Bladsye / Pages

Sunday, May 23, 2021

Rubriek | Titanic | 2021

Die onlangse brandramp aan die Universiteit van Kaapstad het my in die herinnering teruggeneem na 'n reis deur Kanada van Toronto tot in Halifax in 2013. In hierdie stad is daar die Citadel, 'n fort waar die stad se hoë uitkykpos moet waarsku teen indringers.

Die grootste museum is die Maritieme-museum wat twee rampe gedenk: die  Titanic, 15 April 1912, en die Halifax-ramp in 1917 toe twee skepe per abuis teen mekaar gebots het en die een met ammunisie ontplof en die stad aan stukke geruk het.

 

Die RMS Titanic was 'n Britse passasierskip wat op haar nooiensvaart van Southampton na New York teen 'n ysberg gebots het. 1523 mense het gesterf. In Afrikaans het D.J. Opperman hierdie gegewe gebruik (en omgedraai) in sy gedig "Kaapse skeepswerf" wat verskyn het in Komas uit 'n bamboesstok. Verskeie digters het al oor hierdie gegewe gedig.

 

Die museum wat ek besoek het, bewaar verskeie artefakte en onder andere kan 'n mens 'n dekstoel van die skip sien, die log-boek en 'n dagboek - in potlood geskryf - van die kaptein se laaste SOS'e aan New York. 'n Mens sien uit hierdie boodskappe hoe sy angs al hoe groter word: eers die ysberge wat bespied word, dan die uiteindelike besef dat  die ramp nie verhoed kan word nie. 

 

705 mense is gered, maar nagenoeg 1523 reisigers het verdrink. Of waarskynlik gesterf weens die bitter koue water.

 

In hierdie museum lees ek dat 'n kindjie van tweejaar omgekom het en dat een van die reddingsbote van Halifax sy lykie gevind het.

 

Hier is twee kort films te siene: een wat dit chronologies weergee en die ander een handel oor diepseeduikers wat drie ure lank neem om met klein duikbote na die wrak te gaan. Hier bespied jy saam met die diepseeduikers die omvang van die skade en hoe groot die "onsinkbare" skip was.  

 

Die Titanic is die grootste onderwaterse museum en met 3-D-brille maak jy alles mee.

 

Die film van James Cameron, Titanic(1979), met Leonardo DiCaprio as die

hoofakteur teenoor Kate Winslett, is hier verfilm. Cameron se film analiseer gender- en klasverskille. Vroue en arm mense het derdeklas gereis en die rykes in eersteklas is eerste gered, ofskoon hulle op die veiligste plek op die skip was. 

 

Wit-en-swart-foto's vertel die verhaal verder; bykans soos die polisiemuseum in Pretoria wat ek graag as jong kind besoek het.

 

'n Mens kyk ook na al die artefakte wat gered is en onwillekeurig dink 'n mens aan jong studente aan die Universiteit van Kaapstad wat gehelp het met brandbestryding en om boeke te red by die biblioteek. 

 

Aan my universiteit is die omvang van die skade nog nie naastenby bepaal nie.

 

Ten spyte van waarskuwings het 'n ysberg, 400 myl van Newfoundland die skip se einde beteken. En ofskoon Sanpark drie jaar terug gewaarsku is oor hoé brandbeheer ernstiger toegepas moet word, het dit nie gebeur nie. Brande word steeds gestig in die berge.

 

The Grave of the Titanic is beskikbaar in vele videos op die internet en dit resoneer in my gemoed met die graf van die biblioteek-soos-ons-dit-geken-het.

 

In 1985 het dr. Robert Ballard, ‘n bekende oseanograaf, die oorblyfsels van hierdie skip ontdek.

 

Hy het twee ekspedisies na die Titanic per submarien onderneem  en ‘n gedenkplaat opgerig vir al die slagoffers. Hy het ook versoek dat voornemende navorsers hierdie graf met rus moet laat.

 

Op museum se webruimte kan ‘n mens ook aanwysings volg om die presiese roete van die Titanic te trek op ‘n kaart.  ‘n Groot skip wat volgens Bob Ballard letterlik in twee gebreek het. Uit die rekonstruksie van die film, weet ons die agterste gedeelte het dadelik gesink, terwyl die voorste gedeelte vir ‘n oomblik weifelend vertikaal bly hang het.

 

Tussen 11.40 nm en 2.18 vm. Met net 20 lewensbote, terwyl daar 2 228 mense aan boord was... (As daar nie soveel paniek was nie, kon 1178 mense wél gered geword het.)

 

As die wind nie so sterk gewaai het nie en 'n gasbottel nie ontplof het by Rhodes Memorial nie, dan ...

 

Met my digitale kamera het ek die een dekstoel wat gered is, afgeneem en dit was vir lank 'n screen saver op my werkrekenaar.

 

My kantoor staan tussen die Jaggerbiblioteek en Fuller Hall. En toe ek die kantoor besoek ná die ramp, was die kantoor ongedeerd. Maar hoe gaan ek ooit ophou tob oor die verlore manuskripte en argiefmateriaal en films en dokumente?

 

Hoe gaan hierdie screen saver lyk? Dalk 'n boom met hoë toppe?

 

© Joan Hambidge

 

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van BY)