Bladsye / Pages

Wednesday, June 19, 2019

Resensie | Die verevrou: 'n Kanttekening (2019)

Jan van Tonder – Die verevrou: 'n Kanttekening. NB Uitgewers, 2019. ISBN: 9780798170505

I

Twee verhale: Algerië in 1948, en meer spesifiek, op die volstruisplaas Finisterre. Liora Papalato in haar verhouding met haar ouers en Moshe Habib, uit die Klein-Karoo word afgewissel met 'n beskrywing van Oudtshoorn. Die Algerynse oorlog (1954 - 1962) veroorsaak dat Liora na Parys vlug. Haar moeder is Frans en haar vader kom uit Korsika.

Die tweede verhaal word gesitueer in 1976 en vertel die storie van 'n bruin meisie Candice Amat in die Klein-Karoo. Haar pa werk op 'n volstruisplaas en sy raak verlief op Walter, die ryk boer se seun. Ook sy verlaat die bekende omgewing en word 'n model in die buiteland. Sy keer terug en vervaardig vereprodukte wat sy aan buitelanders verkwansel.

Die twee teenspelers ontmoet in 1992 in Suid-Afrika.

Van Tonder se romans handel dikwels oor die posisie van liminaliteit of oorgange soos sy suksroman Roepman (2004) ryklik geïllustreer het: die beweging van een dimensie of toestand na 'n ander. Só 'n oorgang gaan gepaard met 'n verlies aan onskuld. Omdat hierdie twee karakters se volwassewording eweneens gesitueer word teen die agtergrond van politieke onrus en ongelykhede, verraai hul rypwording ook iets van die sosiale agtergrond waaruit hul kom. Buite is dan buitestaanders – ons lees ook hier van die pied noir (swartvoet).

Liora is reeds as jong kind verlief op Moshe; die vertellende stem gee 'n blik op Candice se ontwakende seksualiteit wanneer sy op haar pa se fiets ry.

Die titel Die verevrou is eweneens dubbelsinnig: abei vroue word en is verevroue.

Willie Burger wys tereg daarop in 'n blakerteks dat Van Tonder die unieke ruimte van Durban aktiveer in Roepman. Dit is 'n belangrike stelling wat 'n mens bewus maak van die skrywer se vermoë om ruimte goed weer te gee.

II

Hierdie roman het my geneem na Hélène Cixous werk. Digter, dramaturg, filosoof.

Cixous is gebore in Oran, Frans-Algerië en haar vader was 'n dokter wat in tuberkulose gespesialiseer was. Haar moeder was 'n vroedvrou.

Haar naam speel in op six cents (six sous); 'n woordspel uit haar kinderjare.

Haar lewe is sterk beïnvloed deur die feit dat sy Algerië moes verlaat weens die politieke onrus van die tyd. 

Haar broer is ter dood veroordeel weens sy politieke betrokkenheid by die Algerynse bevrydingstryd en vlug na Bordeaux waar hy saam met sy suster woon.

Cixous, soos Derrida, het 'n geweldige invloed gehad op Franse denke en een van haar belangrikste tekste is 'n studie oor Jacques Derrida wat in 2004 verskyn het by Columbia University Press: Portrait of Jacques Derrida as a Young Jewish Saint. Vertaal deur Beverley Bie Brahic.

The Laugh of the Medusa (1975) en Sorties (Exits) is eweneens verpligte leesstof, nes haar studie oor James Joyce wat in 1972 verskyn het.  (Sorties is opgeneem in David Lodge (red.): Modern criticism and theory – A reader. Longman. Londen. 1988.)

Hierdie skrywer se opmerkings in haar notaboeke is vir my tersaaklik wanneer ek Die verevroulees.

The writing notebooks of Hélène Cixous ... is vertaal deur Susan Sellers en het in 2004 in New York by Continuum verskyn.

Hierdie minder bekende teks beklemtoon die intuïtiewe aspek van lees.

III

Twee vroue, twee buitestaanders; beskryf deur 'n manlike skrywer, Jan van Tonder.

Albei soek ontvlugting uit 'n bestaan. Rassespanning en politieke onrus word hier beskryf.

Sonja van der Westhuizen maak geldige punte in haar resensie op Litnet oor die "abnormale seksuele" ontwikkeling en sy vra ook:

Berei jouself ook voor op ʼn paar gewelddadige tonele en ʼn sterk fokus op die vroulike anatomie en seks. In sommige gevalle is hierdie gedetailleerde beskrywings belangrik vir die storielyn. In meer gevalle voel dit onnodig en kan die leser met rede wonder of dit nie bloot vir sensasiedoeleindes is nie. (Die verevrou deur Jan van Tonder/ ’n lesersindruk | LitNet. Besoek 16 Junie 2019).

Hier is Louise Viljoen se resensie: Karakters van Algerië tot Klein-Karoo boei enduit | Netwerk24. Besoek 16 Junie 2019.
  
Verskeie vrouelesers is entoesiasties oor hierdie boek. Hoe sou (gewone) manlike lesers op hierdie teks reageer? 

Cixous postuleer in haar Sorties oftewel Uitgange die volgende opposisies:

Die afdeling begin: "Waar is sy?"

Aktiwiteit/passiwiteit
Son/Maan
Kultuur/Natuur
Dag/Nag
Vader/Moeder
Rede/Hart
Rasioneel/Sensitief
Logos/Pathos

Vorm, konveks, stap, vorentoe, saad, vooruitgang.

Stof, konkaaf, grondbeginsel - wat die stap ondersteun, die houer.

man
====
vrou

Ek dink ook aan Judith Fetterly se bekende term "resisting reader". Fetterly skryf as 'n feministiese leser in haar studie The Resisting Reader: A Feminist Approach to American Fiction (Indiana University Press, 1978).

Ekself is dikwels 'n weerstandsleser, maar iets in hierdie laat 'n mens nadink en weer lees.

Dit is 'n prestasie dat 'n manlike skrywer in die fantasiewêreld van 'n vrou inbeweeg sónder om verminderend oor hul lot te wees.