Bladsye / Pages

Sunday, May 23, 2021

Rubriek | Titanic | 2021

Die onlangse brandramp aan die Universiteit van Kaapstad het my in die herinnering teruggeneem na 'n reis deur Kanada van Toronto tot in Halifax in 2013. In hierdie stad is daar die Citadel, 'n fort waar die stad se hoë uitkykpos moet waarsku teen indringers.

Die grootste museum is die Maritieme-museum wat twee rampe gedenk: die  Titanic, 15 April 1912, en die Halifax-ramp in 1917 toe twee skepe per abuis teen mekaar gebots het en die een met ammunisie ontplof en die stad aan stukke geruk het.

 

Die RMS Titanic was 'n Britse passasierskip wat op haar nooiensvaart van Southampton na New York teen 'n ysberg gebots het. 1523 mense het gesterf. In Afrikaans het D.J. Opperman hierdie gegewe gebruik (en omgedraai) in sy gedig "Kaapse skeepswerf" wat verskyn het in Komas uit 'n bamboesstok. Verskeie digters het al oor hierdie gegewe gedig.

 

Die museum wat ek besoek het, bewaar verskeie artefakte en onder andere kan 'n mens 'n dekstoel van die skip sien, die log-boek en 'n dagboek - in potlood geskryf - van die kaptein se laaste SOS'e aan New York. 'n Mens sien uit hierdie boodskappe hoe sy angs al hoe groter word: eers die ysberge wat bespied word, dan die uiteindelike besef dat  die ramp nie verhoed kan word nie. 

 

705 mense is gered, maar nagenoeg 1523 reisigers het verdrink. Of waarskynlik gesterf weens die bitter koue water.

 

In hierdie museum lees ek dat 'n kindjie van tweejaar omgekom het en dat een van die reddingsbote van Halifax sy lykie gevind het.

 

Hier is twee kort films te siene: een wat dit chronologies weergee en die ander een handel oor diepseeduikers wat drie ure lank neem om met klein duikbote na die wrak te gaan. Hier bespied jy saam met die diepseeduikers die omvang van die skade en hoe groot die "onsinkbare" skip was.  

 

Die Titanic is die grootste onderwaterse museum en met 3-D-brille maak jy alles mee.

 

Die film van James Cameron, Titanic(1979), met Leonardo DiCaprio as die

hoofakteur teenoor Kate Winslett, is hier verfilm. Cameron se film analiseer gender- en klasverskille. Vroue en arm mense het derdeklas gereis en die rykes in eersteklas is eerste gered, ofskoon hulle op die veiligste plek op die skip was. 

 

Wit-en-swart-foto's vertel die verhaal verder; bykans soos die polisiemuseum in Pretoria wat ek graag as jong kind besoek het.

 

'n Mens kyk ook na al die artefakte wat gered is en onwillekeurig dink 'n mens aan jong studente aan die Universiteit van Kaapstad wat gehelp het met brandbestryding en om boeke te red by die biblioteek. 

 

Aan my universiteit is die omvang van die skade nog nie naastenby bepaal nie.

 

Ten spyte van waarskuwings het 'n ysberg, 400 myl van Newfoundland die skip se einde beteken. En ofskoon Sanpark drie jaar terug gewaarsku is oor hoé brandbeheer ernstiger toegepas moet word, het dit nie gebeur nie. Brande word steeds gestig in die berge.

 

The Grave of the Titanic is beskikbaar in vele videos op die internet en dit resoneer in my gemoed met die graf van die biblioteek-soos-ons-dit-geken-het.

 

In 1985 het dr. Robert Ballard, ‘n bekende oseanograaf, die oorblyfsels van hierdie skip ontdek.

 

Hy het twee ekspedisies na die Titanic per submarien onderneem  en ‘n gedenkplaat opgerig vir al die slagoffers. Hy het ook versoek dat voornemende navorsers hierdie graf met rus moet laat.

 

Op museum se webruimte kan ‘n mens ook aanwysings volg om die presiese roete van die Titanic te trek op ‘n kaart.  ‘n Groot skip wat volgens Bob Ballard letterlik in twee gebreek het. Uit die rekonstruksie van die film, weet ons die agterste gedeelte het dadelik gesink, terwyl die voorste gedeelte vir ‘n oomblik weifelend vertikaal bly hang het.

 

Tussen 11.40 nm en 2.18 vm. Met net 20 lewensbote, terwyl daar 2 228 mense aan boord was... (As daar nie soveel paniek was nie, kon 1178 mense wél gered geword het.)

 

As die wind nie so sterk gewaai het nie en 'n gasbottel nie ontplof het by Rhodes Memorial nie, dan ...

 

Met my digitale kamera het ek die een dekstoel wat gered is, afgeneem en dit was vir lank 'n screen saver op my werkrekenaar.

 

My kantoor staan tussen die Jaggerbiblioteek en Fuller Hall. En toe ek die kantoor besoek ná die ramp, was die kantoor ongedeerd. Maar hoe gaan ek ooit ophou tob oor die verlore manuskripte en argiefmateriaal en films en dokumente?

 

Hoe gaan hierdie screen saver lyk? Dalk 'n boom met hoë toppe?

 

© Joan Hambidge

 

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van BY)

 

Thursday, May 13, 2021

Resensie | CJ Driver – Still Further | Uhlanga, 2021

CJ Driver – Still Further. Uhlanga, 2021. ISBN 9780 620  928137

 

Resensent: Joan Hambidge

 

Die sub-titel van Still Further lui: New Poems, 2000–2020. Na 'n lang stilte – die laaste bundel het in 2005 verskyn – is die ernstige digkunsleser dankbaar vir hierdie versameling, geoes uit verskillende publikasies. Gedigte uit klein poësietydskrifte word byeengebring en kry dus binne bundelverband nuwe betekenisse.

 

Douglas Reid Skinner word vermeld 'n redakteur van die gedigte en wyle Dan Jacobson was altyd 'n eerste leser. Jacobson met sy buite-blik op hierdie land resoneer met die digter se afstand-en-vertrek.

 

Hierdie is die werk van 'n geoefende digter wat in die kleinste besonderheid 'n gedig kan opvang:

 

The deconstructed triangles

    of seagulls' prints

       criss-cross the rippled sand (“Cove Rock, Igoda River Mouth”, 14).

 

Dit is dan gedigte wat met hierdie verwysings werk en 'n criss-cross word deur die digkuns. My eksemplaar sit vol donkie-ore en uitroepe van bewondering. Die digter het verskeie tegnieke van die digkuns onder die knie. Daar is skerp, ironiese en afstandelike waarnemings oor menslike sotheid, maar ook verlangens na verlore vriende, liefdes en Afrika. Daar is opstand teen onreg; die digter was immers 'n anti-apartheid aktivis wat in Engeland moes gaan woon en die ellende van die vorige bewind moes meemaak soos eensame opsluiting. Hy is terugkeer na Suid-Afrika geweier en die leser kan hierdie letsels raaksien in sy gedigte. Die motto van Nigel Balchin beklemtoon dat in die ouderdom behoort jy nie meer tot enige land nie. Die bundel is dan laatwerk.

 

Die openingsgedig “In England Now” sinkopeer die herinneringe aan Afrika en hoe 'n mens altyd 'n buitelander (inkommer) bly in Engeland; al het jy 'n “English voice”.

 

Nostalgie, heimwee, verlange en melancholie bepaal die toon van die gedigte. Die voorblad van die bundel dui iets broeiend aan. In die gedig “Storm” (79) staan daar:

 

I’m the messenger, and my message is the storm:

 

'n Mens sien ook iets hiervan in die vers “Someone” (36) waar die leser self moet besluit wie hierdie persoon is. Dalk 'n ver-beelding van die dood? Ouderdom en afskeid; afskeid en vertrek, skerp weergegee in “Small Town, Old Age” (33) in die waarneming van kannas se verskillende kleure. 

 

A sliver of moon, sliced as thin

as cucumber for a sandwich. (34)

 

In die ironies-satiriese “The Security Policeman's Song” (38) word die polisieman aan die woord gestel as verskonend en selfregverdigend. En inderdaad verander die politiek voortdurend met die pynlike, onlosmaaklike band tussen polisieman en gefolterde.

 

Die verwysing na Afrikaanse plekname word meer as die landskap. “Nietgenaamd” (94), vir Gus Ferguson, word ook 'n lamentoso oor geheueverlies. 

 

In “Words & Music” (89) beskryf hy wel die landskap, maar dit word 'n ars poetica oor die stiltes tussen woorde en dat die digkuns sy eie eise stel, vérby emosie. Die lykdig – vir Julia Swindells – heet “An Interruption” (72) en hierdie pynlike vers beweeg terug na die eerste vers.

 

“Au Contraire” (52) maak hom die digter van die parabool tydens die lees van Ovidius – en word 'n broeiende verslag van ballingskap.

 

Reverse exile, then, to be sent to London from the provinces –

Except that I loathed London with its cliques and claques, chattering hacks …

 

Lamentasies, homages, spel met ryme, himnes, gebede, vertalings en intertekste wys op 'n digterskap van nadink oor die bedryf. “Old Oak” (86) praat onbewustelik met Eybers se gedig “Orkaan” met sy orentbly wat gewoonte word. Twee gedigte wat die boom personifieer: by die een val die boom, by die ander digter bly dit staan. Beide digters werk met ironie en paradoks.

 

Dit is 'n bundel vir hierdie tyd met die oorgang tussen herfs en winter. Soos die verskillende seisoene bepaalde emosies vergestalt, vind ons in hierdie bundel verskeie emosies: teerheid wanneer hy oor kleinkinders en tydgenote skryf; woede oor onreg en ‘n blymoedigheid oor die digkuns as ‘n “well-wrought urn” in Cleanth Brooks se terme. Catullus en Montale word nuut verpak, nes “Simple Song” waarin hy dans met Ingrid Jonker se woorde (48).

 

“A Sort of Prayer” (100) gee hulde aan J.M. Coetzee met die ebsef van verganklikheid ingebou in so ‘n homage aan ‘n jarelange vriend. Wat kan alles ingelees word in Omdraaivlei? En kyk hoe mooi praat hy met ‘n Juffertjie-roer-in-die-nag in ‘n gedig (63).

 

‘n Verruklike bundel vol besinning, vol emosie – vol terugkyk.

 

Hier is 'n gedig:


In England Now

 

“I don't think you belong to any country in particular when you are old”.

Nigel Balchin, Darkness Falls from the Ai

 

For Kate Wilson

 

Before the dawn, a dream of what I lost

By leaving when I did; and then the sky

   Blood-streaked enough for home, and I

        Remembered what you asked.

 

“But haven't you already made your choice?

You've lived in England more than half your life,

     You have a house, career, a wife –

           Even an English voice.”

 

Old friend, you know quite well how much I've changed –

But still I need those deep horizons, where

     (With no impediment but air)

               The far-flung land is ranged.

 

You say I'm almost English now – should keep

Myself concealed? A fractured part of me,

   My heart perhaps, will always be

             In Africa: when I'm asleep

 

Or when the early breezes shift the haze

Of mornings into Sussex summer skies,

     The promises of heat revive

           Those distant dusty days.

 

So if we “immigrants from overseas”

Have found in England rich security

        Since here one may be almost free –

                    “Such teeming destinies”

 

Once held in England's boundless “master-work”

Come now to sweep the streets, or teach, or nurse –

     Must we be told that we should curse

          Our past as wholly dark?

 

Accumulated anguish for a name

And nothing good to find, but grief in loads

    Piled up like cairns on mountain roads

             To fool an exile home?

 

And yet both here and there I'm tainted by the past –

An Englishman come lately back again,

     Who thought that he might skip the pain,

             Colonial to the last.

 

So here I stay, half-hoping still to go.

The claim of birth would be of little use

       If once again I made a choice.

           The years are not so slow.

 

The morning spreads its wings; the ash-tree leaves

Are making music out of light and shade;

        The early colours smudge and fade;

                A roosting ring-dove grieves.

 

I am in England now: old hypocrite,

Who bows and smiles and nods and does his best

      To seem content. I'm loyal at least –

          Or is this still deceit?

 

Two of the quotations in Stanzas 6 & 7 are from W.E.Henley's poem, “England, My England”. (Published in The Use of English, August 2009)

 

Monday, May 10, 2021

Resensie | Bernard Odendaal – Nootvat.Kwashaal.Stapel | Tafelberg, 2021

Bernard Odendaal – Nootvat.Kwashaal.Stapel. Tafelberg, 2021. ISBN 978 0624 092278

 

Resensent: Joan Hambidge

 

Om Nootvat.Kwashaal.Stapel. kort en kragtig op te som: slim én ontroerend. Bernard Odendaal se tweede bundel verskyn 14 jaar ná sy debuut Onbedoelde land.

 

Emosionaliteit word in ons samelewing veral gekoppel aan vrou(like) en vrouedigters. Die liriese uitstulpings word dus so gekodeer, maar gaan kyk maar na hoeveel manlike digters - in navolging van Opperman se tipologie - eg emosioneel dig: C.M. van den Heever, W.E. G. Louw, onder andere.

 

Odendaal boor 'n sterk emosionele aar raak in sy nostalgiese herinneringe aan 'n Vrystaatse jeug waarin daar vele ontnugterings en afleggings in die hede opgesluit lê. In die pynlike lykdig word 'n skoolmaat se lewe opgesom tot die onafwendbare einde van die mens wat sowel polities as emosioneel 'n buitestaander was. Dit heet ironies "Reünie" met die naam van die oorlede onderaan die titel: Daniël Craven Krause (09/01/1954 – 12/01/2017). So word die persoonlike aard van hierdie treurvers beklemtoon met die digter wat dit koppel aan 'n bepaalde mens. Die vers word terselfdertyd 'n stuk geskiedenis van die digter se lewensloop.

 

In "Apostroof" – met 'n kopknik aan Fanie Olivier – word die gestorwe ouers aangespreek:

 

Ou stylgreep, Pa, Ma:

dié aanspreek van afwesiges,

spookgesprek met dooies.

 

Die lykdig vir die bekende taalkundige Christo van Rensburg eindig met 'n treffende slot:

 

En hier sit ek nou.

Remme aangeslaan met die nuus oor jou.

Pletterreste, soos van insekte, teen die voorruit.

 

Want hierdie man se taalkennis laat die digter sy vers so begin:

 

Saam met jou was reis ook woordkoersvat.

Jóú pad het gerinkel van name en komvandane:

 

Die vers oor Olga Kirsch word méér as literatuurgeskiedenis. Die digter vereenselwig hom met haar lot as buitestaander verlangend na die vaderland. Dit is opvallend hoe hierdie digter telkens deur vele digters tans vereer word; waarskynlik omdat sy iets simboliseer van onbegrip, van verydeling en verlange na 'n vervloë wêreld in hierdie dae van onsekerheid.

 

Die emosionele aspek word met 'n intellektuele aanslag gesinkopeer. Die digter is aanbieder van kreatiewe skryfwerk, en vele gedigte analiseer die komplekse prosesse van hoé die digter sy jong leerders van raad moet bedien. In hierdie opsig sluit sy digkuns aan by J.C. Steyn se Die grammatika van liefhê, daardie briljante digbundel uit 1975, waarin grammatika en taalkonstruksies die onderwerp van die digkuns word.

 

Daar is vertalings en ómdigtings van bekende verse. Eweneens vind ons swermgedigte en gedigte geskryf vir installasies by 'n kunstefees. Daar is selfs blokverse, met ander woorde, gedigte in blokke geplaas. Daar is pragtige sms-haikoes, met daardie skettertaal so bekend aan ons:

 

stormwatrpypvonds:

jweelstukke & vrminkte

jnkvroulyk

*

“lyk” na j gvind

duikrs in ’n puttoilet

brokkis been v kind

*

boer mt ystr doodgslaan,

2de mt ’n graaf

toe vee werkr stoep

 

Telkens word die grense tussen gedigte geproblematiseer en die vers self word 'n reisiger in 'n diasporiese wêreld pynlik geïllustreer in die her-besoek van "Chicago", daardie ikoniese vers van Carl Sandburg, seun van Sweedse immigrante, eerste VSA-digter vir wie Engels ’n tweede taal was, lui die onderskrif.

 

Taal word nuut besoek: die probleme rondom die dubbele nie in Afrikaans (met erkenning aan Hester Waher, die taalkundige onlangs oorlede)  en ons vind selfs 'n gedig wat heet "kleitrap met die verlede tyd". Hierom is sowel Steyn as Wallace Stevens (die groot Amerikaanse modernis) rigtingwysers vir die speurende leser. Van Wyk Louw word herbesoek en gehuldig in "Valsbaai". Geliefde en ontslape digtervriende soos TT Cloete en IL de Villiers word aangespreek en daar is gesprekke met digters uit die Lae Lande.

 

"Let's get real" is 'n aweregse ars poetica waar die begeleier van die digkuns homself aanpraat oor waar 'n geslaagde gedig nou eintlik vandaan kom. Die langer prosaverse word soos die praatverse met konkrete beelde verbind. Die grafika van verse word goed benut soos die digter ons waarsku in die motto's en illustreer in "Swemgala-toeskouer" waar 'n  Wallace Stevens-bundel amper uit die digter se hande val.

 

Jacques Brel word ingeweef en die spel met die rondeau-vorm bewys die digter se liriese aard. Andersyds debunk hierdie bundel die idee dat 'n gedig net spontaan gebeur:

 

Alle poësie en melodie

was mooitjies mááksel  ("5. Uit die bloute")

 

Die digter skep 'n multiversum en die gedigte word 'n palimpses van tekste wat verwys na ander tekste.

 

Die Sehnsucht en nostalgie loop soos 'n swart draad deur hierdie bundel oor alles wat weggefletter het en word puik verwoord in "Die wanhopiges" na Jacques Brel se “Les désespérés”.

 

Hierdie bundel werk soos Terence Malick se film Tree of life (2011) met Sean Penn en Brad Pitt waar 'n pynlike familiegeskiedenis saamgesnoer word in herinnering en fantasie. Harold Bloom se studie oor die Kabbalisme is eweneens hier tersaaklik, Kabbalah and Criticism (1975), waarin die mistieke dimensie in ouer tekste behandel word. Die sogenaamde ‘revisionary ratios’ beteken immers 'n terugkeer na die bekende, ouer tekste. 

 

Bernard Odendaal het met sy tweede bundel die noot hoog ingesit, maar nêrens word 'n vals klank geuiter nie. Dit is kwashale (konkrete beelde) wat hier van stapel gestuur word. En in die lang bronlys verduidelik hy die begrip stapel soos volg: die intertekste wat naas eie skeppings in die gedig gestapel sit. Stapel soos in opstapel: verskillende gedigte uit verskeie publikasies en mediums is nou in een boek te vinde.

 

Hierdie bundel kan as metamodernisties tipeer word, 'n samesnoering van die modernisme en postmodernisme. Dalk uiter hierdie bundel 'n soeke terug vóór die ooglopende spel met tekste? Hierom dalk die verlange terug na oorspronklikheid met die wete dat die finale vers uit soveel ander tekste "gevorm" is? Teensange en palinodes kenmerk die aanslag.

 

Die intellektuele leser word gedwing om weer na te dink en vir die liefhebber van die digkuns is hier gewoon hartgrypend-mooi gedigte.

 

Dit is 'n pragboek.

 

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Beeld)

 

Sunday, May 2, 2021

Resensie | Marita van der Vyver – 'n Baie lang brief aan my dogter | 2021

Marita van der Vyver – 'n Baie lang brief aan my dogter. Tafelberg, 2021. ISBN 978 0624 090014

Resensie: Joan Hambidge


Hoeveel “ekke” dra 'n mens in jou saam?


Die outobiografiese teks of memoir is daardie soort teks wat eweens 'n stel reëls vooropstel. 'n Spel tussen herinnering, opname, optekening en dikwels fiksionalisering, kenmerk hierdie soort teks. 

 

'n Baie lang brief aan my dogter werk dan binne die ruimte van ego-tekste. Die bekende skrywer Marita van der Vyver skryf 'n brief aan haar dogter en in hierdie verslag wys sy op die verskille tussen Frankryk en Suid-Afrika en hoe sy van jongsaf 'n skrywer wou word. 

 

Haar jeugjare as 'n kind uit 'n werkersklashuis word sonder skroom of verdraaiing vertel. Dan weet ons ook hoe haar lewe geraak is deur die dood van 'n kind en ons verneem van die impak wat Griet skryf 'n sprokie op haar lewe gehad het. Haar lewe in aangelapte familie waar sy moet skryf tussen chaos en hoe die brief aan haar dogter ook 'n besinning word oor Afrikaans, die skryfproses en hierdie ongenaakbare tyd van Onsekerheid wat ons tans beleef.

 

Sy verwys na die impak van grendeltyd en hoe mense met eensaamheid stoei. Vir die skrywer Marita van der Vyver gee ander skrywers raad: James Joyce oor hoe jy moet wees om te skryf; Roth oor die genadelose eise van hierdie bedryf. 'n Magdom skrywers gooi hier 'n draai.

 

Dit is 'n feministiese teks met intimiteite oor vrouwees beskryf met 'n sekure hand sónder om die leser te laat bloos. En wat met 'n kind gebeur wanneer sy “verplant” word na 'n onbekende ruimte waar sy nuwe maats moet maak.

 

Hierdie moeder en kind verskil, maar het tog raakpunte. Die wêrelde waarin hul hulself bevind is nie identies nie, maar deur die kind aan te spreek, herbeleef sy haar eie politieke en seksuele ontwaking. So beskou, is hierdie roman 'n waardevolle tydsdokument oor hoe ons as kinders in beheer gehou is met lyfstraf, politieke leuens, familiename en sensuur. As jy wil onthou van inryteaters en LM-radio, gaan jy teruggeneem word na 'n Herinnering aan dinge vir ewig verlore.

 

Daar is baie kodes en aanwysings in die teks wat die leser kan opvolg. Marguerite Yourcenar open 'n hele feministiese diskoers, terwyl die twee skrywers aan wie sy die boek opdra, wyle Ryk Hattingh en wyle Harry Kalmer, die obsessionaliteit van skryf beklemtoon. Ryk Hattingh met sy Huilboek, belangrike dramas en kort romans is nooit na waarde geskat nie. Dieselfde geld Harry Kalmer, 'n produktiewe skrywer, wat eweneens onderskat is.

 

Hierteenoor is Van der Vyver volksbesit. Hierdie boek het my teruggeneem na Dorian Leader se: Why do women write more letters than they post? (1996) en die rol van vroueskrywers in die letterkunde. Sy skryf ook insigryk oor Totius se suster, Marié, en hoe min ons van haar weet.

 

Saam met Yourcenar is daar verwysings na Virginia Woolf met die eksplisiete soeke na en besitname van daardie kamer-van-jou-eie. Behalwe vroueskrywers, verwys sy na Philip Roth wat in sy lewe gestriem is, omdat hy alles en almal om hom gefiksionaliseer het. Hiervan het sy eksvrou nie gehou nie. In haar memoir vertel sy alles: Leaving a doll's house: A memoir wat in 1996 verskyn het. En in die briewe van Saul Bellow aan Roth word daar baie verklap oor al die stryde tussen die geskryfdes.


'n Skrywer is altyd eerstens 'n leser (Susan Sontag) en 'n mens kry hier 'n leesverslag van die werklike outeur wat via Gloria Steinem die patriargale diskoers met humor takel.

 

Hierdie boek lees soos een bewussynstroom ingehok met hoofstukafdelings. Die werklike outeur waarsku teen selfsensuur en die gevare wat dit vir enige skrywer mag inhou. Sy deel ook klappe uit na die Franse se stakingkultuur, klagtes en ipekonders.

 

Sy deel haar liefde vir reis en wandel met haar dogter, die skryf van poskaarte - en ons word deel van hierdie intieme binnespraak.

 

Van die mooiste beskrywings is die besoeke aan biblioteke. En hoe mense ervarings verskillend onthou ...

 

Dit is vlot en onderhoudend geskryf, maar onder draai daar vele duiwels rond. Vir hierdie leser was dit 'n pynlike leeservaring wat verdringde herinnerings oopgemaak het. Voortrekkers, die besoek aan heiligdomme van die Afrikaner wat jong kinders polities gebreinspoel het, word uitstekend beskryf. Lyfstraf, uniforms, Pretoria se skole en die besondere Afrikaanse uitspraak, word verduidelik. Die vermindering van “bediendes” en swart mense word eweneens vertel - reeds by die jong Marita is daar intense opstand.

 

Kyk wat doen die jonge Marita by die graniet-ossewa van Coert Steynberg en lees watter omstrede persoon was 'n huisvriend van die ouers.

 

Die boek is geskryf vir die dogter wat die toonaard van die boek verduidelik: intiem én eerlik. Inderdaad is herinnering, soos Sontag waarsku:

 

Memory is inventive. Memory a is performance. Memory invites itself, and is hard to turn away.