Bladsye / Pages

Sunday, September 30, 2018

Resensie | Pieter Odendaal - asof geen berge ooit hier gewoon het nie (2018)

Pieter Odendaal - asof geen berge ooit hier gewoon het nie. Tafelberg, 2018. ISBN 978 0 624 08561 4

Resensent: Joan Hambidge

In die slotvers “wegraak” word die bundeltitel verduidelik:

tot die grond weer gelyk word
en hier weer wolke kom lê
asof geen berge ooit hier gewoon het nie

In  hierdie genoeglike en opwindende debuut van Pieter Odendaal word die leser voorgestel aan ‘n jong mens wat bewus is van ongelykhede én ongerymdhede. Hy karteer sy verlede en as jong digter het hy destyds die aandag getrek met sy gedig vir Adam Small “die eerste steen” (106). Hierin het deur sy vader gepraat met Small en vir sy vader in die bresse getree. 

Maar nou is dit ‘n paar jaar later. Die digter is bewus van die #fallists en in “fragmente” (110) word die ou Suid-Afrika se argiewe bekyk waarin die waarhede oor uitbuiting verpak en gebubblewrap word. En omdat objekte nie weet hoe om te lieg nie, kan die jong kyker hierdie vermindering  skerp raaksien.

Mandela word in ‘n filmiese portretgedig verewig (“Rainbows and other optical illusions – dir. Mandela, N.R. (1994)” met die slim slot waar die toeskouers sukkel om die film se ontknoping te aanvaar.

Daar is aweregse liefdesvers waarin die biologie ingespan word om die liefde te beskryf in “fisiologie-laboratorium” (84) met ‘n chemiese rendezvous. In die aangrypende “vir adam” word ‘n liefdeservaring (illusie?) in die wegloop-teks van whatsapp verwoord. In “some jocks have tutus” (77) word die anderse gender-identiteit uitgespeel teenoor die broer s’n.

In ‘n onthou-vers word ‘n gedig eerder in Afrikaans geskryf sodat die geliefde dit nie sal begryp nie (“ek skryf hierdie gedig”, 75), terwyl ‘n jeugdige liefdesverkenning in ‘n skoolswembad (met al die paranoia en werklike gevare) lieflik beskryf word (73). Met sy liefdesgedigte sluit die digter aan by die lang tradisie van gay-sensibiliteit in Afrikaans. 

Dit word pragtig en onthutsend verwoord in “inisiasie” (58) waar die bokskiet-episode ook ‘n oomblik van oedipalisasie word. Met die bok se keelafsny, word die jong seun ‘n man, maar een wat vorentoe sal verskil van sy vader:

....

ons ry tot teenaan my mondigheid
wat in die son lê en blink
hy skryf sy eie poem in die sand
  
     kom boeta
          sê pa
     jy moet sy keel afsny
     anders ly hy

ek doop my vingers in die ink,
neem sy kop in my hande vermy sy oë
sy keel spoel uit op my skoot
soos iets wat eerder ongesê moes bly

Die vader word in kursief aan die woord gestel.

Die vers sluit aan by die reeks vadergedigte by Johann de Lange en dit tree ook in gesprek met Loftus Marais se vers oor sý vader wat die kind beveel om nie te huil nie. Die gedigte oor die ouers is sterk en geskakeerde portrette.

Daar is verse oor die ekologie en in “eersterivier” word die verskille tussen Kayamandi en wit Stellenbosch oopgeskryf:

hier sien mens duidelik
die verskil in kleur
kayamandi se vullis en feses vertroebel die water (35)

Ongelykhede oor ras aktiveer ‘n gesprek met Antjie Krog en “in praise of protest” (95) word die “conspiracy of silence” oopgemaak.  “Hulle – ‘n duet” (104) aktiveer eweneens Krog se gebruik van musikale strukture wat verskillende stemme kan vertolk.

Die musikaliteit van die bundel is opvallend. Die bundel bevat verse wat vir die oor geskryf is en die meer konvensionele lees of oog-gedig waar jy as leser vir strukture in die gedig soek. Hier word die “wit in die poësie” dan iets ironies.

Dit is ‘n bundel waarin die funksies van taal ondersoek word: is poësie net vir die elitistiese “in-groepie” of kan gedigte die wêreld transformeer? Hier gebruik die digter “Bra Willie” (16) as model wat sy lewe lank geglo het dat gedigte wel mense se sieninge kan verander. Dit is ‘n lykdig oor Keorapetse Kgositsile geskryf vanuit die vreemde:

jy is ‘n cheetah in die hart van ‘n roos

Odendaal skryf ‘n loslit-vers met Engelse woorde en met kleinletters. Sommige verse is in ‘n praattrant geskryf, maar die slim onderbou en sterk slotte lewer bewys van ‘n digter wat sy ambag kén. Ander verse is slimmer gestruktureer met toespelings op A.G. Visser, Wopko Jensma, die reeds genoemde Krog …

Van sy debuut in Nuwe stemme 5 in 2015 het hierdie digter nou gekom met ‘n bundel wat dawer en troos en aankla. Dit word opgedra aan al die medestryders. Politiek, ekologie, gender-kwessies, familieskap, studente-onrus is van die temas wat aangesny word op ‘n uiters volwasse manier.

Dis 'n bundel wat die asem wegslaan. 

Hier is 'n performance-gedig:

Vreemdeling, laataand-gesprek, Corridor se stoep, Stellenbosch

[Lees hardop met Jon Hopkins se “Abandon window” in die
agtergrond. Gee jouself oor aan die ruimte wat die song skep.]

Kayamandi lê voor ons:
die natblink ingewande van ’n bees.
Jy bly aan die ander kant
waar die baksteenhuise is,
verseker jou slepende tong my.

Jou hare is kort geskeer:
eers het jou ma gegaan, toe jou pa.
Gelukkig het hy genoeg
vir groente gelos, sê jy,
vir jou en jou boetie.

Jy is skaars sestien,
lieg vier jaar by.
Ek weet nie hoe om ’n pa te wees nie, sê ek.

Jou woorde val tussen tale rond
nes jou besope idees oor my bleek voorregte.
So ook my halfsinne wat hierdie sinkende
gesprek probeer anker:

“Nee, jy hoef nie Afrikaans . . .”
“Ja, ek is, maar . . .”
“Bloemfontein.”

Jou gesig lê tussen my en die shacks.
Jy korrel met jou mond,
ek weet ek moet,
maar ek koes nie.

Trou met my, sê jy.

Nog nooit was die sterre so yl
oor die lug gesaai soos vanaand nie.

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Rapport)