Bladsye / Pages

Thursday, February 26, 2015

Eybers 100

Eybers 100

Puntdigte:

Elisabeth Eybers

Altyd in balans, in ewewig:
afgeweeg simmetries 'n gedig.

 (uit Matriks, 2015)

So dig ek in 'n reeks puntdigte oor Eybers, ‘n digter wat ek op vele maniere aanspreek in my digkuns. Ek sonder haar uit as een van my drie mentors in ‘n gedig in Meditasies (2014). Sy was (is) meer as ‘n vroulike aanvulling; sy is die grootste beoefenaar van die sonnet en die distigon in Afrikaans en haar vermoë om helder en suggestieryk te dig, verdien vermelding.

As jong kind het ek die gedigte van Eybers gelees en dit het ‘n blywende indruk op my gemoed gelaat. Haar gebruik van die mitologie in haar gedigte is eweneens indrukwekkend.

My gunsteling Eybers-gedig is "Navrae:

Die aard van angs is dat dit tydelik kwel.
Verdriet, volgens 'n ou ballade, duur
twaalf maande en 'n dag, tot op die uur.
Die ritueel van rou is vasgestel.

Vreemd, van berou word nie so veel vertel.
Waar vind 'n mens 'n betroubare gedig
om jou oor die vervaldatum in te lig
van daardie individueler hel?

(Balans, 1962).

Die fyn beheer van ironie en altyd met 'n skeutjie wrangheid, dit is Eybers. Met haar gedig "Digteres as huisvrou" het ek al telkemale in gesprek getree. En ‘n digter se grootheid word immers gemeet aan die palinodes, teensange en parodieë wat dit ontlok.

Digteres as huisvrou

vir Elisabeth Eybers

Altyd ‘n Mr Delivery-boks teen die muur,
nooit ‘n optelslet op die onvanpaste uur.

Agenda/memoranda-dae waardeer sy gatvol,
moerig van vergadering na vergadering tol.

Wasgoed wat deur haar Bosch-masjien swaai,
sewe stelle klere plus gymbroeke aan die draai.

Eksamenskrifte, e-posse, verslae op haar lessenaar
(‘n Toring van Babel), neffens kritieke wat stof vergaar.

Tussendeur skryf sy gedigte stiekem wyl sy verwoed werk,
haastig beweeg van spertyd tot dit wat haar binneste versterk.

O muses, wees haar genadig:
laat haar maar parodies dig! 


Langs my bed staan die versamelde gedigte van Opperman en Eybers. En Louw se Tristia.

© Joan Hambidge

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunnning van Die Burger)