Bladsye / Pages

Sunday, May 2, 2021

Resensie | Marita van der Vyver – 'n Baie lang brief aan my dogter | 2021

Marita van der Vyver – 'n Baie lang brief aan my dogter. Tafelberg, 2021. ISBN 978 0624 090014

Resensie: Joan Hambidge


Hoeveel “ekke” dra 'n mens in jou saam?


Die outobiografiese teks of memoir is daardie soort teks wat eweens 'n stel reëls vooropstel. 'n Spel tussen herinnering, opname, optekening en dikwels fiksionalisering, kenmerk hierdie soort teks. 

 

'n Baie lang brief aan my dogter werk dan binne die ruimte van ego-tekste. Die bekende skrywer Marita van der Vyver skryf 'n brief aan haar dogter en in hierdie verslag wys sy op die verskille tussen Frankryk en Suid-Afrika en hoe sy van jongsaf 'n skrywer wou word. 

 

Haar jeugjare as 'n kind uit 'n werkersklashuis word sonder skroom of verdraaiing vertel. Dan weet ons ook hoe haar lewe geraak is deur die dood van 'n kind en ons verneem van die impak wat Griet skryf 'n sprokie op haar lewe gehad het. Haar lewe in aangelapte familie waar sy moet skryf tussen chaos en hoe die brief aan haar dogter ook 'n besinning word oor Afrikaans, die skryfproses en hierdie ongenaakbare tyd van Onsekerheid wat ons tans beleef.

 

Sy verwys na die impak van grendeltyd en hoe mense met eensaamheid stoei. Vir die skrywer Marita van der Vyver gee ander skrywers raad: James Joyce oor hoe jy moet wees om te skryf; Roth oor die genadelose eise van hierdie bedryf. 'n Magdom skrywers gooi hier 'n draai.

 

Dit is 'n feministiese teks met intimiteite oor vrouwees beskryf met 'n sekure hand sónder om die leser te laat bloos. En wat met 'n kind gebeur wanneer sy “verplant” word na 'n onbekende ruimte waar sy nuwe maats moet maak.

 

Hierdie moeder en kind verskil, maar het tog raakpunte. Die wêrelde waarin hul hulself bevind is nie identies nie, maar deur die kind aan te spreek, herbeleef sy haar eie politieke en seksuele ontwaking. So beskou, is hierdie roman 'n waardevolle tydsdokument oor hoe ons as kinders in beheer gehou is met lyfstraf, politieke leuens, familiename en sensuur. As jy wil onthou van inryteaters en LM-radio, gaan jy teruggeneem word na 'n Herinnering aan dinge vir ewig verlore.

 

Daar is baie kodes en aanwysings in die teks wat die leser kan opvolg. Marguerite Yourcenar open 'n hele feministiese diskoers, terwyl die twee skrywers aan wie sy die boek opdra, wyle Ryk Hattingh en wyle Harry Kalmer, die obsessionaliteit van skryf beklemtoon. Ryk Hattingh met sy Huilboek, belangrike dramas en kort romans is nooit na waarde geskat nie. Dieselfde geld Harry Kalmer, 'n produktiewe skrywer, wat eweneens onderskat is.

 

Hierteenoor is Van der Vyver volksbesit. Hierdie boek het my teruggeneem na Dorian Leader se: Why do women write more letters than they post? (1996) en die rol van vroueskrywers in die letterkunde. Sy skryf ook insigryk oor Totius se suster, Marié, en hoe min ons van haar weet.

 

Saam met Yourcenar is daar verwysings na Virginia Woolf met die eksplisiete soeke na en besitname van daardie kamer-van-jou-eie. Behalwe vroueskrywers, verwys sy na Philip Roth wat in sy lewe gestriem is, omdat hy alles en almal om hom gefiksionaliseer het. Hiervan het sy eksvrou nie gehou nie. In haar memoir vertel sy alles: Leaving a doll's house: A memoir wat in 1996 verskyn het. En in die briewe van Saul Bellow aan Roth word daar baie verklap oor al die stryde tussen die geskryfdes.


'n Skrywer is altyd eerstens 'n leser (Susan Sontag) en 'n mens kry hier 'n leesverslag van die werklike outeur wat via Gloria Steinem die patriargale diskoers met humor takel.

 

Hierdie boek lees soos een bewussynstroom ingehok met hoofstukafdelings. Die werklike outeur waarsku teen selfsensuur en die gevare wat dit vir enige skrywer mag inhou. Sy deel ook klappe uit na die Franse se stakingkultuur, klagtes en ipekonders.

 

Sy deel haar liefde vir reis en wandel met haar dogter, die skryf van poskaarte - en ons word deel van hierdie intieme binnespraak.

 

Van die mooiste beskrywings is die besoeke aan biblioteke. En hoe mense ervarings verskillend onthou ...

 

Dit is vlot en onderhoudend geskryf, maar onder draai daar vele duiwels rond. Vir hierdie leser was dit 'n pynlike leeservaring wat verdringde herinnerings oopgemaak het. Voortrekkers, die besoek aan heiligdomme van die Afrikaner wat jong kinders polities gebreinspoel het, word uitstekend beskryf. Lyfstraf, uniforms, Pretoria se skole en die besondere Afrikaanse uitspraak, word verduidelik. Die vermindering van “bediendes” en swart mense word eweneens vertel - reeds by die jong Marita is daar intense opstand.

 

Kyk wat doen die jonge Marita by die graniet-ossewa van Coert Steynberg en lees watter omstrede persoon was 'n huisvriend van die ouers.

 

Die boek is geskryf vir die dogter wat die toonaard van die boek verduidelik: intiem én eerlik. Inderdaad is herinnering, soos Sontag waarsku:

 

Memory is inventive. Memory a is performance. Memory invites itself, and is hard to turn away.