Bladsye / Pages

Saturday, February 7, 2015

Louise Viljoen - Die mond vol vuur: Beskouings oor die werk van Breyten Breytenbach (2015)



Louise Viljoen - Die mond vol vuur: Beskouings oor die werk van Breyten Breytenbach. Sun Press, 2015. ISBN 978 1 920338 83 1.

Resensent: Joan Hambidge

Louise Viljoen het ‘n belangrike studie oor die werk van Antjie Krog geskryf en sopas het daar by Sun Press ‘n uitgebreide studie verskyn oor die werk van Breyten Breytenbach, ‘n voorste digter. Breytenbach is ‘n verwikkelde figuur om aan te pak: hy is sowel openbare figuur as uiters private digter wat oor die dood en liefde dig; hy is skilder en woordkunstenaar; hy is dramaturg, romanskrywer, optekenaar, ‘n verkleurmannetjie …
Ook skryf hy onder verskillende name of konstruksies, onder andere Buiteblaf (die hond en voël is bekende  gestaltes in sy werk). Die titel van Viljoen se studie is ontleen aan die versamelbundel Die handvol vere (1995) en “die mond vol vuur” soos die vertalings van Afrikaanse digters na Engels wat verskyn onder die titel In a burning sea (Protea) aktiveer die enorme kreatiwiteit van hierdie digter. En dit verwys na die paradoks immer wat aanwesig is in sy digkuns.

As Zen-digter en beoefenaar van die Surrealisme tot die digter van die semiotiese ontginning van taaltekens soos (‘yk’) tot digter wat telkens beeldend terugkeer na ou nostalgiese temas. Dit is tereg ‘n monumentale oeuvre – soos Viljoen uitwys.

Viljoen bundel artikels wat oor ‘n lang tydperk verskyn het en so word hierdie teks dan ook ‘n argief van die ontwikkeling van die toepassing van letterkundige teorie hier te lande. Daar is tans byvoorbeeld ‘n groter klem op ‘n Afrika-bewussyn en in die hoofstuk “Die naam van die digter”, behandel sy die gebruik van eiename in sy poësie. Hier verwys sy dan na die tronkwerk en die verskillende personas waaragter die digter skuilgehou het. Dit gee haar dan die geleentheid om Derrida (en Culler) in te span oor die kwessie van vermenigvuldigende betekenisprosesse (5) en hoe die leser met elke lesing  ‘n ánder betekenis kan raaklees. 

In die afdeling “Die digter en sy vaders” behandel sy die kwessie van vaderfigure in sy digkuns. God-die-vader en digterlike vaders kom hier aan bod. As leser betrek sy ook die outobiografiese dimensie, weliswaar met omsigtigheid en dekorum, wanneer sy byvoorbeeld kyk na wie “oubaas “ kon wees in die gedig “’n brief vir hulle vakansie”(33). Henning Snyman se analise van hierdie gedig in Mirakel en muse bly voortreflik.

Vir my is die afdeling oor “Die digter in Afrika” opwindend, omdat ‘n mens hier ‘n nuwe blik op die digterskap vind. Een van BB se digtersname is immers Jan Afrika en sy werk by die Gorée-instituut in Senegal dui op ‘n Afrika-betrokkenheid. Die aansluiting met Afrika-opvattings oor voorvaders, die gebruik van die masker én die problematisering van grense tussen kunswerk en leser (‘n mens dink hier aan kuns as allemansbesit), bied ‘n nuwe leesstrategie vir die leser. Trouens, Breytenbach het nog altyd sy leser uitgedaag oor presies wát poësie is. Vanaf sy debuut tot sy laatwerk – ‘n mens dink hier aan Katalekte – is hy voortdurend besig om die betekenis en funksie van die digkuns op sy kop te keer. En al hierdie paradigmaverskuiwings vang Viljoen op.

In die afdeling “Intieme vreemdeling” betrek sy die tronkpoësie, waarskynlik van sy mees ingewikkelde gedigte en verse waarin die postmodernistiese problematisering van grense aangespreek word. In ‘n voetnoot op bladsy 86 – wat oorloop in 87 – maak sy vir die jong navorser ‘n nuwe terrein oop met betrekking tot die betekenis van sy oefenboeke vir hierdie bundels! In hierdie afdeling wys sy dan ook op die “gelyktydigheid” wat hy met die leser wil bereik: skrywer en leser moet in dieselfde ruimte byeen gebring word sodat kommunikasie kan plaasvind. En die tegelykertydsaspek is immers die raamwerk van die geslaagde gedig wanneer “innige oortuiging” in die leser se gemoed begin werk (93).

Ook die invloed van die parodie in sy werk word in ‘n afsonderlike hoofstuk onder die loep geneem en Viljoen het al by etlike geleenthede ‘n besondere oorsig gegee van gesprek, parodie en pastiche tussen jonger digters en ouer digters, eweneens goed geboekstaaf in Poskaarte.

Binne versus buite, hier en globaliteit, liminaliteite (grensruimtes), die digter as openbare figuur, digters in gesprek met BB, uitwissing en bestendigheid word eweneens bespreek.
Dit is baie belangrike studie vir veral dosente en vir alle liefhebbers van die digter se werk.
Dit is toeganklik geskryf met tersaaklike teorie as onderbou.  Die Lacan-verwysings, my spesialiteitsgebied, is wel te oppervlakkig vir my gevoel. Die konstruksie van die subjek sou hier met meer vrug ondersoek kon word.

Die boek bevat ‘n handige register vir die navorser en Sun Press is besig om hulsef te vestig as ‘n belangrike navorsingsuitgewery gedagtig ook aan Chris van der Merwe se Die houtbeen van St Sergius.


(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunnning van Rapport)