Bladsye / Pages

Tuesday, February 3, 2015

Repliek: Psigiater reageer op Dominique Botha se roman Valsrivier


'n Anonieme psigiater reageer nou onlangs op Litnet op Dominique Botha se veelbekroonde en aangrypende roman ValsrivierValsrivier – 'n lesersindruk vanuit 'n sielkundige perspektief - Anonieme psigiater.

Ons verneem van hierdie kenner van die psigiatrie:

"Die skrywer sê dat sy die boek geskryf het om haar broer te onthou, waarin sy sekerlik suksesvol was, maar ook om iets uit die verlies van sy dood te maak, en dis hierin waar die teleurstelling van die roman vir my lê. Die beskrywings van die karakters se ervarings is uitgebreid en omvattend, maar daar word feitlik geen erkenning aan hulle emosionele belewenis gegee nie. Die karakter Dominique noem baie selde hoe sy voel, gee geen refleksie op wat sy dink ander voel, of wat sy dink haar broer se gevoelens mag wees nie."
Die probleem met die anonieme psigiater se uitspraak is dat hy hom verlaat op wat die skrywer sê in plaas van wat sy doen ... Dit is uiteraard altyd die probleem wat onderhoude in die pers en op televisie skep, is dat dit die resepsie of verwagting van die teks vertroebel en 'n skadu oor die ervaring van die teks kan gooi. (Ek gaan wel my resensie en onderhoud weer betrek.)

Vir my is die krag van die roman júis geleë in die distansie - met ander woorde, dat die enorme emosionele pyn afstandelik gehou word en dat sy ten slotte die teks afsluit met 'n kragtige lykdig. [1]

Wat Dokter Anoniem miskyk, is dat 'n mens twee stemme hier aantref, te wete die ouer, volwasse verteller wat die ervarings gedistansieerd weergee en sodoende juis die trefkrag van die emosionele pyn in understament weergee.

Lees is 'n subjektiewe en 'n uiters persoonlike reaksie, maar ek sou meer van 'n ingeligte sielkundige verslag van 'n psigiater wou sien as net 'n paar ek-voel-opmerkings.

Dalk iets oor die skryf van so 'n teks as heling, met ander woorde, die teks as terapie. Moderne psigoanaliste en -terapeute soos Adam Philips, gebruik letterkundige tekste om by sekere sielkundige "waarhede" uit te kom.

Philips resenseer dikwels vir die London Review of Books, maar dan insigryk en sinvol. En Philips se gesonde skepsis oor psigoanalise en sy skerp analises, maak sy werk uiters relevant. Hy sien dit ook nie as 'n wetenskap nie, maar gewoon net as 'n (lees: een) manier om by pynlike waarhede oor jouself uit te kom.

Promises, Promises (2000) is 'n lonende leeservaring.

Psigiaters en sielkundiges mag oor tekste skryf, maar dan moet daar werklik met die teks "gewals" word.

Byvoorbeeld: waarom het Valsrivier mense so ontroer? Dalk omdat die verteller / fokalisator iets onthul oor die ervaring van broederlike verlies en hoe die sogenaamde familie of gesin nie kinders kan beskerm teen die aanslae van buite nie, te wete, die ouers se politieke oortuigings wat tot gevolg gehad het dat die kinders uit die beskutte platteland moet weggaan en in 'n Engelse skool moet aanpas.

Daar is byvoorbeeld uiters subtiele passasies oor lyflikheid en die vader wat byvoorbeeld opmerk hoe maer die dogter geword het.

In 'n onderhoud met my in Die Burger merk die skrywer op:

"Vir 'n skrywer om te skryf, kan die persoonlike nie 'n leibeurt ontsê word uit die gemeenskaplike sluis van geskiedenis nie. 'n Skrywer dweil indrukke op en wring 'n narratief uit die oorloop." [2]

Sy bely ook dat sy die diep kreet van smart op 'n beheersde wyse wou weergee. Maar wat sy uiteindelik self bely, is nie werklik tersaaklik nie. Die roman doen dit. Sy besweer pyn en sy doen dit met 'n streng hand: afstandelik, soms met humor, met 'n vervlegting van waarheid en fiksie, prosa en poësie.

Die anonieme psigiater skryf ook:

"Die karakter Dominique beskryf haarself ook op 'n baie passiewe en amper afgestompte manier, asof sy nie 'n stem in die familie en lewe gehad het nie, byvoorbeeld die episode waar sy seks het met die doktersvriend van Paul. Dit laat die leser met dieselfde gevoel van hartseer en eensaamheid wat sy en haar broer moes ervaar het."

Kennelik het hy nie raakgesien dat die broer die hele familie oorheers het nie? Dat hy 'n soort wonderkind was en dat sy eers ná sy vertrek 'n eie stem gekry het.  So gelees, neem sy as't ware sy kreatiewe energie oor en verlos die hele familie van hul pyn.

Om te gil, kan jou leser doof maak. Die sagter, onderstellende manier van skryf, het 'n altyd groter impak.

Endnotas:

Hier is my resensie wat in Beeld en daarna op my blog verskyn het (Dominique Botha - Valsrivier, 2013):

[1.] Valsrivier deur Dominique Botha is ‘n prosateks wat beweeg tussen die grense van vertelling en poësie. Dit is ‘n hártgrypende verhaal wat die jeug van die verteller en haar sibbe in oënskou neem. Die leser begin die verhaal lees van die verteller / fokalisator (wat dieselfde naam dra as die outeur) en ‘n stuk Afrikaanse verlede ontplooi hier voor die leser se oë. Die lewe op ‘n plaas in die Vrystaat en hoe jong kinders reageer op ouers, skool, politieke verskille, diereslag, onreg – en wat nog word beskryf.

Dit behoort tot die genre waarin Carson McCullers en Truman Capote so uitgemunt het: die ouer verteller wat terugkyk asof hy/sy steeds die kind is wat alles beleef het. In hierdie soort vertelling skuif die ouer persoon en kind  se waarneming ooreen en die verlede word herbesoek. Die besonderhede van Valsrivier val die leser onmiddellik op  en die verhaal, wat as ‘n elegie beskryf word, is in die werklikheid gebed. Die sirkelgang en sluiting is opvallend. Hierom is tyd so belangrik in die roman (198):”ons reis deur die skyn van tyd” dui op die feit dat emosionele ervarings nooit weggaan nie…

Inderdaad laat die gees sy eie grafskrif, soos die motto van Paul Botha lui. En hy is die sentrale fokus van die verhaalopset: die dag nadat hy sy polse gesny het, word die droogte gebreek. Met die suster wat begrip het vir sy lot (146): sy sien hom nie as lafhartig nie.

Die roman begin met ‘n waarskuwing dat die suster te na aan die water (die onbewuste) staan en op die keerwal vrot die oog van ‘n dooie karp weg (7). Ook haar ellendes word weergegee (soos die ervaring van menstruasie en lyflike aftakeling), maar uiters subtiel vertel. Haar kat, Lietjiebet Lotriet, speel in op ‘n kinderverhaal van ‘n brandmaer weeskind (52). Hoe kinders op skool geïndoktrineer is (soos die Voortrekkerbabas wie se koppies teen wawiele stukkend geslaan is en die kommunisme), word goed weergegee (63). Die vreemde skool in Natal het wel wonderlike humoristiese oomblikke soos die Juffrou wat vir haar sê sy moet haar trane spaar vir werklike ellendes!

Daar is ‘n besoek aan Middenspruit by ‘n digter, Antjie Krog, wat raadgee vir die jong belowende Paul. Ons sien sy talent raak in die ingebedde tekste wat die suster vir ons gee.

Die verhaal word hortend, rukkerig vertel, want die fokalisator skryf oor haar broer en algaande besef die leser hoe hy “anders” was. Van jongsaf opstandig, slim, ‘n skrywer – en veral ‘n teëprater, met die suster as sy fiksionele biograaf of optekenaar. Dit is uiteindelik háár kreatiwiteit wat oorwin sodat die elegie verander in ‘n laus. Soos daar ‘n glasbottel met ‘n boodskap ontdek word in ‘n muur, so maak die leser die geheime boodskappe mee van hierdie roman (120).

Die impak van die politiek van die tyd en die broer se opstand daarteen, bring die Weermag en die ou-Suid-Afrika sterk na vore. Die ouers se linkse politiek word eweneens ‘n silwer draad wat regdeur die roman loop. En die emosionele verwoesting wat die ou Afrikaner politiek tot gevolg gehad het.

Dis beeldskoon, hierdie debuut. En op die agterblad reken Breyten Breytenbach dat moed nie normaalweg gereken word as ‘n literêre kenmerk nie. Hier is dit wel die geval. Dis ‘n boek oor die “vals” geheime van die geheue en hoe elke leser verwond is deur jeugervaringe.

Paul waarsku:”Jou herkoms brandmerk jou vir ewig. Skryf is ‘n oorblyfsel van waar jy jouself bevind. Van hoe die seisoene verloop.” (150).

Lees dit. Dis ook as e-boek beskikbaar.

Die boek eindig met ‘n beeldskone vers:


tyd rol en sloersoos ‘n muntstukkie gegooiop die kim van die naderende dag
jy het my altyd vooruit geloop


[2.] Onderhoud: Om te skryf is om afgesonder in 'n eggokamer voor 'n spieël te sit 

Joan Hambidge gesels met Dominique Botha, skryfster van Valsrivier

1. Baie geluk met jou aangrypende roman. Een van die belangrikste aspekte van die boek is dat jou broer se lewensloop en uiteindelike dood die tema is vir hierdie boek. Jy “voltooi” as’t ware sy kreatiewe impuls wat gekortwiek is deur sy dood. Kommentaar.

My boek is 'n protes teen vergetelheid. Die behoefte om die dood op sy plek te hou lê diep in die menslike natuur. Deur iets tasbaar agter te laat is 'n weerspreking van die "Paul-shaped hole in the universe", om die treffende doodsmetafoor uit Arundhati Roy se God of Small Things te leen. Nou bestaan die buitelyne van die verdwene mens en van sy gedigte op papier. 

Met nabetragting sou mens kon sê dat die kortwieking van my broer se kreatiewe impuls uiteindelik vleuels gegee het aan my eie stem. Ek neem die vertelling oor. Baie versigtig in die begin, maar soos die verhaal ontplooi, so beweeg die susterstem geleidelik weg uit die skadu van die ouer broer se talent asook uit die skadu van verlies.


2. Daar is herkenbare mense in die roman – soos onder andere Antjie Krog en jou familie. Hoe voel jy hieroor of dink jy die roman fiksionaliseer die gegewe genoegsaam?

Ek het in 'n innerlike tweestryd vasgeval oor my reg om sulke private geskiedenis op so 'n publieke manier te gebruik. Hoe verdiskonteer mens die wrywing tussen feit en fiksie? Is dit nie maar net 'n manier om 'n kombers te gooi oor die intieme vervlegting van verbeelding en geheue nie? Of die teks as verhaal of verhandeling ingedeel word is eintlik 'n ronddansery wat nie die kompleksiteit van 'n skrywer se etiese uitdagings verskraal nie. 

My oorgang van memoir tot roman was ook deels as  gevolg van 'n groeiende besef dat die volkome waarheid nie haalbaar is nie. Om 'n herinnering op te roep is ook om 'n eerste daad van fiksie te pleeg.  Skryf is ook 'n dissipline waardeur mens geleidelik van die sin van uniekheid van die self verlig word; 'n bevrydende gestrompel in die rigting van nederigheid. Nogtans mag lesers die mededeling kyklustig op sigwaarde interpreteer, want hulle lewe nog met die gewig en las van 'self'. Vir 'n skrywer om te skryf, kan die persoonlike nie 'n leibeurt ontsê word uit die gemeenskaplike sluis van geskiedenis nie.'n Skrywer dweil indrukke op en wring 'n narratief uit die oorloop. 

Ek het probeer om die gebruik van intieme familie geskiedenis met integriteit te benader, asook die herkenbare mense met eerlikheid en grasie te beskryf, en hoop dat die leser dit sal oordeel as 'n metafoor met 'n breë weerklank, verby die persoonlike gegewens van die verhaal.


3. Die boek lewer kommentaar op tyd en die boek is in ‘n siklus geskryf. Die begin en einde sluit bymekaar aan. Dink jy die onbewuste is ‘n soort tydlose ruimte waarin alles vir ewig geberg word?

Ek dink die onbewuste is 'n onveilige stoorplek met sy eie skeppende drange. Ons onthou op maniere wat ons wil onthou, merendeels in diens van die ego as noodwendig in diens van die waarheid. 

In jou resensie oor my boek trek jy 'n vergelyking tussen water en die onbewuste,  'n raakvatting wat ook in die titel Valsrivier weerspieëling vind. Die titel is 'n toespeling op die naam van die rivier wat deur die familieplaas vloei, met 'n verdere dieperleggende betekenis. Paul se groot literêre held Eugène Marais het geskryf oor die diep rivier, die donker stroom, wat  gesien kan word as 'n verwysing na sy eie stryd met morfienverslawing, asook die donker keersy van die skeppingsdrang, wat beide lewensgewend en doodsgevaarlik kan wees. Soos die siklusse van water wat kom en gaan, so maak die geheue binne die kontoere van die onbewuste. Niks is standhoudend nie.  Digters en skrywers is die watersoekers wat verborge strome moet opdiep.


4. Ek dink die begrafnistoneel is so goed beskryf. Hoe lank het jy aan hierdie teks gewerk en was dit deel van jou Kreatiewe Skryfskool-portefeulje aan Wits? Wie was jou mentor en hoe voel jy oor skryfskole?

Ek het ongeveer 3 jaar lank gewerk aan die teks. Leon de Kock, as hoof van die skryfskool by Wits het my baie aangemoedig, en toe onder verdere leiding van Gerrit Olivier en die res van die MA-groep het my boek  geleidelik gestalte gekry. Om te skryf is om afgesonder in 'n eggokamer voor 'n spieël te sit.  Skryfskole bied belangstellende lesers, kritici en sperdatums aan. Dié is van onskatbare waarde.

Die slot van die boek het eers na die afloop van die kursus opgewel. Ek dink dit het ontstaan uit 'n behoefte om 'n diep kreet van smart op 'n beheersde wyse vorm te gee en te besweer. 


[Hierdie onderhoud word met vriendelike vergunning van Die Burger geplaas.]