Bladsye / Pages

Friday, January 26, 2018

Resensie | Jacques van der Elst (Red.) - Adam Small:Denker Digter Dramaturg (2018)

Jacques van der Elst (Red.) - Adam Small:Denker Digter Dramaturg. Protea Boekehuis, 2018. ISBN 978-1-4853-0863-8

Resensent: Joan Hambidge

Digter, dramaturg, openbare intellektueel. Dit is hoe 'n mens Adam Small (1936- 2016) kan opsom enersyds as baanbrekende digter; andersyds as uitmuntende dramaturg. Daar is eweneens die geprek met en vertalings van Van Wyk Louw wat hierdie studie, onder redaksie van Jacques van der Elst, uiters tydig en belangwekkend maak.

Die uniekheid van Small word beklemtoon in hierdie huldigingsbundel van die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns.

Verskillende kenners skryf oor hierdie veelfasettige skrywer wat onder meer deurgeloop het in twee onverkwiklike polemieke. (Dan praat ons nie oor die vermindering en uitrangering wat hy sy lewe lank moes verduur nie.) Toe die Hertzogprys aan hom toegeken is, was daar figure wat gevoel het die reglement (naamlik dat sy werk nie binne die driejaartermyn verskyn het nie) tersyde gestel is. Van der Elst skryf boeiend oor al die reaksies. Marisa Keuris wys hoe tersaaklik dit was om wel binne die kader van vergifis en versoening die prys toe te ken.

Veral Nicol Stassen was ongelukkig hieroor, omdat hy uiteraard die uitgewer is wat in daardie tydperk wél dramas gepubliseer het. Daar was verskeie media-reaksies, maar hierdie toekenning is wat hierdie leser betref, vol in die kol. Veral gedagtig aan mindere ligte wat die afgelope jaar hierdie prys ontvang het in die drama-kategorie. Daar is alreeds 'n gerug dat as jy die prys wil ontvang, skryf sommer gou 'n drama.

'n Ander pynlike polemiek was Small se gebruik van Kaaps. Nathan Trantraal (en ook Ronelda Kamfer) meen dat Small nie meer die lot van die gemarginaliseerdes korrek vertolk nie. So mag dit dalk wees, maar ondertussen is beide jong digters eweneens "opgeneem" in die literêre sisteem met bekronings en geldpryse. Michael le Cordeur argumenteer tereg dat Small Kaaps tot volwaardige taal uitgelig het.

Bernard Odendaal lewer insigryke kommentaar op die posisie van Small as spilfiguur binne die kanon. Die agting wat hy geniet, spreek duidelik uit hierdie artikel.

Eweneens knap, is die sober reaksie van Steward van Wyk oor Small en die kwessie van identiteitskonstrukte. Small as spreekbuis vir "kleurlinge" word uitstekend uitgelig en die geskiedenis van politieke opportunisme kom aan bod belig teen die agtergrond, onder andere van Richard van der Ross se studies hieroor in 1979 en dan in 1986. Wanneer 'n mens dit lees, begryp jy opnuut die redes vir Small se stilte. Hein Willemse analiseer o.a. "Vryheid", 'n lang dramatiese gedig. Via Fredric Jameson se ideologeem ondersoek hy die spanninge tussen die gedig as 'n talige konstruk en die historiese omgewing.

Jacomien van Niekerk analiseer die impak van radiodramas en hoe dit verskil van teateropvoerings (Kanna hy kô hystoe kom hier aan bod) via Brechtiaanse vervreemding. Abraham de Vries - soos net hy kan - lewer 'n menslike reaksie in sy persoonlike geskiedenis. Dit is van kardinale belang dat hierdie inligting bewaar word, omdat soveel tekste en skrywers beter gekontekstualiseer word.

Willy Martin se vertalings wys op die komplekse prosesse wanneer Kaaps vertaal word en die registerprobleme wat dit skep. Kaaps se verhouding tot Afrikaans is dalk soos Vlaams tot Nederlands? Geweldig baie om aan te peusel in hierdie vertaal-igloo.

Antoinette Lombard & Rinie Schenk lewer kommentaar op die méns en sy werk as maatskaplike werker. In hierdie puik artikel word die analogie en verband tussen maatskaplike geregtigheid en maatskaplike werk bestudeer. Erika Terblanche gee 'n biografiese skets.

Daar is na elke artikel belangrike bronnelyste vir verdere leeswerk. Marisa Keuris se kantekenige rondom Marvin Carlson se The haunted stage: The theatre as memory machine is verpligte leeswerk!

Vanaf 2013 het ons gekorrespondeer in e-posse gedikteer aan Rosalie. Op 'n keer stuur hy vrae aan homself wat hy beantwoord. Op 25.10.2013 skryf hy so oor taal:

Wat is my denke oor taal of 'n taal, oor die aard van taal of 'n taal?

Ek glo dis nodig dat ons heeltemal nuut oor taal moet begin dink, wég van die konvensionele, valerig-steriotipe verwysing na taal as 'kommunikasiemiddel'. Dis nie sodanig dat ek 'n 'paradigmaskuif', of 'kopskuif' soos sommige mense sê, in ons denke bepleit nie - hierdie soort segge is alreeds 'n soort bargoens. 

Taal of 'n taal behoort gesien te wees as 'n omvattende, insluitende soort werklikheid waarbinne mense hulself bevind, stilte sélf synde 'n inherente aspek hiervan - die gebruik van taal is dus nie net 'n geklets, 'n gebabbel nie, maar 'n innige werk, soos wat bye aan die maak van heuning wy, wat mense saambring en -bind. Dit het alles met liefde te doen. Misdaad is 'n klinkklare verkragting van taal. 

Die boek bevat pragfoto's van Adam Small.

Vir alle navorsers oor hierdie belangrike figuur.

Huldeblyk vir Adam Small

In Groot Verseboek staan jy,
daardie blou monument vir Apartheid,
beheer deur Wit Manne
met vrouedigters toé uitgeskuif
tot ‘n blote vroulike aanvulling,
doenig met potte en panne
in die kombuis of tot ‘n manlike digter
se minnares met wie hy smiddae
op die rusbank die jambiese pan slaan.
O treurig dié wysie op die digter se naat.
Hier is lesbiese vroue eens afwesig 
of op vlug na Kanada en ander uithoeke 
van die aardbol. Tweederangs, stil,
terwyl ‘n gedig net-net ‘n natuurbloemlesing haal
én die dieper onheil troebel soos ‘n haai
onderwaters draal.                                                          
Jou kon hulle nie uitrangeer na die slawekwartier
of buitekamer nie. 
Jou stem te helder, bytend.
Jy staan vir ‘n Distrik ses in hierdie digterlike Bybel,
herinner hulle aan “forced removals”
en die Groepsgebiedewet.
Boonop dryf jy die spot en hekel
met die Heilige Orde van die Woord.
“Dis die lô, dis die lô”,
klink dit op in elke vers
en jy vertaal selfs die VaderGod van die Digkuns.
Vandag onder ‘n mat
ontdek ek ‘n klein geraamte
van ‘n vlugtende gekko gemosaïek.
Naby Ingrid Jonker en Breytenbach
nes die rollende duisendpoot van Louis Eksteen
én die ander stilgemaaktes, is jy immer die een
wat rats, sonder omhaal van woorde, steeds
in Kaaps bly skel teen mensgemaakte wette.
En ek wonder: hoe voel jy nóú?
Of is jy soos daardie gekko
deur al die teenstand
tog stilgemaak?

(Uit: Lot se vrou)


(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Beeld)