Bladsye / Pages

Monday, September 17, 2018

Resensie | Egonne Roth - Olga Kirsch: ’n Lewe in gedigte (2018)

Egonne Roth – Olga Kirsch: ’n Lewe in gedigte. Naledi, Eerste uitgawe 2018. ISBN: 978-1-928426-30-1

Resensent: Joan Hambidge

Olga Kirsch is een van die mees onderskatte digters in Afrikaans wat met ’n handvol sterk verse immer bly bekoor. Haar verse oor die vader bekoor, en “Illusie” (Die soeklig, 1946) bly een van my gunsteling gedigte. Thomas Minnaar het ’n uitgebreide doktorale studie ooor haar voltooi onder my leiding in 2012 aan die UK. Dit heet: ’n Herwaardering van Olga Kirsch se oeuvre: Identiteit, moederskap en ballingskap aan die hand van die psigoanalitiese teorieë van onder andere Sigmund Freud, Jacques Lacan en Julia Kristeva.

Sopas het Naledi uitgewers Egonne Roth se uitgebreide biografie oor haar gepubliseer. Dit is ’n studie waarin die gedigte gebruik word as uitgangspunt, as soeklig op die lewe van Kirsch. Dit is onvermydelik dat ’n biograaf se navorsing nie uiteindelik haar lees van tekste sal beïnvloed nie. Hermione Lee se kluif oor Virginia Woolf (1999) bewys hoe sy nie die tekste kan ontkoppel van die komplekse lewe nie.

Ofskoon dit waarskynlik nie meer mode is om dit te skryf nie, bly een van die bakens in ons letterkunde Leon Rousseau se studie oor Eugène Marais: Die groot verlange (1974). En Janet Malcolm se postmodernistiese biografie oor Sylvia Plath, The Silent Woman (1993), bekyk haar vanuit verskillende invalshoeke: die moeder, die skoonsuster, feministe, die tekste.

Egonne Roth se literêre biografie maak gebruik van briewe, foto’s, gesprekke, familie en ander tekste om die geskiedenis van hierdie merkwaardige vrou se lewe te karteer. Heilna du Plooy sou ’n biografie oor Elize Botha kon skryf, maar het eerder besluit om die briewe uit te gee (Gespreksgenoot – ’n Brieweboek, 2017) waarin briewe uit ’n ander tyd nie genoegsaam gekontekstualiseer is nie. Van die briewe is juwele; ander is klippers in die skoen.

Briewe sonder genoegsame redigering of verduideliking (hetsy per voet- of endnoot) veroorsaak dan onmin, terwyl die biograaf in wese juis ’n lewe distilleer. Uiteraard is ’n biograaf soos ’n advokaat wat sy kliënt se lewe en tekste verdedig. 

Dit is dan opmerklik hoe Roth identifiseer met Kirsch. Sy skryf: “Ons het albei alleen op aliyah gegaan, dit wil sê na Israel geëmigreer, in ’n tyd van groot onsekerheid” (ix).

Daar word ingegaan op die komplekse verhouding wat Kirsch met haar moeder gehad het en hierom  pleit sy by haar dogter dat dit nie hul verhouding moet beïnvloed nie (39). Die vader wat op sy beurt nie “reg” praat nie en dus so sy buitestaanderskap verraai, maak die kind skaam vir hom en ook van haar ’n outsider (43). Daar is baie beelde van buitestaanderskap in Kirsch se digkuns en as gevoelige jong kind bly sy bewus van hul andersheid as Jode op Koppies in die Vrystaat. 

Kirsch se vader ontval haar op dertien en hierdie verlies, soos by Sylvia Plath, is iets wat sy nie kon verwerk nie. Eers as volwassene skryf sy ’n reeks verse oor hom: “Vyf sonnette aan my vader”.

Soos Eybers en Cussons is sy ’n digter wat vanuit ’n vreemde landskap terugkyk na haar geboorteland. Sy verlaat haar land in 1948 en gaan woon in Israel. In vele opsigte is daar, soos Roth uitwys, ’n gespletenheid in haar aanwesig.Sy praat Engels en Hebreeus, maar skryf in Afrikaans; sy het Israel lief, maar verlang na haar moederland en die pragtige natuur. Sy kan haar egter nie vereenselwig met die diskriminerende politiek nie (185).

My lewe sal gesplete bly:
Groen stamme, as die byl hul kap
kerndiep, sal nooit weer heelheid kry.
Maar aan die staallem klewe sap.

(Uit: Geil gebied, 1976)

In Israel streef sy om die Sionistiese droom te vervolmaak saam met haar briljante eggenoot, Joe, ’n wiskundige. Daar is pynlike beskrywings van hoe sy van haar ryk klere uit Suid-Afrika moes ontslae raak (letterlik en figuurlik) om deel te word van die gestroopte Israel met sy handearbeid.

’n Mens word bewus van ’n komplekse, eensame vrou (met ’n sterk band met Eybers) wat selde mense in haar persoonlike ruimte toegelaat het. Mense was dan ook onseker of sy van hulle hou of nie. Minnaar wys in sy tesis uit hoe kompleks die verhouding met die moeder was, en Roth meen dan ook dat hulle moeder hul geleer het om hul emosies te onderdruk (142).

Vir my is die gedeeltes oor die digterskap (en stiltes) die boeiendste in hierdie studie. Kirsch was een van net vier digters wat in 1944 uitgegee word. Die aantal publikasies is streng beperk weens die oorlog en die gevolglike papiertekort. Sy en S.V. Petersen het voorkeur bó Opperman gekry. ’n Striemende resensie van Greshoff in 1946 het sy as vernederend ervaar, soveel so dat dit haar ongemaklik laat voel het in Johannesburg. Later sou G.A. Watermeyer vir haar opkom.

Sy het in Afrikaans, Engels en Hebreeus geskryf. In laasgenoemde taal, omdat sy as “onpatrioties” sou oorkom as sy in Israel nié in hierdie taal skryf nie. Minnaar wys in sy studie oortuigend uit dat haar Engelse gedigte minder oortuig as haar Afrikaanse verse, en die taalverwarring wat sy beleef weens die aanleer van ’n nuwe taal wanneer haar mentor C.M. van den Heever haar in 1953 in Israel besoek, het die skryf van verse in Afrikaans verder gekompliseer.

Sy het nooit geestelik tuis gevoel in Hebreeus nie, en haar gedigte in hierdie taal klink na ’n vertaling van dit wat sy wil sê (167). Engels is ’n moeë taal, merk sy op teenoor Eybers. Hulle briewe bestaan nie meer nie, maar gelukkig is daar gesprekke met Lina Spies en Daniel Hugo se onderhoud indertyd vir RSG wat perspektief bring.

Eers in 1972, vier-en-twintig jaar na Mure van die hart, publiseer sy Negentien gedigte wat goed ontvang word.

’n Lang stilte dus.

Sy word uitgenooi is om die amptelike opening van Die Afrikaanse Taalmonument op 10 Oktober 1975 by te woon. Die enigste ander digter teenwoordig was Lina Spies. Roth skryf insigryk oor die verskillende reaksies op hierdie omstrede oomblik. Later is daar weer ’nbesoek aan Koppies waar sy haar jeug wil ervaar en spanning veroorsaak omdat sy nie die amptelike onhaal wil bywoon nie. Die burgemeester voel afgejak, maar die leser besef dat sy ’ngedig wou skep oor haar jeug.

The Book of Sitrya is in 1990 in Israel gepubliseer en het geen resensies ontvang nie, nòg in Israel nòg in Suid-Afrika. Dit handel oor die pynlike dood van ’n kleinkind. Hoe sou Kirsch gedig het as sy nooit weggegaan het nie? Of word haar verse juis voortgedryf deur die spanning tussen buite en binne; bekend en onbekend? 

Lees hierdie pragboek met sy fyn balans tussen persoonlike onthulling en biografiese distansie.

*

Olga Kirsch (1924-1997)

In Jiddisj blykbaar geen woord of begrip
vir teleurstelling, verydeling, verloëning.
Desondanks moes jy in ’n vreemde taal
’n tweede, ongenaakbare ballingskap binnegaan.
’n Digter kan nooit haar erfenis verloën:
“By die riviere van Babel, daar het ons gesit,
ook geween en aan Sion gedink...”
Met jou verse oor die diaspora, vervolging
die verdriet van jou mense naam gegee.
Hoeveel woorde is daar vir pyn?
Eensaamheid, illusie, verdriet, angs, kommer...
Dié kon jy opvang, stulp en bowenal vertaal
in hunkerende, ylende melodieë.

(Uit: Lykdigte. 2000).

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Beeld)