Resensent: Joan Hambidge
I
Hans Pienaar is 'n bekende joernalis en onderskatte digter. Die taal van voëls het in 2002 verskyn. In 1992 was hy die ontvanger van die Rapportprys vir Nie-Fiksie vir Die derde oorlog teen Mapoch, oor die staat se geheime veldtogte teen die Ndebele-stam. Die Trojaanse Perd: Onderhoude oor die noodtoestand in die Kaap 1985, saam met Hein Willemse, bly 'n belangwekkende teks. Dit het indertyd by Taurus verskyn.
Sy pas verskene roman Die Generaal is werklik 'n besondere toevoeging tot die grensliteratuur in Afrikaans waar skrywers soos Alexander Strachan ('n Wêreld sonder grense), Koos Prinsloo, Etienne van Heerden, o.a. beduidende werk gelewer het.
Die roman het einde verlede jaar op my tafel beland en dit was aanvanklik nie die soort leesstof waarvoor hierdie leser met 'n reeds donker jaareinde en etlike slopende gebeure in Suid-Afrika wou of kon aandag gee nie.
Wat 'n verrassing was hierdie roman nie toe ek dit begin lees!
Dit is geskryf met 'n vaardige hand: gedistansieerd, in beheer, emosioneel sonder om sentimenteel te wees én boeiend.
Die Grensoorlog is ons Viëtnam-oorlog. Dit is so dat daar etlike briljante films gemaak is, deur onder meer Francis Ford Coppola en Stanley Kubrick, wat vanuit verskillende perspektiewe probeer om die impak van die oorlog op die psiges van jong Amerikaners te begryp.
Hieroor het ek uitgebreid geskryf in 'n digterlike verslag na 'n reis in hierdie landskap (Woorde Wat Weeg/ Viëtnam – ‘n digterlike reisverslag. Besoek 17 Januarie 2019).
II
Die Oorlog het jong mense se lewens verwoes. Die sinneloosheid en futiliteit daarvan is al by herhaling uitgewys. Nou onlangs het Alexander Strachan ’n verslag oor die lewe van ’n recce gepubliseer. Dit heet 1 Recce, die nag behoort aan ons en het ook by Tafelberg verskyn (1 Recce, die nag behoort aan ons/ ’n LitNet Akademies-resensie-essay | LitNet. Besoek 17 Januarie 2019).
Dit sou inderdaad relevant wees om die verskillende kante van dieselfde munt te beskou: fiksie teenoor harde werklikheid met tekste wat albei by Tafelberg uitgewers verskyn het.
Pienaar bely dat aspekte van prosedures, regulasies en fasiliteite en operasies aangepas is ter wille van die verhaal. Maar terselfdertyd skryf hy dat dit op ware gebeure gegrond is.
Daar is nog kodes dat die leser dit as fiksie moet benader. Die sub-titel lees: 'n roman.
Skrywers van romans bemark iets as 'n roman – en dis hoe ons dan hierdie teks moet benader. Dit vertel die verhaal van Johan, bloedjonk, kwalik negentien, wat gestuur word na die Zambesivallei om onreëlmatige praktyke rondom ontgroening te ondersoek. (Suspension of disbelief, natuurlik! Sou daardie butch mans hulle gesteur het aan enigiets grensoorskrydends?) Die konvensionele, godsdienstige Johan teenoor sy neef wat grense oorskry, lewer ook 'n belangrike opposisie; net soos hede teenoor verlede; reg teenoor verkeerd – met die skrywer wat as beleë mens met afstand na die gegewe kan kyk. Johan weet ook dis "ons storie" – sy verhaal is verweef met Ben s'n, omdat hy hom bewonder het. Sy neef was 'n klein god daar in die Militêre Akademie op Saldanha. Later Pretoria; die ou Rhodesië ...
Angola.
Predikant staan op die arme Johan se voorkop geskryf, pruil 'n tante...
Dit is die buitelyn van die verhaal. Maar onder draai die duiwels rond, want die leser word ingeslinger in die verteller se binnespraak. Ben, sy neef, wat 'n soort alter ego word, die seun van Die Generaal, rebels en gay. Deel I handel oor Ben en die ellendes van sy dood, terwyl Deel II sy ervarings met Annie weergee.
Dit is ’n boek oor inisiasie. Eers in die Weermag-wêreld en dan op 'n werklik liggaamlike ervaring.
Die verhaal wil ek nie verklap nie, want 'n mens lees dit met wydoopgesperde oë.
Dus 'n paar belangrike punte. Pienaar ontmasker maskuliniteite en hy wys op die weerloosheid van manne ágter uniforms.
Trouens, in hierdie binnespraak word die leser bewus van rolle wat aan mans toegeken word en waaraan hulle nie kan ontkom nie.
Daar is slim intertekste: musiek van die tyd ("Pretty Belinda", die Moody Blues, die Beatles, Bob Dylan, o.a.), Sad Sack, Sartre, Wittgenstein se taalfilosofie (ons leef in borrels, 245), André P. Brink se Miskien nooit, om enkeles uit te wys.
Die verteller hoor verkeerdelik "Knights in white satin" in plaas van "Nights in white satin", want hy is immers 'n inconnu en die taalspel wys op die spanning in sy gemoed: die harde weermag teenoor die soeke na liefde en koestering.
Daar is oomblikke in hierdie roman wat 'n mens nooit sal vergeet nie. Die verwildering in die oë van 'n vrou in die oerwoud in Chirundu.
Annie wat lyfstraf moes verduur van haar vader.
Dit is 'n tydsdokument. 'n Herinneringsroman. Miskien ook 'n afrekeningsroman?
Op 'n plek praat hy van 'n selfdebat – kenmerkend van die belydenisroman.
III
Philippe Lejeune se bekende artikel "The autobiographical contract" (opgeneem in Tzvetan Todorov se French Literary Theory Today - A Reader (Cambridge University Press, 1982) wys op die kompleksiteite róndom 'n roman wat speel met die kodes van die outobiografie.
Lejeune verwys tereg na die "ambiguous intermediate region" van 'n teks waar die skrywer nie dieselfde naam as die verteller het nie, maar waar die leser dink (vermoed en die kwytskelding dit suggereer) die teks is op 'n werklike ervaring gebaseer. Die littérature intime kan eweneens gebaseer wees op verskillende vorme: briewe, dagboeke, memoirs (204 - 206).
Hier kan 'n mens byvoeg: die werklike belewenisse word gefiksionaliseer. Dit word bemark as 'n roman en dis hoe ons dit moet benader.
En waarom hoor die verteller "Knights in white satin"? En waarom is die rol van Wittgenstein so belangrik? En verraad? En wat is die rol van die generaal se vrou?
En die slot sluit weer aan by die begin. Dis 'n boek oor grense, letterlik en figuurlik.
Hans Pienaar se ervaring as joernalis het hom waarskynlik geweldig gehelp met die skryf van hierdie roman.
(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Fine Music Radio)