Bladsye / Pages

Monday, June 10, 2019

Fiksie | Joan Hambidge – Die Dolendes (2019)

I

Dit is al geruime tyd dat sy bewus is van die man en vrou wat snags voor haar woonstelblok slaap. In die nagte hoor sy hoe die man hoes. Dan praat die vrou. Soms wanneer die venster oop is, ruik sy daggarook.
Soggens vroeg is hulle reeds weg.
Hulle beddegoed word in 'n swart sak gehou en in die "boomhalte" geberg.
'n Ander keer sien sy hoe die man die deksel van 'n dreingat oplig en die swart sak daarin plaas.
Waar kom hulle vandaan?
Een nag baklei die twee gewelddadig en sy hoor hoe 'n swart man hulle tot orde roep. In Xhosa. Sy verstaan nie 'n woord van wat hy sê nie, maar uit sy stemtoon kan sy aflei dat hy hulle betig.
"Djou ma se p-.", skreeu die vrou.
Die hele nag lank is daar rusie. 
In die nag hoor sy 'n polisie-sirene. 'n Bottel breek.
Toe verdwyn hulle, die twee dolendes. Naamloos. Huisloos.

II

Na sy tronklewe het die skrywer Jean Genet glo snags na 'n park in Parys gegaan en sy tantième-state uit 'n boom gehaal. Dit was sy adres. Hy wou waarskynlik nie hê mense moet weet waar hy hom bevind nie.
Vir Sartre was hy 'n heilige: Saint Genet. Vir ander 'n blote dief, 'n boef, 'n leuenaar.
Genet se werk fassineer haar geweldig. In die vroeë oggendure sien sy hoe 'n eekhoring by die palmtak opklim tot bo-op die dak. Waarskynlik is dit sý slaapplek onder die warm teëls. 
Sy sit en skryf en kyk uit op Tafelberg en is bewus van die palmboom reg voor haar venster.

III

Die oggend sien sy hoe vuil dit onder die boom is. Papiere, plastieksakke en stukke tou is net so onder die boom gelos voor die woonstelblok. 
Bedags werk die opsigter in die tuin of verwyder vullis. Doen herstel- en verfwerk. Soms sien sy hom in sy buitekamertjie sit. Sy gee gereeld vir hom kos en klere. En sy het gereël dat hy 'n bonus met Kersfees ontvang.
Sy vra vir hom om die gemors op te ruim. Sy beloof vir hom kos vir die taak.
Na twee ure sien sy dit is nog nie skoon nie. Sy bel hom op sy sel.
Hy klink bot. "Ek kan nie daar skoon maak nie," sê hy. Hy verduidelik dat daar menslike uitskot is en dat hy bang is hy word in die verkeer raakgery. En wie sal dan betaal? 
"Ek het nie verwag jy moet dit verniet doen nie; ek het dan vir jou kos gegee ..."
Sy is verbyster toe hy die foon in haar oor neersit.
Toe sy weer bel, is daar geen antwoord nie.
Sy vrou werk in die blok by bure.
"Waar is hy?", vra sy. 
Reeds weg, antwoord sy vriendelik. Die sagte vrou uit Malawi.
Toe sy buite kom, staan die twee bokse oorskietkos voor die deur van die woonstel.
As 'n aanklag, 'n verwyt. 
Sy gee die bokse vir 'n karoppasser. Hy beloof om die vullis te verwyder. In haar truspieëltjie sien sy hoe hy met 'n hark en emmer die nodige doen.

IV

Sy lees in die vroeë oggendure verskeie studies oor ruimte. Lauren Elkin is die skrywer van Flâneuse,gepubliseer deur Chatto. Sy is 'n New Yorker woonagtig in Parys en hierdie boek karteer verskillende stede. 
Iewers het iemand geskryf dat dolendes en haweloses ook 'n ruimte begrens as húlle s'n. Soos dis "Dirk se erf":

Edms. Bpk.

Ek het ’n stukkie grond gekoop
met melkhout op; dit afgekamp
en teen die hek ’n naam geverf
sodat verbygangers besef:
Dis Dirk se erf.

Janfiskaal sit op my melkhoutboom,
sit op ’n kruin, sit op ’n rots,
en proklameer, in sy lied
soggens en saans luidkeels,
“Dis my gebied.”

Bakkapel glip uit my melkhoutbos,
verby die kruin, verby die rots,
en teken op sandkolle waar hy kom
oral in ouderwetse skrif:
“Alles… alles my eiendom.”

D. J. Opperman
Uit: Edms. Bpk. (1970)

Daardie klein eekhoring sien die dak as sy tuiste. Soos die haweloses die boom as hul slaapplek sien.

V

Hoe voel dit om van een land na 'n ander te migreer?
Verlang jy terug na die land van herkoms?
Na jou taal? Na jou gewoontes? Na jou kos? 
Die nuwe plekke van eensaamheid wat niemand werklik kan beskryf nie
En wat ons almal beleef: ek, jy, sy, die haweloses, die eekhoring, die opsigter ...
Almal dolendes, migrante, reisigers ...
Met taal en gewoonte-misverstande.

Octavio Paz skryf iewers: Tussen gaan en bly weifel die dag, // verlief op sy eie deursigtigheid. 

Tussen gaan en bly

(vertaling van Octavio Paz se “Between Going and Staying”)

Tussen gaan en bly weifel die dag,
verlief op sy eie deursigtigheid.

Die sirkulerende namiddag is nou ‘n hawe
waar die wêreld in stilte beweeg.

Alles is kenbaar en ontwykend,
alles is naby en onaanraakbaar.

Papier, boek, potlood, glas,
rus in die skadu van hul name.

Tyd wat in my slape klop, herhaal
dieselfde onveranderbare sillabe van bloed.

Die lig verander die ongeërgde muur
in ‘n spookagtige teater van afskynsel.

Ek bevind myself in die middel van ‘n oog,
kykend na myself deur ‘n ondeursigtige staar.

Die oomblik breek. Bewegingloos, 
bly ek en ek gaan: ek is ‘n ruspose.

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van BY)