Bladsye / Pages

Monday, January 29, 2018

Reisjoernaal | Colombië: Deel X (2018)

Deel X. Afskeid en vertrek

Nou is dit die finale inpak van klere. Ek hang die laaste aand my klere op net om weer asem te skep na die bedompige weer in Ponto Fara. Gooi ou klere weg, leë objekte, lees e-posse, konsolideer bankstate. (Elke dag 'n bietjie).

Ek volg die waterkrisis op e-pos en TV. Me. Zille wat haar voete was in 'n badskotteltjie om te illustreer hoe min water 'n mens kan gebruik, laat 'n mens dink aan Pontius Pilatus. Dit gaan nie net om bad / was nie, maar om 'n hele sisteem wat in duie kan stort. 'n Rioolsisteem wat nie werk nie, kan siektes veroorsaak.

Ursula Le Guin

Ek sit in die Sofitel se voorportaal wagtend op die bussie na die lughawe. Gestort, gepak, georden. Gesels met die concierge oor Ursula Le Guin se onlangse dood.

Ek eet 'n heerlike Grenadella vir middagete. Groot. Soet. Heerlik. 

In my beursie is daar vele banknote. Op die 50 peso-noot is daar 'n afdruk van Márquez wat sy status hier bevestig.

Op die agterkant die velore stad: die Ciudad Perdida ontdek in 1972, en glo ouer as Machu Picchu wat ek vir die tweede keer in 2007 besoek het.  Dit word ook Teyuna genoem. In die Sierra Nevada de Santa Marta.

In my beursie is daar note uit Argentinië, Viëtnam, Kroasië, Peru, Korea, Turkye, Indië - en een euro.

Glad nie chronologies soos die plekke wat besoek is nie. Maar die onbewuste, aldus Jung, hou anders tyd as die chronologie waaraan ons gewoond is. 

Rondom trauma word daar iets in ons psige ingeprent. Dit wat Lacan die teken in die onbewuste noem.

Vir my is die tyd 8:18 vm altyd gekoppel aan trauma, aan 'n groot aflegging jare gelede. 

Dan die reis na die lughawe om 5 nm. Die inboek verloop vlot. Die tas toegedraai in plastiek. Die vlug is betyds.  

Net voor ek instap, ontwikkel ek 'n geweldige maagpyn en die gevolge is die Wet van Transvaal. Weer snel Immodium my te hulp.

Uiteraard al die vis en garnale van die eiland wat nou uitpop. Te veel jodium. En daardie groot grenadella in die Sofitel-hotel was waarskynlik die katalisator.

Ek sit op B15. Langs 'n gawe Duitser.

Hy slaap gou en ek nuttig 'n ham-pasta met 'n glas wyn en 'n whizza.

Ek luister na Diana Krall se Turn up the Quiet en haar vertolking van "Night and Day" is betowerend. 

Like the beat beat beat of the tom-tom  
When the jungle shadows fall  
Like the tick tick tock of the stately clock ...

Oh, the boulevard of broken dreams.

Hierna Callas, naas Sutherland en Leontyne Price, my sang-ikoon.

Maria Callas (1923 – 1977)

Om só godsgenadig
te kon sing en vertolk,
dit doen sy absoluut spontaan
boonop ‘n noot steel soos ‘n gypsy,
bronstig ómklem soos ‘n munt
in ‘n dooie se toegebalde vuis.
Elke lied word deur haar lyf
se ronde kontoere vervoer.
Later toe sy verslank,
fokus sy op haar flaminkkeel,
dra steeds gekartelde fluweel
om die véle omswerwinge 
van ‘n vasgevatte noot
oor vele hoogtes én laagtes,
te laat vloei in ‘n asemsnakkende,
amper roggelende, volsonge snik.

(uit: Lot se vrou).

Dan die drie tenore met Carreras as my gunsteling.  

Ek kyk weer Love Actually en besef hoe ironies dat Liam Neeson afskeid neem van sy gestorwe vrou en Emma Thompson treur oor haar man wat haar dalk verneuk. Sy kry nie die halssnoer vir Kersfees nie, maar 'n Joni Mitchell-CD. En sy het immers die geskenk gesien in sy jas bedoel vir iemand anders. (En Hugh Grant se danstoneel bly gewoon skitterend! En ons kyk ook met die na-wete van sy berugte oomblik met die optelvrou in die VSA wat die einde van hom Liz Hurley beteken het.)

Barthes se vraisemblance: hoe die werklikheid in fiksie indring. En die kyker (leser) kan nie hierdie buite-kennis ontken nie.

Both Sides now aangrypend vertolk. Wat 'n kunstenaar. Goed verouder, meen ek. Die ouer, pynlike weergawe is mooier as die jonger bekende een uit 1969.

I've looked at clouds from both sides now 
From up and down and still somehow 
It's cloud's illusions I recall
I really don't know clouds at all

Dan land ons na 'n ontbyt op Charles de Gaulle.

Met terugreis gaan ek op auto-pilot. Skakel my brein af. Lees Lacan wat meen taal skep die onbewuste, hou dit as't ware gevange (in Malcolm Bowie se studie Freud, Proust and Lacan: theory as fiction).

Verder stap ek, neem foto's van die ruimte van aankoms en vertrek.

Nou is dit die ontologie van lughawens.

Vinnige passasiers. Almal gedrewe iewers heen op pad. Verwagtings, uitsien, afsien ...

In Love  actually lewer die voice over (Hugh Grant) kommentaar op lughawens en hoe liefde orals te vinde is.

Op pad. Terug of na.

'n Lughawe is 'n intimiderende ruimte (soos 'n hospitaal) waar die weerlose reisiger afhanklik is van paspoortkontroles, skanderdeers, eerlikheid.

Pryse vir kos of verversings is uiters hoog. Op sekere lughawens - soos Londen - word jy gewaarsku om in jou spoor te trap; anders kan jy in hegtenis geneem word. In Singapoer word jy selfs met tronkstraf gedreig. In Japan was daar snuffelhonde wat my vaskeer oor sonbrandolie wat in die tas geruik word!

'n Lughawe is 'n gereguleerde ruimte - selfs met rookkamers en bidkamers. Gratis wifi. Belastingvrye winkels. (Maar met soveel te kope wat jou verlei om meer te koop as wat jy behoef.) Op gesofistikeerde lughawens selfs treine tussen sale om jou snel te vervoer. 

'n Tussengebied. 'n Liminale ruimte. 

"No unattended bagage". Vliegtuie is al ontruim oor 'n sak wat rondstaan.

*

Dis net na 1 nm. My vlug Bobbejaansberg toe vertrek net voor middernag. Op 'n winkel staan 'n mens moet zen bly. En so is die so. 

'n Man stap verby met 'n t-hemp wat blaker: "Die monsters is nie onder jou bed nie; hulle is in jou kop."

'n Mens kan Suid-Afrikaners uitken. Hulle lyk almal gespanne. (Die Colombiane is glo genomineer as een van die gelukkigste nasies op aarde.)

Watertekort. Korrupsie. Politieke onrus ...

Op die groot airbus wat 530 mense kan neem, sit ek bo. Te lekker. Eet 'n salmtert en drink 'n lieflike rooi wyn. En kyk na Catherine Deneuve in Belle de Jour.

Luis Buñuel se klassiek van 'n gewone vrou wat werk as prostituut todat haar man se vriend opdaag. Sy word geteister deur een van haar kliënte, 'n gangster, wat verlief raak op haar. 

Die film werk die hele tyd met 'n spel tussen waarheid en fantasie. Die slot is oop en meervoudig. Is die vrou se man werklik geskiet of is ook dit 'n fantasie?  Seksuele fantasieë wat politiek inkorrek is, word voortreflik deur Madame Deneuve vertolk.

Yves St. Laurent het van Deneuve se uitrustings ontwerp en Michel Piccoli is, soos altyd, verstommend en ingehoue.

Madame Deneuve word van agter af geneem in deurskynende nagkabaai.

Séverine (Deneuve) se seksuele kilheid is gekoppel aan jeugmolestering wat baie subtiel vertel word. Haar man begryp haar lot en is baie geduldig en begrypend. Die sado-masochistiese fantasieë van Séverine was vir die tyd skokkend en sal waarskynlik vandag 'n groot bohaai veroorsaak in die #MeToo-kwartiere. Hoe tersaaklik dan dat Deneuve juis vryheid van spraak (en optrede) as aktrise voorstaan.

By my aankoms in Johannesburg is die plastiekhulsel om my sak weg en daar is 'n nota opgeplak: Ons besef iemand het aan u sak gepeuter. Niks is gelukkig weg nie. Nog 'n curve ball.

'n Vriendelike swart man by doeane gaan deur die sak met my. Skud sy kop en praat 'n wonderlike Afrikaans.

"Nee kyk, Mama. Dan dink hulle óns steel?"

Ek is bly die sak met komputer- en kamera-draadwerk is nog daar. Nes die T-hemde vir kinders; Gabo se huisie gemaak uit vuurhoutjies; my baadjie gekoop in Firenze; boeke ...

Alles vervangbaar. 'n Lykskleed het nie sakke nie. En reis leer jou met hoe mín jy kan klaarkom.

Wanneer ek in Suid-Afrika aankom na 'n lang reis (letterlik twee dae se beweeg met 'n sewe uur tydverskil), is dit altyd die klanke van swart tale en Afrikaans wat my weer laat tuis voel. En hoe vriendelik ons doeane-beamptes 'n mens terug verwelkom.

My kamera (Fujifilm) vertel 'n eie verhaal: daar is foto's wat 'n mens terugneem na klein plekkies, onverwagse waarnemings wat nie in die reisrubriek aangespreek word nie. Net soos 'n gedig 'n astrak is van baie indrukke, lees, nadink, gevoelens.

Nou moet al die ervarings met die psige gesinchroniseer word: overload.

Nou Johannesburg; dan Kaapstad.  Regmaak vir die jaar: people poisoning, studente-onrus, waterskaarste ...

Die gedig as herberg

Jdl

Slauerhoff kon alleen net
in sy gedigte woon
vir Vestdijk 'n glansende
kiemsel, 'n domus,
'n tydelike vesting dalk
vir ons, vir jou?
Sonder mede-wete
of na-denke kom 'n digter
soms tuis in 'n ánder se gedig:
vergete die stapeltjie Hambidge,
so kom woon tussen ons die nouveau riche ...
of soiets, by die alfabetisering van 'n rak.
Maar dit maak nie meer saak.
Die gedig leef langer, reis vérder
as die digter staangemaak 
tussen A - Z, iets tot niets, 
plus of minus. Verdroomde stilte.
In 'n swart en groot reissak
met 'n geheime slot wag 
daar soveel nuutskeppings:
lares et penates.

© Joan Hambidge