Nou onlangs open ek ’n kunsuitstalling. By haar aankoms maak ’n vrou ’n ontoepaslike genderopmerking. Ek wys haar daarop dat ek oor ’n paar minute ’n lesing moet gee, maar sy kyk my net met ’n papmond aan.
In ons rasbewuste samelewing word genderkwessies dikwels na agter gestuur. Ons oorreageer op enige rasonregverdigheid (tereg), maar gendersake word nou bykans ’n vergete kwessie. Behalwe vir die #metoo-aanslag waar nuanses dikwels verlore raak.
Met gendersake bedoel ek gay-regte. En diegene wat buite die heteronormatiewe orde bestaan en hul brood moet verdien of krummels van die tafel opvee.
Een aand laat in ’n restaurant draai ’n vrou by die toonbank om en vra: “So what do you think, you dyke?”
Moet sy vergewe word dat sy gekletter was en dat dit ’n Sondagaand was?
Of was dit net ’n grap?
’n Paar weke terug sit ek en twee vriendinne en kuier – eweneens ’n woman-identified woman – en die kelner kom na ons en vra of ons ’n aansteker het. Want ja, die twee mense aan die oorkant het gevra of ons dykes dalk kan help. Waarop ons toe laat weet: ja, die dykes kan help.
Ek laat weet guitig: met ’n vinger bo die dyk.
Wat is ’n aanvaarbare opmerking? Waarom vind iemand dit nodig om ’n gay-persoon aan te tree met ’n opmerking soos Ek-was-altyd-so-bang-vir jou? Wat beteken dit? Dat jy nie meer bang is nie? Dalk beskikbaar is?
Die sidderende aanname is dat gay-mense gesien word asof ons sou belangstel in elke straight persoon wat verbybeweeg.
Eleanor Roosevelt het by geleentheid opgemerk: No one can make you feel inferior without your consent. Gandhi sou ook gesê het: Nobody can hurt me without my permission.
Natuurlik makliker gesê as gedaan!
Janet Malcolm in Two lives – Gertrude and Alice (Yale University Press, 2007) ondersoek die troebel oorlewing van twee lesbiese Jodinne tydens die Nazi-regime.
Wat is waar? En hoe het hulle dit reggekry om in Vichy Frankryk skotvry uit te stap?
En hoe het Stein “serious unpleasantness” ervaar? Dikwels deur te babbel, te maak asof dit niks is nie (81).
Beide vroue moes sowel vooroordele oor hul Joodsheid as genderrolle bestuur.
Ons ken die anekdote van Ernst Hemingway wat in Parys besoek afgelê het aan 27 Rue de Fleurus, onbewus dat Gertrude Stein en Alice Toklas minnaresse was. ’n Rusie tussen die twee het dit aan die geskokte Hemingway openbaar. (Hy was glo ’n bietjie verlief op Gertrude…)
Ek weier om die Roosevelt/Gandhi, of die babbelroete te volg. Ek moes deur die jare ’n geweldige prys betaal vir my openlike genderkonstruksie en vir my skryfwerk (soos in Die Judaskus of Kladboek), en juis hierom verwag ek hoflikheid van mense wat met my in gesprek tree.
Ek probeer immers sjarmant wees al dink ek jou krullebol is Shirley Temple-agtig en jou parfuum ruik na ou skoen.
Jy behoef ’n renostervoël om die luise af te pluk wat deurgaan as grimering. Ag, ag ek maak net ’n ou grappie.
Heteronormatiwiteit of ’n straight-kondisie gee nie aan jou die reg om ander te verminder of te beledig nie. Al het jy dit oënskynlik nie so bedoel nie. Maar kom: wat presies het jy dan bedoel?
© Joan Hambidge