Peet van Aardt – Vier en Veertig, Agtien. Naledi, 2018. ISBN 978 1 9284 263 9 4
Resensent: Joan Hambidge
Hierdie roman draai die titel van Etienne Leroux se 18-44 op sy kop. So kort op die hakke van Ingrid Winterbach se uitstekende In die troebel tyd (Human & Rousseau) volg hierdie debuutroman, aangeprys deur Jaap Steyn, Thys Human en Willie Burger, gerekende literatore. Uit navrae blyk dit hierdie kommentare uit eksamenverslae kom.
Daar is ‘n verwysing in die roman na wyle Sue Robinson, ‘n vriendin van hierdie leser, wat op haar beurt in persoonlike gesprekke ‘n ander siening gegee het op die verhoudingslewe van Leroux. Robinson was inderdaad betrokke by Leroux.
Wat noem ‘n mens hierdie roman? Post-postmodernisme? Metamodernisme? Kladboek-kis-me?
Leroux en Winterbach se briefwisseling (reeds bespreek in Kannemeyer se biografie) word nou gekaap deur Van Aardt.
‘n Joernalis, Philip Snyman probeer sy loopbaan red na die dood van sy vriendin. Stres en ‘n emosionele ineenstorting word beskryf.
Die raam van “werklikheid” versus fiksie binne Vier en veertig, Agtien. En fiksie gebaseer op fiksie: die parasiet-gasheer-verhouding soos J. Hillis Miller dit noem.
Saul Bellow het in sy grootse roman, Humboldt’s Gift (1975), die lewe van die digter Delmore Schwartz ontgin. Von Humboldt Fleisher en Charlie Citrine wat losweg Schwartz en Bellow is (Humboldt's Gift – Wikipedia. Besoek 22 Oktober 2018).
Wanneer ‘n mens hierdie roman begin lees wat ‘n soort spieëlteks wil wees van Leroux/Winterbach, is die studentikose en soms platvloerse aanslag só oorweldigend dat dit die leesproses steur. Met die toon van hierdie roman het hierdie leser bepaald probleme.
Die kritiek is dus nie op die proses nie; dis eerder die aanslag van die roman: so ‘n haai en daai-allure. Uitsprake soos “U, meneer kom kak hoor” (92), verwysings na ‘n seun se liggaamlike reaksie wanneer hy porno kyk (83). Ook die ontoepaslike opmerkings oor vroue se rolle, laat ‘n mens sidder (95).
Die spel met die numerologie en die wetenswaardighede oor die ontstaan van die belangrike roman van Leroux (inderdaad een van my gunstelinge) word bederf hier met Van Aardt wat kennelik nie die komplekse implikasies van Jungiaanse projeksies begryp nie. Die spel met verskuilde of geheimsinnige boodskappe is weliswaar interessant, maar die voosgetrapte ou storietjies en skinderlistige kantlyn-kommentaar is nóg ‘n rede waarom die roman nie groot kan wees nie. Hier is ons terug by Bellow wat uit die komplekse geskiedenis (en verhale) oor Delmore Schwartz ‘n roman kon komponeer wat die asem wegslaan.
‘n Mens kan nie help om te wonder wát Leroux hiervan sou maak nie. Volgens ‘n onderhoud met Van Aardt het Winterbach wyslik nie kommentaar gelewer op die manuskrip nie.
Daar is kennelik baie navorsing gedoen, maar om so te “misdoen in die skoene van die grotes” laat ‘n onbehaaglike gevoel. Die voorblad vertel dit alles. ‘n Lens wat uit ‘n bril gebreek het...
Boonop word spieël heel simbolies op bladsy 59 verkeerd gespel.
Van knolskrywer tot prulskrywer, kort en kragtig. Dis nie lekker om ‘n werk wat soveel navorsing geverg het, te sien misluk nie.
Louise Viljoen wys ook in haar resensie dat die roman enigsins platval (‘44-18’ kort ‘18-44’ se vonk | Netwerk24. Besoek 4 Januarie 2019).
Ek het weer vir die soveelste keer 18-44 gelees. Wat ‘n verbluffende roman bly dit nie. ‘n Kultusroman en ‘n psigoanalitiese verslag van die liefde en skrywerskap.