Resensent: Joan Hambidge
Hierdie roman verskyn in die #me-too-tydvak. Al hoe meer is mense van verskillende gender-posisies krities oor ongeregtighede en seksuele misbruik. Party van die aanklagte is reg; ander is so lank na die tyd dat die aanklag problematies word, om verskeie redes. Akteurs verloor in 'n ommesientjie werk. Mense beland in die tronk. Die stemloses het egter stemhebbend geword.
Feit bly staan: in hierdie pakkende roman gee Christine Barkhuizen-Le Roux insig in die werkinge van jeugtrauma op 'n gevoelige man, Deon. Corinne, die terapeut van die gemolesteerde beweeg op 'n reis – letterlik terug na Skuilkranz waar alles plaasgevind het en ook emosioneel in haar self-konfrontasie. Daar is verskillende rolspelers wat deelneem aan hierdie proses van verhulling en onthulling. Daar is Frank, Corinne se predikant-eggenoot, daar is sibbe, daar is vaders aan beide kante. En ook moeders. Swyende moeders. Daar is Sieg.
Oom Engeltjie en Mama Indwe is ander karakters wat help raad gee en perspektiewe bring. En Herkie die parapleeg belig die pyn wat die “bose simbiose” tussen mense tot gevolg het. En die vrou van die boosdoener deel eweneens ‘n donker geheim met die terapeut en die leser. Die leser se perspektief word grootliks bepaal deur die fokalisator Corinne. Saam met haar word jy ingetrek in ‘n verhaal waar jy weet die ergste onthulling gaan nog kom.
Vertellings in die hier en nou word geplaas teenoor die verlede in kursief. Herinnering versus verdringing. Kan ‘n mens egter ooit wegkom van pyn? Of bly dit ‘n iteratief-duratief, die sogenaamde praesens (tyd) van pyn wat die toekoms bepaal? Ons weet wat die antwoord is.
Die hele Freudiaanse familieromanse word hier onder die loep geneem en behalwe vir pedofilie, ondersoek die roman alkoholisme, bipolariteit, gesagsfigure wat in duie stort, die kerk, die rol van die terapeut (en hier is suspension of disbelief nodig om te glo dat die terapeut wel so 'n reis mag meemaak). Misdadigheid en aanvalle op weerloses vorm eweneens ‘n sub-tema.
Die verhaal word geposisioneer teen die wye doek van die Rooms-Katolieke kerk se seksskandaal van 2010 en die bywoning van 'n kongres in Antwerp in November 2013.
Die roman ondersoek die rol van aandadigheid. En as jy versuim om te vertel is jy net so medepligtig. Dit ondersoek die ambivalente gevoelens van die gemolesteerde wat dink hy is skuldig oor dít wat hom aangedoen is.
Raak 'n mens ooit ontslae van die verlede of navigeer jy gewoon pynlike ervarings en herinneringe?
Daar is 'n slim verwysing na Neil Diamond se “Morningside”:
Morningside
The old man died
And no one cried
They simply turned away
And when he died
He left a table made of nails and pride
And with his hands he carved these words inside
(“For my children”)
En 'n verhaal van Rachelle Greeff word ingebed wat die verhaal dieper laat uitwaaier. Die rooi kombersie wat die ellende van aanvallers oor die weerlose moet gooi om haar te beskerm, word hier ‘n wit kombersie (96).
Die boek is voorsien van erkennings vir verdere leeswerk oor pedofilie. Pinky Promise deur Pierre C. de Rosemund, Charles Montaldo se studie oor die profiel van pedofiele, Colm O’Gorman se boek oor die veraad van ‘n priester en die wantroue in die kerk word onder andere vermeld. Daar was selfs ‘n persoonlike onderhoud met hierdie man wat die pous aangevat het.
Die voorblad, soos die een van Nadia de Kock se Die wolkversamelaars, is volgens hierdie leser te populisties. Beide romans se voorblaaie mislei die ernstige leser. Die romans is verrassend in die kompleksiteite wat aangesny word róndom trauma en herinnering.
Dit is ‘n roman wat ontstig. Daar is baie drade wat saamgebind word, soms met ‘n groot skeut suspension of disbelief. Maar jy weet terselfdertyd die grimmige boodskap is waar. Dit is egter so dat wát ons hier lees wél met mense gebeur. Die skrywer wys op skuldgevoelens, die rol van die kerk, die jong kind wat ambivalent voel oor sy aandadigheid en dat pedofilie nie gelyk is aan gay-wees nie.
Soms sien jy die hand van die digter wat beeldend vertel, soos: “Die dag was ‘n ovaal, gladgeskuurde klippie wat op die water land …” (196). Of: “Die lug is ‘n swanger vrou wat weet haar uur is naby …” (188).
Dis nie ‘n boek vir ‘n Sondagaand nie. Lees dit saam met Die wolkversamelaars.
Beide tekste analiseer die impak van jeugtrauma op die psige.
Dit is die einde van die “silent generation”. Die outeur wil met hierdie boek ‘n bydrae lewer om ongeregtighede aan die kaak te stel.
(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Rapport)