Bladsye / Pages

Thursday, October 10, 2019

Resensie | Thomas Deacon – Duifiedorings (2019)

Thomas Deacon – Duifiedorings. Minimal Press, 2019. ISBN 9780639808868

Resensent: Joan Hambidge

Volkspoësie het my nog altyd bekoor. Van Wyk Louw se “Klipwerk”, die verse van Boerneef, Charles Fryer en natuurlik Ronnie Belcher. En meer onlangs Pieter Fourie se drietal bundels waaronder Knapsekêrel verken die volkse.

Verder terug in die tyd het Thomas Deacon reeds hierdie soort gedig geskryf in sy debuut Sand uit die son (Tafelberg, 1989). Sy jongste bundel Duifiedorings is ’n voortsetting van sy unieke stem. Gesprekke met Louw is daar en met George Weideman aan wie hy ’n lykdig opdra. Daar is ook ’n durende gesprek met Donald W. Riekert.

Duifiedoring, Duwweltjie, Volstruisdubbeltjie, Driedoringdubbeltjie… alles name wat by my opkom.

Deacon se bundel is aards, onpretensieus met die mens wat uitgelewer is aan die genadelose natuur.

Die Noord-Kaap is die ruimte waarbinne die gedigte geplaas word: Pella, Boesmanland, die Kalahari, die Groot Gariep. Veral George Weideman het sy staning onder die sterre uitmuntend beskryf, en Donald W. Riekert het die harde, genadelose landskap ontgin in swarthake.

In die stil donkerte
van die veld roep
die kiewietjie beangs, en
God se volle maan
gaan oop
soos baie blomme

*

Die heuning drup
uit die bros geel koek
ek proe die soet in
sy sorg as hy vaderlik
met sy kort duim
die swarthaakheuning
bros kraak en in elke
porsie ag jong bye afmeet

Uit: Heuning uit die Swarthaak (1986).

Die bundel bevat die volgende afdelings: duifiedorings, spatsels, vuurklip, agtertongetjies en klitsies.

Die primordiale aspek van die digkuns kom na vore soos in “Klipwerk”. Die klip is gewoon nie net ’n klip nie, maar word ook vuurklip.

In “agtertongetjies” word die gewone mens aan die woord gestel – soos “oujan hakkelman” of “piet platvoet”.

Daar is ’n pragtige lykdig oor George Weideman opgeneem waar Deacon inspeel op sy oeuvre:

george henry weideman
(2 julie 1947 – 28 augustus 2008)

waar die son kliplangs oor oulandswêreld spring
het george henry weideman
van katstert en kanniedood
van kinkelbos en klipkersie gesing
tussen springbok en pofadder
tot by aggeneys, by onseepkans
en kenhardt verby
hoor ek sy woorde rietjiesfluit
van botterblom en bossiesgras
van bokbaaivyg en bloumelkbos
tot bitterbos
maar looplê se tyd
toe klapperbos en kankerbos
hul nagkarossies nadertrek
het george henry weideman
’n staning onder duisend sterre 
oopgetrap 

(27)

die lewe is ’n kaalvoetspoor

die lewe is ’n kaalvoetspoor
een duin áf die anner duin óór
hoor jy’ie wind op sy doedelsak speel
weg issie spoor, net’ie sand bly oor

(60)

aan die einde

aan die einde is ons maar net
verwaaide as
of ’n ingekerkerde geraamte in ’n gladgeskaafde
goedkoop hout
kanselwoorde druip heuningsoet
uitgestrekte leraarshande stuur ons weg
en groet

(38)

Maar daar is ook guitige en speelse verse. Die klankontginning is opvallend (namakkersland) en voëls wat die dag oopkwetter (43).

In “bekfluit, kos’tina en kitaar” word die lyflike ontgin:

bekfluit, kos’tina en kitaar
uitgespaar virrie nuwe jaar
kolroknooi mettie wipgatstêre
vanaand gaat sy onse manne têre

(56)

In die aangrypende “digters gaan ook maar dood” (28) word die verganklikheid van die digkuns beskryf. Uiteindelik word die gedigte tussen skulp en bamboes deur die wind gelees …

Die verse is eenvoudig is aanbod, maar dit is oëverblindery. Die klankpatrone en die toespelings op veral Boerneef se fluitjiesriet lewer bewys van ’n digter wat sy vak ken. Die môres rol soos “goudgeel soetlemoene oor die rante” praat weer met Rosa Nepgen se skitterende vertalings van Eugenio Montale se Die geel van suurlemoene skyn (Tafelberg, 1979). Die Bybel is eweneens hier aanwesig.

Hierdie digter uit Upington se wêreld dig oor die Noordweste en Boesmanland in sy debuut en ontgin die gegewe verder in sy jongste bundel.

Uit die leegheid en dorheid skep hy juis gedigte soos

My woestyn

In my woestyn 
lê elke môre
manna
op die sand
my woestyn
is elke dag
’n uitgestrekte
hand

(1989: 45)

Dit is ’n bundel met aangrypende verse wat ek letterlik in een sitting gelees het.

lente lig sy hoed
groet namakwaland se werf
gousblom in die hand

(88)

En ek lig my hoed!

*

Ander tekste is:

Sand uit die Son (poësie), Tafelberg, 1989.
Die predikasies van Jacob Oerson (poësie), Tafelberg, 1993.
Rooigrond (roman), Tafelberg, 1995.
Anderkant die Troe-troe (kortverhale), Human & Rousseau, 1999.
Deuskant die Groot Gariep (kortverhale), Lapa Uitgewers, 2009.
Maagmeisie (poësie), Protea Boekhuis, 2003.

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Fine Music Radio)