Bladsye / Pages

Wednesday, February 4, 2015

Cas Vos - Fragmente uit die Ilias (2014)


Cas Vos - Fragmente uit die Ilias. Protea Boekhuis, 2014. ISBN-13: 978-1-4853-0181-3
Resensent: Joan Hambidge

Die Ilias vertel die verhaal van Agamemnon, wat wraak sweer wanneer Helena (die vrou van Menelaus), deur Paris, ’n prins van Troje, ontvoer word.

Dit het ’n slopende Trojaanse oorlog tot gevolg wat tien jaar lank duur en verskeie vertalers het al hul hand aan hierdie klassieke teks gewaag, wat geweldige eise aan die digter se vormbeheer én taalgevoeligheid stel. Die Odusseia begin tien jaar ná die val van Troje.

Dit is soos die verskillende vertalings van Dante se Heilige Komedie, wat vele herdigtings en toespelings beleef het en vertalings soos deur die voormalige poet laureate van die VSA, Robert Pinsky. In Afrikaans is daar gesprekke met Dante in die diguns van T.T. Cloete en selfs ’n vertaling van Delamaine du Toit.

Cas Vos se vertalings word gepubliseer met die herdenking van die Eerste Wêreldoorlog.

Op die Versindaba se webruimte het die literator Marlies Taljard – wat hierdie teks as ’n meesterstuk beskryf – gewys op die hantering van die epitet. Hierdie teks, soos elke vertaling uit ’n klassieke taal, vra egter of die teks genoegsaam getransporteer is van die Grieks na Afrikaans. Soos wat die Ilias die stryd beskryf van Agamemnon om die skone Helena te bevry van Paris, is digters in ’n soortgelyke metaforiese stryd gewikkel in so ’n allemagtige vertaling of herdigting.

Dit is opvallend dat daar tans, meer as ooit tevore, geweldig baie vertalings binne die Afrikaanse letterkunde verskyn. Selfs in verseboeke word vertalings tans opgeneem as digterlike eiegoed. Uys Krige, H.P. van Coller, Johann de Lange, Daniel Hugo en H.J. Pieterse is digters wat Afrikaans verruim het met uitstekende vertalings.

In Boek XX lees ons:

“Hoor net hoe jaag die blitse rond,
die gode span saam vir die oorlog.
Uit woede gaan hulle mense wond,
en dit alles weens blinde hartstog” (126).

Hierdie bundel bevat ’n grondige inleiding ter agtergrond. Die naamverklaring is eweneens nuttig.

Die belang van só ’n vertaling is dat dit ’n mens na die ryk skat van die digkuns neem waarin die Ilias op briljante wyses vernuut is. Vir my is die mees uitstaande voorbeelde Omerus van Derek Walcott en die digkuns van Anne Carson, digter en klassikus.

Daar bestaan dubbelloop-vertalings (met voetnote) en vrye vertalings van klassieke tekste. In laasgenoemde geval kry die sterk digter se stem die oorhand. En al hierdie gesprekke tussen digters wat dieselfde oorlogsveld besoek het, bly ’n fassinerende een: Yeats, Lorca, Neruda, Ted Hughes . . .

Soos Vos tereg uitwys, is daar gevalle waar die persoonlike ervaring oor hierdie teks getransponeer word (Yeats wat sy Maud Gonne gelykstel aan die skone Helena van Troje).

“Elke tyd het sy Trojaanse oorlog” (28), word ’n ander digter tereg aangehaal . . .


Die digter gee erkenning aan die letterlike vertaling van die Stellenbosse klassikus J. P. J. van Rensburg wat in 1952 verskyn het. Hy verwys die leser ook na al die geraadpleegde brontekste wat vir die snuffelaar van onskatbare waarde is.


* Op die flapteks staan daar dat Vos in 2012 met die SALA-prys bekroon is. Dit het egter in daardie jaar aan Johann Lodewyk Marais gegaan.

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunnning van Rapport)