Bladsye / Pages

Saturday, November 30, 2019

Resensie | Etienne van Heerden – Die biblioteek aan die einde van die wêreld (2019)

Etienne van Heerden – Die biblioteek aan die einde van die wêreld. Tafelberg, 2019. ISBN 9780624089216.

Resensent: Joan Hambidge

I

Ons leef in die Republiek van taboe. So staan dit in hierdie roman opgeskryf. Inderdaad so. In 'n tyd van ongelooflike sensitiwiteite en aandagekonomie. 'n Tyd van onmiddellikheid. Van die globale het die hier-en-nou geword. Van onsekerheid. Van linguicide. Littekenliteratuur. En wat nog. So word die roman opgesom:

Prokureur Ian Brand stuur 'n ondeurdagte twiet die kuberruim in en sy lewe word oornag pure hel. Thuli Khumalo, studenteaktivis op 'n kampus wat stink na petrol en traangas, moet kies tussen vaderverraad of haar beginsels versaak. Snaar Windvogel, vroeër van Matjiesfontein, is nou in transisie onder die lem van 'n enigmatiese plastiese chirurg. En al hoe gereelder slaan 'n kruisboogmoordenaar in die Moederstad toe...

Hierdie en vele ander fassinerende karakters bevolk 'n landskap waarin die enigste sekerheid ónsekerheid is. Want Etienne van Heerden se tergend aktuele nuwe roman sê veel oor die tyd waarin ons lewe, waar privaatheid en identiteit abstrakte begrippe geword het, fopnuus ononderskeibaar van die werklikheid, en “die waarheid” klaarblyklik 'n onhaalbare ideaal.

En dit is inderdaad waaroor hierdie roman handel. Oor verglyding op alle vlakke: gender, leuens wat as waarheid paradeer, intellektuele bakens wat nie meer staan nie ...

Een emmer oor Rhodes se standbeeld het hoër onderwys verander in ‘n ommesientjie.

Die lywige roman karteer die #Rhodesmustfall- en #feesmustfall-bewegings en die impak op die moderne mens se lewe. 

Verskillende landskappe word ondersoek: Kaapstad, die Karoo, Matjiesfontein, Boedapest, Shanghai, Beijing ... Ook landsgrense het fluïed geword.

Die titel verwys na die vader se ervaring van die biblioteek en die moeder wat dit dan sien as 'n biblioteek aan die einde van die wêreld.

II

Rondom die dramatis personae, te wete Ian Brand en sy medestudent, Thuli Khumalo wat 'n kursus in vertaalkunde aan die Universiteit van Kaapstad volg, word die politieke omwentelinge van die afgelope tyd aan universiteite op 'n ryk, geskakeerde wyse onder die loep geneem.

Ian se seksuele verhouding met Elizabeth, 'n fiksie-uitgewer, gee ruimte vir kommentaar op wat uitgewershuise tans behoef. Dat nie-fiksie sterker as fiksie geword het. En vra die wêreld nie al hoe sterker verhale - in Philip Roth se woorde - as wat enige fiksieskrywer kan bedink nie?

Witheid, meertaligheid en die rol van jou eie taal, word aan bod gebring. Thuli verteenwoordig die swart teenpool: mense wat in die struggle geveg het en nou deur korrupsie uitgerangeer word. Haar reaksie op haar vader (wat ek nie vir die leser wil verklap nie) is 'n siniese kommentaar op wat skrywers doen. Sy vertrek na Sjina om navorsing te doen oor grond en die betekenis daarvan.

Daar word eweneens kommentaar gelewer op die huidige stand van sake in ons uitgewersbedryf. Die vrae wat hulle behoort te gevra het, word 'n kritiek op die digkuns wat 'n bedryf van gedigte oor die digkuns geword het met jonger digters en hul narcisme op sosiale media. Ook die juigende resensies word aangevat en die "kultuur onder beleg lek sy eie wonde" (254).

Hierdie roman is, soos Casspirs en Campari's uit 1981, 'n tydsdokument.  Die onnadenkende twiet van die hoofkarakter veroorsaak ernstige probleme. Die roman het 'n dubbele bodem (208): elke stelling of kritiek openbaar 'n ánder kant van die saak.

Rassisme, triggering, kunswerke wat verwyder word omdat dit mag aanstoot gee, word deel van die aanbod. Die twiet eggo Helen Zille se kolonistiese twiet.

'n Plastiese sjirurg se "verrukking" is die popliteale fossa (Popliteal fossa/ Anatomy and contents | Kenhub. Besoek 29 November 2019).

Kniefossas as treurige oë word 'n kommentaar op ons tyd waar alles reggestel kan word deur sjirurgie. Volgens hierdie kommentator is vel ook manipuleerbaar. Hy verander die gender van Snaar(tjie), 'n karakter uit In stede van die liefde (2005).

In 'n pynlike afdeling ("Trigger warning") lees 'n klasgenoot Jerome Maarman 'n verhaal uit sy lewe as bruin mens voor. In hierdie afdeling word rasvooroordele en hoe mense in die ou-Suid-Afrika verminder is (en selfs van diefstal beskuldig is) 'n pynlike onthulling. Ook wanneer Ian in sy "fuck buddy" se kas huil oor sy wete dat hy in wese alleen is.

Die beskrywing van ‘n ete aan ‘n ouerhuis in Welgemoed is in die kol. Boerboel en al met die soetpampoen en gestolde lamsboud …

III

Die roman ondersoek wat alles gebeur wanneer jy clickbait word. Dit is – soos reeds uitgewys – ‘n tydsdokument.

Soms word kwessies herhaal (uiteraard omdat dit vanuit verskillende perspektiewe beskou word) en die sondes van inlees, word soms netjies gepypkan (327).

Hoe die impak van dekolonisasie werk, word gesatiriseer in ‘n Monopoly-speletjie van Jack Lemkus, ‘n speelgoedsmous. (In die tekening van hierdie karakter is daar aardse dialoog soos “vanaand spring ons die poppe plat”, 337). Daar is ritte in ‘n Alfa en hierdie roman sou ook ‘n teks van paranoia genoem kon word. Die vrees vir afluistering en openbaarmaking loer om elke draai.

Die kwessie van gesigsherkenning (en verandering) kom ook aan bod. Hier trap ek fyn om nie die plot weg te gee nie, ofskoon hier ‘n skeut suspension of disbelief aan bod kom.

Piekenier? ‘n Uiters tersaaklike naam (Piekenier betekenis en definitie. Besoek 29 November 2019).

En is voolkop met opset so gespelle op bladsy 418?

Die verwysing na Boccacio se Decamerone (1313 – 1375) is relevant en die werklike restaurant in Stellenbosch word ‘n voertuig om die Stellenbosse mafia – wat hier vergader – te ontmasker. In Boccacio se raamvertelling word daar vertél om die swart pes af te weer. (Hier het ons sewe afdelings: Brandmuur, Tsotsikapitaal, Kwarantyn, Die Instituut vir Aanmoediging, Swart Suidooster, Hashtag Shanghai, Die blioteek aan die einde van die wêreld wat die storie raam.) Selfs die Spur se mitologie kom aan bod nes spuugbakkies en die Hoerikwaggo.

Vir sommige lesers mag die gevoel wees dat ons nog nie heeltemal presies weet waarhéén hierdie nuwe orde op pad is nie. Wat sou Flaubert met sy langdurige geduld hiervan gemaak het? Of moet ons eerder luister na Deleuze se Postscript on the Societies of Control? Susan Sontag se “Project for a Trip to China” praat ook saam (179) nes Paul French se Midnight in Peking (1937). Grensverhale versus littekenliteratuur. Niks kan meer weggesteek word nie.

Uiteindelik lewer die roman veral kommentaar op die posisie van Afrikaans, op die taal as etniese merker en hoe Ian Brand weet sy taal het getransformeer van kombuistaal tot hof- en wetenskapstaal (414). En hoe hy gesig verloor het oor sy twiet en kommentaar lewer op die nuwe kennissisteme wat ons lewens radikaal verander het. Hierom lyk die biblioteek van die toekoms anders vir sowel hóm as vir Thuli.

Vandaar die siniese opmerking: Die Biblioteek Wat Nooit ‘n Besoeker Sien Nie

Ander lesers mag dit loof vir die uitsonderlike blik op die hier-en-nou in ‘n tydvak waartydens loerbroer ‘n werklikheid geword het met kunsmatige intelligensie, die lewe as ‘n virtuele droom, kuberutopie.

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Fine Music Radio)

Monday, November 25, 2019

Huldeblyk | Réna Pretorius (1932 - 2019)

In 1979 is ek die voorsitter van die Afrikaanse Studiekring ('n studentevereniging) aan die Universiteit van Stellenbosch. Ons nooi verskillende sprekers om met ons te kom praat, en een van die hoogtepunte was die besoek van Réna Pretorius, later hoof van Afrikaans aan UP, saam met A.P. Grové en Elize Botha.

Die waardige vrou daag op met 'n hoed en handskoene. En sy lewer 'n uitstekende analise van N.P. van Wyk Louw se "Groot ode" waarin sy onder andere op die musikale struktuur van die gedig wys. Daar is 'n boeiende verwantskap met Beethoven se Grosse Fuge in die sogenaamde versoening van "gees en intellek".

Die kontrapuntale styl word 'n dialektiese sintese, by sowel Beethoven as Louw, meen sy (Ryk domeine, 119).

Louw, beweer sy verder, is nie religieus onbetrokke of neutraal nie. 'n Dosent van die departement vererg hom en meen dat Louw geen Christen was nie. Pretorius bly hoflik en wys op die metafisiese soeke wat regdeur sy werk loop. 

Hierna lewer sy commendatio's vir my en Deon Opperman toe ons die Eugène Marais-pryse ontvang in 1987. En kapittel my, omdat ek kougom in my mond het. (Uiteraard weens spanning, krabbel ek terug).

Hierna het ons mekaar beter leer ken en deur die jare het ek haar ongelukkig net tweekeer gesien op besoek in Pretoria. Haar werk het egter deurgaans beïndruk. Sy was ook opgelei in die wiskunde en hierom is haar lesings en essays altyd logies uiteengesit.

Sy het die digter T.T. Cloete se werk as besonders ondersoek en die parabool as 'n versoening tussen die wiskunde en letterkunde gesien. Wyle Lucas Malan het sy doktorale studie onder haar leiding voltooi (saam met J.C. Kannemeyer) onder die titel Paradoks & parabool wat handel oor die latere werk van Ernst van Heerden (Haum, 1992).

Van haar artikels is opgeneem onder die titel Ryk domeine (Human & Rousseau, 1984). Eybers, Louw, Peter Blum, Cloete, selfs Totius se werk word vir die leser oopgemaak.

Oor Van Heerden skryf sy insigryk as 'n beeld-virtuoos en ondersoek Van Wyk Louw se stelling dat 10 goeie gedigte 'n digterskap bevestig. Sy meen daar is egter meer as net 10 en sy wys op die spel met die tyd in Van Heerden se digkuns.

Oor Elisabeth Eybers se ironie skryf sy goed. Sy was die kritikus wat ons daarvan bewus gemaak het dat Eybers se gedigte - ten spyte van "die uiterste beknoptheid en kernagtigheid" - tog die indruk van spontaneïteit en onmiddellikheid maak (Ryk domeine, 79).

Sy kyk na die stigiese verse en die rym in haar poësie. Hier is die wiskundige aan die woord wanneer sy prinsipes van die gedigte ondersoek.

Opperman en Totius. En hoe 'n digter 'n ander digter se idees verwerk in die ondersoek tussen "Die gees van Donker Afrika" en "Clat Boek" van Opperman.

Oor Leipoldt is sy eweneens in die kol wanneer sy "Vrede-aand" herwaardeer.

Telkens in al haar lesings oor die digkuns gaan sy terug na oertekste: die Nederlandse Bybel, die Joodse Talmoed, Latynse geskrifte, o.a.

Nou onlangs maak sy 'n buiging in Kerneels Breytenbach se roman Hond se gedagte
(2019) en in Stet is daar destyds 'n foto van haar geplaas - weliswaar satiries - omdat sy só waardig was. Maar diegene wat haar geken het, sou weet sy was 'n besondere mens en beslis nie hovaardig nie.

Sy sou die urbanité raakgesien het en dat hierdie send ups verhulde huldeblyke en erkennings was van haar statuur. 

'n Hele geslag jong lesers het sy leer stiplees en Johann de Lange is eweneens positief oor haar invloed op sy denke.

'n Enorme intellek en besondere stilis. Wat sy oor Peter Blum skryf, is eweneens op haar van toepassing: die gawe van die ironiese saamdink van teenstrydighede ... 

Met haar vertrek, dink 'n mens ook aan Elize Botha - 'n lewe in woorde - en aan die werk van Grové. Ons mis sulke groot literatore in ons huidige tydsgewrig. 

© Joan Hambidge

Sunday, November 17, 2019

Resensie | Ian McEwan – The cockroach (2019)

Ian McEwan – The cockroach. Jonathan Cape, 2019. ISBN 978 1 529 11 292 4

Resensent: Joan Hambidge

Literêre duimgooiery ('n term van T.T. Cloete) is hoe 'n mens die jongste novelle, The Cockroach van Ian McEwan, ten beste sou kon beskryf. Dit is 'n klein boekie van honderd bladsye wat in gesprek tree met Franz Kafka se Metamorfose en al die bekende satirici wat politieke en sosiale omgerymdhede aan die kaak gestel het. Boonop gooi hy duim ook langs die politieke woelinge in die Verenigde Koninkryk.

Hier te lande is Etienne Leroux se Magersfontein, O Magersfontein van 1976 'n briljante voorbeeld van satire: die skrywer plant 'n teoretikus se siening oor satire in die roman as 'n sleutel.

Satire werk immer met ironie, hiperbool én sarkasme. D.C. Muecke se bekende studie The Compass of Irony (Methuen,1969), en al die merkers van ironie, word ryklik deur McEwan se novelle geaktiveer. Ene Jim Sams word een oggend wakker en besef hy het verander in 'n groot kreatuur. Hierdie metamorfose verwys natuurlik na Kafka. McEwan plaas die gegewe binne die Britse domein: die mees gesiene man in Engeland word nie deur reëls aan bande gelê nie. Nie eens deur sy eie party nie ...

Brexit is kompleks en wat 'n mens waarneem op CNN is net die tippie van die ysberg. Hoe meer 'n mens lees as buitestaander, hoe minder begryp jy al die intriges. Wat ons onmiddellik by die eerste kwessie van hierdie novelle bring: dit is geskryf vir 'n in-leser wat al die nudge-nudge, wink-wink-verwysings sal snap. Die buite-leser geniet wel die besondere styl en aanslag.

Die ooreenkomste tussen lewendes en dooies (so lees ons in die opdrag) is toevallig. Jy kan egter nie die rolspelers met vreemde haarstyle en 'n vreemde gebit miskyk nie. Of die "scorn of derision" (97) nie. Downingstraat is hier, die Division Bell, en ene President Tupper.

In Love Actually, Richard Curtis se briljante film van 2003, vertolk Hugh Grant die eerste minister. Sy ikoniese danstoneel op Jump for my Love laai alles met speelse satire. Hier is daar ‘n banket met ‘n Sinatra-nabootser wat “My Way” sing. Gloria Gaynor se “I Will Survive” laat ‘n tranerige gehoor opstaan.

Die sogenaamde "vices and follies" van die oortreders in enige vorm van satire word aan die kaak gestel met die hoop dat daar 'n beter bestel gevind sal word. Hiermee besef 'n mens dat 'n satirikus in wese iets van 'n romantikus of dromer is om te dink dat sý, of háár boek of traktaat, die magshebbers in hul spore gaan stuit. Waarskynlik waarom satirici so onsteld is wanneer hulle gesensureer word; hulle het immers 'n beter orde in gedagte. (Leroux; Anton Kannemeyer, et al.)

Waar McEwan homself oortref, is wanneer die kokkerot (blattodea) sy ellendes bely in ‘n toespraak.  Die liefde vir die donker - wat net soos by mense - 'n lewenswyse is! En die "repulsive taste for clean water" (98) word uiteraard ironies bedoel. Daar word ook 'n dwarsklap gegee na aardverwarming, oorlog en bedrog in 'n hiperboliese beskrywing wat 'n mens laat skaterlag. (Die kodewoord hier: Reversalism.)

Kafka se boek speel in 1915 af wanneer Gregor Samsa verander in ‘n insek.

In ‘n “ungeheures Ungeziefer” het Nabokof soos volg oor hierdie boek geskryf: The transparency of his style underlines the dark richness of his fantasy world. Contrast and uniformity, style and the depicted, portrayal and fable are seamlessly intertwined" in sy beroemde Lectures on Literature (Weidenfeld and Nicholson, 1980: 260). 

Dit is eweneens van toepassing op McEwan se novelle.

Ungeziefer is ‘n “dung beetle”, maar volgens Nabokof, ‘n lepidopteris, het ons by Kafka eerder ‘n gogga met vlerke. Nabokof was ‘n uiters punteneurige leser wat elke straat of verwysing in ‘n teks nagespeur het soos ons weet uit sy lesings aan Cornell Universiteit.

En hierdie spitsvondige gekibbel wat ‘n mens in sy notas vind, bewys dan dat Kafka se gogga in Ian McEwan se novelle ingevlieg het.

Inderdaad ‘n Verwandlung of metamorfose. Want die politieke agtergrond het nie verander nie.

Op wie slaan Archie Tupper in Washington? En verwarring rondom taal lei tot misverstand. Soos die “scales will drop” wat die vertaler letterlik interpreteer.

‘n Mediastorm rondom Jane Fish is presies hoe dit werk. Sy word “pipe-smoking Jane” in  spotprente, omdat sy eenkeer in Belfast ‘n pyp se rook in ‘n kind se gesig geblaas het om te wys hoe sleg sekondêre rook vir ‘n mens is (71).

Daar is ‘n spel rondom nabootsing en die “blattodean core”. Mense hier is blote afskynsels van mense. Nabokof sou waarskynlik ook die roete van kokkerot gevolg het. Die Samsa-woonstel het hy ‘n skets van gemaak (257).

As jy ‘n smoel vir satire het, is hierdie geel boekie vir jou.

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Media24)

Friday, November 15, 2019

Resensie | Marita van der Vyver – Grensgeval (2019)

Marita van der Vyver – Grensgeval. Penguin, 2019. ISBN: 978 1 4859 0379 6

Resensent: Joan Hambidge

Die verlede is ‘n land waarheen jy nooit kan terugkeer nie

I
Ruan Kemp se Gedeeltelik bewolk het vroeër vanjaar by Tafelberg verskyn met ‘n opdrag: vir D.B. Die roman het tot polemiek gelei oor wat behoort het aan die Dave Bishop en wat Kemp bygelas of herinterpreteer het? Dit bly ‘n komplekse gegewe waarop die antwoorde eers later gevind sal word (Woorde Wat Weeg | Resensie | Ruan Kemp – Gedeeltelik bewolk, 2019).

Nou kom Marita van der Vyver met Grensgeval (Penguin) en sy dra haar boek op aan Dave Bishop, haar voormalige eggenoot en ‘n karakter in Griet skryf ‘n sprokie.

Grensgeval is ‘n boek oor die grensoorlog (Angola) en verwys ook na die sogenaamde borderline personality disorder. Dit verwys eweneens na paranoïese skisofrenie en bipolariteit. In hierdie boek – ‘n onthouboek – beweeg die hoofkarakter Theresa Marais terug in haar verlede as ‘n bevoorregte wit kind. Sy besef as ouer persoon hoe min sy geweet het van die bestaan van minder bevoorregtes en nie-wit-mense in die ou-Suid-Afrika. Met die roman wil sy dan probeer bepaal hoé dit gebeur het dat sy so oningelig was. 

Haar man – eintlik eksman Theo – se ervarings wat in ‘n boks opgesluit word, is dan ‘n Pandorakis vol geheime. Die ontdekking van ‘n Kubaanse soldaat se brief aan sy kind neem haar na Kuba om die brief terug te gee. 

Sy oorhandig ook Theo se briewe aan sy moeder in ‘n verloopte Sunnyside. Hier ontdek sy in die rassistiese skoonmoeder se woonstel ‘n foto van haarself. Sy is die bruid op die foto, maar helaas uitgesny uit die kiekie (44).

Die besoek aan Havana is eg beskryf. Sy wil egter meer as ‘n toeris wees en besoekers aan Kuba, soos hierdie reisigerleser, weet hoe outentiek sy die kos, die hotel en die ambiance van hierdie verruklike wêreld beskryf word wat vir soveel jare in jong Afrikaners se gemoed gedemoniseer is.

In die beskrywings van ouer Afrikaners is die gebruik van die woord opneuk erger as die k-woord (94), wat weer eens bewys op watter vasteland ons geboer het.

Sommige ervarings word inderdaad nooit vergeet nie, net onderdruk (107). Hierdie goed geskrewe, hoogs leesbare roman navigeer die pynlike ontdekkingsreis van Theresa.

II
Die roman word onder verskillende titels ingedeel wat die verhaal konkreet begelei, soos “Hemingway se bed” en “'n Vuurwapen”. Hierdie twee hoofstukke wat ek uitsonder, is gelaai met subteks. Die skrywende Hemingway in die hotel Ambos Mundos, is ‘n belangrike kode vir die teks. Hemingway is ‘n toeristiese baken in Havana en sy vriendskap met Castro gee ‘n ander blik op die vertellende instansie wat grootgeword het met ‘n negatiewe indruk van hierdie staatshoof (Woorde Wat Weeg | Reisjoernaal/ Kuba & Mexiko, 2004Besoek 15 November 2019).

Sy het somervakansies beleef, terwyl haar man op die grens was. Hierdie ervaring het hom so verwond dat hy selfs ‘n vuurwapen op haar rig. In die beskrywing van ‘n ongelukkige huwelik wat gekenmerk word deur emosionele geweld, vind die leser ‘n hoogtepunt in Van der Vyver se oeuvre.

Die beskrywing van medespelers in Kuba – soos Ruben, Lazaro en Oreste – word eweneens goed gedoen. Newekarakters (soos die prokureur, Nini, die skoonmoeder en ouers word goed geteken. Die gesprek met die moeder en self is pynlik-eerlik. Ook die kwellinge rondom die lyf en seks, is eerlik.)

Die roman wentel om verskillende opposisies: haar man se troostelose weermagervaring teenoor haar onskuldige ervarings; haar vriendin in Pretoria se ervarings teenoor ‘n bestaan in die Kaap; hede teenoor verlede; die jeugdagboeke teenoor die man se “swart joernaal” (ook ‘n army boks) en die pa se brief.

Daar is oomblikke in hierdie roman wat so pynlik is dat ‘n mens eers die boek moet toemaak.

Dit is ‘n roman van boetedoening (‘n brief wat gevind word en vergifnis wat begeer word) en ‘n ondersoek na die letsels wat oorlog op ‘n mens laat.

Die toneel waar ‘n Munch-koppie uit Theresa se hand geklap word en die “preek” in die kerk, is eweneens dwingend beskryf. (Per ongeluk ‘n dubbelsinnige taaipou: tikland in plaas van Stikland op bladsy 258.)

Metabletika is die konsep van J.H.H. van den Berg: die ontoevallige samehang van gebeure (Metabletica - WikipediaBesoek 15 November 2019).

Twee romans ondersoek Dave Bishop, een vanuit ‘n meer gedistansieerde manlike perspektief; die ander vanuit ‘n vroulike, intiemer hoek.

En ‘n mens kan nie die verlede regmaak of regdokter nie.’n Mens kan alleen dit in die herinnering en in ‘n roman of nie-fiksie besoek. Die brief aan die geliefde dogter (Mi Querida Hija) is ‘n pynlike analise van wat oorlog aan mense doen en die hoop dat ons dit kan vermy.

Die afwesige teenwoordigheid wat altyd sou bly spook.

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Fine Music Radio)


Monday, November 11, 2019

Rubriek | Woody Allen – A Rainy Day in New York (2019)

I

Dis nou maar eenmaal so met Woody Allen: hy is die meester van sub-teks. Hy maak 'n film oor die liefde teen die agtergrond van sy geliefde stad New York, en meer gebeur as wat die blote oog met 'n eerste oogopslag mag raaksien. Daar is kopknikke na Manhattan en Vicky Christina Barcelona, maar hier gebeur iets anders. Twee jongelinge besoek NY, vertolk deur Elle Fanning as Ashleigh Enright en Timothée Chalamet as Gatsby Welles. Ashleigh moet met 'n regisseur (Liev Schreiber as Roland Pollard) vir haar universiteitsblad 'n onderhoud voer. Gatsby het inmiddels geld uit dobbel gemaak en kan 'n heerlike tyd in 'n duur hotel bekostig.

New York het egter sy eie agenda, merk 'n karakter op en dis presies wat hier gebeur. Terwyl Ashleigh besig is met die interview, raak Gatsby toevallig betrokke by 'n klein film. Sy rolletjie is dat hy net 'n meisie moet soen, maar sy is die suster van sy eks wat alles van seksuele vermoëns weet. Ashleigh, op haar beurt, word weer ingekatrol by die intrige van die regisseur se produksiebestuurder, ene Ted Davidoff (Jude Law) wie se vrou hom verneuk met sy beste vriend. In die reën konfronteer hy sy vrou, terwyl Ashleigh hom bystaan. Die regisseur is soek; hy dink die rolprent is nie goed genoeg nie.

Ashleigh beland toevallig op die stel van 'n Franse hartebreker (Diego Luna as Francisco Vega) wat vir haar lieg dat sy meisie hom gelos het. Die pers slaan toe en sy is op TV as sy nuwe squeeze. Gatsby sien dit toevallig in sy hotelkamer. Hartgebroke in 'n kroeg ontmoet hy toevallig 'n gesellin.

Hy neem haar na sy ouers se party - wat hy probeer ontduik het - maar ongelukkig het sy tante en oom hom vroeër die dag in die MOMO raakgeloop. 

Alles werk soos in die film soos 'n Franse klug. Misverstande, toevallige ontdekkings, leuens.

Die Wendepunkt is wanneer sy moeder hom voor stok kry oor sy gesellin. Hierdie konfrontasie is 'n hoogtepunt wanneer sy onthul sy was sélf 'n demi-monde in haar jeug. Sy het egter op haar man verlief geraak en wat haar seun as pretensie ervaar, was egter haar poging om te ontsnap van haar verlede. Sy ly steeds aan haar jeugdige oordeelsfoute. Cherry Jones lewer hier 'n vertolking wat 'n Oscar-nominasie waardig is.

In die briljante slottoneel nadat die Ashleigh bely niks het tussen haar en die akteur gebeur nie, is daar 'n koetsrit deur New York. (Sy moes immers holderstebolder met 'n reënjas die akteur se apartment verlaat weens die onverwagse terugkeer van sy vriendin.) Ons weet egter wat met koetse in sprokies gebeur.

Maar Gatsby kry koue voete, gee vir haar geld en keer terug - in Central Park - waar hy Shannon (Selena Gomez) ontmoet.

II

Humor is daar volop. 'n Verloofde wie se lag haar bruidegom so ontstig dat hy die troue wil kanselleer. Ashleigh wat hik wanneer sy seksueel opgewerk word. Roland wat dronk en onbeholpe raak. En 'n konfrontasie tussen huweliksgenote wat mekaar wedersyds van ontrouheid beskuldig. Die musiek - en Gatsby wat klavierspeel - gee iets melancholies weer.

III

Die film behoort aan Cherry Jones as Mevrou Welles. Met 'n hele paar Tony-toekennings agter die blad en 'n vertolking in The glas menagerie was sy 'n uitstekende keuse. En haar rol in 2018, Holly, the feministiese moeder van  June/Offred in The Handmaid's Tale is met 'n Emmy bekroon. Verder is sy 'n openlike lesbiese vrou.

'n Mens kan gewoon A rainy day in New York gaan kyk net vir haar vertolking van die moeder wat aan haar seun haar donker verlede bely. Sy speel met haar oë en vertolk die diep ontnugtering wat haar jeugfoute ingehou het. Hierom haar soeke na welvaart. Haar stem is skor.

En dalk is dit presies wat Gatsby verstaan in die skokkende onthulling. Die lewe is kort en jy moet doen wat jou hart begeer. Hy weet immers wat dobbel behels!

IV

Kontroversie was daar rondom die film. Die MeToo-beweging het weer toegeslaan maar dit was Jones wat Allen verdedig het:
Cherry Jones defended Allen in April 2019, saying, “[...] I went back and studied every scrap of information I could get about that period. And in my heart of hearts, I do not believe he was guilty as charged [...] [t]here are those who are comfortable with their certainty. I am not. I don’t know the truth, but I know that if we condemn by instinct, democracy is on a slippery slope.
Jude Law was eweneens knorrig dat die film nie in die VSA uitgereik is nie en van die jonger akteurs het egter teen Allen gedraai.  'n Regter het hom in die 90er jare onskuldig bevind aan molestering en wel gemeen dit was simboliese bloedskande dat hy betrokke geraak het by sy aangenome stiefdogter, die kind van Farrow en André Previn.

Maar Mia Farrow en gesante hou die aantygings warm. Die dogter Dylan wat glo op sewe gemolesteer is (wat deur die regter verwerp is) bly eweneens voor in die koor (Dylan Farrow on Her Father, Woody Allen/ 'He's Lying and He's Been Lying For So Long' | Glamour. Besoek 11 November 2019).

Dit is wel noodsaaklik om te fokus op sy filmkuns en te kyk na die bakens wat hy gelewer het as rolprentmaker. 'n Morele oordeel oor iemand se lewe is iets anders as om sy filmkuns te verdoem of sensureer.

My gunstelinge:

Annie Hall (1977), Interiors (1978), Manhattan (1979), Love and death (1975), Zelig (met Saul Bellow en Susan Sontag) uit 1983. Hannah and her sisters (1986), Deconstructing Harry (1997), Matchpoint (2005) en Vicky Christina Barcelona(2008).

Kyk net na die uitstaande rolverdeling van die jongste rolprent:

Timothée Chalamet as Gatsby Welles
Elle Fanning as Ashleigh Enright
Selena Gomez as Shannon
Jude Law as Ted Davidoff
Diego Luna as Francisco Vega
Liev Schreiber as Roland Pollard
Kelly Rohrbach as Terry
Annaleigh Ashford as Lily
Rebecca Hall as Connie
Cherry Jones as Mrs. Welles
Will Rogers as Hunter Welles
Suki Waterhouse as Tiffani
Ben Warheit as Alvin Troller
Griffin Newman as Josh
Kathryn Leigh Scott as Wanda
Taylor Black as Dana
Don Stephenson as Bemelmans Bar Waiter
Tre Summers as Gripper James

Sunday, November 10, 2019

Resensie | Koningin Lear (2019)

Tom Lanoye se stuk (vertaal en gekontekstualiseer deur Antjie Krog), met die uitstaande regisseur Marthinus Basson, is 'n komplekse, briljante teaterervaring. Dit ontstig en boei om verskeie redes.

Die herwerking van Shakespeare se King Lear word 'n stereoskopiese ervaring van 'n teks verplaas na Vlaams en Afrikaans bekend aan vertalings. Die magspanninge in die oorspronklike drama word na hierdie land verplant met verwysings na Steinhoff. Op die televisieskerm bó – wat die storie vorentoe dryf – is Julius Malema en tornado's in Miami. Eers stilte: geboue in New York wat dan al hoe meer spannend en verwoestend raak. Die storm en oorlog in die oorspronklike teks word so geaktiveer.

'n Gesprek met 'n seun in die Ooste vind plaas op Skype. Daar is selfone. So behalwe vir die vertaling/verwerking wat alreeds stereoskopies in aanbod is, vind ons ook moderne tegnologie wat elke gesprek verder kompliseer.

George Steiner het in The death of tragedy (1961) geskryf dat in King Lear "the weight of the suffering lies in the prose." Hy wys op die verskillende taaldimensies in die stuk; iets wat sowel Lanoye as Krog ópvang.

Verder ruil Lanoye die gegewe om en maak hy van die magsbasis 'n genderkwessie. Ons het nou 'n Koningin Lear, 'n matriarg, vertolk deur Antoinette Kellerman wat haar register volledig bestryk. Eers as die beheerder van haar kinders en welvaart; dan as 'n verloederde persoon wat psigiese beheer verloor. Die waansin – so bekend aan vele Shakespeare dramas – word hier ondersoek. Die klere verander. Eers korporatiewe drag; dan slaapklere, 'n deursigtige rokkie ...

Van hakkies na plakkies. En 'n kapsel wat maller en deurmekaarder raak.

Kellerman word ondersteun deur mede-spelers: die twee skoondogters (vertolk deur Rolanda Marais en Anna-Mart van der Merwe) se klere verraai ook hul innerlikes. (Alison Lurie wys immers hierna in The language of clothes (1981) dat klere 'n persoon opsom). Roland Marais is spoggerig geklee en Anna-Mart van der Merwe dra blink, uitspattige klere. Hul aksente verraai ook hul stand en wanneer Marais brry, is sy weerloos in die rusie oor kinderloosheid en die jaloesie tussen die skoonsusters. Van der Merwe is skitterend in haar vertolking van 'n dom, manipulerende vrou. Die matriarg noem hulle pofadders.

Want die matriarg wat haar naam wil afdruk op aandele, beheer haar kinders met afpersing. Die emosionele geweld in hierdie familie-romanse word 'n tragedie met die waansin en dood van 'n kind.

André Roothman se transformasie van raadgewer tot blinde man simboliseer wat in hierdie drama gebeur. Sy liggaamsbeheer is oortuigend. Kyk hoe staan hy eers ... Neels van Jaarsveld bewys weer vierkantig hoé veelsydig hy is. In sy benepe blou pak klere probeer hy sy broers troef: Wilhelm van der Walt en Edwin van der Walt wat puik is in hul vertolkings. Matthew Stuurman praat Engels en Afrikaans – om die spieëlaspek van vertaling verder te beklemtoon. Edwin van der Walt (as Cornald) ruk aan die hart wanneer hy 'n vertrapte, verslaafde vertolk.

'n Mens sou ook oor die musiek kon skryf wat verder die dramatiek van alles beklemtoon. Die naaktheid en sekstoneel is goed ingebed. Basson is 'n ou hand. Hy weet presies hoé om die grensoorskrydende te navigeer.

Die gehoor het dikwels gelag vir die taal wat skerp, beeldend en selfs vuig is. Nou ja, lag is 'n komplekse emosie.

In die eerste helfte van die drieuurlange produksie word die sleutels gegee wat die kyker in die tweede helte sien ontplof. Van klein besigheid tot sakeryk. Lojaliteite wat geeïs word met 'n jongste broer wat nie wil saamspeel nie. Familietwis en hebsug.

Hierdie teks is 'n hérverbeelding van die oorspronklike soos Michael Almereyda se Hamlet (2000) met Ethan Hawke.

Harold Bloom het insigryk geskryf oor King Lear wat hy as meer ironies as Hamlet beskou het in sy studie oor hierdie drama in Lear: The great image of authority (2018).

Kyk wat gebeur in hierdie drama met Cordelia, Goneril en Regan ... en kyk hoe die props verwyder word deur behendige teaterlui.

En Elizabeth Lear se jambes oortuig: “'n Tumor met die voorkoms van 'n mens, / 'n pitsweer wat ek met 'n seun verwar ...”

Hugo Theart het dit as opdragstuk opgevoer vir die 25e bestaansjaar van die KKNK en so 'n man moet eweneens die eer kry.

Teater uit die boonste rakke.


© Joan Hambidge  

Wednesday, November 6, 2019

Resensie | Clinton V. du Plessis – Verslag (2019)

Clinton V. du Plessis - Verslag. Roepman Uitgewers, 2019. ISBN 978 06208 3540 4

Resensent: Joan Hambidge

I

Verslag is klaarblyklik die laaste digbundel van Clinton V. du Plessis wat reeds tien bundels gepubliseer het. Hierdie jongste bundel val in drie afdelings uit: Lewe, Werk en Dood.

Du Plessis is ‘n buitestaander. As bruin digter het hy hom deur die jare opsetlik eenkant gehou. Hy het onder andere geweier om gekanoniseer te word deur Brink in Groot verseboek

Luc Renders noem hom die "evangelis van die nihilisme." Dalk is hy eerder ‘n "buikspreker vir die stemloses?"

Op die voorblad van die jongste bundel is daar ‘n sleutelgat waardeur ons loer: Moslem-kodes, die sekelmaan, ‘n man met ‘n pet, draadrolle wat inbrekers moet keer, wasgoed wat wapper, o.a. Die treinspoor in die heelal wat in die slotafdeling verklaar word: die laaste vertrek. Op die agterblad is daar ‘n sleutel waarmee die leser by wyse van spreke die bundel moet oopsluit.

Die eerste afdeling ruk aan die hart met ‘n slim “Ode” wat praat met Jacques Brel se “Marieke”. Daar is dikwels verwysings na musiek in die bundel – Tom Waits, Bruce Springsteen, Joan Baez, John Lennon, o.a. – en gesprekke met mede-digters. 

In “Karretjie” (17) lees die weerlose mense die seisoene: die bloekom gee koelte en die doringboom vuur.

Die lotgevalle van gewone mense - daardie mense wat stemloos is  word hier stemhebbend gemaak. Taxibestuurders in Stellenbosch, selfmoordbommers wat tydelik op televisie aandag geniet en dan verdwyn, die ellendes van mense wat blootgestel word aan human trafficking of silikose, kom in die tweede afdeling aan bod. 

In die laaste afdeling vind ons lykdigte en klaagsange oor bekende figure – soos Dulcie September, Ryk Hattingh, Tom Gouws – en verse wat die impak van die dood op die digter se lewe registreer. In “Due diligence” (116) vra hy:

Is die dood krediet en die lewe die debiet?

Tereg heet 'n gedig "Oop eindes" (101) wat vrae vra oor verskillende weergawes van rou.

"Noodberig" (98) is 'n parodie van Oom Jan F se "Dis al":

Dis die rooi, dis die blou
dis die wêreld wat vir 'n Twitter-oomblik jou
verdrinkte lykie onthou
dis die rooi, dis die blou
dis die wêreld wat vir 'n nanosekonde rou.

Die digter is ‘n boekhouer wat hier beelde uit sy werk gebruik om die proses van skryf te verduidelik.  

In “Geswore waardasie” (87) word daar in gesprek getree met Lucebert se bekende stelling dat alles van waarde weerloos is. Die digter ontgin dan die wêreld van die eiendomsontwikkelaar en wat waardasie behels. Die ingeboude ironie is natuurlik dat die waardeerder werk met klousules en lêers. Die digter is egter besig met 'n andersoortige waardasieproses en risiko’s.

In "Bossies" (29) word TT Cloete aangespreek. In Aantekeninge teen die skemeruur (Cordis Trust, 2017) parodieer hy Cloete se "God die digter".

God: Die rekenmeester

daar is meer poësie in die balansstaat
as in die letterkunde en baie meer poësie
in die neerpen van syfers
die optrek van 'n proefbalans
in die karma van debiet en krediet
in die aansuiwering van foute met joernale
in die syfervoer op sleutelbord is daar baie meer ritme
in die kwatryn van sekonde wat pas in minuut
wat pas in uur wat pas in dag
die heelal is deur 'n rekenmeester gemaak.

So klink Cloete se vers:


Chile is deur 'n digter gemaak – Neruda

daar is meer poësie in die sneeuvlokkie
as in die letterkunde en baie meer poësie
in die miskruier in die toktokkie
in die meteorologie en entomologie
in die moremis en bergpiek
die horison wat in die hemel wegraak
in die rooswolk is daar baie meer liriek
die aarde is deur ‘n digter gemaak


II
Daar is onthoubare verse soos:

Aksioom

Die liefde is soos soms algebra
oënskynlik bo jou vuurmaakplek
totdat jy die beginsels onder die knie kry

dan word dit ‘n opwindende soeke na
ontknopings, oplossings, ontdekkings
en telkens dié resultaat: ek + jy.

(118)

Eweneens vir die onthoulys:

“Due diligence”, “Oop eindes”, “Noodberig”, “Geswore waardasie”, “Binne”, “Selfmoordbommer”, “Salig”, “Sleur”, “Déjà vu”, ”Gebed”, “Bossies”, “God se aap” ,”Dop” .

Soms is die verse te uitgesponne – vir hierdie leser se smaak – en personifikasie in “Wending” is steurend.

Wending

Die jaar sit sy wolmus op
krap in die hangkaste rond
trek sy handskoene al in die herfs aan
en begin oor die komende winter tob.

(117)

Die digter het deur die jare sy man gestaan en sy bundels self gepubliseer. 

Daar is ‘n handvol sterk gedigte in hierdie bundel. Die boek word opgedra vir jou. Vir die leser dus.

Bestel van Roepman Uitgewers teen R200 by clintonvduplessis@gmail.com


(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Fine Music Radio)