Bladsye / Pages

Sunday, November 29, 2020

Resensie | Willem Anker – Skepsel | Queillerie, 2020

Willem Anker – SkepselQueillerie, 2020. ISBN 9780795802171

Resensent: Joan Hambidge

 

J. Hillis Miller gebruik die metafoor van reading as eating om die leesproses te verduidelik. Die leesaksie is soos 'n spyskaart met 'n voorgereg, hoofgereg en nagereg. Hoe toepaslik is dit nie op Skepsel deur Willem Anker nie. Die leesproses as 'n stadige maaltyd eerder as kitskos-verorbering.

 

Lanklaas het 'n roman my so gevange gehou in die netwerk van kompleksiteite. 'n Posthuman biohacker wat trou met 'n olietenker.  (Love in the time of sensory overload, lees ons op bladsy 285) afgewissel met Rebecca Maas se versorging van haar sterwende vader in 'n slimhuis en haar ma wat "aanwesig" is in 'n stem. (En haar naam verwys subtiel na Thomas Pynchon se The crying of Lot 49 van 1965.) In die yswildernis van Svalbard verdwyn 'n navorser se geliefde kollega. Die soektog is pynlik, en wat beteken die beendere in hierdie verhaal?

 

Waarom hou die roman jou gevange as roman? Omdat dit 'n ongelooflik pakkende analise word van die impak van Covid op ons lewens én hoe tegnologie alles dramaties verander het. 

 

Word die mufkol in die badkamer 'n simboliese waarskuwing van die bakterieë en virusse wat 'n lewe van hul eie het en in 2020 ons lewens dramaties ingeperk het? Wat beteken die ietermago alles?

 

Die roman ondersoek die betekenis van taal en identiteit versus gay-identiteite met die aanneem van 'n swart kind. Die betekenis van die abjekte én die obsessie met uitskot is hier aanwesig met die impak van die wetenskap. Besoeke aan en van die buitenissige word 'n verdere moontlikheid van ons somber en deurmekaar bestaan.

 

Patrick Parrinder se studie oor science fiction Science fiction - A critical guide (Methuen, 1980; opgedateer in 2002) bly 'n baken in die literatuurteorie. Vandag se spekulasie is more se werklikheid.

 

Tussen fantasie en werklikheid word die vertelling voortgestu: Svalbard en husky-sleë; biokrakers en die virtuele wêreld. Seks word hier via 'n skerm beleef en datagrepe muteer onverpoos (317).

 

Skepsel tree in gesprek met die films van Tarkofski en veral Solaris verdien 'n herbesoek. Ons lees van Mørketiden en die obsessie met objektum-seksualiteit. Waarom het die navorser weggeraak? Is dit selfmoord weens depressie of skuil daar iets demonies in die ruimte van die beendere?

 

Jy was te laat vir die toekoms, verneem ons op bladsy 109. En die roman dwing jou telkens terug na dieselfde gegewe wat soms herhaal word om iets beter te verstaan. Partenogenese versus transhumanisme. Daar woon 1200 spesies bakterieë in 'n gesonde mens.

 

'n Pynlike liefdesverklaring aan 'n hyskraan wat 'n onbestendige lover is weens 'n nomadiese aard word briljant vertel (114). Is Wikipedia dalk net 'n roman? Wat maak Moby Dick hier? En sal ons volgens die stemanalis dalk Jesus se stem in die bergpredikasie kan hoor? Selfs die bekende gebed word geparodieer. Ovidius se Metamorfose is 'n belangrike wenk nes die verwysing na die tindikeur ... Is dit dalk wat gebeur het met die karakter soekend na beendere? Of is hy deur 'n ruimteskip opgeraap?

 

Daar word baie sleutels gegee: Baudrillard oor hiperrealiteit, die films van Cronenberg, bakteriële kolonisasie en interkonnektiwiteit, J.G. Ballard, Parsami se paleopetrologie, Turing-toetse, woordspeletjies en die Fermi-paradoks (Besoek 27 November 2020).


Boonop is Ingmar Bergman ook hier in sy uitstaande analises van stilte (261). Compassion fatigue is 'n ander belangrike opmerking.

 

Hoe 'n T-hemp vervaardig in Sjina hier beland met 'n haar ingeweef in die kledingstuk. Pynlike sosiale kommentaar oor die uitbuiting van mense wat lang ure werk in 'n uitsiglose bestaan.

 

Hoe sou 'n mens hierdie roman beskryf? Distopies? Sci-fi? Isaac Asimov ontmoet vir Ursula Le Guin? Anker verplaas spekulatiewe fiksie (of paraliteratuur) binne die ruimtes van hoë literatuur weens die behendige samesnoering van temas en motiewe. Verskillende wêrelde word hier saamgeplaas: die primitiewe bestaan van bakterieë en virusse wat nou die wetenskap troef met mutasies.

 

Uiteraard word 9/11 as 'n ervaring in die verandering van ons denke aangestip, nes die pandemie alles nou verander het. Die nuwe metamorfose ...

 

Dit is 'n dieptastende analise van wat ons tans beleef en nog gaan ervaar. Dis 'n roman vir herlees en herbesoek. 'n Hoogtepunt in my leeservaring.

 

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Fine Music Radio.)