Bladsye / Pages

Wednesday, November 6, 2019

Resensie | Clinton V. du Plessis – Verslag (2019)

Clinton V. du Plessis - Verslag. Roepman Uitgewers, 2019. ISBN 978 06208 3540 4

Resensent: Joan Hambidge

I

Verslag is klaarblyklik die laaste digbundel van Clinton V. du Plessis wat reeds tien bundels gepubliseer het. Hierdie jongste bundel val in drie afdelings uit: Lewe, Werk en Dood.

Du Plessis is ‘n buitestaander. As bruin digter het hy hom deur die jare opsetlik eenkant gehou. Hy het onder andere geweier om gekanoniseer te word deur Brink in Groot verseboek

Luc Renders noem hom die "evangelis van die nihilisme." Dalk is hy eerder ‘n "buikspreker vir die stemloses?"

Op die voorblad van die jongste bundel is daar ‘n sleutelgat waardeur ons loer: Moslem-kodes, die sekelmaan, ‘n man met ‘n pet, draadrolle wat inbrekers moet keer, wasgoed wat wapper, o.a. Die treinspoor in die heelal wat in die slotafdeling verklaar word: die laaste vertrek. Op die agterblad is daar ‘n sleutel waarmee die leser by wyse van spreke die bundel moet oopsluit.

Die eerste afdeling ruk aan die hart met ‘n slim “Ode” wat praat met Jacques Brel se “Marieke”. Daar is dikwels verwysings na musiek in die bundel – Tom Waits, Bruce Springsteen, Joan Baez, John Lennon, o.a. – en gesprekke met mede-digters. 

In “Karretjie” (17) lees die weerlose mense die seisoene: die bloekom gee koelte en die doringboom vuur.

Die lotgevalle van gewone mense - daardie mense wat stemloos is  word hier stemhebbend gemaak. Taxibestuurders in Stellenbosch, selfmoordbommers wat tydelik op televisie aandag geniet en dan verdwyn, die ellendes van mense wat blootgestel word aan human trafficking of silikose, kom in die tweede afdeling aan bod. 

In die laaste afdeling vind ons lykdigte en klaagsange oor bekende figure – soos Dulcie September, Ryk Hattingh, Tom Gouws – en verse wat die impak van die dood op die digter se lewe registreer. In “Due diligence” (116) vra hy:

Is die dood krediet en die lewe die debiet?

Tereg heet 'n gedig "Oop eindes" (101) wat vrae vra oor verskillende weergawes van rou.

"Noodberig" (98) is 'n parodie van Oom Jan F se "Dis al":

Dis die rooi, dis die blou
dis die wêreld wat vir 'n Twitter-oomblik jou
verdrinkte lykie onthou
dis die rooi, dis die blou
dis die wêreld wat vir 'n nanosekonde rou.

Die digter is ‘n boekhouer wat hier beelde uit sy werk gebruik om die proses van skryf te verduidelik.  

In “Geswore waardasie” (87) word daar in gesprek getree met Lucebert se bekende stelling dat alles van waarde weerloos is. Die digter ontgin dan die wêreld van die eiendomsontwikkelaar en wat waardasie behels. Die ingeboude ironie is natuurlik dat die waardeerder werk met klousules en lêers. Die digter is egter besig met 'n andersoortige waardasieproses en risiko’s.

In "Bossies" (29) word TT Cloete aangespreek. In Aantekeninge teen die skemeruur (Cordis Trust, 2017) parodieer hy Cloete se "God die digter".

God: Die rekenmeester

daar is meer poësie in die balansstaat
as in die letterkunde en baie meer poësie
in die neerpen van syfers
die optrek van 'n proefbalans
in die karma van debiet en krediet
in die aansuiwering van foute met joernale
in die syfervoer op sleutelbord is daar baie meer ritme
in die kwatryn van sekonde wat pas in minuut
wat pas in uur wat pas in dag
die heelal is deur 'n rekenmeester gemaak.

So klink Cloete se vers:


Chile is deur 'n digter gemaak – Neruda

daar is meer poësie in die sneeuvlokkie
as in die letterkunde en baie meer poësie
in die miskruier in die toktokkie
in die meteorologie en entomologie
in die moremis en bergpiek
die horison wat in die hemel wegraak
in die rooswolk is daar baie meer liriek
die aarde is deur ‘n digter gemaak


II
Daar is onthoubare verse soos:

Aksioom

Die liefde is soos soms algebra
oënskynlik bo jou vuurmaakplek
totdat jy die beginsels onder die knie kry

dan word dit ‘n opwindende soeke na
ontknopings, oplossings, ontdekkings
en telkens dié resultaat: ek + jy.

(118)

Eweneens vir die onthoulys:

“Due diligence”, “Oop eindes”, “Noodberig”, “Geswore waardasie”, “Binne”, “Selfmoordbommer”, “Salig”, “Sleur”, “Déjà vu”, ”Gebed”, “Bossies”, “God se aap” ,”Dop” .

Soms is die verse te uitgesponne – vir hierdie leser se smaak – en personifikasie in “Wending” is steurend.

Wending

Die jaar sit sy wolmus op
krap in die hangkaste rond
trek sy handskoene al in die herfs aan
en begin oor die komende winter tob.

(117)

Die digter het deur die jare sy man gestaan en sy bundels self gepubliseer. 

Daar is ‘n handvol sterk gedigte in hierdie bundel. Die boek word opgedra vir jou. Vir die leser dus.

Bestel van Roepman Uitgewers teen R200 by clintonvduplessis@gmail.com


(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Fine Music Radio)