Bladsye / Pages

Sunday, November 29, 2020

Resensie | Willem Anker – Skepsel | Queillerie, 2020

Willem Anker – SkepselQueillerie, 2020. ISBN 9780795802171

Resensent: Joan Hambidge

 

J. Hillis Miller gebruik die metafoor van reading as eating om die leesproses te verduidelik. Die leesaksie is soos 'n spyskaart met 'n voorgereg, hoofgereg en nagereg. Hoe toepaslik is dit nie op Skepsel deur Willem Anker nie. Die leesproses as 'n stadige maaltyd eerder as kitskos-verorbering.

 

Lanklaas het 'n roman my so gevange gehou in die netwerk van kompleksiteite. 'n Posthuman biohacker wat trou met 'n olietenker.  (Love in the time of sensory overload, lees ons op bladsy 285) afgewissel met Rebecca Maas se versorging van haar sterwende vader in 'n slimhuis en haar ma wat "aanwesig" is in 'n stem. (En haar naam verwys subtiel na Thomas Pynchon se The crying of Lot 49 van 1965.) In die yswildernis van Svalbard verdwyn 'n navorser se geliefde kollega. Die soektog is pynlik, en wat beteken die beendere in hierdie verhaal?

 

Waarom hou die roman jou gevange as roman? Omdat dit 'n ongelooflik pakkende analise word van die impak van Covid op ons lewens én hoe tegnologie alles dramaties verander het. 

 

Word die mufkol in die badkamer 'n simboliese waarskuwing van die bakterieë en virusse wat 'n lewe van hul eie het en in 2020 ons lewens dramaties ingeperk het? Wat beteken die ietermago alles?

 

Die roman ondersoek die betekenis van taal en identiteit versus gay-identiteite met die aanneem van 'n swart kind. Die betekenis van die abjekte én die obsessie met uitskot is hier aanwesig met die impak van die wetenskap. Besoeke aan en van die buitenissige word 'n verdere moontlikheid van ons somber en deurmekaar bestaan.

 

Patrick Parrinder se studie oor science fiction Science fiction - A critical guide (Methuen, 1980; opgedateer in 2002) bly 'n baken in die literatuurteorie. Vandag se spekulasie is more se werklikheid.

 

Tussen fantasie en werklikheid word die vertelling voortgestu: Svalbard en husky-sleë; biokrakers en die virtuele wêreld. Seks word hier via 'n skerm beleef en datagrepe muteer onverpoos (317).

 

Skepsel tree in gesprek met die films van Tarkofski en veral Solaris verdien 'n herbesoek. Ons lees van Mørketiden en die obsessie met objektum-seksualiteit. Waarom het die navorser weggeraak? Is dit selfmoord weens depressie of skuil daar iets demonies in die ruimte van die beendere?

 

Jy was te laat vir die toekoms, verneem ons op bladsy 109. En die roman dwing jou telkens terug na dieselfde gegewe wat soms herhaal word om iets beter te verstaan. Partenogenese versus transhumanisme. Daar woon 1200 spesies bakterieë in 'n gesonde mens.

 

'n Pynlike liefdesverklaring aan 'n hyskraan wat 'n onbestendige lover is weens 'n nomadiese aard word briljant vertel (114). Is Wikipedia dalk net 'n roman? Wat maak Moby Dick hier? En sal ons volgens die stemanalis dalk Jesus se stem in die bergpredikasie kan hoor? Selfs die bekende gebed word geparodieer. Ovidius se Metamorfose is 'n belangrike wenk nes die verwysing na die tindikeur ... Is dit dalk wat gebeur het met die karakter soekend na beendere? Of is hy deur 'n ruimteskip opgeraap?

 

Daar word baie sleutels gegee: Baudrillard oor hiperrealiteit, die films van Cronenberg, bakteriële kolonisasie en interkonnektiwiteit, J.G. Ballard, Parsami se paleopetrologie, Turing-toetse, woordspeletjies en die Fermi-paradoks (Besoek 27 November 2020).


Boonop is Ingmar Bergman ook hier in sy uitstaande analises van stilte (261). Compassion fatigue is 'n ander belangrike opmerking.

 

Hoe 'n T-hemp vervaardig in Sjina hier beland met 'n haar ingeweef in die kledingstuk. Pynlike sosiale kommentaar oor die uitbuiting van mense wat lang ure werk in 'n uitsiglose bestaan.

 

Hoe sou 'n mens hierdie roman beskryf? Distopies? Sci-fi? Isaac Asimov ontmoet vir Ursula Le Guin? Anker verplaas spekulatiewe fiksie (of paraliteratuur) binne die ruimtes van hoë literatuur weens die behendige samesnoering van temas en motiewe. Verskillende wêrelde word hier saamgeplaas: die primitiewe bestaan van bakterieë en virusse wat nou die wetenskap troef met mutasies.

 

Uiteraard word 9/11 as 'n ervaring in die verandering van ons denke aangestip, nes die pandemie alles nou verander het. Die nuwe metamorfose ...

 

Dit is 'n dieptastende analise van wat ons tans beleef en nog gaan ervaar. Dis 'n roman vir herlees en herbesoek. 'n Hoogtepunt in my leeservaring.

 

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Fine Music Radio.)  

Wednesday, November 25, 2020

Resensie | Deon Meyer – Donkerdrif | Human & Rousseau, 2020

Deon Meyer: Donkerdrif. H&R, 2020. ISBN: 9780798181662 

 

Resensent: Joan Hambidge 

 

Deon Meyer hét dit. Hy kan 'n pakkende speur-/misdaadverhaal skryf wat jou meesleur. So is dit gesteld met die jongste roman. Met die usual suspects: Bennie Griessel en Vaughn Cupido, en ander bekende randfigure. 

 

Die verhaallyne – soos in spanningsverhale – wissel vinnig van een toneel na 'n volgende. En uiteindelik hou dit alles verband met gierigheid, een van die doodsondes.  

 

Dit is duidelik dat die skrywer Steinhoff en Markus Jooste as vertrekpunt gebruik om die verhaal van nouveau riche en inkommers op Stellenbosch naatloos te vertel.  

 

Boonstra is duidelik op Markus Jooste gebaseer, ofskoon die skrywer beweer alles is verbeeldingsake. Hierdie ontkenningsklousule is egter nie waterdig nie. Die beskrywings van Boonstra is vraisemblance-materiaal. 

 

Herkenbare plekke waar Boonstra se vrou woon word wel verplaas, maar die leser wat hierdie eindelose sage in die media volg, weet presies wat hier gebeur. Boonstra is die baas van Schneider-König ('n uiters ironiese naam). 'n Man wat intimideer met vuige stories oor ander wat hy misbruik soos dit hom pas. 

 

Tussen kenbaar en herkenbaar woed die verhaal voort. Met arme Bennie Griessel wat dissiplinêr verhoor word weens insubordinansie. En verplaas word. 'n Paar maande lank platsak. 

 

En 'n sakevrou, ene Sandra Steenberg – 33, en aantreklik én in diep skuld – word  ingesluk in 'n verkooptransaksie met Boonstra se landgoed Donkerdrif. Boonstra se wettige vrou is onaansienlik en wraakgierig. Sy ruk 'n "kuberhaas" uit die hoed en ontmoet Sandra in die Decameron, die bekende Stellenbosse restaurant waar vele van die rykes en gesienes van hierdie dorp uithang. 

 

Die leser weet alles gaan nie goed afloop vir Sandra Steenberg nie. Boonop is haar man, Josef, 'n kenner van Ivan Vladislavic. 'n Mens verwag dat hy gaan vuil speel. 

 

En 'n jong student wat "wegraak" en deel is van kuberongerymdhede. Nog 'n spanningslyn wat die leser laat asemophou saam met sy moeder. 

 

Op die koop toe word die bedrog van die polisie ook ontmasker. Wie presies is verantwoordelik vir Milo April se dood? 

 

So alles is local en lekker. Ons dagblaaie onthul daagliks skandelike bedrog en onheil. En Deon Meyer as flinke storieverteller put uit hierdie diep put van ongeregtig- & ongerymdhede. 

 

Die roman begin met 'n tipiese woeste aanslag: 'n geweldige polisiejaagtog en skietery. Met 'n baba wat net-net betyds gered word en 'n jong kind wat alles aanskou. Dit eindig sonder closure ... 

 

'n Lyk in 'n vrieskas.  Hier breek die outeur die konvensie van die speurverhaal deur die slot oop te hou vir bespiegeling. (En dalk vir 'n opvolgroman?) 

 

Meyer verwys met voetnote na vorige tekste soos Ikarus (2015) en Prooi (2018) wat 'n ander speurtog tot gevolg het vir die literator. Ook dit maak alles komplekser. 

 

Meyer se resep is: deeglike navorsing, die skep van spanning, afwagting, vinnige dialoog. Met 'n skeut humor. Werklike mense – kyk wie speel kitaar! – genderwaarnemings en kritiek op 'n samelewing wat al hoe meer plofbaar en gierig geraak het, maak hiervan 'n eersteklas spanningsroman. Die verskillende verhaallyne word saamgesnoer en afgewissel bykans soos in 'n opera. Daar is cliff hangers en hierdie leser het die roman een nag tot drieuur uitgelees. Jy wil weet hoe alles gaan eindig ... 

 

Dis 'n roman soos die film LA Confidential waar die verrotting van binne af gebeur. Curtis Hanson se film van 1997 het hierdie kyker onlangs tweekeer na mekaar gekyk. Gebaseer op James Elroy se roman word 'n uitgebreide spel met die kyker gespeel. Guy Pearce, Russel Crowe, Kevin Spacey, Kim Basinger en Danny DeVito lewer besondere spel. Hollywood en polisiemag. Geldgierigheid. Magswaansin. En met 'n tweede kyk, sien jy al die leidrade. 

 

Dis onnodig om Meyer te resenseer. Sy romans verkoop en hy het 'n getroue aanhang by nie-literêre lesers en letterkundiges. Hy laat alles so maklik lyk, maar soos by Agatha Christie steek hy sy navorsing weg agter 'n storie wat vorentoe beweeg. 

 

Tereg is hy alreeds nommer 1 in die boekwinkels. 

 

Friday, November 13, 2020

Resensie | Kobus Moolman – The mountain behind the house | Dryad Press, 2020

Kobus Moolman – The mountain behind the house. Dryad Press, 2020. ISBN 978 1 990961977

 

Resensent: Joan Hambidge

 

I

 

Op die agterblad van die veel bekroonde Kobus Moolman se jongste digbundel The mountain behind the house verwys Kelwyn Sole tereg na die "sparse, controlled style". Die gedigte is oënskynlik "oop" en "eenvoudig", maar onder draai die duiwels rond.

 

The mountain behind the house is 'n bundel wat hierdie leser emosioneel getref het. In die vierde afdeling ("Mother") word 'n pynlike verslag van die moeder ('n moeder; alle moeders dus) gegee. Hierdie vrou is misken deur die gemeenskap en die enigste prys wat sy ooit gewen het was die "badge for best bandage technique". Waarskynlik eindig haar lewe in demensie wanneer ons lees dat die oë "filled with so much smoke" dit aktiveer.

 

Op 'n subtiele wyse word 'n ongeleefde lewe karteer, 'n vrou wat vroeg moes skool verlaat in 'n tyd toe mans geleenthede gehad het en vroue nie. Hierom werk sy in haar ouers se vis en tjips-winkeltjie in Port Alfred. Genderkommentaar op die lot van vroue.

 

Ek begin met hierdie afdeling, omdat hierdie bundel met 'n sirkelgang werk. Verse kan jy telkens weer anders lees. Die digter dwing 'n mens telkens terug van agter na voor.

 

 

II

 

Die titel en voorblad waarsku die leser dat jy moet fynkyk. Hierdie pragtige voorblad – gestroop, spaars, essensieel – aktiveer die skilderkuns van Adriaan van Zyl waar die landskap in sy leegheid 'n boodskap oordra. Die landskap as die vertolker van stiltes.

 

En hier is daar dan ook 'n gedig "Filing cabinet" opgedra aan die skilder Andries Gouws waarin "the sharp diagram of silence" beskryf word. Dit is na aanleiding van "Metal Cabinet, Laundry". Gouws se skilderye is meditasies - en hierdie bundel is eweneens meditatief in sy onderbou.


Moolman gebruik ook personifikasie om deure 'n stem te gee. Die deur met die onversadigbare begeerte "for dressing up in human attributes". In "The tongue" is daar 'n spel tussen stilte en taal. Die paradoks van die digkuns is immers om stilte oop te skryf of voor te stel in konkrete beelde.

 

In afdeling VI vind ons een gedig: "Bone" en afdeling VII gee vir die leser 'n duidelike leidraad: tracing paper.


Iets wat jy aftrek – dit aktiveer Jacques Derrida se absence/presence. Trace / grammé plaas ons direk in Derrida se Of Grammatology. Die vertaling van Spivak is weer geraadpleeg (Johns Hopkins, Baltimore, 1976) om iets van die spel van uitgestelde betekenis te begryp.

 

Moolman laat vele spore vir natrek of weer beskou. Uitgestelde betekenis(se) is waarin hy uitmunt. Die leser word telkens uitgedaag om 'n gedig weer te lees soos die foto op die omslag. Waar presies staan daardie huis? Kyk na die krake op die foto wat met die agterblad saam bekyk moet word: hier is die berg vérder afgeneem en die pad na die huis meer sigbaar.

 

Ons vind talle paradokse hier: die "sound of leaves" klink soos "bricks tossed":

 

how much the sound of leaves

is like bricks being tossed

up to the second storey,

where the loud light lives.

 

In afdeling III word vreemde ruimtes verken en 'n road trip deur gemaak deur Suid-Afrika. Die kode is Basho. Die sub-titel haibun:

 

Haibun (俳文, literally, haikai writings) is a prosimetric literary form originating in Japan, combining prose and haiku. The range of haibun is broad and frequently includes autobiography, diary, essay, prose poem, short story and travel journal.



2

 

Alone, a farmhouse

appears out of the dawn –

a bird's white wing.

 

Met die onderskrif: Bethlehem / Winburg / Brandfort

 

(Daar word ook politieke verwysings gemaak na Winnie Mandela en hartgrypende verse oor armoede en ellende soos "Little girl".) En vele ander politieke werklikhede word weergegee.

 

In VIII – Aubade – word die oggendlied aan die einde van die bundel geplaas. Hier is daar dan 'n duidelike spirituele inkering, 'n nuwe blik op alles ...

 

Aubade

 

The sky is burned ahead of them.

All the trees have fallen flat.

The moon is late. And will be losing.

Wind is predicted for the streetlights.

 

They might be lying together catching their breath.

They might be dressing silently, filling

their eyes for the long drought ahead.

Or none of these. Only birds

whispering amongst the leaves of grieving.

 

The road is empty ahead of them.

The sidewalks are solitary again.

Silence has the howl of skin

shocked by separation.

 

 

III

 

Dit is 'n besonderse digterskap en hierdie leser was destyds op die paneel wat die Ingrid Jonker-prys aan hom besorg het. Ondertussen het hy sy talent veelvoudig bewys. Hy skryf oor genderpolitiek, die politiek van die land en oor verwonde mense.

Wednesday, November 11, 2020

Resensie | Johann de Lange & Goodenough Mashego (Reds) - I wish I’d said Vol 3. | Naledi, 2020

Johann de Lange & Goodenough Mashego (Reds) - I wish I’d said Vol 3. Naledi, 2020. ISBN: 978 1 928518 56 3

 

Resensent: Joan Hambidge

 

 

Die derde uitgawe van I wish I'd said (Ek wou nog sê), onder redaksie van Johann de Lange en Goodenough Mashego, bring die hele komplekse aspek van multitaligheid na vore. Verskillende inheemse tale wat telkens vertaal word na Engels. Soms deur die digter, soms deur 'n redakteur. Met Douglas Reid Skinner as voortreflike vertaler en redigeerder van die Afrikaans na Engels. Die leser kry telkens die oorspronklike gedig met die vertaling. Met 11 redakteurs wat hier keuses moes maak. 

 

Daar is opdragverse en wengedigte. Meer as 18 000 digters is al geregistreer op die webblad.

 

Carl van der Riet, die CEO van AVBOB, sien hierdie projek as 'n "space of healing" en hy verwys na die moord op Uyinene. En die digter se gedig vertolk namens ander die verlies aan 'n die geliefde persoon. Johann de Lange, die hoofredakteur en self die skrywer van uitsonderlike lykdigte, wys op hoe gedigte ons konnekteer. Poësie, skryf hy, is 'n kerk waar ons kan vergader. 

 

Die een gemeensaamheid van al hierdie gedigte is dat dit die universaliteit van die dood aanspreek. Elke mens is al met die dood gekonfronteer: hetsy onverwags; ander kere weer die slopende aftakeling van 'n geliefde of kennis. Met 'n begrafnis. Of verassing. Met rituele. Wat in hierdie Covid-tyd dramaties verander het. Net 50 mense met maskers word toegelaat.

 

In hierdie spanningsvolle tyd waarin mense daagliks gekonfronteer word met die pandemie se verwoesting en koerante getalle verskaf, het die dood soos in Bocaccio se Decameron 'n harde, alledaagse werklikheid geword. 

 

En hoe sal digters hierop reageer? Hoe gaan jy 'n vers skryf wat steeds tref? 

 

Die Versindaba se projek waarin digters reageer op die Covid-pandemie het al tot belangrike en ontstemmende gedigte gelei.

 

O.a. René Bohnen se ontstemmende gedig [1] oor hierdie onderwerp.


Die hele tradisie van die funeraire poësie is alreeds deur verskillende literatore ondersoek.  Louise Viljoen skryf In Literator, November 1995 oor die tradisie van hierdie soort gedig in navolging van S. F. Witstein se Funeraire poëzie in de Nederlandse Renassaince (1996) waar dit gaan om die lof (laus) van die ontslapene, die verdriet (luctus) en aanvaarding van die dood (consolatio). (’n Retoriese analise van die vyf lykdigte in T.T. Cloete se Allotroop | Literator. Besoek 8 November 2020).


En T.T. Cloete se lykdigte is voortreflike huldeblyke aan die afgestorwenes waarvan die vers oor Peter Sellers [2] 'n hoogtepunt bly.

 

En die Ierse digter Paula Meehan se "Child burial" [3] is een van daardie onthoubare en verdrietige verse wat 'n mens gewoon oorbluf laat:

 

you chose to be made flesh, word within me.

I'd cancel the love feast the hot night of your making.

 

I would travel alone to a quiet mossy place,

you would spill from me into the earth drop by bright red drop.

 

Vanaf ons ouer digters (Marais, Totius, Leipoldt) tot nou word die impak van die dood in die digkuns weergegee in treurverse, klaagsange of lykdigte.

 

 

II

 

Dat daar alreeds 'n derde bloemlesing gepubliseer word, wys op die relevansie van die onderwerp en dat digters nog lank nie uitgeskryf is nie. Hierdie projek boekstaaf dus nie alleen die dood nie, maar word terselfdertyd 'n dokument van ons tyd oor die enorme impak van die pandemie én hoe digters as't ware met hul rug teen die muur dig.

 

Maretha Maartens se aangrypende "Peperboom" is as die wenner aangewys met Maritha Broschk en Hannes Visser in die tweede en derde plek.

 

In die Afrikaanse afdeling is daar verse van Andries Bezuidenhout, Charl-Pierre Naudé, Corné Coetzee, Loftus Marais, Marlise Joubert en Ronelda S. Kamfer, elkeen digters wat hul gevestig het as belangrike stemme. In "Releasing midnight" aktiveer Elisa Galgut tereg "earth's diurnal course".

 

Die lykdig verset sig altyd teen die kortstondigheid van alles en wil iets vir tyd-en-ewigheid daarstel. Wanneer dit oor 'n belangrike mens handel, wil dit iets van die impak van die dood registreer op die spreker. Hannes Visser se lykdig vir sy vader ("Vir Piet Visser (21.7.1925 - 19.7.1967)" wil die onomkeerbaarheid van die verdwyning van die vader herstel in die gedig. Die ma het teatraal alles van die pa verwoes in 'n vuur (heel simbolies!), maar die spreker probeer steeds onthou en bestendig in hierdie sterk gedig.

 

Ronelda S. Kamfer se vers werk met reuke en hoe dit herinnering aktiveer ("Lykskouing"), terwyl Loftus Marais aweregs kyk na die hele gedoente van begrafnisse.  In "Begrafniskitsch" ontluister hy hierdie ritueel: 

 

alles so gepas, verstaan

die dood is tog die onsubtielste ding.

  

 

III

 

Gedigte oor afgestorwenes verraai altyd komplekse emosies van verlating, verlies, verdriet en onrus. En waarskynlik skuldgevoelens of "unfinished business". Corné Coetzee se gedig sê dit alles ...

 

En T.T. Mudau in "Just remove that stone" wys eweneens op die vrae wat die dood van die oorledene na vore bring. By die swart digters is die orale aspek belangrik en die voordrag; hierom die herhaling van woorde en uitroepe. En uiteraard word 'n gedig vir Mandela ook 'n politieke aanklag soos Puleng Nokomo se gedig illustreer (155). 

 

Elke huldeblyk verklap iets van die digter se lewenshouding. Elke gedig oor die dood word uiteraard en by implikasie 'n soort teologiese of religieuse besinning. Leef ons na die dood? Gaan ons die geliefde weer sien? Het hulle veilig "aangekom"? Of word jy gewoon deel van die kollektiewe onthou, soos C.G. Jung aanvoer. In die swart tale is daar uiteraard 'n ander spirituele ervaring (die woord soul / siel is hier) as by die digters wat Katoliek of Calvinisties of agnosties is. Archie Swansea gebruik ook "soul" in sy gedig "my guernica". Michèle Betty se vers "Zoetrope" wys hoe die agtergeblewene hunker na 'n tyd wanneer die herinneringe verskans sal word in die lyf. Talle mense ervaar dan dat die oorledene so deel word van hul gesprekke en onthoue dat dit as liggaamlik ervaar word.

 

Inderdaad word elke vers 'n Lasciare suonare, soos Andries Bezuidenhout in sy uitstekende vers bewys. 

 

Vir die maestro van stilte, sê hierdie gedig oneindig veel. Klakkas tot klankkis. Meer as 'n huldigingsvers. 'n Vers wat die verskillende diskoerse van tale (en musiek) saamsnoer. Abdullah Ibrahim se se motto oor tyd en ruimte en plek verklap alles.

 

"We arrive in place when we resolve things." Dalk deur ons almal in al ons landstale saam te plaas in een plek, mag heling bring.

 

Hierdie antologie maak geweldig baie perspektiewe oop vir sowel die digkuns as die metafisika. Die logo van AVBOB verklap dit reeds.  Daardie boom gaan ook 'n kis word. Maar tans groei die boom nog.

 

 

Endnote:

 

 

1. klein covid skilde

René Bohnen 

 

onthou jy omhelsings

en die glooiings van vingerpunte op jou vel

sensitief soos ‘n sonar

van liefde?

 

ek dokumenteer dagbreke –

onthou dae sonder deure

en die son meer

as ‘n geraamde gedagte

anderkant die balkon

 

in my huis is ‘n landskapskildery

‘n naelstring na my geboortevallei –

 

dag honderd-een-en-vyftig

my gedig ‘n vergesig

op ‘n land van swart amber

en bitter heuning

 

ek voel soos die eerste letter

van ons –

‘n ou man hoes, die wind waai,

ons loop op dun ys

maar ons maskers is mooi

 

dag tweehonderd-en-twee

die son kom op

die bokmakierie roep

vierlettergreepgeel

 

wat is tydelik, wat is tyd?

ek stoot my woorde

voor my by die deur uit

  

2. Alle grappies op 'n stokkie

T. T. Cloete

 

Die ektoplasma maak mislik.

Alle vlae hang stigtelik

by alle teaters halfmas.

Peter Sellers is vandag veras

by Golder's Green. Wat mens afkerig maak

is dat die dooie vertrek en ander moet ontslae raak

van sy lyk. Die diens vir die lastige rou

en konvensie is deur John Hester gehou,

Peter se vriend, 'n kannunik.

Maak dit vrolik

om van die walglike oorlas

verlos te word. Slegs vriende uit die vermaak, kollegas

uit The Goon Show

sy eerste, sy derde en vierde vrou

mog die diens bywoon: Britt Ekland die seksbom

het ongenooid daar aangekom,

sy't vermetel met Spike Milligan opgedaag.

Sy is kywende weggejaag

deur Michael. Vir die groot

mededinging met die lastige dood

was Lynn Frederick

heel paslik

geklee in 'n rok wat inderhaas

spesiaal ontwerp is deur die modebaas

Yves St. Laurent. Terwyl hulle die lyk veras

vrolike musiek pas

immers by die toneel

is Glenn Miller se In The Mood gespeel

op Peter se versoek. 'n Lyk is darem 'n verleë ding.

Laat die poppe speel, laat hulle hom wegsing.

Tog het iets vreemds gebeur:

'n donderstorm wat ineens losbars versteur

en oorstem In The Mood. Dis nes Peter dit wou he,

dit pas by sy humor, het die kanunnik vroom gesê.

 

Wat pla

bedink agterna

in terme van tooneelspel: is dit deus ex machina

of is die grap bygedra

deur die baaslykverbrander?

To steal one's thunder

Pas by die toneel. Behoort die oorskot

aan die duiwel, aan God?

behoort die donder

 

aan God, aan die duiwel? I wonder … 

 

3. Child Burial

Paula Meehan

 

Your coffin looked unreal, fancy as a wedding cake

I chose your grave clothes with care, your favourite stripey shirt

 

your blue cotton trousers They smelt of woodsmoke, of October,

your own smell there too. I chose a gansy of handspun wool,

 

warm and fleecy for you. It is so cold down in the dark.

No light can reach you and teach you the paths of wild birds,

 

the names of the flowers the fishes, the creatures

Ignorant you must remain of the sun and its work,

 

my lamb, my calf, my eaglet my cub, my kid, my nestling

my suckling, my colt. I would spin time back, take you again

 

within my womb, your amniotic lair, and further spin you back

through nine waxing months to the split seeding moment

 

you chose to be made flesh, word within me.

I'd cancel the love feast the hot night of your making.

 

I would travel alone to a quiet mossy place,

you would spill from me into the earth drop by bright red drop.


 

Monday, November 2, 2020

Resensie | Antjie Krog – 'n Vry vrou | H&R, 2020

Antjie Krog – 'n Vry vrou. H&R, 2020. ISBN 978 0 7981 805 11 

Resensent: Joan Hambidge

 

Karen de Wet het reeds met die bloemlesing oor vrouedigters Vers & Vrou: 250 gedigte haar onderskei as 'n uitstekende samesteller. Haar keuse van Antjie Krog se vele bundels word 'n besondere én idiosinkratiese verslag.

 

Hier word gedigte achronologies róndom temas saamgeplaas sodat die leser 'n nuwe blik kry op hierdie komplekse digterskap. 'n Mens sou 'n hele studie kon doen oor die ontwikkeling vanaf jong kind, verliefde student tot swanger en geskeide vrou. Dan moeder; later grootmoeder wat met enorme emosionaliteit oor 'n kleinkind in 'n vreemde ruimte en taal skryf. Daar is eweneens die politieke aktivis. Sy is dus vir 'n navorser oor gender-konstruksies 'n goudmyn vir die ontmaskering van stereotipes én leuens. Sy behoort tot die ongehoorde soort: eens nie gehoor nie; nou ongehoord en grensoorskrydend.

 

Louise Viljoen, 'n kenner van Krog se werk, se seminale studie heet dan: Ons ongehoorde soort: Beskouings oor die werk van Antjie Krog (2009) en ondersoek o.a. skuldgevoel, plig, begeerte, transgressie; alles psigologiese merkers van hierdie reisende digter, soos Viljoen tereg uitwys. Ons sien en ruik die abjekte. Sy span die plat woord funksioneel in tot die verbystering van menige konvensionele leser. 

 

Die klankaspek van haar gedigte is van kardinale belang. 

 

"om op 'n oggend wakker te word binne-in klank", skryf sy in "digter wordende" (162).

 

So gesien is sy 'n hibridiese digter: een vir stiplees, maar dan ook vir voordra, hóór. 'n Gedig heet dan "twee wêrelde" (154). Die klipretoriek van die Richtersveld beskou sy en sy buikspreek namens ander karakters: 'n man wat afwysend is teenoor sy vrou in 'n reeks dorpsgedigte; sauna-verse wat die woman-identified-woman-problematiek ondersoek.

 

Die orale tradisie byvoorbeeld kom sterk na vore in die reis met ‘n poësiekaravaan tot Timboektoe waar sy mites en legendes deel inweef in haar verse. Sy skryf prysliedere in die tradisie van inheemse tale soos in "lied van Peter Labase" (93).

 

Krog verander die male gaze na die blik van die (fokken bevryde) vrou wat die man tot objek verklaar. Die spel met betekenis van fallus is dalk "toe-fallus"? Kan die vrou ooit ontsnap uit die patriargale orde?

 

Met hierdie bloemlesing word 'n mens opnuut bewus van Krog se metaforiek en haar verskillende stylsoorte. Sowel die rondeel, villanelle as die vrye vers hanteer sy moeiteloos. Sy is teer, maar ook woedend en dwars. Sy skryf immers ómdat sy woedend is. Sy is soos Leipoldt melancholies en vrolik; opstandig en teer. Sy is selfs satiries-snaaks in "Man ek lus 'n twakkie" (60). Sy kan namens anders praat en buikspreek. Soms is sy self aan die woord; ander kere is dit randfigure wat sy stemhebbend maak. Sy dra 'n masker dus in navolging van Opperman, 'n mentor, wat verskillende figure aan die woord kon stel.

 

Haar blik op haar ouers is van die grootste en waarskynlik aangrypendste gedigte in haar oeuvre. Die begrafnis van haar pa getuig van soveel teerheid en deernis. Sy reken af met vaderdigters - soos D.J. Opperman - en word simbolies bevry van die manlike blik van goedkeuring. 

 

Wyle Barbara Johnson het in 'n onderhoud met Imre Salusinzky (Criticism in Society. Methuen, 1979)  opgemerk dat vroue natuurlike dekonstrueerders is. Dit is neem 'n vroueskrywer langer om haar self te vestig as skrywer binne die skryfrangorde waar mans oorheers. Sy moet die manlike orde binnedring en sommige teoretici, soos Hélène Cixous, agiteer vir 'n unieke vrouetaal om hierdie prosesse te ontmasker en problematiseer.

 

Vir my is Krog se mooiste gedigte wanneer sy die skryfproses ondersoek en aan die kaak stel. Swangerskap wat handel oor die skryfproses; 'n liefdesvers wat die liefde blootstel in skryfbeelde; 'n sonnet waarin die vorm op sy kop gekeer word. Haar gedigte beweeg tussen die buite- en binneruimte van die gedig. Die intieme aard van gedigte skryf, is haar opdrag via Ottone M. Riccio.  En dit is wat Karen de Wet begryp. Sy skuif die locus van die gedigte se publikasiedatums, en soos J. Hillis Miller in die gelyknamige studie van Salusinszky, ondersoek dit die komplekse verhouding tussen teks en leser. Tyd verander interpretasies van tekste en lees is nooit 'n eensame aksie nie; daar is altyd werklikhede en ander lesers wat oor jou skouer loer, aldus J. Hillis Miller.

 

Karen de Wet herkanoniseer Krog se bydrae as digter en ons kyk met nuwe oë na haar werk as veelkantige vroueskrywer.

 

Antjie Krog is besinnend, meditatief, melancholies, woedend, liries. Mannin en Lady Anne tegelykertyd.

 

Gunstelinge: "visioen van 'n lessenaar" (148), "digter wordende" (162), "twee wêrelde" (154), "die skryfproses as sonnet" (151), "grond" (122), "Richtersveld: narratief van klip" (120), "ek wil 'n graf hê om van om te draai" (188) ... eintlik te veel om op te noem. Daar is eweneens 3 tekste uit O brose aarde.

 

Nou onlangs het 'n manlike digter gemeen dat 'n mens oral in die Lae Lande gedurig die naam Krog hoor. Natuurlik. Sy dig onversetlik, eerlik en skuif telkens die bakens van die digkuns in 'n bloemlesing wat haar 50 jaar in ons digkuns gedenk. Geluk aan die nooi van Middenspruit wat kan skryf oor knotwilge en rooigras ...

 

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Beeld)

Filmrubriek | Sean Connery (1930-2020) | 2020

Sean Connery is die argetipiese James Bond, 'n fantasie van Ian Fleming, 'n stotteraar,  wat hy geskep het in Jamaika. In 1953 verskyn die roman Casino royal. In Russia from love sien 'n mens 007 op sy beste: slim, flirterend, ironies én aantreklik. Hy kan op sy voete dink en wanneer hy twee gypsy-vroue sien baklei en die Turkse agent vertaal wat hulle sê, is sy antwoord: “Ek het nie sub-titels nodig nie.” 

Skots met 'n keep in die wang. Kort van postuur, dog aanskoulik.

 

James Bond het deur die jare verskillende transformasies ondergaan. Die swaarwigtige George Lazenby; die parodiese Roger Moore; voormalige Shakespeare akteur, Timothy Dalton; hartedief Pierce Brosnan tot humorlose, spiertier Daniel Craig ...

 

Maar nie een het James Bond so perfek opgevang soos Connery nie. Sauve en chauvinisties (die tydsgees word só weergegee) en in From Russia with love (1963) red die beeldskone Russiese agent hom wanneer Rosa Klebb hom wil doodmaak. Vertolk boonop deur Lotte Leyna (Kurt Weill se vrou) in Venesië. In die slot word die film van hul grensoorskrydende nag in Istanbul weggegooi in die water ... terwyl Mat Munro kweel in die agtergrond.

 

Shaken, not stirred.

 

Selfs Umberto Eco het in The role of the reader (1979) oor hierdie karakter geskryf: die letsel op die wang, die kennis van goeie wyn en kos. In die films is hy dikwels M se meerdere en in Diamonds are forever (1971) wys hy hoeveel hy van whisky weet.

 

Alle Bond-verhale, aldus Eco werk met dieselfde narratiewe opposisies van lewe teenoor dood; uitspattige rykdom teenoor armoede; lojaliteit en dislojaliteit; held teenoor anti-held. En natuurlik Bond versus 'n mooi vrou wat hom dikwels probeer ondermyn ...

Eksotiese agtergronde ... (eenkeer op besoek in Hong Kong kon ek 'n plek maklik kry danksy my kennis van James Bond-films.)

 

Die spel met Miss Moneypenny is eweneens belangrik. Die ironiese oujongnooi wat wag op James (met 'n licence to kill) is 'n ander subteks.

 

Sir Thomas Sean Connery (25 Augustus 1930 - 31 Oktober 2020) het terloops in die filmweergawe van Eco se The name of the rose opgetree in 1986 en vroeër in Murder on the Orient Express in 1974. Hy kon egter nooit die Bond-persona afskud nie. Hy was immers in sewe James Bond-rolprente in sy Aston Martin DB5. 

 

En dalk verklap die verandering van die motors ook iets van die tydsgees en hoe ons moes “aanpas”. Selfs later 'n BMW en M (Vice Admiral Sir Miles Messervy KCMG) word later selfs 'n vrou, heerlik uitspattig vertolk deur Judi Dench. Ja, sy wat vir Bond vertel dat hy sy eks-girlfriend, nou deurmekaar met die vyand, moet “pump for information”.

 

Stel jou voor Sean Connery moes haar gesag aanvaar het?

 

'n Laaste foto: Sean Connery en sy vrou Michelle

En sy interaksie met M verklap iets van die oorspronklike machismo van die rolprente en die in-grappies tussen die manne wanneer Bond onder meer verklap van 'n aandjie uit met die stroewe M.

Sean Connery vertolk Bond met 'n fyn balans tussen humor en erns; fantasie en werklikheid.

 

In my studeerkamer staan die silwerboks ('n geskenk van ‘n vriend) met James Bond-rolprente. Ek kyk gereeld na Connery om iets te begryp van hoe genderpolitiek verander het en die wêreld toe daar nog 'n koue oorlog was.

 

Sean Connery is vir ewig James Bond. Die naam is Bond, James Bond.


© Joan Hambidge

 

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Media24)