In 1979 is ek die voorsitter van die Afrikaanse Studiekring ('n studentevereniging) aan die Universiteit van Stellenbosch. Ons nooi verskillende sprekers om met ons te kom praat, en een van die hoogtepunte was die besoek van Réna Pretorius, later hoof van Afrikaans aan UP, saam met A.P. Grové en Elize Botha.
Die waardige vrou daag op met 'n hoed en handskoene. En sy lewer 'n uitstekende analise van N.P. van Wyk Louw se "Groot ode" waarin sy onder andere op die musikale struktuur van die gedig wys. Daar is 'n boeiende verwantskap met Beethoven se Grosse Fuge in die sogenaamde versoening van "gees en intellek".
Die kontrapuntale styl word 'n dialektiese sintese, by sowel Beethoven as Louw, meen sy (Ryk domeine, 119).
Louw, beweer sy verder, is nie religieus onbetrokke of neutraal nie. 'n Dosent van die departement vererg hom en meen dat Louw geen Christen was nie. Pretorius bly hoflik en wys op die metafisiese soeke wat regdeur sy werk loop.
Hierna lewer sy commendatio's vir my en Deon Opperman toe ons die Eugène Marais-pryse ontvang in 1987. En kapittel my, omdat ek kougom in my mond het. (Uiteraard weens spanning, krabbel ek terug).
Hierna het ons mekaar beter leer ken en deur die jare het ek haar ongelukkig net tweekeer gesien op besoek in Pretoria. Haar werk het egter deurgaans beïndruk. Sy was ook opgelei in die wiskunde en hierom is haar lesings en essays altyd logies uiteengesit.
Sy het die digter T.T. Cloete se werk as besonders ondersoek en die parabool as 'n versoening tussen die wiskunde en letterkunde gesien. Wyle Lucas Malan het sy doktorale studie onder haar leiding voltooi (saam met J.C. Kannemeyer) onder die titel Paradoks & parabool wat handel oor die latere werk van Ernst van Heerden (Haum, 1992).
Van haar artikels is opgeneem onder die titel Ryk domeine (Human & Rousseau, 1984). Eybers, Louw, Peter Blum, Cloete, selfs Totius se werk word vir die leser oopgemaak.
Oor Van Heerden skryf sy insigryk as 'n beeld-virtuoos en ondersoek Van Wyk Louw se stelling dat 10 goeie gedigte 'n digterskap bevestig. Sy meen daar is egter meer as net 10 en sy wys op die spel met die tyd in Van Heerden se digkuns.
Oor Elisabeth Eybers se ironie skryf sy goed. Sy was die kritikus wat ons daarvan bewus gemaak het dat Eybers se gedigte - ten spyte van "die uiterste beknoptheid en kernagtigheid" - tog die indruk van spontaneïteit en onmiddellikheid maak (Ryk domeine, 79).
Sy kyk na die stigiese verse en die rym in haar poësie. Hier is die wiskundige aan die woord wanneer sy prinsipes van die gedigte ondersoek.
Opperman en Totius. En hoe 'n digter 'n ander digter se idees verwerk in die ondersoek tussen "Die gees van Donker Afrika" en "Clat Boek" van Opperman.
Oor Leipoldt is sy eweneens in die kol wanneer sy "Vrede-aand" herwaardeer.
Telkens in al haar lesings oor die digkuns gaan sy terug na oertekste: die Nederlandse Bybel, die Joodse Talmoed, Latynse geskrifte, o.a.
Nou onlangs maak sy 'n buiging in Kerneels Breytenbach se roman Hond se gedagte
(2019) en in Stet is daar destyds 'n foto van haar geplaas - weliswaar satiries - omdat sy só waardig was. Maar diegene wat haar geken het, sou weet sy was 'n besondere mens en beslis nie hovaardig nie.
Sy sou die urbanité raakgesien het en dat hierdie send ups verhulde huldeblyke en erkennings was van haar statuur.
'n Hele geslag jong lesers het sy leer stiplees en Johann de Lange is eweneens positief oor haar invloed op sy denke.
'n Enorme intellek en besondere stilis. Wat sy oor Peter Blum skryf, is eweneens op haar van toepassing: die gawe van die ironiese saamdink van teenstrydighede ...
Met haar vertrek, dink 'n mens ook aan Elize Botha - 'n lewe in woorde - en aan die werk van Grové. Ons mis sulke groot literatore in ons huidige tydsgewrig.
© Joan Hambidge