Bladsye / Pages

Friday, February 8, 2013

Marlene van Niekerk & Adriaan van Zyl - Memorandum (2006)



Marlene van Niekerk / Adriaan van Zyl. Memorandum: ‘n Verhaal met skilderye. Human & Rousseau, 2006. ISBN 9780798147309.


Kanttekeninge deur Joan Hambidge  - Februarie 2007

I

Etienne Britz illustreer in sy uitvoerige analise van Marlene van Niekerk / Adriaan van Zyl se Memorandum ("Memorandum: 'n verhaal met skilderye. 'n Handleiding vir Insig se boekklub") dat geen leser ooit hierdie teks finaal sal kan deurgrond nie. Sy bespreking – wat resensies van ander kritici bevat, onderhoude en ‘n skrywersoorsig – is te lese op Insig se webruimte (www.insig.com – afgetrek 19 Februarie 2007) en is ‘n besonder verrykende leeservaring. Dis ‘n multitekstuele lesing van ‘n teks wat met voetnote, skilderye, fabrikasies, drome, versugtinge ‘n memorandum aan die leser voorhou. En ‘n memorandum intimeer alreeds iets wat na iets anders verwys; ‘n teks wat ‘n kort opsomming wil wees vir ‘n uitvoering van ‘n plig. Waarskynlik kan dit ook as ‘n soort aanmaning gelees word.

My eerste lees van die boek was een van weerstand. Van gewoon ‘n te pynlike inlees van die dood, ‘n ervaring van iets wat te naby is; of dalk nou te ver is. ‘n Gevoel dat die leser se “suspension of disbelief “ tot die uiterste beproef word. Hoe is dit moontlik dat die fiktiewe Wiid – selfs met die hulp van ‘n bibliotekaris (Dante en Vergilius deur die hel) kon uitkom op sulke gesofistikeerde bronne? En skroei die werklike outeurstem van Marlene van Niekerk nie te veel deur nie?

As ons Wayne C. Booth se Rhetoric of fiction (University of Chicago Press, Chicago. 1961) optel en nalees oor die sogenaamde “implied author”, is die gevoel dat die leser nie genoegsame bewys kry van afstand tussen werklike skrywer en implisiete skrywer nie.

Maar, die kodewoord is memorandum. Die beoogde roman wat die leser wil lees, staan nie hier nie. Dit is iets wat voltrek word in die subtiele interspel tussen skilderye en woordteks. In die leser se gemoed.


II.

En hoe lyk die “storie” wat hierdie leser konstrueer? Elke leser se storie sal daar anders uitsien. In die triadiese relasie van Britz/Van Niekerk/Van Zyl, is aldrie mense aan my bekend. Eersgenoemde het aan my ‘n opwindende Honneurskursus in die narratologie aangebied in my Honneursjaar aan die US (1978) en my bekend gestel aan letterkundige teorie en grensoorskrydende romans. Van Niekerk was ‘n tydgenoot en Van Zyl ‘n vriend.

‘n Objektiewe lesing sou dus nie moontlik wees nie. (Die leser word gelei na die aanhangsel waarin ‘n “In memoriam”  (wat Oktober 2006 op Litnet verskyn het) en ‘n resensie van Agaat (wat September in Die Volksblad verskyn het) om die erkennings te boekstaaf. Met Etienne Britz het ek gereeld onderonsies in Die Burger: speels, tergend, watookal.

Ek het Adriaan gereeld in die hospitaal, en later ook tuis, besoek na ‘n stilte in ons vriendskap.

‘n Memorandum is altyd swart-op-wit (skriftelik) met ‘n duidelike boodskap wat gerig word aan ‘n persoon/persone en onderteken word deur ‘n ander persoon.

My bespreking of kanttekeninge moet dan as sodanig gelees word: ‘n boodskap aan die Afrikaanse leser, onderteken deur die kritiese leser.

Die kritiese leser weet by voorbaat dat hierdie boek, wat onder andere deur Insig en Die Burger as ‘n boekklub-roman uitgesonder word, ‘n belangrike teks is. Dit word in aanskoulike hardeband-formaat gepubliseer, ten spyte van die ewige gemor dat die doodsklok vir die Afrikaanse letterkunde gelui het. (Of wil die boek dalk ironiese en onbewustelike kommentaar lewer op die toestand van die bedryf? Wat voortdurend enersyds alarmisties is oor die “toekoms van die Afrikaanse letterkunde”, maar andersyds sig aanbied in nuwe hoogtepunte, nuwe stemme, nuwe gebeurtenisse? Daar verskyn die afgelope tyd belangrike romans van Etienne van Heerden, Eben Venter, Ingrid Winterbach, in alfabetiese volgorde, wat die mismoedigheid dekonstrueer.) Julia Kristeva se Strangers to ourselves (Colombia University Press, New York. 1991) aktiveer belangrike posisies rondom vervreemding.  In hierdie filosofiese studie aktiveer sy buitestaanderskap wat o.a. inspeel op haar “roman” wat sy saam met haar eggenoot, die filosoof Philippe Sollers geskryf het: H.

Marlene van Niekerk is nie alleen skrywer nie, sy is ook filosoof. En hierdie teks is ‘n diskoers-analise van die twee pole waarmee almal worstel: die lewe, en die dood. Om te skryf of te skilder, is eweneens om ‘n fase, ‘n tydperk, ‘n verhouding, ‘n waarneming dood te verklaar. Trouens, Adriaan van Zyl se “unheimliche” wete van sy voortydige dood kan afgelees word in sy skilderye oor begraafplase. Wanneer die kyker nou hierdie skilderye “lees”, kom daar ander betekenisse na vore. Staan die boodskap van voorwete afgegrif op die geskonde plastiekblomme. Kort voor sy dood skryf ek hierdie mislukte vers:

Adriaan van Zyl: “Hospital - Arrival”
Oil on Board 54 X 40 cm

Groen hospitaallakens
op ‘n effens ópgeligte
bed
met een uitgeswenkte
wiel
‘n foon
blomme
kondig
afwagting
aan.

‘n Sak na regs
wys
jy’s
uiteindelik
tóg hier:

in ‘n stillewe
van onsekerheid.

Die res
(tussen aankoms
en vertrek):
‘n woordelose hospitaaldrama
in die aangrensende
voorstellings.

Ofskoon die gedig nie werk as gedig nie, verwys dit na die “aangrensende voorstellings” – die gesprek tussen skilderye, die “onderhoud” tussen Marlene van Niekerk en Van Zyl – en die uiteindelike resepsie van verskillende kritiese lesers oor die belangrikheid van hierdie teks.


III.

Daar is reeds deur vele kykers/lesers gewys op die afwesigheid van mense in hierdie skilderye. Net die sak in die bogenoemde skildery, dui op die aanwesigheid van die mens. Britz analiseer die troosteloosheid van die hospitaalruimte.

Hospitale word tradisioneel nie geassosieer met dit waaroor ‘n skilder opgewonde sou raak nie. Rembrandt het egter sy besondere talent gekoppel aan ‘n lykskouing. Hy bring ‘n lyk na ons – dit word die fokus van sy figure se beraadslaging en dit dwing ons om te wonder oor waarom die lyk die sentrum word van sy skildery?

Britz wys op die hoekigheid van alles in die skilderye en juis hierom, meen hy in sy lang Insig-bespreking, val die ronde vorme die leser juis op!

Die bed se wieletjies, die oorhoofse operasielamp se vier oë, die ronde medisinale band, ensomeer.

Etienne Britz maak hier ‘n uiters belangrike punt: in my mislukte gedig – geskryf twee weke voor die kunstenaar se dood en aan hom gegee toe hy tuis was by sy suster – fokus (onbewustelik) op die uitgeswenkte wiel: op die naderende vertrek....

So beskou is die reistas ‘n ironiese objek – want hier gaan uiteindelik gereis word na ‘n ander ruimte. Diptiek word triptiek.

Marlene van Niekerk – Adriaan van Zyl laat die leser inbeweeg op ‘n derde vlak: die triptiek.


IV.

Die kritiese leser sou Lacan kon betrek in die ewige verhouding tussen die semiotiese en die simboliese, met die Rëele wat hier ‘n die Orde van die Dood èn die Talmende, Nie-Klaar-Geskryfde Teks impliseer.

Indien ‘n mens die teks van agter na voor benader, word jy eerste met ‘n lys van skilderye gekonfronteer, dan die Addendum 3, te wete die memorandum / brief aan die Superindendent van Openbare Biblioteke – onderteken deur Wiid.

Dit is ‘n klagte.

Oor biblioteke, maar oor iets meer. (Nou onthou ek opeens Britz se ontroerende lesing oor Klaaglied om Agnes.)

Met die verwysing na die Grot van Alibaba, word die Arabiese Nagte as die belangrikste interteks ingewerk: Sheherezade se vertellinge wat die dood moet uithou, misluk egter hier. Adriaan van Zyl se dood kon nie uitgestel of verhoed word nie.

Die brief is ‘n jukstaposisie van toe en nou: hoe ‘n biblioteek (a, ‘n boek!) behoort te wees en wat ons aantref. Ons beweeg in sirkels, ons is in ‘n labirint. In die kamer was ‘n kas, in die kas was ‘n laai, in die laai was ‘n brief, in die brief staan daar:

SUSPENSION OF DISBELIEF!

V.

‘n Mens word oorrompel deur die verwysings en verswygings van die roman-in-wording, die boek wat jy konstrueer-al-lesende, sodat jy glo Wiid kon al hierdie verwysings so netjies integreer en saampers.

Artis bene moriendi.

‘n Paar keer staan ek op om Foucault weer te beskou en na Mies van der Rohe se werk te kyk.

En besef: elke kanttekening of kritiese kommentaar word netjies ondervang deur hierdie boek wat jou neem na Marlene van Niekerk se werkswinkel, haar sieninge van die lewe/dood, haar gevoel oor die romankuns, die plek van die digkuns, musiek en sy subverteer (sy is ook satirikus) die siening dat ‘n roman ‘n begin/middel of einde behoort te hê.

(Georges Perec se Life a user’s manual het in 1978 in Frankryk verskyn toe ek begin lees het aan ander belangrike tekste.  En een van ons ander groot skrywers, Ingrid Winterbach het hierdie toom aan my bekendgestel. Ek het die Engelse vertaling van David Bellos, 1987, uitgegee deur Collins Harvill pas tien jaar terug begin verteer.)


VI.

Addendum I is wat Barthes sou noem die vraisemblance van die teks: ‘n noukeurige bestekopname van Wiid se opname. Barthes skryf in Roland Barthes (1975/1978 uitgegee in Londen deur The MacMillan Press) oor sy obsessiewe maak van lysies. ‘n Beheer oor die lewe? Skryf, al is dit ‘n wasgoedlys of dan hier, postoperatiewe sorg, ‘n wyse waarop beheer geneem word.

Post-dood-depressie.

Kritiese lees by nabaat. Kanttekening. Skribbel in die kantlyn. En marge.

In hierdie trajekte word die wisselvalligheid van siekte en herstel opgeteken – in metikuleuse besonderheid. Hier vind die leser dan kodes wat op die skilderye geprojekteer kan word.

Naarheid-braking-vrees.


VII.

Die laaste skildery van Van Zyl heet “Die wagkamer”, die tussentoestand tussen hel en hemel: die purgatoria.

Vlugvertraging

Die wagkamer klinies
die passasiers verveeld
'n tussenplek vir siele
tussen lewe en dood
ook daar verveling? Onrus?

Digters wag voortdurend
op 'n inval. Iets soos inspirasie.
Of 'n beeld. Ha! Die leuen
om te sê dig is soos reis.
Of die eindpunt so belangrik as die aanvang.

Die gedig is 'n wagkamer
vol versreëls onrustig
wagtend op die digter:
"Sal alle versreëls
nou aan boord gaan."

Dus: geen vlugvertraging, geen vers.


(Uit: Lykdigte, Tafelberg: 2000).

Ek het my resensie geskryf van Agaat net voor Lisbé Smuts se dood en by haar troue lank oor Agaat gepraat met Adriaan se suster, Louise Viljoen.


VIII.

Daar is ander skrywers wat nog betrek moet word: W.G. Sebald, o.a., ook bekend vir sy gebruik van twee mediums, te wete die foto-teks en verhaalteks in ‘n roman. Van Niekerk illustreer dat die George Steiner-siening van die dood van tragedie en romanteoretici se gevoel van die “death of the novel” weer tot lewe gebring kan word. Soos die dood ‘n vertek na ‘n ander dimensie is, blyk die roman nou eweneens op reis te wees in die onvermoeide versoening van die Lewe, die Dood, herinneringe, filosofie, kosmaak-rubrieke, Argitektuur, en wat nog.

Hiermee skaar die roman sig by die lang lys van intellektuele en akademiese romans soos gekarteer in Elaine Showalter se Faculty Towers wat in 2005 by Oxford University Press verskyn het. En natuurlik lui die sub-titel: “The Academic Novel and Its Discontents”. Natuurlik speel sy in op Faulty Towers en al die ander Ontenvredenhede waarvan ons op ‘n daaglikse basis kennis neem. Oor die Nuwe Suid-Afrika en die Toekoms van Afrikaans.
“Hebban olla vogala...”

Die verwysings na voëls en musiek moet ook diepgaande ontleed word. Bach veral. Keith Jarrett.

Die woord mosaïek duik nie verniet op nie.

“Die hele wêreld is die mens se nes, die aanbou hou nooit op nie” (p. 94) is van toepassing op die leesaksie: dit kan nie ophou nie. X en Y. Twee figure, in plaas van die enkelfiguur wat in die belydenisroman aangespreek word. Die verhaal van Wiid, “stadsverfraaier” va Parow, bonop afgetredene en kankerlyer, wat gelei word deur die biblotekaris, Buytendagh, eintlik Superintendent, dus baas van die Biblioteek. En die biblioteek as metafoor vir kennis is bekend aan Derrida, die filosoof van die aanhangsel. Hy is sy dubbel (“mon semblable, mon frère, mon lecteur”). Teenoor die losse assosiasies van X en Y, is daar die orde van die bibliotekaris.

Etienne Leroux maak sy buiging in die glasie Welgevonden (p. 78).

En Jeanne Goosen op p. 76: Ons is nie almal so nie!


IX                                      

Memorandum is ‘n akademiese roman en vele lesers sal waarskynlik voel dat die aanslag soms bó die fiktiewe karakter se vuurmaakplek is. As jy egter die roman lees as jou persoonlike interaksie daarmee, dan werk dit. Benader dit as ‘n konvensionele boek en die perd gaan jou afgooi.  Dis ‘n boek van die “Sehnsucht”.

En veral ‘n boek van die wiskunde, van ‘n “battery van metafore” (p. 72).

Soms vang slim haar baas, maar onthou: jy moet eintlik jou eie roman skryf!

En hierdie reaksie mag: die leser word immers direk aangespreek op bladsy 48: 

Die leser kan hom op hierdie stadium wel afvra wat die sin is van so ‘n moeisame – en laat daar geen twyfel oor wees nie, soms lukrake – rekonstruksie van ‘n gesprek tussen twee oorstuurde pasiënte” (p. 48).

Goethe, terloops, word flou vertaal: “Über alle Gipfeln ist Ruh” (p. 47).

Sloptopmerking: ‘n fassinerende leeservaring met vele verwysings, spel, filosofie wat jou noop om jou eie verhaal saam te stel. Of die Oubaas wel al hierdie dinge só kon verwoord, bly die miljoen-dollar-vraag.


Aanhangsel: 

1. Huldeblyk vir Adriaan van Zyl wat oorspronklik op Litnet verskyn het, kan hier gelees word: Huldeblyk: Adriaan van Zyl (1957-2006).

2. My resensie van Agaat deur Marlene van Niekerk wat aanvanklik in Die Volksblad verskyn het, kan hier gelees word.


[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Litnet geplaas.]