Bladsye / Pages

Saturday, June 29, 2019

Reisjoernaal | Tunisië I. Kartago / Tunis 2019

I

ʼn Reis na Tunisië met Air France begin om middernag. Weens ʼn vorige kondemsie met tasse (en Air Chance) neem ek net een tas met wieletjies en ʼn rugsak met die skootrekenaar.

En ʼn streepsak met boeke. Ek lees weer Bloeityd: Verse oor kinders (Tafelberg, 1993) – saamgestel deur Johann Johl en Rika Cilliers – ʼn bloemlesing met verse oor kinders. 

Terwyl ek die verse lees, is daar gedurig herinneringe oor en ervarings met kinders wat opduik. En langs sit my ʼn gesinnetjie met vyf kinders. Die jongste is vyf maande en stroopsoet.

Sy sussie van 14 hou hom vas met soveel liefde.

Ek lees Ina Rousseau oor ʼn kind wat teken en donker kleure vermy.

So lui die slot van "Die beginner":

Dié sal hy eers later wil hanteer
wanneer die lewe, doelgerig en stip,
hom onderrig het in haar skaduleer.

Beide Johann en Rika is oorlede en in die voorwoord word erkenning gegee aan my mentor wyle Henning Snyman.

En ʼn film meld sig aan.

Dis Capernaum van Nadine LabakiEk volg die Franse onderskrifte. Die filmtaal is egter so hewig dat ʼn mens in stilte alles sou kon begryp. Altyd die bewys dat ʼn film geslaagd is.

Dit heet ook Cafarnaúm of Capharnaüm.

ʼn Aangrypende Lebanese rolprent oor ʼn kind. Zain El Hajj, twaalfjaar oud van die Beiroet slams, wat vyfjaarlank tronk toe gestuur word omdat hy iemand met ʼn mes gesteek het. Zain word voor die hof gedaag en besluit om sy ouers, Souad en Selim, te dagvaar omdat hy gebore is.

Nóg hy nóg sy ouers weet wanneer hy gebore is; daar was nooit ʼn geboortesertifikaat nie.

Ek wil nie die storielyn verklap nie, maar hier sien jy die ellende wat só ʼn jong kind moet deurgaan om te oorleef. Hy steel, lieg en bedrieg. Wanneer sy sussie begin menstrueer, steel hy doekies vir haar en vrees dat die ouers haar gaan verkwansel as bruid. Hy ontdek egter dit het reeds gebeur.

En dit is dan die motoriese moment.

Medikasie word wederregtelik in apteke gekoop en fyngemaal en in water opgelos. Klere word dan daarin geweek voordat die moeder dit aan mense in tronke verkoop.

Die lot van migrante en onwettige inwoners word bekyk. Daar is ʼn wonderskone filmskoot van dralende voëls oor die stad.

En ʼn kind in ʼn mallemeule.

Wat probeer wegvlug; in dieper ellende in.

Die storie word vanuit ʼn agterna-perspektief vertel.

En die regisseur het die volgende oor haar film te sê:
At the end of the day, ... children are really paying a very high price for our conflicts, and our wars, and our systems, and our stupid decisions, and governments. I felt the need to talk about the problem, and I was thinking, if those children could talk, or could express themselves, what would they say? What would they tell us, this society that ignores them. (Capernaum (film) - WikipediaBesoek 24 Junie 2019)
Die vlug is lank, en ek moet vinnig afspring op die Paryse lughawe om die sneltrein te neem na K31 vir die vlug na Tunis. Die een na Kartago, Tunis word helaas met twee ure vertraag.

Ek lees Breytenbach se The 81 ways of letting go of a late self (Stevenson katalogus) en die verruklike skildery van Blum en Marais tref my. En hoe hy Said sien. En Hannah Arendt word as ʼn harregat ou tante beskryf wat skoorsoek – iets wat hy bewonder.

In plaas van tien voor vier is ons eers na ses weg. Op die vliegtuig verloor ek dadelik my bewussyn. Van uitputting.

Kartago. Waar Flaubert Salammbô geskryf en waar Edward Said vele idees vir sy boek Orientalism van 1978 gekry het, en kon skryf hoe Westerlinge die ruimte as eksoties ervaar. Die siening van Westerse meerderwaardigheid, maar terselfdertyd die beklemtoning van die eksotiese, lê aan die basis hiervan.

Dit is egter nie ʼn homogene wêreld nie; net so min as wat Afrika dit ooit kan wees. Tog word die Oriënt (d.w.s Midde-Ooste) as swak en vroulik uitgebeeld in die fantasiewêreld van Westerse skrywers. Die nosie van die Ander en die gekoloniseerde word later deur ander teoretici ondersoek soos Spivak en Homi Bhabba.

Die paspoort-tou is ʼn ewigheid en ʼn week lank. 

Ek gesels met ʼn lughawe-man wat moet toekyk dat ons in rye staan. Ek verduidelik ek is al amper ʼn daglank aan die reis. Hy kry my jammer en neem my subiet na die glashokkie vir konsuls en ambassadeurs.

Ek is immers die Ambassadeur van Reis na Verre Plekke. En ek twiet nooit lelike goed oor die land van herkoms of aankoms nie.

Die lughaweman word beloon met ʼn pakkie Camel filters wat hy met blydskap aanvaar. 

Vinnig geld omruil. Hier sien ʼn mens die locals in aksie waar hulle indruk in die ry, totdat ʼn man uit die VSA met ʼn Basta! sy plek inneem. Ek self berispe ʼn jongeling wat wil inskuur.

Die gids wat my kom afgehaal, praat my ore van kop af. Ek verduidelik ons sal later gesels – ek wil graag die stad se binnekoms in stilte ervaar. Ek sal later hoor van sy reis na Japan en sy half-Japannese kind. En dat hy ʼn poliglot is.

Stede het persoonlikhede. En Kartago, Tunis is teen vroegaand mooi. Bedags is die stad skerp en meedoënloos. Ek skakel my binne-GPS aan en kyk na al die mense wat laataand beweeg. Die Al Kasbah-moskee wag…

Boulevard, rue, tot by die Av. H. Bourguiba.

Die reuk van ʼn vreemde stad tref my altyd. En die gesprekke van mense. Daardie mélange van iets wat onbekend is. Dit is warm – al is dit lank na agtuur. Ons ry tot in die midde-stad na die Carlton-hotel. Netjiese driester, maar helaas is die bestuur onbehulpsaam toe my verskillende muurproppe vir my skootrekenaar nie een by die muur wil inklok nie.

Kom more terug, word daar afstandelik beveel.

En die oggend is hulle steeds skouerophalend. Al die winkels vir komputers is gesluit op ʼn Sondag. Die vyfster-hotel oorkant is eweneens traak-my-nie-agtig.

Ek haal diep asem. Ek weet die man lieg dat hy nie ʼn ekstra een het wat hy kan verkwansel nie.

Die Excel hotel, langs die Carlton, is egter dadelik bereid om te help. Op 35 Habib Bourguiba. Hulle stuur selfs iemand om na die winkel te gaan en te kyk. Maar helaas, hy keer onverrigter sake terug. Ek gee ʼn footjie en vra vir water. 

39 grade. Ver in die ou Kalahari, daar sweet die Boere só!

Ek begin gesels met die bestuurder Fariq en langs my sit ʼn Italiaanse man wat in die filmbedryf werk. Ons gesels oor Bernardo Bertolucci se The sheltering sky. En hoe hy onlangs met Claudia Cardinale saamgewerk het. Hy is Jimmy Ortelli, die bekende filmprodusent.

Hy gee vir my ʼn vinnige aftelrympie oor wat ek behoort te sien in Tunis. Die Bardo is ʼn moet. En die ruïnes.

Ek stap na buite en besluit more is nog ʼn dag.

Skryf maar met die hand.

Toe ek weer by die hotelletjie verbystap, roep Fariq na my.

Hy het goeie nuus. Hy het ʼn prop ontdek wat mag werk.

En voilà! Die tweepunter is padvinder.

Omdat ek weet daar is ʼn nuwe kind op pad, vergoed ek hom ruim.

Dan is dit weer wandel af in die Sondagmiddag se hitte. Orals koffie en water. 

Nêrens bier nie. Dis immers ʼn Moeslem-land.

Totdat Mohammed van die kafeetjie neffens die hotel my te hulp snel en flink neem na ʼn kroegie waar ek ʼn Tunisiese bier drink. ʼn Celtia.

Al wat help in hierdie hitte.

Hier is daar ʼn mamma-kat met babatjies. Later gewaar ek ʼn pragtige swart kat wat met ʼn mot speel. Ek probeer ʼn foto neem van hom vir Johann de Lange, maar hy pypkan my. Hy herinner my aan Johann se Yoshi, wat eweneens vertrek het ...

Yoshi
† 25 Desember 2002 – 12 April 2011

Lenig, met voor- & agterpote,
die ribbekas, skouerblaaie,
& jou darteldraf ligvoets
stertorent – áls is van die fyn
rugstring
gesuspendeer,
terwyl jy vórentoe luister, ore gespits,
jou blou oë luisterstil
wat na die muisvoëls luister,
fyn neusvleuels wat tril-
lend die buurtnuus uitsnuffel.
In jou keel klop ʼn slag-
aar ritmies, so delikaat gekalibreer
ek kan die bloed van hart-
kamer na hartkamer volg.

Nou is dit Sondagaand. Aande wat ek verpes. Ek voel aljimmers soos ʼn kind wat nie huiswerk gedoen het nie en more moet koshuis toe gaan. Die concierge beveel die L'Orient-restaurant aan. 300 meter af en 120 meter slapregs.

Dis ʼn swoel aand en die locals sit almal buite en koffie drink met water. Die jong kinders jil en hardloop uitgelate rond. Die mans rook. 

Die restaurant het beter dae gesien, maar die kos is heerlik. Orals is daar sigaretmerke op die meubels – omdat mense hier rook.

Die diens flink met ʼn waiter wat my al om die hawerklap op die wang knyp om te hoor of ek lekker eet aan die lamsbredie. Ek aanvaar dit gelate as ʼn inkommer. ʼn Mens soek nie skoor op vreemde grond nie. Hier is vroue – soos ek – mense wat moet tuisbly.

Ek kyk sokker – die groot skerm word ʼn ontvlugting saam met die locals wat sit en hul span aanhits. Ons gesels alte lekker. Oor Messi, ʼn gedugte opponent, en die spelers. Hulle ken die name.

Ek word goed ingelig oor al die verskillende toernooie wat nou afspeel. En hoe goed spanne vaar uit die Midde-Ooste. Panem et Circenses.

Brood en spel. Orals dieselfde. Die TV verklap dit ook: krimies, kos, reis, nuus ...

Voor my sit ʼn man – rug teen die muur – en skryf. Ek verbeel my dis hoe Flaubert ook saans sit en skryf het aan sy groot roman. Salammbô (1862), wat afspeel in drie eeue VC in Kartago.

Dit verbeeld pre-Romeinse konflik met Noord-Afrika uit en bly steeds ʼn klassieke roman. In sy tyd was lesers geskok deur die roman se oordadigheid. Matho wat die Zaïmph steel met Salammbô wat dit moet terugwen. Die sluier bedek die godin Tanit en die een wat dit aanraak, sal sterf, omdat die sluier die stad beskerm. Dit speel alles af na die eerste Puniese oorlog. Daar is al veel geskryf oor die verskille tussen Madame Bovary en Salammbô, die verskille in daadkragtigheid en waarom Flaubert hulle so verskillend teken.

Flaubert het dit glo in die Tunisia Palace geskrywe. Vandag ʼn vyfster gedoente waarin ek beslis nie wil oornag nie. Te veel fluweel en opulensie. Richesse se Moses.

Laataand drink ek water. Kyk na my hande. Die are lyk soos ʼn delta van ʼn rivier ...

Ek begin aan ʼn gedig. Immers hier om my bundel Konfessies, kaarte en konterfeitsels af te werk. ʼn Proses wat in die vreemde beter gebeur ...

My hande

My hande word by nabaat
al hoe duideliker omlyn
soos my moeder sʼn.
Skerp are, slanke vingers
met artritis knobbels.
                                                                              
Hoe verlang ek nie nou na haar
hande koesterend en troostend
wat ʼn hoofpyn soos ʼn kreukel
kon uitstryk of ʼn onrustigheid
van die hart kon wegmasseer nie.

Die delta-are op my hande
gloei soos hare met daardie laaste

handgee met my hart toe op breekpunt:
sy, in ʼn lykskleed sonder kreukel of vou.


Die volgende dag is die Bardo-museum ʼn besoekpunt.

Een van die grootste bakens in hierdie wêreld waar ʼn hele paleis gerekonstrueer is. 

Nou begin die tog op ʼn dag wat 39 grade wink. Taxibestuurders vra ʼn boel geld. Ek gaan terug na die hotel en vra die concierge om as bemiddelaar op te tree en ene Antonio word my redder. 

In elke vreemde land meld so ʼn gids hom aan. Hy vra 50 Dinars en sal bereid wees om vir my te wag. En weer veilig terug te besorg.

ʼn Groot aanbod in hierdie land. Op pad na die museum lewer hy lopende kommentaar. Dis die regering se vastrapplek, daar die radiostasie, ja hier is die hospitaal.

O gedorie. Ek moet kontant betaal in die museum en my laaste $20 noot wil hulle nie aanvaar weens ʼn snytjie aan die rand nie. 

Antonio is weer eens op sy pos. Ons ry na ʼn ATM waar ek flink my geld uit die muur tap.

Ek neem soos gewoonlik foto's van deure. Die ongelooflike rekonstruksie van die paleis uit die 19e-eeu is indrukwekkend. Daar is tans groot restourasie aan die gebeur en helaas geen lugverkoeling nie. Die mosaïekparone is aanskoulik.

Die reuk van verf hang in die lug.


Vyftig kamers met relieke wat in opgrawings hier staangemaak is. Die Puniese periode, Romeinse en vroeë Christelike periodes tot die Bisantynse tyd en die Islamgeskie-denis van nou. Hier sien ons ook Vergilius, en die besoeker is oorweldig deur die groot geskiedenis wat ágter ons staan. 

Laas in Turkye was ek so onder die indruk van hoe daar ʼn stuk geskiedenis is waarvan ons bittermin weet en maar net kursories van kennis geneem het. Een van die indrukwekkendste museums in my ervaringswêreld was die museum van wapens in Antalye.


In die Bardo is die hermaion oftewel ʼn altaar van 40 000 jaar gelede uit die Mousteriaanse periode. Dalk die eerste voorbeeld van menslike aanbidding en spiritualiteit? 4000 stukkies bene, klip en ou steen.

Munte, beelde, ou deure, relieke vang ʼn hele geskiedenis op.

Die aand eet ek by Chez nous waar ene Elias die bestuurder is. ʼn Sagte Dorado-vis met chili's en Magon rooiwyn (2016) is ʼn wenner. ʼn Syrah/Merlot-versnit.

Poenankies-banana!

Die sjef is uit Toronto. Die musiek klassiek en heerlike uitgelate.

"I will follow him", dreunsing Whoopi Goldberg.

I will follow him (follow him), follow him wherever he may go
There isn't an ocean too deep
A mountain so high it can keep, keep me away
Away from my love (I love him, I love him, I love him)…

Ek en Elias geniet die musiek. Langs my sit ʼn suurknol uit Frankryk wat tweekeer sy kos terugstuur en ʼn motortydskrif verorber. Hy is bepaald nie gesjarmeer deur die kos of die ambience nie.

Onplesierige knorpot. Ou bulgar.

Ek belowe Elias ek sal terugkom. Moet eers môre bietjie wals met die muses!