Bladsye / Pages

Sunday, October 27, 2019

Resensie | Christine Barkhuizen-Le Roux – My naam is Prins, ek slaap met die lig aan (2019)

Christine Barkhuizen-Le Roux  My naam is Prins, ek slaap met die lig aan. Human & Rousseau, 2019. ISBN 9780798179706. R310,  Sagteband.

Resensent: Joan Hambidge

Hierdie roman verskyn in die #me-too-tydvak. Al hoe meer is mense van verskillende gender-posisies krities oor ongeregtighede en seksuele misbruik. Party van die aanklagte is reg; ander is so lank na die tyd dat die aanklag problematies word, om verskeie redes. Akteurs verloor in 'n ommesientjie werk. Mense beland in die tronk. Die stemloses het egter stemhebbend geword.

Feit bly staan: in hierdie pakkende roman gee Christine Barkhuizen-Le Roux insig in die werkinge van jeugtrauma op 'n gevoelige man, Deon. Corinne, die terapeut van die gemolesteerde beweeg op 'n reis – letterlik terug na Skuilkranz waar alles plaasgevind het en ook emosioneel in haar self-konfrontasie. Daar is verskillende rolspelers wat deelneem aan hierdie proses van verhulling en onthulling. Daar is Frank, Corinne se predikant-eggenoot, daar is sibbe, daar is vaders aan beide kante. En ook moeders. Swyende moeders. Daar is Sieg.

Oom Engeltjie en Mama Indwe is ander karakters wat help raad gee en perspektiewe bring. En Herkie die parapleeg belig die pyn wat die “bose simbiose” tussen mense tot gevolg het. En die vrou van die boosdoener deel eweneens ‘n donker geheim met die terapeut en die leser. Die leser se perspektief word grootliks bepaal deur die fokalisator Corinne. Saam met haar word jy ingetrek in ‘n verhaal waar jy weet die ergste onthulling gaan nog kom.

Vertellings in die hier en nou word geplaas teenoor die verlede in kursief. Herinnering versus verdringing. Kan ‘n mens egter ooit wegkom van pyn? Of bly dit ‘n iteratief-duratief, die sogenaamde praesens (tyd) van pyn wat die toekoms bepaal? Ons weet wat die antwoord is.

Die hele Freudiaanse familieromanse word hier onder die loep geneem en behalwe vir pedofilie, ondersoek die roman alkoholisme, bipolariteit, gesagsfigure wat in duie stort, die kerk, die rol van die terapeut (en hier is suspension of disbelief nodig om te glo dat die terapeut wel so 'n reis mag meemaak). Misdadigheid en aanvalle op weerloses vorm eweneens ‘n sub-tema.

Die verhaal word geposisioneer teen die wye doek van die Rooms-Katolieke kerk se seksskandaal van 2010 en die bywoning van 'n kongres in Antwerp in November 2013.

Die roman ondersoek die rol van aandadigheid. En as jy versuim om te vertel is jy net so medepligtig. Dit ondersoek die ambivalente gevoelens van die gemolesteerde wat dink hy is skuldig oor dít wat hom aangedoen is.

Raak 'n mens ooit ontslae van die verlede of navigeer jy gewoon pynlike ervarings en herinneringe?

Daar is 'n slim verwysing na Neil Diamond se “Morningside”:

Morningside
The old man died
And no one cried
They simply turned away
And when he died
He left a table made of nails and pride
And with his hands he carved these words inside

(“For my children”)

En 'n verhaal van Rachelle Greeff word ingebed wat die verhaal dieper laat uitwaaier. Die rooi kombersie wat die ellende van aanvallers oor die weerlose moet gooi om haar te beskerm, word hier ‘n wit kombersie (96).

Die boek is voorsien van erkennings vir verdere leeswerk oor pedofilie. Pinky Promise deur Pierre C. de Rosemund, Charles Montaldo se studie oor die profiel van pedofiele, Colm O’Gorman se boek oor die veraad van ‘n priester en die wantroue in die kerk word onder andere vermeld. Daar was selfs ‘n persoonlike onderhoud met hierdie man wat die pous aangevat het.

Die voorblad, soos die een van Nadia de Kock se Die wolkversamelaars, is volgens hierdie leser te populisties. Beide romans se voorblaaie mislei die ernstige leser. Die romans is verrassend in die kompleksiteite wat aangesny word róndom trauma en herinnering.

Dit is ‘n roman wat ontstig. Daar is baie drade wat saamgebind word, soms met ‘n groot skeut suspension of disbelief. Maar jy weet terselfdertyd die grimmige boodskap is waar. Dit is egter so dat wát ons hier lees wél met mense gebeur. Die skrywer wys op skuldgevoelens, die rol van die kerk, die jong kind wat ambivalent voel oor sy aandadigheid en dat pedofilie nie gelyk is aan gay-wees nie.

Soms sien jy die hand van die digter wat beeldend vertel, soos: “Die dag was ‘n ovaal, gladgeskuurde klippie wat op die water land …” (196). Of: “Die lug is ‘n swanger vrou wat weet haar uur is naby …” (188).

Dis nie ‘n boek vir ‘n Sondagaand nie. Lees dit saam met Die wolkversamelaars.

Beide tekste analiseer die impak van jeugtrauma op die psige. 

Dit is die einde van die “silent generation”. Die outeur wil met hierdie boek ‘n bydrae lewer om ongeregtighede aan die kaak te stel.

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Rapport)

Sunday, October 20, 2019

Resensie | Christo van der Westhuizen – Chrisalis (2019)

Christo van der Westhuizen – Chrisalis. Naledi, 2019. ISBN 9781928426950

Resensent: Joan Hambidge

I
Op die voorblad van hierdie debuut is daar ‘n vlinder met ‘n man wat die twee vlerke vashou. Dit aktiveer sowel transformasie as ‘n sweeftog. Die naam Chrisalis verwys ook na die digter se naam Christo van der Westhuizen en ons hoor kristalliseer.

Volgens die woordeboek beteken die naam ook pupa of die bekermlagie rondom die insek (Chrysalis | Definition of Chrysalis by Merriam-Webster. Besoek 18 Oktober 2019).
                         
By Opperman word die beeld van die engel wat uit die klip verlos moet word die simbool van die digproses. Hier is dit dan die verskillende stadia van ontwikkeling of groei wat die digproses karteer.

Die verskillende afdelings Déjà vu, Uit die oog, in die hart, Die kuns afvra, Redux, Papie-blues, Geleende gebeente, Môre is nog ‘n dag dui op ‘n sterk bemoeienis met taal. Spreekwoorde en die gevoel van taal wat die digter (en dus die leser) in die steek laat, is ‘n belangrike sleutel vir die oopmaak van hierdie bundel.

Alle digters word gekonfronteer met die magtelose gevoel van dat alles reeds geskryf is. Nou met die afsterwe van Harold Bloom word ons weer onder die indruk gebring van The anxiety of influence (1973). Elke digter soek trope om sy voorgangers te troef of uit te oorlê. Is dit apophrades of kenosis hier? Hier is dit eerder die tessera of anti-tese. Die digter skryf ‘n gedig waar hy anti-teties stelling inneem en literatuurteorie gebruik om sy posisie te verduidelik.

In die derde afdeling Die kuns afvra – wat inspeel op die idioom moenie die boer die kuns afvra nie – betrek hy die werk van die Russiese Formalis Victor Slovskij en die idee van ostranenie. Om die klip klipperiger te maak en die literariteit van die teks voorop te stel, was een van die belangrikste doktrines van die Russiese Formaliste wat teen die politieke voorskrifte van die tyd gewerk het.

Sklovskij se onderskeid tussen die syuzhet/fabula beklemtoon dat die volgorde in die teks verskil van die orde (volgorde) in die werklikheid. Hierdie teoretikus het eweneens belangrike analises van films geskryf en was ‘n vriend van Sergei Eisenstein wat reeds iets verklap van vervreemding. In Kuns as tegniek (1917) verduidelik hy dit. Obshchestvo izuchenie POeticheskogo YAZyka was sy breinkind wat die funksie en betekenis van taal in die digkuns ondersoek en die grondwerk vir alle vorme van strukturalisme was. Sy opstand teen die Bolsheviste en die politiek van die dag het ‘n enorme impak op sy lewe gehad. Hy moes op vlug slaan en het ‘n memoir in Berlyn geskryf. Hy sterf in 1984 en die impak van sy teorieë, veral die begrip literaturnost, is enorm.

Al hierdie beginsels is opgeteken in Victor Erlich se bakenteks: Russian Formalism - A Doctrine (1955). Terence Hawkes se Structuralism and Semiotics (1977) gee eweneens 'n belangrike opsomming van al die beginsels soos dat die vlag wat bo die stad wapper, is nie dieselfde as die vlag in die gedig nie ...


Russiese Formaliste word die grondwerk vir Strukturalisme in al sy avatare. New Criticism in die VSA, Practical Criticism in Engeland, Franse Strukturalisme met Todorov wat Sklovskij huldig as 'n groot denker.

II

Met hierdie debuut sluit die digter aan by J.C. Steyn se Die grammatika van liefhê van 1975;  Leon Strydom se L.S. (lector salutem) van 1988 en die werk van Johann Johl: Gewalste woord (1990) en Roulet (1994).  Steyn is 'n gesiene taalkundige en biograaf; Strydom was 'n literatuurwetenskaplike en wyle Johann Johl het uitstekende studies oor satire, ironie en Etienne Leroux geskryf.

Verder dink ons ook aan die digkuns van T.T. Cloete en die spel met intellektuele verwysings vanaf Angelliera (1980).

Van der Westhuizen het volgens die biografiese besonderhede eweneens literatuurwetenskaplik bestudeer by Unisa onder o.a. by voorste teoretici soos Ina Gräbe en Marianne de Jong.

Die digtende akademikus is volop in ons letterkunde. Die vraag is egter hoe die digter met die geleerde konsepte omgaan.

Dit word soos by bogenoemde bundels met oortuiging gedoen, maar die modelleser - in Umberto Eco se terme - word dan hier 'n literêre kenner.

Die huis-van-die-digkuns akkommodeer verskillende stemme en style. 

In die volgende gedig word daar op die Bybel ingespeel:

Literariteit, ’n psalm van Sklovskij

al dig ek ook in die skadu van skyndood 
ek sal geen beeldspraak vrees nie 
sinekdogee en metonimia verkwik my 
en die metafoor vertroos my 
my pyn het ek vir kunsgrepe verruil 
nou blink my wonde in die rym 
in die raaisel van die poësie 
sal ek met behae 
tot in lengte van dae 
tussen die lyne skryf   (44)

Dit gaan dus in hierdie bundel om die raaisel van die poësie.

In die gedig "Oop plek" is daar weer 'n verwysing na Wolfgang Iser se idee dat die leser die "oop plek" moet invul. Die alomteenwoordige nie-leser wag dus in die kodes van die teks totdat die werklike leser hom aktiveer.

Oop plek

poësie is ver van kuns 
ophang kan jy dit nie 
en verkoop nog minder 
dit het weinig waarde 
vir die belegger 
en filmmaker 
dit ontstig die uitgewer 
boekhouer en rugbyspeler 
selfs digters het van mekaar 
min goed te sê soos tennisspelers sou: 
goeie afslaan of mooi hou 
diep distigon! slim sestet! 
al wat die poësie regtig het 
al wat die poësie regtig het 
al wat die poësie regtig het 
is die alomteenwoordige nie-leser  (41)

Vir my is die sterkste gedigte veral hierdie meta-poëtiese besinnings.

III

Daar is gedigte oor metamorfose: ouer teenoor kind en die familieskap tussen mense. Daar is ook die familieskap van digters: Wessel Pretorius, opdraggedigte vir mede-digters en 'n gesprek met ouer digters. 'n Gedig word aan die HAT opgedra.

Die sirkelgang van lewe en dood, dood en lewe word karteer in hierdie debuut. Die chronologie word opsetlik opgehef; die sleutel is immers Sklovskij se syuzhet/fabula.

Geleende gebeente speel in Opperman en in hierdie afdeling word die skrikwekkende idee van selfdood en die implikasies daarvan ondersoek. Selfdood is 'n soort toutologie want die mens is in wese van geboorte af sterwend.

In Redux is daar sprake van Ekstrospeksie en vele ironieë waarmee die digter in sy bedryf worstel. 

"Laatnagvrese en ander verse" vir Wessel Pretorius praat met Johann de Lange se lieflike gedig oor hierdie onderskatte digter. [1]

Die digter word op die agterblad beskryf deur twee digters wat sy styl perfek opsom. Daniel Hugo verwys na die taal- en versvernuf en dat die tekste die grense tussen teks en werklikheid ontgin.

Johann de Lange wys ook op die taalontginning: woordspel, kontaminasie, nuutskeppings, dubbelsinnighede, ars poeticas, die omdop van spreekwoorde, en herdigting van die volkse, en die herlewing van geykte frases.

Die realiteit word op sy kop gekeer, soos De Lange verder aantoon, en hier is 'n aweregse blik aanwesig.

Die beste verse in hierdie bundel is die kortes. Die langer gedigte neig soms om te prosaïes en uitgesponne te wees. Maar in die geheel is dit 'n genoeglike bundel vol momente van vervreemding en betreding.

Harold Bloom se anti-tese dus.

[1]
Laatnagvrese 
Wessel Pretorius (1949 - 2012)

Wessel, dis nou drie dae ná jou dood
& die koerante swyg in al hul kolomme
oor die dertiende van die derde
toe jy die onderspit gedelf het.
Die media voel fokkol vir digters.
Nou sit ek teen dagbreek heeltemal nugter
& half verleë, & ek skaam my vir my kollegas.
Al was ons twee haaks al om die hawerklap
(darem nooit slaags, behalwe in woorde)
verdien ’n digter darem ’n afskeidsgroet.
Laatnagvrese & ander verse bly
’n befokte boek, ons sal ver
na nóg een soos jy moet soek,
jy’s die ware Jakob, met jou ingat, ougat taalspel,
met jou liefdes & jou (dronk)verdriet.
Alles is verniet, & níks is verniet.
Dis nes jý om die dertiende
vir jou flatline oor die Styx te kies.
Wás die lewe maar soos ’n LP
wat op ál die regte plekke vashaak,
daardie spesiale blikke & oomblikke
waaraan mens bly vasklou
as die naald gly oor die blinkswart strook
om in die voltrekte stilte te bly hakkel.

Met jou kroeg- & ploegpraatjies opgedroog,
& jou vrytyd verby, is dit saktyd
& jy is gans uit jou plek. (Boer jy
nou saam met Carl Ziervogel 
& voer daai groen gesprek
wat net in begraafplase gedy?)
Of is jy sprakeloos gedryf
om druk ondergronds te skryf
met ’n lyf wat lykant toe leun?
Ek hoop jy het op jou nul-uur
weer daardie voël soos ’n telefoon hoor sing.
Tussen die eerste & die laaste reëls van ’n gedig,
tussen verloor & vind – dáár lê die ding.

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Fine Music Radio)

Thursday, October 17, 2019

Huldeblyk | Harold Bloom (1930 – 2019)

Harold Bloom, Sterling professor te Yale Universiteit is sopas op ouderdom 89 oorlede. Hy was die seun van ‘n Ortodokse Joodse kleremaker. As kind het hy Hebreeus gelees en studeer aan Cornell Universiteit en Cambridge.

Sy produksie was enorm met meer as 40 boeke. By geleentheid het hy bely dat hy sy nie-funksionerende seun moes onderhou en hierom so produktief was.

Sy teorieë ‘n unieke intepretasie van Freudiaanse teorie, New Criticism, die kabbala en goeie oordeel. Daar was een kreatiewe teks, ‘n Scifi-roman.

Drie van sy tekste bly vir my literêre handleidings: The Western Canon (1994) waarin hy nie skroom om goeie, klassieke tekste as bakens te besing nie. En dan: The anxiety of influence (1973) en A map of misreading (1975). Laasgenoemde twee tekste het my as digter gevorm. Ek onthou hoe ek in ‘n bitterkoue New Haven die eerste keer hierdie tekste gelees het. My tekste sit vol potloodinskrywings en uitroepe oor hoe dit my bekoor (het). Dit was 1985. Ek het in hierdie yskoue winter Bloom se seminare bygewoon en ek was daarna nooit weer dieselfde nie.

Die hartstog en intensiteit waarmee hy klasgegee het en die webbe van die kanon kon roer, was uitsonderlik. Ook sy uitspraak dat ons nie ‘n Freudiaanse lesing van Shakespeare moet maak nie, maar eerder ‘n Shakespeariaanse analise van Freud, is tersaaklik.

Binne-lesers sal weet hoe Bloom te velde trek teen die sogenaamde School of Resentment, oftewel die literatore wat meer teorie lees as wat hulle boeke bestudeer. En boonop die estetiese aspek van die teks ontken. So beskou, meen Bloom, kan ‘n middelmatige teks (wat polities korrek is) op dieselfde vlak gelees word as Shakespeare of ‘n klassieke werk.

Bloom wat ook by geleentheid geskryf het dat daar geen tekste is nie; net onsself. En die agonistiese aspek van die letterkunde waaroor hy ‘n hele boek geskryf het Agon: Towards a Theory of Revisionism (1982) wys op die inherente kompetisie in sowel die skryf- as die leesaksie.

En die kundigheid van so ‘n meester-leser word duidelik gemaak in ‘n lesing oor Herman Melville se Moby Dick (Harold Bloom on Melville's Moby Dick - YouTube. Besoek 17 Oktober 2019). Sekere aspekte van hierdie roman begryp ek nou beter na Bloom se lesing.

Camille Paglia se Sexual personae is onder sy leiding geskryf. Haar Break blow burn (2005) waarin sy 43 beste Engelse gedigte lees, is ‘n obiter dictum aan haar mentor. 

Bloom is veral beïnvloed deur Northrop Frye en William K. Wimsatt.

Resensie | Gerard Scholtz – Hier gaat ons! Reise en rampe (2019)

Gerard Scholtz – Hier gaat ons! Reise en rampe. Hemel & See Boeke, 2019. ISBN 9781 928 283 249

Resensent: Joan Hambidge

Gerard Scholtz se reisboek is genoeglik en met pragtige foto's en kaarte. Dit is geskryf in die oomblik met outentieke beskrywings van fiets- en motorry deur Europa. Hy hou dagboek en vermaak die leser met presies dít wat reis aan jou doen. Jy verwag iets waarna jy verbete soek soos in die ontglippende Ierland waar die kos onaangenaam is en die kerries tuis lekkerder smaak. Die kaarte (met die hand geteken) vertel vir die leser presies vertel waar hy en sy vrou hulle bevind.

Dit is ‘n reisbeskrywing wat slaap in tente en beskeie herberge goed karteer. Roughing it, dus.

Reis is letterlik ‘n verregaande proses, van ver wees van jou bakens (en na aan jou skade). Scholtz beskryf rampe uitstekend: en die vreugdes van reis wat 'n mens dikwels eers by nabaat kan insien. Anuta se siekte (vergiftigde waatlemoen wat met riool bemes is) kon erger afgeloop het. Ons lees ook hoe hulle mekaar verloor het in Basel. Anuta gee haar weergawe. En Gerard syne. (Wat bewys hoe subjektief mense onthou en vertel).

Siekte, beursies wat verloor word, klein rampe (soos 'n wind wat 'n tent wegblaas), misverstande rondom taal, luide kampeerders, fietse wat breek, 'n battery van 'n motorfiets wat die gees gee, is van die ellendes wat die reisigers moet trotseer.

Daar is ‘n pynlike moment wanneer hulle twee oumense in 2016 (presies twintig jaar later na die ontmoeting) in Bajna gaan opsoek om hulle te bedank vir hulle hulp met Anuta se siekte. Ontnugtering. Die ou mense herken hulle helaas glad nie.

Die reisboek verwys dikwels na engele wat die reisigers bystaan ('n kavalkade van engele) en die geskiedenis word dikwels met 'n tersluikse verwysing bygehaal soos in 'n reis deur Praag (169).
Rusland moet eerder van ver bekyk word. Van naby is daar te veel ellende.

In die Oos-Bloklande is daar dikwels ernstige kwessies wat die reisigers in die gesig staar. Hier kan 'n mens nie help om te dink aan die films van Tarkofski en Béla Tarr (die Hongaarse fillmaker) nie. Of Ingmar Bergman. Die skrywer verwys na films (veral in die Oos-Blok-lande) om ervarings weer te gee. Die stiltes, die donkerte, die wag ...

Daar is 'n verwysing na Schindler's List en die plek waar dit geskiet is (188).

Die beskrywing van die Joodse ghetto in Krakow sal hierdie leser altyd bybly. Die impak van die oorlog wat mense nooit sal verlaat nie, is so. Die weergawes van Istanboel het my terug laat verlang na die ou gedeelte van die stad. Begraafplase verklap eweneens iets van 'n stad se binnespraak. Nes kerke en katedrale.

Humor is daar ook. Vodka wat soos mampoer proe. Of die kaal Fransman met ‘n baguette onder sy arm op ‘n fiets.

In meeste van hierdie streke het ek beweeg - maar per trein, bus of vliegtuig en nie soos Scholtz en sy reisgenoot 'n outentieke ervaring gehad nie. Die stamina moet beslis bewonder word. 

Elke mens reis op sy eie manier. Hierdie reisigers reis ín die land in. Hierom is daar opdraandes. Letterlik en figuurlik. Soms wonder die leser: waarom dit tog aandurf as jy weet die toilette gaan vuil wees en die kampe onherbergsaam? Waarskynlik omdat die begeerte om 'n vreemde plek te ervaar allesoorheersend is en dalk is hierdie ellendes wat oorwin word uiteindelik die lekkerste verhale om agterna te vertel. (Soos die uwe wat altyd die jong man sal onthou op ‘n trein langs die fjords in Noorweë wat ‘n kombers vir my geleen het of ‘n jongeling op ‘n stasie in Rome wat ‘n bier gegee het vir die dorstige reisiger.)

Dit is 'n boek oor onvoltooide reise en hiermee word daar kommentaar gelewer op die lewe as 'n reis. In die afdeling “Moet nooit omkyk nie” word besoek afgelê by Alma in die Waterberg. Die nostalgiese verlange word egter ‘n ontnugtering. 'n Mens moet helaas nooit terugkyk nie (soos Lot se vrou) want die idille word beter bewaar in die gemoed.

Turkye, die Oosblok, Egipte, Frankryk, Ierland, Rusland, Wallis is van die plekke wat besoek is. Elkeen se aard word kort en bondig opgesom met historiese en geografiese verwysings.

Hierdie leser verkies 'n luukser reis met hotelle (nie herberge nie) en georganiseerde bustoere eerder as 'n sulke pelgrimstogte. Roughing it, is vir my kamerdiens. Die wins is egter die mooie boek wat sy plek inneem langs gesoute reisskrywers in Afrikaans soos Uys Krige, André P. Brink, Hennie Aucamp, Marié Heese, André Pretorius, Erns Grundling ...

Dit is 'n boek vol serpentinas.

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Fine Music Radio)

Monday, October 14, 2019

Onderhoud | Gesprek met Hendrik J Botha (2019)

1) Verduidelik jou titel.

Soos met my eerste bundel het die titel hom redelik laat aangemeld. Ek het met ‘n werkstitel, Seisoenaal, gewerk, waaroor daar in ‘n keurverslag bedenkinge was. Synde dat die bundel wat my aanbetref nie werklik oor die natuurlike seisoene gaan nie, maar ek eerder iets anders daarmee probeer kommunikeer, het ek na alternatiewe titels begin kyk. Die voorblad het ook laat beslag gekry, eintlik min of meer dieselfde tyd as die titel. Ek het my vrou gevra of ek een van haar kunswerke kan gebruik, (sy is ‘n skilder), maar ek kon niks kry wat werklik tot my wou spreek nie. Ek het haar toe gevra om die manuskrip te lees en iets te maak wat sy dink daarmee kommunikeer. Die voorblad was dus inderwaarheid dan ‘n opdragwerk. In dieselfde tyd het ‘n slotreël van een van die gedigte, “hoe die winter soms bloot voorspraak vir die lente maak” in my kop begin draai, en dit het saam met die voorblad vir my eintlik presies saamgevat wat die bundel myns insiens wou kommunikeer: voorspraak versus uitspraak, vooruitskouing versus nabetragting, lewe versus dood, voorspoed versus teenspoed, sukses versus mislukking.

Die tweeheid, miskien eerder ‘n soort “eenheid van teenstellings”, soos Herakleitos dit genoem het, en hoe onlosmaaklik hierdie teenpole reg deur ons lewe aan mekaar verbind is, en dikwels eintlik interafhanklik van mekaar is. (In welke verband die opdraggedig, "Apoptose", natuurlik ook die sleutel verskaf.)

En dan die “voorspraak”. Daar word vir almal van ons iewers in ons lewens voorspraak gemaak: deur ouers, onderwysers, vriende, wie ook al.

En iewers maak ons op ons beurt weer voorspraak vir iemand: vir kinders, geliefdes, vriende. En die “voorspraakmaker” staan dikwels nie voorop nie, maar eerder bietjie terug, amper in die skadu. (Die titelgedig, “Voorspraak” staan dan ook “non-prominent” redelik laat in die bundel.) Dis die vangnet wat ons almal iewers ondervang in die lewe, selfs dikwels sonder dat ons daaraan dink. Dan natuurlik as jy uit ‘n gelowige perspektief daarna kyk, die fundamentele Voorspraak wat daar vir ons almal gemaak is deur Jesus.

2) Jy is deel van ‘n lang galery digters wat ook dokters is. Hoe beïnvloed die mediese wêreld jou gedigte? Veral jou werk as narkotiseur waar jy dikwels met lewe en dood gekonfronteer word.

Vir my is dit ‘n logiese uitvloeisel om oor my werk (ook), te skryf. Ek “leef” poësie raak, en skryf dit dan neer. Ek spandeer tussen tien en twaalf uur, (soms langer), in my werksplek. (Ek werk deesdae minder!) Dit is logies dus ‘n ruimte vir my waar ek poësie moet “raakleef”.
Wat die dood aanbetref… “Die dood was nog altyd met ons gewees”…(dit was Len Louw se woorde).

Soos ek reeds genoem het in die eerste vraag, is die lewe en die dood onlosmaaklik aan mekaar verbind. Die enigste gegewe wat vir ons gewaarborg is by geboorte, is dat ons iewers gaan sterf, dis al wat vas staan, die res is blote spekulasie!

Soms is die dood ook noodsaaklik vir oorlewing: dis wat apoptose uiteraard beteken, “geprogrammeerde seldood”, in wese dan ook “geprogrammeerde sel(f)dood”.

My antwoord op die vraag dus: Ja, ek word dikwels met die dood gekonfronteer, ewe dikwels met die lewe, en die onderskeid tussen die twee is dikwels vaag.

En ja, dit beinvloed my gedigte. Dit doen.

3) Charles Bukowski begelei jou herinneringe aan ‘n kindertyd. Waarom juis hierdie digter?

Bukowski is ‘n digter wat ek baie lank reeds graag lees, en waarheen ek dikwels ook terugkeer. (Soms terugvlug)! Hy kommunikeer vir my ‘n melankolie wat resoneer met my. Hy was in baie opsigte ook ‘n randfiguur, die verteenwoordiger van die “underdog”, wat my aanspreek.

Dít alles praat met my, nog altyd. Maar dis veral die melankolie, dink ek.

4. Jy skryf ‘n unieke landskapsgedig waar die binne-landskap iets verklap van die buite-landskap; en andersom. Soos in “Onbewus”. Kommentaar.

Soos ek vroeër genoem het, gaan my seisoensgedigte nie werklik oor seisoene nie, net so my landskapsgedigte nie werklik oor “plekke” nie, maar oor verskillende ruimtes met hul diversiteit en tweeledigheid, (soos natuurlik ook die binne-landskap en buite-landskap tereg deur jou opgemerk). En dan natuurlik ook die fundamentele eensaamheid en die melankolie, so onlosmaaklik deel van ons. Ons beweeg siklies deur die lewe, soos seisoene: alles wat opgaan moet afkom, wat gebore word moet sterf, wat vandag sukses meebring, baar môre mislukking, en alles is onlosmaaklik verbind aanmekaar. Ook ons binne-landskap en buite-landskap?

5. Waarom praat Namibië so sterk met jou.

Ek het Namibië met die oorlog destyds die eerste keer leer ken, en ‘n lewenslange liefde vir, nee, eintlik ‘n obsessie met die land ontwikkel.

Ek keer telkens terug daarheen, veral die droër noordwestelike gedeelte, die Kaokoland. Ek voel my meer tuis in woestyne of semi-woestyne soos die Kaokoland of die Namib. ‘n Woestyn voel vir my of daar niks weggesteek is nie, of dit wat jy sien dit is wat jy kry. Amper of die landskap meer “eerlik” is. Dit spreek tot my. (Dis egter nie heeltemal waar nie, want woestyne se geheime is net meer subtiel en lê dikwels onder die sand.) Ek val egter minstens vir die illusie, telkens weer. 

Ek reis dikwels in Namibië. Op ‘n stadium in my lewe was die enigste vankansie wat ek ooit geneem het, ‘n jaarlikse pelgrimstog deur die Kaokoland, dikwels ook alleen, (wat nie ‘n goeie idee was nie; enige iemand wat die Kaokoland ken, sal vir jou sê jy moet nóóit alleen daar reis nie), maar ek het.

Ek skryf ook makliker oor “dorre streke”. Ek neem aan dit gaan maar oor mens se persoonlikheid: “dor en droog” vs “geil en vrugbaar”?

6. Die impak van die weermag en die grensoorlog het jou ook as mens (en as digter) gevorm. Kommentaar.

Meeste Suid Afrikaanse mans van my/ons generasie het die oorlog (minstens kollektief) in ons geheue. Party is meer direk daardeur beïnvloed as ander.

Vir my was dit ‘n tyd wat ek as’t ware my “onskuld verloor” het, ‘n tyd van ontnugtering, ‘n tyd van gewaarwording dat daar meer as een kant van ‘n saak is, dat alles waarmee ons grootgeword het, dit wat ons met moedersmelk ingeneem het, nie noodwendig die volle waarheid was nie. “Nothing is what it seems” is ‘n gedig in my eerste bundel daaroor. Bob Dylan se liedjie “With God on our side” (uit sy album The times they are a changing), gee ook ‘n ironiese blik hierop.

Die oorlog was egter ook goed vir my; dit het vir my ‘n lewenslange verbintenis met Namibië bewerkstellig, en dít het ‘n enorme invloed op my as mens, en veral op my as digter gehad.
Om op te som: die oorlog was sleg, en die oorlog was goed, en die goeie en die slegte is eintlik onlosmaaklik verweef… amper soos die lewe en die dood.

7. "My eie spieëlbeeld versplinter in die water".
Is gedigte ooit spieëls? Of is dit spirituele medisyne soos Darwish opmerk?

Versplintering vs. volmaaktheid of heelheid.

Teenpole, onlosmaaklik verbind.(Ek klink nou soos ‘n grammafoon)!

Ons beweeg siklies deur die lewe, in alle opsigte: wat opgaan moet afkom, wat bloei moet taan, wat lewe moet sterf.

Hoe ouer ek word hoe meer bewus raak ek van my eie imperfeksies, die krake in my mondering, my eie sterflikheid, “my eie spieëlbeeld versplinter in die water”. Maar ek leer ook vrede maak daarmee. Leonard Cohen sê: “there’s a crack in everything, that’s how the light gets in”…

Gedigte kan ook spieëls wees, (nie noodwendig altyd nie), ook nie net gedigte wat ons self skryf nie, ook gedigte wat ons lees. Soms help ‘n gedig my om iewers uit te kom, om iets ánders te sien of te beskou. Soms ook om iets van myself met “ander oë” te sien.

Is gedigte spirituele medisyne? 

Die skrywer Robertson Davies het eenmaal ‘n lesing aan ‘n klomp dokters gegee onder andere oor die gebreke in die opleiding van dokters. Hy het dit verduidelik aan die hand van die Caudaceus. Die Caudaceus is die simbool van medisyne in die Amerikaanse tradisie, (en in meeste militêre instansies se mediese korps).

Ons in Suid Afrika val natuurlik in by die Europese tradisie, waar Asclepios se staf met die enkele rotslang om gespiraal gebruik word as teken.

Hoe dit ookal sy, die Caudaceus bestaan uit die Griekse god Hermes se staf met twee slange wat daarom krul. In die mitologie lui die verhaal dat Hermes in die veld geloop het en op twee vegtende slange afgekom het. Om die geveg te probeer besweer het hy sy staf tussen hulle ingegooi. Die slange het egter om die staf gekrul en aanhou veg. Die staf hou dus sedertdien die vegtende slange in balans.

Binne ons konteks vandag is Hermes se staf die Geneeskunde, en die twee slange in konflik, die slang van Kennis en die slang van Wysheid.

Kennis verteenwoordig die medies wetenskaplike domein, en Wysheid die menslike empatiese verhouding wat daar tussen dokter en pasiënt gevestig behoort te word, en wat vir genesing net so kardinaal noodsaaklik is as Kennis.

Dis die emosionele skakel wat “slagoffer en heler” met mekaar verbind. Poësie bied by uitstek  die grondslag vir empatie.

Tydens opleiding van dokters is daar, (veral in my tyd), suiwer gefokus op die wetenskap, dus die slang van Kennis, en is die empatiese aspek van Wysheid bykans buite rekening gelaat. Volgens ‘n studie deur J.Kenneth Arneth begin mediese student hul opleiding met “empathy deficits”, en vererger die tydens hulle opleiding. 

Poësie kan dokters dus help om beter “helers” te word. Poësie omvat baie van die ideale wat dokters nastreef, dit wat Cesar Pavese noem “an absolute will to see clearly”, of miskien wat Czeslaw Milosz noem “the passionate persuit of the real”.

Ek dink dit beantwoord jou vraag of gedigte spirituele medisyne is.

8. Tom Waits en Leonard Cohen praat ook saam. Waarom die twee sinici? Ek dink hier aan die slot van “Vasbeslote”.

Ek dink ons moet oppas om Cohen en Waits te tipeer as sinici, hulle is soveel méér as dit. Eintlik dink ek hulle beide se sinisme is amper ‘n toevallige bevinding. (As dit moontlik is dat sinisme toevallig kan wees)!

Ek het grootgeword met Cohen. Hy was ‘n gerekende digter lank voor sy eerste album uitgereik is. Hy dra ‘n diepe melankolie sy lewe lank met hom saam,  en ‘n amper naïewe goedgelowigheid in mense, ‘n nederigheid en aweregse selfspot, en ‘n nimmereindigende soeke na “iets” om aan vas te hou “Since I’ve last been here, I studied deeply into the religions and philosophy, but the cheerfulness kept breaking through”… Dis die Cohen wat ek leer ken en leer aanhang het. Maar dis veral die digter…

Waits is iets anders. Hy dra iets van Bukowski in hom. Hy is aweregs, ‘n randfiguur, verteenwoordiger van die “underdog”. Hy sou groot korporatiewe instansies (soos Audi en Dorito’s) hof toe sleep vir skending van kunstenaars se kopiereg, (terwyl almal sou waarsku dat jy nie ‘n hofsaak teen sulke groot maatskappye kan wen nie). Hy sou telkens die saak wen en dan die geld aan liefdadigheid skenk. Hy sou weier dat Amerikaanse radiostasies sy musiek uitsaai, oor ‘n dispuut, (wat absoluut kranksinnig sou klink), maar dan sou hy daarna byna kultus status in Japan en Australië bereik. Die dag toe ek gehoor het dat hy vir drie maande in sy kar gewoon het, daardie dag het ek ‘n lewenslange aanhanger van hom geword.

Waits is ‘n randfiguur…, met ‘n melankoliese aura en ‘n obsessie oor regverdigheid.

Dis hoekom hy saampraat.

9. Die liefde word ‘n ars poëtika. Dink jy ‘n digter dig beter uit afstand en liefdesverdriet as tydens die geluk en ekstase? Of is dit verskillende prosesse? Die onmoontlikheid om beide te verstaan?

Verdriet en ekstase, twee kante van dieselfde munt, onlosmaaklik aan mekaar verbind. Net soos lewe en dood, voorspoed en teëspoed, feestelikheid en rampspoed. Die “eenheid van teenstellings”. Dis die kernboodskap wat die bundel probeer bring.

Dis altyd gevaarlik (vir my altans), om vanuit ‘n posisie van “rou emosie” te dig, hetsy dit oor liefde, verlies, woede, of watter ander emosie ook al is; hetsy dit uit verdriet of ekstase is. Ek dink, wag eers tot die stof gaan lê.

Oor liefde spesifiek dink ek dis makliker om meer gedistansieerd daaroor te kan dig hoe ouer ek word. Toe ek jonger was kon ek glad nie liefdesgedigte skryf nie, altans nie wat jy in die openbaar kon wys nie!

10. Jy skryf ook lykdigte – o.a. oor ‘n vermoorde jongmens soos in “Rooikappie revisited”. Watter invloed het die politiek en geweld in hierdie land op jou siening van skryf?

Ek dink die politiek en geweld beïnvloed ons almal, direk of indirek, wat in hierdie land woon. Ook ons denkpatrone en ons onbewuste, (wat natuurlik die reservoir is waaruit ons dig).

Ek skryf nie graag politieke gedigte nie, wel oor sosiale en etiese kwessies, en oor onreg. Selfs groot digters (soos Neruda), het mindere politieke gedigte geskryf, daarom probeer ek my weerhou daarvan. 

Ontluik

Laataand lê ons langs mekaar.
In die nanag raak dit koeler,
trek iemand, ek of jy,

’n duvet oor ons,
lê jy soos ’n papie opgekrul,

’n vlinder gereed
om te ontluik,

jou vlerke oop te sprei,
my silhoeët te eien,

dan amper terloops
my aan te raak.

Hendrik J Botha (Uit: Voorspraak, Naledi: 2019)


Resensie | Bun Booyens (samest.) – Fred Mouton: 50 jaar met Fred (2019)

Bun Booyens (samest.) – Fred Mouton: 50 jaar met Fred. Jonathan Ball, 2019. ISBN: 978 1 86842 972 1

Resensent: Joan Hambidge

Noem die naam Fred Mouton en almal glimlag. Vir al meer as vyf dekades is hy die spotprenttekenaar van Die Burger met meer as 10 000 spotprente op sy kerfstok.

Sopas het Bun Booyens, voormalige redakteur van Die Burger, ‘n gawe versameling uit Fred Mouton se werk geoes.

‘n Goeie spotprent gee die essensie weer van ‘n situasie of vergroot ‘n persoon se hebbelikhede. ‘n Stylgreep word, nou ja, ‘n wurg-gréép. ‘n Goeie spotprenttekenaar is waarskynlik soos ‘n digter wat met ‘n eerste lees ‘n boodskap oordra en met ‘n tweede kyk, iets meer verklap. Daar is ‘n paar klassiekes wat ‘n mens altyd sal bybly: die grappies met Deon Meyer (Bennie Griesel) se sukses. Of die gekorswel met openbare figure wat hulself aanstel. Oor rugby veral en die potsierlikhede róndom die spel, het Fred Mouton sy stuiwer in die armbeurs gegooi.

Fred is nie bitsig nie. Hy is meestal speels. Vergelyk sy werk met die grensoorskrydende tekste van Charlie Hebdo of Zapiro se satires waar daar altyd ‘n edge is. Irony’s edge (1994) is immers Linda Hutcheon se belangrike studie oor hoe ironie werk en dat dit gevaarlik kan wees as die leser of kyker jou verkeerd verstaan. Kortom, in ons gekwelde wêreld hét sekere kwessies taboe-onderwerpe geword.

Anton Kannemeyer en Conrad Botes se Bittercomix kry deesdae die wind van voor. Die agtergrond ("back drop") van die samelewing het verander en reaksies van studente op hul werk aan die UK lei tot polemiek. Moet hul werk “verwyder” word uit galerye en sillabusse omdat dit aanstoot gee? Of moet dit eerder behou word, omdat dit ‘n bepaalde tydvak se mores registreer?

Hutcheon se studie se onderskrif lui veelseggend: The theory and politics of irony. Ja, daar is teorie en politiek in die spel. Dis meer as antifrase of ‘skuus, ek bedoel die teenoorgestelde van wat jy uiter. Nee, dis eerder ‘n kombinasie van die gesegde en subtekste wat nuwe lêplekke kry in ‘n teks (hier: spotprent) kry.

Fred is ‘n goedige spottekenaar as hy van jou hou. Sy lanset word skerper wanneer dit by Zuma en kie kom.

Sy tekste het ‘n skets met kommentaar deur klein diertjies (muisies) onderaan wat die konteks help skep. 
Sy humor word tereg as kurkdroog beskou.

Op 27 Julie 1998 is daar ‘n strip van die St Jamesslagting waar die koeëlmerke in die kanselkleed (Vrede op Aarde) die irony’s egde van Hutcheon illustreer. Die skerpskutter word afgebeeld met die kruis links in die skets. Hier is hy egter wrang in sy kommentaar. Dieselfde geld die tekening van Diana.

Sy skets oor Bill Clinton en Monica Lewinsky is puik. Die ballon (met Clinton se gesig daarop) verloor lug wanneer dit Monica se hand verlaat en die kommentaar onderaan is: “As dit by vrouens kom, was Bill maar nog altyd windmakerig.” ‘n Broeklose Bill systap sy kritici (voorgestel as haaie) en op ‘n ander een hys hy ‘n vlag met vroueklere …

Bun Booyens wys daarop dat Fred Mouton se sketse met datums begelei word. Sy twee voorgangers, D.C. Boonzaier (1915 – 1940) en T.O. Honniball (1941 – 1974) het nie.

Die vergrype en versuime van Zuma, soos Booyens dit klinkend stel, het van Zuma die groot treffer gemaak vir sowel Fred as Zapiro.

Hoe teken Fred omstanders? Hy vertel dat hy eers sulke ovalerige vorms trek. Dan sit hy oë in en ‘n neus. Soms vet wange; ander kere benerige wange. En ja dis skynbaar moeilik om mooi mense te teken! 

Booyens het gelyk wanneer hy hom tipeer as ‘n voortreflike portretkunstenaar wanneer hy die Sestigers in 1973 skets.

Die boek karteer sy ontwikkeling van sy werk onder mentor T.O. Honniball tot die vestiging van sy eie styl.

Ons word herinner aan vele blapse en blopse in die geskiedenis. Soms snaaks. Soms pynlik.

Dit moet saamgelees word met Charlie Brown & Charlie Schulz, die studie oor Charles M. Schulz deur Lee Mendelsohn wat in 1970 verskyn het. Snoopy is o.a. in 1968 vereer as die humoristiese simbool vir uitstaande werk by NASA. 

Booyens se studie is ‘n wonderlike boek het ‘n uitgebreide bronnelys vir verdere lees- speurwerk.


(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Beeld)