Bladsye / Pages

Monday, October 14, 2019

Onderhoud | Gesprek met Hendrik J Botha (2019)

1) Verduidelik jou titel.

Soos met my eerste bundel het die titel hom redelik laat aangemeld. Ek het met ‘n werkstitel, Seisoenaal, gewerk, waaroor daar in ‘n keurverslag bedenkinge was. Synde dat die bundel wat my aanbetref nie werklik oor die natuurlike seisoene gaan nie, maar ek eerder iets anders daarmee probeer kommunikeer, het ek na alternatiewe titels begin kyk. Die voorblad het ook laat beslag gekry, eintlik min of meer dieselfde tyd as die titel. Ek het my vrou gevra of ek een van haar kunswerke kan gebruik, (sy is ‘n skilder), maar ek kon niks kry wat werklik tot my wou spreek nie. Ek het haar toe gevra om die manuskrip te lees en iets te maak wat sy dink daarmee kommunikeer. Die voorblad was dus inderwaarheid dan ‘n opdragwerk. In dieselfde tyd het ‘n slotreël van een van die gedigte, “hoe die winter soms bloot voorspraak vir die lente maak” in my kop begin draai, en dit het saam met die voorblad vir my eintlik presies saamgevat wat die bundel myns insiens wou kommunikeer: voorspraak versus uitspraak, vooruitskouing versus nabetragting, lewe versus dood, voorspoed versus teenspoed, sukses versus mislukking.

Die tweeheid, miskien eerder ‘n soort “eenheid van teenstellings”, soos Herakleitos dit genoem het, en hoe onlosmaaklik hierdie teenpole reg deur ons lewe aan mekaar verbind is, en dikwels eintlik interafhanklik van mekaar is. (In welke verband die opdraggedig, "Apoptose", natuurlik ook die sleutel verskaf.)

En dan die “voorspraak”. Daar word vir almal van ons iewers in ons lewens voorspraak gemaak: deur ouers, onderwysers, vriende, wie ook al.

En iewers maak ons op ons beurt weer voorspraak vir iemand: vir kinders, geliefdes, vriende. En die “voorspraakmaker” staan dikwels nie voorop nie, maar eerder bietjie terug, amper in die skadu. (Die titelgedig, “Voorspraak” staan dan ook “non-prominent” redelik laat in die bundel.) Dis die vangnet wat ons almal iewers ondervang in die lewe, selfs dikwels sonder dat ons daaraan dink. Dan natuurlik as jy uit ‘n gelowige perspektief daarna kyk, die fundamentele Voorspraak wat daar vir ons almal gemaak is deur Jesus.

2) Jy is deel van ‘n lang galery digters wat ook dokters is. Hoe beïnvloed die mediese wêreld jou gedigte? Veral jou werk as narkotiseur waar jy dikwels met lewe en dood gekonfronteer word.

Vir my is dit ‘n logiese uitvloeisel om oor my werk (ook), te skryf. Ek “leef” poësie raak, en skryf dit dan neer. Ek spandeer tussen tien en twaalf uur, (soms langer), in my werksplek. (Ek werk deesdae minder!) Dit is logies dus ‘n ruimte vir my waar ek poësie moet “raakleef”.
Wat die dood aanbetref… “Die dood was nog altyd met ons gewees”…(dit was Len Louw se woorde).

Soos ek reeds genoem het in die eerste vraag, is die lewe en die dood onlosmaaklik aan mekaar verbind. Die enigste gegewe wat vir ons gewaarborg is by geboorte, is dat ons iewers gaan sterf, dis al wat vas staan, die res is blote spekulasie!

Soms is die dood ook noodsaaklik vir oorlewing: dis wat apoptose uiteraard beteken, “geprogrammeerde seldood”, in wese dan ook “geprogrammeerde sel(f)dood”.

My antwoord op die vraag dus: Ja, ek word dikwels met die dood gekonfronteer, ewe dikwels met die lewe, en die onderskeid tussen die twee is dikwels vaag.

En ja, dit beinvloed my gedigte. Dit doen.

3) Charles Bukowski begelei jou herinneringe aan ‘n kindertyd. Waarom juis hierdie digter?

Bukowski is ‘n digter wat ek baie lank reeds graag lees, en waarheen ek dikwels ook terugkeer. (Soms terugvlug)! Hy kommunikeer vir my ‘n melankolie wat resoneer met my. Hy was in baie opsigte ook ‘n randfiguur, die verteenwoordiger van die “underdog”, wat my aanspreek.

Dít alles praat met my, nog altyd. Maar dis veral die melankolie, dink ek.

4. Jy skryf ‘n unieke landskapsgedig waar die binne-landskap iets verklap van die buite-landskap; en andersom. Soos in “Onbewus”. Kommentaar.

Soos ek vroeër genoem het, gaan my seisoensgedigte nie werklik oor seisoene nie, net so my landskapsgedigte nie werklik oor “plekke” nie, maar oor verskillende ruimtes met hul diversiteit en tweeledigheid, (soos natuurlik ook die binne-landskap en buite-landskap tereg deur jou opgemerk). En dan natuurlik ook die fundamentele eensaamheid en die melankolie, so onlosmaaklik deel van ons. Ons beweeg siklies deur die lewe, soos seisoene: alles wat opgaan moet afkom, wat gebore word moet sterf, wat vandag sukses meebring, baar môre mislukking, en alles is onlosmaaklik verbind aanmekaar. Ook ons binne-landskap en buite-landskap?

5. Waarom praat Namibië so sterk met jou.

Ek het Namibië met die oorlog destyds die eerste keer leer ken, en ‘n lewenslange liefde vir, nee, eintlik ‘n obsessie met die land ontwikkel.

Ek keer telkens terug daarheen, veral die droër noordwestelike gedeelte, die Kaokoland. Ek voel my meer tuis in woestyne of semi-woestyne soos die Kaokoland of die Namib. ‘n Woestyn voel vir my of daar niks weggesteek is nie, of dit wat jy sien dit is wat jy kry. Amper of die landskap meer “eerlik” is. Dit spreek tot my. (Dis egter nie heeltemal waar nie, want woestyne se geheime is net meer subtiel en lê dikwels onder die sand.) Ek val egter minstens vir die illusie, telkens weer. 

Ek reis dikwels in Namibië. Op ‘n stadium in my lewe was die enigste vankansie wat ek ooit geneem het, ‘n jaarlikse pelgrimstog deur die Kaokoland, dikwels ook alleen, (wat nie ‘n goeie idee was nie; enige iemand wat die Kaokoland ken, sal vir jou sê jy moet nóóit alleen daar reis nie), maar ek het.

Ek skryf ook makliker oor “dorre streke”. Ek neem aan dit gaan maar oor mens se persoonlikheid: “dor en droog” vs “geil en vrugbaar”?

6. Die impak van die weermag en die grensoorlog het jou ook as mens (en as digter) gevorm. Kommentaar.

Meeste Suid Afrikaanse mans van my/ons generasie het die oorlog (minstens kollektief) in ons geheue. Party is meer direk daardeur beïnvloed as ander.

Vir my was dit ‘n tyd wat ek as’t ware my “onskuld verloor” het, ‘n tyd van ontnugtering, ‘n tyd van gewaarwording dat daar meer as een kant van ‘n saak is, dat alles waarmee ons grootgeword het, dit wat ons met moedersmelk ingeneem het, nie noodwendig die volle waarheid was nie. “Nothing is what it seems” is ‘n gedig in my eerste bundel daaroor. Bob Dylan se liedjie “With God on our side” (uit sy album The times they are a changing), gee ook ‘n ironiese blik hierop.

Die oorlog was egter ook goed vir my; dit het vir my ‘n lewenslange verbintenis met Namibië bewerkstellig, en dít het ‘n enorme invloed op my as mens, en veral op my as digter gehad.
Om op te som: die oorlog was sleg, en die oorlog was goed, en die goeie en die slegte is eintlik onlosmaaklik verweef… amper soos die lewe en die dood.

7. "My eie spieëlbeeld versplinter in die water".
Is gedigte ooit spieëls? Of is dit spirituele medisyne soos Darwish opmerk?

Versplintering vs. volmaaktheid of heelheid.

Teenpole, onlosmaaklik verbind.(Ek klink nou soos ‘n grammafoon)!

Ons beweeg siklies deur die lewe, in alle opsigte: wat opgaan moet afkom, wat bloei moet taan, wat lewe moet sterf.

Hoe ouer ek word hoe meer bewus raak ek van my eie imperfeksies, die krake in my mondering, my eie sterflikheid, “my eie spieëlbeeld versplinter in die water”. Maar ek leer ook vrede maak daarmee. Leonard Cohen sê: “there’s a crack in everything, that’s how the light gets in”…

Gedigte kan ook spieëls wees, (nie noodwendig altyd nie), ook nie net gedigte wat ons self skryf nie, ook gedigte wat ons lees. Soms help ‘n gedig my om iewers uit te kom, om iets ánders te sien of te beskou. Soms ook om iets van myself met “ander oë” te sien.

Is gedigte spirituele medisyne? 

Die skrywer Robertson Davies het eenmaal ‘n lesing aan ‘n klomp dokters gegee onder andere oor die gebreke in die opleiding van dokters. Hy het dit verduidelik aan die hand van die Caudaceus. Die Caudaceus is die simbool van medisyne in die Amerikaanse tradisie, (en in meeste militêre instansies se mediese korps).

Ons in Suid Afrika val natuurlik in by die Europese tradisie, waar Asclepios se staf met die enkele rotslang om gespiraal gebruik word as teken.

Hoe dit ookal sy, die Caudaceus bestaan uit die Griekse god Hermes se staf met twee slange wat daarom krul. In die mitologie lui die verhaal dat Hermes in die veld geloop het en op twee vegtende slange afgekom het. Om die geveg te probeer besweer het hy sy staf tussen hulle ingegooi. Die slange het egter om die staf gekrul en aanhou veg. Die staf hou dus sedertdien die vegtende slange in balans.

Binne ons konteks vandag is Hermes se staf die Geneeskunde, en die twee slange in konflik, die slang van Kennis en die slang van Wysheid.

Kennis verteenwoordig die medies wetenskaplike domein, en Wysheid die menslike empatiese verhouding wat daar tussen dokter en pasiënt gevestig behoort te word, en wat vir genesing net so kardinaal noodsaaklik is as Kennis.

Dis die emosionele skakel wat “slagoffer en heler” met mekaar verbind. Poësie bied by uitstek  die grondslag vir empatie.

Tydens opleiding van dokters is daar, (veral in my tyd), suiwer gefokus op die wetenskap, dus die slang van Kennis, en is die empatiese aspek van Wysheid bykans buite rekening gelaat. Volgens ‘n studie deur J.Kenneth Arneth begin mediese student hul opleiding met “empathy deficits”, en vererger die tydens hulle opleiding. 

Poësie kan dokters dus help om beter “helers” te word. Poësie omvat baie van die ideale wat dokters nastreef, dit wat Cesar Pavese noem “an absolute will to see clearly”, of miskien wat Czeslaw Milosz noem “the passionate persuit of the real”.

Ek dink dit beantwoord jou vraag of gedigte spirituele medisyne is.

8. Tom Waits en Leonard Cohen praat ook saam. Waarom die twee sinici? Ek dink hier aan die slot van “Vasbeslote”.

Ek dink ons moet oppas om Cohen en Waits te tipeer as sinici, hulle is soveel méér as dit. Eintlik dink ek hulle beide se sinisme is amper ‘n toevallige bevinding. (As dit moontlik is dat sinisme toevallig kan wees)!

Ek het grootgeword met Cohen. Hy was ‘n gerekende digter lank voor sy eerste album uitgereik is. Hy dra ‘n diepe melankolie sy lewe lank met hom saam,  en ‘n amper naïewe goedgelowigheid in mense, ‘n nederigheid en aweregse selfspot, en ‘n nimmereindigende soeke na “iets” om aan vas te hou “Since I’ve last been here, I studied deeply into the religions and philosophy, but the cheerfulness kept breaking through”… Dis die Cohen wat ek leer ken en leer aanhang het. Maar dis veral die digter…

Waits is iets anders. Hy dra iets van Bukowski in hom. Hy is aweregs, ‘n randfiguur, verteenwoordiger van die “underdog”. Hy sou groot korporatiewe instansies (soos Audi en Dorito’s) hof toe sleep vir skending van kunstenaars se kopiereg, (terwyl almal sou waarsku dat jy nie ‘n hofsaak teen sulke groot maatskappye kan wen nie). Hy sou telkens die saak wen en dan die geld aan liefdadigheid skenk. Hy sou weier dat Amerikaanse radiostasies sy musiek uitsaai, oor ‘n dispuut, (wat absoluut kranksinnig sou klink), maar dan sou hy daarna byna kultus status in Japan en Australië bereik. Die dag toe ek gehoor het dat hy vir drie maande in sy kar gewoon het, daardie dag het ek ‘n lewenslange aanhanger van hom geword.

Waits is ‘n randfiguur…, met ‘n melankoliese aura en ‘n obsessie oor regverdigheid.

Dis hoekom hy saampraat.

9. Die liefde word ‘n ars poëtika. Dink jy ‘n digter dig beter uit afstand en liefdesverdriet as tydens die geluk en ekstase? Of is dit verskillende prosesse? Die onmoontlikheid om beide te verstaan?

Verdriet en ekstase, twee kante van dieselfde munt, onlosmaaklik aan mekaar verbind. Net soos lewe en dood, voorspoed en teëspoed, feestelikheid en rampspoed. Die “eenheid van teenstellings”. Dis die kernboodskap wat die bundel probeer bring.

Dis altyd gevaarlik (vir my altans), om vanuit ‘n posisie van “rou emosie” te dig, hetsy dit oor liefde, verlies, woede, of watter ander emosie ook al is; hetsy dit uit verdriet of ekstase is. Ek dink, wag eers tot die stof gaan lê.

Oor liefde spesifiek dink ek dis makliker om meer gedistansieerd daaroor te kan dig hoe ouer ek word. Toe ek jonger was kon ek glad nie liefdesgedigte skryf nie, altans nie wat jy in die openbaar kon wys nie!

10. Jy skryf ook lykdigte – o.a. oor ‘n vermoorde jongmens soos in “Rooikappie revisited”. Watter invloed het die politiek en geweld in hierdie land op jou siening van skryf?

Ek dink die politiek en geweld beïnvloed ons almal, direk of indirek, wat in hierdie land woon. Ook ons denkpatrone en ons onbewuste, (wat natuurlik die reservoir is waaruit ons dig).

Ek skryf nie graag politieke gedigte nie, wel oor sosiale en etiese kwessies, en oor onreg. Selfs groot digters (soos Neruda), het mindere politieke gedigte geskryf, daarom probeer ek my weerhou daarvan. 

Ontluik

Laataand lê ons langs mekaar.
In die nanag raak dit koeler,
trek iemand, ek of jy,

’n duvet oor ons,
lê jy soos ’n papie opgekrul,

’n vlinder gereed
om te ontluik,

jou vlerke oop te sprei,
my silhoeët te eien,

dan amper terloops
my aan te raak.

Hendrik J Botha (Uit: Voorspraak, Naledi: 2019)