Bladsye / Pages

Thursday, June 4, 2020

Reisrubriek | Hallo, koebaai, Jeanne! | 2020

Foto: Lerato Maduna

Maandag, 1 Mei 2020

Op Netwerk24 verskyn hierdie resensie:

Jaco Fouche – Aanspreeklikheid. Human & Rousseau, 2020. ISBN: 978-0-7981-7833-4

Jaco Fouché is ‘n eiesoortige en produktiewe romanskrywer wat gedebuteer het met Ryk van die rawe (1996) bekroon met die Eugène Marais-prys. Met Aanspreeklikheid het hy die tweede plek verower het in Groot Afrikaanse Romanwedstryd vir 2018. Die troebel tyd deur Ingrid Winterbach was eerste en die derde prys is verower deur Debbie Loots met Die boek van gelukkige eindes. Fouché se Verstevlei wen die derde prys in NB-Uitgewers se Groot Afrikaanse Romanwedstryd in 2012.

Aanspreeklikheid is ‘n besonder boeiende roman oor ‘n man, ene Jaco Diehl, wat betrek word by moorde.

Hy woon eers in Hermanus, dan Sandbaai en beland dan in Kaapstad. Hy het ‘n vriendin in ‘n inrigting, daar is verwysings na dwelms, alkoholmisbruik (die AA) en die verkragting van ‘n man deur ‘n man. En dan moord ...

Die peregrinasieverhaal gemeng met ‘n speurverhaal en ‘n onbetroubare verteller op die koop toe, maak van hierdie roman iets besonders. Die boek is sowat 250 bladsye lank en ‘n mens wil die hele tyd weet wát gaan volgende gebeur. Gaan die moordenaar – eintlik dalk in die meervoud – aan die pen ry? Boonop maak die Bybelse verwysings en voorspellings van swaarkry iets unheimlichs van hierdie roman in hierdie tyd van inperking: 
Ons keer terug na ‘n tyd van swaarkry. Dis Bybels om so in siklusse te leef. Kyk hoe lank het die Israeliete in ballingskap verkeer. (181)
Ons is nou in grendeltyd eweneens bewus van ellende.
Maar my geestelike geesdrif is daarmee heen en deesdae is ek die louwarm kos in God se mond wat Hy binnekort sal uitspoeg.(156)
Ons het egter ‘n skrywende verteller: dus onbetroubaar wat die belewenis en vertelling deurmekaar laat vloei. En boonop is daar ‘n verwysing na Georges Simenon se Maigret-speurder wat waarsku dat menslike emosies belangriker sal wees as plot.

‘n Skrywer wat ‘n roman skryf oor Fouché, die historiese figuur, die Duke of Otranto? ‘n Man wat bekend was vir sy agterbakse en rewolusionêre optredes. Gaan kyk maar na die geskiedenis met Robespierre en wat hy van die koning gedink het. Dit is ‘n belangrike kode vir ongerymdhede wat in hierdie roman gaan gebeur. Napoleon se minister van polisie, die slagter van Lyon is die onderwerp van die verteller se boek, ‘n man wat ‘n situasie kon lees en bewimpel.

Dus ‘n konfrontasie met werklike moorde in die hede teenoor koppe wat rol in die verlede. Silence of the lambs staan ook opgeteken as inspirasie in die nawoord. 

‘n Rekenaar wat oppak en hardeskryf wat uitgewis word, is verdere waarskuwings dat jy nie die verteller op sy woord moet neem nie. ‘n Doolhof inderdaad.

En die uitgewer in sy roman beskryf sy werk as die filosofie van die nihilisme. Inderdaad. Want wat het ‘n skoonmaker met karate te make met Yokio Mishima? “‘n Mens moet jou ekskursies, soos jou woorde, tel,” waarsku die verteller. En dalk bedoel hy ook jou intellektuele ekskursies?

Die fiksionele uitgewer meen verder die lewe bestaan uit vlakke en lae. En met hierdie roman is dit bepaald die geval. Die skrywer in die roman spot ook met sy posisie as skrywer dalk as synde “high maintenance vir low returns”? Hiermee word daar kommentaar gelewer op die eise om suksesvol te wees wat die skryfproses mag beduiwel.

In die erkenningslys word daar o.a. na Colin Wilson verwys. The Outsider en sy studies oor reeksmoordenaars en buitesintuiglike ervarings is van sy werke wat hier na vore kom. Jack Kerouac se On the Road slaan deur. Wilson het as jong man bedags in biblioteke navorsing gedoen en snags in parke geslaap totdat sy eerste boek ‘n blitsverkoper was. Die Beats – soos Kerouac – het die kapitalisme verfoei en in hul skryfwerk ondermyn.

Die werklike skrywer vind kennelik aanklank by skrywers wat die donker kant van die psige karteer soos Donna Tart in The Secret History en Bret Easton Ellis in American Psycho.

Nog ‘n skrywer wat skryf oor ‘n storie omdat daar nie ‘n storie is nie. Absoluut nie. Hy dupe jou. Hy lei jou om die bos en trek al skrywend sy voetspore dood. Te laat besef jy dat jy jou in ‘n metaroman bevind.

In hierdie tyd beland In the Dream House van Carmen Maria Machado op my lessenaar, ‘n roman wat verlede jaar verskyn en internasionaal opslae gemaak het. Hier het ons eweneens ‘n skrywer wat agentskap binne ‘n lesbiese verhouding fiksionaliseer en vanuit verskillende perspektiewe beskou: as American Gothic, as pathetic fallacy, as spy triller, ensomeer.

Vreemd hoe boeke met mekaar in gesprek tree. Twee skrywers op verskillende kontinente wat die verskillende aspekte van lees en skryf ondersoek. Beide voorspel die virus wat ‘n hele wêreld tot stilstand gaan ruk.

En ‘n verder heerlike stuk ironie: die Amerikaanse karakter besoek Suid-Afrika as jong kind en lewer kommentaar op die landskap. 

Aanspreeklikheid bevat apokaliptiese en distopiese elemente. Die nawoord gee belangrike sleutels vir verdere speurwerk in hierdie roman. ‘n Mens behoort Skrywersblok (2009) weer te lees wat weens die grendeltyd onmoontlik was vir hierdie leser.

‘n Spannende roman wat iewers die draak steek met die letterkunde se beheptheid met speur- en moordverhale tans en wys dat jy helder en toeganklik kan skryf sónder om oppervlakkig te wees. 

*

Ek tel 12 bottels Spier Cab op. Vir my en vriende. Die inperking is verby. Alkoholvrye bier kan nog, maar die wyn helaas nie.

In die aand is dit Fellini se herinneringstog: Amarcord.


Dinsdag 2 Junie 2002

Something’s got to give. Die dak word reggemaak en my kombuisdrein is verstop. Skielik is daar water oor die kombuisvloer. Ek en die faktotum spook om te sien waar die lekkasie is. Ontdek die prop onder die U-boog het verroes. 

Ek neem ‘n foto van die prop en plaas dit ter wille van die regte agtergrond op Tristia en stuur dit vir die loodgieter.

Binne ‘n halfuur is daar ‘n hulpvaardige jong swart man wat met my kwinkeleer.
“Waar is jou masker?”, vra hy.
Ek sit onmiddellik ‘n wit masker op.
Gelukkig het hierdie oorstroming tydens Fase 3 gebeur waar mense mag uitgaan om te help. Flink en hulpvaardig.

*

Die bedelaars word aggressiewer wanneer ‘n mens nie iets wil koop in die winkel nie. Geld is nie genoeg nie. Hulle het voorskrifte én voorkeure. Soek Peanut Butter en brood en melk.

Die ellende van mense gryp aan die keel, veral na 6nm.

*

Jo Stafford sing No other love – hartverskeurend mooi.

Die 8nm applous in Kaapstad word al hoe minder uitbundig.

Miskien omdat ons weet die virus gaan nog lank met ons wees?

*

My oor word fyner ingestel met die Franse CD’s. Dominique de Louche se Frans volg ek beter wanneer hy praat oor Fellini. 

*

Nou wag die herinneringsfilm, Amarcord.

‘n Uitsonderlike film waarin die jong man Titta se rite of passage tydens die Mussolini-tydvak ondersoek word. ‘n Lieflike rolprent wat al die argetipes van ‘n kleindorp weergee: die familie, die onderwyser, die priester, die hoer, die stoute kinders wat masturbeer in ‘n springende motor (wat deur vele Hollywood-regisseurs al geskaai is), die fokus op die verskil tussen waansin en normaliteit teen die agtergrond van die oorlog. Met skerp kommentaar op Fascisme.

En uiteindelik die dood van die moeder.

Dit werk met sterk en bekende simbole – soos die pou se vere wat later in slaapkamertonele herhaal word. Mooi tonele soos Titta wat vry met die winkelvrou en sy kop tussen haar massiewe borste plaas en die tepels op haar aandrang moet suig. Altyd die oermoeder in Fellini se films wat die jong seun inisieer. Terselfdertyd word hy versmoor deur háár passie. En hy bly onvervuld.

Die film begin met die lente en die pofblommetjies wat deur die lug wapper. Dan word dit winter en uiteindelik is dit weer lente. Die ritualistiese verbranding van die Ou heks van die winter aktiveer die paganistiese aspek van die film wat met etlike primordiale simbole werk.

Moreaand sal ek weer terugkeer na hierdie komplekse film.


Woensdag, 3 Junie 2020 

Jeanne Goosen het vertrek. ‘n Vreemde hartseer neem van my besit.

Die afgelope tyd is daar geskryf oor haar biografie, haar gedigte (onaf in manuskripvorm) en haar onvergeetlike aforismes.

Goosen is veelkantig, ‘n kreatiewe wonderwerk wat in vele genres haar merk gemaak het. Ons is nie almal so nie. Lou-oond. Paw-paw vir my darling, Elders aan diens ...

Om ‘n mens na te boots.

In hierdie vreemde teks vind ‘n mens die essensie van Goosen: die mengsel van fantasie en realiteit. Die storie van Bres, Brim en Dana. Dalk dieselfde persoon?

Jeanne het in Parow groot geword en selfs hierdie ruimte het sy gefiksionaliseer. Hoe is die pa dood? Hieroor bestaan daar verskillende weergawes. Maar fiksie was háár ruimte en soos Fellini het sy telkens teruggekeer na die plek van grootword en kreatief daaruit geput. In die bekende kortverhaal “Aan die einde van die reënboog” (1987) speel sy met herinnering aan Bellville / Parow met ‘n vrou wat mans bliksem in ‘n kroeg – met Anneli van Rooyen se bekende liedjie wat speel in die agtergrond.

Die Commercial Hotel se Ladies Bar: ‘n Klipdrift Double, ‘n Goodyear-asbak en ‘n Texan is hoe die verteller haarself beskryf wat haar binne die orde van die manlike domein bevind.
Die spanning ontstaan wanneer ‘n man vra:”Ou pel,” sê hy.”Wat is DIT wat nou net hier ingestap het? Issit ‘n man of issit nou ‘n vrou?”

Dan ontstaan daar ‘n weddenskap tussen die mans of dit ‘n man of vrou is. Die verteller staan op en dink: “Ek is lank, lenig en dertig. Ek is so fit soos Rodger Bannister voor hy die vierminuut-myl gekraak het. Ek is ‘n vrou, en ek vat g’n kak van niemand nie.”

Die man wat gebliksem word herinner haar aan die Laerskool Parow se hoof – sonder sy lat.
Sy sit die man in ‘n hewige, fisiese stryd op sy plek.

Carmensita in die kroeg bewonder haar en die spreker sê: “Hulle noem my Jean,” antwoord ek.”Net Jean.”

Aan die ein-de vôn die reë-enbôô-ôôg...! sing Anneli van Rooyen ten slotte wanneer die oorwinning beklink is.

Jean = Jeanne en in die fantasie (met die strikdas) kan alle gender- en jeugkonflik ópgehef word.
Jean (manlik) versus Jeanne (vroulik); Jean (jeug) versus Jeanne (die volwasse skrywer).

*

Almal van ons het ‘n komplekse verhouding met Jeanne gehad. Terwyl jy nog lekker nadink oor ‘n samesyn van lag en heerlikhede, gee sy jou ‘n dwarsklap. Jy gee vir haar ‘n digbundel persent wat sy met potloodstrepe bekrap en jou vertel hoe vrot Die verlore simbool is.

Iets wat ‘n mens leer navigeer. Haar kreatiwiteit het altyd vergoed vir beskuldigings en rugstekery.

Dan onhou jy weer ‘n uitbundige aand – waar die uwe paradeer as Pavarotti met ‘n handdoek om die kop en saam-mime – en Jeanne wat ballet doen. En op The Sound of Music dans met ‘n vrou.

Of hoe sý saamsing in Melville se Question Mark met twee akkordeon-spelers.

Of klavierspeel by Phil du Plessis se huis. Of jou opbel met ‘n lang, verdrietige gesprekke.

Jeanne sou jou ook bystaan wanneer jy deur slegte tye gaan en teenstanders van jou wegklap.

Nou is Jeanne Goosen elders aan diens. Mag die impak van haar besondere werk na waarde geskat word. Veelkantig en eiesoortig.

© Joan Hambidge