Bladsye / Pages

Monday, September 24, 2018

Resensie | Coenie de Villiers – Karoo-Suite & Katrina – Die dansende taal (2018)


Coenie de Villiers se produksie Karoo-Suite en Katrina - Die dansende taal is opgevoer in die Kunstekaap (19 - 22 September). Dit is ’n besondere ervaring.

Dit is ’n mélange van verskillende style en hierdie produksie behoort wyer uitgevoer te word.

De Villiers is voor die klavier.  Hy begin met sy groot lied "Karoonag". Hier sing hy dit saam met Lucas Maree.

Deon Meyer, ’n jarelange vriend van De Villiers, lees voor uit sy Karoo-verhale met foto's wat die indrukke amplifiseer. Daar is ook ’n orkes met Jaconell Mouton, Mauritz Lotz en David Klassen wat die gegewe verder vertaal. Die sobere vertellings van Meyer teenoor De Villiers en die begeleiers se emosionele vertolking van die landskap waar daar net twee seisoene is: hitte en koue. Met ’n aangrypende storie van die Franse uitgewer wie se seun in die Karoo rigting kon vind en ’n man kon word.

Die perkussie is ’n taal.

Die foto's op ’n skerm raam alles. Die stilte, die meedoënlose landskap met ’n onopgesmukte skoonheid teenoor Meyer se verhale waar karakters argetipes word van ons menswees. Lewe en dood. ’n Kis wat uit ’n rivier gehaal word. Dankbaarheid, vir dít wat die lewe bied. Die gesofistikeerde skrywer wat sy dorpinwoners beskou sonder om neerbuigend te wees; hulle leer hóm immers iets van oorlewing. (Al spot hy met die feit dat sy skryfkamer vir die dorpenaars ’n plek word wat hulle met besoekers deel.)

Dit is egter die ballet wat meesleur. Kirvan Fortuin se vertolking van Ouma Katrina Esau se woorde, die laaste vlotspreker van die San-taal N|uu word in ’n vertelling en op die skerm weergegee. ’n Mens hoor die “soenklieke”.

Jong dansers vertolk haar lewe in verskillende bewegings. Die liggaam as taal. Die taal as liggaam.

Die Kruiper-clan se danse word as uitgangspunt geneem in ’n multi-kulturele en interdissiplinêre aanbieding.

Die Kirvan Fortuin Organisasie gebruik dans as ’n voertuig om mense sosiaal bewus te maak. Net soos S. Shah & M. Brenzinger - Ouma Geelmeid ke kx’u ǁxaǁxa Nǀuu (2016) se studie enorme werk gedoen het om hierdie taal op te teken.

Die Universiteit van Princeton doen geweldig baie om bedreigde tale te bewaar en ’n mens dink hoe goed dit sal wees as hierdie produksie kan reis na die buiteland met sowel Afrikaanse as Engelse woorde om die dans én die boodskap te begelei.

Coenie de Villiers se produksie is nie kulturele appropriasie nie; dit is bewaring en ’n herinterpretasie van dit wat mag verlore gaan.

Dwaalstories van Marais bly ’n belangrike teks wat ’n mens nou anders gaan benader en Helize van Vuuren, ’n kenner van al hierdie diskoerse, se studie gee eweneens sleutels tot hierdie kultuur, A Necklace of Springbok Ears – /Xam Orality and South African Literature (2016).

In hierdie dae van die stemlose wat stemhebbend word en ’n beskouing van die posisie van die subaltern, is hierdie produksie uiters relevant.

Katrina Esau se woorde is daar. Met kopiereg verleen deur die San-Raad van Suid-Afrika.

Na die opvoering - ’n belewenis - dink ’n mens na oor al die boodskappe van hierdie produksie.

Endnoot:


S. Shah & M. Brenzinger - Ouma Geelmeid ke kx’u ǁxaǁxa Nǀuu. CALDi, University of Cape Town, 2016. ISBN 978-0-620-67157-6

Sheena Shah & Matthias Brenzinger met Katrina Esau, Claudia du Plessis en Mary­Ann Prins Vyf mense, waarvan drie susters, is die enigste mense wat nog die N|uu-taal kan praat en ’n groep akademici het hulle gehelp om ’n ortografie vir hulle taal te skep. So sal hulle taal en die geskiedenis bewaar bly.

CALDi aan die Universiteit van Kaapstad, ’n sentrum vir Afrikatale, het hierdie projek aangepak.

Hanna Koper, Griet Seekoei en Katrina Esau kan nog hierdie taal praat, maar kommunikeer eerder met mekaar in Afrikaans.

Die hele kwessie van taal wat aan die uitsterf is, kom dikwels na vore, ook in polemieke rondom Afrikaans se toekoms en die bedreiging van ’n taal se hoër funksies.

2 000 tale word op ons kontinent gepraat deur klein gemeenskappe en wanneer hierdie tale beskerm en opgeteken word deur kundiges, is dit ’n belangrike gebeurtenis.

Katrina Esau, ’n persoon wat haar taal op Upington beskerm, het in 2014 ’n prys ontvang vir haar werk. Hoewel sy nie kan lees nie, het sy hierdie tradisie aan ’n jonger geslag oorgedra. En CALDi is hier ter sake met hul skep van ’n ortografie wat vir ’n jonger geslag toeganklik is.

112 klanke (waarvan 45 klieke) maak hierdie taal as’t ware lewendig vir ’n jong geslag wat op hierdie wyse kan aansluit by hul tradisie.

Die hele Afrika-kontinent staan in die teken van meertaligheid en multikulturalisme; daarom word meer as ’n derde van alle tale op aarde in Afrika aangetref. Klein gemeenskappe praat tale wat net deur ’n handvol sprekers begryp word.

Dat dié ’n uiters belangrike studie is, spreek vanself.

Die leser word aan prente met suigklanke voorgestel en daar is ’n handige glossarium of woordelys in sowel Afrikaans as Engels.

Moderne woorde soos gordel is byvoorbeeld beltsi; of foto is fotusi (enkelvoud). Dit dui daarop dat die taal getransformeer het om aan te pas by die moderne wêreld waaraan die sprekers blootgestel is.

’n Mens word baie geleer in hierdie studie soos dat N|uu se bilabiale klieke as “soenklieke” bekend staan.

N|uu is dan een van die min oorlewende “nie-Bantoe-kliektale” wat voorheen as deel van die Khoisantale geklassifiseer is.

Hierdie kenners wys egter daarop dat hierdie taalfamilie nie werklik bestaan nie.

Moderne nie-Bantoe kliektale behoort aan ’n verskeidenheid van onverwante taalfamilies.

|Xam is in die 1870’s deur Bleek en Lloyd opgeteken en het alreeds in die 1920’s uitgesterf. Stephen Watson het dit verewig in Return of the Moon: Versions from the /Xam, wat later ook ’n dramateks geword het.

Sedert ons demokratiese vrywording in 1994 verskyn |Xam op ons landswapen en op note en munte wat op ’n andersoortige bewaring dui.

N|uu is die enigste van die !Uitale wat oorleef het en die geskiedenis van Europese setlaars en die impak op hierdie mense se lewe, is bekend.

’n Mens word baie geleer in hierdie onderhoudende studie soos dat N|uu se bilabiale klieke ook as “soenklieke” bekendstaan. Dit maak dit een van drie tale (die ander is Taa en =Hoan) wat hierdie soort kliekfoneem bevat.

Die bedoeling van hierdie boek is om die gemeenskap te leer om hul taal te lees en skryf, maar ook te praat. Die gedrukte eksemplare is dan ook hoofsaaklik gemik op die gemeenskap.

Vir my was dit ’n persoonlike genot om hierdie boek te lees.

Die boek kan gratis aanlyn afgelaai word by: http://bit.ly/29SdQjM, of by https://open.uct.ac.za/handle/11427/17432?show=full

© Joan Hambidge