I
Ruben Östlund se film The Square(2017)is ‘n film wat die kyker tref: in die maag en tussen die oë. Dit is ‘n hooggestemde film wat oënskynlik oor die kunswêreld handel. Hierdie kyker was onder die indruk sy is skokbestand. Toe nie. Dit begin met Christian (Claes Bang) kurator en bestuurder van die museum wat beroof word deur sakkerollers.
Dit lyk na ‘n vrou wat hulp behoef met iemand wat haar gaan aanrand, maar uiteindelik word Christian mislei. En sakkerollers, emosioneel en intellektueel, is waaroor hierdie film handel – met Dominic Westin pakke wat lyk soos pyjamas?
Sleuteloomblikke belig Christian se uitgelewerdheid:
· Christian plaas briewe in woonstelle se posbusse om die vermeende dief vas te trek en ons sien hoe hy trappe op en af klim;
· ‘n pakkie keer terug met die gesteelde goedere nadat ‘n google-soektog die adres oplewer;
· ‘n jong ontstoke kind konfronteer Christian in sy woonstel omdat hy van diefstal beskuldig word en Christian soek in die reën tussen vullissakke na sy selfoonnommer;
· hierdie kind in ‘n vrugtelose soektog, verdwyn egter adresloos;
· daar is ‘n YouTube-video van ‘n jong kind wat opgeblaas word as sosiale kommentaar op haweloses;
· ‘n man met Tourette-sindroom maak ontoepaslike opmerkings, terwyl ‘n gehoorlid sy regte beskerm as iemand wat “abnormaal” is, maar mag aanspraak maak op regte;
· ‘n one night stand met ‘n joernalis (Elizabeth Moss) wat sy semen probeer kaap in ‘n kondoom omdat sy waarskynlik haarself wil bevrug en later aandring op ‘n regte verhouding;
· ‘n kunsaand met ’n kunstenaar as ‘n aanvallende aap (Terry Notary in ‘n angswekkende vertolking) wat werklik mense aanval, is nog ‘n tema. Dit word voorafgegaan met die joernalis wat aap as huisdier het.
Dit is ‘n satiriese rolprent wat ‘n mens deur al die ellendes van ons tyd neem. Die kunswêreld as ‘n plek (hierom die titel!) waar enige snert as “kuns” verkoop kan word, en die moderne mens se weerloosheid in die aangesig van intellektuele terreur en #metoo-bewegings waar nuanses verlore gaan.
Christian stuur ‘n YouTube-apologie aan die kind wat hy te na gekom het (en wat verdwyn het) en selfs die bedelaars in hierdie film het regte. In ‘n skokkende oomblik in ‘n winkelsentrum verloor Christian sy kinders en ’n biddende Moeslem-man pas sy pakkies op...
II
En die titel?
The Squareis ‘n “kunswerk” van Lola Arias wat soos volg tipeer word: “The Square is a sanctuary of trust and caring. Within it we all share equal rights and obligations.” En daardie YouTube-video rondom die bemarking van die kunswerk lei weer tot die media wat vrae stel – en niks wat Christian doen, kan red wat daar te redde is nie. Uiteindelik word hy beskuldig van self-sensuur wanneer hy bedank. (Hier wil die resensent nie te veel verklap nie.)
Dalk ook ‘n toespeling op ‘n “square peg in a round hole” (vir iemand wat nie inpas nie).
Die markplein is immers die sentrum van ‘n stad waar mense ontmoet. En YouTube is die moderne markplein wat in ‘n ommesientjie tot 300 000 kykers kan bereik.
Humor is daar – soos dit in satire betaam. Grond-installasiekuns word per ongeluk deur skoonmakers opgevee. En Christian wat moet opmop – gelukkig is daar foto’s om alles na die “oorspronklike” vorm te herstel.
Dit is verfilm in Gothenburg, Stockholm en Berlyn. 157 minute van intellektuele en emosionele houe wat die regisseur uitdeel, verpak met puik spel van briljante akteurs.
Dit is ‘n film waarop Ingmar Bergman sou trots wees.
Dit is bekroon met die Goue Palm in 2017.
Absurd, snaaks, ontstellend en ‘n analise van die onrustige tyd waarin ons leef.
© Joan Hambidge