Bladsye / Pages

Tuesday, June 2, 2020

Reisrubriek | Die Covid-19 Catch-22 | 2020


Vrydag, 29 Mei 2020

Die inperkingregulasies word verander. Vandag so. More sus. Gelukkig mag ons faktotum terugkeer werk toe en kom skoon maak.

Die dak mag reggemaak word en die geute word na 1 Junie vervang, Deo Volente.

Die inperkingsreëls verander voortdurend op die merry-go-round van onsekerheid. As roker vind ek haar edele dr. Zuma se optrede met betrekking tot sigarette onaanvaarbaar. Ek het wel rookgoed in die vorm van tabak, maar dit is ‘n bewese feit dat mense wat aan stres ly en nie kan rook nie, angsaanvalle kry. Boonop word jy siek as jy skielik ophou rook – aldus my Moeslem-mondhigiënis.

Drank-aankope gaan ook glo na 1 Junie beperk word. Weer streng regulasies van hoeveel jy mag aankoop. Ons weet almal hoé ingewikkeld en prekêr die balanseertoerjie tussen die ekonomie en gesondheid is, maar die belaglike regulasies maak nie sin nie. Alkoholverbod. Kerke mag oop, maar restaurante nie?

Ons gee toe dis ‘n moeilike tyd vir almal, maar die drakoniese wette het in hierdie tyd verdere (en onnodige) spanning geskep. Die beste een is egter die klere-regulasies van minister Patel.

Maar dit skep darem humor. Dr. Zuma met sigarette in haar weave. Grappe rondom maskers (soos die masker beskerm jou teen ‘n drankasem) en frustrasies. Humor is immers altyd die finale uitweg tot oorlewing.

Nou ja: Twak en Patel is die wet van Transvaal.

*

So ervaar Philip French Fellini se Casanova met die DVD-heruitreiking in 2010:
The semi-coherent, death-obsessed narrative reeks of self-disgust and has the clammy atmosphere of an undertaker’s embalming room. Made entirely on fabulous Cinecittà sets, it’s superbly photographed and magnificently staged and Sutherland (who hated the experience) is a compelling presence (Philip French's Classic DVD | Film | The Guardian. Besoek 30 Mei 2020).
Hiermee word daar verskil, omdat ek die film nou weer bekyk – vir die tweede keer binne twee dae. Die kritiek was indertyd snedig toe die film verskyn het. Fellini self het bely dat hy geen simpatie met Casanova as figuur gehad het nie en eers tydens die verfilming versag het teenoor sy subjek.

Om te dink dat Robert Redford en Jack Nicholson oorweeg is vir hierdie rol.

Die mores van die tyd word uiters subtiel ondersoek. Die digter en letterkundige figuur Casanova se peregrinasieverhaal word in high camp vertel. Sutherland se neus is die ene prostese en die film se fokus op getekende vaginas vind ons later terug met ‘n intertekstuele knipoog in Pedro Almodóvar se Talk to her (2002).

In hierdie film red ‘n verkragting ‘n jong meisie uit ‘n komatose staat en Almodóvar laat jou nadink oor reg en verkeerd. As sy nie verkrag was nie, sou sy nie herstel het nie. Vir die kyker ‘n skokkende opsie. In hierdie aangrypende rolprent – wat handel oor ‘n jong, effens-vertraagde man se obsessie met ‘n pragtige meisie – gebruik hy ‘n wit-en-swart-film om die vrees vir penetrasie te openbaar. Die jong man gaan ‘n donker grot binne.

Die vrees vir vroulike seksuele krag word so verbeeld. Federico en Pedro kyk dikwels na die vertraagde mens se lot.


Saterdag, 30 Mei 2020

Ondertussen vergelyk ons Elia Kazan se produksie van A street car named desire met die nuwe een met Gillian Anderson (Gillian Anderson - A Streetcar Named Desire (Not About Angels) - YouTube. Besoek 30 Mei 2020).

Wanneer ‘n mens dit as geheel beskou, is dit ‘n kragtige produksie met moderne musiek en Anderson wat waansinnig én provokatief is. Tuimelend. Oop met deure wat toemaak. Die Australies-gebore Benedict Andrews teenoor Elia Kazan, die Grieks-Amerikaanse regisseur oor wie Susan Sontag so insigryk skryf in Against Interpretation.

Kwessie van smaak. Persoonlik verkies ek die sober, treurige interpretasie van Vivien Leigh as Blanche. ‘n Persoon vasgestrik in haar leuens en waansin. Miskien speel Anderson se gevaarlike persona te veel in op háár interpretasie? Ons weet immers hoe sy o.a in The Fall en in haar lewe grense altyd uitdaag.

Blanche DuBois

Ek moes altyd genadebrood
eet, in die Flamingo-hotel
minnaars teenskunnig onthaal,
toe ek Belle Rève verloor.
Op soek na ‘n holte vir my voet
met vele vereboas,
vertrek ek na Stella,
my swangersus
in New Orleans.
Genagmerrie ek
oor ‘n lewe tus-
sen grense,
tussen tye:
ek onthou daardie skoot
in die donker nag
toe…
Ek is Blanche, Blanche DuBois,
‘n lenteboord,
ek is die Dame van die Kamelias,
ek is, ek is…

Altyd voor
altyd voor
spieëls
staan Blanche DuBois,
altyd weg van lig
van lig
‘n vlermuis
gevang
nes die soekligte
van waarheid
op haar skyn…

Die brutale Kowalski
ek walg van sy
lyf en reuk
in die Elisiese
velde
tussen illusie
en ‘n gekraakte spieël:

in ‘n donkernag ver-
geet sy die pinnommer
van Vodamail,
skakel in die nag
‘n vergete nommer,
ontdek ‘n vreemde selfoon
in haar sak ná ’n nag
soekend soekend na ‘n Blanche duBois
op ‘n Streetcar named desire…

Vivien Leigh en Cate Blanchett
word één met Blanche:
“…I’ve always depended
on the kindness of strangers…”.
Droewe, melancholiese Blanche,
alkoholis en self-bedrieër,
met hierdie vers
verlos ek jou
van eensaamheid
en waansin:
nou speel ek vrolike
Weense walse
net vir jou net vir jou
word één met jou
soos ‘n gerekende aktrise
dansend dansend
wég van verguising
en verkragting.

(Matriks: 2015). 

*

Nights of Cabiria is in 1957 uitgereik en Truffaut beskou dit in daardie tyd as Fellini se beste film. ‘n Wonderlike film – beslis nie sy beste nie – wat die storie vertel van ‘n prostituut op soek na ware liefde. Dit begin waar sy deur ‘n swendelaar besteel word en in die rivier gestamp word. Sy word van verdrinking gered deur jongelinge wat keer dat sy deur die damsuiweraar ingetrek word. Sy is egter ondankbaar vir hierdie reddingspoging en keer woedend terug na haar huisie waar sy veg met die ander dames van die nag. Giulietta Masina, Fellini se vrou, is oortuigend in die rol. Eers word sy deur ‘n filmster opgetel, ene Alberto Lazzari, en ‘n danstoneel in ‘n nagklub is verruklik – omdat dit so verkeerd is in die neus-in-die-lug-plek. Sy vriendin keer terug in die nag en so word haar drome verydel om met hom te slaap.

Sy word by ‘n vertoning deur ‘n towenaar gehiptoniseer en deur die gehoor uitgelag.

Haar droom is om ‘n man te vind met wie sy haar lewe kan deel. Ene Oscar wag haar buite in, belieg en beduisel haar. Sy verkoop haar huis, haal al haar geld uit die bank en word deur hom verneuk. Net soos aan die begin waar die minnaar haar in die water gestamp het, probeer Oscar haar oor ‘n afgrond stamp. Sy verloor hom en haar geld. Tog eindig die film positief met jongelinge wat om haar dans.

*

Pasolini het gehelp om die dialoog te skryf en in ‘n wonderlike onderhoud met die vervaardiger Dino de Laurentiis vertel hy hoe hy ‘n lang stuk uit die film gesny het, omdat dit die storiegang vertraag het. Dit word vertel deur Dino in Italjaanse Engels. Ja, hy het dit gesteel (maar Fellini het geweet hoekom) en later het Fellini die stuk teruggebedel en weer in films gesit vir ‘n geleerde gehoor.

Daar word na die film as ugly realism verwys, maar dit is bekoorlik en aangrypend. Dit is ook herhaaldelik bekroon. Een van Federico Fellini se egte, menslike en pynlike films.


Sondag, 31 Mei 2020

Amptelik is ons nou amper klaar met grendeltyd. Onse President bely hy moes eerder gesê het dat hy ook teen die boikot van sigarette op Vlak 4 was.

Too little too late. Ondertussen heers daar verwarring oor skooltoegaan, al dan nie.

Die middag ry ek Kampsbaai toe en kyk na die see. Mense stap buite met maskers. Maar ten minste is ek al nader aan die see ... binnekort sal ek gaan swem.

Saigon, ‘n puik Oosterse restaurant maak vir my osstert. Ek gaan haal dit af. Ontsettend duur en restaurante sal bepaald pryse moet verlaag oorlewing ontwille.

By ‘n ander kontakpunt kry ek rooi wyn. Genugtig. Osstert sonder regte rooi wyn?

More word daar wyn afgelewer. Spierlandgoed.

*

Sondagaand kyk ek na die onderhoude gevoer met verskeie rolspelers met Nights of Cabiria. Assistente en mense wat agter die skerms gewerk het en altyd onsigbaar is. Dit het weke geneem om die religieuse prosessie te verfilm. Dit het gebots met ‘n werklike besoek van mense op so ‘n bedetog wat chaos veroorsaak het.

Dominique Delouche, ‘n persoonlike assistent van Fellini, was werksaam aan hierdie projek. Die uitknip van die man met ‘n sak wat kos aan die armes uitdeel, was gewoon omdat die film té lank sou wees. Dit het niks te make gehad met sensuur van die kerk nie. Hoekom sou die Katolieke kerk negatief reageer op so ‘n suiwer daad?

Hy wys op die kil ontvangs van La strada en hoe hy by Cannes vir Fellini meegedeel het hoe aangrypend-goed die rolprent is. Hy word toe sy assistent. Hy vertel van die dispuut tussen Visconti en Fellini – wat agterna beskou onnodig was. Beide is immers in eie reg fantastiese filmmakers.


Otto e mezzo
La dolce vita
City of women
Roma
Amarcord
Casanova
I Vitelloni
I am a born liar

Almal in my besit wat ek nou stadig weer kan besoek. Die vreugde van tyd wat stadig beweeg.

*

Kyk weer na die Ou-Testament – die versugting om by die beloofde land uit te kom word telkemale opgeteken. Vanuit verskillende hoeke. Toe genoem Kanaän.

© Joan Hambidge