soos (‘yk’) tot digter wat telkens beeldend terugkeer na ou nostalgiese temas. Dit is tereg ‘n monumentale oeuvre – soos Viljoen uitwys.

Viljoen bundel artikels wat oor ‘n lang tydperk verskyn het en so word hierdie teks dan ook ‘n argief van die ontwikkeling van die toepassing van letterkundige teorie hier te lande. Daar is tans byvoorbeeld ‘n groter klem op ‘n Afrika-bewussyn en in die hoofstuk “Die naam van die digter”, behandel sy die gebruik van eiename in sy poësie. Hier verwys sy dan na die tronkwerk en die verskillende personas waaragter die digter skuilgehou het. Dit gee haar dan die geleentheid om Derrida (en Culler) in te span oor die kwessie van vermenigvuldigende betekenisprosesse (5) en hoe die leser met elke lesing  ‘n ánder betekenis kan raaklees. 

In die afdeling “Die digter en sy vaders” behandel sy die kwessie van vaderfigure in sy digkuns. God-die-vader en digterlike vaders kom hier aan bod. As leser betrek sy ook die outobiografiese dimensie, weliswaar met omsigtigheid en dekorum, wanneer sy byvoorbeeld kyk na wie “oubaas “ kon wees in die gedig “’n brief vir hulle vakansie”(33). Henning Snyman se analise van hierdie gedig in Mirakel en muse bly voortreflik.

Vir my is die afdeling oor “Die digter in Afrika” opwindend, omdat ‘n mens hier ‘n nuwe blik op die digterskap vind. Een van BB se digtersname is immers Jan Afrika en sy werk by die Gorée-instituut in Senegal dui op ‘n Afrika-betrokkenheid. Die aansluiting met Afrika-opvattings oor voorvaders, die gebruik van die masker én die problematisering van grense tussen kunswerk en leser (‘n mens dink hier aan kuns as allemansbesit), bied ‘n nuwe leesstrategie vir die leser. Trouens, Breytenbach het nog altyd sy leser uitgedaag oor presies wát poësie is. Vanaf sy debuut tot sy laatwerk – ‘n mens dink hier aan Katalekte – is hy voortdurend besig om die betekenis en funksie van die digkuns op sy kop te keer. En al hierdie paradigmaverskuiwings vang Viljoen op.

In die afdeling “Intieme vreemdeling” betrek sy die tronkpoësie, waarskynlik van sy mees ingewikkelde gedigte en verse waarin die postmodernistiese problematisering van grense aangespreek word. In ‘n voetnoot op bladsy 86 – wat oorloop in 87 – maak sy vir die jong navorser ‘n nuwe terrein oop met betrekking tot die betekenis van sy oefenboeke vir hierdie bundels! In hierdie afdeling wys sy dan ook op die “gelyktydigheid” wat hy met die leser wil bereik: skrywer en leser moet in dieselfde ruimte byeen gebring word sodat kommunikasie kan plaasvind. En die tegelykertydsaspek is immers die raamwerk van die geslaagde gedig wanneer “innige oortuiging” in die leser se gemoed begin werk (93).

Ook die invloed van die parodie in sy werk word in ‘n afsonderlike hoofstuk onder die loep geneem en Viljoen het al by etlike geleenthede ‘n besondere oorsig gegee van gesprek, parodie en pastiche tussen jonger digters en ouer digters, eweneens goed geboekstaaf in Poskaarte.

Binne versus buite, hier en globaliteit, liminaliteite (grensruimtes), die digter as openbare figuur, digters in gesprek met BB, uitwissing en bestendigheid word eweneens bespreek.
Dit is baie belangrike studie vir veral dosente en vir alle liefhebbers van die digter se werk.
Dit is toeganklik geskryf met tersaaklike teorie as onderbou.  Die Lacan-verwysings, my spesialiteitsgebied, is wel te oppervlakkig vir my gevoel. Die konstruksie van die subjek sou hier met meer vrug ondersoek kon word.

Die boek bevat ‘n handige register vir die navorser en Sun Press is besig om hulsef te vestig as ‘n belangrike navorsingsuitgewery gedagtig ook aan Chris van der Merwe se Die houtbeen van St Sergius.


(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunnning van Rapport)

Wednesday, February 4, 2015

Cas Vos - Fragmente uit die Ilias (2014)


Cas Vos - Fragmente uit die Ilias. Protea Boekhuis, 2014. ISBN-13: 978-1-4853-0181-3
Resensent: Joan Hambidge

Die Ilias vertel die verhaal van Agamemnon, wat wraak sweer wanneer Helena (die vrou van Menelaus), deur Paris, ’n prins van Troje, ontvoer word.

Dit het ’n slopende Trojaanse oorlog tot gevolg wat tien jaar lank duur en verskeie vertalers het al hul hand aan hierdie klassieke teks gewaag, wat geweldige eise aan die digter se vormbeheer én taalgevoeligheid stel. Die Odusseia begin tien jaar ná die val van Troje.

Dit is soos die verskillende vertalings van Dante se Heilige Komedie, wat vele herdigtings en toespelings beleef het en vertalings soos deur die voormalige poet laureate van die VSA, Robert Pinsky. In Afrikaans is daar gesprekke met Dante in die diguns van T.T. Cloete en selfs ’n vertaling van Delamaine du Toit.

Cas Vos se vertalings word gepubliseer met die herdenking van die Eerste Wêreldoorlog.

Op die Versindaba se webruimte het die literator Marlies Taljard – wat hierdie teks as ’n meesterstuk beskryf – gewys op die hantering van die epitet. Hierdie teks, soos elke vertaling uit ’n klassieke taal, vra egter of die teks genoegsaam getransporteer is van die Grieks na Afrikaans. Soos wat die Ilias die stryd beskryf van Agamemnon om die skone Helena te bevry van Paris, is digters in ’n soortgelyke metaforiese stryd gewikkel in so ’n allemagtige vertaling of herdigting.

Dit is opvallend dat daar tans, meer as ooit tevore, geweldig baie vertalings binne die Afrikaanse letterkunde verskyn. Selfs in verseboeke word vertalings tans opgeneem as digterlike eiegoed. Uys Krige, H.P. van Coller, Johann de Lange, Daniel Hugo en H.J. Pieterse is digters wat Afrikaans verruim het met uitstekende vertalings.

In Boek XX lees ons:

“Hoor net hoe jaag die blitse rond,
die gode span saam vir die oorlog.
Uit woede gaan hulle mense wond,
en dit alles weens blinde hartstog” (126).

Hierdie bundel bevat ’n grondige inleiding ter agtergrond. Die naamverklaring is eweneens nuttig.

Die belang van só ’n vertaling is dat dit ’n mens na die ryk skat van die digkuns neem waarin die Ilias op briljante wyses vernuut is. Vir my is die mees uitstaande voorbeelde Omerus van Derek Walcott en die digkuns van Anne Carson, digter en klassikus.

Daar bestaan dubbelloop-vertalings (met voetnote) en vrye vertalings van klassieke tekste. In laasgenoemde geval kry die sterk digter se stem die oorhand. En al hierdie gesprekke tussen digters wat dieselfde oorlogsveld besoek het, bly ’n fassinerende een: Yeats, Lorca, Neruda, Ted Hughes . . .

Soos Vos tereg uitwys, is daar gevalle waar die persoonlike ervaring oor hierdie teks getransponeer word (Yeats wat sy Maud Gonne gelykstel aan die skone Helena van Troje).

“Elke tyd het sy Trojaanse oorlog” (28), word ’n ander digter tereg aangehaal . . .


Die digter gee erkenning aan die letterlike vertaling van die Stellenbosse klassikus J. P. J. van Rensburg wat in 1952 verskyn het. Hy verwys die leser ook na al die geraadpleegde brontekste wat vir die snuffelaar van onskatbare waarde is.


* Op die flapteks staan daar dat Vos in 2012 met die SALA-prys bekroon is. Dit het egter in daardie jaar aan Johann Lodewyk Marais gegaan.

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunnning van Rapport)

Tuesday, February 3, 2015

Repliek: Psigiater reageer op Dominique Botha se roman Valsrivier


'n Anonieme psigiater reageer nou onlangs op Litnet op Dominique Botha se veelbekroonde en aangrypende roman ValsrivierValsrivier – 'n lesersindruk vanuit 'n sielkundige perspektief - Anonieme psigiater.

Ons verneem van hierdie kenner van die psigiatrie:

"Die skrywer sê dat sy die boek geskryf het om haar broer te onthou, waarin sy sekerlik suksesvol was, maar ook om iets uit die verlies van sy dood te maak, en dis hierin waar die teleurstelling van die roman vir my lê. Die beskrywings van die karakters se ervarings is uitgebreid en omvattend, maar daar word feitlik geen erkenning aan hulle emosionele belewenis gegee nie. Die karakter Dominique noem baie selde hoe sy voel, gee geen refleksie op wat sy dink ander voel, of wat sy dink haar broer se gevoelens mag wees nie."
Die probleem met die anonieme psigiater se uitspraak is dat hy hom verlaat op wat die skrywer sê in plaas van wat sy doen ... Dit is uiteraard altyd die probleem wat onderhoude in die pers en op televisie skep, is dat dit die resepsie of verwagting van die teks vertroebel en 'n skadu oor die ervaring van die teks kan gooi. (Ek gaan wel my resensie en onderhoud weer betrek.)

Vir my is die krag van die roman júis geleë in die distansie - met ander woorde, dat die enorme emosionele pyn afstandelik gehou word en dat sy ten slotte die teks afsluit met 'n kragtige lykdig. [1]

Wat Dokter Anoniem miskyk, is dat 'n mens twee stemme hier aantref, te wete die ouer, volwasse verteller wat die ervarings gedistansieerd weergee en sodoende juis die trefkrag van die emosionele pyn in understament weergee.

Lees is 'n subjektiewe en 'n uiters persoonlike reaksie, maar ek sou meer van 'n ingeligte sielkundige verslag van 'n psigiater wou sien as net 'n paar ek-voel-opmerkings.

Dalk iets oor die skryf van so 'n teks as heling, met ander woorde, die teks as terapie. Moderne psigoanaliste en -terapeute soos Adam Philips, gebruik letterkundige tekste om by sekere sielkundige "waarhede" uit te kom.

Philips resenseer dikwels vir die London Review of Books, maar dan insigryk en sinvol. En Philips se gesonde skepsis oor psigoanalise en sy skerp analises, maak sy werk uiters relevant. Hy sien dit ook nie as 'n wetenskap nie, maar gewoon net as 'n (lees: een) manier om by pynlike waarhede oor jouself uit te kom.

Promises, Promises (2000) is 'n lonende leeservaring.

Psigiaters en sielkundiges mag oor tekste skryf, maar dan moet daar werklik met die teks "gewals" word.

Byvoorbeeld: waarom het Valsrivier mense so ontroer? Dalk omdat die verteller / fokalisator iets onthul oor die ervaring van broederlike verlies en hoe die sogenaamde familie of gesin nie kinders kan beskerm teen die aanslae van buite nie, te wete, die ouers se politieke oortuigings wat tot gevolg gehad het dat die kinders uit die beskutte platteland moet weggaan en in 'n Engelse skool moet aanpas.

Daar is byvoorbeeld uiters subtiele passasies oor lyflikheid en die vader wat byvoorbeeld opmerk hoe maer die dogter geword het.

In 'n onderhoud met my in Die Burger merk die skrywer op:

"Vir 'n skrywer om te skryf, kan die persoonlike nie 'n leibeurt ontsê word uit die gemeenskaplike sluis van geskiedenis nie. 'n Skrywer dweil indrukke op en wring 'n narratief uit die oorloop." [2]

Sy bely ook dat sy die diep kreet van smart op 'n beheersde wyse wou weergee. Maar wat sy uiteindelik self bely, is nie werklik tersaaklik nie. Die roman doen dit. Sy besweer pyn en sy doen dit met 'n streng hand: afstandelik, soms met humor, met 'n vervlegting van waarheid en fiksie, prosa en poësie.

Die anonieme psigiater skryf ook:

"Die karakter Dominique beskryf haarself ook op 'n baie passiewe en amper afgestompte manier, asof sy nie 'n stem in die familie en lewe gehad het nie, byvoorbeeld die episode waar sy seks het met die doktersvriend van Paul. Dit laat die leser met dieselfde gevoel van hartseer en eensaamheid wat sy en haar broer moes ervaar het."

Kennelik het hy nie raakgesien dat die broer die hele familie oorheers het nie? Dat hy 'n soort wonderkind was en dat sy eers ná sy vertrek 'n eie stem gekry het.  So gelees, neem sy as't ware sy kreatiewe energie oor en verlos die hele familie van hul pyn.

Om te gil, kan jou leser doof maak. Die sagter, onderstellende manier van skryf, het 'n altyd groter impak.

Endnotas:

Hier is my resensie wat in Beeld en daarna op my blog verskyn het (Dominique Botha - Valsrivier, 2013):

[1.] Valsrivier deur Dominique Botha is ‘n prosateks wat beweeg tussen die grense van vertelling en poësie. Dit is ‘n hártgrypende verhaal wat die jeug van die verteller en haar sibbe in oënskou neem. Die leser begin die verhaal lees van die verteller / fokalisator (wat dieselfde naam dra as die outeur) en ‘n stuk Afrikaanse verlede ontplooi hier voor die leser se oë. Die lewe op ‘n plaas in die Vrystaat en hoe jong kinders reageer op ouers, skool, politieke verskille, diereslag, onreg – en wat nog word beskryf.

Dit behoort tot die genre waarin Carson McCullers en Truman Capote so uitgemunt het: die ouer verteller wat terugkyk asof hy/sy steeds die kind is wat alles beleef het. In hierdie soort vertelling skuif die ouer persoon en kind  se waarneming ooreen en die verlede word herbesoek. Die besonderhede van Valsrivier val die leser onmiddellik op  en die verhaal, wat as ‘n elegie beskryf word, is in die werklikheid gebed. Die sirkelgang en sluiting is opvallend. Hierom is tyd so belangrik in die roman (198):”ons reis deur die skyn van tyd” dui op die feit dat emosionele ervarings nooit weggaan nie…

Inderdaad laat die gees sy eie grafskrif, soos die motto van Paul Botha lui. En hy is die sentrale fokus van die verhaalopset: die dag nadat hy sy polse gesny het, word die droogte gebreek. Met die suster wat begrip het vir sy lot (146): sy sien hom nie as lafhartig nie.

Die roman begin met ‘n waarskuwing dat die suster te na aan die water (die onbewuste) staan en op die keerwal vrot die oog van ‘n dooie karp weg (7). Ook haar ellendes word weergegee (soos die ervaring van menstruasie en lyflike aftakeling), maar uiters subtiel vertel. Haar kat, Lietjiebet Lotriet, speel in op ‘n kinderverhaal van ‘n brandmaer weeskind (52). Hoe kinders op skool geïndoktrineer is (soos die Voortrekkerbabas wie se koppies teen wawiele stukkend geslaan is en die kommunisme), word goed weergegee (63). Die vreemde skool in Natal het wel wonderlike humoristiese oomblikke soos die Juffrou wat vir haar sê sy moet haar trane spaar vir werklike ellendes!

Daar is ‘n besoek aan Middenspruit by ‘n digter, Antjie Krog, wat raadgee vir die jong belowende Paul. Ons sien sy talent raak in die ingebedde tekste wat die suster vir ons gee.

Die verhaal word hortend, rukkerig vertel, want die fokalisator skryf oor haar broer en algaande besef die leser hoe hy “anders” was. Van jongsaf opstandig, slim, ‘n skrywer – en veral ‘n teëprater, met die suster as sy fiksionele biograaf of optekenaar. Dit is uiteindelik háár kreatiwiteit wat oorwin sodat die elegie verander in ‘n laus. Soos daar ‘n glasbottel met ‘n boodskap ontdek word in ‘n muur, so maak die leser die geheime boodskappe mee van hierdie roman (120).

Die impak van die politiek van die tyd en die broer se opstand daarteen, bring die Weermag en die ou-Suid-Afrika sterk na vore. Die ouers se linkse politiek word eweneens ‘n silwer draad wat regdeur die roman loop. En die emosionele verwoesting wat die ou Afrikaner politiek tot gevolg gehad het.

Dis beeldskoon, hierdie debuut. En op die agterblad reken Breyten Breytenbach dat moed nie normaalweg gereken word as ‘n literêre kenmerk nie. Hier is dit wel die geval. Dis ‘n boek oor die “vals” geheime van die geheue en hoe elke leser verwond is deur jeugervaringe.

Paul waarsku:”Jou herkoms brandmerk jou vir ewig. Skryf is ‘n oorblyfsel van waar jy jouself bevind. Van hoe die seisoene verloop.” (150).

Lees dit. Dis ook as e-boek beskikbaar.

Die boek eindig met ‘n beeldskone vers:


tyd rol en sloersoos ‘n muntstukkie gegooiop die kim van die naderende dag
jy het my altyd vooruit geloop


[2.] Onderhoud: Om te skryf is om afgesonder in 'n eggokamer voor 'n spieël te sit 

Joan Hambidge gesels met Dominique Botha, skryfster van Valsrivier

1. Baie geluk met jou aangrypende roman. Een van die belangrikste aspekte van die boek is dat jou broer se lewensloop en uiteindelike dood die tema is vir hierdie boek. Jy “voltooi” as’t ware sy kreatiewe impuls wat gekortwiek is deur sy dood. Kommentaar.

My boek is 'n protes teen vergetelheid. Die behoefte om die dood op sy plek te hou lê diep in die menslike natuur. Deur iets tasbaar agter te laat is 'n weerspreking van die "Paul-shaped hole in the universe", om die treffende doodsmetafoor uit Arundhati Roy se God of Small Things te leen. Nou bestaan die buitelyne van die verdwene mens en van sy gedigte op papier. 

Met nabetragting sou mens kon sê dat die kortwieking van my broer se kreatiewe impuls uiteindelik vleuels gegee het aan my eie stem. Ek neem die vertelling oor. Baie versigtig in die begin, maar soos die verhaal ontplooi, so beweeg die susterstem geleidelik weg uit die skadu van die ouer broer se talent asook uit die skadu van verlies.


2. Daar is herkenbare mense in die roman – soos onder andere Antjie Krog en jou familie. Hoe voel jy hieroor of dink jy die roman fiksionaliseer die gegewe genoegsaam?

Ek het in 'n innerlike tweestryd vasgeval oor my reg om sulke private geskiedenis op so 'n publieke manier te gebruik. Hoe verdiskonteer mens die wrywing tussen feit en fiksie? Is dit nie maar net 'n manier om 'n kombers te gooi oor die intieme vervlegting van verbeelding en geheue nie? Of die teks as verhaal of verhandeling ingedeel word is eintlik 'n ronddansery wat nie die kompleksiteit van 'n skrywer se etiese uitdagings verskraal nie. 

My oorgang van memoir tot roman was ook deels as  gevolg van 'n groeiende besef dat die volkome waarheid nie haalbaar is nie. Om 'n herinnering op te roep is ook om 'n eerste daad van fiksie te pleeg.  Skryf is ook 'n dissipline waardeur mens geleidelik van die sin van uniekheid van die self verlig word; 'n bevrydende gestrompel in die rigting van nederigheid. Nogtans mag lesers die mededeling kyklustig op sigwaarde interpreteer, want hulle lewe nog met die gewig en las van 'self'. Vir 'n skrywer om te skryf, kan die persoonlike nie 'n leibeurt ontsê word uit die gemeenskaplike sluis van geskiedenis nie.'n Skrywer dweil indrukke op en wring 'n narratief uit die oorloop. 

Ek het probeer om die gebruik van intieme familie geskiedenis met integriteit te benader, asook die herkenbare mense met eerlikheid en grasie te beskryf, en hoop dat die leser dit sal oordeel as 'n metafoor met 'n breë weerklank, verby die persoonlike gegewens van die verhaal.


3. Die boek lewer kommentaar op tyd en die boek is in ‘n siklus geskryf. Die begin en einde sluit bymekaar aan. Dink jy die onbewuste is ‘n soort tydlose ruimte waarin alles vir ewig geberg word?

Ek dink die onbewuste is 'n onveilige stoorplek met sy eie skeppende drange. Ons onthou op maniere wat ons wil onthou, merendeels in diens van die ego as noodwendig in diens van die waarheid. 

In jou resensie oor my boek trek jy 'n vergelyking tussen water en die onbewuste,  'n raakvatting wat ook in die titel Valsrivier weerspieëling vind. Die titel is 'n toespeling op die naam van die rivier wat deur die familieplaas vloei, met 'n verdere dieperleggende betekenis. Paul se groot literêre held Eugène Marais het geskryf oor die diep rivier, die donker stroom, wat  gesien kan word as 'n verwysing na sy eie stryd met morfienverslawing, asook die donker keersy van die skeppingsdrang, wat beide lewensgewend en doodsgevaarlik kan wees. Soos die siklusse van water wat kom en gaan, so maak die geheue binne die kontoere van die onbewuste. Niks is standhoudend nie.  Digters en skrywers is die watersoekers wat verborge strome moet opdiep.


4. Ek dink die begrafnistoneel is so goed beskryf. Hoe lank het jy aan hierdie teks gewerk en was dit deel van jou Kreatiewe Skryfskool-portefeulje aan Wits? Wie was jou mentor en hoe voel jy oor skryfskole?

Ek het ongeveer 3 jaar lank gewerk aan die teks. Leon de Kock, as hoof van die skryfskool by Wits het my baie aangemoedig, en toe onder verdere leiding van Gerrit Olivier en die res van die MA-groep het my boek  geleidelik gestalte gekry. Om te skryf is om afgesonder in 'n eggokamer voor 'n spieël te sit.  Skryfskole bied belangstellende lesers, kritici en sperdatums aan. Dié is van onskatbare waarde.

Die slot van die boek het eers na die afloop van die kursus opgewel. Ek dink dit het ontstaan uit 'n behoefte om 'n diep kreet van smart op 'n beheersde wyse vorm te gee en te besweer. 


[Hierdie onderhoud word met vriendelike vergunning van Die Burger geplaas.]